Sutherland se sterre

“Een toer door Afrika” (dit was glo ʼn amperse eerste boek oor hoe dit hier by ons lyk, uit die oog van ʼn Nederlander) het ʼn goeie vriend altyd gespot as ons die sloertoer-ding doen.  Ry en bly, sonder haas om by ʼn bestemming uit te kom.  Die ronde van Vader Cloete, die “scenic route”, as jy ompaaie vat.  Dit is om oop oë te reis, te leer langs die pad.  Die Engelse “padrit” (roadtrip) het dit mos so dat jy slimmer of wyser tuiskom.

Sutherland was op die lys.  Soos die grappie dit wil hê, is daar glo nie ʼn pad Sutherland toe nie.  Uit die noorde kom jy met grondpaaie deur die Hantam, die Knersvlakte en die Tankwa in die Roggeveld aan (almal van hulle in ʼn beter toestand, kan ek uit ondervinding bevestig, as die “teerpad” tussen Clarens en Ficksburg oor Fouriesburg.)

Die slegte nuus is dat die sterre in Sutherland nie mooier is as die sterre in Kampersrus nie.  Maar, laat my darem byvoeg, die sterre is hier van Kampersrus af ʼn skouspel.  Ons was op Sutherland net enkele dae voor die Karoo sopnat gereën het, en die mistigheid het die Karoo se oë toe al agter ʼn sluier versteek.  Maar dit was helder genoeg om foto’s van Saturnus en haar ringe, en van Jupiter se stormpie en sy mane te kon neem.  Willem, die man met die teleskoop by die planetarium in Sutherland se hoofstraat, was ʼn fees.  Die man is begeesterd deur die ruimte om ons, en ons was verwonderd. 

Die volgende dag het ons die SALT gaan besigtig.  Daar kan jy ongelukkig nie sien wat die teleskoop sien nie, maar die teleskoop self is al ʼn lus vir die oog.  

En Sutherland, het ons geleer, sit hoog.  Nee, dit was nie so koud nie.

Nou die dag hoor ek op RSG ʼn boorling van Sutherland gesels oor dié dorpie se ander skat, die grootwordhuis van die Louw-digters, die broers W. E. G.- en N.P. van Wyk Louw.  Gerard Scholtz (van De Kat) bly in ʼn sandsteenhuis langs die hoofstraat.  (Die straat is geteer terwyl ons daar was, tot groot vreugde van die rieldansers wat die nuwe padvlak ingewy het.)  Scholtz het my by onaangekondigde aanklop, gul verwelkom en binnegenooi, en ons het ʼn afspraak gemaak om saam die Louw-huis te bekyk.  Hy het sy hart in die bewaring van die Louw-huis, en ek kan goed verstaan hoekom.    

Die huis is in die onlangse verlede deur haweloses beset en die werk wat voor die COVID-pandemie gedoen is om van die huis ʼn volwaardige museum te maak, is weer ongedaan.  Raka was hier.  Maar selfs in die plek se huidige toestand, is net die gedagte dat die Louw seuns hier hulle tande aan Afrikaans geslyp het, ʼn kleinood.  ʼn Bietjie spoeg en politoer en hier is ʼn pelgrimsbestemming in wording.  Die rose blom al.  Hier gaan nog ʼn gereelde skryfskool van kom, en dalk ʼn retraite vir skrywers, sê Scholtz met onstuitbare entoesiasme.  Dis die droom, en elke droom kos geld. Praat gerus self met Gerard by gerardscholtz@gmail.com.  (Dié man het baie om oor te praat.  Ek sou my voortande gee om meer te wete te kom van sy liefde vir die Ortodoksie, en ek beny hom sy reise.)

Sutherland se sterre sit nie net iewers bo jou kop nie.  Hulle glinster ook in boeke, skyn deur oop deure en klets soos klokkies in lekker Karoo-Afrikaans.

En “The Blue Moon” bak baie lekker koek!