God is goed! Net God is goed.

God, en net God, is goed. Dit staan duidelik daar.

Maar wat is die implikasies daarvan vir ʼn ryk jongman wat wil hemel toe gaan en vir die dissipels wat swaarkry oor al die offers wat hulle moet maak om by Jesus te bly?

Hierdie erediens handel daaroor dat God goed is. En dat jy sy goedheid agterkom uit
• dát Hy ons die ewige lewe skenk en
• hóé Hy ons die ewige lewe skenk.

Probleem is, ons fokus is uit.  Ons sukkel om te verstaan dat net Gód goed is, en ons nié.

Toetrede:

Ouderling

Die hele erediens handel daaroor dat God goed is. En dat sy goedheid te sien is in
• dát Hy ons die ewige lewe skenk en
• hóé Hy ons die ewige lewe skenk.
En oor hoe ons sukkel om te verstaan dat net God goed is, en ons nie

Toetredelied (Staan)

Ons toetredelied sing oor hoe God hier in die kerk sy goedheid aan ons bewys.
Psalm 84 : 2, 3, 5
“Met al die mense gaan dit goed
Wat in u tempel U ontmoet…”
“Ek wil U, God Almagtig, prys
Wat soveel goed aan my bewys…”
“Die goeie word ons nie weerhou nie…”
“U goedheid sal hul vergesel
Wat hul vertroue in U stel…”

Predikant

Votum en Seëngroet (Staan)

Psalm 103 sê God is goed:
“Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.
Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.
Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees,
wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon,
wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk.”

Ontvang die seën van God wat vir mense goed is uit Jesaja 25 vers 6:

“Op hierdie berg gaan die Here die Almagtige ‘n feesmaal gereed maak vir al die volke, ‘n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn.”

Aanbidding en lof

Ouderling

Sang (Staan)

Kom ons reageer met lof op die Here se goedheid. Kom ons sing Gesang 194, aldrie strofes. Die gesang sê ons prys die Here vir twee goed:
“…vir al die goedheid uit u hand…[wat] ons hele lewe met guns omgewe,” en
“…dat ons deel mag hê aan u ryk…”
En dit beteken vir alles waarvoor mens kan hoop om enigiemand te loof.
En vandaar ons “sterk verlange” na God.

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Die probleem is dat ons sogenaamde sterk verlange na God nie uitloop op ʼn lewe wat Hom eer nie. Ons sondig teen God. Ons doen wat verkeerd is in sy oë. God is goed, maar ons is ver daarvandaan. Ons moet oor ons sonde leer eerlik wees, sê Jesus. Hy herinner ons aan hoe sondig ons is in Markus 12:28-31:

‘Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ʼn goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: ‘Wat is die heel grootste gebod?’ Jesus antwoord hom: ‘Die eerste is: Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Die tweede is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Geen ander gebod is groter as dié twee nie. ’’

Skuldbelydenis (Staande)

Ons weet ons is skuldig. Maar God is goed. Kom ons skep moed en bely ons skuld voor God, terwyl ons reken op Hom om ons te vergewe. Want juis daarin sit sy goedheid: dat Hy mense wat hulle skuld bely en op Hom vertrou, alles vergewe.
Psalm 130. Kom ons sing dit op die ou Voortrekkerwysie met Lina Spies se snydende teks, strofes 1 en 2.

Genadeverkondiging (Bly staan)

God laat ons nie aan ons eie lot oor nie. Hy is goed. In 1 Johannes 2:1 verseker God ons dat Hy ons vryspreek: ‘En as een van ons sondig — ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.’ Ons is vrygespreek oor ons glo Jesus Christus kan ons red. Is jy vrygespreek is, bely jy van voor af geloof in die goeie, Drie-enige God, saam met en soos die kerk:

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;
en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;
God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;
deur wie alle dinge ontstaan het;
wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;
en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;
wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;
wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;
en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.
Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.
Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;
ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

Sang (Bly staan)

Ons het ons geloof bely in die Enigste God wat lewe en al God wat goed is. Kom ons wy ons lewe opnuut aan die Here. Ons sing
Gesang 212 wat se
“Loof die Heer, Hy is goed…
“Hy’t my sonde vergeef en Hy maak my sy kind…”
Strofes 1 en 2

Verkondiging

Predikant

Gebed

God luister as mense bid. Hoe dit moontlik is, is ʼn raaisel. Sy goedheid vir ons bestaan daarin dat Hy Hom aan ons gebede steur.

Sang

Een gebed bly oor: dat God die Heilige Gees vir ons die Woord help verstaan en laat glo. Gesang 442 verse 1 en 2

Skriflesing

Ons lees uit die Bybel ʼn stuk Nuwe Testament. Ons lees Matteus 19 van vers 16 af. Belangrik om raak te sien, is dat God en net God goed is. Dit staan duidelik daar. Maar wat is die implikasies daarvan vir ʼn ryk jongman wat wil hemel toe gaan en vir die dissipels wat swaarkry oor al die offers wat hulle moet maak om by Jesus te bly?

Daar het iemand na Hom toe gekom en gesê: “Meneer, watter goeie daad moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

Die ander twee evangelies, Markus en Lukas, is hier anders: Daar staan: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” En daarop antwoord Jesus dan ʼn bietjie anders as hier in Matteus: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen.” Maar hier in Matteus staan daar…

Hy [Jesus] het vir hom gesê: “Waarom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. Maar as jy die ewige lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.”

“Watter gebooie bedoel u?” het hy vir Hom gevra. Jesus het gesê: “Dit: Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,

eer jou vader en jou moeder en: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ” (19:19: Eks. 20:12-16; Deut. 5:16-20 .19:19: Lev. 19:18.)

“Dit alles het ek nagekom,” het die jongman gesê. “In watter opsig skiet ek nog te kort?”

Jesus het hom geantwoord: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”

Toe die jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: ‘n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom.

Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.”

Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: “Wie kan dan gered word?”

Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”

Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?”

Jesus antwoord hulle: “Dit verseker Ek julle: Wanneer alles nuut gemaak word, as die Seun van die mens op sy koninklike troon sit, sal ook julle wat My gevolg het, op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regeer.

En elkeen wat ter wille van my Naam afgesien het van huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.

“Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

Net God is goed. Wat moet ek doen wat goed is om hemel toe te gaan?, vra die een. Die ander vra weer: ons het baie gedoen wat goed is; wat gaan ons daarvoor kry? Ten minste darem seker die hemel, of hoe, en dan tog seker ʼn eerbare rol as ons daar kom? So asof hulle vir die hemel bie: die een wil n hoër offer maak as die ander.

Net God is goed, sê Jesus. Wat beteken dit?

“Daar is geen ander evangelie nie!” Galasiërs 1 vers 7.

Sang

Kom ons sing Gesang 200 strofes 1 en 3. Met die lied bevestig ons weer dat ons ook glo God is goed. Sy goedheid, en niks anders nie, bring vir ons die heil. En ons neem ons voor om God se goedheid te probeer verstaan en daaruit te leef.

Preek

Twee goed maak dat ons die evangelie met die heel beste bedoelings in die wêreld nie verstaan nie:
1. Die ding dat ons oortuig is met geld kan jy alles koop.
2. En ons dink dat as jy gewerk het, moet jy betaal word.
Nie een van die twee is waar nie. En albei maak dat ons God se goedheid net nie kan kop nie.

Hier’s twee stories agtermekaar ingeryg, beide behep met geld en goed, wat goed kos en wat werk werd is. En beide loop uit op eerlike ontsteltenis dat die ewige lewe nie te koop is, en ook nie voor gewerk kan word nie. Niks goeds is goed genoeg dat jy daarmee die ewige lewe kan losslaan nie. Niks wat jy doen is goed genoeg om in die koninkryk koning te kraai nie.

ʼn Ou met baie geld het vir Jesus kom vra: Ek het alles wat geld kan koop. Maar hoe kry ek nou die ewige lewe? Is daar iets wat ek moet doen?, wil hy weet, want by implikasie is hy gretig om dit gedoen te kry. Hy glo hy kan. Dis hoe hy al sy ander besittings ingepalm het. Want dis hoe die wêreld werk. Dit weet hy klaar: jy werk, jy eet; jy werk meer, jy het iets oor om mee handel te dryf; jy werk genoeg, en jy word ryk.

In Markus en Lukas is die ou nogal vreeslik respekvol: hy spreek vir Jesus aan as “Goeie Leermeester”. Hy het vir Jesus agting.

“Hoekom noem jy My goed?” vra Jesus in dié ander evangelies. Hier in Matteus lyk dit meer akkuraat om te vertaal met “Hoekom vra jy My uit oor wat goed is?” Die betekenis daarvan is eenders. Of jy noem iemand “goed” want jy sien en hoor hom goeie goed doen, of jy vra hom uit oor wat goed is want jy weet hy is goed en hy behoort te weet hoe jy ook goed kan word. Hoe dit ookal sy, die konteks bly dieselfde: die ou het die idee mens kry die ewige lewe net as jy goeie goed doen. Dis doodlogies: dis hoe mens ryk word – jy doen die goed wat jou gaan ryk maak. Ryk word het hy klaar reggekry. Dis volledig binne sy vermoë. Vertel my dan: hoe en wat moet ek nóg doen? Want ek wil daai ewige lewe waarvan almal praat, graag by my besittings tel. Besittings? Wel, ten minste darem seker iets soos om te kan sê jy was al in Londen en jy’t Big Ben met jou eie oë gesien.

Ervare in hoe die lewe werk, is hierdie ou baie fyn ingestel op hoe die ewige lewe werk, want hy vra spesifiek: “Watter goeie daad moet ek doen…?” Nee, dis nie so vergesog nie, nie eers vir ons wat glo dat ons die evangelie ken nie. Al wat ʼn grappie is oor ouens wat voor die poorte staan met die hoop om daar in te kom, gaan oor wat elkeen sou gedoen het om dit reg te kry.

Hy mag dalk fyn ingestel wees, maar hy’s ook verkeerd…

Ek neem nie genoeg foto’s as ek reis nie. En as ons vir foto’s moet staan en mooi lyk, raak ek gou geïrriteerd as die Susan nie met die kamera klaarkry nie. Maar ek kan myself skop as ek my foto’s aflaai en die kosbare, onherhaalbare oomblikke wat ek met my mik-en-druk wou vaslê, uit fokus is. Wat Jesus vir die ou probeer sê: Hoor hier, ou maat, jou fokus is uit. Jy fokus op jouself, en op hoe goed jy kan wees. Kom ons stel eers die kamera in. Kom Ek hoor eers by jou: hoekom vra jy My uit oor wat goed is? Wat laat jou dink Ek kan vir jou sê wat goed is? Want hoe jy My sien, en vir God sien, dit gaan bepaal of jy gaan insien wat Ek oor die ewige lewe sê, en of jy die prentjie in jou kop gaan reghê.

“Daar is net Een wat goed is.” Daar is net Een wat jy kan uitvra oor wat “goed” is, en dis die Een wat self goed is: God.

Kry dus eers jou fokus reg: God is goed. Net Hy. Nie jy, of enigiemand anders is goed nie, in elk geval nie goed genoeg om die ewige lewe waarna jy so soek, te kry nie. Dog, fokus is nie net hoe skerp die beeld is nie. Ouens wat weet om goeie foto’s te neem vertel jou daar’s ʼn geheim aan goeie komposisie: die hele foto moet die oog ook lei na ʼn fokuspunt toe. En probeer jy vir jou ʼn prentjie van die ewige lewe kry, moet jou fokuspunt uitstaan. God is die fokuspunt. God wat goed is. God wat nie jou goeters is nie. God, en nie jy nie. Die ewige lewe is God s’n, nie joune nie.

Ons fokus is ver uit. Ons kyk in dowwe spieëls en sien raaisels. En ons is siende blind oor ons self in die prentjie so groot is dat ons vir God nie op die foto kan inkry nie. Al ons foto’s is selfies. Dolf van Niekerk het n gedig wat dit goed raakvat. Die e-Hervormer het hom eenmaal aangehaal. Van Niekerk noem dit . . .

ʼn Gedig vir die Gesaaides:Fotograaf

my oog is ’n spieël
tussen diere wat vrek
en ek flits
vir die Heer
oor die reën
maar ek hoor
in die lug
met die kraanvoël
se roep
en die hees geskree
van die hadida:
jy ken my net
as jy gunste vra

Hm… “Jy ken my net as jy gunste vra…” Al wanneer jy op God fokus, is wanneer Hy moet kom help dat jy op die foto kan beter lyk. Jy ken vir God net as jy iets nodig het. Soos reën op jou groentetuin. Soos vrekte onder jou goggas. Soos kos op jou tafel en geld in jou kluis. Jy fokus op God net as jy nog iets by Hom wil kom haal wat jy nog nie het nie. As Hy jou besittings moet aanvul. En God is goed as Hy gee sonder om te kibbel. Hy moenie durf waag soos ander pa’s maak en sê: “Geld groei nie op my rug nie!” God wat goed is vir jou, sorg vir jou. Jy gaan soek jou voordeel by God. Is so. Laat God maar net daarmee ophou en kyk hoe gou slaan verwondering oor in verontwaardiging en verwyt, en aanbidding in beskuldiging.

God is vir jou gevoel goed oor Hy vir jou goeters gee. En jou oorvloed aan goed máák jou ryk, maar dit maak jou nie góéd nie. Jou goed is nie goed nie. Jy ook nie. Jou God is. Net God is goed.

En as jy dít nou lekker in fokus het, dat God en nét God goed is, ís daar iets wat jy kan gaan doen wat sal wys jy verstaan dit. Daar is iets wat jy kan gaan doen wat sal bewys jy glo genoeg dat God goed is dat jy jou geld en jou goeters, jou lewe selfs, met hierdie goeie God sal waag. Wat is dit? Jy kan gaan doen wat Hy sê. As jy glo God is goed, kan jy sommer hier en nou al met jou ewige lewe begin, sê Jesus: onderhou God se gebooie.

Hierdie ou het nou geleer fokus. Maar hy is nie so seker dis die antwoord wat hy wou hê nie. In ons familie het ons die irriterende manier om vir mekaar te sê: “Jy verstáán nie”. As jy huismoles wil stook, moet jy dit in my huis kom sê. Nou vra hy: “Ja, maar watter gebooie? Gee hulle vir my!” En Jesus gee hom ʼn kort opsomming van dieselfde ou tien gebooie van altyd – so half asof Hy sê: Weet jy, dis nie juis sterrekunde nie. Dis ou nuus. Moenie moor nie, moenie skei of steel of lieg nie, eer jou pa en ma, en oor die algemeen hê jou naaste lief.

En dis ook nes die ou vermoed het: dit ís nie die antwoord wat hy kom soek het nie. Hierdie gebooie ken hy almal, hy het dit al al’s klaar gedoen, of nie gedoen nie, sê die jongman.
Maar dan kom daar tog ʼn liggie aan: Meneer, as net God goed is, en ek nie, al dink ek ek het al daai gebooie mooi onder die knie, waar skiet ek dan nou nóg te kort? Ten minste dit het hy gevang: hy skiet te kort. Hy is nie goed genoeg nie. Dis nie dat hy nie genoeg hét nie. Of nie genoeg dóén nie. Dis hý wat nie by goedheid bykom nie.

Maar, hel, dis moeilik om te aanvaar.

Wat Jesus dan doen, is om vir hom te wys hy gaan ook nooit goed genoeg word nie.

Goed dan, sê Jesus, as jy volmáák wil wees: gaan verkoop al’s wat jy het, gee die geld vir die armes en kom volg my. Met ander woorde: gaan raak van al jou geld en goed ontslae – die goed wat jou kwansuis “goed” maak – en kom na My toe terug met niks. Met niks waarmee jy die ewige lewe kan koop nie. Dan gee Ek dit vir jou. Verniet. En die stomme man loop kop onderstebo daar weg: dit kan nie so werk nie, dink hy. Hy het alles wat hy het met bloedsweet verdien, hy’t hard daarvoor gewerk. Ondervinding het geleer niks wat waarde het, val sommer so in jou skoot nie. Daarom gooi mens ook nie sommer al’s so weg nie. En niks is verniet nie. There’s no such thing as a free lunch.

Die dissipels is omgekrap. As jy ryk is, is dit tog oor God jou seën, dan nie? Hoe rym dit met: ryk mense kan nou nie meer die koninkryk in nie? Gaan sê dit vir die charismate, en hulle sal net so omgekrap wees. Hulle glo God wil nie hê sy kinders moet sukkel en swaarkry nie, en dat vrede en vreugde en voorspoed beteken God is in jou lewe. Jesus keer hier hulle hele idee van hoe die goeie God seën, op sy kop om. Nee, dis nie net ʼn glipsie nie: het jy al ʼn kameelperd deur ʼn naald se oog sien klim? Nee, ek ook nie. Wel, net so dikwels gaan julle ryk mense in die hemel sien inkom…

Nou’s die manne lelik omgekrap. En met baie goeie rede. Wel, is hulle gevolgtrekking, dan gaan niemand óóit gered kan word nie. As ouens wat ooglopend só geseënd is, dit nie gaan maak nie, watse kans het ons?

En hier sit onreg in, so voel dit. Ons, die dissipels, het nou wel nie goed nie, maar ons het goed gedoen. Ons help die koninkryk kom! Ons het gedink: nie net gaan ons hemel toe nie, as ons daar aankom, gaan ons ereplekke kry. Nou klink die hemel vir ons al hoe meer soos Suid-Afrika se parlement: òf jy kan doen net wat jy wil, maar jou plek in die parlement is seker, òf jy kan alles doen wat jy kan, maar die plek is vir jou toegesluit? Maak niks wat ons doen, dan regtig saak nie? Die dissipels besluit: alles is tevergeefs. Almal het gesondig. Almal is almal ver van God af. Niemand gaan dit maak nie.

Jip, sê Jesus met ʼn sug. Dit is so.

Kamele klim nie deur naalde nie. Mense gaan nie hemel toe nie. Niemand is goed genoeg nie, sien. Net God is.
En was dit nie dat God góéd is nie, wás almal verlore en alles tevergeefs. Was dit nie vir God se goedheid nie, was elke saailand onvrugbaar, elke vrou kinderloos en elke volk soos mense sonder orde.

Maar God is goed.

Dog, nes vir die ryk ou, stel dit die dissipels nie dadelik gerus nie. Want ons het ons lewe dan aan God gewy; wat gaan ons daarvoor kry? kla hulle. As mens werk vir ʼn ding, is dit net regverdig dat jy daarvoor betaal word. Dis om behoorlik betaal te word dat ons in die straat dans. Dis om te kry wat ons met werk verdien, dat ons soms weier om te werk. Dis net billik. Maar hier val nou die boom uit ons arbeid uit.

Julle sál beloon word, verseker Jesus hulle. Daar is ʼn element van waarheid in wat julle oor werk en verdienste dink. Maar julle fokus is ook uit. Nes die ryk kêrel alles moes gaan weggee, gaan julle ook moet. Julle gaan ook met niks hier by My moet aankom. Julle moet by God kom aanmeld sonder familie, volk en vaderland. Dis maar ʼn ander manier van te sê: sonder enigiets waaraan julle waarde heg; sonder enigiets waarop julle gedink het julle kan reken oor God daaraan sal waarde heg.

Die nuus is: daar is niks wat julle kan doen wat God genoeg gaan beïindruk nie.

Die verdienste waarmee jy by God kom aanklop, is die belydenis dat jy alles wat jy gedink het waarde gehad het, verloor het. Jy kom nie na God toe oor jy iets losgewerk het nie, maar oor jy alles prysgegee het. Dis hoekom daai Hallelujalied wat my ouma my geleer het dit toe nooit in ons Liedboek ingemaak het nie: Moet ek gaan met leë hande? Wel, ja, jy moet. Daar is geen ander manier om in die hemel te kom as met leë hande nie

In beide gevalle – met die ryk jongman en die dissipels – is die beginsel dieselfde. Want God verander nie. God is goed.

Maar al het nie alle moeders kinders nie, maar vir hulle kinders lief bly, en al sukkel God net so om sy kinders by Hom te hou, ma’s bly ma’s en God bly God: Hy het ons lief of sy kinders Hom nou wil ken of nie. Was dit nie vir die nuus dat God goed is nie, sou niemand dit gemaak het nie. “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.” Dis vandag se goeie nuus. Dis die evangelie. Daar is nie n ander evangelie nie. God is goed. God red mense. God gee vir mense die ewige lewe nie oor húlle goed is nie, maar oor Hý dit is.

God kom na mense toe. God vat mense na Hom toe. God leef met mense saam. God leef in sondige plekke. Oor God goed is. Goed en geld is nie goed genoeg nie. God is goed. Daarin sit sy goedheid: dat Hy sy eie gebooie byhou – Hy het ons liewer as wat ons vir onsself lief is. Niemand het immers groter liefde as Hy nie, wat sy lewe vir sy vriende afgelê het. Hy vervies Hom nie vir sonde nie. Hy onttrek Hom nie van sondaars nie. Hy skryf nie sy kinders af nie. Hy draai nie sy rug op mense nie. Hy bly nie kwaad nie. Hy haal die kwaad uit. En met dié red Hy mense wat nie kwalifiseer nie.

Dié dat ons soos Habakuk mag sê:

Al sou die vyeboom nie bot nie
En daar geen druiwe aan die wingerde wees nie
Al sou die olyfoes misluk
En die lande nie oes lewer nie;
Al sou daar geen kleinvee meer wees nie
En die beeskrale sonder beeste wees,
Nogtans sal ek in die Here jubel,
Sal ek juig in God, my Redder.
Die Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos dié van ʼn ribbok
Op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

God is nie goed nie. God is nie goeters nie. Maar is God goed, soos in goeie, beter, beste? En hoekom sê jý so? Oor Hy jou die goed gee wat jy wil hê? God is nie goed oor Hy ons goed gee nie. God is nie goeters nie.

God is al Een wat ná aan goed kom. God is ook nie net goed nie. Hy’s beter as wat jy jou verbeel goed kan wees. Ons lewe hang suiwer daarvan af dat God goed is, en nie van of ons die lewe regkry nie. Dis goed! Dis baie goed. Dis God.

Dankgebed, Voorbedes

Wegsending:

Slotsang

Kom ons sing Habakuk 3 as `ʼn belydenis. Gesang 516. Ons sing dat ons glo in God se goedheid, nie ons eie nie. Ons sê nie ons sal vasbyt met ons lof aan God al gaan dit met ons sleg nie. Want dan sê ons ons is goed. Ons is nie. Ons sê al word ons arm oor die oes misluk en die kleinvee vrek, al het ons niks, al bly daar min van ons oor, sodat ons niks oorhet om mee te betaal of enigiets kan doen wat goed genoeg is om seën te verdien nie, die Here by goed. Ons redding hang van Hom af, en van sy goedheid, nie ons s’n nie.

Seën

Luister hoe geseënd is ons weens die goedheid van God uit 2 Timoteus 2 verse 11 tot 13:
“As ons saam met Hom gesterf het
Sal ons ook saam met Hom lewe;
As ons in die geloof volhard
Sal ons saam met Hom regeer;
As ons Hom verloën
Sal Hy ons ook verloën;
As ons ontrou is –
Hy bly getrou:
Hy kan Homself nie verloën nie.
Amen

Respons

Amen.

Insameling van die dankoffers/orrelspel

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.