Ons gaan saam (hemel toe)!

Jesus is die hemel in.  Wat help dit om dit te weet?, vra die Heidelbergse Kategismus, Vraag 49.  Wel, dat ons saamgaan!

“…dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof, ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem”

Ons was vyftig mense in die erediens Donderdagaand.  Met die kinders vas aan die slaap, het ons die Here se kroning gevier, en toe sop en brood geëet.

Predikant

Toetrede

Votum en Seëngroet (Staan)

Die hemel loof u wondermag, Here, die hemelinge loof u trou. Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word? Wie onder die hemelwesens is soos die Here? Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering ‘n heilige ontsag. Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom. Here, almagtige God, wie is soos U? U krag is groot, Here, u trou is oral!

(Psalm 89 verse 6 tot 9)

Aanbidding en lof

Sang (Staan)

Die Here het opgestaan en Hy lewe.  Die Here het opgegaan hemel toe. En ons gaan saam.  Daarvan sing ons in Gesang 425 verse 1,2,3 en 4.

Die wil van God

Gebed (Sit) wat insluit:

Skuldbelydenis

Genadeverkondiging

Geloofsbelydenis

Sang (Staan op)

Ons sit ons gebed voort met Gesang 428 verse 1, 2, 3 en 4.  Ons jubel oor Jesus vir ons n woonplek by God gaan klaarmaak het, dat ons na Hom toe kan kom maak nie saak hoe groot ons sondekuld ookal is nie, Hy hoor ons dank- en smeekgebede. Met liefde en genade, so regeer die Koning wat oor als en oor ons almal heers.

Verkondiging

Skriflesing

Johannes 17

1

Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik.

2

U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee.

3

En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

4

Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.

5

Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.

“Daar is geen ander evangelie nie!” Galasiërs 1 vers 7.

Sang

Jesus sit aan God se regterhand.  Dit beteken aan Hom is alle mag gegee om te namens die Vader te regeer.  En daar, in die nuwe vaderland, maak Hy vir ons n tuiste gereed. Gesang 589 verse 1 en 2

Preek

Jesus is hemel toe
Jesus is hemel toe

Jesus is in die hemel.

Waar die hemel is, weet ons nie.  Of die hemel die soort plek is wat mens iewers in tyd en ruimte kan inpas, weet ons ook nie, maar ons dink nie so nie. ʼn Hele paar siniewe ruimtevaarders het al van agter die wolke af teruggekom en laat weet dat hulle geen teken van God of hemel kon kry nie.  Trouens niemand was al hemel toe en terug om te kom vertel wat daar aangaan nie.  Hemelvaart en ruimtevaart is dus nie dieselfde ding nie.  Die bestemmings verskil.  Dat niemand dit nog kon vind nie beteken bloot ons het nog nie op die regte plek gesoek nie.  En ek is redelik seker ons gaan dit ook nie daar tussen die sterre vind nie.  Net so min as wat jy dit op Google maps gaan kry.

Ons weet van die hemel verstommend min.  Wat ons wel weet, is wat die Bybel ons daarvan vertel.  Dat ons ons steur aan wat die Bybel se, maak van ons gelowiges.  Ons kyk anders as wetenskaplikes na die wereld, ons sien n ander werklikheid.  Wat die Bybel se, is dat die hemel die plek is waar God woon.

Natuurlik is God hier by ons ook, sommer vlak langs ons, selfs ín ons.  En God is betrokke by wat hier by ons gebeur.  Dog, dis nie die hemel hierdie nie.  Wat maak dan die hemel anders? Wel, die Bybel dink die hemel is die plek waar jy regstreeks met God te doen kry. Soos in: van aangesig tot aangesig. Nie net deur die Bybel, sakramente en simbole nie, of met gebede en ikone, of in eredienste en aan die hand van godsdiensrites nie. In die hemel is jy in God se onmiddellike teenwoordigheid.

Die “hemel” is ons kort begrip vir n hele ander werklikheid, n geheel nuwe wereld.  Maar om dieselfde rede dat ruimtevaarders reg is – hulle hét nog nie vir God daar bo teegekom nie, en hulle kon die hemel ook nog nie vind nie – praat ons ook versigtig oor die hemel.  Ons gaan nie oor dit hemelvaartdag is en ons is verlee oor ons so min oor die hemel weet, daaroor begin spekskiet nie.  Ons is tevrede met wat ons uit die Bybel kan agterkom.  En met wat ons geleer het van die een mens ons weet soontoe is. Nie dat Jesus ooit vreeslik baie oor die hemel te se gehad het nie, vreemd genoeg.  Ek vermoed Hy het nie gedink detail oor hoe die hemel lyk, help vreeslik baie om die lewe hier op aarde geleef te kry nie.  En dit was oor die aarde en die lewe hier dat Hy duidelik besorg was.  Hy het baie gepraat oor die koninkryk van die hemel, nie oor die hemel self nie.  En soos ek dit verstaan, is die koninkryk van die hemel iets wat op die aarde kom gebeur het.  In die hemel werk dit mos al lankal so.

Wat ons van Jesus oor die hemel kan agterkom, is dat dit n plek is waar alles anders werk, want daar gebeur net wat God wil laat gebeur.  Anders as hier. Hier vat ons mos sommer self van God oor en ons doen wat ons glo eintlik vir God, maar veral vir ons natuurlik, beter sal wees as wat God Hom kon indink.  Dat ons daarvan n heerlike gemos maak, het ons nog nooit afgeskrik, of gekeer om weer te probeer nie.  Dat ons sonde elke keer als beduiwel, het nou nog nie n duik in ons selfvertroue gemaak nie.  Ons veg moedig voort om ons eie sin te kry en ons eie  oortuigings te laat geld.  Ons glo in niks en niemand so heeltemal sonder twyfel, as in onsself nie.

Helaas, ons sonde hou ons tot nog toe uit die hemel uit. Ons sonde verongeluk God se wil, keer kontak met God, skuif God uit, soek ons eie belang en vestig ons eie magbasis. Ons maak God stil en onsigbaar.  God raak stil in ons geraas, en Hy verdwyn in ons beknopte, volgepropte lewes. Dis nie oor God nie in tyd en ruimte kan inkom nie, of hier durf waag sy  gesig te wys nie – Hy het! – maar oor ons vir God nie tyd het nie en ook nie vir Hom hier ruimte laat nie.  Die een keer toe God in lewende lywe hier opdaag het ons Hom vervolg tot ons Hom kon doodkry. Dat dit nou nog nie gely het tot n heilsame vertwyfeling in ons eie sin en wil nie, gaan die verstand te bowe.  Maar dis seker presies hoekom ons daarmee aanhou – dit gáán die verstand te bowe: dis bo ons vuurmaakplek.

Jesus kom hier aan met vir lewe vir mense, vir die mens in wie God n welbehae het.  Mense reageer met moord en doodslag want ons hou nie van hoe God met die lewe te werk gaan nie.  Die ding is: ons kon vir Jesus nie dood hou nie. Ons sonde kon Hom toe nie keer nie, in elk geval nie permanent nie:  Hý word Koning. God kroon Hom.  Hy is aan die regterhand van God, waar die Een sit wat alle mag het wat God het om te gee. En met dié, met opstanding en hemelvaart, het Hy alles wat ons mense doen wat vir ons so vreeslik belangrik voel, gefnuik.  Alles wat ons met God wou doen, het Jesus oneffektief gemaak. Alles waarvoor ons God wou gebruik, het Jesus kom stop. Wat ons mense met God wou aanvang, het erg misluk.

Hoe weet ons dit?  Uit wat ons ons oor die hemel verbeel?  Nee, ons hoef nie oor die hemel te droom en ons dan daarop te verlaat met vroom fantasiee nie.  Ons weet dit vir n feit uit wat Jesus hier by ons, en aan ons, en in ons wereld, kom doen het.

Ons het nou nog nie insae in wat in die hemel gebeur nie.  Ons weet nie presies hoe dinge daar werk nie.  Maar ons het Johannes 17.

Met wat Jesus in Johannes 17 doen, kry ons n blik op hoe die hemel dalk werk.  Want daar kry ons n idee van hoe die Vader en die Seun met mekaar omgaan.  Ons verwag n magspel, politieke posisionering, n maneuver, reels wat mag reguleer. In Johannes 17 sien ons inderdaad iets van die kroonprins se politieke agenda, of sy grondwet, of sy verkiesingsmanifes.

En wat hiér uitkom, laat my verslae.

Jesus bid.  Sy magsoorname oor die skepping se regering gebeur soos n gebed.  Hy en God praat. Jesus stel nie eise nie; Hy reken daarop dat die Vader sy woord gaan hou: dat dinge sal geskied soos wat Hy en die Vader vroeër al  ooreengekom het.  Hulle het duidelik klaar konsensus, die Vader en die Seun.  Hulle stem saam oor wat nou gedoen moet word en hulle weet waar hulle met mekaar staan in die nuwe bedeling. “Vader, die tyd het gekom…”  Die tyd wat ons voorsien het, waarop ons ooreengekom het, en wat ons saam beplan het, vir die nuwe bedeling om in werking te tree . . . dis nou hier.   Jesus dreig nie, eis nie, maak nie op mag aanspraak nie, ruk Hom nie aggressief op met ultimatums en proklameer n coup d’ etat nie.  Hy se bloot, asof  Hy en sy Pa doodluiters n gesprek wat hulle vroeer gehad het, hervat: “Vader, daai ding waaroor ons gepraat het, daai tyd wat ons saam beplan het, dat ons die Seun saam sou verheerlik, wel, hier is dit nou.”  Jesus praat in die verlede tyd, want dis nie die eerste keer dat hulle met mekaar so ooreenkom nie.

Dis dadelik duidelik hulle twee hoef nie weer hieroor te praat nie.  Ek het die idee hulle twee knoop die gesprek aan om ons onthalwe.  Jesus se nie om dowe nete nie: “Ek se dit terwyl Ek nog in die wereld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan he.”  Dis vir ons ore bedoel.  Dit se: so verstaan die Vader en die Seun mekaar.

Wat wil die Seun en die Vader he ons moet weet oor wat hulle in die hemel besluit?

“Vader, . . . verheerlik u Seun.  Sodat die Seun U kan verheerlik.”  Die Seun soek nie eie eer nie, nie ten koste van die Vader nie.  Wanneer die Vader die Seun verheerlik, verheerlik die Seun ook die Vader.

Ons het nie in God se regering uit sy hemel te make met strydende belange en n gekopstampery tussen twee kompeterende magte nie.  Hulle is dit volkome eens.  Hulle is een.

“Ek het U op die aarde verheerlik,”se Jesus, “deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. Verheerlik U my nou ook, Vader. . .”  Die Vader en die Seun tree op in mekaar se belang en hulle verheerlik mekaar.  Hier is nie strydende partye aan’t  armdruk nie.  “Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheuid wat Ek by U gehad het voordat die wereld bestaan het.”  Jy sien, n kragmeting tussen Jesus en God is nie nodig nie:  die Seun was tevore al klaar daar, saam met die Vader, in die hemel. Voordat Hy hierheen gekom het om hierdie werk hier te kom doen.  Dat Hy nou hier in die wereld is, en hiervandaan met die Vader praat, is soos hulle dit afgespreek het. Herstel My, stel My weer aan, in die posisie wat Ek gehad het voor Ek hierheen gekom het, bid Jesus.

Saam het hulle aan hierdie ding beplan, en saam het hulle daaraan uitvoering gegee. Daai ding is nou voltooi, volbring.   “U het Hom – die Vader het aan die Seun – immers volmag gegee – volle beheer – oor die mensdom om – dis wat Jesus met hierdie volmag van Hom gaan maak – om aan almal wat die Vader aan Hom gegee het, die ewige lewe te gee.”

Maar wag nou n bietjie: is hierdie mensdom nie dieselfde ouens wat so van die sonde besmet is dat hulle vir God geen tyd of plek het nie?  Is hulle nie die einste mense wat Hom gegryp en gekruisig het in die hoop hulle kon n einde maak aan sy regering nie?  Juis!  Juis vir hulle gaan Jesus die ewige lewe gee.

Hy gaan sy mag ter wille van ons gebruik.  Hy sê Hy gaan vir ons regeer, ons ten goede regeer. Hy wil ons wat lewe doodmaak, leer leef.

Maak dit sin?  Wel, logies is dit nie juis nie.  Dis nie die uitkoms wat mens, na sy moord, vir sy moordenaars sou verwag het nie.  Die lewe is steeds op God se agenda.  Nie net Jesus s’n nie. Mense se lewe.

Hoekom die mense wat jou doodmaak, net al laat leef, wat nog vir ewig laat leef? Wel, dit hang af van wat die ewige lewe is: “En dít is die ewige lewe:  dat hulle – hierdie moordenaars – dat hulle U – die Vader, God – ken – dat hulle agterkom U is – die enigste ware God, en (vir die Seun leer ken) Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” Die dag as jy kop wie’s die enigste ware God, en jy kom agter hoe God vir Jesus Christus agter mense aan in die wereld ingestuur het, weet jy ook  waaroor die ewige lewe gaan.

Die ewige lewe is om God tee te kom, om Jesus Christus in lewende lywe te ontmoet, en om in God die Vader en die Seun se teenwoordigheid te leef. Om deel te neem aan die verheerliking van die Vader en die Seun.

En dit kan net een ding beteken, want daar is net een plek waar jy dit behoorlik kan doen . . .  En as dit oor sonde onmoontlik klink, dat geen mens in die hemel kan kom nie, dink weer: Jesus, die man wat in Nasaret gebore en op Golgota gekruisig is, is soontoe.  Dit lyk vir my, manne broers, ons gaan saam!

Dat Hy in die hemel is, Hy wat Jesus die mens en die Seun is, is ons waarborg: dit kan!  Dat Hy vir ons bid, is ons versekering: ons gaan! Mense en God, so onmoontlik as wat dit mag klink, kan en sal in vrede saamleef en een spasie deel.  Al sal ons tot in die hemel moet wag om dit te sien gebeur, moenie nou, hier oor hoe onsigbaar God is, ontsteld wees nie.

“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.

In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie.

En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Johannes 14 verse 1 tot 3              

Dankgebed, Voorbedes

Wegsending:

Slotsang

By die Vader, maak Jesus vir ons woonplek, sodat ons ook by Hom kan wees, sê vers 2 van Gesang 599 verse 1, 2 en 3

Seën

“. . . Nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. (Johannes 17 vers 13)

“Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het. (Johannes 17 vers 24)

Respons

Amen.

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s