Meet lewe aan wie jy raak.

Meet lewe aan wie jy raak, nie aan hoe lank jy uithou nie.

Matteus 9 : 18 tot 19, Lukas 8 : 41 tot 56

22 Julie 2020, NHKA Kampersrus

Begrafnis, Troosdiens: Meisie Strydom, Doep du Plessis

 


Voorgestelde orde NHKA

 

Moontlike liturgie by roudienste:  Begrafnis of verassing

Toetrede:    [Stil gebed; voorspel]

[Groet en woord aan aanwesiges]

[Afskeidswoorde van familie]

[Lees van Begrafnisbrief]

Votum

Seëngroet

Lofsang

Verkondiging:

Skriflesing

Preek

[Preeklied]

Gebed:

Wegsending:

Slotsang

Seën

[Lees van begrafnisbrief]

[Afskeidswoorde van familie]

Bedankings

Draers na vore [slegs indien die erediens voor die

teraardebestelling plaasvind]

Draers stap voor en die gemeente verlaat die kerkgebou

Met ‘n verassingsdiens kan verskeie afskeidshandelinge by die

lykswa voor die kerk plaasvind, soos blomme wat op die kis

geplaas  word, iemand  wat ‘n lied sing, die Geloofsbelydenis,

‘n gedig of  Skrifgedeelte, of  afskeidswoord wat gelees word.

 

 

Vooraf

Skyfie: Meisie Strydom.

Toetrede

Kom na God toe.  Bely dat God groot is, groter as ons begrip.  Bly sit en sing saam Gesang 464 strofes 2 en 4.  Bly asseblief dwarsdeur die erediens sit, vir al die liedere en ook met die gebed.

Skyfie: Toetredelied Gesang 464 : 2 en 4 (Bly asseblief sit)

Toetredelied (Staan op)

Begeleiding begin hier.

Gesang 464 strofes 2 en 4

Skyfie: Votum: Roep na God!

Votum en Seëngroet

Jesaja 40

6        

Iemand sê: “Roep!” En ek vra: “Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom:

7        

gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai.” Dit ís so, die volk is soos gras.

8        

Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.

Skyfie: Seën. Julle God is hier!

9        

Klim op ‘n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Julle God is hier!”

10      

Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom.

11      

Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.

Skyfie: Loflied Gesang 602 : 1 en 3

Lofsang (Bly staan)

Gesang 602 vertel van die nuwe lewe wat na hierdie een kom.

Begeleiding begin hier.

Gesang 602 strofes 1 en 3

Skyfie: Skriflesing Matteus 9 verse 18 en 19.

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing

Matteus 9 : 18 en 19

18      

Jesus was nog besig om dit vir die mense te sê toe daar ‘n raadslid van die sinagoge voor Hom kom kniel en sê: “My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.”

19      

Jesus het opgestaan, en Hy en sy dissipels het saam met die man gegaan.

Skyfie: Skriflesing Lukas 8 verse 41 tot 56.

 

Lukas 8 : 41 tot 56

41      

Skielik kom daar ‘n man aan. Dit was Jaïrus, ‘n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom,

42      

want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud. Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom.

43      

Onder hulle was ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie.

44      

Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe:

45      

“Wie het My aangeraak?” Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.”

46      

Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.”

47      

Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.

48      

Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”

49      

Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.”

50      

Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie Glo net, en sy sal gered word.”

51      

Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus, en die kind se pa en ma.

52      

Die mense daar het almal gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Jesus sê: “Moenie huil nie, want sy is nie dood nie, sy slaap net.”

53      

Hulle het Hom uitgelag, want hulle was seker dat sy dood is.

54      

Maar Jesus het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op!”

55      

Haar lewe het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee.

56      

Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het.

Skyfie: Laat God jou aanraak.

 

Toe Job ontsteld was oor hoe sleg dit met hom gaan, sê hy in hoofstuk 6 dat al sou

9        

God dit goeddink om my te vernietig, om my lewe met sy hand af te kap. . .

10      

Dan sou ek nog dié troos hê, dié vreugde in die pyn. . .: dat ek die woorde van die Heilige nie geminag het nie.  

So steur ons ons ook vandag, te midde van ons eie smart, aan die woorde van God.  Ons neem dit nie ligtelik op nie.  Ons laat God toe om ons te troos.   

Gebed

Skyfie: Gebed.

Preek

Vir eens, ‘n begrafnis vir ‘n voltooide lewe.  Dis deesdae nogal raar.  In ‘n tyd vol geweld, wanneer mense nie meer net doodgaan nie, maar doodgemaak word, en mense nie meer sterwe nie, hulle is van die sinloosheid so goed soos dood al haal hulle nog asem, is die dood en begrafnis van iemand wat vanself doodgegaan het en voor die dood die lewe reggekry het, ‘n lafenis van genade.

Maar durf ‘n mens dit ooit sê: ‘n Voltooide lewe?  Is die lewe ooit voltooid?  Is alles wat jy moet doen en kan doen en wil doen ooit klaar gedoen, al word jy ook hoe oud?

O, ek is seker daar is nog baie dinge wat ‘n mens sou wou gedoen het, as jy kon.  Maar ek dink nie die lewe gaan net oor wat ‘n mens doen nie, nie eens oor wat ‘n mens alles met jou lewe doen nie.

Is die lewe nie ook net doodgewoon om te wees nie?  Hier te wees, daar te wees, gelowig en gelukkig te wees, nie? Ek dink so. En raak die “om te wees” dan op?  Raak jou kanse om gewoonweg net te wees, ook klaar? Moet ‘n mens dan ook die een of ander tyd ophou wees?

Is jy nie meer daar nie, gaan jy mos baie misloop.  Is, as daar nog goed is wat jy kan misloop, jou lewe ooit klaar?  Dit bring jou weer by die vraag:  Is lewe dan net oor te wees? Dalk ook nie.

Nee, die lewe gaan nie net oor wat jy gedoen kry nie, en ook nie oor om niks te mis nie.  Jy meet nie ‘n lewe aan al’s wat jy mis nie, maar aan alles wat jy raak. Die lewe gaan nie oor wat jy alles misgeloop het nie, maar oor wat jy geraak kry.  ‘n Lewe meet jy aan wie en wat jy geraak het, aan wie en wat jy geroer en geskuif het, aan alles en almal aan wie jy ‘n verskil kon maak.

Dis wat ons vandag hier maak:  Ons is hier, almal van ons, omdat tannie Meisie op die een of ander manier aan ons gevat het.  Nou roer haar dood ons, beweeg ons om bymekaar te kom.  Ons is almal mense wat deur tannie Meisie geraak is, en dat ons hier is, is getuienis van hoe diep sy ons geraak het.  Dis ons wat haar mis.  Tannie Meisie mis ons nie meer nie, dis ons wat haar mis.

Dis daarvoor dat ek pleit: Dat ons almal die lewe moet leer meet aan die gehalte van ons aanraking aan mekaar.   Anders gesê:  Meet ‘n mens se lewe aan hoe sy jou geraak het.  As ons hier byeen is om hulde te betoon en dankie te sê vir die lewe van Meisie Strydom, dan is dit om met ons teenwoordigheid hier te kom sê:  Dis oor sy ons geraak het, diep geraak het, dat ons haar vandag, en van vandag af nog baie sal mis. Dis wat ons haar vandag laat opsoek: ‘n Laaste aanraking. Want dit was goed, dit is goed, om deur haar geraak te wees.

Maar ons kom nie hierheen om vir tannie Meisie te kom soek nie, nè?  Tannie Meisie is nie self meer hier nie.  Ons almal weet dit.  Maar hierin sit juis die gehalte van hoe tannie Meisie ons raak:  Tannie Meisie bring ons kerk toe, na God toe, sodat Christus ons vandag kan aanraak, en sy Gees ons kan troos.

Maar daar is seker ook ‘n beperking op wat ‘n mens se aanraking aan ons kan regkry.  Tannie Meisie kan nie en kon ook nooit vir ons met haar aanraking gesondmaak nie.  Tannie Meisie kon niemand uit die dood uit terugbring nie.  Ons ook nie.  Ons kan nie omkeer wat met tannie Meisie gebeur het nie.   Nie ons of tannie Meisie is Jesus Christus nie.  Dis juis daarom dat ons met ons afskeidnemery van tannie Meisie, juis hier bymekaarkom, juis hier by die Een wie se aanraking die grondige verskil kan maak tussen lewe en dood, tussen geloof en wanhoop, tussen krisis, rou en troos.  Ons is hier by Jesus Christus byeen om te kom vra:  Here, Raak aan ons, dat ons krag kry vir hierdie afskeid.

Leer jy ‘n mens se lewe meet aan hoe sy ander geraak het, leer jy gou:  Hier kom jy die een Persoon teë wat, as Hy aan jou vat, die verskil maak  wat niemand anders kan nie. En dan kan jy nie anders nie as om oor tannie Meisie te dink as iemand wat jou juis in aanraking sou bring met die liefde van God.  Daarin sit die betekenis en die volheid van haar lewe: Dat sy mense liefde, die liefde van God in Christus, gegun het.

Toe Jaïrus se dogtertjie die dag op sterwe lê – trouens volgens Matteus was sy reeds dood – was dit vir Jesus dat Jaïrus gaan soek het, net sodat Jesus aan haar kon kom raak.  Want as Jesus net aan haar sou raak, het hy geglo, sou sy dogtertjie weer lewe. Wanneer Jesus aan mense raak, verander ons ingrypend.

Jesus staan op en ‘n skare kom agterna.  Hulle het van Jesus se aanraking eerstehandse ondervinding.  Soos die godjie Midas wat, as hy aan iets vat dit kwansuis goud word, vat Jesus aan jou en jou siektes is weg, jou water word wyn, jou brood word te veel, jou demone slaan op vlug, en lesbes, was jy dalk dood, lewe jy weer.

Hulle het dit nou net voor hulle eie oë weer gesien gebeur:  In die skare was ‘n vrou wat aan ‘n siekte gely het wat haar nie net siek gemaak het nie, maar ook onrein.  Sy mog nie in die tempel kom nie, en ook nie tussen mense nie.  Sy verontheilig alles waaraan sy raak.  Die vrou beur daardie skare in, want, het sy besluit, vandag vat ek aan Jesus al is dit net aan ‘n soom van sy klere.  Nie net sal sy daarvan gesond word nie, maar ook weer rein, vir God en mense weer aanvaarbaar word.  Maar sy wou net ‘n gesig in die skare bly:  Sy hoort nie hier tussen baie mense nie. As hulle sou uitvind sy het hulle almal besmet, gaan hulle woedend wees.   Al druk en stamp die honderde in die skare vir Jesus die- en daaikant toe, Hy gaan staan botstil, draai om en vra:  “Wie ‘t aan My gevat?”

Die dissipels dink dis malligheid en hulle sê dit ook: “Kom nou, Here, daar is baie mense hier wat aan u raak, ‘n skare van hulle!”

“Nee,” sê Jesus, daar is net die een wat met voorbedagte rade aan My kom vat het. Ek weet dit, want ek het gevoel. . .”

En dan staan sy daar, verwese en uitgevang.  Hy weet dit was sy.

Hy het sy krag uit Hom voel uitgaan na haar toe.  Weet jy wat?  Jesus het aan haar geraak, nie soseer sy aan Hom nie.  Sy is dadelik daarvan gesond.

As sy haarself dan aan Hom wys, sê Hy.  Jy is nie net van jou siekte gesond nie.  Jou lyf is nie alles van jou nie. “Dogter,” sê Jesus, “jou geloof het jou gered.  Gaan in vrede.”  Dis ander woorde vir gaan lewe, gaan vergewe, gaan verlos en vat aan mense se harte.

Die impak van Jesus se aanraking is die grootste ding wat met jou kan gebeur.

Dan gaan vat Jesus ook aan Jaïrus se dogtertjie. “Staan op!” sê Hy vir haar, en sy doen dit soos toe die son aangekom het toe God aan die begin gesê het “Laat daar lig wees,” en dit was so. Sy was dood.  Sy lewe weer.  Gee haar dadelik kos om te eet, sê Jesus.

Jy kom na Jesus toe, nie om aan hom te kom vat nie, maar oor Hy aan jou kom raak het.  Oor Hy jou al lankal vir Hom gevat het.  Hy vat raak.  Hy het jou geroer.  Daar waar Jesus aan jou vat, kom die lewe terug, word die lewe vol, en in ‘n sekere sin kom daar die lewe klaar, nie net vol nie, voltooid.

Aan Meisie Strydom het die Here goeie vatkans gehad.  Haar lewe het daarvan getuig dat sy nie alleen lewe nie, God leef saam met haar.  Haar lewe was nie leeg nie, maar vol, nie net oor God by haar was nie, maar kyk hoe sit ons hier:  Die mense aan wie Meisie Strydom vatplek gekry het, ons vir wie sy kon roer.

Tannie Meisie Strydom was nie Jesus Christus nie.  Glad nie. Sy was net iemand op wie se lewe die vingerafdruk van Jesus se aanraking agtergebly het.  Ons dank God vir die vingerwysing.  Meisie Strydom het nie net ‘n gesig in die skare gebly nie, ons het van haar kennis geneem, want die merk van Christus se vingers was duidelik aan haar te sien.

Daarom kom ons toe vandag hierheen, juis na Christus toe, vir die troos wat ons soek oor tannie Meisie se heengaan.  Dis hierheen dat sy ons wys en stuur, hier, na Christus toe.

Daarmee bely ons dat met Tannie Meisie se dood, dit Jesus is wat ons geroer het om na Hom toe te kom vir troos, want haar lewe het in Christus vol en voltooid geraak.

Ons mis tannie Meisie.  Maar tannie Meisie mis niks meer nie. Sy kom niks kort nie.  In ons gemis is ons vandag in ‘n skare elkeen met ons eie bloedvloeiing, hier om aan Jesus te kom vat want ons lewe loop uit, sodat daar van Hom krag sal kom na ons kant toe.

Mag God vandag aan ons almal raak.  Mag ons almal die troos van die Here Jesus Christus agterkom, in hoe Hy in die lewe ons gesondmaak, ons bloedsweet oor die dood stopsit, en ons lewe volmaak waar die graf kom gate grawe het.  Mag ons lewe vol en voltooid raak.

Mag ons vir tannie Meisie mis, maar vir Jesus Christus nooit.

Amen.

 

 

Skyfie: Meet lewe aan wie jy raak, nie aan hoe lank jy uithou nie.

 

Amen.

Skyfie: Sing Gesang 266.

Wegsending

Slotsang

Begeleiding begin hier.

Gesang 266.

Skyfie: Seën.  Juig, jubel, want die Here het verlos.  

Seën

Ontvang die seën van die Here uit Jesaja 44

23      

Juig, hemel, oor wat die Here gedoen het, jubel, dieptes van die aarde, wees bly en juig, berge en bosse, want die Here het vir Jakob, vir Israel, verlos, die Here het sy mag laat blyk.

Amen.

Skyfie: Troosdiens: Foto

Begrafnisbrief

Elkeen wat in Jesus Christus glo, leef vir altyd in God se teenwoordigheid.

Met die sterwe van ons geliefde Meisie Strydom, ‘n moeder, bely ons saam met Paulus dat God dié wat in Hom glo, na Hom toe neem (1 Tessalonisense 4 vers 13).

In hierdie geloof neem ons vandag van Tannie Meisie afskeid.

Ons leef nou reeds in die vaster en seker hoop van die opstanding tot die ewige lewe deur ons Here Jesus Christus (Johannes 5 vers 24; 11 vers 25).

Hy maak ons vernederde liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk.

So bly ons tot in ewigheid by God.

Amen.

Dankbetuigings

 

 

 

Teraardebestelling

Gebed

Bid saam.

Skriflesing

Jesaja 44 : 21 tot 26

21

Dink hieraan, Jakob, dink hieraan, Israel, want jy is my dienaar; Ek het jou gemaak, jy is my dienaar. Ek sal jou nie verlaat nie, Israel.

22

Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.

23

Juig, hemel, oor wat die Here gedoen het, jubel, dieptes van die aarde, wees bly en juig, berge en bosse, want die Here het vir Jakob, vir Israel, verlos, die Here het sy mag laat blyk.

24

So sê die Here jou Verlosser wat jou in die moederskoot gevorm het: Ek is die Here, Ek het alles geskep, Ek alleen het die hemel oopgespan, Ek het die aarde gevorm; daar was niemand by nie.

25

Ek stel die toekomsvoorspellers aan die kaak, Ek maak die waarsêers belaglik. Ek weerlê dié geleerde mense, Ek ontmasker hulle kennis as dwaasheid.

26

Ek bevestig die woorde van my dienaar, Ek bring wat my boodskappers aangekondig het, tot vervulling. Ek sê van Jerusalem: Hy moet weer bewoon word, en van die stede van Juda: Hulle moet weer opgebou word, en Ek self bou Jerusalem se ruïnes weer op.

 

 

60

Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom

 

Johannes 2 : 19 tot 22.

19

Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”

20

Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”

21

Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel.

22

Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

 

Geloofsbelydenis

Kom ons bely dat God ons uit die dood laat opstaan.

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader,
  • van waar Hy sal kom om te oordeel,

dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

 

Seën

Ontvang weer eens die seën van die Here uit Jesaja 44

23      

Juig, hemel, oor wat die Here gedoen het, jubel, dieptes van die aarde, wees bly en juig, berge en bosse, want die Here het vir Jakob, vir Israel, verlos, die Here het sy mag laat blyk.

Amen.

 

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.