Sutherland se sterre

“Een toer door Afrika” (dit was glo ʼn amperse eerste boek oor hoe dit hier by ons lyk, uit die oog van ʼn Nederlander) het ʼn goeie vriend altyd gespot as ons die sloertoer-ding doen.  Ry en bly, sonder haas om by ʼn bestemming uit te kom.  Die ronde van Vader Cloete, die “scenic route”, as jy ompaaie vat.  Dit is om oop oë te reis, te leer langs die pad.  Die Engelse “padrit” (roadtrip) het dit mos so dat jy slimmer of wyser tuiskom.

Sutherland was op die lys.  Soos die grappie dit wil hê, is daar glo nie ʼn pad Sutherland toe nie.  Uit die noorde kom jy met grondpaaie deur die Hantam, die Knersvlakte en die Tankwa in die Roggeveld aan (almal van hulle in ʼn beter toestand, kan ek uit ondervinding bevestig, as die “teerpad” tussen Clarens en Ficksburg oor Fouriesburg.)

Die slegte nuus is dat die sterre in Sutherland nie mooier is as die sterre in Kampersrus nie.  Maar, laat my darem byvoeg, die sterre is hier van Kampersrus af ʼn skouspel.  Ons was op Sutherland net enkele dae voor die Karoo sopnat gereën het, en die mistigheid het die Karoo se oë toe al agter ʼn sluier versteek.  Maar dit was helder genoeg om foto’s van Saturnus en haar ringe, en van Jupiter se stormpie en sy mane te kon neem.  Willem, die man met die teleskoop by die planetarium in Sutherland se hoofstraat, was ʼn fees.  Die man is begeesterd deur die ruimte om ons, en ons was verwonderd. 

Die volgende dag het ons die SALT gaan besigtig.  Daar kan jy ongelukkig nie sien wat die teleskoop sien nie, maar die teleskoop self is al ʼn lus vir die oog.  

En Sutherland, het ons geleer, sit hoog.  Nee, dit was nie so koud nie.

Nou die dag hoor ek op RSG ʼn boorling van Sutherland gesels oor dié dorpie se ander skat, die grootwordhuis van die Louw-digters, die broers W. E. G.- en N.P. van Wyk Louw.  Gerard Scholtz (van De Kat) bly in ʼn sandsteenhuis langs die hoofstraat.  (Die straat is geteer terwyl ons daar was, tot groot vreugde van die rieldansers wat die nuwe padvlak ingewy het.)  Scholtz het my by onaangekondigde aanklop, gul verwelkom en binnegenooi, en ons het ʼn afspraak gemaak om saam die Louw-huis te bekyk.  Hy het sy hart in die bewaring van die Louw-huis, en ek kan goed verstaan hoekom.    

Die huis is in die onlangse verlede deur haweloses beset en die werk wat voor die COVID-pandemie gedoen is om van die huis ʼn volwaardige museum te maak, is weer ongedaan.  Raka was hier.  Maar selfs in die plek se huidige toestand, is net die gedagte dat die Louw seuns hier hulle tande aan Afrikaans geslyp het, ʼn kleinood.  ʼn Bietjie spoeg en politoer en hier is ʼn pelgrimsbestemming in wording.  Die rose blom al.  Hier gaan nog ʼn gereelde skryfskool van kom, en dalk ʼn retraite vir skrywers, sê Scholtz met onstuitbare entoesiasme.  Dis die droom, en elke droom kos geld. Praat gerus self met Gerard by gerardscholtz@gmail.com.  (Dié man het baie om oor te praat.  Ek sou my voortande gee om meer te wete te kom van sy liefde vir die Ortodoksie, en ek beny hom sy reise.)

Sutherland se sterre sit nie net iewers bo jou kop nie.  Hulle glinster ook in boeke, skyn deur oop deure en klets soos klokkies in lekker Karoo-Afrikaans.

En “The Blue Moon” bak baie lekker koek!    

Jy het dit wragtig nie maklik nie.

Ek het baie dinge al beleef, soos jy seker ook maar.  Maar ek kan nie help om te dink dat die goed wat ek oorgekom het, soms regtig vreemd was nie.  Goed wat ek gedink het nooit met my sal gebeur nie.

Een daarvan was om my werk te verloor.

Dit gebeur met baie mense, hoor ek jou sê?  Met jou ook, dalk? Hoe’s dit snaaks?

Wel, dalk is wat ek daaruit geleer het dan wat vreemd is.

Toe ek in n gemeente was, het ek dit van ver af al gesien kom.  Die vermoë om wat ons destyds nog n “standplaas” genoem het, te onderhou, was aan’t kwyn en ek kon die gemeente nie sover kry om harder te werk of meer te doen nie – ons was almal alreeds gedaan gesukkel.  Ek kon die proses op n manier bestuur: ek het die onvermydelike uitgestel deur tydelike opofferings te maak.

Ek het ekstra werk aanvaar om die kos op die tafel te kry en die skoolfonds te betaal.  Sendingwerk, en pastorale sorg aan randkerklikes en uit vreemde denominasies.  (Daar sit iets in!)

Free soup, coffee and doughnuts for the unemployed
Free soup, coffee and doughnuts for the unemployed

My bankbestuurder was geduldig, die kanker nie, maar my kinders sê hulle het nie toe geweet ons is “arm” nie. Toe ek daar weg is, het die gemeente weer kon beroep.  Sukses, dus.

Die werksaanbod uit die buiteland was tegelykertyd vloek en seën.  Ek kon weer die begroting laat klop, daar was selfs geld in die bank na die skuld afgelos is.  Maar my huis was leeg.

Vele pa’s moet hulle gesinne prysgee juis sodat hulle geliefdes – sonder pa – net aan die lewe kan bly.  Dog, die gat, nou in my hart pleks van my sak, was groter as wat ek met oulap kon stop.

Ek kan die meedoënlose verlies en knaende gemis nouliks beskryf; naam gee, ja, maar wat dit met my reggekry het, kan selfs ek nog nie gemaklik gesê kry nie.

Ek het so baie misgeloop.  Matriek.  Ienks.  Eerste liefdes. Wrede teleurstellings. Graadvang. (Een keer, in die middel van Roleen se gradeplegtigheid, moes ek haar net daar los om n vliegtuig te loop haal, oor die ry net te lank was om te wag.) Kersfees en verjaarsdae. My ouers se oudword. My familie se feeste. Stoepkuier saam met vriende. Die pastoraat. Om te kan preek. Gelowiges, selfs (verbysterend) die moeilikes onder hulle.

Ek weet nou wat dit aan my gedoen het.

Ek het gewerk, dog eintlik ook nie. Gedien, maar halfhartig. Gedien tot uitbranding toe, tot stomp vingers toe het ek gewerk, maar my hart was nie meer daarin nie.

n Lewe van net werk, werk nie.

Toe verloor ek selfs dit: die werk wat my darem nog rede gegee het vir smorens opstaan. Die werk waarin ek goed was, waarvoor ek soms selfs aangeprys is.  En waarvoor ek betaal is.

Dit het n jaar gevat.  Soektogte, aansoeke, onderhoude, heimlike hoop, telkens verskriklike teleurstelling, en voorsienings wat uitloop. Selfs die goeie bedoelings in daai geestelike bankrekening wat mense met my laat uithou het, het begin deurskuur.

Ek kan (nog?) nie hier skryf wat die jaar gebeur het nie.  Hoe doen mens dit?  Ek gee nie om dat iemand minder van my sou dink as hulle dalk sou uitvind nie. As jy klaar alles anders verloor het, is n goeie naam n kleinigheid. Ek kan dit net nog self nie oor my hart kry nie.

Ek vermoed dat daar ander is wat dit ook al oorgekom het, want ek is nie uitsonderlik nie.  Ek wend hierdie poging aan om iets daaroor te skryf, omdat dit my help; en dalk sukkel jy ook, dan huil ons minstens op mekaar se skouer.

Ek weet nou hoe ek en my werk verstrengel is.  Dat wie ek is en wat ek doen, aan weerskante van dieselfde munt sit.  Ek weet ook nou wat dit aan my doen as niemand meer daai munt wil betaal vir wat ek is en vir wat ek doen nie.  Werkloosheid is moord.  Genadebrood sluk swaar.

Miskien is dit hoekom vreemde goed my oorkom.  Dat ek kan probeer verstaan waarmee jy worstel.

En die Here weet, en nou ek ook: jy het dit wragtig nie maklik nie.

Pekel

Lot se vrou moes net nie terugkyk nie.  Sy het.  Sy het haar in ʼn gesteente in geskrik.

Gevaarlik, die terugkykery.

ʼn Mens moet oppas vir met die wysheid van tyd te oordeel oor wat verby is. Want kyk jy terug, is daar altyd iets wat jy anders moes gedoen het. Of glad nie eers moes aangepak het nie.

Soms is daai oor-die-skouer-loerdery hoe die vervolgingswaan vatplek kry.  Soms is wat jy agter jou sien, so ʼn verleentheid dat jy jou die pekel in skaam en ʼn suur trek permanent op jou gesig kom sit.  Erger nog, jy kan met terugkyk net daar versteend bly staan. Lamgeskrik.  Vasgehaak, sodat jy nie kan losmaak en aangaan nie.  ʼn Potskerfkrapper. ʼn Ashoopsitter.  ʼn Soutlek: jy het nie vyande nodig nie, jy vryf sommer self sout in die wonde in.

Edith PiaffHantie sê altyd – en ek het haar al hieroor aangehaal – jy’t gemaak soos jy gemaak het met die lig wat jy toe gehad het.   Koos se spreuk was:  No regrets. Non, je ne regrette rien. (Kliek op Edith Piaff se foto vir goeie raad!)

Dog, vandag doen ek dit toe, soos mens mos maar maak as die einde van eras opdoem.  Ek kyk toe om.  Nou kom ek nie verder nie.  My voete swaar soos beton, my arms grafgraniet.

Ek kry toe spyt, sien.

Toe die dun kant van die wig eers vir hom ʼn gleufie in die onthougoed oopgewikkel kry, was dit neusie verby.

Ek het spyt oor meer dinge as waaraan ek skuld het. Spoke staan nou hier tou voor my deur; party bakhand oor wat ek hulle skuld, ander vingerwysend in aanklag, sommiges het sommer net seer.  En aan elkeen doen ek met ʼn swaar gemoed belydenis.

Ek verstom my aan hoe goeie bedoelings op sonde uitgeloop het, gawe vooruitsigte op jammerlike mislukking en geesdriftige strewes op afgryslike skande.

Mag ek sê ek het geleer?  Want ek is amper seker ek gaan presies dieselfde foute weer maak.

Ek het geleer uit die omkykery dat voornemens en verwagtinge nie hulle sout werd is nie.  Ek laat myself te veel in die steek.  Gans te gou lek ek alweer wonde.

Noem my sinies, maar dis hoe ek deesdae van my dae sin maak:  die oggendstond het sout in die wond.  My geskiedenis is betreurenswaardig.  Wat dus vandag en môre voorlê, laat ek nou maar aan God oor.   Op myself gaan ek nie meer reken nie.

Het ek soos tannie Lottie versteen?  Of het ek standbeeld staangemaak wat my uitvlug uit my sodoms en gomorras gedenk en nou, uiteindelik, geleer vorentoe beur?  Ironies genoeg, sal net die tyd, en nou en dan ʼn terugkyk, leer.