Gedreig met die dubbelbed

Lus of lis?  Gasvry of godskreiende geweld?

Die gawe om God te verstaan.

Goeie storievertellers gebruik tegnieke om ons te boei.  Die skrywer van Genesis 18 en 19 was baie goed daarmee: Hy maak jou nuuskierig, en daar’s ʼn kinkel in die kabel wat jy nie verwag nie.  Maar nou moet ek ook erken sy skryfwerk grens aan pornografie, en dreig met godskreiende geweld. Lekker leesstof is dit nie.  Dis soos een van daai flieks: jy kan nie kyk nie, en jy kan nie wegkyk nie.

Kom ons probeer sy storie saam uitpluis.  Ek gaan my bes doen om dit oor te vertel, en ek hoop om nie aanstoot te gee nie.

Genesis 19

16 Julie 2017, NHKA Kampersrus

Werk van die Heilige Gees: Gawes


Continue reading “Gedreig met die dubbelbed”

Advertisements

Pekel

Lot se vrou moes net nie terugkyk nie.  Sy het.  Sy het haar in ʼn gesteente in geskrik.

Gevaarlik, die terugkykery.

ʼn Mens moet oppas vir met die wysheid van tyd te oordeel oor wat verby is. Want kyk jy terug, is daar altyd iets wat jy anders moes gedoen het. Of glad nie eers moes aangepak het nie.

Soms is daai oor-die-skouer-loerdery hoe die vervolgingswaan vatplek kry.  Soms is wat jy agter jou sien, so ʼn verleentheid dat jy jou die pekel in skaam en ʼn suur trek permanent op jou gesig kom sit.  Erger nog, jy kan met terugkyk net daar versteend bly staan. Lamgeskrik.  Vasgehaak, sodat jy nie kan losmaak en aangaan nie.  ʼn Potskerfkrapper. ʼn Ashoopsitter.  ʼn Soutlek: jy het nie vyande nodig nie, jy vryf sommer self sout in die wonde in.

Edith PiaffHantie sê altyd – en ek het haar al hieroor aangehaal – jy’t gemaak soos jy gemaak het met die lig wat jy toe gehad het.   Koos se spreuk was:  No regrets. Non, je ne regrette rien. (Kliek op Edith Piaff se foto vir goeie raad!)

Dog, vandag doen ek dit toe, soos mens mos maar maak as die einde van eras opdoem.  Ek kyk toe om.  Nou kom ek nie verder nie.  My voete swaar soos beton, my arms grafgraniet.

Ek kry toe spyt, sien.

Toe die dun kant van die wig eers vir hom ʼn gleufie in die onthougoed oopgewikkel kry, was dit neusie verby.

Ek het spyt oor meer dinge as waaraan ek skuld het. Spoke staan nou hier tou voor my deur; party bakhand oor wat ek hulle skuld, ander vingerwysend in aanklag, sommiges het sommer net seer.  En aan elkeen doen ek met ʼn swaar gemoed belydenis.

Ek verstom my aan hoe goeie bedoelings op sonde uitgeloop het, gawe vooruitsigte op jammerlike mislukking en geesdriftige strewes op afgryslike skande.

Mag ek sê ek het geleer?  Want ek is amper seker ek gaan presies dieselfde foute weer maak.

Ek het geleer uit die omkykery dat voornemens en verwagtinge nie hulle sout werd is nie.  Ek laat myself te veel in die steek.  Gans te gou lek ek alweer wonde.

Noem my sinies, maar dis hoe ek deesdae van my dae sin maak:  die oggendstond het sout in die wond.  My geskiedenis is betreurenswaardig.  Wat dus vandag en môre voorlê, laat ek nou maar aan God oor.   Op myself gaan ek nie meer reken nie.

Het ek soos tannie Lottie versteen?  Of het ek standbeeld staangemaak wat my uitvlug uit my sodoms en gomorras gedenk en nou, uiteindelik, geleer vorentoe beur?  Ironies genoeg, sal net die tyd, en nou en dan ʼn terugkyk, leer.