Skade aan die tempel van God

Photo by Pixabay on Pexels.com

Twee Sondae gelede het ʼn nuwe groepering gelowiges vir die eerste keer hier teen ons berg kom wortel skiet, kort na die samesmelting van ʼn voorgangerbediening met nog ʼn groep op die dorp.  Sulke groepe kom en gaan.  Eenheid is nie op hulle doenlys nie.  Soms groei en gedy hulle, en soms skeur daar weer van hulle ook af, weens die een of ander sensitiwiteit oor ʼn ononderhandelbare beginsel of die uitspraak (die klank) van ʼn woord.  Dan is oorbegin van voor af weer ʼn “ding”. 

Daarmeesaam krimp algaande ons eie kerkie se ledetal soos wat stoele op ander plekke lekkerder sit.  Dit verg net die ligste ou “mistykie” van die dominee of ʼn lidmaat, ʼn te kras woord vir gevoelige sentimente, en ons is nog een of twee stoere Hervormers kwyt, weliswaar om ywerig ander plekke na hulle smaak te gaan hervorm.

Die nuwe groepie hier by ons het mekaar glo natgegooi dat die water spat en brood en druiwesap uitgeëet.  En glo ook land en sand met die Here geklets.  Van een van hulle kry ek toe nou ʼn teksboodskap, glo na aanleiding van juis dié breedvoerige gesprek met God, waarin die Here sou laat blyk het Hy het groot kommer oor ons in die NHKA; ek moet dringend 1 Korintiërs 5 lees. 

Nou het ek dié probleem:  Dié boodskap het die kerk in Korinthe al 2000 jaar gelede gekry.  Toegegee, eers sedert 1933 het dit ook in verstaanbare Afrikaans by die NHKA uitgekom.  Wat maak ek nou daarmee, noudat my naam en adres daarop staan? 

Ek hou my eg Hervormd dom:  “Konteks?” vra ek beleefd, my tong rou gebyt. 

“Nee, as dit mos nou nie van toepassing is nie, ignoreer gerus!” is die antwoord. 

“Ja, maar jy het gesê die boodskap kom van God af aan my persoonlik?” wil ek onskuldig weet. 

“Nee, as die skoen nie pas nie, hou doodgewoon verby.  Nie alle boodskappe wat van God kom, is in die kol nie, weet jy.” 

“Nè?” vra ek. 

“En moet jou nie so wip nie.  Aanstoot neem is liggeraak, weet jy, en met die liefde strydig!”

Nou hang my tikvinger oor die sleutelbord.  Wat gaan dit help?  As iemand so rats van God korte mette maak, wat gaan nóg ʼn Whatsapp van mý help?  Die vinger sak. Ek kners op my tande.

Maar nou is my stryd met Paulus. “Dis nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie.  God sal oor hulle oordeel.”  Maar Paulus het hulle dan so pas uitgehaal, mos?

Asemhalingsoefeninge later en meer in voeling met my innerlike self (lees: met my woede net-net onder bedwang), besluit ek om daar niks verder aan te doen nie. Maar vrede bring dit nie.  Weet dié mense van ons iets wat ék nog moet uitvind?  Tier daar regtig onder ons sulke onsedelikheid?  

Die ergste van alles is dat ek al sulke gerugte gehoor het, gerugte wat ek toe uit huis uit verwerp het.  Nou slaap ek snags nie.

Miskien wou ek net hier sê dat ons almal moet besef ons is prentjies van God se genade, meer van die “genade” as van “God.”  Ons waarde en ons waardigheid setel nie in hoe ons is nie, maar in hoe God weet ons kan wees.  Sonde sal jy by ons vind.  Dit is omdat ons soort sonde die sektes nie geval nie, dat hulle om hulle eie sonde saamkoek.  Maar mense is, almal van ons, swaar op genade, en basta met die siening dat mense God uitbeeld.  Die naaste wat ons daaraan kom, is hoe goed ons daarvan getuienis lewer dat ons God kortkom!  Christus is dié Adam.  Christusgelykvormig impliseer fisiese mens vervul met die Heilige Gees van God.  En ek glo vas die Heilige Gees is met ons heiligmaking druk besig.  Ons is algaande aan’t mense word.

Daarmee is seksuele losbandigheid nie goedgepraat nie, en onsedelikes beslis ook nie gepaai nie.  Inteendeel: “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle.” (1 Korintiërs 3 : 16 en 17)

En met dié tref dit my toe:  Is dít dalk hoekom die Hervormde Kerk krimp?  Doen ons die tempel van God skade aan?      

Hennie la Grange

Soepel

Twee onverwante beelde bly my by:  ‘n video van ‘n tenkskip waarvan die boeg in stormsee knak en soos ‘n melktand wat wissel, rondswaai, en die fliek wat sonder twyfel in die ry staan vir ‘n handvol toekennings, “The Trial of the Chicago 7”.

Ek was lank betrokke by seemansending.  Die onmiddellike “Mayday! Mayday!” van die radioman laat my ril. As ‘n kwart van jou vaartuig voor jou oë afbreek, verg dit nie nadenke oor of jy ‘n krisis in die gesig staar nie; jy wéét, en jy skreéú om hulp.

Maar die krisis is nie altyd so ooglopend nie.  Tom Hayden, die karakter in die fliek “Chicago 7” skitterend vertolk deur akteur Eddie Redmayne, sien die spreekwoordelike boeg breek; die regter Julius Hoffman (gespeel deur Frank Langella) egter nie.  Die regter kan dit nie kleinkry dat sy skippie sink nie, en dreun wanhopig teen donderweer, en probeer in die laaste toneel komies en tragies tevergeefs sy verkrummelende wêreldjie met sy hamertjie regtimmer. 

Dit laat my wonder of ons die oorgange tussen eras raaksien, die omvang van die verandering wat kom, besef, en of ons soepel genoeg is om deur die noutes van stywe tydsgewrigte te kan wikkel? Hoe hou ‘n mens die deur oop, die skarniere geolie, jou lyf skraal genoeg sodat jy kan deurkom, die oorgange en die deurgange tussen tydperke ten minste darem kan oorleef en, indien nie heeltemal ongeskonde nie, tóg anderkant uit te kom en daar ‘n sinvolle bestaan te voer?  Soos om op jou maag deur Cango se smalste tonnel te wil seil, moet jy vooraf eerlik bestek opneem oor of jy gaan pas en wat jy liefs maar aan diékant sal moet los.

By grootskeepse verandering, pas niemand gelate aan nie. Ons rou oor wat verlore gaan, en bly hardnekkig vaskleef aan wat ons bly glo tog mos beter was as wat die nuwe tydgees in ruil bied. 

Die seeman roep “Mayday,” en internasionale konvensie maak hulp dwingend.  Hulp sou kom.  Die “Chicago 7” soek ook hulp, en kry dit van mekaar, maar dalk net omdat hulle in dieselfde bootjie is en nood leer bid, want hulle is onverwagse bronne van steun, die onwaarskynlikste van bondgenote, teenpole van mekaar. Maar waar anders sal ons hulp vandaankom, vra een, siende dat Martin Luther King, Malcolm X en Robert Kennedy almal in die stof gebyt het.  Jesus ook:  Jesus is dood. . . (Martin’s dead, Malcolm’s dead, Medgar’s dead, Bobby’s dead, Jesus is dead.)

Begrip vir konteks help as jy nog nie die nuwe tydgees onder die knie het nie.  ‘n Fyn aanvoeling vir iemand se goeie bedoelinge te midde van moeilike omstandighede, werk versagtend as hy droogmaak.  Twee keer verloën Tom Hayden (Redmayne) die groep van sewe.  Hy staan in die hof op uit eerbetoon vir die regter, al is dit afgespreek dat die sewe uit protes sou bly sit.  Nee, nie ter ere van die regter nie, tree Sacha Baron Cohen se karakter, Abbie Hoffman, vir hom in die bres, maar uit agting vir die instelling van ‘n federale geregshof.  Dan blyk dit dat, van alle mense juis hy, Tom Hayden, die een was wat op daardie gewraakte dag, die skare tot geweld sou aangehits het. As daar dan bloed moet vloei, laat dit ten aanskoue van die hele stad gebeur. (Let us make sure that if blood is going to flow, let it flow all over this city) En weer (as ek reg onthou) is dit Hoffman wat, verrassend vir sy karakter en raar vir ‘n fliek uit Hollywood, ‘n Skrifaanhaling maak. 

Matteus 10:34. Toe Jesus gesê het “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard, het Hy tog nie bloedvergieting goedgepraat nie!  Daarvan getuig tog die konteks, die omringende verse.   

“Want Ek het gekom om ‘n wig in te dryf, ‘tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder; en ‘n mens se vyande sal sy eie huismense wees.’”

Die Woord is ‘n swaard met twee snykante wat deurdring tot by gewrigte en murg.  Die Woord is ‘n skalpel wat skei om gesond te maak.

Beïndruk deur Hayden se beskaafde gedrag en meer aanvaarbare voorkoms, gee die regter aan Hayden die laaste woord.  Foutjie!  Dis sy doodsteek.

Dat God saam met ons die nou poorte aandurf, gee my moed.

Dat God die deurgange druk maak, verseker dat ek nie oortollige bagasie met my soontoe saamsleep nie.

Die liefde wat God se Woord my leer, hou my bedag op ander, op lewe.  Mense maak saak.  Mense hier by my en daar doer.  Here, help my sagkens met mense werk.  

Dat God en mense in my onmiddellike omgewing is, gee my gemoedsrus: Iemand verstaan my konteks!

Dat God van die bedeling wat kom net so volkome in beheer is as van hierdie een, hou my soepel.  Selfs as my skippie water sluk, kan ek op die Here reken. God hoor my Mayday.

Ons sal hierdeur kom, al spartelend, maar ons sál.

Hennie la Grange

NS:  Die rolprent “The Trial of the Chicago 7” is tans op Netflix te sien.         

Nee, as ons preek, lieg ons nie!

 

RSG maak groter gewag as gewoonlik van komende Sondag se gesprek op “Uit ‘n ander hoek”, ‘n program waarin alternatiewe sieninge van geloof en religie verken word.  Sondag se gaste is ons professor Andries van Aarde (UP, emeritus) en professor Pieter Craffert (UNISA), voorheen predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk*, beide Nuwe Testamentici, en albei van hulle teoloë van naam.

Teologie is die wetenskap waarmee die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika van haar predikante verwag om dit wat ons mense aanspoor om te glo, krities te verantwoord.  Van alle predikante van die Kerk word vereis dat ons vaardige teoloë moet wees.  Daarom het alle dominees reeds wel deeglik kennis geneem van die onderwerp waaroor die verwagte gesprek sal handel:  Hoedat die Jesus waarin ons glo, moontlik verskil van die man wat “in die stofstrate van Nasaret geloop het” (aanhaling uit die reklameflits van RSG).

Een van die eerste verskille wat uit die flits al blyk, is dat “Jesus na alle waarskynlikheid nie in Betlehem nie, soos die geloofstradisie dit wil hê nie, maar eerder in Nasaret gebore sou gewees het.”

Daar is talle ander sulke verskille wat gelowiges ewe veel sou kon verontrus.

Hoor net eers weer:  Jou dominee weet al lankal van hierdie Jesusnavorsing en die resultate daarvan.  En tog is ek redelik seker dat julle min daarvan sou kon agtergekom het uit wat ons Sondae preek.  Nie omdat hierdie inligting nie belangrik is nie, ook nie omdat ons ons daarvoor doofhou nie.  Inteendeel, ons hou in ons Skrifuitleg en teologiese besinning daar deeglik mee rekening: Dis noodsaaklike wetenskap wat die kerk en haar predikers versigtig moet instel op waarheid.  Ons wil immers van Jesus alles te wete kom wat daar van Hom te wete is.

Maar nee, as ons preek, lieg ons nie.

Kom dit by prediking, was die kerk van alle eeue se fokus op die Bybel se weergawe van wat die vroeë kerk oor Jesus geglo het.  Dat daar in die tyd van Jesus se dood af tot die Nuwe Testament se eerste briewe en evangelies die lig gesien het, teologies oor Jesus besin is, is beslis.  Dat ons mag, en sover dit moontlik is, moet gaan kyk na hoe ons geloofsinhoude hulle beslag gekry het, staan soos ‘n paal bo water.  Dat ons daardie inligting moet verreken, spreek vanself.  Die “historiese Jesus”-studie het sy plek.

Wel, waarby het die kerk toe uitgekom? Die Bybel is vir ons die Woord van God, en Jesus Christus die vleesgeworde Woord.  Hieroor het ons nog geen rede vir twyfel nie.

Ja, dit is so dat mense wat van sulke studie hoor, geloof verloor.  Dit het byna met my ook gebeur.  Ek onthou baie goed my eie ontsteltenis toe professor Jimmy Loader op ‘n dag in die Hebreeus 2-klas gesê het Jona is ‘n storie.  (Sou hy net bygevoeg het:  amper so iets soos Jesus se gelykenisse, sou dit my baie wroeging gespaar het.)  Maar ek was ‘n buitengewoon brose agtien jaar oud.  Ek het by hom ‘n afspraak gemaak om agter die kap van byl te probeer kom.  Nou kyk, vir professor Loader was ek sommer baie bang, en die afspraak met hom het moed geverg.  Maar my geloofskrisis was erg genoeg om hom van aangesig tot aangesig te trotseer.  Nee, die akademie is nie ‘n vriendelike plek nie.  Dis beslis nie die kerk nie. Miskien was dit ook prof. Loader se hele idee om my naïewe denke met geestelike harsingskudding te dokter, want met gemoedsrus is ek nie daardie dag daar van hom af weg nie.

Ek vermoed dit kan Sondagaand met jou ook gebeur.  Ek wou net hê jy moet weet ons was ook al daar, en ons glo steeds wat ons preek.

NS Hierdie sin uit die oorspronklike artikel is verander na soos dit nou hierbo in die geredigeerde weergawe van die artikel verskyn: “Sondag se gaste is ons professor Andries van Aarde en professor Pieter Craffert, voorheen ook predikant van die NHKA, beide Nuwe Testamentici, en albei van hulle teoloë van naam.”  Ek vra verskoning vir die fout.   

Die potgooi van die program is ook nou op RSG beskikbaar by Uit ‘n Ander Hoek