Koek en sampioene

Sit ek en twee pastore toe by die Lapa aan’t filosofeer, met koek en boeretroos vir ontbyt. Gewoonlik is ons ʼn hele spannetjie leraars, want in die Laeveld groei alles, selfs die kerk; helaas, nie in grootte nie, maar in verskeidenheid.  Ons is ʼn ekumeniese paradys van al die gewone denominasies en ʼn duisternis huiskerke wat soos paddastoele in die trope gedy, die meeste van hulle nuutskeppings wat aan “saam met en soos die kerk” geen erg het nie, en ook na niks bekends lyk nie.  Dog, gewyd  geroepe na die goddelose Hoed[1] toe, want hulle harte is in beroering gebring oor die dringende bekeringsnood alhier.

Dié twee pastore is eerbare manne.  (Ja, hier is dominees en alle dergelike wesens, nog net mans).   Hulle het die verskeurdheid geërf, nie veroorsaak nie.  Hulle geloof is nie onder verdenking nie; wel ánders, maar nie dodelik bedwaald nie.  Hulle getuig van eerlike worsteling, nes ek ook maar, dog (vir my gevoel) oor middelmatige goed.  Nietemin, hulle en hulle twee afgedeelde gemeentes se eie uitdaging om met God en mekaar saamgeleef te kry, gee eenderse moeilikheid af as ons sʼn.  Ons kon mekaar destyds glo net nie meer genoegsaam verdra om dié uitdagings saam aan te pak nie.

Bekering is toe nie wat dié platteland wou hê nie, skeuring wel.  Hier is afskeiding ʼn deug: Liefs skeuring voor bekering. Trouens, skeuring ís bekering!

Skeuring slaag hier, op kleinskaal maar meervoudig, sonder die nodigheid van hogere teologiese geskille oor belydenis.  Want om saam met en soos die kerk te bely, is uitgediende kerkwees.  Dié kerke wat tóg nog iewers anders geaffilieer bly, verdoesel dit.  Sies!, vir alle binding aan belydenis.   Maar skeuring verloop vreeslik ordentlik: Net ʼn enkele storie oor ʼn vertroetelde grief oor die kerk van oorsprong, en ʼn vlugtige koebaai as dit nou regtig moet (andersins sommer ʼn middelvinger), is al wat skeuring verg.

Tekening van Beverly Shipko http://www.beverlyshipko.com/beverly-shipko-last-piece-chocolate-cake-16-x-20-inches-img_0470/

As jy ons almal nou bymekaar sou tel, soos krummels van ʼn koek, sal jy by naastenby die volronde dubbellaagspons uitkom wat die kerk eens was, nie twaalf mandjies vol meer nie.  Dieselfde koek is nou al so dun gesny dat skaars ʼn nagmaalproetjie vir elkeen oorbly, geeneen op sy eie ʼn maaltyd wat jou vol hou nie.

Gróót is ons nie meer nie. In die stad was (is dalk nóú nog?) groot ook góéd: groot en indrukwekkende kerksentrums, stadions, skares en grootse meesleurende eredienste.

Kleiner is hier by ons beter, sê dié wat in die stad groot gaan.  Hulle pas goed aan.  Reis lig!  Los die padkos.  Laat die ekstra baadjie en skoene, geboue met torings, pastorieë en professionele predikante.  Kerk-lite.  Ek hoor jou, Lukas.  Maar nêrens lees ek dat jy die belydenis ook maar agterlaat nie. Ek hoor: Vat nou ʼn beursie en bagasie.  Verkoop jou klere vir ʼn swaard.  Want die Een van wie ons getuig en bely dat Hy die Here is, word algemeen ʼn misdadiger gereken.  Ons wat Hom volg, noodwendig ook.  Daarom verg kerk geloof.  Geloof word bely.

Die Drie Susters is nog hier, sukkelend, aldrie nog net gedeeltelik versorgd bedien. Wat gebeur in die Kerk dat ons daarvan wil wegkom?, wil ek weet.  Selfs net eenhonderd belydendes is hier by ons al ʼn groot gemeente, groot genoeg vir die gewone binnegevegte.   Maar waarom op aarde ons wat glo, die swaard teen mekaar opneem, verdeel en heers, gaan my verstand te bowe.

Paddastoele gedy op warm plekke.


[1] “Die Hoed” is ʼn plaaslike bynaam vir Hoedspruit.

Advertisements

Vroue en skoothondjies.

Balvangers by Wimbledon
Balvangers by Wimbledon Foto: DANIEL LEAL-OLIVAS/AFP/Getty Images. Bron: http://www.espn.com/espnw/sports/article/19973251/inside-world-wimbledon-ball-boys-girls Ball boys and girls queue up ahead of play at The All England Lawn Tennis Club in Wimbledon on July 6, 2017, the fourth day of the 2017 Wimbledon Championships.

Vrouedag vier sterk vroue, Uniegebou- en kaalvoet-oor-die-Drakensberg-vroue, pasboek- en bergpasvroue.  Dis diep.

Hierdie jaar lewer Vrouedag toe ʼn nuwe Mejuffrou Suid-Afrika op.

Dis vlak, so sê die twiete.  Argaïes, ʼn terugslag en ʼn klap in die gesig van die voortgaande stryd wat vroue voer om net gewaardeer te word vir iets anders as voorkoms en seks, want vroue word steeds nie eens naastenby na waarde geskat nie.  Om in hierdie tydsgewrig nog vroue te takseer op uiterlike skoonheid, die “mooiste” van hulle dan “ambassadeur” te doop en  ʼn “nasionaal verteenwoordigende rol” toe te dig, net om teen nóg ander vroue te gaan meeding om ʼn “wêreldtitel” (nee, ʼn “heelaltitel”!) is voortgaande vergryp aan vrouwees en ʼn verfoeilike vernedering vir alle vroue wat veg vir staanplek en erkenning.  Deelnemers behoort hulle te skaam!

Hier kom sy nou, en dit gons onder trotse twieters (ja, daar is van hulle ook – so gaan dit op twitter: elkeen het ʼn sê, en almal skreeu). “Eindelik ʼn Afrikaan!,” sê hulle. (Dat dit al “rassisme” skreeu, ignoreer ek, voorlopig.) Onbeskaamd vrou van Afrika, wat geen poging aanwend om haar natuurlik stywe krulle onder ʼn pruik te verberg nie.  Trouens, die meeste deelnemers was vanjaar beduidend “anders”, “verteenwoordigend,” so word gesê, van “regte vroue.”

Sy is duidelik self ook ingenome, emosioneel.  ʼn Wêreld (maar dalk net die ou wêreldjie waar patriargie voel vroue hoort?) gaan vir haar oop.

In Brittanje het ons van dié skoonheidskompetisie heeltemal vergeet.  Geen uitsaaier beeldsend iets daarvan of verwys eers in die verbygaan daarna nie, só erg is die walging daaraan.  ʼn Dokumentêre program wat wel die weersinwekkende spektakel wou deurkyk (want dit gebeur, kan jy glo, régtig  nog, in agterlike wêrelddele!), se jongste beeldmateriaal van die Mej. Wêreldkompetisie was terugflitse waarin  ʼn kiertsregop Anneline Kriel in geradbraakte Engels haar besorgdheid oor ʼn vriendin uitspreek.

Ek is ʼn man, en ek verdien seker nie die reg om my oor sulke sake uit te laat nie?  Ek troos my daaraan dat objektiwiteit iedergeval nie bestaan nie, en wat ek ookal kwytraak, my voor n vuurpelloton gaan daag. (Vroue is baie kwaad! Kwaai?) Met die wete dat ek dit hier uit my eie hoek sien en daar van jou af dit anders mag lyk, gaan ek nekuitsteek en sê: Ek het ʼn broertjie (of ʼn sustertjie, dalk, in dié geval?) dood aan voorskriftelike politieke korrektheid wat vir vroue kom staan en vertel hoe hulle moet wees.

Met hoe hulle kan en mag wees het ek min moeilikheid.

Ek het drie vroue voortgebring en grootgekry.  Hulle is nou nog, en was altyd, ʼn seën, maar nie een van hulle eet gulsig aan sommer enige soetkoek nie.  Die manne in hulle lewe moes leer jy vat hierdie meisies nie vlak nie, en min het tot dusver daarin kon slaag.  Helaas, dis my skuld!  My mantra was:  Leer vir jouself sorg, meisiekind, want mans, mans vat die pad.  Ek het intussen die wag voor my eie mond die nuwe vereistes van ons tyd moes leer.  Ek is en bly nou maar ʼn man, en die vroue van my huis is lankal nie meer dogtertjies wat van Wimbledon af wêreldwyd gehoor kan word, maar net skree wat en wanneer hulle mag nie.

Zozibini Tunzi
Zozibini Tunzi, Mejuffrou Suid-Afrika 2019. Foto: The Citizen.

Haar naam is Zozibini Tunzi.  Sy staan daar, kroon op die kop, en dis duidelik sy wíl daar wees, daar waar sy nou is.  Ek gun haar dit.  Ek dink nie sy wil hoor sy is die produk van regstellende aksie nie.  Dis vernederend.  Ek dink nie sy wil hoor sy is net daar weens ʼn kwotareëling nie.  Dis verontregting.  Ek hoop sy oorleef die hatige nyd van die vreeslike feministe.  Met hierdie kroon gaan hierdie vrou nie die wêreld regeer nie, nie nou al nie.  Maar sê nou net sy wil?

Dis wat sy wil wees, wat sy ook maar mag word.  Vandag is sy ʼn skoonheidsikoon. Dis eg, nie noodwendig “reg” nie, maar háár reg.  Ek hoop Vrouedag, en Vrouemaand, vier egte vroue.   Want toe Jesus die dag deur ʼn Kanaänitiese vrou in ʼn hoek gedryf is, het Hy haar laat wees wat sy is: Kanaäniet en vrou.  Én Jesus het haar tafel toe genooi.  Want jy behandel geen vrou soos ʼn hond nie. (Matteus 15:21vv).