Storieboeke

Ek het besluit ek gaan vanjaar, in 2017, minstens 12 boeke lees.

Ek het ‘n belydenis om te maak:  ek is gek na fiksie. Ek is lief vir stories. Ek waardeer ‘n goeie teks.

Daarom gaan seker nie veel van die boeke vir die vakliteratuurleser veel om die lyf hê nie.  Dalk wel vir iemand wat aan die skryfkuns waarde heg.  Maar dis die lekker luukse van te mag maak nes ek wil.

My genres?

  • Rillers (whodunnits en spanningstories)
  • Historiese fiksie
  • Menslike drama (goeie karakterontwikkeling en menslike verhoudings en -dryfvere)
  • Komiese vertellings

Ek gaan hier rekordhou van hoe ek vorder en sommer ook sê wat ek van die boeke dink.

***** Vyf sterre is onverbeterlik.

**** Vier is byna so goed as perfek.

*** Drie is die lees werd.

** Twee was n teleurstelling.

*Een sterretjie sê ek is verwonderd ek het enduit volgehou.

Ek doen dit meer vir myself as vir enigiemand anders om te lees.  Dis oor my probleem, sien: My geheue hou nie, en die boeke en skrywers wat ek lees, verdwyn in ‘n bodemlose put.

Ek lees tans. . .

Hier volg ‘n ranglys van die boeke wat die lees werd was.

my-grandmother

*****

Ek het Fredrik Backman verlede jaar ontdek toe ek “A Man called Ove” gelees het.  Ek dink nou nog dis een van die bestes wat ek nog gelees het.   Hy is n Sweedse skrywer, maar die “My grandmother. . .” se Engelse vertaling lees soos eerstetaal.  Elsa en haar ouma is boesempelle.  Maar Ouma is van-die-spoor-af-snaaks en Elsa is “anders”.  Hulle woon in n klein woonstelblok met vreemdsoortige karakters wat meer met mekaar, en beslis veel meer met Ouma, te doen het as wat hulle wil voorgee.  Ouma het kanker. En Ouma wil om verskoning vra.  Elsa en Ouma se feëverhaal-wonderwêreld staan op die punt om wrede werklikheid te word. Dis snaaks, dis spannend, dis roerend en die werk van n meesterskrywer.

conclave

*****

Ek ken die skrywer nie.  Die boek handel oor ‘n (nabye) toekomstige verkiesing van ‘n nuwe pous na die skielike afsterwe van (waarskynlik) die tans dienende hoof van die Roomse Kerk. Ek het gesukkel om die ding neer te sit. . .  Dit was lekker.  Al is dit seker n boek wat nie almal sal interesseer nie, het ek dit geniet want ek was daar, en ek ken mense daar.   Die boek het geloofwaardige karakters en die karakters se geloof en menslike tekortkominge word eerlik en respekvol aangebied.   Selde word geloof in fiksie met agting bekyk.  Al is die uiteinde van die verhaal ietwat voorspelbaar is die eintlike storie die wedywering en worsteling van die indiwidue wat daarin uitgebeeld word. “Conclave” was die lees werd.

the_casual_vacancy

****

Ek is ‘n bewonderaar.  Nie al die Potters was ewe goed nie, maar ek het hulle almal gelees (dog nie in die middel van die nag gaan toustaan vir die volgende een nie – net oor dit benede my waardigheid is, verstaan?).  Ek het haar skryfwerk onder die skuilnaam Robert Galbraith ook verslind, want ek hou van whodunnits en van rillers en van Londen (waar hulle afspeel). Maar The Casual Vacancy het ek lank vermy, al hou ek ook van menslike dramas.  Noudat ek hom gelees het, is ek spyt ek het so lank gewag.  Toegegee: Dis harde werk, maar dubbel en dwars die moeite werd.

Ek hou van P.D. James. Hierdie was een van haar lekkerstes. Seker om verstaanbare redes. . . ****

****

Ek hou van P.D. James. Hierdie was een van haar lekkerstes. Seker omdat ek ook daarvan hou om te lees van hoe geloof en godsdiens op mense se lewens impak maak.  Bitter min skrywers heg enige waarde aan die religie behalwe om te sê dat hulle karakters daar niks van wil weet nie.  Seker ook maar omdat die skrywers daar te min van weet om geloofwaardige gelowiges te konstrueer.  Nie James nie.  Haar karakters is kompleks, feilbaar, dog opreg.  Die ontsluiting van so n moordstorie is wat die kroon span, en sy stel weer nie teleur  nie.

****

Frederik Backman doen dit toe weer.  Britt-Marie oorleef haar man, Kent, se egbreuk in “My grandmother sends her regards and apologises” (sien hierbo).  Sy is een van die minder aangename karakters in dié boek en ek was verras dat, van almal, Backman haar kies vir die opvolg.  Aan die ander kant weer, daarin sit Backman se bogemiddelde skryfkuns: dat hy juis n ander sy van hierdie karakter kan opdiep wat haar laat sin maak en jou vir haar deernis laat kry.  Britt-Marie beland weens n administratiewe fout op n kwynende hoofpadnedersetting waar sy n verlate sportsentrum gaan skoonhou.  Skoonmaak is wat Britt-Marie doen, sien. Breier van die plaaslike sokkerspan is deel van die verwagting, maar die stomme, wanaangepaste Britt-Marie weet van voetbal net mooi niks.  Dog aan die einde van haar kort verblyf op die godverlate dorpie, Borg, weet almal Britt-Marie was daar.  En Britt-Marie weet dit ook. Sy maak n verskil.   Sy verander.