Die dag as ons nie vir ons pa’s kan dankie sê nie. . . 

Photo by Josh Willink from Pexels

Vadersdag.

“Ek glo dat dit wat ons word, afhang van wat ons vaders ons sommer so tussenin leer, wanneer hulle nie probeer om ons te leer nie. Ons word gevorm deur klein brokkies wysheid.” So sê die skrywer, Umberto Eco.  Hy het reg.

Daar hang ʼn donker wolk oor Vadersdag. Pa’s is nie altyd vir hulle kinders goed nie.   Die hoekoms en die waaroms is nie ter sake nie.  Gelowige pa’s wil vir hulle kinders goed wees.  Maar nie almal van ons vier die dag met heimwee na ons kleintyd en mooi herinneringe van ons pa’s nie.

Dis nie net ʼn hedendaagse verskynsel nie.  Sing jy Psalm 27, kom jy agter dit was toe al taai om met jou pa bande te smee. Én met jou ma.  En is jou verhouding met jou ma of pa moeilik, verg dit ʼn groter geloofsprong om met God ons Vader te leer saamleef.

Maar pa’s het dit ook nie altyd maklik nie.  Die voorbeeldigste kinders is ons nie.  Ons is ewige tieners met min ontsag vir gesag.  En ons laat ons ook nie sommer oorhaal deur ʼn Pa wat ons probeer verseker Hy bedoel dit met ons net goed, nie.

Met die eerste oogopslag, as ʼn mens sou kyk hoe God die Vader sý Seun, Jesus Christus, behandel, kan jy vir hierdie Pa ook maar skrikkerig wees.  Dis nou dat jy die Drie-Eenheid moet onthou:  Kyk jy na Christus, is dit die Vader wat jy sien.  Luister jy na Jesus, is dit die Vader wat jy hoor.  Wat met Jesus Christus gebeur, is die Drie-Enige God se handewerk:  God kruisig Homself.  Hy doen dit sodat Hy óns Pa kan word. God is nie wreed nie, God het lief; daarom is ons nie vandag vir God bang nie.

Kolossense 1 : 1 tot 13

17 Junie 2018.

Heilige Gees.


PREDIKANT

VOORAF

Foto: Hande   

“Ek glo dat dit wat ons word, afhang van wat ons vaders ons sommer so tussenin leer, wanneer hulle nie probeer om ons te leer nie. Ons word gevorm deur klein brokkies wysheid.” So sê die skrywer, Umberto Eco.  Hy het reg.

Daar hang ʼn donker wolk oor Vadersdag.  ʼn Dominee het hierdie week sy seun geskiet en daarna homself.  Die hoekoms en waaroms is nie ter sake nie.  Gelowige pa’s wil vir hulle kinders goed wees.  Pa’s is nie altyd vir hulle kinders goed nie.   Nie almal van ons vier die dag met heimwee na ons kleintyd en mooi herinneringe van ons pa’s nie.

Sing. Psalm 27 : 5 en 6

Dis nie net ʼn hedendaagse verskynsel nie.  Sing jy Psalm 27, kom jy agter dit was toe al taai om met jou pa bande te smee. Én met jou ma.  En is jou verhouding met jou ma of pa moeilik, verg dit ʼn groter geloofsprong om met God ons Vader te leer saamleef.  Kom ons sing

Sing

Psalm 27 strofe 5 en 6 (Die Lina Spiesteks)

Sing. Gesang 480 : 1 en 2

 

Maar pa’s het dit ook nie altyd maklik nie.  Die voorbeeldigste kinders is ons nie.  Ons is ewige tieners met min ontsag vir gesag.  En ons laat ons ook nie sommer oorhaal deur ʼn Pa wat ons probeer verseker Hy bedoel dit met ons net goed, nie.

Sing

Gesang 480 strofes 1, 2 en 3   

PREDIKANT

TOETREDE

Sing. Gesang 157 : 1 en 2

Met die eerste oogopslag, as ʼn mens sou kyk hoe God die Vader sý Seun, Jesus Christus, behandel, kan jy vir hierdie Pa ook maar skrikkerig wees.  Dis nou dat jy die Drie-Eenheid moet onthou:  Kyk jy na Christus, is dit die Vader wat jy sien.  Luister jy na Jesus, is dit die Vader wat jy hoor.  Wat met Jesus Christus gebeur, is die Drie-Enige God se handewerk:  God kruisig Homself.  Hy doen dit sodat Hy óns Pa kan word. God is nie wreed nie, God het lief; daarom is ons nie vandag vir God bang nie.   Staan op dan groet ons vir God met

Sing

Gesang 157 strofes 1 en 2

Votum en Seëngroet (Staan). Wees bly!

Votum en Seëngroet (Staan)

“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief,” [sê Jesus]

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.”

Johannes 15 vers 9, 11 en 12

OUDERLING

AANBIDDING EN LOF

Lofsang Gesang 507 : 1,2,3 en 4

Ons loflied sê God is ons Pa.  God bly ons Pa al val die wêreld om ons inmekaar.  Kom ons sing almal saam

Lofsang

Gesang 507 strofes 1, 2, 3 en 4

Die wil van God uit Matteus 7

Die wil van God

Luister na die wil van ons Vader uit Matteus 7, en doen dit.

Matteus 7

9        

“Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra,

10      

of ‘n slang as hy vis vra?

11      

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

12      

“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Skuldbelydenis. Sing. Gesang 237 : 1, 2 en 3

Skuldbelydenis

Nee, ons doen dit nie.  Kom ons bely dit met ʼn lied. Sit en sing saam

Sing

Gesang 237 strofes 1, 2 en 3

Genadeverkondiging uit Matteus 6

Matteus 6

8        

. . . Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

9        

“So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

10      

laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

11      

Gee ons vandag ons daaglikse brood;

12      

en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

13      

en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

Geloofsbelydenis. Sing. Gesang 207 : 1, 2 en 3

Geloofsbelydenis

Kom ons sing vandag ons geloofsbelydenis.  Staan almal op om te sing en, as u wil, kan u daarna bly staan om te bid.  Kom ons sing

Sing

Gesang 207 strofes 1, 2 en 3

PREDIKANT

AANBIDDING EN LOF

Bid en Sing. Gesang 179 : 1 drie keer

Kom ons bid saam.  Bly staan na die gebed, want na die “Amen”, sing ons sonder verdere aankondiging Gesang 179.

Gebed

Foto

Sing

Gesang 179 strofe 1 x 3

PREDIKANT

VERKONDIGING

Kom ons lees die Bybel: Kolossense 1 : 1 tot 13

Skriflesing

Ons lees uit Kolossense, die eerste hoofstuk, die eerste 13 verse.  Dis in 1983-vertaling op bladsy 272.   Maar ek lees vandag die teks soos wat dit verskyn in die proefteks van die Direkte Vertaling van die Bybel in Afrikaans.  Dis vir julle ook agterop die Hartklop gedruk, as julle wil saam lees.  Die Direkte Vertaling klink ʼn bietjie anders, vir my gevoel effens meer formeel, met langer sinne wat dalk moeiliker lees en luister.  Die Bybel: Direkte Vertaling (BDV) verskyn eers in 2019, maar julle kan reeds die proefteks gaan lees en daarop kommentaar lewer op die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se webwerf.

Kolossense 1 : 1 tot 13 (LW: die onderstaande is die NAV 1983-teks aangesien die proefteks van die BDV nog nie gekopieer kan word nie)

1        

Van Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.

2        

Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus. Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

3        

Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle

4        

omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges.

5        

Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is.

6        

Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is.

7        

Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en ‘n getroue dienaar van Christus in julle belang.

8        

Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.

9        

Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken,

10      

sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.

11      

Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.

12      

Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.

In Matteus 7 : 21 staan daar:

21      

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

Sing. Gesang 214 : 1,2,3.

Kom ons sing dat ons vir God ons Vader wil noem.

Sing

Gesang 214 strofes 1, 2 en 3  

PREDIKANT

VERKONDIGING

Die dag as ons nie vir ons pa’s kan dankie sê nie. . . 

Preek

Dis ʼn kwade dag, die dag as jy nie vir jou pa kan dankie sê nie.

Byna die helfte van alle gesinne in Suid-Afrika het nie meer pa’s nie, nie biologies of stief nie.  Afwesige pa’s veroorsaak disfunksie.  Plaasvervangerpa’s verrig wondere, maar slaag ook nie altyd daarin om die gemis te keer nie.  As “regte” pa’s nog rondhang, is dit om net dan en wan oë te wys, iewers van die randjie van die kind se wêreld af.  Selde is weggeloopte of verjaagde pa’s betrokke.

Soms is pa’s daar, maar sou dit beter wees as hulle nie was nie.  Hoef ek nog te sê hoekom?

Vaders is nie meer vanselfsprekend nie, vaderskap nie meer algemeen nie.

Maar pa’s wat vaderskap ernstig opneem, het dit ook nie maklik nie.  Om ʼn pa te wees, sit nie in elke man se broek nie.  Alle pa’s weet waarom.  Gelowige pa’s doen daaroor nimmereindigend skuldbelydenis, want vir gelowige pa’s is vaderskap nóg moeiliker:  Ons meet ons aan God, dié Vader, en word te lig bevind.  Ons kyk op ons kinders se grootword terug en kan die slange tel wat ons gevang het toe hulle vis gevra het, en die klippe wat ons hulle laat kou het toe hulle brood wou hê.  Dat ons glo, het nie van ons beter pa’s gemaak nie, net pa’s met skuldgevoelens.

Van ons kinders het besluit die myle tussen ons en hulle is maar beter so.  Van ons kinders het besluit ons is goeie voorbeelde van presies hoe hulle nie wil wees nie.  Daar is van ons wat nie vandag ons pa’s sal opsoek nie, of nie van ons kinders sal hoor nie.

Foto

Maar daar is ook goeie pa’s; dank die Here, Hý is een!  En as iets van sy Vaderskap aan ons eie pa’s afgevryf het, só dat jy dwarsdeur jou pa kon kyk en vir God agter hom kon raaksien, vier dit!  Sulke pa’s is skaars soos hoendertande.  Was jou pa ʼn glasmaker? Onthou julle, met dié uitdrukking het ons altyd iemand bygekom wat ons uitsig belemmer?  Nou leer jy dis ʼn eer as jou pa iemand was wat deurskynend kon word, en van jou ook ʼn pa gemaak het deur wie jou eie kinders vir God kan sien, hulle éintlike Vader wat agter jou staan en jou rugsteun.  Is dit hoe jou pa op Vadersdag lyk, jy kon sweer jy sien vir God, dan het jy vandag rede tot groot dankbaarheid.

Daar kom ʼn brief van Paulus af by die gemeente in Kolosse aan. Hy sê:

  • Ek het gehoor van julle.
  • Ek sien die Here Jesus Christus in julle.
  • Ek dank God die Vader vir julle.

Paulus kyk dwarsdeur die Kolossense met sy drie-lens-bril van God-Gees, God-Seun en God-Vader.  Paulus sien:

  • hoe lief die Kolossense mekaar het – God die Gees se werk
  • hoe die Kolossense in Jesus Christus glo – in God die Seun
  • hoe die Kolossense reken op wat in die hemel vir hulle wag – God die Vader

Dis hoe die Kolossense nou is sedert die Vadersdaggroete van God af hulle bereik het: “Die woord van die waarheid, die evangelie,” so noem Paulus dit.  Anders as hoe ons Vadersdag vier, met kinders wat hulle pa’s opsoek, het hierdie “woord van die waarheid, die evangelie” van God af na mense toe gekom.  Mense het so van God se genade te hore gekom.  Die mense wat dit  gesnap het, het begin verstaan God is hulle Pa, en hulle het sy kinders geword.

Daar het ʼn vader-kind-verhouding met God ontstaan.

Trouens, dit het nie net in Kolosse gebeur nie, maar oral in die wêreld; hier in Kampersrus ook.

Daar in Kolosse was dit hulle dominee, Epafras, wat hulle dit geleer het.  Vandag leer dominee Paulus ons dit hier.

Nie ek, of Epafras, of Paulus is jou pa nie, maar daar is ʼn rede waarom in ander kerke priesters soms as “vader” aangespreek word:  Dominees probeer die werk doen wat goeie pa’s ook doen.  Maar nie almal van ons kry dit reg nie.

Wat doen goeie pa’s?

Vaders leer hulle kinders leef.  Nie omdat vaders beter weet hoe nie, en ook nie omdat vaders self die lewe al regkry nie.  Trouens dis dalk die merk van die beste pa’s:  Hulle besef hulle is nie waffers goed met pa-wees nie.  Pa’s vra húlle Vader om te help.  Pa’s hou nie op om vir hulle kinders te bid nie.  Pa’s praat met God oor hulle kinders.

Vir hulle kinders, bid goeie pa’s verbete, en met ʼn sakelys.  Ek vermoed die lysie trek baie op die een wat Paulus hier in Kolossense 1 vir die gemeentelede dáár ook bid.

  • Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil.” Is daar enigiets wat ons kinders meer dringend nodig het as om God se wil te ken? Dog, baie van ons ken God se wil sonder dat dit ons regtig raak.  Hier staan “vervul word met die volle kennis van God se wil” wat meer as net ʼn verbygaande kennisname impliseer.  Die hele lewe is vol van God, veral jy.  Jou kind kyk na jou, sien deur jou.  In jou moet sy kan sien wat sy nêrens anders so duidelik kan eien nie: vir God.  Sien sy God by jou?
  • Hierdie vervulling “met die volle kennis van God se wil” is nie iets wat die biddende pa voorgee hy vir sy kinders kan doen nie. Dit verg wysheid, en insig in hoe die lewe is en hoe die lewe werk.  Dié insig en wysheid is  iets wat die beste pa’s net gedeeltelik aan kinders kan oordra met ʼn goeie voorbeeld, met opvoeding of met onderwys.  Volle kennis van God is nie iets wat kinders proefondervindelik self leer of ons almal eendag per geluk ontdek, nie.  God die Heilige Gees gee jou dit, maak jou vol daarvan.  Pa’s vra God daarvoor, vir hulle kinders. En as daar iets is wat ʼn pa sy kind kan gee wat meer werd is as geld, is dit kennis van God.
  • Pa’s vra dit sodat hulle kinders ʼn lewe kan lei “wat die Here waardig is,” dis nou te sê, ʼn lewe wat vir God “in alles tevrede . . . stel.” So ʼn lewe, ʼn lewe wat ingestel is op wat die Here waardig is, dra vrug. Elke goeie ding wat jy doen, het goeie gevolge.  Die beste daarvan is dat God oor jou tevrede voel. Let Wel:  Nie ʼn lewe waarmee ons wat pa’s is, gelukkig voel nie – ons kinders leef nou maar eenmaal anders as ons – maar ʼn lewe waarmee Gód tevrede is.  Glo my, daar is ʼn verskil.  Gaan maak jy vrede met waarmee God tevrede is.
  • Pa’s bid dat hulle kinders groei in hulle kennis van God. Ek vermoed dit gaan om meer as net kennis oor God, maar om vir God te ken. As God nes jy ʼn vader is, wat sê jou vaderskap vir jou kind oor God?
  • Vaders bid dat God al sy mag sal inspan om aan hulle kinders krag te gee vir die swaar wat kinders lê en inwag. Want die swaarkry spring niemand van ons vry nie.  Van die meeste van ons kinders se worsteling, weet ons minder as niks.  Dat ons kinders tog net die krag kan kry om geduldig te bly, onder alle omstandighede vas te byt, te volhard met die goeie; wie van ons het dit nog nie gebid nie?
  • Maar die lewe moenie vir ons kinders bestaan in presteer om goed genoeg te word nie. Hulle moet vier – daaroor met dank en blydskap fees hou – dat die Vader hulle al klaar geskik gemaak het om te erf wat mense erf as God hulle Pa is.  Wat erf God se kinders?  God haal ons uit die duisternis se kloue uit.

God leer ons leef, soos wat goeie pa’s ook maak.  As ons die lewe kan regkry, het dit met ons pa’s te doen.  Maar biologiese en aanneem-pa’s kan ons net in hierdie wêreld leer lewe. God leer ons ʼn nuwe lewe in ʼn hele nuwe wêreld leef.   God, ons Vader, verplaas ons uit hierdie donker wêreld uit na ʼn ander lewe toe, ʼn lewe in die koninkryk toe, die koninkryk van God die Seun, God se geliefde, eie en enigste gebore Seun, Jesus Christus se wêreld.  God ons Vader wys ons die wêreld waar Jesus Christus ook is, waar sy Seun Koning is.

“Die Seun is die beeld van die onsigbare God.”

Sien jy die Seun, sien jy die Vader.  Weereens, nie net oor die Seun ʼn bietjie na die Vader lyk nie, maar omdat die Seun die spieël is waaruit die Vader na ons terugkyk.

God ons Vader is nie ʼn afwesige pa nie. Onsigbaar dalk, maar nie weens duisternis nie, weens helder verblindende lig.

Vandag dank ons God vir pa’s en kinders.  Dat ons kinders kan wees van God, die Vader.  Ons waardeer ons pa’s opnuut, of hulle nou goed was of minder geslaagd.  Van hulle het ons die eerste snuf in die neus gekry van God die Vader.  Van ons pa’s het ons geleer hoe ʼn kind van ʼn vader afhanklik is; ons het geleer van die mag wat ʼn pa het, en van die uitwerking wat ʼn pa op kinders het, en hoe ons lewe van ons pa’s afhang, en ons toekoms deur ons pa’s bepaal word.

Nie al die lesse wat ons pa’s ons geleer het, was lekker of goed nie.  Die dag dat jy nie dankbaar kan terugdink aan jou pa nie, is bitter, en ons het almal sulkes, party meer as ander.  Daarom bid kinders soms ook vir pa’s.  Iewers langs die pad word pa’s weer kinds en kinders word pa’s, selfs van hulle eie pa’s.   Want vaderskap is nie net biologie nie.

Jy is ʼn pa

  • as jy daar is,
  • as jy jou kinders raaksien en hulle regtig ken, as jy hulle die lewe gun en vrede het met hoe hulle is,
  • as jou kinders begin vermoed God is soos jy,
  • as jy jou kinders kan leer hoop en wys dis die deurdruk werd.
  • Jy is ʼn beeld van God die Vader as jy jou kinders laat weet hulle is vir jou meer as net goed genoeg: Jy vier hulle met blydskap.

Vaderskap kom so naby aan hoe God die Vader is, dat ʼn kind verskoon kan word as hy dink sy eie pa is dié Vader.  Die ontnugtering kom gewoonlik gou.  As jy tot nou toe nog met vaderskap gefaal het, gaan wees van nou af ʼn seun soos God die Seun is: Hy het alles veil vir sy Vader, en Hy bid sonder ophou vir die Vader se kinders.  Die Seun is die beeld van God. Hier waar Hy beheer het,   hier in sy koninkryk, kan selfs jy ʼn beeld van God die Vader word.

Gaan wees ʼn pa vir jou kinders, en ʼn pa vir jou pa.  Gaan wees ʼn kind van God, ʼn kind van die Vader wat vir ons liefhet soos vir sy eie vleis-en-bloed Seun.

Amen.

Sing.  Gesang 556 : 1 en 2

Kom ons staan op juig met ʼn danklied voor ons Vader.

Sing

Gesang 556 strofes 1 en 2

PREDIKANT

Wegsending en Seën

Seëngroet.  Moenie bang wees nie.

Seëngroet:

32      

“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.

Lukas 12.

Sing.  Gesang 565 : 1, 2 en 3

Sing.

Gesang 565 strofes 1, 2 en 3.

Foto

Transkripsie

1 thoughts on “Die dag as ons nie vir ons pa’s kan dankie sê nie. . . 

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.