Vergifnis: die skerp punt van liefde

Daar is ʼn moment in die ewigheid wanneer God sy koninkryk finaal vestig.  Alles wat daarna kom, is uitvloeisels uit hierdie oomblik. Selfs dat ʼn mens kan opstaan uit die dood, kom eers na en as gevolg van daai deurslaggewende gebeurtenis.  Dit gebeur as Jesus sy laaste asem uitblaas.  Nes God in Genesis sy asem in stof inblaas en Adam kry lewe, blaas Jesus sy asem uit met “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” En die kerk begin leef.

As genade onaangenaam is om te ontvang, oor jy daarmee bely jy het geen ander uitweg nie, is genade ook onaangenaam om te gee, want die ouens aan wie jy dit gee, verdien dit nie.  Maar dink so daaraan:  gee jy genade aan (aan die tafel by die nagmaal), vergewe jy en verklaar jy die sonde is finaal verby, help skep jy, nes God sou maak, ʼn nuwe lewe vir ʼn mens wat nie meer kon aangaan nie.  Dis dit werd.

Matteus 5 verse 21 tot 26, Matteus 5 verse 43 tot 48.

5 Junie 2016, NHKA Kampersrus

Voorbereiding vir die Nagmaal

Predikant

Liedere (Sit)

Ons berei ons in vandag se erediens voor vir die ontmoeting met die Here in die Nagmaal.  Die hele erediens sal gaan om dit wat sentraal staan in ons verhouding met God: vergifnis.  Vergifnis is die ongemaklike skerp punt van die liefde.  As ons onvoorwaardelik moet liefhê, moet ons alles wat skeuring maak tussen ons opklaar en versoen.  Daar’s net een manier om dit te doen, sê God:  deur te vergewe.   Ons moet mekaar vergewe soos Hy ons vergewe, anders loop ons gevaar dat God ons ook nie sal vergewe nie.

Gesang 284 verse 1,2 en 3.  Die laaste vers sê: “Leer my om ook soos U te kan vergeef.”

Net enkele liedere in die Liedboek het hulle oorsprong in ons eie Nederduitsch Hervormde Kerk.  Kom ons sing een van hulle.  Die woorde en musiek is die werk van Greta Delport-Benade, die vrou van ds. Innes Benade.  Dis ʼn moeilike lied om onder die knie te kry, maar dis die moeite werd want dis pragtig.  Sy naam is “Here, God van liefde”, en dit smeek God om ons net nooit te laat los nie. Dit spreek van die diepgang van geloof ook in ons eie kerk, en ek is bly dat ons kan bydra tot die liedereskat van die Here se kerk met ʼn lied van hierdie gehalte.  (Terloops, ons gaan later, aan die einde van die erediens, Gesang 506 sing.  Die lied se woorde is ook deur ʼn Hervormde dominee geskryf, Emeritus Professor in Ou Testamentiese Wetenskap Andries Breytenbach.)

Gesang 286.  Ons gaan dit twee keer sing.  Luister net die eerste keer as julle wil.

Kerkliedere is nie net vir oefen nie.  Liedere gee woorde aan ons geloof, en ons moet dit nooit sommer net op die geklank van die melodie takseer nie.  Ons moet dink oor wat ons sing.  As ons in die vorige lied gesmeek het God moet ons tog net nie los nie, sê hierdie een: “Ek is by jou, soos Ek beloof”

Gesang 519 verse 1,2,3 en 4

 

Ouderling

Toetrede:

Toetredelied (Staan)

Gesang 266 Ons Vader wat woon in die hemel

Predikant

Toetrede

Votum en Seëngroet (Staan)

Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23 vers 34)

Ouderling

Aanbidding en lof

Ons het niks meer as net hierdie seëngroet nodig nie om te weet: al ons sonde, selfs die wat ons nie eers van weet nie, en die waaroor ons nie eers waffers skuldig voel nie, is geheelenal en finaal vergewe.  Dis weggevat, asof dit nooit gebeur het nie.  Daarom kan ons nou nie anders nie: ons gaan die Here loof oor sy vergifnis.

Sang (Staan)

Kom ons sing

Gesang 245 aldrie die verse

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Mense wat leer dat God hulle vergewe het nog voor hulle vergifnis gevra het, wil altyd weet: hoe kan ons leef om te wys ons is dankbaar? Jesus leer ons heel eerste bid.

9

“So moet julle bid”, sê Jesus in Matteus 6, “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

10

laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

11

Gee ons vandag ons daaglikse brood;

12

en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

13

en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

14

“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

15

Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Skuldbelydenis (Staande)

Dis moeilik om mense te vergewe na wat hulle ons aangedoen het. Wat help, is om te onthou waarvan God ons vergewe het.  In Handelinge 3 sê Petrus in ʼn preek.

13

Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee – aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word.

14

Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle ‘n moordenaar begenadig moet word.

15

So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies.”

Ons staan skuldig aan moord op God. Dis waarvoor God ons moet vergewe.  Petrus gaan voort:

19

Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.

Ons gaan dit nou ook doen, met

Sang

Gesang 237 : 1, 2 en 3.

Genadeverkondiging (Bly staan)

Nes Jesus aan die kruis, het Moses eendag ook vir die opstandige Israeliete vir vergifnis gebid. Ons lees in Numeri 14 dat Moses vra:

17

“Laat u groot mag nou bekend word, Here, soos U gesê het:

18

‘Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.’

19

Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het!”

20

Toe het die Here geantwoord: “Ek vergewe hulle, soos jy gevra het.”

As die Here na Moses geluister het, en vergewe het, hoeveel te meer sal Hy Hom nie steur aan die gebed van sy eie Seun, Jesus Christus nie, Jesus wat van die kruis af gebid het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” en ons ook al ons sondes vergewe nie? (Lukas 23 vers 34)

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Ons bely geloof in die Enigste God wat so vergewe.

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

deur wie alle dinge ontstaan het;

wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.

Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;

ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

Sang

Psalm 107 verse 1,3 en 7, tweede melodie

Predikant

Verkondiging

Skriflesing (Sit)

Matteus 5 verse 21 tot 26

Bladsy 10 van die Nuwe Testament.

21

“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’.

22

Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

23

“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het,

24

laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

25

“As iemand ‘n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ‘n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie.

26

Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”

Matteus 5 verse 43 tot 48. 

43

“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’

44

Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,

45

sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.

46

As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie?

47

En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

48

“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

Hier eindig die Skriflesing.

Jesus sê: “My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel.” Lukas 8 vers 21.

Sang (Staan)

Ons gaan ʼn lied sing wat ons almal baie goed ken.  Dis ʼn toonsetting van ʼn psalm wat ons ewe goed ken: Psalm 23.   Maar stel jou voor jy het ʼn vete met iemand; daar is iemand, iewers, teen wie jy ʼn wrok koester.  Om die allerbeste redes is jy kwaad, en jy kan nie sommerso vergewe nie. Jy is sy vyand.  Sê nou net daai mens oor wie jy so voel, sing vandag hierdie woorde. En dalk is jy die oorsaak van sy donker dieptes.  Sing vandag Psalm 23 vir jou vyand.

Gesang 577 verse 1 tot 5

Preek (Sit)

Om iemand te vergewe, is moeilik.  Ons weet dit uit dure ondervinding.

Hoekom vergifnis so taai is?  Wel, dis omdat vergifnis indruis teen elke natuurlike geneigdheid en menslike drang.  Dis nie iets wat jy vanself besluit of uit jou eie wil doen nie.  Inteendeel, jy stry daarteen, jy verset jou.

Dis meer normaal om, as iemand jou kwaad aangedoen het, kwaad te word en wrokke te koester. Gekrenktheid, en om seergemaak te voel, om tenagekom te wees, om ʼn heilige woede te koester oor verontregting wat jou aangedoen is, dis die normale goed om te doen.  Of om jouself te handhaaf, jou eie belang te hervestig, al beteken dit dat jy jou rug op iemand draai, dis wat ons gewoonlik doen.

Dis menslik. En dit sou ook heeltemal geoorloof en te verstane gewees het om so aan te gaan, was dit nie vir God nie. Van onsself, leer ons by God, dat wat natuurlik is, ook sondig is. Dit staan so in die Bybel, en dit het neerslag gevind in ons Hervormde belydenis. Ons mag nie so bly nie, ons kan nie in sonde bly lê nie. Ons mag nie die sonde toelaat om oor ons te heers nie

Hoekom nie?  Want God haal ons uit sonde uit. God is sondaars genadig.  Wat weer beteken God vergewe sonde. God vat sonde weg.  God haal die sonde uit ons uit.

SuurstoftoetsMet die is genade en vergifnis soos vinkel en koljander: dis een en dieselfde ding.  Of, as jy meer presies wil wees: vergifnis is wat gebeur waar genade bestaan. As jy wil weet of daar suurstof in ʼn glasbuis is, steek jy ʼn gloeiende kooltjie daarin.  Vat hy vlam het jy suurstof gekry.  So werk vergifnis en genade.  As jy bewys van genade soek, gaan kyk of jy vergifnis kry.  Vergifnis is die praktiese implikasie van genade. Waar die een is, is die ander ook.  Waar een ontbreek, kan die ander ook nie wees nie.

Die toets of jy genade verstaan en kan vat en gebruik, is of jy vergewe. Glo jy in genade, moet jy kan vergewe.  So nie, lieg jy oor geloof.

Genade is die asem van God se koninkryk. Vergifnis is die aorta van die kerk.   Ons was, of is nog nie behoorlik kerk nie, of leef nog nie as kerk van Christus nie, as ons nie genade kan inasem en vergifnis nie deur ons vloei nie.

Daar is ʼn moment in die ewigheid wanneer God sy koninkryk finaal vestig.  Alles wat daarna kom, is uitvloeisels uit hierdie oomblik. Selfs dat ʼn mens kan opstaan uit die dood, kom eers na en as gevolg van daai deurslaggewende gebeurtenis.  Dit gebeur as Jesus sy laaste asem uitblaas.  Nes God in Genesis sy asem in stof inblaas en Adam kry lewe, blaas Jesus sy asem uit met “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” En die kerk begin leef.

Teen elke natuurlike en menslike drang in, teen alle redelikheid in, gemartel en op die rant van die dood, sê hierdie mens, Jesus Christus, die woorde wat die koninkryk van God stig, nee, skep!   Vergewe!, sê Hy:  Vader vergewe hulle.  Doen dit sewentig maal sewe keer, dus elke keer.  Doen dit selfs al maak jou vyand jou dood, dus altyd.  Doen dit al vra hulle nie eers verskoning nie en is daar geen teken van berou nie.  Daar’s geen versagtende omstandighede, of uitsondering of ander verskoning om vergifnis uit te stel of vir vergifnis om uit te bly nie.  Dit moet net.  Anders verkrummel God se koninkryk.  En so lyk God se koninkryk: dit staan op genade, en Jesus Christus is die fondament en hoeksteen, vergewe is die leuse, vergifnis is die vlag en volkslied. Jesus se bloed en die asem van die Gees hou die koninkryk aan die lewe, met vergifnis.

God sê van niks anders dat, as jy dit nie doen nie, die genade en vergifnis wat jy gratis gekry het, in die gedrang kom nie.  Net hierdie een ding kan jou lot bepaal: hoe jy met genade werk en of jy by vergifnis uitkom.  Van niks anders sê God staan jy kans om genade en vergifnis te verbeur nie; net as jy genade en vergifnis nie kan doen nie.  Net hiervan, van vergifnis, sê Hy: as jy ander nie vergewe nie, sal God ook jou vergifnis heroorweeg.

As jou redding dus vir jou iets werd is, lyk dit vir my, is vergifnis nie opsioneel nie, maar iets wat nie anders kan nie. Vergifnis is nie ʼn keuse nie, maar ʼn verpligting. Nie ʼn verpligting wat vir jou verdienste verwerf nie, maar ʼn verpligting wat keer dat jy die gawe van verlossing wat jy ontvang het, verloor. Met vergifnis verdien jy niks, jy vat en gebruik bloot die genade wat God jou gun: jy klou daaraan vas, verbete, en jy behou dit.  Anders weet jy nog nie wat of hoekom jy glo nie.

Die moeilikheid is, ons koester, almal van ons, wrokke.  Ons het almal van ons die een of ander verwyt.  Nee, nie jy nie?  Dis seker moontlik.  Jy is dan inderdaad uitsonderlik, maar hier kom nou ʼn baie ongemaklike toets:

23

“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het,

24      

laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.

As dit jou byval dat jou broer iets teen jou het. . . Kyk mooi: dis nie jy wat vir jou broer kwaad is nie, hy het iets teen jou.  Maar dis jy wat die inisiatief moet neem om ook sy wrokke en verwyt te gaan opklaar.  Dis al buitensporig.  Maar kyk na die ander ongemaklike komplikasie van die ding:  goed wat ander mense teen jou het, belemmer jou toegang tot God.  Jou broer vir wie jy nie kwaad is nie, sy gevoelens staan tussen jou en God se altaar.  En wil jy by die altaar kom, by God uitkom, jou gawe aan God kom gee, gaan God dit nie vat nie. Nie voor jy met jou broer wat vir jou kwaad is, reggemaak het nie.

As dit jou nie na vergifnis toe dring nie, is God nie vir jou belangrik genoeg nie.

God verstaan dat genade moeilik is om te gee.  Genade is die goddelike geskenk.  God weet dat waar konflik is, daar altyd goeie rede daarvoor bestaan.  Vir ons voel daai goeie redes soos goed wat jy nie te bowe kan kom nie. Anders was die konflik tog die sous nie werd nie. En met die voel almal van ons oor iemand effens suur, ʼn bietjie bitter, altyd met die beste redes.  En net so voel die mense wat vir jou kwaad is ook oor jou.

Hier lê die knoop.  Dis wat vergifnis keer: ons gevoelens, ons goeie redes. Die onreg is so erg dat ons voel dit regverdig in hierdie geval ons weerstand teen genade en vergifnis. Ons kry selfs ʼn weersin in genade en vergifnis oor dit ons verplig om mense van hulle sonde teen ons vry te spreek en hulle straf kwyt te skeld. Hulle verdien dit nie, sê ons. Ons soek nog na rede om te vergewe. Ons soek by die skuldige berou of bekering.

Nie God nie. God soek nie by jou iets goeds voor Hy jou genadig is nie.  Dis juis wat genade is: om te gee sonder verdienste, sonder enige goeie rede. Sonder enige ander rede as net dat jy liefde is.  Jesus sê: “Vader vergewe hulle” sonder dat hulle nog gevra het.  “Vergewe hulle, . . . hulle weet nie” eers dat wat hulle doen, sonde is nie.  Hulle dink hulle doen reg.  Hulle glo hulle doen goed.  Hulle was vir Jesus al’s behalwe jammer. Nogtans vergewe Hy hulle, pleit Hy vir hulle vergifnis van God af.

Vergifnis is ʼn funksie van genade.  Vergifnis is net regtig vergifnis as daar geen ander rede is om te vergewe nie as net dat jy genadig wil wees. Geen berou nie, geen verskoning nie, geen verduideliking nie, geen goedpratery van die sonde wat gedoen is nie, geen poging tot selfverdediging nie, geen versagtende omstandighede nie.  Niks.  Net ʼn sondaar wat jy moet vergewe oor jy in genade glo.  Niks anders sit agter vergifnis nie.

Vergifnis soos God dit doen, eis nie eers berou nie.  Vergifnis kweek berou.  Dis vergifnis, en nie verwyt nie, wat sondebesef laat posvat. Dis die vergifnis wat jou vyand gee wat jou oortuig jy kan dit waag om weer toenadering te soek. Dis God se vergifnis wat die vrees vir Hom verdryf en terugkeer en bekering na ʼn opsie laat lyk.

Vergifnis is nie respons nie, dis inisiatief. Dit kom eerste. Dit neem die voortou. En dit het geen goeie redes nie. Dis genade in praktyk. Dis genade se moeilike en ongemaklike skerppunt.

Maak dit saak wat die onreg is wat jou aangedoen is?  Maak dit saak hoe erg die sonde teen jou was?  Ongelukkig ook nie.

Kan jy, om dit makliker te maak, net ʼn stukkie van die kwaad vergewe?  Moet al’s meteens vergewe word?  Kan jy vergewe maar jou die reg voorbehou om nie te vergeet nie? Wel, dit lyk vir my God is daaroor ernstig dat in sy koninkryk, waar ons Hom verteenwoordig, ons soos Hy moet wees. “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”  En Hy tob nie oor en onthou jou sonde nie. Jeremia 31: verse 33 en 34 sê so:

33      

Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

34      

. . . Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

Vergewe en vergeet, is wat God doen.  Vergifnis wat nie vergeet nie, is die naam nie werd nie.   Ons onderskei graag die twee.  Vir God is vergewe en vergeet een en dieselfde ding.  Ons soebat Hom juis om ons sonde nie net te vergewe nie, maar ook om dit nooit weer te berde te bring nie, dit nooit weer teen ons te hou nie.  Vergeet tog net ons sonde, is waarvoor ons eintlik bid as ons genade vra.

As ʼn gemeente die plek is waar genade gebeur, is dit ook die plek waar ons die meeste met vergifnis te doen gaan kry.  En omdat gelowiges op sonde en vergifnis ingestel is, is hierdie dalk ook die plek waar die meeste mense op vergifnis wag.  En op vergeet reken.  Want nêrens is die sonde so duidelik as juis hier by en onder ons nie.

Gaan tel die week vir hoeveel mense jy steeds kwaad is. Maar moenie vergeet om ook by te tel hoeveel vir jou kwaad is nie.  Is “kwaad wees” dalk die verkeerde woord?  Gaan kyk dan sommer ook vir hoeveel mense gun jy nie die genade wat jy vir jouself kom opeis nie.  Gaan dink aan hoeveel mense jy dink nie in jou goeie geselskap hoort nie, oor jy glo hulle is te sondig. Vra jouself af aan hoeveel mense se sonde jy nog so aanstoot neem dat jy dink hulle hoort nie hier by jou en saam met ons nie.  Jy ontdek dalk jou eie sonde in hoe jy ander oor hulle sonde verkwalik, en in hoe jy oor ander mense se sonde aanstoot neem en oor hulle oordeel. Kortom: jy ontdek dalk jou sonde in hoe genadeloos jy is.

Gaan doen dit, want te veel vergifnis is nog uitstaande.

Natuurlik is dit moeilik.  Moenie vergifnis vlak vat nie.  Niks strek jou geestelike spiere, niks span jou geestelike wapenrusting so in soos juis vergifnis nie. Niks dryf jou so tot die eindpunte van jou geloof en die uiterste van jou vermoë soos vergifnis nie. Vergifnis is liefde op steroïdes.

Vergifnis is moeilik, maar moontlik.

Daar kom kere dat jy dink: dis onmoontlik.  Ek kan nie.  Dog, niks is tog  onmoontlik as dit by God kom nie. Juis God maak genade die werklikheid. In die wêreld gaan jy genade nie vind nie.  Net by God leer ons van genade.  God help.  Maar dis nie asof God met ʼn arsenaal van kruise en spykers hier aankom om sy vyande – waarvan jy een is – mee by te kom nie.  Daai deel is klaar gedoen.  Die moeilikste deel is agter die rug.

Die vraag is dan: as vergifnis moontlik is, maar dis nie wat jy doen nie, het jy al regtig geprobeer? Verstaan jy genade, kan jy liefhê?  Weet jy van wie die kansellap praat: “God is liefde”?

Dis hier by vergifnis dat liefde begin seermaak.  Dis hoekom jy wat nog jou wonde lek, jy wat klaar seergekry het, daarvan wegskram.  Want dis alweer van jou dat God vergifnis verwag.  God het ons nie lekker belowe nie.

Ek weet gelowig leef, is taai.  Maar gelowiges ook: ons is ook taai; ons is daarvoor gebou.  God het ons juis daarvoor aanmekaargesit en toe gesê: gaan wees My verteenwoordiger.  Gaan wees soos Ek, volmaak soos Ek.  En meer onlangs: wees Christus-gelykvormig .  Wees soos my Seun.

Wil jy jou vir die nagmaal voorberei, vra net die een vraag:  verstaan ek genade?  Verstaan ek dat ek genade nodig het, en dit nêrens anders gaan kry nie as hier by God?  En gun ek ander wat nes ek van genade afhanklik is, dit ook?

Genade is gedeelde liefde.  Liefde vryelik uitgedeel.  Die Hervormde Nagmaal het ʼn uitsonderlike manier om dit te wys.  Ons kom sit aan die tafel nie oor die tafel so belangrik is nie.  Tafel of nie, dis die brood en die wyn wat herinner aan die liggaam en bloed van Christus.  Maar dat ons daardie tekens uit die hand van ʼn iemand anders ontvang, en van ʼn hele ry mense voor hom of haar, sê: ek, ons, gun jou genade. Gee jy dit vir jou buurman aan, verkondig jy aan hom of haar ook Christus se genade, en wys jy: ek gun jou wat ek gekry het; kyk, dis vir jou ook.

As genade onaangenaam is om te ontvang, oor jy daarmee bely jy het geen ander uitweg nie, is genade ook onaangenaam om te gee, want die ouens aan wie jy dit gee, verdien dit nie.  Maar dink so daaraan:  gee jy genade aan, vergewe jy en verklaar jy die sonde is finaal verby, help skep jy, nes God sou maak, ʼn nuwe lewe vir ʼn mens wat nie meer kon aangaan nie.  Dis dit werd.

Dankgebed, Voorbedes (Staan)

Wegsending:

Slotsang (Staan)

Gesang 532 verse 1, 2 en 3

Seën (Staan)

2

“. . . Hulle [het] ‘n verlamde man wat bedlêend was, na Hom toe gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.”

5

Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes word vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’?

6

Maar Ek gaan nou vir julle die bewys lewer dat die Seun van die mens volmag het om op aarde sondes te vergewe.” Hy sê toe vir die verlamde man: “Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.”

7

Hy het opgestaan en huis toe gegaan;

8

en toe die menigte mense dit sien, het hulle God, wat sulke mag aan mense gee, met eerbiedige vrees geprys.

(Matteus 9)

Respons (Staan)

Gesang 506 vers 2

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s