Sê dit ʼn slag, toe!

Waarom ek die Hervormde Kerk liefhet?  Wel, ek het hier grootgeword, deel van ʼn familie wat so kerkverknog was dat elke vryer eers moes stoepsit voor die tantes kon dink aan ringdra.

Later het die teologie my oorrompel.

Maar kleintyd al het geloof my oorval.  Dag en datum daarvoor het ek nie;  tot my skande, sê vromer vriende. Ek het daarvan net ʼn verweerde Bybeltjie oor, wat van hoek tot kant volgeskryf is.  En ek onthou oomblikke van ontdekking en verwondering.  Hier en daar, ʼn wonder selfs!  Wel, ék glo so.

Ek is dus bevooroordeeld.  Ek het weinig insig in alternatiewes, sy dit geloofstradisies, kerklike gebruike of religieuse andersheid. Teologie het my wel krities leer dink, en ek het ʼn klap post-modernisme weg (so kom ek toe agter toe ek dié wysbegeerte gaan lees).  En ek het in ekumene gewerk,  ʼn keer in die Vatikaan moes praat en oom Ben XVI die hand gegee (ek het ʼn pouslike medalje daarvan oorgehou, maar die stomme man het kort daarna emeritaat aanvaar sodat die ouens in dié kerkstaat gevra het ek moet liefs nie weer kom nie; hulle hou nogal van oom Frans).  Maar hoe verstaan mens ooit regtig ʼn ander ou se geloof van buite af?

Ek is Protestants, Hervormd en hervormend.  Ek het dit vir die Roomses ook gesê toe ek daar was, en hulle het my geduldig uitgeluister.  Ek vier Luther se “solas”, die Bybel in Afrikaans.  Ek is bly ons is terug in die Wêreldgemeenskap van Gereformeerdes.  Ek is dankbaar vir die nuwe konsensus oor regverdigmaking deur God alleen, uit genade alleen, met net geloof in wat God klaar gedoen het.

Na nege jaar in die buiteland, weet ek hoe dit voel om sonder die Hervormde Kerk te glo.

Wat my dwars in die krop steek, is dat Hervormdes niks goeds meer oor ons Kerk te sê het nie.

Ons is glo nie vir ons gasvryheid hoog aangeskryf nie: ons bekyk vreemdelinge van ʼn veilige afstand af.

Ons barmhartigheid is glo nie waffers nie: ons voel ander ouens se moeilikheid is net hulle eie skuld, asof ons eie sonde dit nié is nie.

Ons is met die liefde nie vrygewig nie:  ons stuit voor andersheid.

Ons gemeentes baklei te veel.

Ons eredienste is dood, ons kerksang te moeilik, die preke te hoogdrawend.

Nie eers oor die teologie is daar meer gerustheid nie, want daaroor is agterdog gesaai.  Ons glo blykbaar nie meer in maagdelike geboorte of opstanding uit die dood nie.

En tog is ons oor suiwer leer, andersins ongeërg.  Ons eet soetkoek.

Is daar nog iewers iemand wat liturgie wil verstaan, erediens opsoek, Bybel wil lees én verstaan, én op lewe wil toepas.  Ons soek Bybelvertalings wat óns sienings agternapraat.

Wie hou nog van kerkmusiek, genoeg om dit te leer sing of ten minste darem die lirieke te lees?

Wat het van dienswerk geword?

Waar is die dankoffers?  Waar is die dankbaarheid?

Vanwaar al hierdie wettiese veroordeling?  Hoekom raak genade wat immers aan vergifnis en verdraagsaamheid geboorte gee, geen besluit of leefstyl meer nie?

Vakansie is ʼn goeie tyd om vriende op te soek en ander uit te luister.

Ek hoor van ʼn vriendin uit n ander tradisie hoedat Hervormdes by hulle inloer, na ʼn ander kerk op soek.

Nog een sê haar gemeente gaan dit nie meer lank hou nie; al wat leef, loop.

‘n Familielid sê die eredienste is leeg, al het die skoolkwartaal reeds begin. . .

Ek hoor ʼn ander kla oor sy dominee. Oor geld en wanbestuur. Hulle is reeds by ʼn wegbreekgroep “. . . waar ek vir die dominee kan sê as ek iets nie verstaan nie, en hy verduidelik dit.”

Het niemand meer ʼn goeie woord vir hierdie Kerk nie?  Is ons regtig so skuldig?  Of het die wantrouedebat ons geweeg en te lig bevind, te lou en uitgespoeg?

Het ons te lank nie geluister nie, niks aan die kritiek gedoen nie?

Het ons regtig gefaal in die kritieke goed?  Of is nuut en nuus (ware- of fopnuus) net te onweerstaanbaar?  Die verdagmakery net te deurslaggewend?  Of te na aan waarheid?

Ek gee vir geen oomblik voor ons is foutloos nie.

Wat protestante van die Protestantse beweging verkeerd verstaan, is dat daar jare lank tevergeefs geprobeer is om die één kerk te hervorm voordat daar deur afsnyding met die ban, vervloeking en verkettering van die hervormers ontslae geraak is.  Dat tóé eers aan ʼn ander vorm van kerkwees gestalte gegee is.  Wat ons daarvan oorgehou het, is ʼn swetterjoel kerke wat vir elke bakatel pad vat, en ontevredenheid en veroordeling verwelkom.

Dink eers goed. Bid. Kom praat. Kom help. Hervorm!

En as jy hier ʼn tuiste gevind het, en jy kán getuig dat God tog hier ook leef, sê dit dan ʼn slag, toe?