Fase twee

Ek kan kies om dae te tel tot ek by 365 kom en n jaar aftik.

Die ander opsie is seker om fases vas te stel, naam te gee en te besin oor wat was en wat kan, en wat volgende moet.

Gemeentes leef.  Bediening is roerend.  Fases werk beter met so n proses van groei en taan.

Vakansies skep spasie vir sulke besinning. En is die spasies tussen fases.

Ons het duur vrede kon maak: Daar was bloed aan ons hande.  Die huidige vrede is nie sonder gemis van wat verloor is nie.  Dog, daar is vrede, n onvolmaakte rus, n dreigende oorgerustheid selfs.  Kampersrus waar voorheen –onrus was.  Gemeentes het rus nodig na oorloë en te midde van die ewige bestaanstryd.

Houtgerus en vervelig gewoond, is pelle.

Daar is meriete aan konflik.  Dit skerp jou in.  Jy fokus.  Jy ontwikkel fyn aanvoeling vir haas verlore liefde.  Jy is beter ingestel op wat saakmaak.  Jy harnas daai los tong.  Ons kan dit net so lank uithou – vir die rukkie wat dit hou, leer ons saamleef.  Uit die gemors wat volg op uitruk,  leer ons hoekom uithou en selfbeheer beter is, en hoe groot ons eie aandeel is aan die algemene ontwrigting van onbeteuelde sonde.

Ek kon nog nooit inkoop in die “no regrets” lewenshouding nie.  Ek het n oorontwikkelde gewete.  Om los te maak van wat verby is en uit te strek vorentoe, is moeiliker as glo in genade en vryspraak.  Terugskouend vra ek: Was ek genadig genoeg?  En ek dink van nee. Ek het spyt.

(Let op: ek het die “maar” wat hier sou staan, uitgevee!) Ek het seer ook. Ons was nie almal altyd vriendelik nie, liefde was soek, deernis het kortgekom, geduld was min, vertroue uit die staanspoor nerfaf, agterdog is gesaai en het getier.

Hoe lyk die vorentoe uitstrek van fase twee?

Gelowiger.  Op God vas vertrouend. Wagtend.  Volhardend.

Genadiger.  Geduldiger, en stadiger met die vloek.  Meer vergewend.

Liefdevoller.  Verdraagsamer met die bulle tussen die breekware.

Lewegewend.  Ingestel op wat gelowiges pla en vra.

Ek dink ons kan gesonder word.  Ons het die siekte van die sonde soos met antidepressante half en half onder beheer: drink jou pille, elke Sondag soos voorgeskryf! (Maar ek is nie blind vir die dalende bywoning nie.  Dis goed ingevryf: Ek is geen Angus Buchan nie.  Sy honderd is my miljoen.) Maar ons is nie fiks nie.  Ek bedoel nie fietstrap Mariepskop uit fiks nie, ek bedoel ons is nie standhoudend gesond nie.  Ek vra die gawe van gesondmaking, herstel en heelwording.

Ek wil ewe hard werk aan menswaardigheid en aan God se eer.

Ek bid nie vir geld of mag nie; by beide tree verrotting in.

Ek soek na mense.  Harte.

Ek wil die Here dien.  Ek wil God hier sien, al is dit van agter af, deur n sleutelgat in die berg.

As die Here nie saamgaan nie, kan ek nie verder nie.  Want ek kan nie méér doen nie.

Hier kom fase twee.

Advertisements