Woernaal

hennie-rome1Om te skryf, of nie…

Dit het my lank gevat om hier te kom.  Eindelik het ek nou die moed bymekaargeskraap om te skryf.

Maar die rede vir die skrywery, dis die ding.  Die vraag is nie: “Waarom skryf?” of “Wat om te skryf?” nie.  Ek skryf oor ek wil en oor wat my roer.  Die vraag is eerder: “Wie op aarde sal wil lees?”  Die malligheid van `n blok is dat dit tog gelees word.

Nou ja, die besluit is geneem.  Wees gewaarsku: dit mag jou morsdood verveel.  Trouens, dis dalk juis hoekom ek skryf: oor verveling!  Maar ek het geleer: verveeld-wees is `n luukse wat ek my te min gegun het.  Verveling het ook sy plek.

Dog, `n lewe op die rant het sy eie opwinding…

n Nuwe blaadjie omgeslaan

Dit was tyd vir n eenvoudiger voorkoms.

Ek hoop nie dit verwar nie? Alles is steeds hier, of in die linkerkantste kolom of onderaan die bladsy. Maar onnodige detail is mee weggemaak.

Laat weet as dit kan beter!

Die aantal kere dat Hervormend al besigtig is, het intussen die tienduisend kerf verbygesteek. Ek is verras.  Dis goed om te weet julle dink dis die besoek werd. Tog sal ek meer kommentaar waardeer! Terugvoer is nie altyd lekker nie, maar dit help.

Gebruik gerus wat julle hier vind en voel bruikbaar is.

Erkenning

Ek plaas gewoonlik net my eie werk hier.

Soms, maar by hoë uitsondering, mag ek besluit om iemand anders se pennevrug hier te plaas, met volle erkenning aan die outeur.

My eie werk is soms ook nie net my eie werk nie, maar die eindresultaat van spanwerk.

Jacques Pieterse van Laer-Suidkus is een van die Hervormde Kerk se beste predikers. Ek weet, want ek lees sy preke en luister vakansies na hom.  En hy is my ouers se dominee. Hulle lof vir hom hou stand.  Ek is dankbaar vir sy samewerking met van die preke en eredienste wat hier verskyn.

Ek gee graag in elke afsonderlike artikel erkenning aan almal by wie ek hulp kry.

n Nuwe oor, of twee. . .

Want so gebeur dit toe ook mos dat die blok veel meer doen as verveelde ure vul.

Van April 2016 af is ek weer voltyds in ‘n gemeente.  Die blok is van toe af ‘n plek waar ek my preke bêre.   Nie net die preke nie, maar die liturgieë van die eredienste waarin die preke ingebed is.  Dit kan tog nie anders nie?

Nou kan die Kampers inhaal as hulle wil.

Dog, daar’s nou ook kollegas wat hier inloer. Die eredienste is hier om te gebruik.  As jy iewers moet preek en jy brand vas, laai af en gaan aan.  Basta met die skuldgevoel; dit gebeur met ons almal.  En ek is nie oor erkenning gepla nie: daar is nie kopiereg op die evangelie nie. Ek is maar te bly as ek kon help en dankbaar as jy iets hier kry wat jy dink die oorvertel werd is.

Maar aan almal wat hier kuier, onthou tog: dis lekker om terugvoer te kry.  Sê my as dit vir jou iets beteken.

Met die het die kreatiewe skryfwerk oor sommer alles en enigiets, so goed as gesneuwel. Maar ek gaan daaraan werk. . .

Vanwaar, Gehasi?

Ek is predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se Gemeente Kampersrus.  Ons klou aan die hange van die Klein Drakensberg se Mariepskop.  Van hier af sien jy Hoedspruit en die Kruger, en snags, wanneer die leeus hier onder op die vlakte brul, selfs sover as Phalaborwa, doer ver op die Laeveldse platland.

Ons kan nog steeds nie glo ons is hier nie.

Veral nie na ‘n jaarlange gespartel net om aan die lewe te bly nie.

Van Engeland af hierheen gekom. . .

Ek het daar gehelp gestalte gee aan ‘n geheel nuwe bediening: die toegespitsde pastorale versorging van seemanne wat seerowery oorleef het.  Ek het saam met ‘n merkwaardige span mense beslag kon gee aan die Maritime Piracy Humanitarian Response Programme.  Ons kon ‘n verskil help maak aan seemanne wat gyselaar gehou is, gesinne wat getroumatiseer is, mense wat na grusame geweld, nou deur werkgewers in die industrie vermy word, kwansuis oor daar nie meer op hulle geestesgesondheid gereken kon word nie. . .  Dit terwyl daar uit die staanspoor nie na hulle geestelike welsyn omgesien is nie, en hulle aan onnodige risiko blootgestel is.

Die goed waarmee gewone mense worstel, daar waar mense in gesinne en vriendekringe saamleef, is tog waar die evangelie grondvat.  Die res is, wel, speletjies.

Maar ek is oorspronklik in 2007 Londen toe om vir ses jaar aan die stuur te staan van die internasionale organisasie wat verantwoordelik is vir die onderlinge ekumeniese hegting van seemansendings, die International Christian Maritime Associaton. Hierdie was `n uitsonderlike bediening en ek dank die Here dat ek kon werk aan die enigste ekumeniese liggaam wat samewerking oor die ganse spektrum van die Christelike geloofstradisies moontlik maak. Die saamwerk van gelowiges oor grense heen, kry my opgewonde.  Dog die politieke magspel van die welsynsektor was ‘n harde werklikheid.

Die fokus op seemanne het sy oorsprong toe ek in 2000, in Durban, vir die Christelike Seemansorganisasie begin werk het. Ek het vir sewe jaar, tot 2007, seemanne wat gedurig op pad is na die uithoeke van die wêreld toe, met geloofsorg bedien.

Ek was terselfdertyd, tussen 2000 en 2007, ook predikant in Durban, in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se Durban-Suid Gemeente.  Ek was vir 20 jaar lank die gemeente se dominee.  Dit was ‘n voorreg en ‘n uitdaging om predikant te wees in die gemeente waar ek grootgeword het, met my familie die voorste gestoeltes vol.

Maar ek het my tande geslyp aan die apostolaatswerk van die Kerk toe ek vir twee jaar eers Dienspligkapelaan, en toe vir nog twee jaar Evangelisasiepredikant was, in die middestad van Durban.

Durban, en veral sy middestad, is op die rantjie van die Kerk. . .

Ek vermoed dat mense op die mespunt tussen geloof en ongeloof my laat tiek. Om so oor geloof te kan praat dat dit minstens darem sin maak vir siniese mense, is waarvoor ek elke dag bid.  Want ek eet ook nie al’s vir soetkoek op nie. (Hou van soetkoekies!)

Hennie la Grange

Advertisements

One thought on “Woernaal

  1. “Om so oor geloof te kan praat dat dit minstens darem sin maak vir siniese mense. Want ek eet ook nie al’s vir soetkoek op nie.”

    Ja, dis wat ek ook van hou.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s