Suurdeeg in die meel: wat het die vrou aangevang?

Matteus 13 vers 33

Hierdie preek en liturgie is gebruik in die erediens te Kampersrus, Hervormde Kerk van Afrika, op 31 Januarie 2016. Die tema is Jesus se gelykenis van suurdeeg wat n vrou in meel insteek (“wegsteek”).

Vir ons wat dit verstaan, maak die gelykenis bly: God se koninkryk is hier vir jou, is hier oor jou, nou al, en jou sonde, selfs die wat jy geheim hou, kan jou nie meer uit die koninkryk uithou nie.  Die koninkryk van God is ʼn nuwe suurdeeg wat gedy en stu, groei en groot word, voed en verkwik, sien leef en laat leef.  Hierdie suurdeeg van God se koninkryk kan jy nie wegsteek of keer nie.  Sit jy dit in die meel, verander dit, groei dit, skep dit, word dit iets heeltemal nuuts, en iets anders as waarmee jy begin het.  En daai nuwe brood is goed om te eet, suurdeeg en al, selfs in die feestyd.  Dis die brood wat lewe gee. Die groeiende brood verklaar sonder verskoning: hier is ʼn hele nuwe werklikheid, God is by julle, Hy is vir julle, wees bly.

Die erediens was te lank, en behoort gesnoei te word.

PREDIKANT

Toetredelied:     Psalm 42 verse 1 en 5, die TT Cloete teks. (Kondig hier reeds Gesang 163 aan wat onmiddellik na die votum, staande gesing word.)

Ons sing oor smagting na God, soos diere wat in droogte na water soek, soos mense wat in hongersnood smag na ʼn stukkie brood, so hunker ons na God.

Bly staan na die votum.  Ons antwoord God op die votum met Gesang 163 :  “Soos ʼn wildsbok wat smag na water…”

Votum: Johannes 6 vers 26:

“Jesus []: ‘Dit verseker Ek julle: julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet het en versadig geword het. Julle moenie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat  ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee…”

Gemeente se Respons: Sonder aankondiging, Gesang 163

“Soos ʼn wildsbok wat smag na water…”

Seëngroet: Johannes 6 vers 34:

“Jesus sê vir hulle: ‘Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” 

OUDERLING

Aanbidding en lof:  Gesang 458 : 1,2,3

Ons loof God saam deur te sing.  Ons sing Gesang 458 verse 1, 2 en 3

Aan U ons lof, o God …, u brood voed elke mond …, U skenk die lewensbrood …”

Die wil van God [Wet; herkenning van sonde]:  Mattheus 7 verse 1 tot 12 (1983 Vertaling)

In sy Woord praat God oor hoe Hy verwag ons moet kan wees, onder mekaar, in die skepping, en by Hom, die Ewige God. In Mattheus 7 verse (1983 Vertaling) staan daar:

“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.

 “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Watter mens onder julle sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis vra?  As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

“Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”

Dat ons nie naastenby is soos wat God van ons verwag nie, vertel die storie van hoe ver ons van God vervreem het. Daar is net een pad hieruit, en dis om weer te besef hoe afhanklik ons van God is.  Kom ons bely ons skuld en vra God om genade.  Kom ons vra God om vergiffenis en bely weer dat alles van Hom afhang. 

Skuldbelydenis en smeekroep [Kyrie eleison]: Gesang 568 : 1,2,3

“Heer, gee vandag ons dag se brood …”   

Genadeverkondiging: Romeine 8 verse 19 en 22 tot 25

Romeine 8 verse 19 en 22 tot 25 sê “Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is … Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry.

Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

Op grond hiervan bely ons, saam met en soos die kerk:

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

Die wederopstanding van die vlees, en ‘n ewige lewe.

Lofsang Gesang 285 : 1,2

Kom ons vra God om ons te help vasstaan in hierdie geloof met Gesang 285 verse 1 en 2.

“O, God, so groot in heerlikheid, …

PREDIKANT

Gebed [Predikant gemeentelid; ouderling]

Voorbidding vir:

  • Siekes, met terminale kanker
  • Ouer wordende lidmate
  • Owerheid – orde en vryheid, gelowiges wat vervolg word
  • Wêreldgebeure
  • Gemeente wat herderloos is, Hervormde Kerk, Hervormde evangelieverkondiging
  • Om die Woord te kan verstaan en toepas sodat dit ʼn verskil maak aan hoe ons dink en leef

Gebedslied: Gesang 583 verse 1,2

“U het ek lief, U roep ek aan! …”

Verkondiging:   Skriflesing Matteus 13 vers 33 tot 35

Gemeentesang:  Gesang 253 : 1,2

“U het die brood gebreek, eens by die meer …”

Verkondiging:    Preek

Ek is nie goed met grappe nie.  Buitendien is hierdie een stokoud.  Maar daar is goeie rede vir waarom ek hom vertel.  Dalk onthou julle hom? Die Russies vir koebaai is Chernobyl. Kan jy nog onthou hoekom dit snaaks was?

ʼn Grap is gewoonlik ʼn snaakse ding, maar jy moet ʼn grap kan snap.  En ʼn grap is glad nie so maklik om te maak nie.  Die ouens wat jy wil laat lag, moet jou storie kan verstaan.  Die snaaks sit dan in ʼn kinkel in die stert.  Die storie laat jou een ontknoping verwag, maar die einde betrap jou onkant.

ʼn Grap is eintlik nogal ingewikkeld.  Van grappe moet jy eers ʼn klomp agtergrond ken en jy moet verstaan hoe grappe werk.

Chernobyl was ʼn dorpie in Rusland.  Daar was ʼn ongeluk by die dorpie se kernkragsentrale.  Die radioaktiwiteit het die dorpie se mense òf dood- òf dodelik siek gemaak.  Chernobyl is nou nog ʼn spookdorp. “Sjer-nou-biel” klink ʼn bietjie soos “cheers ou Biel”, of “koebaai ou pel”.  Klink nou half siek dat ons ooit daaroor kon gelag het, maar ons volkie maak oor baie tragiese goed grappies. Dink daaroor: hierdie grap kan om baie redes net in Afrikaans snaaks wees!

Gelykenisse werk ook amper so.  Gelykenisse is soms net nog vreemder as grappe. Met gelykenisse, die sneller (punchline) soms soek.  ʼn Grap sonder ʼn sneller is soos ʼn geweer sonder ʼn koeël.  Die grap val plat. Gelykenisse voel ook soms asof hulle nie sin maak nie: die gevolgtrekking en toepassing word nie verduidelik nie.  Die sneller is weg.

Die ding wat die naaste kom aan ʼn grap sonder ʼn sneller, is dalk ʼn raaisel.

Gelykenisse lyk na ʼn bastering van die twee: die grap se sneller, die reël waarop die hele storie moet uitloop, word weggelaat en jy moet self raai wat kom volgende.

ʼn Vrou sit suurdeeg in meel.  Die beslag word deeg.  So lyk die koninkryk van God. 

Snááks is dit nié.  En dis nie dadelik duidelik wat dit beteken nie.

Nie eers die dissipels vang altyd waaroor dit gaan nie. Hy praat in raaisels, nes Siener van Rensburg: om die kloutjie by die oortjie te kry, is raaiwerk.  Vir ons om nou, tweeduisend jaar later, te wil glo ons weet presies wat Jesus bedoel, is net nie eerlik nie. Dog maak ons met ʼn gelykenis soos met ʼn óú grap: hoor jy hom weer, glimlag jy beleefd.  Jy verwag nie om verras te word nie. Jy verwag nie dat die gelykenis jou gaan verbaas, of kan kwaad maak nie. Maar ons ís nogal seker ons verstaan hom: dit kan tog nie só ingewikkeld wees nie, hierdie een enkele vers? En met dié hoor jy die gelykenis nie regtig meer nie.

Kom ons probeer weer na Jesus luister.  Dit is Jésus wat hier praat.  Daar is geleerdes wat beweer dat hiérdie vers, nes hy daar staan, net so uit Jesus se mond kom.  Dis Hý, dis vir Jesus sélf wat jy hier hoor praat.

Vertalings: “wegsteek”

Maar met die beste wil in die wêreld, maklik is dit nie.  Uit die staanspoor is hier moeilikheid: daar is nie net een vertaling vir die vers nie. Een woord is omstrede.  Die woord wat haak, is wat die vrou met die suurdeeg doen.

Afrikaanse vertalings sê die vrou het die suurdeeg gevat en in die meel ingesit, of in die meel ingewerk.  Maar dis nie wat in die brontaal staan nie.  In die Grieks staan daar: die vrou het die suurdeeg in die meel “weggesteek”. Ons sal moet uitmaak of dit nie dalk belangrik is vir hoe ons die gelykenis verstaan nie.  Wat’s die verskil tussen “wegsteek” en “insteek”, of “inwerk”? Wel, as jy wou brood bak, is in die meel tog presies waar die suurdeeg hoort.  Dis nie juis die plek om suurdeeg weg te steek nie.

Nou, kom ek leer julle ʼn trick van die trade van dominee wees: ons dink die moeilike verklaring is dikwels die regte een.  Want dis die een wat ons nie daar verwag nie. Met die Bybel se met-die-hand-oorskrywery – dis nou voor daar drukperse was – was die oorskrywers geneig om moeilike lesings makliker te maak.  Vertalers maak ook so. “Weggesteek” sit nie gemaklik hier nie. Dié oorskrywers het hom net so gehou, maar vertalers het hom weggepraat.  Wat ek dadelik weet is dat “wegsteek” nie die woord is wat ek hier sou verwag het of self sou gebruik het nie, behalwe as ek iets spesifieks daarmee bedoel het.

Dus: wat maak die “wegsteek” daar? Daarby sal ons hopelik nog uitkom.

Kom ons kyk of ons die bestanddele van hierdie brood kan bymekaarskraap.

Kos en feesviering gaan saam

Voor die hand liggend gaan die gelykenis oor broodbak, oor kos.  Baie van Jesus se stories oor die koninkryk gaan oor kos.  Dit maak sin: Jesus is Joods en sy luisteraars ook.  Hulle ken die Joodse idee dat in die hemel daar ʼn feesete gaan wees: ons gaan almal saam met God aan tafel sit en eet.

Luk 13:29  Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God.

Kos in die hemel is nie wat die gelykenis moeilik maak nie.

Die vrou

Party sê die vrou is die probleem, oor alles wat vroue doen, van Eva af al, duiwelswerk is.  Ja, vroue – nes suurdeeg – word soms in die Bybel simbole van skande en skade, maar nie altyd nie. Vroue doen goed ook.  Soms. Dis nie die vróú wat in hierdie gelykenis die probleem is nie, al mag sy óns vroue laat frons.  Daar is op aarde niks verkeerd met ʼn vrou wat in die kombuis staan en brood knie nie.  Trouens, vir baie mans is dit presies hoe die wêreld behoort te lyk.

As daar dan met die vrou wat kosmaak niks fout is nie, is daar dalk met die suurdeeg fout?

Suurdeeg simboliseer sonde

Die gelykenis sê die koninkryk is soos suurdeeg.  Dit ís snaaks.  Vreemd. Regtig vreemd.  Soos ʼn grap oor God, gee dit liggies aanstoot.  Die Bybel gebruik suurdeeg baie as ʼn voorbeeld, maar nooit as iets goeds nie. Elf keer praat die Nuwe Testament oor suurdeeg en byna elke keer ruik dit, wel, effens suur!

“Pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs”, sê Jesus. (Matteus 16:11) 

Paulus sê ook daar is iets vrots aan die goed.

“Julle selfverheffing is nie mooi nie.  Weet julle nie dat ʼn bietjie suurdeeg die hele deeg deurtrek nie?  Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees …  Laat ons  dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.” (1 Kor 5:6-8)

Paulus praat hier van wat alle Jode elke jaar met Paasfees doen: hulle soek en verwyder alles wat suurdeeg in het, uit hulle huise uit.  Suurdeeg is self oud; dit kom van suurdeegplantjies af wat ons moes gebruik vir broodbak voor jy droë gis by Checkers kon koop. So n suurdeegplantjie kan jare hou. Maar dat dit oud is, maak dit nie sleg nie. Suurdeeg is wel iets aan’t gis, dit herinner aan vrot word.  Dog, gisting is ʼn proses wat ons baie vir kos gebruik:  vir jogurt en kaas, bier en wyn, brood en beskuit, selfs sagte biefstuk moet “verouder”.   (Terwyl ek hierdie preek gesit en maak het, het Susan Nataniël gesit en kyk – want Susan is aan kook verslaaf, sien – toe sê dié Nataniël: as jy vir hierdie kaas deur ʼn mikroskoop loop kyk, kyk hy vir jou terug, en dis op daai kaas so besig soos ʼn dorpstraat.)

Hierdie suurdeeg moet Jode eenmaal ʼn jaar uit hulle huise uithaal om hulle te reinig vir Paasfees. Nie omdat suurdeeg vir Jode onrein is nie. Hulle het dit altyd in die huis gehad. Hulle moes selfs brood met suurdeeg in vir God offer. Net met die Paasfees, moes hulle alles in die huis met suurdeeg daarin, soek en uitgooi.  Dit was simbolies, soos vir ons die Nagmaalbrood simbolies is.  Hulle moes die ou suurdeeg uitroei om te herinner aan hoe God by die pasga met hulle van nuuts af oorbegin.

Met suurdeeg self skort daar niks. Wat vreemd is, is dat die res van die Nuwe Testament met suurdeeg beskryf wat sonde doen, maar dat Jesus hier sê die koninkryk van God werk ook so.

Regtig? Nou hoe dan?

Weggesteek, maar dit gaan uitkom

Ons moet terug na die wegstekery.  Die werkwoord vir wegsteek, kom in die hele Nuwe Testament net hier voor. Julle sal die Grieks herken: enkrypto. Daar is nie ‘n lekker Afrikaanse woord voor nie.  Maar dis dieselfde stam wat sit agter die Engelse “encryption”. Dis wat jy doen as iets vir ander mense wegsteek, soos met ʼn wagwoord jou data op jou rekenaar, of jou identiteit op ʼn webwerf.  Die selfstandige naamwoord wat daarvan afgelei is, kom baie meer in die Bybel voor, en gewoonlik beteken dit iets soos “geheimenis”, maar elke keer ʼn geheimenis wat oopgekrap gaan word. Matteus laat Jesus die woord gebruik as hy Jesus uit Psalm 78 laat aanhaal:

Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af.               

In 1 Timoteus 5 vers 25 staan daar iets oor sonde en goeie dade wat, al hou mens dit geheim, altyd aan die lig kom:

Party mense sondig so openlik dat hulle sondes hulle vooruitloop na die oordeel toe.  By ander kom die sondes eers later aan die lig.  So is dit ook met goeie dade; almal kan dit sien.  En die wat nie sigbaar is nie, kan nie verborge gehou word nie.

Niks wat jy wegsteek, gaan geheim bly nie. Dit sál uitkom.

Wat dit ookal is wat die vrou in die gelykenis doen, sy gaan dit nie kan geheim hou nie; dit gáán aan die lig kom.

ʼn Meneer van ʼn brood

Net nog een bestanddeel van die broodbak-gelykenis is belangrik: die drie mates meel.  Hoekom dink Jesus dis belangrik dat ons weet hoeveel meel betrokke is?  Wel, as Susan brood bak, gebruik sy ses koppies meel vir een brood – dis ʼn kilogram.  Maar hierdie is nie ʼn ou reseppie wat een vrou in haar kombuis geknie gaan kry nie.  Hier is tussen 18 en 28 kilogram meel in dié baksel.  Hier’s brood vir Afrika!  Hierdie is die hoeveelhede wat jy by ʼn bakkery kry.  Nou, in Palestynse dorpies was daar openbare oonde waar die dorp se vroue saam kom knie en brood bak (nes die NHSV bymekaarkom om saam koesisters te bak).  Dié groot klomp deeg laat mens besef dat wat die vrou met die suurdeeg aanvang, sy op ʼn openbare plek doen. As sy die suurdeeg wou wegsteek en dit kom uit, gaan almal dit weet. Nie net haar eie brood gaan geraak word nie: die hele dorp se brood is in die gedrang.

Die “back story”: Abraham en Sara

Nou moet ons n bietjie agtergrond bywerk, nes met “Chernobyl”. Jesus praat met Jode. Onthou ek het gesê “Chernobyl” kan net in Afrikaans snaaks klink? Wel, hierdie gelykenis werk net omdat Jesus dit vir Jode vertel.  Vir Jode gaan daar liggies op: hulle ken as’t ware Chernobyl se “back story”.  As dit ʼn grap was, het hulle nou gelag. Hulle onthou Genesis 18.  Abraham sit by die groot bome van Mamre in sy tent se voordeur.  Op die hitte van die dag sien hy drie ouens aankom: God en twee engele, of die Drie-Eenheid dalk, maar dit besef Abraham nog nie.   Abraham weet ook nog nie, maar dis hier dat hy beroemd gaan raak vir sy gasvryheid: hy draf na die besoekers toe uit, buig laag voor hulle en dring aan dat hulle by hom moet tuisgaan.   Hy laat water aandra dat hulle hulle voete kan was en hy sê:

“U is nou eenmaal op pad hier by my verby, en daarom wil ek (luister mooi!) ʼn stukkie brood vir u gaan haal dat u weer nuwe krag kan kry.”  

Waar ons mans ons verstand bêre, bly ʼn raaisel.  Maar een ding is seker, ons gebruik hom nie as dit by vroue kom nie. Nie eers ou Vader Abraham nie.

Sara kon nie swanger word nie. Toe gee sy haar slavin, Hagar, vir Abraham om kinders te kry, op die tradisionele manier. Hagar raak swanger en Sara vervies haar vir die hele ding.  Dis natuurlik alles Abraham se skuld, sê sy: “Jy dra die skuld vir hierdie onreg wat ek moet verduur.”  Sara behandel dan vir Hagar so sleg dat die swaar swanger vrou die pad vat.  Abraham moes van beter geweet het.  Maar hy leer nie.  Hy het blykbaar nog nooit met ʼn vrou se woede te doene gekry het as jy skielik jou pelle vir ete nooi nie.  Nou nie net vir ʼn vleisbraai wat jy sommer self aanmekaarslaan nie, maar vir ʼn ete wat vroulief self gaan moet kook:

“Ag, Vrou, vat gou so agtien tot agt en twintig kilogram meel, knie en bak brood.”

n “Ou stukkie brood”, nè?  Dis ʼn resep vir huismoles! Toe Sara daai gaste hoor sê sy gaan ʼn baba hê, het sy hardop gelag. Was dit mý vrou, het sy gegrinnik oor dit haar so woedend kwaad maak, die “kaalvoet, swanger en voor die stoof”.

Die punt is dat Jesus se Joodse gehoor die twee stories maklik aanmekaar sou kon sit, bloot oor die drie mates meel.

man-bake-breadKom ons knie

Nou ja, kom óns probeer al die goed nou bymekaarsit: kom ons knie die suurdeeg in die meel in en kyk of ons brood kry.

Die tannie sit en brood bak. Daar’s niks mee verkeerd dat sy ʼn vrou is nie. Joodse vroue is nie meer onrein as Joodse mans nie, en vroue is ook nie die bron van alle kwaad nie.  Maar dit sê iets van die koninkryk van God dat ʼn mens daarmee iets te make het.  En dalk is dit nog belangrik dat hierdie mens ʼn vrou is. Dis dalk hier dat die Evasgeslag se reputasie omgekeer word, dat vir die fiasko in die paradys vergoed word. Punt is, die koninkryk van God het nou nog, nes in die paradys destyds, te make met wat mense doen. In hierdie wêreld van ons is dit mense wat moet agterkom God is koning. Mense wat weet God regeer, doen goed anders en doen ander goed as wat jy van mense verwag. Dan verander wat mense doen, die wêreld. Dis nie asof ons die koninkryk kan laat kom nie; God doen dit. Maar dit lyk vir my die gelykenis sê God begin by ons en dit suur dan deur, sodat alles waaraan ons vat, naderhand in koninkryksgoed verander.

Dis ʼn berg brood, heeltemal te veel vir een vrou en haar huisgesin. Nes wanneer mens vir ʼn fees te veel kos maak en weke aan die oorskiet eet.  Dit voel soos Kersfees by my tannie Siena.  Ek dink as ek hierdie week by haar uitkom, gaan ons nog van Kersfees se oorskiet te ete kry. Dit klop. Die koninkryk word gewoonlik ook met kos gevier.  En dan met baie daarvan, met meer as wat mens kan opeet. Ons gaan nog almal eendag saam met God aan tafel sit.

Vir die broodbakkery, kry ons die tannie presies waar ons haar verwag: by die dorp se oond.  Maar die suurdeeg is uit plek uit.  Dit hoort glo nie daar nie.  Dog, dit maak nie sin nie.  By broodbak hoort suurdeeg in die meel. Behalwe, as dit pasga was, en Jode net ongesuurde brood kon eet. Ek vermoed dit was pasga. Die tannie sit by die dorp se broodoond en help met die feesgebak, en sy sit suurdeeg in die meel.  Ek dink nie sy het kwade bedoelings nie.  Ek dink nie sy wil die fees saboteer nie.  Sy bak doodgewoon brood, soos altyd. Daar’s mos altyd suurdeeg in die brood. Soms doen mens ʼn ding uit gewoonte. So beland die suurdeeg in die meel. Toe sy haar fout agterkom, hoop sy sy kan dit geheim hou. Maar dit werk nie met suurdeeg nie. Suurdeeg laat groei daai deeg dat hy uitbult en oorloop.

Ek onthou ek was HSV Van der Hoff konserttoerleier op Tukkies en ons sou oefenkamp hou by Roodeplaatdam.  Ons het gaan brooddeeg koop by Hatfield Bakkery, vir die Vrydagaand se vetkoek om 30 hongerige studente te voer. Die deeg is in plastieksakke die kattebak in.  Dit was Januarie.  Dit was warm.  Op Roodeplaatdam aangekom, was die deeg in my klere. Die manne het lekker geëet aan die vetkoek, maar tot vandag toe weet hulle nie dat ek my onderbroeke moes weggooi nie.

Ek kon dit geheim hou, maar nie daai tannie nie.  Want suurdeeg, al kan jy hom nie sien nie, verander die meel in brooddeeg. Dis hoe die koninkryk werk: jy sien die koninkryk self dalk nie, maar die wêreld raak stadigaan anders.  Die koninkryk werk hom in hierdie wêreld in.

Hoe gebeur dit?  Met Abraham en Sara kom God se koninkryk met ʼn onverwagse en wonderbaarlike  swangerskap.  Sara word swanger. Met haar en Abraham se seun gaan God die verbond met mense voortsit.  Sara se lyf gaan soos ʼn baksel gesuurde brooddeeg uitdy namate die onsigbare saad in haar groei en groter word.  Onkeerbaar, raak ʼn vrou se swanger lyf groter tot sy dit nie meer kan wegsteek nie.

Onthou wat sê Paulus in Romeine 8 : 22 vv.:

…Die hele skepping … sug in die pyne van verwagting. Ons ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het. So hoop ons op wat ons nog nie sien nie, en ons byt vas tot dit gebeur.

Dit vat juis ʼn vrou wat die suurdeeg in die meel wegsteek, om ons nou weer te laat dink aan ʼn verwagtende ma.

Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.  Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het.  Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. Haar verloofde, Josef, wat aan die Wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. (Mat 1:18vv):

Maria is swanger. Josef wil dit geheim hou. Hy kon nie.

Dit het alles gebeur sodat die woord wat  deur sy profeet gesê het, vervul sou word:  ‘Die maagd sal swanger word en ʼn Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.’ Die naam beteken God by ons. (Mat 1:22)

Kom ons eet

Die koninkryk van God breek met Jesus aan, met sy ma se vreemde swangerskap.  En hierdie koninkryk van God hou aan met groei. Die gelykenis sê die koninkryk is klaar besig om sigbaar te word.  Die suurdeeg is in die meel.  Keer kan jy dit meer nie. Jy sal dit ook nie meer lank kan verdoesel nie. Want hier staan tussen julle, en eet saam met julle, die Een wat die koninkryk van God kom vestig het.  Elke ete saam met Hom is al voorsmakies van daai feesete wat julle gedink het net in die hemel kan gebeur.  God kuier nou al aan ons tafels.  Vandag eet Hy saam met Fariseërs, goeie Godvresende volksgenote, môre saam met joiners en verraaiers, Joodse belastinggaarders wat die volk uitbuit en die vyand verryk, dan weer met straatmeisies…

Daar is een lekkerte van al dié geëtery wat ek wonder of julle al agtergekom het? Hierdie man wat aan die einde van sy lewe, by sy laaste maaltyd sê, as Hy die brood breek en aan die Nagmaaltafel omstuur,

“Hierdie brood is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis,”

… hierdie man se lewe begin in ʼn voerbak: sy wiegie is ʼn krip! Uit die staanspoor is Jesus en ons voeding sinoniem. Hier, met Jesus, is vir mense kos van God af. Ons leef al klaar van meer as net brood!

So sorg God.  Hy sorg vir ons hier, in hierdie wêreld en in die hemel wat kom. Waar daar nie kos is nie, skep Hy dit, waar daar nie wyn is nie, maak Hy dit. Waar God sorg, is daar oorvloed: daar is oorgenoeg vir almal. Van die paar brode en visse kom daar genoeg kos dat ʼn skare van meer as 5000 mense hulle trommeldik eet, en dan bly daar nog 12 mandjies vol oor.  As die wyn by Kana se troue opraak, maak Jesus sestig galon van die goed, byna 273 liter. Telkens veel meer kos en drank as wat ons kan opeet of -drink.  Met die koninkryk van die hemel is daar oormaat, daar’s gans te veel van, dit kan nie opgebruik word nie; die hongerstes onder ons kry oorgenoeg te ete en daar sal nóg soveel oorbly.

Die Joodse tradisie wil dit reeds hê dat die Lam van God met Paasfees geslag word om hulle sonde weg te vat.  Dis met Paasfees dat Jesus, die Lam van God, gekruisig word vir die res van ons se sonde. Dis met dieselfde fees dat Jode ongesuurde brood moes eet.  Maar die feit dat jy nie suurdeeg in jou brood het nie, beteken nie jou sonde is weg nie. Net weggesteek. Hoe goed dit ookal weggesteek is, jou sonde gaan aan die lig kom.

Die verskil is, met Jesus is die sonde wat uitkom, nie meer ʼn verleentheid nie.  As dit bekend word, gebeur daar iets wonderliks: Jesus verklaar my, wat vol sonde, heilig.  Hy maak bekend dat ek sy kind is.

Dat die suurdeeg met die Paasfees orals in die brood is, maak nie meer saak nie.  Dat ek vol sonde is, maak ook nie meer saak nie. Die sonde keer nie meer vir God en sy koninkryk nie. Geen sonde kan my meer skei van God nie.  Geen sonde wat my lewe vol is, hou my meer van God en sy koninkryk weg nie.  Ook goed so, want al probeer ek ook hoe hard, nes met suurdeeg, kry ek die sonde nie uit my uit nie, en ek kry dit ook nie langer weggesteek nie. Die ongesuurde brood met pasga is ʼn droom, indien nie ʼn klug nie.

Die ware brood is Christus.  Jesus verklaar gesuurde brood heilig: mense met sonde is so goed as sonder sonde!  Daar is met sonde afgereken. Wat met pasga eens ongesuurde brood moes wees, sodat dit kon wys hoe ons ons vir God skoonmaak en heilig, is nou smaaklike gesuurde brood, dááglikse brood, en feesbrood, want God het van klippe kinders van Abraham gemaak, en brood ook. Jesus Christus is gesuurde brood, is God in die lyf van ʼn gewoonlik sondige mens. Neem almal daarvan.  Hy is van nou af brood vir elke dag. Daaglikse brood, vir leef- en vir feestyd. Koninkrykskos. Kom eet, daar is oorgenoeg. Moenie bang wees dat julle ooit weer deur weggesteekte sonde voor God in die verleentheid sal kom nie.  Dat daar suurdeeg in julle feesbrood skuil nie.

Daar is suurdeeg in wat ongesuurde brood moes wees, jou sonde nes die suurdeeg uitgeroei.  Waar water moes wees om jou te was voor by God kan kom, is daar nou wyn.  Pleks van ʼn gewassery om voor God skoon te kom, pleks van ʼn suurdeegvrye dieet om jou vir God te reinig, het jy vrye toegang tot die koninkryk van God, en jy kry die beste wyn en smaaklike brood vir die feesete aan God se tafel. Geniet dit, is die enigste vereiste. Die koninkryk van God kom met Jesus hier aan, en dis vir jou.

Die fees oor die Here hier is, oortref of daar nog sonde in jou sit, en of daar suurdeeg in die brood gekom het.  Laat ons eet, drink en vrolik wees.

As jy ʼn Jood was, was jy nou woedend. Hulle kan hulle mond nie aan hierdie brood sit nie! Hulle pasga is bederf.

Vir ons wat dit verstaan, maak die gelykenis bly: God se koninkryk is hier vir jou, is hier oor jou, nou al, en jou sonde, selfs die wat jy geheim hou, kan jou nie meer uit die koninkryk uithou nie.  Die koninkryk van God is ʼn nuwe suurdeeg wat gedy en stu, groei en groot word, voed en verkwik, sien leef en laat leef.  Hierdie suurdeeg van God se koninkryk kan jy nie wegsteek of keer nie.  Sit jy dit in die meel, verander dit, groei dit, skep dit, word dit iets heeltemal nuuts, en iets anders as waarmee jy begin het.  En daai nuwe brood is goed om te eet, suurdeeg en al, selfs in die feestyd.  Dis die brood wat lewe gee. Die groeiende brood verklaar sonder verskoning: hier is ʼn hele nuwe werklikheid, God is by julle, Hy is vir julle, wees bly.

Jou daaglikse brood is Christus, gebore uit ʼn maagd, deur die Heilige Gees onsigbaar in jou ingeplant, dalk nog weggesteek, maar stadig aan’t groei.  Hy is goed vir jou.  Hy is vir jou.

Amen.

Preeklied [Gemeente]: Gesang 521 verse 1 en 2

Ons sing saam oor hoe God ons versadig, en hoe ons niks meer of enigiets anders nodig het nie.

“Erkentlik deur die dae …”

Dankgebed:       Dankgebed

Sluit af met Ons Vader, met die gemeente wat hardop saambid.

Slotsang [Gemeente] Gesang 488 : 1,2,3,4,5

Vir ons is die suurdeeg nie meer weggesteek nie.  Die brood het uitgerys, dis gebak en het kos geword wat van God af kom en vir ons die ewige lewe gee.  Ons sukkel nog soms om die Here se wil in alles te verstaan, maar ons weet – omdat ons nou weet wie Jesus is – dat die koninkryk gekom het. Dit sal al duideliker word namate ons dit vir die wêreld wys. Dis waartoe ons ons in hierdie lied verbind.  Die koninkryk gaan aan ons sigbaar word.

“Helder skyn u lig vir die nasies …”

Seëngroet:

Toe die versoeker vir Hom sê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word,” antwoord Jesus: “Daar staan geskrywe: “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Matteus 4:3,4)

En toe hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” (Matteus 26:26)

“Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” (Johannes 6:35)

Respons [Gemeente] Gesang 314

“Amen …”

Insameling van die dankoffers, orrelspel

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s