“Maar net” ‘n ma.

Opstanding uit die dood is toe nie so ‘n nuwigheid nie.

Hier’s ′n beginsel wat my ontstel:  God loop nie in paleise en parlemente rond om magtige mense na die Koninkryk toe oor te haal nie.  Nee wat, God verander die lotgevalle van volkere en nasies, en vestig die Koninkryk van die Hemel in die privaat en persoonlike plekkies waar gewone mense mekaar liefhet.  God antwoord dáár die hartsbegeertes van mense in wroeging. Uit dié innerlike binnekamerstryd en salige intimiteit van ‘n onmerkwaardige man en sy vrou, kom moederskap, ‘n volk se geloof en God se magsverskyning.

Wanneer God dít doen, is God se fokus op die vrou van wie óns al te maklik vergeet:  Met móéderskap laat God die gety draai. God het ‘n sagte plekkie vir vroue.  God stoot vroue op die voorgrond, maak van vroue deurslaggewende doeners van sy wil en draers van geloof.  Vroue neem die voortou, en in Genesis, Eksodus, Rut, 1 Samuel en Lukas, hang ons heil van vroue af. Die vrou word ‘n moeder, haar kind ‘n redder.  Iemand noem haar “Mamma”.

I Samuel 1 : 1 tot 28

10 Mei 2020, NHKA Kampersrus

Opstanding.  Moedersdag.


EREDIENSREËLINGS IN DIE NOODTOESTAND

Na die president se aankondiging dat kerke steeds nie, na die einde van die huidige afgrendeling, in eredienste sal mag bymekaarkom nie, gaan die huidige reëling voort:  Ons eredienste op Sondae word met Whatsapp versend.

  • Die teks van die preek word vooraf al op die webwerf “Hervormend” geplaas.
  • Ons gee per Whatsapp eers kennis van die Skriflesing.
  • Die woorde van Psalm 139 (die Lina Spies-beryming) word dan gestuur.
  • ‘n Klankopname van Psalm 139 se begeleiding (die tweede toonsetting) word daarna aangestuur.
  • Laastens stuur ons ‘n klankopname van die preek.

Lied

Liedboek Psalm 139 (Die Lina Spies-beryming)

U het my het my meesterlik geskape, in die geheime moederskoot.

U sluit vanaf my vrugbegin my met u troue liefde in. 

 

1.

O Here, U ken my volkome,

U sien tot in my wesensgrond.

U toets my hart, lees my gedagte

Voor daar ‘n woord kom uit my mond.

Waar ek my ookal wend of keer,

U is voortdurend by my, Heer.

2.

Ook was ek nooit vir U verborge

Maar altyd voor U oop en bloot –

U het my meesterlik geskape

In die geheime moederskoot.

U sluit vanaf my vrugbegin

My met u troue liefde in.

3.

Bekend is U met al my tye

Van voor my eerste daeraad.

Slegs U bepaal my aantal jare

Die afsny van my lewensdraad.

O, u gedagtes is soos sand,

ontelbaar vir my klein verstand.

Skriflesing

I Samuel 1 : 1 tot 28

1        

Daar was ‘n man uit Ramatajim, ‘n Suffiet uit die Efraimsberge. Hy was Elkana seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf uit Efrata.

 

2        

Hy het twee vrouens gehad. Die een se naam was Hanna en die ander s’n Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna nie.

 

3        

Elkana het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, was in Silo priesters van die Here.

 

4        

Elkana het gewoonlik op die dag wanneer hy geoffer het, dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee.

 

5        

Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly.

 

6        

Dan het die ander vrou haar baie gespot en verneder omdat die Here haar kinderloos laat bly het.

 

7        

So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie.

 

8        

Dan sê haar man Elkana vir haar: “Hanna, waarom huil jy? Waarom eet jy nie en waarom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?”

 

9        

Op ‘n keer ná die offermaaltyd in Silo het Hanna opgestaan terwyl die priester Eli op sy stoel langs die deurkosyn van die tempel van die Here gesit het.

 

10      

Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.

 

11      

Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.”

 

1:11: Vgl. Num. 6:2-5.

12      

Sy het lank tot die Here gebid, en Eli het stip na haar mond bly kyk.

 

13      

Hanna het in haar gedagte gepraat, net haar lippe het geroer. Eli kon nie haar stem hoor nie, en daarom het hy gedink sy is dronk.

 

14      

Hy sê toe vir haar: “Hoe lank wil jy dronk bly? Loop word eers nugter!”

 

15      

Maar Hanna het geantwoord: “Nee, Meneer, ek is maar net ‘n vrou wat diep terneergedruk is. Ek het nie wyn of bier gedrink nie. Ek het my hart uitgestort voor die Here.

 

16      

Moet tog nie dink ek is ‘n slegte vrou nie. Dis oor my groot smart en leed dat ek so lank bly praat het.”

 

17      

Toe sê Eli: “Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het.”

 

18      

En sy het gesê: “Mag dit vir my wees soos u sê.” Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie.

 

19      

Die volgende môre het Elkana-hulle vroeg opgestaan, die Here aanbid en teruggegaan huis toe. Nadat hulle tuis gekom het in Rama, het Elkana gemeenskap gehad met sy vrou Hanna, en die Here het aan haar gedink.

 

20      

By die wisseling van die jaar was Hanna swanger. Sy het ‘n seun in die wêreld gebring en uitgeroep: “Sy naam is Samuel: van die Here het ek hom afgesmeek!”

 

21      

Toe Elkana en sy hele gesin gaan om die jaarlikse offer aan die Here te bring en sy gelofte te betaal,

 

22      

het Hanna nie saamgegaan nie, want sy het vir haar man gesê: “Wanneer die seun gespeen is, sal ek hom wegbring dat hy voor die Here verskyn en altyd daar bly.”

 

23      

Haar man Elkana het vir haar gesê: “Maak soos jy dit goedvind. Bly totdat jy hom gespeen het. Mag die Here sy woord bevestig!” Hanna het toe gebly en haar kind gevoed totdat sy hom gespeen het.

 

24      

Toe sy hom gespeen het, het sy hom saamgeneem, en ook ‘n driejaaroud bul , sestien kilogram meel en ‘n kruik wyn. Sy het hom as klein seuntjie weggebring na die huis van die Here toe in Silo.

 

1:24: In die grondteks staan: “drie bulle”, maar vergelyk vers 25.

25      

Elkana-hulle het die bul geslag en die seun na Eli toe gebring,

 

26      

en Hanna het gesê: “Ekskuus, Meneer, u sal my nie glo nie, maar, Meneer, ék is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid.

 

27      

Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het.

 

28      

Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is.” Toe het hulle die Here daar aanbid.

 

 

Preek

Ons staan met elke kind se geboorte verdwaas.  En tóg is dit ‘n algemene verskynsel. Trouens, daar is al gans te veel van ons.  Tog het ons deernis vir die groot gesinne van ouds, nè? Ons was toe nog almal armer, maar net aan  onnodige dinge, en veel, veel ryker aan die régte goed.  Ek onthou uit my kleintyd ‘n storie met die naam “Tien paar klompe”, oor ‘n Hollandse mamma wat saans, as sy al tien haar kinders in een groot bed onder dieselfde kombers toegegooi het – my ouma het altyd gesê dít was die mooiste tye van haar dag, en die beste tyd van haar lewe – as die mamma hulle eers in die bed het, gou die klompe aan die voetenent sou tel om seker te maak al die kinders is dáár.  Een aand was daar, tot groot konsternasie,  een paar klompies kort.  Die hele dorp se mense is ingeroep om die kind te soek, maar tevergeefs; die kind is skoonveld.   Tot sy hom die volgende môre, klompe nog aan die voete, net daar in die bed, ontdek het.

Ons verdwasing met die geboorte van ons eie kinders, het te make met ons aandeel daarin, met die uitkoms van iets wat ons self gedoen het.

As wat so algemeen is, nié met óns gebeur nie, is die pynlikheid daarvan ondraaglik.  Dán help geen argument oor oorbevolking of haglike maatskaplike omstandighede, siekte of gebrek of enige ander toekomsloosheid, om die gemis te vul nie.  Ons hou daar letsels van oor.  Juis omdat kinders so doodgewoon is, voel kinderloosheid soos ‘n gebrek, stigma en al.  In bybeltye was onvrugbaarheid ‘n vloek.

Ons weet darem nou al máns kan ook onvrugbaar wees, maar voorheen was dit alles die vrou se skuld.  ‘n Man se saad kan jy immers sien, en wanneer daardie lewende saad in haar liggaam verdwyn en nie terugkom nie, kon jy maar weet sy het jou manne die nek omgedraai.

Meestal verloop bybelmense se lewens “doodnormaal”; hulle kry kinders by  dosyne, vroue by die halfdosyn.  Geslagsregisters verloop ononderbroke.  Maar soms kom die bybelvertelling met die skreeuende remme van ‘n aanstormende trein tot stilstand.  Die hele wêreld hou asem op, en hou een vrou dop, asof sy voor die trein ingeloop het, op die treinspoor gaan staan en die wêreld uitgedaag het om net aan haar aandag te gee. ‘n Doodgewone vrou wat net ‘n ma wou wees, en toe nie kon nie, kom staan in die pad van God se heilsplan.  Nie dat sy wíl nie, dis net dat haar baarmoeder nie werk nie.  ‘n Enkele vrou met ‘n dooie baarmoeder, laat die ganse mensdom staan en wag dat God iets doen.

Hieragter sit ‘n beginsel wat my omkrap: Dat wat in die intieme ruimte van my slaapkamer gebeur, dat wat ek met my lyf doen, die ganse skeppingsorde versteur.  ‘n Dokter sê dié week nee, daar was nog geen COVID-19 hier by ons nie, maar talle huwelike is dodelik siek, en daarvoor is daar ook nog geen pilletjies nie. Ons langtermynverhoudings hou net as ons mekaar nie te veel sien nie.  En wat dan daar in die privaat ruimtes van ons lewens gebeur, daar waar ons naak en ná aan mekaar staan, dís wat die aarde laat draai.  Daarom, as ‘n vrou se baarmoeder sterf, word die wêreld ‘n graf wat wag dat die laaste van die lewendes omval en bly lê.

Dit gebeur nie baie nie, dat in die Bybel ‘n vrou na swangerskap smag nie,  maar elke keer as dit gebeur, is dit die voorloper tot ‘n vreeslike gedoente. Daarom, as dit gebeur, sit ‘n aandagtige bybelleser regop, spits sy ore, want ‘n sirene begin loei.

Vir die onvrugbare vroue in die verhale is dit nie prettig nie, en om alles te kroon, sê die Bybel soms: God het haar baarmoeder toegesluit!  Hoe kán God so wreed wees?  Wel, omdat wanneer God dit doen, die band tussen God en volk aan ‘n draadjie hang, van een vrou afhang, van net een eierselletjie van daardie vrou.  God kom staan soos Jesus agter in ‘n skuit om met die skepping te raas:  “Genoeg nou! Bedaar!”   Alles en almal kom tot stilstand, soos nou met COVID-19.  Dis die stilte voor die storm, want hier kom God nou, en wat God met net hierdie een enkele vrou gaan doen, raak ons almal.

Dit was met Eva die geval. En met Sara, Rebekka, Ragel, Tamar, met Moses se ma, en Simson s’n, wat nooit eers op die naam aan ons voorgestel word. Dit gebeur met Hanna, met Johannes die Doper se ma, Elisabet, en met Maria, die maagd.

Hanna smag na ‘n kind van haar eie.  Haar man, Elkana, het vir Hanna uitsonderlik lief, maar hy is geen plaasvervanger vir ‘n seun van haar eie nie.   Elkana  se tweede vrou, Peninna, vryf leedvermakerig sout in die wonde, dalk ook maar omdat Peninna se eie hartseer vlak lê:  Peninna het wel ‘n string kinders, maar haar man het haar nie so lief soos vir Hanna nie. Gaan Hanna die dag kerk toe om van God ‘n kind af te smeek, skel die dominee haar uit vir ‘n dronkaard.  Min mense het vir Hanna begrip.

Hanna se smagting is nie net haar eie stryd nie.  Hanna is ‘n metafoor vir hoe God smag na eie kinders.  Ísrael is so goed soos dood.

I Samuel 3

1        

‘n Woord van die Here was seldsaam in daardie dae; geen visioene het voorgekom nie.

2        

Eli (die destydse hoëpriester se) oë het al begin swak word; hy kon nie meer sien nie.

3        

Die lamp van God was nog [net-net] nie dood nie.

Dís ‘n donker wêreld, met geen lig van God af nie, ook nie van die kerk af nie; mense is blind en tas rond.  Die liggie wat deurnag in die tabernakel moes brand, is op sy laaste. Eli, die hoëpriester het twee seuns wat hom kan opvolg, Hofni en Pinehas, maar die een is so goddeloos en korrup soos die ander. Nie net minag hulle die offers aan God nie, hulle teister die vroue wat tabernakel toe kom, die maagde wat simbolies moes wees van Israel se heiligheid as God se bruid. Dis nie ‘n mooi prentjie nie.

Elkana, Hanna en Peninna se man, gaan wel gereeld Silo toe, kerk toe, vir die godsdiensfeeste daar.  Dis dan dat Hanna tabernakel toe wegglip, en haar hart voor God uitstort.  Sy maak ‘n gelofte:  As God haar ‘n seun sou gee, sal sy hom aan God teruggee; sy sal hom as ‘n Nasireër grootmaak, ‘n man wat van geboorte af al aan God gewy word, soos Simson destyds, en Johannes die Doper nog sou, beide van húlle ook die seuns van voorheen onvrugbare vroue.

Dit ontstel dat Eli dink Hanna het net dronkverdriet, maar dis ook betekenisvol:  Elders in die Bybel, word Geesvervulling ook met dronkenskap verwar, en ná Geesvervulling, kan jy maar wéét, gaan God die tafels op ons omkeer.  Hier kom ‘n ding!

Inderdaad, met die draai van die jaar, is Hanna swanger.  Die Here het aan haar gedink. Een vrou van wie die Here eers kinders weerhou het, een vrou se smagting om ten alle koste ‘n ma te word, háár gebed skep die geleentheid vir God om met Israel oor te begin.  Uit hierdie vrou se dooie binnegoed, staan ‘n seun op. Sy noem hom Samuel.

Wanneer Lukas later sy evangelie skryf, is Hanna in sy agterkop, en is die ommekeer wat God deur Jesus gaan bring,  vooruit al in I Samuel aan hom en ons vertel.  Eers skryf Lukas oor die kinderlose priestersegpaar, Sagaria en Elisabet, wat hoor daar is ‘n baba op pad:  Sagaria is nie soos Eli blind vir wat gebeur nie, maar stomgeslaan, letterlik.  En dan word ‘n maagd ook nog swanger, sommer sonder gemeenskap, tegelyk te maklik én onmoontlik.

Hier’s weer die beginsel wat my ontstel:  God loop nie in paleise en parlemente rond om magtige mense na die Koninkryk toe oor te haal nie.  Nee wat, God verander die lotgevalle van volkere en nasies, en vestig die Koninkryk van die Hemel in die privaat en persoonlike plekkies waar gewone mense mekaar liefhet.  God antwoord dáár die hartsbegeertes van mense in wroeging. Uit dié innerlike binnekamerstryd en salige intimiteit van ‘n onmerkwaardige man en sy vrou, kom moederskap, ‘n volk se geloof en God se magsverskyning.  Wanneer God dít doen, is God se fokus op die vrou van wie óns al te maklik vergeet:  Met móéderskap laat God die gety draai. God het ‘n sagte plekkie vir vroue.  God stoot vroue op die voorgrond, maak van vroue deurslaggewende doeners van sy wil en draers van geloof.  Vroue neem die voortou, en in Genesis, Eksodus, Rut, 1 Samuel en Lukas, hang ons heil van vroue af. Die vrou word ‘n moeder, haar kind ‘n redder.  Iemand noem haar “Mamma”.

Wanneer Hanna se kind gebore word, sing dié ma ‘n loflied aan God, wat weer Maria, Jesus se ma, sou eggo.

I Samuel 2

6        

“Die Here maak dood en Hy maak lewend, Hy laat afdaal na die doderyk toe en Hy laat daaruit opkom.

9        

“Hy beskerm sy troue dienaars op hulle pad, maar die goddeloses word stil gemaak in die duisternis van die graf. ‘n Mens oorwin nie deur eie krag nie! 

Die Here het haar “dooie” liggaam lewend gemaak.

Maria se liggaam was maar te gretig vir moederskap.  Haar smart was nie onvrugbaarheid nie.  Haar lyding sou eers later kom.  ‘n Ma behoort nie ‘n kind te begrawe nie;  Maria moes.  Maar daardie afskeuring van ‘n ma se lyf af, begin al by geboorte, met die naelstring se knip.  Maria het dit weer ‘n keer aan haar lyf gevoel toe Jesus twaalf word en by die tempel agterbly, en ewe kordaat vir haar sê as sy haar bloedig vir Hom vererg:  “Maar Ek hoort dan hier, Ma!  Hierdie is my Vader se huis.”

Moeder Hanna hou haar seuntjie ‘n klein rukkie vir haarself:  Sy vat hom nie kerk toe nie; sy speen hom eers van haar bors. Tóé vat sy hom, en los hom daar.  Sy gaan lewer haar seun by God af, sy gee hom weg; nie oor sy ‘n slegte ma is nie, maar omdat sy die beste ma wil wees wat sy kan.

Hanna se moederskap verander dan die Godsvolk se geskiedenis beslissend.  Hanna sing:

I Samuel 2

7        

Die Here maak arm en Hy maak ryk, Hy verneder, ook gee Hy aansien.

8        

Hy laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit; Hy skenk hulle ‘n ereplek. Aan die Here behoort die pilare van die aarde; Hy het die aarde daarop gegrondves.

Dis ‘n illusie dat moeders tuisbly.  ‘n Moeder se hart gaan deur die wêreld saam met haar kinders op reis.  God gebruik haar gene om armes en rykes te versoen, nie deur almal ewe arm te maak nie, maar deur die skande van armoede te besweer, om minderwaardigheid in menswaardigheid om te sit.  Eindelik roei God alle sonde so uit.  God gee om, en God se liefde het ‘n aardskuddende uitwerking op swakkes en broses.  God onthou die vergete mense ons ons.

Maar hierin sit die wonder:  Die huweliksbed is van die kragtigste aardbewings die episentrum.  Want dis daar al, sê Hanna, dat God opstanding en lewe uit die dood moontlik maak.  Jesus Christus, die opgestane Here, is dáár al by  inbegrepe.

Kyk na my ma, sê Jesus.  Sy is ‘n uitsonderlik begenadigde.  Deur haar leef die opgestane Here. Pas haar vir My op.  Sy is nou jou ma ook.  Nes Hanna, is alle vroue die plek waar God die Vader opstanding geoefen het.

Kyk ‘n slag met verwondering na jou ma, net soos wat sy jou met verdwasing uit haar eie lyf gesien uitkom het.

Amen.


 

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.