Bokkie, die dissipel, staan op!

Foto: KI-gegenereerde afbeelding van vroueklere in die Bybel.

Bokkie, staan op!         

Handelinge 9 : 36 tot 42 en Psalm 101

21 April 2024, NHKA Kampersrus

Opstanding.


Lees voort “Bokkie, die dissipel, staan op!”

Grootkop.

Die dissipels: Groot geloof, of grootkop?

God die Heilige Gees laat mense wonders doen.  Goed wat mense nie vanself kan regkry nie, dié gebeur asof dit sommer doodgewoon is:  Mense kom hulle vrese te bowe en kry mekaar lief, mense vergewe mekaar en raak versoen, mense sorg vir mekaar en word gasvry.

Daar is iets aan die gang, iets in die lug, ʼn krag aan die werk wat ons nie ken nie.

En dan kry ons ʼn greep op hierdie krag, begin verbeel ons ons het mag, kry ons grootkop.  Pleks van groot geloof, kry ons grootkop.

Lukas 9.

21 Julie 2019, NHKA Kampersrus

Heilige Gees.


Lees voort “Grootkop.”

Hoe mens op droë grond visvang

As hierdie spannetjie dissipels die ouens is wat ons gaan help verstaan wat mense in God se nuwe wêreld maak, dan is ons hier om “vissers van mense” te wees.  Om op droë grond, mense op die ark te laai nes visse in ʼn skuit.  Om mense aan boord te bring en te red van die sonde waarin hulle verdrink.  Maar mense laat hulle nie so maklik vang nie: die sonde is mense se natuurlike habitat nes water vir visse.  Mense wil nie vaste grond onder hulle voete voel en gaap na God se asem nie.  Mense weet nie dat om uit die water gehaal te word hulle lewens red nie.   Juis daarom moet die nuwe wêreld vir mense na ʼn plek lyk waar hulle wil wees.  Dit moet ʼn meer begeerlike plek wees as die see van sonde.

Lukas 5 verse 1 tot 11

19 Februarie 2017, NHKA Kampersrus

Koninkryk

Skyfies: Advertensies

Skyfies: Visvang op droë grond

Toetrede

Predikant

Jesus preek dat die koninkryk van God kom.  En dan maak Hy mense bymekaar om God se nuwe wêreld aan die gang te kry.  Dis dadelik duidelik dat mense en God se koninkryk alles met mekaar te make het.   Vir ons, die mense wat met hierdie nuwe wêreld te doen gaan kry, roep Jesus en sê: Volg My!

En die doel van die navolging is ʼn gevisvangery op droë grond.

Kom ons sing dat ons Jesus sal volg na hierdie nuwe wêreld toe, ons Vader se land.

Sang (Sit)

Gesang 505 strofes 1, 2,3 en 4 

Hier is ʼn lied wat ek glad nie ken nie.  Die refrein sê “Kom loof Hom. Loof Hom. Loof Hom. Loof Hom en volg Hom as u Heer.”  Maar as die melodie moeilik is, lees ten minste die pragtige woorde daarvan.

Sang (Sit)

Gesang 223 verse 1, 2 en 3

Skyfies: Skuite op die strand: skyfies 2,3,4,5 en 6 skuif outomaties aan sonder dat jy hoef te kliek. Laaste skyfie “Visvang op droë grond. God se nuwe wêreld: ʼn vennootskap

Kom ons stel ons in stilte in op die erediens saam met God.  Kom ons gebruik die tyd om die Here te aanbid.

Stilte (Sit)

 

Skyfies: Toetredelied.  Ons volg Hom die erediens in

Kom ons nader God, ons vriend en ons koning, nou in die erediens.  Kom ons sê saam dat ons Hom sal volg. Kom ons buig in eerbied voor Hom neer.

Toetredelied (Staan)

Gesang 153 strofes 1, 2 en 3  

Skyfies: Votum en seën

Votum en Seëngroet (Staan)

12

Jesus sê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Johannes 8

Aanbidding en Lof

Predikant

Om ons hele lewe aan die Here te wy, en die Here hier te eer, dit is ons hoogste strewe.  Kom ons sing uit ons harte uit van God se genade.

Sang (Staan)

Gesang 531 strofes 1 en 2

Skyfies: Gebed. Die volgende skyfie verskyn outomaties

Gebed (Mans staan): Skuldbelydenis en genadeverkondiging

Sang (Staan)

Gesang 528 strofes 1,2 en 3

Verkondiging

Predikant

Skriflesing (Sit)

Die Skriflesing kom uit Lukas 5 verse 1 tot 11.  Dis op bladsy 87 van die Nuwe Testament in die 1983-Afrikaanse Vertaling.

Skyfies: Lukas 5 verse 1 tot 11

1        

Op ‘n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor,

2        

sien Hy twee skuite aan die kant van die meer lê. Die vissers het uitgeklim en was besig om die nette uit te spoel.

3        

Jesus klim toe in een van die skuite, die een wat aan Simon behoort, en vra hom om dit ‘n entjie van die oewer af weg te stoot. Nadat Hy gaan sit het, het Hy die skare van die skuit af geleer.

4        

Toe Hy klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang.”

5        

“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.”

6        

En toe hulle dit doen, het hulle so ‘n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur.

7        

Hulle wink toe vir hulle maats in die ander skuit om te kom help. Hulle het gekom en albei die skuite so vol gemaak dat hulle amper gesink het.

8        

Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens.”

9        

Hy en almal wat saam met hom was, was stom verbaas oor die groot klomp vis wat hulle gevang het.

10      

Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Toe sê Jesus vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.”

twee-skuite-op-die-strand11    

En nadat hulle die skuite op die strand getrek het, het hulle alles net so laat lê en sy volgelinge geword.

Skyfies: Kleurfoto van die bote

Laat ons oor God se Woord altyd dit onthou:  wat God sê, gebeur.  Dit besef Simon in vers 5:

5        

“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.”

Sang (Staan)

Gesang 504 verse 3 en 5

Preek (Sit)

Skyfies: Die Koninkryk kom.  God se nuwe wêreld breek aan.   

Die Koninkryk kom.  God se nuwe wêreld breek aan.  Al die tekens is daar. Jesus wys die tekens daarvan. Jesus is die Een wat Israel te wagte was, op  wie mense soos Johannes die Doper gewag het.

Wonders is die tekens.  Daar gebeur wonderlike goed.  Maar alle die wonderlike dinge wat Jesus doen, het met mense te make.  Jy kan op jou een hand tel die kere dat Jesus met die skepping toor, maar ook net as jy ʼn dissipel was, sou jy dit weet.  Die kleur van die reënboog verander nie. Varke vlieg nie.  Olifante is nie skielik pienk nie.  Daar is geen aardbewings of tsunami’s nie.  Jy kan daarvoor vergewe word dat jy dwarsdeur Jesus se lewe geen grondverskuiwende verskil aan die skepping agtergekom het nie.  Selfs die Romeinse regering is nog veilig in die kussings.  Arm is nog steeds moeilik.  Siekte is steeds swaar, behalwe vir ʼn handjievol mense wat onverklaarbaar gesond gemaak is deur die rabbi uit Nasaret, hier en daar selfs een wat – so word beweer – uit die dood uit teruggekeer het al ruik hulle al.  Maar oor die algemeen is alles doodnormaal.  Vervelig dieselfde.

Skyfies: Die Koninkryk: ʼn verleentheid?   

Skrywer na skrywer wat ek oor die koninkryk van God lees, gebruik opgewonde taal om die nuwe wêreld van God te beskryf.  Hulle kondig opgewonde aan hier kom iets groots.  En net daarna maak hulle verskoning dat jy die koninkryk beswaarlik agterkom.  Alles gaan maar op die ou trant voort.  Maar jy moet eintlik ook niks meer verwag nie, sê hulle wat die verwagting geskep het, dan.  Hulle kom met die skrale trosie dat die koninkryk klaar hier is, maar tog ook nog heeltemal nie.

Ek voel ʼn verleentheid aan: hulle is verleë dat na al die publisiteit en opsweping, niks beter is nie.  Ons sit nog steeds in die tronk.  Ons bly honger.  Selfs al was jy een van die 5000 wat op een dag een gratis ete van vis en brood gekry het, kom die hongerpyne mos weer terug.  Dit stel teleur. Die koninkryk voel ʼn klug.

Ons leer sommer baie gou van God se nuwe wêreld die harde les dat ons eie omstandighede en die koninkryk van God nie een en dieselfde ding is nie.  Dis die struikelblok van die koninkryk, en die doodsteek vir geloof.  Dis waarmee Johannes die Doper in sy tronksel sit en sukkel.  Dis wat Judas Iskariot met Jesus gaan laat opgee.  Want wat kry ons daaruit?  Ons soek skouspel, wat ons vind, lyk meer na ʼn flop.

Maar nou moet julle saam met my by Jesus probeer bybly.  Kom ons volg Hom, kom ons hou Hom dop, kom ons bepaal ons by wat Hy doen.

Skyfies: Jesus vat oor   

Jesus gaan op soek na ʼn span manne om Hom te volg.  (Al rede vir waarom Hy nie vroue ook uitsoek nie, is dat die kultuur nie van vroue leiding duld nie. Maar waar Jesus is, is vroue nooit ver nie.)

Hoekom het Hy hoegenaamd so ʼn bende mense nodig?, wonder ek.

Hy kom by die Gennesaret meer aan, en daar is ʼn vorentoe beurende skare op die strand wat Hom naderhand kniediep in die water het.  Hierdie mense is gretig om God se Woord te hoor, en dit kry jy by dominee Jesus.

Jesus sien twee skuite in die vlak water.  Die bemanning is na ʼn lang nag se hengel – visvang kan jy dit nie noem nie, want hulle het met leë hande teruggekom – aan’t nette uitspoel.  Jesus klim aan boord van Simon is die skipper s’n.  Jesus vra Simon moet die skuit net effens van die oewer af wegstoot.  Die visserskuit word sy kansel.  Jesus gaan sit op die dek en begin vir die mense op die strand preek.

Simon en sy bemanning hoor al’s.  Hulle kan nie anders nie. Toe Jesus klaar gepreek het, draai Hy Hom na Simon toe en sê: “Kom ons gaan vang vis.”

“Meneer,” antwoord Simon Hom, “ek wil nou nie snaaks wees nie, maar dis wat ons die hele nag gedoen het.  Ons het die hele nag deur geswoeg en het niks om te wys nie.”  Jesus het seker nie gelyk of Hy met die antwoord tevrede was nie, want Simon voeg by:  “Maar op u woord sal ek die nette uitgooi,” en hulle is terug diep water toe.  Jesus is saam.

“Maar op u woord. . .”

Die nette wou skeur.  Hulle moes die ander skuit roep om te kom help.  Beide die skuite was later so vol dat hulle wou sink.

Simon se wêreld tuimel in.  Die professionele visserman voel hy weet van visvang niks, en sy skepsis oor hierdie Jesus kla hom nou van sonde aan.  Sy wêreld is oorgevat.  Niks werk meer soos dit moet nie.  Oorweldig val hy op sy knieë neer en sê vir Jesus: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ʼn sondige mens.”

Skyfie: Nee, Simon, Ek het jou dan juis kom haal. 

Nee, Simon, Ek gaan nie van jou af weg nie, Ek het jou dan juis kom haal.  Jy gaan met My saam. En Sebedeus se twee seuns, Jakobus en Johannes, wat deel was van Simon se visserspan, hulle was ewe stom van verbasing.  Met die gevolg dat, by die strand aangekom, hulle die skuit uitsleep en alles, die skuit en die vangs, net so daar laat staan en Jesus volg.

Hulle word die eerste dissipels, ʼn groep mense wat altyd aan Jesus se sy bly. Hulle doen dit nie sommer vanself nie.  Nuuskierigheid oor een preek en verwondering oor ʼn frats visvangs laat jou nie alles net so los en van jou lewe af wegloop asof niks meer sin- of saakmaak nie.  Jesus laat hulle dit doen.  Hy lê beslag op hulle.

Hierdie dissipels word die ouens wat al Jesus se preke hoor, hulle sien sy wonderwerke, hulle kry te sien hoe sagkens Hy met mense werk, hoe Hy randeiers raaksien, hoe Hy grootheidswaan kortvat.  Dat sonde Hom nie afskrik nie en Hy nie aan sondige mense walg nie.  Hierdie ouens kry met Hom een-tot-een-tyd as die skares huis toe pad vat. Hulle kry insae in sy privaat gedagtes, hulle leer sy logika, hulle leer hoe Hy die Skrif verstaan en die wêreld sien. Hulle bid saam met Hom, probeer by Hom kers vashou maar slaag nie so goed nie.  Dog hulle raak gemaklik met Hom,  berispe Hom, probeer Hom beskerm en Hom soms vir hulleself hou. Hulle doen hulle bes, al sit Hy hulle ore aan.

Hulle word die mense wat Hom die beste leer ken, al tas hulle op die ou end steeds maar in die donker rond.  Van almal van ons staan hulle die beste kans om Jesus te verstaan en die koninkryk te snap. Maar ook hulle sukkel.

Hoekom dan gaan haal Jesus hulle, hierdie broederkring wat geen benul het nie, en moeilik leer?  Hoekom belê Hy in hierdie nuttelose bendetjie?  Is al waarvoor hulle goed is dalk net om alles wat Hy sê en doen te onthou en oor te vertel sodat iemand dit eendag in die Bybel kan opskryf?  Is dit die idee? Is dit al?

Skyfie: Die koninkryk van God is God se mense in God se wêreld. . . 

Wel, Jesus lei beslis nie ʼn peloton vryheidsvegters op nie.  Hy is nie besig met ʼn broederbond of ʼn selgroep wat ondermynende politieke teorie of nuwe ideologie uitdink nie.  Hy propageer nie rewolusie en bewindsoorname nie. Hy mobiliseer nie weerstand of hits opstand aan nie.  Hy streef nie na mag nie.  Hierdie dissipels is nie sy oorlogskabinet nie.

Daarom is die “nuwe wêreld” waarmee Die Boodskap “God se koninkryk” vertaal, dalk ʼn beter naam daarvoor. “Koninkryk” klink te veel na die magsgreep van ʼn staat.

Intussen hou Jesus vol met sy preke oor die vreemde koninkryk van God.  En elke preek oor God se nuwe wêreld, elke storie en gelykenis wat die koninkryk moet verduidelik, elke wonder wat Hy doen om die koninkryk te demonstreer, elke argument waarin Hy betrokke raak omdat mense hulle teen God verset en sy koninkryk skeeftrek, gaan oor wat met mense in God se nuwe wêreld gebeur.  Met gewone mense.

Die koninkryk van God gaan oor mense.  Die nuwe wêreld is vir mense bedoel.  En die nuwe wêreld is iets wat mense gaan doen.

Die Koninkryk van God is God se mense in God se wêreld onder God se regering.

Skyfie: Die nuwe wêreld van God is God se mense in God se wêreld met God in vennootskap.

Of dalk beter gesê: Die nuwe wêreld van God is God se mense in God se wêreld met God in vennootskap.

En as hierdie spannetjie dissipels die ouens is wat ons gaan help verstaan wat mense in God se nuwe wêreld maak, dan is ons hier om “vissers van mense” te wees.  Om op droë grond, mense op die ark te laai nes visse in ʼn skuit.  Om mense aan boord te bring en te red van die sonde waarin hulle verdrink.  Mense laat hulle nie so maklik vang nie: die sonde is mense se natuurlike habitat nes water vir visse.  Mense wil nie vaste grond onder hulle voete voel en gaap na God se asem nie.  Mense weet nie dat om uit die water gehaal te word hulle lewens red nie.

Juis daarom moet die nuwe wêreld vir mense na ʼn plek lyk waar hulle wil wees.  Dit moet ʼn meer begeerlike plek wees as die see van sonde.

My pa is ʼn visserman.  Hy het my geleer die aas aan jou lyn bepaal die vangs.  Jy moet ʼn vis met lus vang.  Mense werk net so. Maak hulle lus vir koninkryk, sê God.

Ons werk is om mense so ʼn plek te help sien.  Ons werk is om mense God se nuwe wêreld te wys sodat hulle dit kan herken vir wat dit is: God s’n.  Wys hulle hoe goed God vir hulle is.

O, moenie dat ons ons verbeel ons kan God se koninkryk op aarde oprig of vestig nie.  Ons dra net soveel by tot die skepping van God se nuwe wêreld as  wat Adam en Eva tot die eerste skepping bygedra het: net mooi niks.

Skepping is wat God die Vader doen.  Dit doen net God.  Hy skep hierdie nuwe wêreld presies nes Hy aan die begin alles geskep het.  Hy doen dit weer deur sy Woord, God die Seun: Hy sê net, en dit gebeur.  Die verskil is, met hierdie skepping van sy nuwe wêreld, laat Hy sy Woord mens word.  God die Seun is, soos altyd, weer by hierdie nuwe skepping betrokke.  Die keer net in die gestalte van een van ons.

Dis wat die keer anders is: God vat die fout vas wat voorheen by die bestuur van die skepping ingesluip het: ons mense.  God gee ons werk.

Skyfies Genesis 1 verse 26 tot 28

26      

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

27      

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

28      

Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

Ons het jammerlik misluk.  Ons kon nie heers nie.  Pleks daarvan het ons in eie belang geplunder, verbruik en opgebruik.  Selfs die vis is op.  Die sonde het geheers, nie ons nie.  Ons was die naam “verteenwoordiger-” en “beeld van God” nie werd nie.

Skyfie: God hernu met mense die Genesis-vennootskap. 

Maar nou draai die gety.  Hierdie dissipels wat Jesus nou kies, is nie bloot getuies van verbygaande geskiedenis nie.  God hernu met mense die Genesis-vennootskap.  God vertrou aan sy volgelinge sy nuwe wêreld toe.

Dis ons mense self wat nuut geskep word.  God maak mense nuut.  Mense is nou anders.  Ons verander.

Die koninkryk kom in mense.  Mense word weer gebore. En die koninkryk van God is weer ons werk.  Heers, verteenwoordigers van God! Heers oor die skepping, mense!  Heers so dat almal God kan agterkom.

Mense is nie skeppers van God se nuwe wêreld nie.  Ons rig nie God se koninkryk op nie.  Ons gee nie eers regtig daaraan gestalte nie.  Ons laat die koninkryk nie kom nie; God doen dit, sy wil geskied.  Maar ons is God se vennote by die openbaring van die koninkryk.

Wat mense van die koninkryk sien, is die samewerking tussen God en ons.  Dit sien hulle orals waar God se heerskappy en ons bestuur van sy koninkryk klop.

Die visse beland nie daai oggend in die net omdat Simon Petrus, Johannes- en Jakobus Sebedeus sulke wafferse vissermanne was nie.  Hulle was heelnag op die water en het niks gevang nie.  Jesus maak daai nette vol.  Sy woord, sy bevel.  Dieselfde woord wat die visse laat nette toe kom, laat Petrus na die visse toe gaan.  “Op u woord” het Petrus mos gesê, “sal ons weer gaan nette uitgooi”.

Twee goed loop in die nuwe wêreld saam:

  • God raak betrokke. Sy mag maak selfs wonders moontlik.
  • Mense kry met God se ingrype in ons wêreld te doen. Soms sit die wonder in wat ons doen!

Ons het die heel nag niks gevang nie, Here, maar op u woord. . .  Byna sink daai skuite dan.  Maar selfs met ʼn vrag vol vis, is wins skielik nie meer wat ons laat tiek nie.  Die Engelse het ʼn idioom daarvoor:  “There are bigger fish to fry.”  Daar is beter dinge om te doen.

Sang (Sit)

Psalm 33 strofe 3

Skyfie:  “Op u woord sal ons weer gaan nette uitgooi”.

God se woord en ons handewerk in ʼn nuwe vennootskap beteken hierdie nuwe wêreld van God is die keer nie net God se werk en ons sonde nie.  God maak seker die swakpunt van die vorige verbond belemmer nie weer alles nie.

God maak nie van ons die oorsprong of die beplanners of die bouers van sy koninkryk nie.  God is dit reeds.  Maar ons is daarvan weer bestuurders, soos toe ons die eerste keer geskep is, en die hele skepping nog jonk en sonder sonde was.  God se oorspronklike bedoeling met ons, ʼn bedoeling wat deur ons sonde beduiwel  en verydel is,  skop weer in.  Meer nog, ons is weer God se verteenwoordigers.  Heers, sê die Here, heers oor die nuwe wêreld, my koninkryk, waarin julle woon, die wêreld wat Ek so liefhet dat Ek my Seun gegee het sodat niemand daarin wat glo verlore sal gaan nie.

Ja, God se koninkryk is hier.  Jesus het dit hier kom skep. Hy het geen regerings omver gewerp om dit reg te kry nie, en Hy het die keer ook nie die hele skepping in ʼn sondvloed versuip en oorbegin nie.  Daar brand nie nuwe reënboë nie.  Daar staan nou kruise rond.

Die koninkryk van God is hemels, en nie van hier nie.  En ja, daarom is dit nog  maar net gedeeltelik hier, want hierdie is nie die hemel nie.  Maar God is daaroor nie verleë nie, en soek nie verskoning nie.  Dis nie asof Hy dit nie kon reg- of klaarkry nie.  Daar is ʼn oomblik beplan vir wanneer Hy dit finaal gaan afrond: wanneer Jesus Christus weer kom.  Maar dis reeds genoegsaam hier om hierdie wêreld om te keer, want Jesus het gekom en die Gees is nou nog hier. Jy hoef ook nie vir God en sy gekamoefleerde koninkryk verskonings te soek nie.

Dit is soos dit nou is, sodat ek en jy weer kan kop optel en waarde tot hierdie skepping van God kan toevoeg, pleks van te verwoes.

Voel jy verleë, dan moet dit wees oor jy nog niks gedoen het om God se koninkryk in jou wêreld te wys nie.  Dan moet jy nou daarmee begin.  Dis ons werk.  Of die nuwe werklikheid sigbaar gaan word hang van jou af.  Kan mense na jou kom kyk as hulle God se wil wil sien geskied?

Waar om te begin?

Wel, ons moet self eers hierdie nuwe werklikheid raaksien en erken vir wat dit is: God se nuwe lewe wat vir mense bedoel, en toe aan ons toevertrou is.  As jy wat ons van die koninkryk kan verwag, gaan staan en afwater, is jy nie oor God se afwesigheid vreeslik verleë nie, maar oor jou eie onwilligheid om in te koop.

En sonde is nie meer ʼn verskoning nie.  Sonde is ons werk:  ons bestuur van God se nuwe wêreld bestaan daarin dat ons die sonde teëwerk en die skade wat dit nog aanrig, regmaak.

Alles is klaar in plek vir God se nuwe wêreld: sy nuwe mense wat hulle nie meer deur sonde laat pootjie nie, is hier.  God het sonde oorwin en mense herstel.  Nou het Hy mense weer in staat gestel om aan die wil van God uitvoer te gee.  Ons het, danksy Jesus die Tweede Adam, nou nes die eerste Adam van destyds die mag om die wil van God gedoen te kry, soos voor die sondeval. Doen dit!

Skyfie: So lyk die wêreld nou: vol van God, en hier reken God op jou

Toegegee, dis ʼn kwantumsprong.  Die koninkryk van God is juis nie onmiddellik sigbaar nie (as jy 2000 jaar nog “onmiddellik” durf noem!) oor mense hulle woedend daarteen verset.  Dis die natuurlike reaksie van mense.  Ons is die aartsvyande van die wil van God.

Maar dit moet ons vandag besef:  Hierdie wêreld is nou anders.  Vol van God.  En of mense dit al kan sien, hang van ons af.

Skyfie: Laat sy koninkryk kom.

Kom, sê Jesus met ʼn skip vol vis wat op droë grond gestrand is, kom volg My. Kom vang mense soos vis.  Jy sal op droë grond, ʼn visser van mense word.  Dis die wonder wat God gaan doen.  Elke knie sal buig, elke tong geloof bely.

En jy gaan help.  Jy is God se vennoot.  God reken op jou om dit te laat gebeur: om sy koninkryk aan die wagtende wêreld te gaan wys.  Laat sy koninkryk kom.

Amen.

Sang (Staan)

Kom ons sê vir die Here ons wil ons lewe aan Hom en aan sy werk wy.

Gesang 308 strofes 1,2,3,4 en 5

Ouderling

Skyfie: Laat sy koninkryk kom. GLO!

Geloofsbelydenis (Sit)

Kom ons bely ons geloof in die Een en Enigste God wat waardig is dat ons ons dank, ons lof en ons diens aan Hom alleen wy:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Skyfie: Laat sy koninkryk kom. Laat sy wil geskied!

Die Wet / Wil van God

Ons het die Woord van die Here gehoor.  Ons het bely dat ons sy Woord glo.

1        

Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely.

2        

Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God.

3        

Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat ‘n huis bou, meer eer waardig is as die huis.

4        

Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het.

5        

Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê.

6        

Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.

7        

Luister daarom na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle sy stem hoor,

8        

moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het en My in die woestyn op die proef gestel het.

9        

Daar het hulle My op die proef gestel en uitgetart, hoewel hulle veertig jaar lank gesien het wat Ek vir hulle gedoen het.

10      

Daarom het Ek ‘n afkeer van hierdie geslag gekry en gesê: ‘Met hulle hart is hulle gedurig op ‘n dwaalspoor, hulle wou my paaie nie leer ken nie.’

11      

Toe het Ek in my toorn ‘n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.”

12      

Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.

13      

Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

14      

Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.

15      

Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

Dit is die wil van God soos dit geskrywe staan in Hebreërs 3 verse 1 tot 15.

Kom ons sing dat ons gaan doen wat die Here van ons wil hê.  Ons gaan aan die volke die boodskap van hoop en bevryding bring.  Duisende wag op ons om hulle te gaan vertel.

Kom ons sing

Slotsang  (Staan)

Gesang 486 strofe 1,2 en 3

Wegsending

Predikant

Skyfie: Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Seën (Staan)

Ontvang die seën van die Here uit Openbaring 1 verse 4 tot 6

Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Respons (Staan)

Gesang 486 strofe 4.

Skyfie: Foto.

Insameling van die dankoffers/orrelspel