Pêrels in asyn.

Al sy pêrels, fraaie pêrels (en dorings) vir Jesus se kroon!  

Matteus 13 : 45 en 46.

7 Augustus 2022, Kampersrus.

Pinkster. Heilige Gees.


Voorleserouderling

Die ouderling wat in die erediens voorlees, lees net die gedeeltes in teksblokke wat grys ingekleur is.

Liedere in hierdie erediens

Gesang 599 : 1, 2, 3.  

Gesang 184 strofes 1, 2 en 3.

VONKK 288 strofes 1, 2 en 3.

Gesang 495 strofes 1, 2.      

Gesang 478 strofes 1 en 2.   

VONKK 338

Lied

 

VONKK 288

Vader, hoe wonderlik

  1.  

Vader, hoe wonderlik het u elke mens gemaak.

Kunstig in moederskoot is ons aanmekaar geweef.

Kroon van u skeppingswerk, u verteenwoordigers,

beelddraers van die Heer, wat oor u skepping heers.

Ú gee ons waardigheid, vir Ú is ons kosbaar, Heer.

Daarom het U, o Vader, Jesus vir ons gegee.

 

  1.  

Gee dat ons deur u Gees in ander u beeld sal sien;

ook met menswaardigheid ons naaste sal dien en eer.

Maak ons getuies, Heer, van u barmhartigheid.

Leer ons om só te leef, soos wat u Woord ons leer.

Gee vir ons deernis, Heer, waarmee ons mekaar kan dien.

Laat ons gesindheid toon dat U in ons harte leef.

 

Toetrede

Predikant

Vooraf

Skyfie: Pêrels in asyn. Al sy pêrels, fraaie pêrels (en dorings) vir Jesus se kroon! Matteus 13 : 45 en 46. 7 Augustus 2022, Kampersrus. Pinkster. Heilige Gees.

Daar is ʼn mooi ou kinderliedjie wat ons almal ken, maar waarvan die woorde nou verander het. 

“As Hy weer kom,

as Hy weer kom,

kom haal Hy sy pêrels,

al sy pêrels,

fraaie pêrels,

vir Jesus se kroon.”

Skyfie: As Hy weer kom, as Hy weer kom. . . Gesang 59 strofes 1, 2 en 3.    

Ons praat vandag oor pêrels.  Kom ons sing dan dié liedjie wat, al is sy pêrels uitgehaal, ons darem aan pêrels sal herinner.  Bly sit en sing Gesang 599, en as ons daarmee klaarhet, staan ons, sodat die Here ons byeenkoms ʼn erediens kan maak.   (Ek vra verskoning vir die taalfout in die projeksie; ek kan dit nie verander nie!)

Sing

Projeksie: Begeleiding begin hier. Speel die hele lied dwarsdeur.

Gesang 599 : 1, 2, 3.   

God skep erediens

Skyfie: Aan Hom kom die eer en ewige krag toe. 1 Timoteus 6 : 15 en 16.

1 Timoteus 6

15

God –

Hy, die lofwaardige en enigste Heerser,

die Koning van die konings en Here van die heersers,

16

Hy wat alleen onsterflikheid besit,

ontoeganklike lig bewoon,

en vir wie geen mens ken of kan sien nie –

aan Hom kom die eer en ewige krag toe.

God seën ons in die erediens.

Skyfie: Juwele wat glinster. Sagaria 9 : 16.  

Sagaria 9

16

Die Here, God, verlos sy volk,

sy kudde,

want hulle is die juwele van ‘n kroon wat glinster oor sy grondgebied.

Amen.

Aanbidding en Lof

Skyfie: Ons is juwele in God se kroon.  God kroon ons met seën. Gesang 184 strofes 1, 2 en 3.    

Ons is die juwele van God se kroon, het Sagaria gesê.  God kroon ons met seën. Kom ons sing oor hoe God van ons sy kroon maak!  Sing hartlik saam  Gesang 184 strofes 1, 2 en 3.  

Sang

Projeksie: Speel drie strofes van die lied.  Doof die musiek uit na die derde strofe.

Gesang 184 strofes 1, 2 en 3.

Die wil van God

Skyfie: Kom na Hom toe, die lewende klip. 1 Petrus 2.

Ons is vir God soos die juwele in die kroon van ʼn koning: kosbaar. En Jesus Christus is vir ons wat glo, van onskatbare waarde.  

1 Petrus 2

4

Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is;

5

en laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis,

‘n heilige priesterdom,

om geestelike offers te bring wat, deur Jesus Christus, vir God

aanneemlik is.

6

Daar staan immers in die Skrif:

“Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer,

‘n hoeksteen,

uitverkore en kosbaar;

maar wie in Hom glo,

sal vir seker nie beskaamd staan nie.”

7

Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo,

maar vir ongelowiges geld,

“Juis die klip wat die bouers afgekeur het,

het die hoeksteen geword,”

8

En “’n klip waaroor ‘n mens kan struikel,

ja, ‘n rots wat jou kan laat val.”

Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is;

hulle was daartoe bestem.

 

Skuldbelydenis.

 Skyfie: Vir God is ons kosbaar. VONKK 288 strofes 1, 2.    

Sondaars wat ons is, ons bly die

Kroon van u skeppingswerk, u verteenwoordigers,

beelddraers van die Heer, wat oor u skepping heers.

Ú gee ons waardigheid, vir Ú is ons kosbaar, Heer.

Daarom het U, o Vader, Jesus vir ons gegee. 

Kom ons sing biddend VONKK 288 strofes 1 en 2.  

Sing

Projeksie: Begeleiding begin hier.  Speel die lied dwarsdeur.      

VONKK 288 strofes 1 en 2.

Geloofsbelydenis

Skyfie:  Ons glo. Apostoliese Geloofsbelydenis.  

Wat ons glo, is ook die verhaal van hoe ons die kosbare kroon van God se skepping geword het.   

 

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe

AMEN

Bevestiging van geloof

Skyfie: Jesus, U verbly my! Gesang 495 strofes 1 en 2.   

Kom ons sing dat ons in Jesus Christus rede tot blydskap vind, en nie in goed soos goud, robyne of pêrels nie.  Niks anders op aarde het vir ons soveel waarde nie. Sing Gesang 495 strofes 1 en 2.  

Sang

Projeksie: Begeleiding begin hier. Speel twee strofes.  

Gesang 495 strofes 1, 2.       

Aanbidding en Lof

Predikant

Skyfie: Kom ons bid saam. Gebruik jou eie gebedshouding.

Kom ons bid saam.  Bid soos jy gemaklik is.   

Gebed

Amen

Verkondiging

Predikant

Skriflesing

Skyfie: Matteus 13 : 45 en 46.

Lees saam met my uit Bybel.  Ons lees uit die Nuwe Testament, nog een van Jesus se stories, ʼn gelykenis oor hoe die koninkryk van God is.  Dit is bedrieglik kort en, vir ons, kripties, een wat ons nie sonder meer verstaan nie.  Ons lees uit die 2020-Afrikaanse vertaling van die Bybel.  Dit beslaan net dié twee Bybelverse, Matteus 13 verse 45 en 46.  

Matteus 13

45

“Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n handelaar op soek na goeie pêrels.

46

Toe hy een baie kosbare pêrel vind, het hy gegaan en alles wat hy gehad het, verkoop en dit gekoop.

Hier eindig ons Skriflesing. Bid dat ons die Here se Woord daaruit sal kan hoor.

Prediking

Skyfie: Pêrels in asyn. Al sy pêrels, fraaie pêrels (en dorings) vir Jesus se kroon! Matteus 13 : 45 en 46. 7 Augustus 2022, Kampersrus. Pinkster. Heilige Gees.

Daar is bitter min sprake van pêrels in die Bybel.  As van pêrels gepraat word, is dit selde met bewondering.  Daarom, as Jesus sê jy kan met ʼn storie oor iemand wat pêrels verkwansel, iets goeds oor die koninkryk van God kwytraak, is sy gehoor klaar kwaad.  Ons?  Ons vang dit nie.  Ons gaan eers moet redes soek om ons vir Jesus te vererg.  Ons gaan ons eers moet probeer indink wat  Judeërs 2000 jaar gelede, toe Jesus in hulle strate kom loop en rondom roosterkoeke en rooiwyn by hulle kom kuier het,  Hom hoor sê het.

Vir hulle het die storie só iets geklink:

Waar God regeer, gaan dit soos met ʼn vent wat geld maak uit pêrels te koop en verkoop.  Ek weet, ek weet, pêrels staan ons mense nie aan nie!  Pêrels is nie kosjer nie; oesters en pêrels hou verby, bly weg, mos!  Maar hierdie ou het geen erg aan God se Wet nie.  Is hy ʼn Judeër, is hy nie ʼn goeie Jood nie.  Verbeel jou gerus maar hy’s ʼn heiden, want aan God steur hy hom baie min: Benewens dat hy versot is op pêrels, dryf hy nog handel ook met die grillerige goed.  Hy is  gedurig op die uitkyk vir goeie pêrels, pêrels met markwaarde.  Nou kyk, ek weet nie een van ons kan pêrels bekostig nie: Pêrels is die soort goed waarop ryk mense die geld bestee wat hulle van óns roof, die geld wat eintlik armes moes versorg. Hierdie knaap spoor hulle aan; hy verkoop aan hulle hierdie nuttelose juwele, ten duurste, hy maak ʼn lewe daaruit, bid jou dit aan!  Dit laat mens gril vir hierdie vergryp aan alles wat goed is.  En tog, tog is daar iets wat ons by hom kan gaan leer, al is dit uit die verknorsing waarin sy obsessie hom laat beland. Met sy handeldrywery in pêrels, of óns dié goed nou hoegenaamd kan veel of nie, ken hy nou al die verskil tussen ʼn doodgewone ou pêreltjie en ʼn buitengewoon waardevolle een; by gebrek aan ʼn beter woord, hy ken ʼn “goeie” pêrel as hy hom sien.  Op ʼn dag is dit toe mos presies wat hom oorkom: Hy kom op juis só ʼn “goeie” pêrel af, ʼn pêrel enig in sy soort, ʼn pêrel van onskatbare waarde, as pêrels jou ding is, bygesê. Jy sou kon sê die kêrel het die lotto gewen!  Maar nes met alle meevallertjies, beduiwel die pêrel die man se lewe.  Daardie een enkele pêrel is dié vonds van ʼn leeftyd, die beste pêrel ooit, die goue medaljewenner van alle pêrels, maar die ding ontwrig sy lewe só dat hy verarm.  Hier is sy dilemma: Met koop en verkoop van pêrels kan hy nie aangaan nie, want dit sou beteken hy moet hierdie pêrel van hom weer moes verkoop;  hy hét reeds alles anders wat hy eens besit het,  moes prysgee om net hierdie een pêrel in die hande te kry.  En hy sien nie kans om van hierdie pêrel afstand te doen nie.  Die knaap sit in tamatiestraat.  Só, manne broers, werk die koninkryk van God.  Dis ʼn tameletjie.   

Kom ek probeer verduidelik hoekom hoor Judeërs die storie só.  Kom ons begin by die handelaar self.  Daar kleef ʼn klankie aan die knaap.  ʼn Venter is ʼn verkoopsman.  Daar is baie goeie Venters (hoofletter “V”) maar in Jesus se wêreld nie veel goeie venters (“v”, kleinletter) nie, vandaar ook ons Afrikaanse “vent”. Benewens die feit dat hulle jou verneuk, smeer hulle goed aan jou af wat jy eintlik nie wil hê nie, of nodig het nie, en ook nie kan bekostig nie.  Hulle verlei jou met begeerte.  Onthou julle die dae van tyddeelbemarkers? Jy kon ʼn naweek gratis op ʼn oord gaan deurbring, mits jy die druk kon weerstaan om sommer nou tyddeel te koop, want nou-nou is te laat.  Deesdae is dit telebemarkers wat jou mal maak, sodat ek ʼn toep moes kry om hulle stil te kry.  Hoe sê ʼn ordentlike mens “nee” sonder om aanstoot te gee?  Verkoopsmense is opgelei om jou “nee” te keer, nes Jehova ’s Getuies geleer word om op een of twee Bybeltekste wat hulle saak steun, te konsentreer; hulle reken daarop jy is nie so goed vir die gesprek voorberei soos wat hulle is nie.   En sommige verkopers is doodluiters skelm, soos internetvissers.  In doodgewone kooptransaksies vermoed jy by voorbaat al ʼn skelmstreek (hoe weet ek daar is nie met die gewigte gepeuter nie?) of sê nou daar is ʼn versteekte agenda (die hele storie word jou nie vertel nie: Hoekom wil hierdie ou van die ding ontslae raak?), of ʼn  kat in die sak, of ʼn spul fynskrif wat jy miskyk?    

Nie almal wat winkels het, is boos nie, nie eers in Jesus se tyd nie. Selfs priesters het handel gedryf.  Maar hierdie handelaar in Jesus se storie, “emporos” in Grieks, het nie ʼn goeie naam nie, byna so sleg soos die Joodse venters wat in jare her van plaas tot plaas wavragte begeerlike winkelgoed op ons platteland kom smous het.  Volksvreemde godloënaars is al opsigself verdag, en, ken jy die Bybel, ruik jy met emporos ʼn rot.  

Nou goed, toegegee, Matteus skryf dalk voor Johannes met sy Openbaringe vorendag kom, maar in Openbaringe, die enigste ander keer dat ons “emporos” in die Nuwe Testament kry, is die woord ook nie juis ʼn kompliment nie.  Babilon die Grote is die onderwerp van bespreking: Sy is die hedendaagse eweknie van destyds se Babilonië.  Sy is Rome.    

Openbaringe 18

3

. . . Al die nasies [het] gedrink. . . van die wyn

van die wellus van haar hoerery.

Die konings van die aarde

het onsedelik met haar verkeer,

en die handelaars [emporoi] van die aarde

het ryk geword

uit die aantrekkingskrag

van haar weelde.”

 

Dié einste handelaars treur oor Rome se val, terwyl gelowige mense mos oor haar ondergang sou jubel. 

Openbaringe 18

11

Ook die handelaars [emporoi] van die aarde huil en rou oor haar, omdat niemand hulle handelsware meer koop nie:

12

skeepsvragte goud en silwer, edelstene en pêrels [hoor julle: pêrels?], fyn linne, purper materiaal, sy en helderrooi materiaal, elke geurige houtsoort, elke voorwerp van ivoor, elke voorwerp van kosbare hout, van koper, van yster en van marmer,

13

kaneel en speserye, reukwerk, reukolie en wierook, wyn en olyfolie, meel en koring, beeste en skape, perde, rytuie, slawe, en ook menselewens.

Hoor julle waar eindig dit?  Hulle dryf handel ook met “menselewens”.

In die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta, het handelaars dieselfde slegte naam. “Emporoi”, handelaars, verkoop Josef aan slawerny, en maak Salomo ryker as wat vir hom goed is.  Selfs “emporion”, Grieks vir besigheid, en die besigheidswêreld, “emporia”, alle handel in luukse goedere per se, is in die Bybel al verag.  Jesus gooi tafels om en jaag verkopers uit die Jerusalemtempel uit, want hulle maak van die Vader se huis ʼn “emporion”, ʼn hool waar handelgedryf en wins gemaak word.  In ons tyd is “emporoi” soos Elon Musk gevierde mense, en entrepreneurs dapper.  Destyds sou rooi vlaggies wapper.

In die besigheidswêreld, die wêreld van handel, was pêrels van die duurste goed wat jy kon koop, selfs duurder as robyne, en hulle was so skaars soos hoendertande.  Die meeste mense sou al van pêrels gehoor het, maar selde een te siene gekry het.  Het jy self een besit, was dit ʼn statussimbool soos min ander. In Israel, sou jy verwag, moet daar vir dié goed geen afset wees nie. Pêrels stink. Oesters is nie kosjer nie. Jy sit nie jou mond aan die goed nie.  Hoekom dan sou die pêrels wat dié goggas voortbring, hoegenaamd vir Judeërs waarde hê?  Daarom hoor jy in die Bybel byna nooit van pêrels nie; wel van robyne, smaragde en saffiere, maar nie pêrels nie.  Pêrels is waarmee heidene behep is.  In Job 28 : 18 sou die woord “pêrels” wat nou daar staan, beter met “korale” of “juweliersware” vertaal kon word. 1 Timoteus 2 : 9 maak dit duidelik pêrels is nie paslike kleredrag nie.  Om verkoopsman te wees, is al bedenklik, verkoop jy dus nou nog dié grillige goed, is jy nie naastenby die toonbeeld van iemand wat jy in die koninkryk van God sou aantref nie.   

Maar, vraag en aanbod is magtige drywers van die ekonomie.  En mense met geld om te koop, was nog nooit anders nie:  Hulle kóóp!  Om te spog, mos. Ek onthou toe ons in Engeland was – en dis nou sewe jaar gelede al – hoedat, in die “City of London”, die metropool se besigheidskern, ʼn enkele middagete jou £1000 kon kos. Van Cleopatra word die legende vertel dat sy by die Romeinse keiser Markus Antonius grootgepraat het sy kan by een enkele ete op haar eie meer as $1 miljoen opeet; teen gister se wisselkoers, meer as ZAR16,5 miljoen. En dié tannie het nie gespeel nie.  Sy hét.  Vir nagereg is vir haar ʼn bord asyn opgedek. Sy haal toe een van haar pêreloorbelle af, sit dit in die asyn en hou dop hoe die pêrel daarin oplos.  Toe drink sy die asyn.  ZAR 17 miljoen.  Njam!     

Is dit regtig hoe die koninkryk van God werk, Jesus?  ʼn Geldwolf en ʼn twyfelagtige luukse item wat nie hou nie?

Hoor weer die storie:

ʼn Man met skeefgetrekte waardes maak geld uit ʼn bedryf wat jy nie in goeie geselskap uitlap nie.  Hy is gedurig op soek na die verkeerde goed, produkte afkomstig van ʼn nie-kosjer gedierte, en onderskei selfs tussen “goeie” en slegte” drek.  Hy soek na en koop en verkoop sogenaamde “goeie” pêrels, ʼn luukse wat min mense kan bekostig, nóg minder ordentlike mense sal koop, en daarbenewens ʼn item met baie min nut anders as om mee te koop te loop dat jy skatryk is, ten koste van al wat ʼn arme drommel wat jy moes uitgebuit het om te kom waar jy is.  En al hét jy eerbaar aan jou rykdom gekom, sulke uitspattigheid walg, want dit is ten koste van geld wat armes aan die lewe moes hou.  En dan, op ʼn goeie dag, vind hierdie pêrelsmous iets waarop hy nie gereken het ooit kan gebeur nie:  Hy vind die een pêrel wat hy nie weer kan verkoop nie.  Hy is aan die ding verknog.  Hy raak onverskillig:  Hy belê alles wat hy het, sy laaste sent, sy hele voorraad pêrels, in net een enkele pêrel wat geen herverkoopwaarde het nie.  Skielik is hy nie meer ʼn pêrelsmous nie.  Skielik is hy arm, behalwe vir sy een pêrel.  

Pla dit hom?  Wel, as jy ʼn smaak vir armoede het, seker nie.  Maar dalk ook nee, want die één pêrel wat hy nou het en nooit van ontslae sal raak nie, laat hom ryk genoeg voel.  Hy is vergenoegd.  Hy soek nie meer nie. Hy is tevrede met wat hy het. Hy voel vervuld. Hy het van almal die beste pêrel wat daar is;  hy’s ʼn kenner, hy weet.  Daar is geen nodigheid meer vir op soek te gaan na pêrels beter as hierdie een nie.  In sy eie kop is hy van mense die mees bevoorregte, die een met die beste pêrel in die skepping.  Noudat hy die pêrel het, kan niemand dit van hom afvat nie, en geen geld kan dit by hom koop nie.  Die res van ons soek gedurig na nog goed om mee te spog en die bure mee te troef.  Hierdie ou het gearriveer.  Hy het niks meer nodig nie.   

Kortom, die koninkryk van God is van alles wat jy in hierdie wêreld in die hande kan kry, die kosbaarste skat ooit. Maar moenie die fout maak om te dink die koninkryk van God maak jou paaie gelyk nie.  Die koninkryk van God verfonkfaai die lewe wat jy gehad het.  Die koninkryk van God laat jou nie die opsie om te bly wees wat jy nog altyd was nie, en te bly leef en doen soos jy gewoond is nie. Vind jy die koninkryk, het jy jou vasgeloop, in God vasgeloop.

In ons wêreld is pêrels meer gesog as vir Judeërs destyds.  Ons is daardie ryk mense in die gelykenis wat alewig meer skatte wil inpalm. Ons sou dit met dié gelykenis ʼn bietjie verder kon waag.  Kom ons doen dit, net vir die grap.

ʼn Pêrel is die natuurlike produk van ʼn lewende organisme.  Geen ander spesie produseer sulke goed nie. ʼn Oester is so ʼn primitiewe gedierte, en tog skep dit iets uit niks wat mense nie kan droom om te maak nie.  En ʼn pêrel is ʼn mooi ding.  Die oester vervaardig ʼn pêrel onder lewensbedreigende omstandighede:  Hy probeer sy kwesbare sagte lyfie beskerm teen ʼn sandkorrel wat hom stukkend krap, meer as net ʼn klippie in sy skoen; dis dodelik.  Hy maak van die klippie wat sy skulp binnegedring het ʼn pêrel, en hy doen dit as’t ware lydend, al huilend, met baie trane.  Wat jy, pêrelversamelaar, later uit daardie skulp sal haal, is gepaste juwele vir die krone van konings, en die ore van Cleopatras. 

As Jesus ʼn oester was, en nie ʼn mens nie, sou ek en jy, stof in sy skulp, die beste pêrels ooit word, pêrels wat pas op Jesus se kroon.  Maar Jesus is ʼn mens, en die kroon wat Jesus dra, is van dorings.  “Al sy pêrels, fraaie pêrels, vir Jesus se kroon”? Nee, helaas, ver daarvandaan.  Ek en jy is meer doring as pêrel, meer marteling as salf, bron van lyding eerder as van seën, trane eerder as blydskap. Die pêrels wat ons stadigaan word, dit alles is die werk van God.

Die dag as jy dit uitvind, is jou eie lewe kapot.  O, jy mag spog dat jy nou ʼn gladde, blink pêrel is, maar ten diepste is jy greinerige grond, ʼn enkele stofkorrel wat, as Christus jou nie verander nie, die dood aanbring. Op jou eie het jy geen waarde nie.  In die koninkryk van God het niks meer waarde as wat jy nou het nie.  Niks anders maak vir jou meer saak nie.  God se koninkryk word jou eindbestemming, en jy kom daar aan sonder om meer te begeer, of iets anders te soek. 

Dit is ʼn skokkende gewaarwording vir ʼn ou wat alles, ook die waarde van pêrels, in kontant verreken.  Pêrels, weet ons almal, gooi jy nie sommer vir die varke nie.   

Kom ons gestel daar was een pêrel, een onvergelykbare pêrel in jou lewe wat jou hele menswees bepaal, wat, sou jy dit kry en kon hou, jou só gelukkig sou maak dat jy niks, net mooi niks, daarvoor sou verruil nie, maar inteendeel, jy alles wat het daarvoor sou betaal, jou ganse bestaan sou verander; wat sou daardie pêrel wees?   Dink ʼn bietjie, hoe lyk jou pêrel?  Die dag as jy dit weet, sal jy vir die eerste keer kan peil wat God vir jou werd is.  

As jy nie daarvoor kans sien nie, gooi jy eintlik maar jou pêrels vir varke.  Moenie!  Gooi jou pêrels liefs in ʼn koppie asyn.  Hoekom nou goeie goed op varke mors, nè?

Amen.  

Skyfie: Jy is kosbaar: ʼn pêrel in sy kroon, én ʼn doring. Gesang 478 strofes 1 en  2.

As jy vir God sou vra wat vir Hom kosbaarste is, waarvoor sal Hy sy lewe gee, sal Hy antwoord: Jy!  Hy het jou klaar, en baie duur gekoop.  Sê dit met Gesang 478.

Sang (Staan)

Projeksie: Begeleiding begin hier. Speel net twee strofes.  

Gesang 478 strofes 1 en 2.    

Wegsending

Predikant

Seën (Staan)

Skyfie: “Dit wat in die mens se hart verborge is, en wat in God se oë baie kosbaar is.” 1 Petrus 3.

Ontvang die seën van die Here uit    

1 Petrus 3

3

Julle skoonheid moet nie op uiterlike dinge berus nie – soos die vleg van hare, die dra van goue juwele, of die aantrek van elegante klere nie;

4

maar op dit wat in die mens se hart verborge is – die onverganklike skoonheid van ‘n saggeaarde en rustige gees, wat in God se oë baie kosbaar is.

Amen.

Sing respons

Projeksie: Begeleiding begin hier. Speel die hele lied.

VONKK 338

Skyfie: Foto.

Skyfie: Uitstapmusiek. Pêrels in asyn. Al sy pêrels, fraaie pêrels (en dorings) vir Jesus se kroon! Matteus 13 : 45 en 46. 7 Augustus 2022, Kampersrus. Pinkster. Heilige Gees. Transkripsie: https://hennielagrange.wordpress.com/

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.