Godgom

Die Drie-Enige God is van liefde aanmekaargesit. . .

Liefde is Godgom.

David Lose, outeur van die blog “In the Meantime” sê “liefde” is sy snelskrif vir die Drie-Eenheid.

  • Die Vader het lief.
  • Die Seun is die Vader se geliefde.
  • Die Heilige Gees is die liefde wat die Vader en die Seun vir mekaar het.

Liefde is die gom wat van Vader, Seun en Gees een God maak.

Nee, dit verklaar nie hoe die Drie-Eenheid lyk of werk nie. Maar dit help om ons te laat verstaan dat die Drie-Enige God se liefde te groot is om met die liefde van net persoon beskryf en verduidelik te word.

God se liefde is soos die liefde van ‘n hele gemeente, ‘n ganse gemeenskap, ‘n hele mensdom.  Noe omdat almal liefhet nie, maar omdat God se liefde groter is as die liefde waartoe ons almal saam in staat is.

Dié liefde gom ook vir jou en my aan God vas.

Johannes 3 : 1 tot 21

7 Junie 2020, NHKA Kampersrus

Drie-Eenheidsondag


Liedere in hierdie erediens

VONKK 74 strofes 1, 2 en 3.

VONKK 107 die hele lied.

VONKK 76 strofes 1, 2, 3, 4 en 5

 

VONKK 76

Onsterflik, onsienlik, almagtig en wys

Onsterflik, onsienlik, almagtig en wys,

o God, so verhewe, u Naam wil ons prys.

Ons eer en aanbid U, o God van die tyd.

U heers as oorwinnaar vir nou en altyd.

Die skepping, o Vader, getuig van u krag.

Ons kan U nie sien nie, tog heers U met mag.

U goedheid en liefde is tekens van seën.

Ons weet U’s teenwoordig hier rondom ons heen.

O God, U gee lewe aan klein en aan groot.

U sorg vir u skepsels, tot selfs in die dood.

Van alles op aarde bly U steeds die bron.

Al sterf ons, U bly daar – die ewige Son!

O Vader, die heerlikheid straal van u troon,

met hemelse luister tot hier waar ons woon.

U glansryke glorie maak duisternis lig –

selfs engele steier, verberg hul gesig.

Onsterflik, onsienlik, almagtig en wys,

o God so verhewe, u naam wil ons prys.

Ons eer en aanbid U, o God van die tyd.

U heers as oorwinnaar vir nou en altyd.

 

Teks: Immortal, invisible – Walter Chalmers Smith (1824-1908); Jacques Louw 2008 ©

Musiek: ST DENIO – tradisionele Walliese melodie (Canradau y Cyssegr)

© Teks: 2009 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)

© Musiek: Openbare besit

RUBRIEK:  Klassiek – Skepping en Onderhouding


Vooraf

Skyfie: Drie-Eenheidsondag, 7 Junie 2020. Godgom

Predikant

Kerklike Jaar

Dis Drie-Eenheidsondag.  Maar ek kan nie anders nie as om te glo vandag is om baie redes spesiaal, nie.  Dis ‘n seën dat ons mekaar weer kan sien.

Skyfie: Eerbetoon. Rienie en Thea

Daar is twee mense wat nie hier is nie en ook nie weer sal kom nie.  Thea van Zweel en Tannie Rienie Verster is sedert ons laas saam was, dood.  Kom ons onthou hulle eers.  Staan en sê dankie vir hulle lewens.  Bid vir Elisma, Paul, Tharine en Noelien en hulle gesinne. Bid vir Callie, Juanita en die manne.

Amen.

Nie een van hierdie twee gesinne kon saam met hulle naastes rou nie.  Hulle kon ook nie by die begrafnisse wees nie.  Ons kan nou nog nie eens vir hulle sing nie.  Maar ons kan luister en neurie.

Skyfie: VONKK 74 strofes 1, 2 en 3.  Die Heer sal jul seën.   

Kom ons doen dit met VONKK 74.  Dis die seënbede van Numeri 6.  Die laaste strofe is in Engels.  Mag julle wat bedroef is, die Here se seën agterkom.  Wees verseker van ons almal se gebede vir julle. Bly sit vir VONKK 74.

Sing

Begeleiding begin hier.

VONKK 74 strofes 1, 2 en 3.

Toetrede

Predikant

Skyfie: Kom tuis!

Dis ‘n doodgewone Sondag, maar my beker loop oor, oor erediens!  Dis nie dat ons glad nie erediens gehou het nie; ons hét!  Om mekaar net weer te kan sien, is om God opnuut in julle te ontmoet.  Dis ‘n voorreg.   Kom ons luister na Sophie wat vir ons Psalm 84 gaan voorlees.

Voorlesing Sophie Croukamp

Skyfie: Voorlesing. Psalm 84.  Sophie Croukamp.

Begeleiding begin hier.  Speel baie saggies die Psalm in die agtergrond en doof uit as Sophie gaan sit.

Psalm 84

2        

Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!

3        

Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.

4        

Selfs ‘n mossie het ‘n nes en ‘n swaeltjie ‘n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God!

5        

Dit gaan goed met mense vir wie u huis ‘n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. Sela

6        

Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan.

7        

Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek en die vroeë reëns sy seëninge bring.

8        

Keer op keer ontvang hulle nuwe krag totdat hulle voor God in Sion verskyn.

9        

Here, almagtige God, hoor my gebed, luister tog, God van Jakob! Sela

10      

Sien tog om na die koning, ons beskermer, o God; hou u gesalfde onder u sorg.

11      

Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God.

Predikant

Votum en Seëngroet (Staan)

Skyfie: Votum en Seën. Niks verskaf aan God groter vreugde nie. . .

III Johannes

1 en 2

Liewe Gaius, my vriend, wat ek waarlik liefhet.

Ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan.

3        

Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel, hoe jy in die waarheid lewe.

4        

Niks verskaf my groter vreugde nie as om te hoor dat my kinders in die waarheid lewe.

Amen.

Aanbidding en Lof

Predikant

Skyfie: Luister net na Psalm 96. Voorlesing.  Coenie en Illandi Scheepers.

Sit gerus, dan loof ons die Here deur te luister na Psalm 96.

Voorlesing:  Coenie en/of Illandie Scheepers

Skyfie: Psalm 96. Sing tot eer van die Here!

1        

Sing ‘n nuwe lied tot eer van die Here, sing tot eer van die Here, almal op aarde!

2        

Sing tot eer van die Here, prys sy Naam, verkondig elke dag sy reddingsdade!

3        

Vertel die nasies van sy mag, al die volke van sy magtige dade.

4        

Die Here is groot, al die lof kom Hom toe, ontsagwekkend is Hy bo alle gode.

5        

Al die gode van die volke is niks: dit is die Here wat die hemele gemaak het.

6        

Majesteit en luister straal van Hom uit, krag en glans vul sy heiligdom.

7        

Prys die Here, alle volke, prys die Here om sy eer en mag!

8        

Prys die Here om die eer van sy Naam! Kom na sy voorhowe toe, bring vir Hom offers!

9        

Buig voor die Here by sy heilige verskyning; betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.

10      

Verkondig onder die nasies: “Die Here regeer; die wêreld staan vas, dit wankel nie; die Here sal die volke regverdig oordeel.”

11      

Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, die see en alles daarin moet druis,

12      

die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die bos moet hulle verheug

13      

voor die Here, want Hy kom, Hy kom om oor die aarde te heers. Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.


Ouderling

Wil van God

Skyfie: Die Here se wil.  Markus 12.

Luister wat sê Jesus is die Here se wil, uit Markus 12.

28      

Een van die skrifgeleerdes vra [toe] vir [Jesus]: “Wat is die heel grootste gebod?”

29      

Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.

30      

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’

12:30: Vgl. Deut. 6:4-5 .

31      

Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

Skuldbelydenis

Skyfie: Skuldbelydenis. Psalm 51.

Kom ons bely saam dat ons sonde.  Psalm 51, ‘n psalm van Dawid, doen dit só:

3        

Wees my genadig, o God, in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!

4        

Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!

5        

Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.

6        

Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.

Genadeverkondiging

Skyfie: Genadeverkondiging. Psalm 32.  

Hoor hoe genadig is die Here met mense wat oor hulle sonde eerlik is.

Psalms 32

5

Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid;” en U het my skuld vergewe.

Geloofsbelydenis

Skyfie: Geloofsbelydenis van Atanasius.

Kom ons bely ons geloof met net ‘n uittreksel uit die Geloofsbelydenis van Atanasius. 

Die algemene geloof is:

  • Dat ons die één God in die drievuldigheid en die drievuldigheid in die eenheid eer,
  • sonder om die persone te vermeng of die substansie te deel;

Skyfie: Grafika: Die Drie-Eenheid.

  • want die Vader is ‘n afsonderlike Persoon, iemand anders as die Seun, en iemand anders as die Heilige Gees;
  • maar die Vader, die Seun en die Heilige Gees is één Godheid met gelyke eer en mede-ewige majesteit.
  • Soos wat die Vader is, so is ook die Seun en net so is ook die Heilige Gees,
  • Ongeskape
  • Onmeetlik
  • Ewig
  • En tog is dit nie drie gode nie, maar één God;
  • net so is die Heer Vader, die Heer Seun (en) die Heer Heilige Gees;
  • en tog is dit nie drie Here nie, maar dit is één Heer.
  • Die Vader is deur niemand gemaak of geskape of verwek nie.
  • Die Seun is deur die Vader alleen, nie gemaak of geskape nie, maar verwek.
  • Die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun, nie gemaak, geskape of verwek nie, maar Hy gaan van die Vader en die Seun uit.
  • So is daar dan één Vader, nie drie Vaders nie, één Seun, nie drie Seuns nie, één Heilige Gees, nie drie Heilige Geeste nie.
  • Al drie persone is onderling mede-ewig en volkome aan mekaar gelyk,
  • só, dat in alle opsigte, die eenheid in die Drievuldigheid en die Drievuldigheid in die eenheid geëer moet word.

 

Skyfie: VONKK 107.  Leer ons die liefde wat u vir ons het.

Luister nou na hierdie lied wat vra dat God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees ons moet leer hoe lief die Drie-Enige God ons het.

Luister na die musiek (Bly sit)

Begeleiding begin hier.  Speel die hele lied. 

VONKK 107 die hele lied.


Predikant

Gebed

Skyfie: Kom aanbid die Een en Enigste God, Vader, Seun en Heilige Gees.

Verkondiging

Predikant

Skyfie: Skriflesing Johannes 3 : 1 tot 21, bladsy 129 (1983)

Skriflesing (Sit)

Ons lees uit die Nuwe Testament.  Ons lees die evangelie volgens Johannes 3 : 1 tot 21. Dis op bladsy 129.

Johannes 3 : 1 tot 21

1        

Daar was ‘n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ‘n lid van die Joodse Raad.

2        

Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”

3        

Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

4        

Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”

5        

Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.

6        

Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

7        

Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.

8        

Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

9        

Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”

10      

En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie?

11      

Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie.

12      

Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel?

13      

Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens.

14      

Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word,

3:14: Vgl. Joh. 12:32-33.

15      

sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

16      

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

17      

God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

18      

Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

19      

En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg.

20      

Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.

21      

Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”

Hier eindig die Skriflesing.

Geloof kom van wat jy hoor. (Romeine 10:17)

 

Preek (Sit)

Skyfie: Drie-Eenheidsondag.  Godgom.  

Ons hou ons lyf vandag Nikodemus:  Ons soek Jesus op. Kon ons nie ook maar by die huis gebly het en oor die foon na die preek geluister het nie?   Om hierheen te kom, was veel gevaarliker: Óns kan siek word.  Nikodemus se reputásie is in gevaar:  Hy behoort aan die party van die Fariseërs, en is lid van die Joodse Raad, die “Volksraad” wat regeer oor eie sake.   As dit sou uitkom dat hy met Jesus heul, is sy integriteit daarmee heen.  Daarom wag Nikodemus dat dit donker word, sodat hy Jesus ongesiens kan besoek.   In sy guns tel dat hy tog die risiko loop om vir Jesus te kom uitluister.

Maar waarom?  Wat wil Nikodemus van Jesus hoor?  Wel, dit lyk of Nikodemus wil weet wie Jesus nou eintlik is, want van Jesus se wondertekens word wyd en syd gepraat.

2

Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.

Nikodemus weet, sonder twyfel, dat Jesus van God af kom. Maar waar presies staan Jesus met God?, wil Nikodemus by Jesus weet.

Jesus gáán vir Nikodemus antwoord, maar Jesus weet by voorbaat Nikodemus gaan Hom nie glo nie.  Was Nikodemus oopkop, sou hy nie in die donker rondgesluip het nie. Nikodemus sou ook net drie keer praat.  Eers sê hy hy en sy party weet Jesus kom van God af, en dan, twee keer na mekaar sê hy: Jesus praat twak.

Die gesprek tussen Jesus en Nikodemus word dikwels gebruik om “weergeboorte” te verduidelik, maar ek dink nie dis waaroor hierdie gedeelte in die eerste plek gaan nie.

Ek dink Jesus antwoord Nikodemus: Daar is baie struikelblokke in jou pad, Nikodemus.  Jou voorveronderstellings gaan jou pootjie.  Jy gaan alles wat jy dink jy weet, moet vergeet.  Maar dis by jou so diep gewortel, niks minder as dat jy weer gebore word, gaan help nie.

As jou rekenaar se kop hom los, herlaai jy hom (reboot), dan reken die ding weer, as jy gelukkig is.  Want soms moet jy Windows herlaai, en soms moet jy na ‘n nuwer weergawe van Windows opgradeer, en daar kom ook ‘n tyd dat jy besluit dis tyd vir Lynux of Apple Mac, stelsels wat dieselfde data verwerk, maar op geheelenal nuwe maniere, en jy gaan moet van nuuts af probeer uitreken hoe rekenaars reken.

Die geneuk is, ‘n mens kan jy nie so herbedraad nie. Om te verander hoe ‘n mens dink, gaan jy hom na die baarmoeder toe moet terugvat en van heel voor af oormaak. Dis wat Jesus bedoel as Hy sê:

Dit verseker Ek jou:  As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.

Ag kom nou, Jesus, dis wetenskapsfiksie dié.  Só verstaan ek Nikodemus se antwoord.  ‘n Ou man, terugklim in die baarmoeder in en weer gebore word? Belaglik. Nee wat, Jesus, probeer weer.

Jesus probeer weer:  “As iemand nie opnuut gebore word nie. . .” herhaal Hy, maar hierdie keer voeg Jesus twee idees by wat Hy hoop die man sal help verstaan.

“As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.” 

Met water, dink ek, verwys Jesus na die doop.  Die doop is ‘n godsdiensrite. Vir Johannes die Doper en nou ook Jesus, is om met water gewas te word, simbolies vir van sonde skoongewas te word.  Dié gebruik bestaan by julle Jode ook al, sê Jesus.  Jode het reinigingsrites, en nie net vir goeie higiëne nie.  Met afwassing van jou sonde gaan jy van sondige en sterflike mens, gebore uit ‘n mens, oor na gees wat uit Gees (hoofletter G) gebore is.  (Onthou vir Paulus in I Korintiërs 15:  Ons sal nie almal doodgaan en opstaan nie, maar ons sal almal in geestelike liggame verander word. Hier sê Jesus dit ook.)  In hierdie nuwe jy, weeg jou gees nou swaarder as jou lyf.

Moet ook nie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het julle moet opnuut gebore word nie, sê Jesus.  Dit werk soos die wind.  (Onthou nou, dit was lank voor weerkunde hierdie.  Ons weet nou van hoë en lae lugdruk wat winde laat waai.)  Jesus sê: “Die wind waai waar hy wil.  Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie.  (Hoor julle die eggo van Pinkster hier?  Die geluid van die wind wat waai, maar waar, waarheen en waarvandaan weet jy nie.)  Net so is dit ook met elkeen wat uit die Gees gebore is.  So, Nikodemus, om dit te verstaan, gaan jy die Gees nodig hê.

En weer antwoord Nikodemus: “Nee, wat, dis te dik vir ‘n daalder.  Dis onmoontlik.”

Jy noem jouself ‘n leermeester van Israel, Nikodemus, en jy verstaan dit nie?  Jy sê jy weet Ek kom van God af, maar jy steur jou nie aan My as Ek praat oor goed wat vir Israeliete tog algemene kennis oor God behoort te wees nie?  Jy sê jy glo God is by My, want jy het My gesien wonders doen, maar dan as Ek jou vertel wat Ek van die hemelse dinge weet, lag jy My uit?

Kom Ek vertel jou wie Ek is, Nikodemus.  Niemand op aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens.  Dis Ek.  Jy het dit netnou nog self gesê, en nou skram jy weg?

Met Nikodemus so ‘n vooraanstaande Bybelkenner, span Jesus ‘n beeld in wat Nikodemus behoort te kan verstaan:  Moses het, toe slange die volk gepik het en hulle in groot getalle sterf, ‘n slang van koper gemaak en aan ‘n paal opgehang, en kyk jy na die ding, word jy van die vergiftiging gesond.  Nou ja, net soos hierdie slang, net so sal die Seun van die mens ook opgehang word, en mense wat in Hom glo, sal van sonde gesond word en ewig lewe.

Nikodemus sê niks.

Wil jy weet waar Ek en God met mekaar staan, Nikodemus?  Kom Ek sê jou.  En hier volg seker die roerendste twee tekste van die hele Nuwe Testament.

16      

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

17      

God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 

Hoor jy, Nikodemus, Ek het gesê Ek is die “Seun van die mens”, en dat “die Seun van die mens” soos die slang verhoog moet word, sodat elkeen wat in die Seun van die mens glo die ewige lewe kan hê?  God het ‘n Seun, net die een Seun.  God gee sy een en enigste Seun, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Sien jy die ooreenkoms?  Nou wie dink jy is dit, Nikodemus?

Ek wonder: Gaan daar al vir Nikodemus ‘n liggie op?

Moenie bang wees nie, Nikodemus.  Ek veroordeel nie, Ek red.  Glo in My. Ek, die Seun van die mens, is die Seun van God.

Maar pasop vir die donker, Nikodemus. Net mense wat kwaad doen, doen dit in die donker.  Maar ek hoor daar is vir Nikodemus nog lig in die tonnel.  Nikodemus het na Jesus toe, na die waarheid en die lig toe gekom.

Op die oog af is hierdie net nóg ‘n stryery tussen Jesus en ‘n Fariseër.  Maar as jy uit die Johannesevangelie lees, lees jy ‘n gedeelte nooit net eenmaal nie; jy lees hom altyd dadelik weer, want Johannes se evangelie werk soos die lagies van ui wat jy moet afskil.

Gaan kyk, Jesus se gesprek met Nikodemus, sal jy sien het drie dele.

Eers gaan dit oor

Skyfie: God die Heilige Gees. 

God die Heilige Gees:

  • Jy moet weer gebore word.
  • Deur water en die Gees gebore word.
  • Want wat uit ‘n mens gebore is, is mens, en wat uit die Gees gebore is, gees.
  • Word jy nie gees nie, kan jy nie in die koninkryk van God in nie.

Dan, in deel twee, praat Jesus oor

Skyfie: God die Seun.

God die Seun:

  • Die Seun van die mens kom van God af.
  • Die Seun van die mens weet waarvan Hy praat as Hy ons van die aardse dinge vertel.
  • Die Seun weet ook waarvan Hy praat as Hy van die hemelse dinge praat: Hy kom daarvandaan! Niemand anders behalwe Hy was al daar nie.
  • Die Seun gaan soos die slang opgehang word. Hy is medisyne vir die gif wat mense doodmaak:  die gif van die paradysslang, die sonde.
  • Die Seun van die mens is ook die enigste Seun van God.

En dan in die derde deel,

Skyfie: God die Vader. 

God die Vader

  • God, die Vader, het die wêreld so lief Hy gee sy enigste Seun sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
  • God die Vader stuur nie sy Seun om die wêreld te kom veroordeel nie, maar om die wêreld deur Hom te red.
  • Glo jy in die Vader se Seun, is die oordeel vir jou verby, uit en gedaan, en is jy gered.
  • Glo jy nie in God die Vader se enigste Seun nie, is jy reeds veroordeel.

Jesus, waar staan jy met God?, wou Nikodemus weet. Jesus is God die Seun, God die Vader se enigste Seun.  God die Heilige Gees laat jou in Jesus glo, en Hy maak jou van sonde vry.

Skyfie: Drie-Eenheidsondag.  Godgom. 

Ek wou hê julle moes agterkom daar is ‘n gom wat die Drie-Eenheid aanmekaarhou:  Liefde.  God het die wêreld lief. Dis seker nie nuus nie, maar dis so moeilik om te glo dat ons telkens, net soos Nikodemus, neig om te sê: Dis onmoontlik, te goed om waar te wees.  Liefde is so raaiselagtig soos die Drie-Eenheid onmoontlik is om te begryp. Daarom moet ons dit oor en oor hoor:

  • God ons Vader skaam Hom nie vir ons nie.
  • Jesus en die kruis wys hoe ver God gaan om liefde vir ons te bewys: Die liefde stuit vir niks, sê die kruis, en liefde is sterker as die dood, sê die opstanding.
  • Die Heilige Gees sê God gril nie vir saam met ons in een liggaam te leef nie; ons is eie kinders.

Skyfie: Liefde is Godgom. 

Liefde is Godgom.

David Lose, outeur van die blog “In the Meantime” sê “liefde” is sy snelskrif vir die Drie-Eenheid.

  • Die Vader het lief.
  • Die Seun is die Vader se geliefde.
  • Die Heilige Gees is die liefde wat die Vader en die Seun vir mekaar het.

Liefde is die gom wat van Vader, Seun en Gees een God maak. Nee, dit verklaar nie hoe die Drie-Eenheid lyk of werk nie. Maar dit help om ons te laat verstaan dat die Drie-Enige God se liefde te groot is om met die liefde van net persoon beskryf en verduidelik te word.  God se liefde is soos die liefde van ‘n hele gemeente, ‘n ganse gemeenskap, ‘n hele mensdom.  Dié liefde gom ook vir jou en my aan God vas.

Amen!

Skyfie: Luister na VONKK 76 se 5 strofes. 

Bly net so sit en luister na VONKK 76.  Neurie dit saam as jy wil.  Daarna staan ons op vir die seën.  Ons sing hierna nie weer nie, dus geen respons aan die einde, na die seën nie.

Luister

VONKK 76 strofes 1, 2, 3, 4 en 5

Wegsending

Predikant

Skyfie: Seëngroet.  Staan op.  Johannes 3 : 16 en 17.  God het die wêreld so lief, Hy gee se enigste Seun. 

Seën (Staan)

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

17      

God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

Amen.


Skyfie: Godgom. Die Drie-Enige God het lief. https://hennielagrange.wordpress.com/

Afkondigings

Musiek begin hier.  Speel net saggies in die agtergrond.  VONKK 76 (Orrelbegeleiding)

Insameling van die dankoffers