Wys.

Photo by mali maeder on Pexels.com

Wys my God, Wysheid!

Spreuke 8.

26 Mei 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit.

Drie-Eenheidsondag


Voorleser

  Lees asseblief net wat so in ‘n blokkie soos hierdie een, staan.  

Skrifaanhalings

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. http://www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. http://www.biblesa.co.za.


Bron

Hier is gebruikgemaak van inligting op die webwerf http://www.textweek.com/, en veral van die bydraes deur Juliana Claasens by https://www.workingpreacher.org/commentaries/revised-common-lectionary/the-holy-trinity-3/commentary-on-proverbs-81-4-22-31-3

Liedere in hierdie erediens

Gesang 453 strofes 1, 2 en 3.

Gesang 454 strofes 1, 2 en 3.

VONKK 54 strofes 1, 2 en 3.

VONKK 203 strofes 1, 2, 3 en 4.

VONKK 195 strofes 1, 2 en 3.

Gesang 312


Lied vir uitsending

VONKK 54

1.  Ek glo in God, die Vader,

almagtig’ Skepper-Heer,

wat hemele en aarde

gemaak het en beheer.

Sy troon is heerlikheid,

en wonderlik sy dade;

deur sy geliefde Seun

verlos Hy uit genade.

2.  Ek glo in Jesus Christus –

Hy, van die Gees ontvang,

is uit ‘n maagd gebore,

moes aan die kruishout hang;

het graf en dood oorwin

as God van alle gode,

sal weer as regter kom

oor lewende en dode.

3.  Die Heil’ge Gees is ewig;

is Here en laat leef.

Hy maak sy kerk ook heilig –

en één en algemeen.

Aan God Drie-enig eer

wat sondeskuld vergewe,

die liggaam op laat staan

en ewig ons laat lewe!

Teks: AP van der Colf 1978/2001 © (gebruik met toestemming NG Kerk-Uitgewers)

Melodie: TAFELBERG – Dave Reid 2001

Orrelbegeleiding: Ockie Vermeulen 2010

© 2010 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)

RUBRIEK:  Klassiek – Geloofsbelydenis


Vooraf

Konteks en kerklike jaar 

Skyfie 1: Drie-Eenheid-Sondag.

Hierdie, die Sondag ná Pinkster, toe die Heilige Gees se verskyning herdenk is, dink ons oor God Drie-Enig: Dit is Drie-Eenheid-Sondag.   

Skyfie 2: Wys! Wys my God, Wysheid! Spreuke 8. 26 Mei 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Drie-Eenheidsondag.

Dit voel vir my altyd makliker om oor God Drie-Enig te sing as te praat.  Seker omdat ek nie self die woorde van liedere moes skryf nie – dit is mos maar altyd makliker om met ander se kalwers te ploeg.  Miskien is dit ook omdat daar iets poëties aan die Drie-Eenheid is, iets wat beter uit beelde en musiek blyk as wat redelike woorde kan sê. 

Sang

Skyfies 3 tot 8: Begeleiding begin hier.  Daar is drie strofes versprei oor 6 skyfies; speel die begeleiding tot aan die einde.

Gesang 453 strofes 1, 2 en 3.


Erediens

Votum

Skyfie 9: God kondig die erediens aan. Prediker 7 : 12

Prediker 7  

12

Want die wysheid bied beskutting.

Geld bied beskutting,

maar die voordeel daarvan

om die wysheid te ken, is:

Die wysheid hou dié wat haar besit,

lewend.

Seëngroet

Skyfie 10: God groet met seën. 1 Korintiërs 1

1 Korintiërs 1 

21

. . . Deur die wysheid van God, het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie.

God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging.

Amen.


Aanbidding en Lof

  Sing tot lof van die Vader, die Seun en die Heilige Gees almal saam uit Gesang 454.  

Sang

Skyfies 11 tot 13: Begeleiding begin hier. Speel die hele begeleiding.

Gesang 454 strofes 1, 2 en 3.

Wil van God

Skyfie 14: Die Here se wil.  Spreuke 8 : 13.

Luister na wat Wysheid sê, die Here van mense verwag, uit Spreuke 8  13 Ontsag vir die Here is om die kwaad te haat; verwaandheid, hoogmoed, ‘n verkeerde pad en ‘n verdorwe mond haat ek. Dus:  Het ons vir die Here ontsag? Haat ons die kwaad? Is ons nooit verwaand nie, nooit hoogmoedig nie? Bly ons altyd op die regte pad, of het ons dit tog ook soms mis? En hou ons ons monde in toom?  Nee.  Dit verg net een vers, en ons sonde is saamgevat.   

Genadeverkondiging

Skyfie 15: Spreuke 8 : 17.

Maar net so, met net een enkele vers, word ons van genade verseker. Spreuke 8 17 Wie my liefhet, het ek self ook lief, en wie my soek, sal my vind. Dit sê Wysheid, God se spreekbuis in Spreuke 8.  

Geloofsbelydenis

Skyfie 16: Geloofsbelydenis van Nicea.

Kom ons sê weer dat ons met die hele hart glo in God ons Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, want hierdie God wys Hy het ons lief.  So glo ons, doen God dit, soos wat saamgevat is in Geloofsbelydenis van Nicea Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;   en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;   God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;   deur wie alle dinge ontstaan het;   wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;   en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;   wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;   wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het;   wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;   en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.   Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.   Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;   ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.   Amen.   Kom en bely weer saam met my geloof in die Drie-Enige God, met VONKK 54.  

Skyfie 17 tot 21: VONKK 54.  

Sang

Begeleiding begin hier.  Speel die hele lied. 

VONKK 54 strofes 1, 2 en 3.


Predikant

Gebed

Skyfie 22: Kom ons bid saam.

Amen.


Bly net so sit en sing VONKK 203.  Dit het 4 strofes.  Dit vra dat God ons wysheid moet wees.

Sang

Skyfie 23 tot 28: VONKK 203. Begeleiding begin hier.

VONKK 203 strofes 1, 2, 3 en 4.


Verkondiging

Skyfie 29: Wys! Wys my God, Wysheid! Spreuke 8. 26 Mei 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Drie-Eenheid-Sondag.

Preek

Moenie die fout maak nie om te dink ons het eers net een god gehad, net die een vadergod wat van alles wat bestaan, die oorsprong is, dat dié vader toe gemeenskap met ‘n vrou gehad en daar ‘n seun van gekom het, en dat nóg later ‘n gees sy verskyning gemaak het – iemand soos ‘n kleinkind, miskien? – en dié toe óók daarop aangedring het om god te wees, sodat ons nou met drie van hulle te make het, ‘n drietal verskillende gode. 

Nee, God is nog altyd God, en God is nog altyd Vader, Seun én Heilige Gees, aldrie tegelyk.  Maar dat God Hom geleidelik aan ons al hoe meer van Homself wys, is waar.  In die rolprent wat van die boek “The Shack” gemaak is (tans te sien op Netflix) is daar twee momente wat iets van die stuk-vir-stuk selfopenbaring van God probeer sê.  In die film word die karakter van die Vader deur ‘n vrou uitgebeeld.  Want, sê die karakter vir die man, ek besef dit is ‘n ma wat jy nou nodig het.  Op ‘n dag is die karakter van die vader egter ‘n man want, sê die karakter nou, vir wat ons vandag gaan moet doen, moet jy ‘n pa hê.  Maar ewe komies, dog raak, as die mens hulle drie vra of hulle dan aldrie saam god is, sê hulle, al drie van hulle tegelyk: “Ek is!,” soos God vir Moses, mos.    

As ons God in drie vorms geleer ken het, en dit in chronologiese volgorde – so voel dit mos – is dit omdat God Godself al hoe duideliker aan mense wys soos wat ons band met God verdiep.  Ons kry God al hoe nodiger.  Ons kry God op verskillende maniere nodig.  Maar óns groeiende begrip beteken nie God het verander nie; óns word groot. Wat ons nodig het, verander, wat ons wil hê, pas aan.  En telkens as ons vermoed God hou nie by nie, ons is by God verby, ons het God dalk oorleef, is God daar.  Ons leer God al hoe beter ken, en God is veel meer kompleks as wat ons gedink het. 

Wat ons van God weet, is verweef met ons eie wese en ons harde werklikheid, met óns lewe en verhoudings, God is verstrengel in ons nadenke en ervaring, en dit verg deurdagtheid en ondervinding om ons te vervul.  Jesus sê diegene wat honger is om meer van God te weet, is gelukkig, ons sal Hom leer ken. Hierdie honger stil jy met leergierigheid, iets wat nie natuurlik kom nie.  Daar is goeie rede vir waarom ons praat van vervulling met die Heilige Gees, en dit gaan om meer as dat ons vol word van Hom, dit gaan ook om ons honger na God, die drang om meer oor God te wete te kom, ‘n drang so dringend soos hongersnood. 

Tersyde:  Ek het die afgelope tyd ‘n paar keer mense gehoor sê hulle verstaan nie wat ek preek nie, en hulle dink ander mense sukkel dalk ook.  Een het gesê ek snoer gesprek.  ‘n Ander het gesê ek rol struikelblokke in die pad van hulle geloof.  Nog een noem wat ek sê onsin, mense gaan hier van ons af weg, omdat hulle aan my aanstoot neem.   Ek neem kritiek ernstig op, dit rol nie van my af nie.  Ek probeer daaruit leer.  Ek vra op my beurt net dit:  Is ons, ek en jy, nog gretig om van God meer te leer?  Ek sou gemaklik kon sê daar is nog baie wat ek van God kan leer, ek het nie die wysheid in pag nie.  Die raaisel van die Drie-Eenheid staan soos ‘n paal bo water onder die dinge wat ek glo maar nie alles van weet nie.  Wil ek leer, dit het ek agtergekom, moet ek ruimte laat daarvoor dat God van my dieper denke verg, oor dinge wat vir jou dalk nuut mag wees.  

Natuurlik is die Bybel die anker. 

‘n Liedjie[1] van Stephen Sondheim lui: “All they really like is what they know.”  Mense hou net van wat hulle ken.  Vir ‘n nuwe lied om ‘n popliedjie te word, moet jy hom oor en oor hoor, tot jy hom ken.    

Die Bybel is waar jy van God leer.           

Dog selfs in die Bybel staan mense voor God verslae.  God is vir hulle altyd nuut.  Vir my ook.  In die einste Bybel nooi God:  Kom, leer My ken. Leer van My hou.  Leer dan om My lief te kry.

Ek is nie ‘n kok nie, maar kom ek vertel julle hoe ek kos maak as ek die dag moet – en miskien is dit die rede waarom my vrou my nie sonder toesig in die kombuis loslaat nie.  Ek het een resep:  As jy kosmaak, kap jy heel eerste ‘n ui fyn en gooi dit in ‘n pan, en dan vra jy:  wat eet ons vandag?  Want, sien, die ui is altyd daar, ongeag van wat ek ookal aanmekaarslaan. 

‘n Ui, as hy groei, kry mettergaande lae by, en of die ui nou sy lae buite-om bykry, of van binne af sy nuwe lagies bysit, weet ek nie, maar ek weet as ek hom oopsny, het hy lae wat ek een vir een kan afskil, en soos wat ek dieper na die ui se binneste toe vorder, laat iets aan die ui my huil.   My oë begin traan soos die hoëpriester s’n, syne van die reukwerk op die vuurpan wat hy voor hom dra die dag as hy die Allerheiligste aandurf.  Met brandende oë sien hy nie so goed voor hom uit nie.  Met dié sien hy vir God nie, maar die hoëpriester weet God is daar.  Ek sien God ook nie in die ui nie, maar dat my oë traan, laat my weet daar is iets in die lug. God Drie-Enig het hierdie uitwerking op my, en verklaar kan ek dit nie.  Maar ek maak seker die ui is in my kos.  Die ui is altyd in my kos.  Miskien moet ek die fisika en biologie van uie beter leer verstaan?  Maar ek het die idee dit gaan my nie laat ophou huil wanneer ek kos maak nie.   

Kyk nou waar het ek gaan draai, en ek probeer nog steeds God Drie-Enig verduidelik. 

Spreuke 8, so lyk dit vir my, het twee dele.

Skyfie 30: Skriflesing Spreuke 8. OT, 2020-Afrikaanse Vertaling.  Lofprysing van die Wysheid. 

Die eerste deel gaan oor ‘n vrou genaamd Wysheid, haar van is, by wyse van spreke, Verstandigheid.  Maar anders as kuise vroue wat hulle in die res van die Bybel stil gedra, staan sy op hoofpaaie en hoë verhoë luidkeels en uitroep.

Spreuke 8

Skyfie 31 tot 51: Spreuke 8. Vers vir vers.

1

Is dit nie Wysheid wat uitroep,

en Verstandigheid wat haar stem

laat opklink nie?

2

Op die top van die hoogtes

langs die pad,

waar die hoofpaaie bymekaarkom,

het sy stelling ingeneem.

3

Langs die poorte,

by die ingang na die stad,

by die toegang tot die poortdeure,

roep sy opgewonde uit:

4

“Na julle, manne, roep ek;

my stem is gerig tot mensekinders.

Wat wil die vrou hê moet ons hoor?

5

Kry tog insig in vernuf, onverstandiges;

onnoseles, bring die hart tot insig!

Sy het reg: Ek voel my onnosel.  Met dié dat sy van sulke publieke podiums af preek, glo ek dié Tannie Wysheid het vir algemene kennis en openbare wysheid iets te sê.  Ook vir die politiek, vir stemdae soos komende Woensdag.   

Ek wil Woensdag gaan stem.  Maar daar is nie een enkele party uit die hoevele van hulle wat na my vry, waarmee ek dit heelhartig eens is nie.  Ek het dié week ‘n vraelys ingevul om agter te kom wie “tiek my boksies?”  Vir my moeite het ek darem nou net drie partye om van te kies, hoewel van dié drie, nie een 80% van my steun gekry het nie.  Stem ek, of stem ek glad nie?  Of stem ek vir die een wat my darem die meeste van my voorkeure belowe? 

In die Drie-Enige God glo ek onwrikbaar.  Die Vader Seun en Gees reël my lewe.  Maar van dié einste God waarin ek glo, verstaan ek nie eers ‘n breukdeel van die 80% se instemming wat ek gehoop het ek by ‘n politieke party sou kry nie.  Ek laat dit gelate oor aan die ongetapte wysheid van die Drie-Eenheid om my te regeer.  Want van die Drie-Enige God weet ek, op grond van sy rekord, darem dit:  God het my lief.  God bedoel dit met my goed.

6

Luister, want oor gepaste dinge

praat ek –

en oor my lippe kom wat reg is.

7

Want die waarheid,

dit verkondig my mond,

en afstootlik vir my lippe

is goddeloosheid.

8

Wat reg is, kenmerk al die woorde

uit my mond,

niks daarin is geslepe of verdraai nie;

9

dit is alles duidelik

vir wie insig toon,

en gepas vir hulle

wat kennis verwerf.

10

Aanvaar my vermaning,

en nie silwer nie,

aanvaar kennis eerder as goud.”

11

Ja, Wysheid is beter as koraal,

en niks wat begeerlik is,

kan met haar vergelyk word nie.

12

“Ek, Wysheid,

die kennis van goeie oordeel

verkry ek.

Hoe verder ek vorder met Spreuke se Vrou van Wysheid, hoe meer klink sy vir my na die Heilige Gees.  Wat sy doen, is presies wat die Heilige Gees ook doen, die Gees van die Waarheid.

13

Ontsag vir die Here

is om die kwaad te haat;

verwaandheid, hoogmoed,

‘n verkeerde pad

en ‘n verdorwe mond haat ek.

Dit is hier waar ek begin wonder het of ek oor die verkiesing anders moet dink as waarmee ek alles saamstem, en waarvoor ek stem:  Miskien moet ek “teen” stem?  Hoe sou die Heilige Gees my daarin lei? 

14

Ek beskik oor raad

en vindingrykheid;

ek, insig, beskik oor krag.

15

Deur my regeer konings,

en hooggeplaastes vaardig

regverdige dekrete uit.

16

Deur my voer aanvoerders bevel,

ook vooraanstaandes –

almal wat regverdige beslissings neem.

God die Heilige Gees, dit is wat ek hier hoor, regeer in elk geval.  Konings, hooggeplaastes, aanvoerders en vooraanstaandes, voer bevel omdat die Here hulle dit gun.  Dit beteken nie dat hulle almal slegs regverdige beslissings neem nie, maar met krom stokke slaan God reguit houe, en Hy laat reg geskied.  Ek leer dit mag gebeur dat daar altyd mense onder die magtiges is wat hulle wel deur God se Gees en Wysheid laat bestuur.

17

Wie my liefhet, het ek self ook lief,

en wie my soek, sal my vind.

18

Welvaart en eer is by my,

bestendige rykdom en geregtigheid.

19

My vrugte is beter as goud,

as fyngoud,

my opbrengs beter

as uitgesoekte silwer.

Miskien setel hier ons grootste struikelblok:  Ons lus vir goud en silwer. Daar is iets anders wat ons gerus maar in verkiesings kan najaag:

20

Op die pad van geregtigheid

loop ek

– presies op die paaie

van regverdigheid –

21
om hulle wat my liefhet,

besittings te laat erf.

Hulle voorraadkamers maak ek vol.

In geregtigheid is selfs vol voorraadkamers opgesluit.  Wat het uie, koskook, wysheid, welvaart en algemene verkiesings, met die Drie-Enige God uit te waai?  Wel, ek dink die Heilige Gees sit daaragter, en daarin. 

Skyfie 52: Wys! Wys my God, Wysheid! Spreuke 8. 26 Mei 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Drie-Eenheid-Sondag.

Ek sou nie sommer die Wysheid van Spreuke 8 met die Heilige Gees in verband gebring het nie, was dit nie vir die tweede deel van Spreuke 8 nie.  En selfs dan sou ek dit dalk misgekyk het.  Toe leer ek die kerkewêreld gebruik hierdie tweede deel van Spreuke 8 as ten minste ‘n metaforiese verwysing na God die Seun.  Daarom ook dat dié teks vandag dwarsoor die wêreld gelees word, juis op Drie-Eenheidsondag.  Dit verras my, want dit is, onthou, die Ou Testament hierdie. Luister of julle ook iets van God die Seun hoor, al is dit nou by nabetragting.

Skyfie 53 tot 67: Skriflesing Spreuke 8. OT, 2020-Afrikaanse Vertaling.  Lofprysing van die Wysheid. 

Spreuke 8

22

“Die Here, Hy het my geskep

as die eerste van sy werke,

voor sy dade van lank gelede.

23

In die verre verlede is ek gevorm,

aan die begin, voor die aarde.

24

Daar was nog nie •oerwaters nie,

toe is ek voortgebring;

daar was nog nie fonteine

ryk aan water nie.

25

Voordat berge ingeplant is,

voor heuwels daar was,

is ek voortgebring,

26

toe Hy nog nie grond

en oop weivelde gemaak het nie –

die eerste grondsoorte

van die vasteland.

27

Toe Hy die hemele gevestig het,

was ek daar.

Toe Hy die horison afgemerk het

oor die oppervlak

van die watermassa;

28

toe Hy die wolkehemel

daarbo gevestig,

die fonteine van die oerwater

sterk gemaak het;

29

toe Hy vir die see

sy grens vasgestel het,

dat die water nie sy bevel

sou oortree nie;

toe Hy die fondamente

van die aarde afgesteek het,

30

was ek ‘n lieflingskind aan sy sy –

ek was dag ná dag sy vreugde,

terwyl ek die hele tyd

voor Hom speel.

31

Terwyl ek op die bewoonbare

deel van sy aarde speel,

het ek vreugde gevind

in die mensekinders.

32

“Daarom, seuns, luister na my!

Gelukkig is hulle wat op my paaie bly.

33
Luister na my vermaning

en word wys;

moet dit nie in die wind slaan nie.

34

Gelukkig is die mens

wat na my luister

deur dag ná dag

by my deure te waak,

by die kosyne van my ingange

wag te hou.

35

Ja, wie my vind,

het die lewe gevind;

hy geniet die goedkeuring

van die Here.

36

Maar wie my ontbeer,

doen sy lewe geweld aan;

almal wat my haat,

het die dood lief.”

Skyfie 68: Wys! Wys my God, Wysheid! Spreuke 8. 26 Mei 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Drie-Eenheid-Sondag.

As jy ook gehoor het hier word dalk oor God die Seun gepraat, het jy daarmee tot die gevolgtrekking geraak dat God in die Ou Testament al, voor Jesus van Nasaret in Bethlehem gebore is, én voor die Heilige Gees se uitstorting met Pinkster reeds, van God Drie-Enig weet.  Ons het dit net nog nie gesnap nie. 

Ons het skepsis oor of drie een kan wees.  Ek deel daardie ongeloof.  Ons leef in ‘n wêreld waar geen twee mense meer oor enigiets saamstem nie.  Waar is die dae toe almal in een gesin dieselfde gedink het, almal in een Kerk eenders geglo het, politieke partye oor beleid eensgesind was.  Met geen interne dissipline kan ‘n groep denke voorskryf nie.  Dat twee mense tydelik met mekaar genoeg ooreenstem om ‘n huweliksbed te deel, is wel nog moontlik, “tydelik” is die sleutelwoord.  Dit is nie meer die norm nie.  Onversoenbaarheid (“Irreconcilable differences”) is glo rede vir die meeste egskeiding.  Nee, nie eers twee mense waarvan die huwelik nog hou, kan daarvan getuig dat twee mense altyd eenders dink nie. 

Met God is dit anders.  Net God is anders.  Daar is Drie, volkome Een, eens.

Ek verwonder my aan die eensgesindheid van God.  Selfs die Ou en die Nuwe Testament weet van mekaar! Eensgesindheid is goddelik. 

Mag God die Vader ons hierdie week seën, God die Seun die leisels neem en regeer, en die Heilige Gees ons wys genoeg maak om God Drie-Enig sy sin te gee.   

Amen.

Skyfie 69 tot 76: VONKK 195.   

Staan en sing tot eers van die Drie-Enige God VONKK 195 strofes 1, 2 en 3.

Sang

Begeleiding begin hier.

VONKK 195 strofes 1, 2 en 3.

Wegsending

Predikant

Skyfie 77: Seëngroet. Spreuke 4. 

Seën

Spreuke 4

4

“Jou hart moet my woorde vashou.

5

wyk nie af van die woorde

uit my mond nie.

6

Moet haar, die wysheid,

nie verontagsaam nie;

dan sal sy jou beskerm.

11

Op die pad van wysheid

sal ek jou begelei,

ek sal jou laat loop op reguit paaie.

12

Wanneer jy loop,

sal jou voetstappe

nie belemmer word nie;

en as jy hardloop,

sal jy nie struikel nie.

Amen.

Sang

Skyfie 78: Gesang 312

Gesang 312


Skyfie 79:  Wys! Wys my God, Wysheid! Spreuke 8. 26 Mei 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Drie-Eenheid-Sondag. https://hennielagrange.wordpress.com/

Afkondigings

Skyfie 80: Wys! Wys my God, Wysheid! Spreuke 8. 26 Mei 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Drie-Eenheid-Sondag. Musiek begin hier.  Speel net saggies in die agtergrond.  VONKK 195.

Insameling van die dankoffers



[1] “Putting it Together” titelsnit uit die revue.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.