Sal iemand jou nog glo?

Geloofwaardigheid.

As ons, hier in die kerk, die heel beste nuus vir die wêreld het, die heel beste stories het om te vertel, waarom sit die hele wêreld nie hier om te kom hoor wat ons te sê het nie?  Is óns gefop of is húlle ontnugter? Is die evangelie dalk nie sulke vreeslike goeie nuus nie, want God voel wreed en die lewe maak seer?  Maar met ons wat glo, gaan dit dalk nog net te goed?

Of is die sogenaamde goeie nuus net irrelevant, want God is tog nie meer so erg belangrik nie?  Waarom sal dat God dink óns maak vir Hóm saak, nog vir óns saakmaak?

Of is dit afgesaagde ou nuus wat jou verveel, sodat jy nie nodig het om dit weer te hoor nie?  Nou waarom dan is daar soveel haat in ons almal oor?  Die boodskap gaan tog oor liefde, mos?  Kan jy regtig beweer jy het die nuus al goed genoeg uitgeluister?

Of bly mense hiervandaan weg, nie oor die goed wat God sê nie, maar oor wat ek en jy daarvan maak?  Is ek en jy geloofwaardig, sodat as ons iets kwytraak, mense hulle daaraan  steur?   Of vlug mense as ons praat, oor ons nie maak soos ons sê nie?  Is ons trekpleisters, of veroorsaak ons stinkende wonde?

I Korintiërs 9

4 Februarie 2018, NHKA Kampersrus

Epifanie


Vooraf

Predikant

Skyfie: Sing (Sit) Gesang 401 : 1, 2, 3 en 4   

Wie sal ons glo?  So begin Gesang 401.  Maar in dié gesang gaan dit oor hoe moeilik dit is om te glo dat Jesus, God, vir ons gekruisig is.  Wat eintlik maar sê die blye boodskap is opsigself al moeilik genoeg, nog voordat ons begin om dit vir mense nóg moeiliker maak

Sang (Sit)

Gesang 401 strofes 1, 2, 3 en 4

Toetrede:

Skyfie: Sing (Staan) Gesang 488 : 1,2,3,4 en 5

Ons toetredelied sê presies wat vandag se erediens van ons vra:  Dat ons geloofwaardig sal wees, sodat die wêreld by ons sal wil kom hoor van God, en ons sal glo as ons hulle van God vertel.

Toetredelied (Staan)

Gesang 488 strofes 1, 2, 3, 4 en 5

Toetrede

Predikant

Skyfie: Toetrede. Oproep (Staan) Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig,

Votum / Oproep (Bly staan)

Johannes 8

26      

Ek kan baie dinge oor julle sê en ‘n oordeel oor julle uitspreek; maar Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en net wat Ek by Hom gehoor het, sê Ek vir die wêreld.”

Seën

Johannes 7

16      

Jesus het vir hulle gesê: “Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het.

17      

As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat.

18      

Wie uit sy eie praat, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, is geloofwaardig, en daar is niks oneerliks in Hom nie.

Amen.

Aanbidding en lof

Ouderling

Skyfie: Aanbidding en lof. Sing (Staan) Psalm 118 : 1 en 5

Kom ons getuig saam:  Die Here het ons lief.  Sy deur staan altyd oop.  Kom ons sing uit

Sang (Staan)

Psalm 118 strofes 1, en 5

Die wil van God: Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Skyfie: Aanbidding en lof. Die wil van God. (Sit.) Wees geloofwaardig!

Sit, dan luister ons na wat God se wil is, uit Eksodus 23:

1        

“Jy mag nie skinderstories versprei nie. Jy mag nie met ‘n misdadiger saamwerk en in sy guns vals getuienis lewer nie.

2        

Jy mag nie agter die meerderheid aan doen wat verkeerd is nie. Wat jy in ‘n hofsaak getuig, mag jy nie verdraai nie, al doen die meerderheid dit ook.

3        

Wanneer jy regspreek, mag jy ‘n arm man nie in sy hofsaak voortrek nie.

4        

“Wanneer jy ‘n verdwaalde bees of donkie van jou vyand raakloop, moet jy dit beslis na hom toe terugbring.

5        

“Wanneer jy iemand wat jou haat, se donkie sien lê onder sy vrag, moet jy hom nie sonder hulp los nie; gaan help hom met sy vrag.

6        

“Wanneer jy regspreek, mag jy ‘n arme nie in ‘n hofsaak veronreg nie

7        

en moet jy wegbly van leuens sodat jy nie onskuldiges en regverdiges doodmaak nie. Ek, die Here, vind nie ‘n skuldige onskuldig nie.

8        

Wanneer jy regspreek, mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want dit maak dié wat sien, blind en laat die saak van die onskuldige skeef loop.

Skuldbelydenis (Sit)

Skyfie: Aanbidding en lof. Skuldbelydenis. Sing (Sit) Psalm 36 : 1

Net die goddelose kom staan voor God sonder vrees. Net goddeloses dink hulle is goed, maar praat kwaad.  Kom ons sing, maar bly sit,

Sang (Sit)

Psalm 36 strofe 1

Genadeverkondiging en Geloofsbelydenis (Sit)

Skyfie: Aanbidding en lof. Genadeverkondiging en Geloofsbelydenis (Sit.)   

Ons laat ons in alles voorsê deur die kwaad. Romeine 3

21      

Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie,

22      

maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.

23      

Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie,

24      

maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

25-26

Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

Ons glo!  Die Here spreek ons van sonde vry!

Skyfie: Aanbidding en lof. Sing (Sit) Psalm 36 : 3

Kom ons loof die Here met ʼn loflied.

Sang (Staan)

Psalm 36 strofe 3 

Aanbidding en lof

Predikant

Skyfie: Aanbidding en lof. Kom ons bid saam.

Gebed

Skyfie: Aanbidding en lof. Sing (Staan) Psalm 146 : 1, 3 en 5

Kom ons sing oor die Een en Enigste, God of mens, wat ons geloof werd is.

Sang (Sit)

Psalm 146 strofes 1, 3 en 5

Skriflesing (Sit.) 1 Korintiërs 9

Verkondiging

Predikant

Skriflesing (Sit)

Ons lees uit die Bybel Paulus se eerste brief aan die gemeente in Korinte, 1 Korintiërs 9.  Dit begin op bladsy 230 van die Afrikaanse Nuwe Testament, die 1983-vertaling.

1 Korintiërs 9

1        

Is ek nie vry nie? Is ek nie ‘n apostel nie? Het ek nie vir Jesus, ons Here, gesien nie? Is julle wat aan die Here behoort, nie die vrug van my werk nie?

2        

Al is ek vir ander nie ‘n apostel nie, vir julle is ek dit tog. Immers, julle wat aan die Here behoort, is die seël op my apostelskap.

3        

My verdediging teen dié wat regter oor my speel, is dít:

4        

het ons dan nie reg op lewensonderhoud nie?

5        

Het ons nie selfs die reg om elkeen sy vrou wat ‘n gelowige is, op reis saam te neem soos ook die ander apostels en die Here se broers en Sefas nie?

6        

Of is dit net ek en Barnabas wat nie die reg het om op te hou met die handearbeid vir eie onderhoud nie?

7        

Wie dien ooit op eie koste as soldaat? Wie plant ‘n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie?

8        

Wat ek sê, is nie maar net alledaagse waarhede nie. Sê die wet dit nie ook nie?

9        

In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Jy mag nie ‘n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie.” Is dit miskien oor die beeste dat God Hom bekommer?

10      

of sê Hy dit juis ter wille van óns? Ja, ter wille van ons is dit geskrywe. Hy wat ploeg, moet met verwagting ploeg, en hy wat dors, moet dit doen met die verwagting om sy deel te ontvang.

11      

As ons vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit dan te veel gevra as ons van julle die stoflike lewensonderhoud sou inoes?

12      

As julle aan ander hierdie reg toestaan, kom dit ons dan nie nog meer toe nie? Maar van hierdie reg het ons nie gebruik gemaak nie. Inteendeel, ons dra al die koste self sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie van Christus sou lê nie.

13      

Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe, en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie?

14      

So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang.

15      

Wat my betref, ek het hiervan geen gebruik gemaak nie. Ek skryf dit ook nie met die bedoeling om daarop aanspraak te maak nie. Ek gaan liewer dood! Dié roem sal niemand my ontneem nie!

16      

As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ‘n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie!

17      

As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is ‘n taak wat aan my toevertrou is.

18      

Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.

19      

Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.

20      

Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.

21      

Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen.

22      

Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.

23      

Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.

24      

Weet julle nie dat atlete wat aan ‘n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen.

25      

Almal wat aan ‘n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ‘n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ‘n onverganklike.

26      

Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie.

27      

Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

Hier eindig vandag se Skriflesing.

Johannes 3

33      

Wie sy getuienis aanvaar het, het daardeur bevestig dat God geloofwaardig is.

34      

God het Hom immers gestuur, en Hy spreek die woorde van God, want God gee Hom sy Gees sonder enige beperking.  

Skyfie: Verkondiging. Sing (Sit) Gesang 442 : 1 en 2

Kom ons bid met ʼn lied dat die Heilige Gees die Woord wat ons gelees het vir ons oopbreek, en ons daarmee heilig  en lewend maak.  Troos my, sterk my, leer my, lei my. . . Kom ons sing dit uit

Sang (Sit)

Gesang 442 strofes 1 en 2.

Skyfie: Mense glo ons nie meer nie

Preek

Ek het ʼn probleem.  Wel, eintlik het julle dieselfde probleem.  Ons is nie meer geloofwaardig nie.

Mense glo ons nie sommer meer nie.

Mense sê ons het al te veel gelieg en bedrieg.  Hulle is ontnugter.  Hulle sê hulle kan ons nie meer op ons woord vat nie:  Wat ons sê, en wat ons doen, klop nie.  Dis maklik om voorbeelde te noem, sê hulle:

  • Ons praat oor vergifnis, maar ons veroordeel
  • Ons praat oor liefde, maar ons haat.

As ons aan dié twee basiese toepassings van die evangelie ons nie steur nie, hoekom moet enigiemand anders?

En die mense wat so sê, is nie noodwendig ongelowiges nie.

Skyfie: 1 Johannes 4

Hulle haal uit 1 Johannes 4 aan:

20      

As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.

Hulle voel as ons ooglopend lieg oor of ons mense liefhet, gaan ons nog makliker lieg oor liefde vir die onsigbare God.

Skyfie: Ons is ons geloofwaardigheid kwyt

Ons is geweeg en te lig bevind.

Ek sê weer dis nie net mense ver buite die kerk wat so voel oor ons nie.  Dis gelowige mense wat besluit hulle kom nie meer hierheen nie, en elders in ander kerke vir eerlike geloof loop soek.

Skrale troos dat Paulus ook al gesukkel het met mense wat hom nie wou glo nie.  Hy is sy geloofwaardigheid kwyt, hier in die Bybel al, by die lidmate van die gemeente in Korinte!  Paulus moes bontstaan om vir die klappe te koes wat sy kant toe uitgedeel word.

Die vraag is: Wat doen ʼn mens nou daaraan as niemand jou nie meer vertrou nie?

Of vee ʼn mens jou gelate daaraan af?

Ek bedoel, gee ons regtig nog om?

Hoef ons hoegenaamd nog te probeer om vertroue te wen?

Hoef ons regtig onsself vir ander mense meer aanvaarbaar te probeer maak?

Dis ʼn baie goeie vraag, nè?  Want as ons onder geen verpligting staan om ons vir ander mense meer aanvaarbaar te maak nie, hoekom daaroor wroeg?

Skyfie: Ons maak vir God belaglik.

Wel, op ons rus die onus om die wêreld van God te vertel.  En pas jou lewe nie by wat jy preek nie, lag die mense jou uit. Jy maak vir God belaglik.

Ons takel ons eie geloofwaardigheid af.  Geen wonder mense is agterdogtig nie.  Hoe?  Dis so maklik!

  • Wees net inkonsekwent. Hou by ʼn siening net solank dit jou pas.
  • Ons is beterweterig. Ons wil vir ander mense voorsê.
  • Ons is veroordelend. Ons vervloek sonde, ons bely dit nie.
  • Ons sien neer. Ons verag feilbaarheid; wie faal is swak.  Ons hemel mag op. Ons gee voor ons is sterk.
  • Ons misbruik die mag wat ons oor mense inpalm. Ons weet goed hoe om skandes en skaamte teen mense te gebruik.  Ons dink dit laat ons beter lyk, in vergelyking.

Dit sou maklik wees om van hier af nou ʼn sedelessie uit te pak vol wenke oor hoe ʼn mens jouself vir ander mense kan laat goed lyk.  Maar dis juis oor hierdie bo blink onder stink dat mense ons uitvang.  Geloofwaardigheid herstel jy nie met beeldpoets nie.  Jy kry jouself nie meer aanvaarbaar gemaak nie.  Jy leer jy is juis nié aanvaarbaar nie en sal dit ook nooit wees nie.  Jy gaan staan en voldoen nie aan mense se standaarde nie.  Jy kruip nie voor mense nie.  Jy kniel voor God!  Jy laat mense weet jy reken op God se genade en God se vergifnis vir jou sonde.  Jy wys jy is so afhanklik van dié twee goed waaroor God se evangelie praat as wat enigiemand anders is. Jy is swaar op genade, ʼn verbruiker van God se vergifnis, jy by staande net oor God jou sonder rede liefhet.

Skyfie: Paulus praat oor geloofwaardigheid.

Paulus is op die oorlogspad oor sy eie geloofwaardigheid

Is ek nie vry nie?, vra hy.  Hy is vir geen mens ʼn agent en van niemand ʼn kliënt nie.  Jy koop vir Paulus nie.  Hy is onpartydig.

Is ek nie ʼn apostel nie?, vra Paulus. Die apostels beskou hom tog as een van hulle. Hulle wat saam met Jesus geleef het, en vir Jesus eerstehands gehoor preek het, húlle het vir Paulus getoets en in hulle kring opgeneem.  Hy is so gesaghebbend soos enigeen van hulle.

En het ek vir Jesus nie self gesien nie?, vra Paulus.  Hy het.  Op pad Damaskus toe, mos.  Om ʼn ooggetuie te wees van Jesus se opstanding, dit gee die deurslag oor of jy ʼn apostel is.  Paulus is ʼn ooggetuie dat Christus leef, toe Jesus dood moes wees.

Maar niks is so beslissend nie, as wat jou lewe oplewer nie.  Kyk na die vrug van my arbeid, sê Paulus.  En daarin sit nogal ʼn verrassing.  ʼn Mens sou verwag dat Paulus moet kan sê:  Kyk hoe baie volgelinge het ek!  Kyk hoe groot is my kerk!  Tel die gemeentes wat ek tot stand gebring het.  Hy sou met reg kon, want ons praat so.

Dog Paulus sê nie hulle volg vir hóm nie.

Paulus sê: Kyk hoe baie mense volg die Here. Die vrug van my arbeid, is dat mense aan die Here behoort.

Skyfie: Paulus praat oor geloofwaardigheid. Meet my aan of my werk mense die Here laat dien.  

Meet my geloofwaardigheid aan of my werk mense die Here laat dien.

Jy bemark nie jouself nie, maar vir God.

Gebruik nou hierdie einste maatstaf om ons gemeente te meet:  As mense hierheen kom, kry hulle hier by ons mense wat so aan die Here vas is, dat hulle van ons sê: “Hierdie ouens mag maar oor God praat.  Hulle weet van!”?

Nie?

As ons hierin tekortskiet, is dit nie net ons wat nie goed genoeg is nie. Mense begin dan in God ook twyfel. En dis alles ons skuld.

Paulus het ʼn rits voorbeelde gereed van hoe die Korintiërs hom sleg behandel.

Daar was duidelik ouens wat vir Paulus nie as ʼn apostel wou erken nie.  Daar was duidelik ook mense wat hom nie eers die gebruiklike lewensonderhoud en byvoordele van arbeid gegun het nie.  Hulle behandel vir hom onmenslik, slegter as ʼn dier.  Jy mag nie eers ʼn bees waarmee jy graan dors se bek toebind om te keer dat hy aan die graan wat hy dors, vreet nie.  Dit staan so in die Wet dat elke mens geregtig is op die vrug van arbeid. Van Paulus ontneem hulle dit.

Skyfie: Behandel mekaar menslik. Geloof hang daarvan af.

Die onreg tier in Korinte.  Tweeduisend jaar later sit ons in Kampersrus nog Korinte se derms en uitryg en ons is nie beïndruk nie.  Sies man!  Skaam vir julle, is wat ek dink.  Versorg mekaar beter, behandel mekaar menswaardig, sien na mekaar se belange om, geestelik en stoflik.

Al was Paulus op meer geregtig, hy sê hy dring nie op regte aan nie. Vir Paulus is daar iets anders op die spel, wat baie swaarder weeg as om te kry wat hóm toekom.  Hy fokus op of mense die evangelie glo.  Hy het gesnap dat of mense glo, ook van hom afhang.  Hy is nou daarop ingestel om nie ʼn struikelblok te wees wat dalk kan keer dat mense glo nie.  Hy moenie self ʼn aanstoot wees nie.  Daarom kom staan hy nie bakhand nie. “Ek gaan liewer dood!”, sê hy.

Wat kán dan aanstoot gee?  Geld, eise van geld; eintlik maar eiebelang.

Wat moet die evangelieverkondiging dryf?  Verpligting!  Dis ʼn saak van eer, oortuiging, roeping.  Genoegdoening is jou beloning; tevredenheid.

“Ek verkondig die evangelie omdat ek moet, en nie vir goed nie,” sê Paulus.

Weer sê Paulus hy is “vry”, van niemand afhanklik nie. As iemand jou betaal, kan hy jou ook voorsê.  Dis waar korrupsie begin.  Maar omdat hy aan niemand gunste verskuldig is nie, stel hy geeneen se belange bo ʼn ander s’n nie; hy is op dieselfde manier ingestel op almal se behoeftes, op gelyke mate diensbaar aan almal.

Skyfie: Vereenselwig jou met mense.

Dis deurslaggewend vir geloofwaardigheid.

Om die evangelie te bedien, geloofwaardig te bedien, is om jou met mense te vereenselwig.  Raak lotsgebonde.  Saam is ons op mekaar aangewese, op mekaar ingestel, daarom bedagsaam, inskiklik, verdraagsaam, vrygewig, dienswillig en diensbaar.  Dit doen jy nie oor alle mense ewe goed, ewe gaaf of gelyk is en dieselfde behandeling verdien nie.  Ook nie oor jy ʼn hart soos ʼn waenhuis het nie.  Dis hoe jy in die kerk maak as jy soveel mense as moontlik wil laat agterkom God is geloof werd.

Dien mense.

Dien alle mense.

Dien mense in die gemeente, en dien mense daarbuite.

Ontmoet mense daar waar hulle is.

Skyfie: Word vir Jode, ʼn Jood

Word vir Jode ʼn Jood as jy Jode aan Christus wil voorstel. Dink soos Jode dink. Voel hulle gevoelens.  Leer ken hulle passie, vier hulle prestasies en rou oor hulle swaarkry, worstel saam met hulle deur hulle moeilikheid en bied hoop aan in hulle moedverloor.

Skyfie: Word vir Jode, ʼn Jood. Net so ook vir mense onder en vir mense sonder  die wet

Al is jy self nie onder die wet nie, as jy aan iemand wat onder die wet is Christus se genade wil wys, word self soos een onder die wet.  Gaan staan dan by daai ou wat onder die wet is, asof die wet vir jou nes vir hom, bepaal. Wees soos hy. Dra saam aan sy las.  Sukkel saam met hom deur sy angs vir tekortskiet.  Laat hom weet jy verstaan waar hy vandaankom. En wys hom die pad uit sy ellende uit.

En dan is daar die ouens wat hulle deur niemand laat vertel hoe die lewe moet wees nie.  Hulle steur hulle aan geen wet nie, nie eers iets edels soos die liefde nie.  Jy is natuurlik nie sonder die wet van Christus nie, maar gaan word jy soos een sonder die wet om hulle te wys daar is iets beters as hulle gelatenheid oor hoe sleg of tweederangs alles maar is en sal bly.  Wys hulle die beste wat daar is.

Skyfie: Wees swak.

Geloof eis kwansuis van ons om sterk te wees.  Dis wat jy vir mense by siekte en begrafnisse sê: Sterk wees!  Selfs gelowiges het vir twyfelaars en weifelaars, beteuterdheid en versukkeldheid min tyd.  Mag is mooier.  Swak is pateties, sondig.  Basta daarmee: Vir swakkes gaan word jy swak.  Jy wys hulle hoe lyk swak.  Hoe swakker jy is, hoe beter gaan jy God se krag sien.  Wys hulle die krag van opstanding.

Dis so anders as om te sê daar’s ʼn lyn, hier trek ek ʼn streep, ek het sterk beginsels, vaste waardes; liefdadigheid kom tuis; vergeet van grys, alles is swart en wit, klinkklaar duidelik, vas en seker, vir ewig en vir altyd.  Dis goed of dis kwaad, daar’s geen middeweg nie. Dis nie wat Páúlus sê nie.  Dít dien nie geloofwaardigheid nie.  Jy is nie geloofwaardig omdat jy altyd dieselfde is nie.  Eg gelowig wees is so anders as: Kom hier na ons toe, hier waar ons is, as julle gered wil wees, soos ons.  Paulus sê dis andersom: Geloof gaan soontoe, gaan na hulle toe, kry hulle waar hulle is, word soos hulle.  Jy is geloofwaardig omdat jy mense so hoog ag dat jy hulle opsoek en liefkry.

Sê Paulus: Ek het vir almal alles geword, om darem sommiges te red.

Skyfie: Wees alles vir almal.

Die evangelie maak my so.  Alles vir almal.  So kry ek deel aan die vrug van God se goeie nuus vir Jode, vir mense onder die wet en sonder die wet, vir swakkes en sondaars.

Paulus veroordeel niemand nie, nie eers en verál nie mense wat nie soos Paulus is nie.  Hý word juis soos húlle.  Hy gaan kry hulle daar waar hulle is. Daar word hy nes hulle, vereenselwig hom.

As ons die beste nuus in die wêreld het om van te vertel, waarom sit die hele wêreld nie vandag hier nie?   Skort daar met die nuus iets?  Of is ons nie geloofwaardige nuusdraers nie?

Dit het lank gevat voordat ons op Afrikaanse radio en TV vrouenuuslesers  gekry het.  Vroue kom glo die nodige “gravitas” kort: “gewigtigheid”.  Die brandmaer Bettie Kemp wat nou nog hou, laat jou besef gravitas het met hoe swaar jy weeg, niks uit te waai nie.  In opera nou weer, dáár was nog altyd oorgenoeg gewig.  Die beste stemme kry die rolle, sodat al is Romeo en Juliet malverliefde tieners, sing swaar divas en ou boepmaagooms die rolle.  Geloofwaardigheid bly nie in die slag nie, want almal ken die storie en ons kan ons die karakters anders verbeel.  Hulle is nie geloofwaardig nie, want hulle hoef nie te wees nie.

Skyfie: Ons staan in vir Christus: Wees geloofwaardig!

Met die evangelie is dit anders.  Ons staan in vir Christus.  Die evangelie is alreeds gans te goed om waar te wees. En as ek en jy nie regkry om iets daarvan te wys nie, lag die wêreld vir God uit, en gee so ver moontlik van ons af pad.

Hoe gemaak, vra Paulus, om homself geloofwaardig te kry, om te verseker mense weet hy is eg?  Hy maak hom nie noodwendig aanvaarbaar nie, want dis heeltemal iets anders.  Paulus slaan nie ʼn akkommoderende houding in nie.  Hy is inteendeel nogal skerp.  Hy vat mense kaalvuis aan.  Daar is ʼn byt in wat hy sê.

Moenie oor aanvaarbaarheid begaan wees nie, dis geloofwaardigheid wat tel.

Paulus gaan haal, nes Jesus mense daar waar mense is.  Nes Jesus, die vraat en wynsuiper ook gemaak het, Hy wat mos saam met prostitute en tollenaars gekuier het, aan die kolonialiste belasting betaal het, en toe nog op sabbatte sinagoges se kansels geklim en gepreek het, ná Hy en sy dissipels sommer op pad kerk toe van die land af brekfis geoes en geëet het, en aan was voor ete nes aan vas voor feeste geen waarde geheg het nie?  Hy wat kwansuis die een kalf na die ander uit putte uitgegrawe het.  Hoe volg jy sulke inkonsekwentheid?   Waar is die reëls af te lei uit sulke “losbandigheid”?

Paulus is meer soos Jesus as wat Paulus se vyande wil toegee. Paulus kom mense ontmoet waar ons ons bevind.  Uit ons oë na ons lewe gekyk, help Paulus ons na God soek.

Maak dit vir Paulus meer aanvaarbaar?  Aikona!

Nee, maar dit maak hom meer effektief.

Hy neem aan die wedloop deel met die doel om te wen.  Daaroor is hy nie onseker nie.

Hy slaan nie soos ʼn bokser wat in die wind slaan nie. Paulus mik, en slaan raak.

Hy is nie wispelturig as wat dit lyk nie.  Hy het sy liggaam en gees baie goed onder beheer, al wil-wil dit juis nie so lyk nie.  Hy weet presies wat hy doen.

Skyfie: Jy is geloofwaardig as jy kan liefhê en vergewe.  As jou liefde en vergifnis alles troef.

Geloofwaardigheid staan of val nie by hoe sterk jy oor beginsels voel en aan waardes vasklou nie.  Is jy onbuigsaam, is die kanse goed jy het die verkeerde beginsels beet.  Dis juis waardeloos.

Jy word geloofwaardig as jy wys niks wat laat gril kan jou weghou nie, dat géén afsku naastenby kersvashou by die goeie nuus dat God genadig is en vergewe nie.  Liefde troef alles, altyd.  Jood, met die wet, sonder wet, swak. . .  Die hele wêreld wag dat jy kom wys God is die geloof werd.

Vra dit:

Sal iemand jou glo as jy sê jy is God se blyplek?

Sal hulle ons glo as ons sê hierdie is Christus se liggaam, God se kerk?

Hoekom dan, doen hulle dit nog nie?

Amen.

Skyfie: Dankgebed.

Dankgebed

Wegsending:

Skyfie: Wegsending. Slotsang (Staan.) Gesang 207 :  3 en 4

Wek in ons liefde vir die waarheid, dit bid ons.  Maak van ons getroue getuies.

Slotsang (Staan)

Gesang 207 : 3 en 4

Skyfie: Wegsending. Seën. (Staan.)

Seën (Staan)

Ontvang die seën van die Here uit Openbaring 1

3        

Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.

4        

. . . Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon,

5        

en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos

6        

en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Amen.   

Skyfie: Wegsending. Respons (Staan.) Gesang 589 : 5

Respons (Staan)

Gesang 589 strofe 5

Skyfie: https://hennielagrange.wordpress.com/

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

Liedere in hierdie erediens

 

Gesang 401 strofes 1, 2, 3 en 4

Gesang 488 strofes 1, 2, 3, 4 en 5

Psalm 118 strofes 1, en 5

Psalm 36 strofe 1

Psalm 36 strofe 3 

Gesang 146 strofes 1, 3 en 5

Gesang 442 strofes 1 en 2.

Gesang 207 : 3 en 4

Gesang 589 strofe 5

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.