Tiptol

By Frédéric Pelsy. 2 years 4 months ago 9 Nov 2016 Locality: Kruger National Park, South Africa Pycnonotus barbatus layardi Bron: https://www.hbw.com/ibc/species/common-bulbul-pycnonotus-barbatus

Smôrens kom klop n tiptol my op.

Nie dat hy oor my opstanery so besorg is soos oor die beeld van n voël in die spieël nie.

Wel, wie is nie?  Selfs met n ongekamde haredos is die eerste verskyning soggens na opstanding van die man in die spieël, goeie rede vir fluit en knik en n danspassie of twee.

Die voël is verlief, helaas nie op my nie, maar op sy aanvallige ewebeeld in die eenrigtingglas van die kamervenster.  Hopeloos, magteloos vasgevang in die volslae afgryse van vergeefse verliefdheid, maak hy die droomvoël in die vensterruit geesdriftig die hof.  Hy vry met oorgawe.   Aangespoor deur die opgewonde response van die venstervoël – die liefde is duidelik wederkerig! – verklaar hy met sang en soene sy onsterflike liefde.   Dat die soene hard is, soos as vroulief kwaad is, kom hy weens die anatomie van snawels nie agter nie.  Dat die geklop van die soenery hol en harteloos is, bring hom nie van stryk nie.  Dis mos maar hoe liefde werk.  Dis hoe jy vir die liefde werk.

Hy hou vol tot hy moeg raak.  Dit duur soms n uur.  Hy leef van liefde en koue water: Hy vergeet van pa se raad dat voëltjies wat eerste by die ontbyttafel opdaag, die vetste varkworsies kry.  Hy het n ander soort honger.  Môre kom hy weer.

Ek wonder vanmôre hoe oud is hy: n Tiener dalk, wat gek raak van eerste liefde se wilde passie;  n ou man miskien, nes ek, van wie liefde n dwaas maak.    So dom, so selfbehep, so menslik is die tiptol op my stoep!  Slim genoeg, nes mense mos, om te weet dat jy self, van almal, die beste een is om op verlief te raak.

Hy bly salig onbewus van die voël in die ruit se wrede bedrog, en sy eie brein is dalk te klein en hy te onskuldig om selfbedrog te vermoed.  Dalk is sy liefde tog opreg.  Wie van ons is oor homself, en veral oor eie liefde, agterdogtig?

Ek het al oorweeg om hom uit sy waan te red.  Dis n gleufiesruit.  As ek die gleuwe effens ooptrek, sal sy fantasie verdwyn.  En hy sal agterkom hoedat my twee geeloog gemmerkatte aan diekant van die glas elke beweginkie dophou.

Maar ek het nou gewoond geraak aan sy soene.

 

Advertisements

2 thoughts on “Tiptol

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.