Bokkie, die dissipel, staan op!

Foto: KI-gegenereerde afbeelding van vroueklere in die Bybel.

Bokkie, staan op!         

Handelinge 9 : 36 tot 42 en Psalm 101

21 April 2024, NHKA Kampersrus

Opstanding.


Lees voort “Bokkie, die dissipel, staan op!”

‘n Stokou agenda

Photo by Pixabay on Pexels.com

In Brittanje was ek op die beheerraad van ‘n liefdadigheidsorganisasie.  Dié ding het sy eie moeilikheid gehad:  Dit moes alles vir almal probeer wees en was op die ou end toe nie veel vir enigeen werd nie.  Maar dit is lewend gehou want dit was die politiek korrekte ding om te doen:  Dit moes die industrie waaraan dit gekoppel was, laat goed lyk.  Die industrie wou lyk of hulle regtig omgee, selfs al hang die onderrok toe uit, want daarvoor kon die kerk die skuld kry, want die kerk het goedgelowig wou help.  Self het organisasie niks vermag nie, en daardie niks het duur gekos.  Baie duur, soos in vyfsterhotel-wêreldkonferensies-duur.  Maar ons weet mos ook nou al in die wêreld is dit nie van belang wát ons doen nie, net hoe ons lyk.  

Op ‘n dag bereik dié einste organisasie toe ‘n rare mylpaal, in jare van bestaan, nie in prestasie nie.  Vir die viering word ‘n vorige voorsitter, ‘n stoere oue in die bedryf, as geleentheidspreker genooi. Foutjie.  Die oom ruk toe mos daar van die podium af ‘n ou agenda uit die argiewe uit, ‘n regte egte sakelys vir ‘n jaarvergadering van veertig jaar vroeër.  Hy lees voor: Presies dieselfde sake as waarvoor die organisasie daardie einste week veertig jaar later weer byeen is.  By implikasie:  In die veertig jaar is daar nog nie hond haaraf gemaak nie. Hy probeer dit toe nog goedpraat, so asof dit getuig van hardnekkige aanhouer-wen-gesindheid.  Maar die boodskap wat die industrie sou bereik, moes gou gespin word – wat gaan van ons in die organisasie word? – want daar ís werklik niks bereik nie en bitter min vordering gemaak; dié oefening het geen nut nie!

Ek onthou toe ek veertig jaar gelede predikant geword het, dat ons in die Kerk erg besorg was oor bediening aan die jeug.  Hierdie jaar, toe ons opnuut weer grondig oor die gemeente se bediening besin, is die jeug toe weer vir party prioriteit, ten spyte daarvan dat wat ons nou al veertig jaar lank probeer regkry, nog nooit geslaag het nie:  Om jongmense weer van die Hervormde Kerk te laat hou.    Pleks daarvan, blyk dit dat ons gemeente nou ‘n versameling oumense is, van gemiddeld sestig jaar oud. 

En hierdie sestigers wil almal hê die jongmense moet terugkom, maar duld nie een die ritmiese kerkmusiek en pik-pik aan Bybeltekste hier en daar wat eie is aan preke wat elders gewild is nie.  Nee, ons duld nie wanorde nie, ook nie emosionele opwelling, histerie of oppervlakkige goedvoelstories nie.  Ons wil ook nie gewoond raak aan aanlyn inskakel vir erediens nie.  Nee, ons hou nie van te veel sang in die erediens nie, nie van “praise and worship” voor die preek nie, en ook nie van te veel liedere wat in die liturgie saampraat en meer as ‘n uur van kosbare gesinstyd op ‘n Sondag eis nie. 

Jongmense sê weer hulle verstaan nie meer wat ons preek nie.  Dit lyk of hulle beter sal snap as ons net almal op Engels wil kerk.  En te oordeel aan hoe goed hulle die Bybel of die Kerk se kategesemateriaal by belydenis van geloof verstaan het, of hoe hulle na belydenis in gebreke bly om daarmee erns te maak, kan jy ook verstaan dat hulle die prediking wat sondaars tot bekering en geloof oproep, vermy.  Oor sonde moet jy nie meer met die jonges praat nie, soos met die charismate ook maar; om hulle van sonde te beskuldig, is erg beledigend, en dat húlle vergifnis moet vra, en self meer verdraagsaam moet wees, en inskiklik, is nie van toepassing op ‘n ouderdomsgroep wat net wil hoor hoe oulik hulle is, hoe goed hulle alles agtermekaar het en hoe die wêreld moet neerbuig om hulle te dien nie.  Ons het die “Gees”, ja, man, ja!  Hulle weet dit want hulle is sterk en bemagtig, en dring aan op aanprysing (affirmation) en die  lof wat hulle verdien in ruil daarvoor dat hulle geslag so buitengewoon eg is en sonder die skynheiligheid wat elke vorige geslag gelowiges, insluitend hulle ouers, vergif. 

En ons?  Wel, ons probeer verbete verstaan wat millenniërs dink hulle beter as ons van die lewe weet, sodat ons hulle tog maar net, ten alle koste, by ons Kerk kan laat tuiskom.  Hoekom? Want ons wil tog so graag hê ons kinders moet, soos ons, net darem glo.   

Ons is, vir die duur van my bediening ten minste, by hierdie impasse. 

So baie het in hierdie veertig jaar verander, en die jeug hou gewoon vol dit is nog nie genoeg nie, die Hervormde Kerk is nog nie lekker nie.  

Die druk is op die Kerk om te verander, nie meer op lidmate van die kerk om hulle te bekeer nie.

Is daar fout mee dat die Kerk hervorm?  Maar natuurlik nie!  Uit ons lysie voorkeure hierbo en weerstand teen aanpassing, is dit al duidelik dit is weer nodig. Ons moet aanhoudend hervorm, dié dat ons oor beheptheid met die afgelope veertig jaar se sakelys begin twyfel.  Ons kan nie langer aan die verkeerde kant van die Jordaan sit en droom van ‘n Beloofde Land nie.  Toe was dit die voorgeslagte wat in die woestyn agtergelaat is, hulle kinders wat die Beloofde Land in sou swem as dit moes. Nou is dit ons oues wat Jordaan toe aanstap in die wete meer as net ons voete mag dalk nat word; ons mag selfs verdrink.  Maar as die Here ons nou droogvoets of spartelend hier wil laat deurkom, dit is nou die tyd om die diepwater van die Jordaan aan te durf.   

Een mens, net een van ons lidmate, het in die besinning oor ons gemeente se bediening vorendag gekom met dié insig:  As ons ‘n gemeente van sestigers is, kom ons neem eienaarskap daarvan; kom ons wees dit met oorgawe.  Kom ons gaan soek mense, oumense – of seniors as ons dan meer respekvol wil wees jeens die geslag wat die Hervormde Kerk tot hiertoe gebring het.  Kom ons gaan haal dalk mense van elders wat ook al lank in die tand is, al orals gaan draai het en tot die gevolgtrekking gekom het net die suiwere evangelie, nugter verkondig en eerlik bedien, eg ontvang en eerbiedig gehoorsaam, maak sin en is wat ons nou soek.  Ons het nie meer ooghare vir foefies en truuks nie, vir die verbeelde waarde van motiveringspraatjies nie, vir wettiese sedelessies en ekstatiese belewenisse nie.  Ons soek Christus wat, helaas, elders nog begrawe lê onder wat mense hier en nou tydelik laat goed voel.  Ons soek na die ware Christus wat tot nou toe moes tweede viool speel.  Jesus Christus kom laaste teen al les anders wat mense so lekker aanpraat om oor hulle eie lewens self beheer te neem, te wen en wins te maak; Jesus Christus kom op sy beste tweede teen alles waarvan mense deesdae nou so doodseker is, wat hulle kragdadig en voorspoedig laat leef.    

Nee, ons gaan nie meer by die ou agenda van veertig jaar gelede hou nie.  Ons veertig jaar lange woestyntog wat getuig van mislukking en ongeluk met jeugbediening, noop ons nou om van agenda te verander.  Met die wa die afgelope veertig jaar al steeks vasgeval in die drif, gaan ons nou doodgewoon kerk wees met en vir die mense wat ons reeds het, dié wat die Heilige Gees oor ons pad gestuur en aan ons sorg toevertrou het.  Aan hulle gaan ons die Here Jesus Christus bedien, die een en enigste Here en Evangelie.  Ons gaan daar niks van afwater nie, ons gaan ook nie van God toertjies verwag om ons te vermaak nie. Ons sal ons harte insit in kerkwees soos die Here dit wil.  Dit impliseer ons sal ons alles gee om alle mense, veral ons eie kinders, by ons te laat tuiskom.  Ons sal verbete dien en vier, onderrig en getuig met alles wat ons oorhet, want ons besef wat op die spel is, én hoe God verwag ons vir almal om ons aanspreeklikheid moet aanvaar.  As ons kinders op die spel is, is dit tog nie moeite nie.  Maar ons kan ook net sover agteroorleun voor ons kantel.

Ons het op die harde manier geleer ons kan nie vir almal alles wees nie; buitendien, Christus is dit reeds, ons hoef nie. 

Maar mense maak saak.  Alle mense maak saak.  Want God gee vir mense om.  Vir die jeug, maar ook vir ons wat die sestigs getref het. 

En as dit dan die Here behaag dat ons gemeente dit nie meer lank uithou nie, want die jeug is weg, en God dink regtig ons oues se tyd is uitgedien, sal ons oues vir die Here brand tot in die blaker.  

Hennie la Grange

Kampersrus Hoedspruit Gemeente   

Die einde is naby!

Die grafika stel die opstanding voor: ‘n Leë kruis en ‘n leë graf. Jesus lewe!

Hoe leef ‘n mens in die eindtyd?        

Hebreërs 12 : 22 tot 13 : 8

14 April 2024, NHKA Kampersrus

Opstanding.


Lees voort “Die einde is naby!”