Die hoofstad, ʼn sieraad, kry ʼn nuwe naam.

Photo by Elina Fairytale on Pexels.com

Geluide van vrolikheid.  

Jeremia 33.  

3 Desember 2023, NHKA Kampersrus

Advent. 


Lees voort “Die hoofstad, ʼn sieraad, kry ʼn nuwe naam.”

Stop jou slaggat.

Dis dertig jaar later. Uit die woestynstreek rondom die Jordaan, kom gerugte van ʼn hippie-dominee wat preek God kom.  Bekeer julle!  Doen dit nou!  En die mense stroom soontoe om die dominee te gaan uitluister.  ʼn Gees van verwagting wil-wil posvat.  Johannes die Doper, seun van pastoriepaar dominee Sagaria en Elisabet, maak opslae. Hy maak die pad reg vir God wat kom. Hy vul die slaggate in die pad op.

Lukas 3 verse 1 tot 23

15 Januarie 2017, NHKA Kampersrus

Epifanie

Skyfie: Stop jou slaggat.  God kom.  

TOETREDE

Predikant

Dis dertig jaar later.

Uit die woestynstreek rondom die Jordaan, kom gerugte van ʼn hippie-dominee wat preek God kom.  Bekeer julle!  Doen dit nou!  En die mense stroom soontoe om die dominee te gaan uitluister.  ʼn Gees van verwagting wil-wil posvat.

Johannes die Doper, seun van pastoriepaar dominee Sagaria en Elisabet, maak opslae. Hy maak die pad reg vir God wat kom. Hy vul die slaggate in die pad op.

Skyfie: Epifanie

Dis Epifanie in ons kerklike jaar.  Ons praat daarom vandag weer oor die besef dat God met Jesus na ons toe op pad is.

Johannes die Doper is die laaste van die groot voor-Christus profete, en ook die eerste wat iets van God se nuwe ingryp kop.  Ons sing oor Johannes in Gesang 319. Johannes is die priesterspruit wat vir die Here die pad voorberei.

Sang (Sit)

Gesang 319 strofes 1 en 3

Dis nou ons beurt om vir God die pad na ons toe te berei.  God gaan verskyn.  Die Here gaan ons hier ontmoet.  Ons jubel in vervoering. Ons sing dit alles uit

Sang (Sit)

Psalm 68 strofes 1

Skyfie: Toetrede

TOETREDE

Ouderling

Toetredelied (Staan)

Ons toetredelied dink terug aan hoe getrou God aan Israel was op die trekpad uit Egipte uit.  By Meriba, toe die volk water vra, het Hy water uit ʼn rots laat kom.  Dien ons God vandag, sê Hy, “Wat jy van My vra, sal jy van My kry, volop en genoegsaam.”   God sal selfs soet heuning ook uit die rots laat kom.

Psalm 81 strofes 4, 5 en 8

TOETREDE

Predikant

Votum (Staan)

3        

Iemand roep: “Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God!

4        

Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet ‘n gelykte word en elke koppie ‘n vlakte.

5        

Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê.”           

Jesaja 40

Seëngroet (Staan)

25      

Die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees.

Numeri 6

Skyfie: Aanbidding en lof

AANBIDDING EN LOF

Ouderling

Sang (Staan)

Gesang 293 is ʼn loflied.  Vandag loof ons God in ons loflied dat Hy ons kinders in die doop syne gemaak het.  Die doop het Johannes die Doper bekend laat word.  Die doop is nou ʼn heilige teken, ʼn sakrament. Met dié dat die kategese vandag weer begin, loof ons God ook oor ons kinders.  Hy het ons kinders lief en lei hulle op die regte pad.

Gesang 293 strofes 1,2 en 3

Skyfie: Die wil van God

Die wil van God (Sit)

Jesus is Immanuel, God by en met ons.  Die oomblik as ons agterkom hoe naby God aan ons kom, vra ons, nes Miga 6:

6        

Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Moet ek met offers na Hom toe gaan, met jaaroud kalwers?

7        

Sal die Here duisende ramme aanvaar saam met tien duisende offers van olie? Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde, hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding?

8        

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Skyfie: Bely skuld

Skuldbelydenis (Sit)

Duisende ramme en tien duisende offers van olie gaan nie help nie.  Nie eers om ons eersgeborenes te offer, gaan ons sonde wegvat nie.  Ons moes net reg laat geskied, liefde en trou bewys en bedagsaam leef.  Ons kon dit nie eers regkry nie. Kom ons bely voor God ons skuld.  Ons doen dit in ʼn lied

Sang (Staan)

Gesang 235 strofe 1

Skyfie: Daar is genade

Genadeverkondiging (Staan)

Wat om duisende ramme te offer, en tien duisende offers van olie te bring, nie kon doen nie, wat nie eers om ons eie kinders te offer, sou kon regkry nie, doen die Vader met sý enigste Seun, Jesus Christus:  Hy offer Hom as ʼn volkome versoening van al ons sondes.  Hy is hier by ons. Hoor Jesaja 12:

1        

Op daardie dag sal jy sê: “Ek loof U, Here! U was kwaad vir my, maar U is nou nie meer kwaad nie en U het vir my uitkoms gegee.

2        

God is my redder; Ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here my God is my krag en my beskerming; Hy is my redder.”

3        

Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding.

4        

Op dié dag sal julle uitroep: “Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is.

5        

Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen, maak dit aan die hele wêreld bekend.

6        

Jubel en juig, inwoners van Sion, want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!”

Skyfie: Glo Hy is by julle!

Geloofsbelydenis (Bly staan)

Kom ons bely ons geloof in God wat groot is, en toe klein genoeg geword het om tot hier by ons te kon kom. “Hy is by julle!”

Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,

dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees en

ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang

Kom ons loof die God wat ons bely het. Hy is God wat by ons bly.  Kom ons sing

Gesang 577 strofes 2, 3 en 5

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Skyfie: Aanbidding en lof   

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Die Here hou oor ons wag.  Hy oorskou ons lewenspad.  Hy weet wat ons regtig nodig het, nog voor ons daarvoor vra.  Ons kan vas vertrou op Hom, en ons lewe en werk met vreugde voortsit.

Gesang 280 strofes 1,2 en 3

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing (Sit)

Skyfies Lukas 3

Lukas 3 verse 1 tot 22  (Bladsy 84 van die Nuwe Testament)

1        

Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters.

2        

In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom.

3        

Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe.

4        

So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja: “Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.

5        

Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word; die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word.

6        

En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.”

7        

Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?

8        

Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.

9        

Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”

10      

Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?”

11      

Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.”

12      

Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?”

13      

En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”

14      

Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”

15      

Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie.

16      

Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

17      

Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

18      

Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig.

19      

Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het.

20      

Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit.

21      

Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan

22      

en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

23      

Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud. 

Oor die Woord van God wat ons nou weer gelees het, skryf Jesaja 40

8        

Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.

Sang (Sit)

Die evangelie is goeie nuus.  Dit maak ons bly.  Die goeie nuus is dat die Here, al weet Hy van al ons kwaad, bo verwagting aan ons vrede gee.

Gesang 258 strofes 1 en 2

Preek (Sit)

Skyfie: Johannes die Doper. Tipies profeet: vreemd, boheems

Johannes is ʼn vuurvreter dominee.  Hy is amper soos een van daai paaiboelie pastore wat langs die pad tent-opslaan, die wederkoms vir volgende Vrydag voorspel en seker maak hy is van deurkollekte voorsien vir die duisendjaar vrederyk daarna, net vir geval hy in die wegraping agterbly.   En dan maak hy seker dat hy teen Donderdagaand sy bondels in sy vier-by-vier pak en verdwyn, die pad vat êrens onopspoorbaar heen, want mens weet nooit of die wêreld dalk hierdie Vrydag gaan oorleef nie.  En dan moet hy ook.

Amper soos hulle, is Johannes ook, behalwe dat hy glad nie soos hulle is nie.  Amper soos, want hy trek met ʼn tentjie. Sy “tentjie” slaan hy op orals in die Jordaanstreek.  Vir dominee Johannes moet jy loop soek, hy kom doen nie by jou huisbesoek nie.

Vind jy hom, is hy tipies profeet.  ʼn Eienaardige verskynsel, vreemdsoortig.  Profete was altyd boheems, asosiaal en teen-kultureel.  Die sestigers en sewentigers onder ons sou vir Johannes kon vergelyk met die hippies van ons jeug. Wild, onversorg, die ene hare. Sy modestyl is eg “retro”, Adam-en-Eva-era, en polities verkeerd.  Hy dra ʼn nommertjie van egte krapperige kameelhaar, en ʼn gordel van dooie dier.  Sy dieet maak op vir sy voorkeur vir pels.  Sy spyskaart is ekologies volhoubaar en hoë proteïen maar laevet en suikervry.  Dis wel nie vegetaries nie, maar dit gaan ook nie die banters lok nie: sprinkaan en heuning, soggens, smiddae en saans.

Die man is ʼn spektakel.  Amper soos, maar tog ook anders as dominees van die sirkustent soort.   Daar is iets geloofwaardigs aan hom.  Hy maak nie geld uit geloof nie. Hy gee nie voor wat hy nie is nie.   Maar sy preke paai ook nie.  Dis nie strelend of soetsappig nie. Dis nie net die ene liefde, vrede, welbehae, genade en feesviering nie.  Jy gaan nie by Johannes ʼn erediens bywoon oor jy wil goed voel nie. Johannes wys vinger, vermaan en betig.  Ek wil dit wegpraat, maar daar staan dit:  Die woord van God het tot Johannes gekom. Die Here wil hierdie harde woorde laat hoor.  En net nog meer mense daag op.  Dis hoe ons is.  Skeefgetrek maar waar: ons hou van slae kry.  Ons hou daarvan as iemand instruksies gee en ons kan klakkeloos doen sonder om te dink.

Skyfie: Wat kan ons doen om God te keer?

As God die dag sê sy oordeel kom, want God is kwaad, is al wat ons wil weet wat kan ons doen om God te keer?

Maar vir God gaan ons nie keer nie.

Wat laat julle dink julle gaan God stop?  Die byl is reeds na die boomwortel toe op pad.  Hierdie is die breukdeel van ʼn oomblik voor impak.  Die helfte is julle nog nie vertel nie, maar weet dit solank: dis sommer nou!  As Jesaja sê alle mense sal die verlossing sien wat van God af kom, moet julle julle nie meer verbeel dit lê nog iewers in die toekoms nie.  En om nou skielik te wil skarrel net om beter te wil lyk, is om jou hare te gaan kam.  Of om winkelvensters te wil versier in die hoop jy kry jou mooi vertoon aan God verkoop.  Dis oppervlakkig, en God doen nie vlak nie.  Johannes preek: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is.” By implikasie: bekeer julle, ja, maar om te dink bekering sit net in wat jy doen, is om jouself wys te maak jy kan God soos n fopdosser laat glo jy is iets wat jy nie is nie.

Bekering sit dieper.  Wat julle ná bekering dóén, is as gevolg van wat met bekering binne-in jou gebeur het.

Simeon het dit ook gesê.  Hy het gesê die gesindheid van baie mense gaan aan die lig kom.  Nie net die front wat ons voorhou nie, ons ingesteldheid.

En nou moet julle julle ook nie wil paai met die ou Joodse idioom: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.”  As jy ooit wou weet hoe dit lyk as iemand die mat onder jou uitruk en jou gemaksone skuif, moes jy gesien het hoe maak daai gemeente toe Johannes vir hulle sê God het hulle nie nodig nie, Hy kan uit klippe kinders van Abraham skep. Dit help jou niks om jou op afstamming of historiese verband te roem nie.  Haal jy die Abraham uit hulle uit, sit hierdie gemeente sonder geskiedenis en sonder God.  Maar dis nie wat julle werklik mis nie, preek Johannes.  Julle glo julle het ʼn verbintenis aan Abraham?  Vra dit: hoe lyk julle verbond met God? Want hierdie klippe is nader aan God en Abraham as julle.

Skyfie: Bekeer julle!

Johannes stroop Israel van sekerheid. Die tradisionele godsdiens werk nie meer om ons nader aan God te bring nie.  God is nie daarmee tevrede nie.  Inteendeel, Hy verafsku dit.  Die Wet werk nie meer om God te eer nie.  Die Profete verstaan Hom nie.

Bekeer julle, preek Johannes. “Bekeer julle” beteken: Verander julle gesindheid.  Stel julle weer in op God.  Vat julle sonde ernstig op. God kom met ʼn nuwe inisiatief wat gaan uitloop op ʼn nuwe verbond.  Die oue het klaaglik misluk.  Om staat te maak op Abraham en die besnydenis, en om te reken op die ou verbond, gaan julle nie meer red nie, want dit keer nie meer die kwaad in julle nie. Julle sonde heers. Erken dat God julle sondes moet vergewe.  Laat julle sondes afwas met die doop – ʼn nuwigheid, en eerste teken van ʼn nuwe bedeling.

Doen julle dit nie, is hierdie die einde van die pad met God. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

Wat moet ons doen, Johannes?  Spel dit vir ons uit.  Johannes gee raad.  Maar Johannes maak nie nuwe wette nie.

Het jy twee kledingstukke?  Gee een vir iemand wat nie het nie.  Het jy meer kos as wat jy kan eet?  Voer iemand wat nie kos het nie.  Dis die uiterlike tekens, die vertoonvenster van bekering.  Niemand van ons kan voorgee ons kan dit nie doen nie.  Ons het oorgenoeg van al’s.

Dat jy vir ander sorgsaam begin omgee het, dís die bekering.

Die mense wat jy Johannes aankom en raad vra, verteenwoordig ons almal, die hele gemeenskap, die sogenaamde “sondigstes”, oftewel die wat vir hulle sondes berug is, ingesluit.  Hulle wil, almal van hulle, weet:  Hoe lyk óns bekering?

Daar kom tollenaars aan om gedoop te word.  Tollenaars is SARS plus Romeinse uitbuiters plus die belastingman se eie gatsak. Die tollenaars vra: “Meneer, wat moet óns doen?”  En Johannes sê vir hulle: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.”  Wees eerlik.  Staak hierdie korrupsie.  Moet jouself nie ten koste van ander verryk nie.  Vat net wat jou toekom.

Ook soldate het hom uitgevra.  Hulle is die polisiemanne wat die onderdrukker se agenda dien, lakeie van die Romeinse owerheid. Mense met mag. Manne met wapens.   “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.”

Wees tevrede.  Moet niemand afdreig net oor jy kan nie.  Hou jou mag in toom.

Matteus wil dit hê dat ook die bestes by Johannes kom besoek aflê het: gerespekteerde Fariseërs en Sadduseërs, mense wat in kerk en politiek godsdiens voorop stel.  Hy beweer dis vir húlle dat Johannes aanvat met “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?”  Selfs hulle wat dink hulle het die sonde onder beheer, hulle wat hulleself wysmaak hulle is te goed vir God se toorn, moet weer na die vrugte van hulle bekering gaan kyk.  Kom jy by?

Uiteindelik gaan Johannes ʼn stappie te ver vir sy eie veiligheid.  Koning Herodes, seremoniële staatshoof van die Jode, hand om die blaas met die Romeine, kom nie om gedoop te word nie.   Maar Johannes se tong kom ook vir hom by.  Johannes ontsien niemand nie.  Hy het vir Herodes tereggewys oor Herodias, die vrou van Herodes se broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes aangevang het.  Herodes stop die praatsiek predikant in die tronk. Mense met mag het maniere om jou te muilband.  Hier’s nog geen sprake van verskanste vryheid van spraak nie.

Skyfie: Is Johannes nie dalk die Christus nie?

Maar die volk het klaar snuf in die neus.  Hier is iets aan die gang.  Die volk was vol verwagting, sien, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie.

Die “Christus”, of “Messias”, is iemand wat almal hoop van God af sal kom en Israel weer sal oprig as ʼn soewereine staat.  Daar is ander idees ook oor wat die Messias sal kom doen, maar hierdie een het die meeste aanhang.  Want dis moeilik onder die Romeine.  Soos met alle vryheidsideologie bly dit gerieflik vergete dat

  • dit die eie volksgenote is wat tollenaars word en hulle eie mense uitbuit, en
  • dis eie soldate wat korrup raak en ons afpers,
  • ons eie kerkmense wat glo hulle is beter as die res,
  • dis ons eie leiers wat vir ons hof toe sleep.

Dit registreer nog nie dat om die Romeine te verdryf, nie die sonde ook die trekpas gaan gee nie. Dié is hier om te bly.  Sonde is eg Joods.  Én eg Afrikaans.  Want dis wesenlik menslik.  Dat sonde, ons eie sonde,  ʼn erger probleem is as Rome, is net nie aantreklike beleid nie.  Jy wen daarmee nie verkiesings nie, behalwe as jy kan regkry om mense te laat glo die ander ou het meer sonde as jy.

Johannes maak seker ons verstaan hom reg.  Nee, hy is nie die Christus nie.  “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.  Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.”

Slaggat sonneblomLukas verduidelik Johannes ook so aan ons:  “So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja: Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit.  Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word; die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word.”  Johannes is die Christus se voorloper, die een wat ons op die Christus voorberei.  Die een wat vir Jesus sy pad bou.  Johannes is daarom ʼn profeet.  Hy is trouens die grootste profeet van almal.  Want hy is die eerste van die profete wat God se nuwe inisiatief kop.  Hy versier nie net die pad met  sonneblomme in slaggate nie, hy maak die pad reg.  Bekeer julle van binne, sê Johannes.

Skyfie: Al die mense sal die verlossing sien

En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom, sê Jesaja.  Wel, hier is dit nou.

Jesus kom staan in die tou om gedoop te word.  Hier in Lukas is dit ʼn doodluiterse mededeling.  Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop.  Matteus vertel dat Johannes wou wegskram, dat hy dit probeer verhinder het deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?”  Jesus sou geantwoord het: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Lukas weet niks hiervan nie.  Hy sê bloot Jesus is gedoop.  Maar albei van hulle merk op dat Jesus se doop nie sommer ongemerk verbygegaan het nie.  Nes met sy geboorte 30 jaar gelede, toe die hemele oopgebreek en engele begin sing het, sien Lukas die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neerdaal.  Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” Weer laat God ons weet dat Hy in mense ‘n welbehae het!  Hy verheug Hom veral in hierdie man, meer as net ʼn mens, sy Seun, self ook God.

Dis waar ons nou staan in ons reis deur Lukas se evangelie:  Jesus is dertig.  En Jesus is gereed.  Is jy?  Want al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.

Vra julle vir Johannes: “[Dominee], wat moet ons doen?” is hier ʼn paar goed af te lei. Dit kom daarop neer: gaan stop jou slaggat.

  • Hou julle reg vir ʼn pynlike onthulling van julle gesindheid jeens God. Daar is gate in jou mondering ook.
  • Stel julle in op bekering, ʼn diepgaande verandering. Jy sal ook moet.
  • Berei julle voor op bekering se gevolge: dit gaan jou gedrag bepaal.
  • Gaan ruim op die goed wat keer dat dit gebeur. Gaan maak die pad daar na jou toe vir die Here gereed. Vul elke kloof op en stoot elke berg plat. Die krom paaie moet nou reguit kom en die ruwe paaie gelyk.

Om mooi potplante in jou slaggate te gaan plant, maak nie die pad reg nie. Nie eers sonneblomme nie.

Bêre net die strydbyle en basta met die beuselagtigheid.

Gaan kyk wat jy het om te deel en ander mee te versorg.

Hou op dreig en afpers.

Wees eg, moenie meer voorgee soos die Fariseërs en die Sadduseërs nie.

Gedra vir jou beter as die konings.

Lewe bedagsaam.

Te groot vir jou, dié opdrag?  Wel, die goeie nuus is die pad is gebou, die slaggate opgevul, die berg en bult platgemaak.  Die pad is mooier as die N1 Kaap toe.  Johannes die Doper het dit gedoen.  En wat Hy nie kon  nie, het Jesus gedoen.

Hier kom God nou, die Seun, die Christus. Hy kom na ons toe aan.

Kom Here, kom gou.

Amen.

WEGSENDING

Dankgebed, Voorbedes (Staan)

Slotsang (Staan)

Jesus, ons hoop, ons hede, ons toekoms. Ons aanbid Hom.

Gesang 480 strofes 1 en 3

Seën (Staan)

Ontvang die seën van die Here uit Psalm 25.

8        

Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,

9        

Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad.

10      

Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar.

Respons (Staan)

Gesang 198 strofe 2

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel