Gee meer!

Gee meer as net geld; gee jouself.

Handelinge 4 : 32 tot 5 : 11.

9 Junie 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit.

Heilige Gees.


Voorleser

  Lees asseblief net wat so in ‘n blokkie soos hierdie een, staan.  

Skrifaanhalings

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. http://www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. http://www.biblesa.co.za.


Liedere in hierdie erediens

  1. Toetrede: VONKK 297 strofes 1, 2 en 3.
  2. Loflied: Gesang 171 strofes 1 en 2.
  3. VONKK 115 twee keer.
  4. VONKK 210 strofes 1 en 2.
  5. Psalm 125 strofes 1, 2, 3 en 4.

Lied vir uitsending

VONKK 297

Met ’n vaderhart vol deernis

1.

Met ’n vaderhart vol deernis

reik U ons, o Heer, die hand.

Laat ons met ’n hart vol liefde

mense aanraak in ons land.

Refrein:

Skenk aan ons ’n hart vol deernis,

’n opregte hart, o Heer.

Dan kan ons met dank en eerbied

tot U sing, u Naam kom eer.

2.

Heer, U vra van al u kinders

harte toegewy en rein,

harte wat standvastig aanhou

deur die vreugde en die pyn.

Refrein:

Skenk aan ons ’n hart vol deernis,

’n opregte hart, o Heer.

Dan kan ons met dank en eerbied

tot U sing, u Naam kom eer.

3.

Heer, ons vra nie geld of rykdom

en ons soek nie roem of goud,

maar ons vra opregte harte

vir ons almal – jonk en oud.

Refrein:

Skenk aan ons ’n hart vol deernis,

’n opregte hart, o Heer.

Dan kan ons met dank en eerbied

tot U sing, u Naam kom eer.

Teks: Nid wy’n go fyn bywyd moe thus – Daniel James 1892; Afrikaanse teks: Hannes van der Merwe 2016 ©

Musiek: CALON LÃN – John Hughes (1872-1914)

Kantoryverwerking: John Hughes (1872-1914)

Mannekoorverwerking: Gerrit Jordaan 2016 ©

© Musiek en kantoryverwerking: Openbare besit

© Teks en mannekoorverwerking: 2016 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)

RUBRIEK:  Klassiek – Gebede / Liefde, Dankbaarheid en Diens


Vooraf

Konteks en kerklike jaar 

Skyfie 1: Sold.  

Skyfie 2: Gee meer! Gee meer as net geld; gee jouself. Handelinge 4 : 32 tot 5 : 11. 9 Junie 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Heilige Gees.

Van omgee hang af hoe eg ons geloof is. Jy kan soos die ryk man in Jesus se storie oor die ryk man en Lasarus, wil reken op jou bande met die aartsvader Abraham – jy is raseg Joods, mos? – maar as jy nie soos Abraham glo nie, en daarom nie soos Abraham jou brood in die diepwater van barmhartigheid werp nie, gaan jy met hierdie lewe en die lewe hierna, nie ver kom nie.  

Barmhartigheid is meer as net gee, en selfs meer as omgee.  Weer gaan dit om wie jy is, en of jy eg is, en oor of jy bereid is om van jouself te gee, nie net van jou goed nie.  God eis opregtheid.  Enigiets minder as dit is skynheilig, ‘n leuen wat jy aan God vertel en dink jy gaan daarmee wegkom.

Kom ons sing oor opregtheid. Ons vra die Here in VONKK 297:

Skenk aan ons ’n hart vol deernis,

’n opregte hart, o Heer.

Dan kan ons met dank en eerbied

tot U sing, u Naam kom eer.

Sang

Skyfies 3 tot 8: Begeleiding begin hier.  Daar is drie strofes; speel die begeleiding tot aan die einde.

VONKK 297 strofes 1, 2 en 3.


Erediens

Oproep van God tot erediens

Skyfie 9: God wat vergewe, dwing ontsag af. Psalms 130 : 4.

Psalms 130

4

Maar by U is daar vergifnis, sodat U ontsag afdwing.

God groet die gemeente met seën

Skyfie 10: Dien God met ontsag en juig met bewing. Psalms 2 : 11.

Psalms 2

11

Dien die Here met ontsag en juig Hom toe met bewing!

Amen.


Aanbidding en Lof

  Sing met ontsag vir die heilige God voor wie ons nou hier staan Gesang 171 strofes 1 en 2.  

Sang

Skyfies 11 tot 14: Begeleiding begin hier. Speel die hele lied se begeleiding.

Gesang 171 strofes 1 en 2.

Wil van God

Skyfie 15: Skuldbesef. Ontsag vir God sien jy aan hoe mense leef. Kolossense 3.

Mense wat ‘n heilige ontsag vir God het, leef anders as ander mense, want God sien ons doen en late. Luister na   Skyfies 16 tot 23: Kolossense 3 : 18 vv., vers vir vers. Kolossense 3  18 Vroue, julle moet onderdanig wees aan julle mans, soos dit gepas is vir mense in die Here. 19 Mans, julle moet julle vroue liefhê, en nie verbitterd teenoor hulle raak nie. 20 Kinders, julle moet julle ouers in alle opsigte gehoorsaam, omdat dit vir die Here aanneemlik is. 21 Vaders, julle moenie julle kinders treiter, sodat hulle moedeloos word nie. 22 Slawe, julle moet julle aardse eienaars in alle opsigte gehoorsaam – nie met oëdiens asof julle mense wil behaag nie, maar met ‘n opregte hart, uit ontsag vir die Here. 23 Wat julle ook al doen, werk met geesdrif, soos vir die Here, en nie soos vir mense nie, 24 in die wete dat julle ‘n erfdeel as beloning van die Here sal ontvang; want julle staan in diens van die Here Christus. 25 Elkeen wat verkeerd doen, sal immers vir sy verkeerde dade vergeld word; niemand word volgens die uiterlike beoordeel nie. Kom ons bely dat ons ook sonde aanvang net waar ons gaan.   Sing VONKK 115.  

Skyfie 24 en 25: Begeleiding begin hier. Speel die hele begeleiding.  Daar is een strofe en ons sing dit twee keer.

VONKK 115 twee keer.

Geloofsbelydenis

Skyfie 26: U hou my vas.  Ek sal antwoord met geloof.  Geloofsbelydenis.

Ons gaan ons geloof bely deur te sit en luister na VONKK 210.  Hierdie nuwe VONKK-lied het eerste prys gewen in ‘n kompetisie vir nuwe liedere wat ons herinner aan ons doop.  Luister, en lees VONKK 210.  

Sang

Skyfie 27 tot 34: Begeleiding begin hier. Speel die hele lied.

VONKK 210 strofes 1 en 2.


Predikant

Gebed

Skyfie 35: Kom ons bid saam.

Kom, laat ons almal saam bid.

Amen.


Verkondiging

Skriflesing

Skyfie 36: Gee meer! Gee meer as net geld; gee jouself. Handelinge 4 : 32 tot 5 : 11. 9 Junie 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Heilige Gees.  

Ons lees uit die Nuwe Testament gedeeltes van Handelinge 4 en 5. Ons lees van Handelinge 4 vers 32 af tot 5 vers 11. Die nuwe kerkie wat begin het om Jesus te aanbid, was toe nog in haar kinderskoene, maar ‘n eie lewenswyse het reeds in die gemeente posgevat. 

Mense is op mekaar ingestel.  Gelowiges help mekaar.  Dié wat iets besit, deel dit met mense wat niks het nie.  Mense begin vir mekaar sorg.  Mense se sorgsaamheid bereik uiterstes.  Barnabas is ‘n voorbeeld.          

Skyfie 37 tot 44: Handelinge 4 : 32 tot 37, vers vir vers.

Handelinge 4

32

Die menigte wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en niemand het na enige van sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit.

33

Die apostels het ook kragtig getuig oor die opstanding van die Here Jesus, en groot genade het oor hulle almal gekom.

34

Daar was inderdaad niemand onder hulle wat gebrek gely het nie, aangesien almal wat grond of huise besit het, dit verkoop het en die opbrengs van die verkope gebring

35

en aan die voete van die apostels neergelê het. En aan elkeen is dan uitgedeel in ooreenstemming met wat hy nodig gehad het.

36

Josef, ‘n Leviet afkomstig uit Ciprus, wat by die apostels die bynaam Barnabas gekry het – as dit vertaal word, beteken dit Seun van Vertroosting –

37

het ‘n stuk grond besit en dit verkoop en die geld gebring en aan die voete van die apostels neergelê.

Skyfie 43: Gee meer!

Uiteraard het sulke offerbereidheid in die gemeente aandag getrek. Hierdie Josef, of te wel “Seun van Vertroosting” a la Barnabas, sou nie net oor sy dankoffer aan die gemeente uitstaan nie. In ‘n sin, het Barnabas se ruimhartige offergawe hom ook vlerke gegee.  Nou sonder grond wat ‘n mens aan een plek bind, kan Barnabas die wêreld in, agter die Here se belange aan. Tradisie wil dit hê dat hierdie einste Barnabas, ‘n Jood uit Ciprus, saam met Paulus op sendingreise sou gegaan het.  Handelinge noem hom later ‘n apostel.  Sy rol in die kerk sou wees om gelowiges uit ander nasies te beskerm teen druk uit Joodse geledere om Joodse gebruike te moet volg. Barnabas sou ook deelneem aan die Kerkvergadering van Jerusalem.

Dit is hartseer dat sulke lofwaardige dade tot vergrype kan lei.  Die aansien wat sy dankoffer vir hom verwerf het, was aantreklik en begeerlik.

Skyfie 44 tot 54: Handelinge 5 : 1 tot 11, vers vir vers.

Handelinge 5

1

‘n Man met die naam Ananias het saam met sy vrou Saffira ‘n stuk grond verkoop,

2

maar hy het, met sy vrou se medewete, van die geld vir homself teruggehou, en net ‘n gedeelte gebring en aan die voete van die apostels neergelê.

3

Petrus het toe gesê: “Ananias, waarom het Satan jou hart vervul, sodat jy vir die Heilige Gees gelieg en vir jouself van die geld vir die grond teruggehou het?

4

Toe dit onverkoop bly lê het, was dit nie joune nie? En toe dit verkoop is, was die geld nie tot jou beskikking nie? Waarom het jy hierdie daad in jou hart bedink? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.”

5

By die aanhoor van hierdie woorde het Ananias inmekaargesak en gesterf, en groot vrees het almal oorval wat hiervan gehoor het.

6

Die jong manne het toe nader gekom, hom in linne toegedraai, na buite gedra en begrawe.

7

Ongeveer drie uur later het sy vrou ook binnegekom, onbewus van wat gebeur het.

8

Petrus het vir haar gevra: “Sê my, het julle die grond vir sóveel verkoop?” En sy het geantwoord: “Ja, vir soveel.”

9

Daarop sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here te tart? Kyk, die voete van hulle wat jou man begrawe het, is by die deur; hulle gaan jou ook uitdra.”

10

Op daardie oomblik het sy by sy voete inmekaargesak en gesterf. Toe die jong manne inkom, het hulle haar dood aangetref, uitgedra en by haar man begrawe.

11

En groot vrees het die hele gemeente en almal wat hiervan gehoor het, oorval.

Dit is die Woord van God wat in die Bybel vir ons vervat is.  Glo, en julle sal lewe.

Skyfie 55: Gee meer! Gee meer as net geld; gee jouself. Handelinge 4 : 32 tot 5 : 11. 9 Junie 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Heilige Gees. 

Preek

Die Ou Testament praat van ‘n tiende van ons besittings as gepaste dankoffer aan God.  Die Nuwe Testament sê nie hoeveel jou dankoffer moet wees nie.  Die Nuwe Testament sê wel dat jou dankoffer, om ‘n werklike dankoffer te wees, nie uit dwang of verpligting moet kom nie. Jy kon min gegee het, en tog alles gegee het wat jy het, of jy kon jou ganse rykdom verkoop en aan die armes gee – beide offers is ewe veel werd.  Dit hang af van wat jy het om mee te begin. 

Wanneer Paulus die Korintiërs aanspoor om gee, sê hy:

2 Korintiërs 9

6

Die punt is: Wie karig saai, sal karig oes; en wie oorvloedig saai, sal oorvloedig oes.

7

Laat elkeen gee soos hy vooraf in sy hart besluit het – nie met droefheid of onder dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.

8

En God is magtig om alle genade oorvloedig vir julle te laat wees, sodat julle altyd in elke opsig selfversorgend kan wees, en oorvloedig kan bydra tot elke goeie werk.

God gee jou genoeg sodat jy ander kan help.  Help dus graag, help oorvloedig, gee vrygewig.  Hulpverlening is mos genadebetoning, en God gee aan jou oorgenoeg genade. Barmhartigheid is, net soos genade, ingesteldheid op mekaar.  Barmhartigheid is die verlengstuk van gasvryheid.  Maar wat mense soos Barnabas en Ananias en Saffira aan dankoffers gee, is gasvryheid op steroïdes, net soos Abraham s’n!  

Met dié het gelowiges begin dink oor wat hulle alles besit, en of hulle dit self  werklik nodig het.  Soms is jou eiendom net ‘n blok aan die been.  Raak jy daarvan ontslae, kom jy self daarvan los, en kan jy ook ander daarby laat baatvind. 

Niemand het dit egter ooit van jou verwag om van eie besit af te sien nie, en daar was nooit in die kerk stigma aan privaatbesit nie.  Nee, die kerk is nie kommunisme nie.  Daarom dat, toe Barnabas sy lap grond verkoop en die opbrengs daaruit aan die kerk kom gee om ander mee te versorg, staan hy uit, en word hy tot selfs in die Bybel daaroor eervol vermeld!  Ander het hom dit agternagedoen.  Dit is hoe God dink oor geld:  Nie as iets wat enkelinge ryk maak nie, maar as ‘n middel waarmee mense wat tot geld toegang het, ander wat dit nie het nie, kan help oorleef.  

Die kerk kan nie sonder geld nie.  Soms word die kerk daarvan verdink dat ons geld vat en anderpad kyk as ons nie so gemaklik voel oor waar dit vandaankom nie.  My pa was ‘n diaken.  My pa het ‘n kort humeur gehad.  Hy het vertel hoe hy die geld wat ‘n tannie vir hom oor die tafel gegooi het, teruggesmyt het.  Met dié dat diakens ons nie meer besoek nie, kan ons nie meer ons woede vir God soos dié tannie gedoen het, op mekaar uithaal nie. Want jy gee dankoffers aan God, nie aan die kerk nie, of jy weerhou dit van Hom.  O, die kerk is ook nie onskuldig nie:  Ons het die verwagting dat mense sal gee.  Gee hulle dan nie, of nie genoeg nie, sien ons op hulle neer.  Maar in die vroeë kerk was daar geen dankoffernorm nie.  Die norm vir hoeveel jy gegee het, was hoe nodig iemand anders jou gawe gehad het.  Niemand het ‘n rekening gekry nie, of ‘n diaken wat soos ‘n balju kom aanklop het as jy agterstallig was nie. 

Ananias en sy vrou, Saffira, was onder geen verpligting nie.  Hulle doen wat Barnabas ook gedoen het; hulle verkoop hulle grond en bring geld kerk toe. 

Hoekom raak Petrus agterdogtig?  Ander mense tog presies dieselfde.  Kon hy nie maar net dankie gesê het nie, en die geld vir sorgsaamheid gaan gebruik het nie? Jy kan wie weet hoeveel mense mos help met ‘n plaas se geld. 

Geld is nie die probleem hier nie.    

3

Petrus het toe gesê: “Ananias, waarom het Satan jou hart vervul, sodat jy vir die Heilige Gees gelieg en vir jouself van die geld vir die grond teruggehou het?

4

Toe dit onverkoop bly lê het, was dit nie joune nie? En toe dit verkoop is, was die geld nie tot jou beskikking nie? Waarom het jy hierdie daad in jou hart bedink? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.”

Ananias het vir God geprobeer lieg.  Dit is Satanswerk.

Hoekom sou Ananias wou lieg oor hoeveel van die koopsom hy skenk? En waarom voorgee dat hy alles weggee, as net ‘n bietjie, ‘n tiende dalk, al genoeg sou wees?  En waarom dit met Saffira afpraat, dat sy sou saampraat?  In  dié sameswering teen God skuil ‘n erger sonde as net verdoeselde geld.  

In die destydse Romeinse samelewing was patronaatskap die reël.  Hoëklasmense, die adel, die rykes, die voorheen bevoordeeldes, het arm en minder bevoorregte mense onder hulle vlerk geneem.  Sulke rykes het bekend gestaan as die “patroni.” Die “patroni” sou mense soos vrygemaakte slawe – dikwels hulle eie slawe wat hulle vooraf sou vrylaat – ander armes en plebs (plebs is mense van lae stand) help met geld, met kos en regshulp, soos borge nou nog maak.  Die eertydse slawe, armes en plebs het dan die “patroni” se “cliens”, hulle “kliënte” geword, maar anderse “kliënte” as wat ons uit ons eie ekonomie ken.  Ons ken klante en kliënte as mense wat by jou kom goed of dienste koop en waarde vir geld kan verwag.  Maar Romeinse kliënte is self deur hulle Romeinse borge “gekoop” voordat die omgekooptes dit self eers besef het.  Jou borg het, soos banke en kredietverskaffers deesdae met advertensies, jou só mooi gehelp, dat jy naderhand vasdraai, jy so diep in die skuld raak, dat jy voor jy weet huidjie en muidjie aan jou borg behoort.  Met jou in sy greep, begin jou borg van jou gunste verwag, minstens eerbied, maar ook dat jy vir hom politieke en maatskaplike voordeel beding.  

Ons weet uit Jesus se preke omkopery en uitbuiting was nie net ‘n Romeinse neiging nie.  Jesus preek oor hoe Jode mekaar se grond bekom het deur markte so te manipuleer dat grondeienaars uitgeboer raak; later is boere so vrot van die skuld, dat hulle hulle grond moet afgee aan hulle skuldeisers om te bewerk, maar nooit tot die boere se voordeel nie. 

Maar in Romeinse kringe werk patronaatskap, moet ek in alle billikheid sê, na weerskante toe.  Patronaatskap kon groot voordeel inhou vir beide partye in die vennootskap.  Sommige “patroni” was gesog; jy was graag hulle “cliens,” hulle “betaal” goed; hulle is vrygewig.    

In die Romeinse Ryk sou “cliens” daagliks aan hulle “patroni” eer bewys, deur hulle daagliks met uitspattige openbare eerbetoon te kom groet.  Die  “patroni” se aansien het afgehang van hoeveel mense hulle daagliks kom dagsê.  Klink dit soos facebook?  Of “Instagram”?  Of X? Hoe meer “likes,” hoe beter voel jy oor jouself, en hoe meer “friends” en “followers” hoe hoër is jou status onder eweknieë. Ja, nes met facebook, plaas jy die dag iets en niemand reageer nie, voel jy afgehaal, asof jou invloed taan.  Sosiale media “influencers” is ‘n hele nuwe beroep.

Goeie “patroni” was gesog, want hulle kon ook vir die “cliens” groot voordeel inhou.  Jy is met hulle geassosieer.  “Patroni” het vir hulle invloedryke senatore in die Romeinse senaat gekry as hulle “cliens”, wat hulle belange in regering sou kon dien.  Amerikaanse “lobbyists” doen dit nou nog, en daar’s nie fout mee nie.  Hier sny ons die middelman uit en noem ons geld vir gunste sommer bedrog en omkopery.  Noem dit wat jy wil – om voordeel te koop, tenderbedrog, om mense te betaal om te swyg oor jou skandes, of om mense tot onderdanigheid te dwing omdat jy hulle kan afdreig met skuldeise – niks hiervan sê “Hê jou naaste lief soos jouself” nie.  En naasteliefde is tog mos hoe dit in die Here se kerk werk, dan nie?   

Die Here wat naasteliefde van ons eis, het ons nie verbied om eiendom te mag besit nie.  Die Here pers ons ook nie af om liefde aan mekaar te bewys nie. Liefde werk anders.  God het die middele waarmee ons mekaar moet liefhê, aan ons beheer oorgelaat.  Wat jy daarmee maak, is jou saak.   

Maar dat Ananias en Saffira dink hulle kan dieselfde mate van invloed vir hulleself in die kerk koop as wat hulle geld buite die kerk vir hulle maatskaplike status kan gee, dit is waar hulle dwaling begin. Wat is hulle dwaling? Waarom het om te lieg oor hulle eie geld, vir Ananias en Saffira hulle dood gekos?  Jy kan sê hulle skynheiligheid is ontmasker, dat hulle bloot net beter wou lyk as ander mense, of minstens net so goed, en dat hulle dus agter aansien aan was, soos Barnabas s’n.  Dan is Ananias en Saffira steeds gelowiges, dog al te ambisieuse gelowiges wat wou uitblink as gelowiges.  So ‘n bietjie selfverheerliking doen mos niemand skade nie?  Jy doen maar net wat goeie bemarkers gedurig doen, jy lieg ‘n bietjie by om jouself aan te prys as lofwaardige gelowige.  

Petrus sien dwarsdeur hulle.  Petrus onthul Ananias en Saffira is vals gemeentelede.  Hulle soek nie net eer wat hulle nie toekom nie – hulle het nie gedoen wat Barnabas gedoen het nie, hulle gee net voor hulle het (sê Scott Bartchy).  Ananias en Saffira kom uit en hoort ook nog steeds in ‘n heeltemal ander wêreld as God se koninkryk.  Hulle is “patroni” soos jy onder Romeine kry, hulle is in die kerk daarop uit om “kliënte” te werf.  Hulle probeer die kerk  kaap.  Hulle wil gelowiges  verslaaf.  Daarvoor dink hulle kan hulle God uitbuit.

Nee, hierdie mense is geen goeie gelowige lede van die gemeente met ‘n effens misplaaste begeerte om beter te lyk as wat hulle regtig is nie.  Hulle is bose buitestanders, geldwolwe en gewetenlose ongelowiges wat onder die gemeente ingedring het om die kerk te koop en haar lidmate te verslaaf.  Nie net hoort hulle nie in die kerk nie, hulle is indringers met kwade bedoelings, handlangers van Satan, wolwe onder die kudde van Christus wat dink hulle kan vir God om die bos lei en hulle aan God se kinders vergryp.  Petrus lê hulle bloot, God roei hulle uit.     

  • Petrus stel in die proses hier ‘n beginsel van kerkwees vas.  ‘n Leuen aan die kerk, is om te lieg vir God en die Heilige Gees. Herkou bietjie dié gedagte dat om vir die geloofsgemeenskap te lieg, gelykstaande is aan met Satan te heul, en God te bedrieg.   
  • Daarbenewens, dat ‘n gelowige by God so in die moeilikheid kan kom oor hoe jy jou eie geld gebruik, slaan die asem weg.  Gelowige mense se geld en ons goed, is ook God se geld en God se goed.  Hoe jy dit aanwend, is godsdiens. Wat jy nalaat om daarmee te maak, is ‘n gruwel. 
  • Die een basiese ding wat die Heilige Gees doen, is om ‘n gemeenskap byeen te bring juis sodat mense daarin vir mekaar sal sorg.  Die Heilige Gees gee daarvoor aan die gemeente die mense wat die middele vir sorg het.  Die Heilige Gees skep by gemeentelede besorgdheid oor mekaar.  

As jy die werk van die Heilige Gees vervals, en jy jou eie agenda met die kerk het, dit maak nie saak hoe goed jy dit probeer verbloem nie, bedreig jy die wese van die Christelike gemeenskap van heiliges.  Trek jy ‘n streep deur hoe God die Heilige Gees Hom met die gemeente identifiseer, sal dit jou suur bekom.    

Ananias and Saffira se sameswering teen die Heilige Gees gebeur in die sfeer van kerklike finansies. Maar dieselfde geld vir elke ander opsig waarin jy kerkwees vervals of geloof na-aap.

Om gelowig kerk te wees is om te weet jy het hier met God die Heilige Gees te doen.  Dit verg ‘n heilige ontsag vir die kerk van Christus, sodat geen eie agenda die wil van God verongeluk nie.   Self sal ons nie altyd daarin slaag nie,  maar wat Ananias en Saffira ons leer, is dat God self sal seker maak sy kerk bly Syne.

Wees eg in julle liefde, sorgsaam met julle geld, versigtig met die kerk van God.   

Amen.

Wegsending

Predikant

Skyfie 56: Seëngroet. Die goddelose septer sal nie rus op wat aan regverdiges toegeken is nie. Psalm 125. 

Seën

Psalms 125

3

Ja, die goddelose septer

sal nie rus op wat aan

die regverdiges toegeken is nie,

sodat die regverdiges nie

hulle hande na onreg uitsteek nie.

4

Here, doen goed aan die goeies,

aan dié wat opreg is in hulle harte.

Amen.

Sang

Skyfie 57 tot 60: Psalm 125. LW: Die begeleiding het ‘n ekstra vers.  Ons sing daartydens weer die derde strofe.  

Psalm 125 strofes 1, 2, 3 en 4, en dan weer strofe 3.


Skyfie 61: Gee meer! Gee meer as net geld; gee jouself. Handelinge 4 : 32 tot 5 : 11. 9 Junie 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Heilige Gees.   https://hennielagrange.wordpress.com/

Afkondigings

Skyfie 62: Gee meer! Gee meer as net geld; gee jouself. Handelinge 4 : 32 tot 5 : 11. 9 Junie 2024.  NHKA Kampersrus Hoedspruit. Heilige Gees.  https://hennielagrange.wordpress.com/Uitstapbegeleiding VONKK 210.

Insameling van die dankoffers


Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.