Gedans én gehuil.  Geëet én gedrink.

Die God van vrate en wynsuipers, én van mense wat net sprinkane kan bekostig.

Of: Ordentlikheid is bedrog.

Daar is nie net een manier om die Here te dien nie.

Daar ís natuurlik ook dwaling én waarheid.  Maar dit ís so dat waarheid jou vrymaak, en jou eindelose moontlikhede bied vir hoe om mens voor- en mens by God te wees.  Vanmôre hoor ons die Here sê:  Kies een, of kies ‘n ander een.  Maar kom tog net aan die gang.

Dien die Here!

 

Matteus 11 : 16 tot 19 / 24

19 Januarie 2020, NHKA Kampersrus

Epifanie.


Nota aan die voorleser

Die voorlesing van die geloofsbelydenis en die riglyne vir gelowige lewe, kom eers aan die einde van die erediens.

Liedere in hierdie erediens

Gesang 164 strofes 1 en 2.

VONKK 120 : 1, 2 en 3 (Gesang 163).

Gesang 175.

Gesang 205 strofes 1, 2 en 3.

VONKK 234 strofes 1, 2 en 3.

VONKK 169 strofes 1, 2 en 3.

Gesang 213 strofes 1 en 2.

Gesang 219 strofes 1, 2 en 3.      

Gesang 228.

Uitstapmusiek.

 

Vooraf

Skyfie: 2020

Skyfie: Kinders. (Met musiek)

Skyfie: Gedans én gehuil.  Geëet én gedrink. Die God van vrate en wynsuipers, én van mense wat net sprinkane kan bekostig. Of. . .  

Daar is nie net een manier om die Here te dien nie.

Daar ís natuurlik ook dwaling én waarheid.  Maar dit ís so dat waarheid jou vrymaak, en jou eindelose moontlikhede bied vir hoe om mens voor- en mens by God te wees.  Vanmôre hoor ons die Here sê:  Kies een, of kies ‘n ander een.  Maar kom tog net aan die gang.  Dien die Here!

Skyfie: Sit en sing Gesang 164 : 1 en 2.  Verheerlik Hom!  Dis waarvoor ons hier is!

Hoe kom ‘n mens aan die gang?  Jy doen dit net.  Jy meld aan.  Jy daag op, ook daar waar ander mense dit alreeds doen.  Dit doen ons met Gesang 164.     

Sing (Sit)

Skyfie: Begeleiding begin hier. Hele lied.

Gesang 164 strofes 1 en 2.

Skyfie: Epifanie.  Jesus is God!

Ons is met die kerklike jaar in ‘n tyd genaamd “Epifanie”.  (Dink aan die Engelse “epiphany”, ‘n oomblik waarin alles skielik sin maak, en dit jou soos ‘n hamerhou tussen die oë tref.)  Dis die tyd van gewaarwording dat Jesus die Here is.  Vir die meeste van ons is dit ‘n proses, en ‘n hele klomp goed wat, bymekaargesit, aan ons openbaar wie Jesus regtig is.

Skyfie: Sit en sing VONKK 120 : 1, 2 en 3.  Ons smag na God.

Dit help as jy na God smag, en vir God verwag.  Trouens, hoe meer God jou hartsverlange is, hoe beter is die kanse jy sal God agterkom.   

Sing (Sit)

Skyfie: Begeleiding begin hier. Saamsingopname. Hele lied.

VONKK 120 : 1, 2 en 3 (Gesang 163).

TOETREDE EN AANROEPING

Predikant

Skyfie: Toetredelied. Staan op en sing Gesang 175.  Majesteit!

Ons het God in Jesus raakgesien.  Dis hoekom ons sy kerk is. Staan op, dan sing ons oor die majesteit van ons Here, Jesus Christus.    

Sing (Sit)

Skyfie: Begeleiding begin hier. Hele lied.

Gesang 175.

Votum (Staan)

Skyfie: Votum.  Wat sien en hoor julle? 

Matteus 11

3        

“Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”

4        

Jesus antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien:

5        

Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.

Seën (Staan)

Skyfie: Seën. Moenie twyfel nie.

Matteus 11

6        

En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.”

Amen.

LOF EN AANBIDDING

Predikant

Loflied

Skyfie: Loflied. Staan en sing Gesang 205 : 1, 2 en 3.  Niemand wat glo sal verlore gaan nie. Ons glo! Loof die Heer! 

Moenie begin twyfel nie.  Glo!  Sing Gesang 205.

Sing (Staan)

Skyfie: Begeleiding begin hier.

Gesang 205 strofes 1, 2 en 3.

Gebed (Eie gebedshouding)

Skyfie: Gebed. Gebruik die gebedshouding waarmee jy gemaklik voel.

Ons gaan nou saam bid en net na die gebed gaan ons die Onse Vader sing, die VONKK-weergawe daarvan.  Dalk wil jy vir die lied opstaan?  Besluit self oor watter gebedshouding jy wil inneem.

Kom ons bid nou almal saam.

Skyfie: Bid saam.  

Bid saam

Amen.

Skyfie: Sing VONKK 234 : 1, 2 en 3. Abba, Vader. 

Sang (Staan)

Skyfie: Geen aankondiging nie. Begeleiding begin hier. Gebruik die saamsingopname.

VONKK 234 strofes 1, 2 en 3.

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing (Sit)

Skyfie: Skriflesing.  Sit.  Matteus 11 : 16 tot 19.  Bladsy 18, NT (1983). Kinders wat nie wil saamspeel nie.   

Matteus 11

16      

“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:

17      

“ ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het ‘n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie!’

18      

“Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’

19      

Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

20      

Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie:

21      

“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het.

22      

Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle.

23      

En jy, Kapernaum, dink jy “ ‘jy sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’ “As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het.

11:23: Vgl. Jes. 14:13, 15 .

24      

Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.”

Hier eindig vandag se Skriflesing.

Skyfie: Sit en sing VONKK 169.  Sit stil, luister!  Hoor jy as God ook met jou praat?

Nou ja, dit gaan hier oor kinders wat nie wil saamspeel nie.  Jesus sê ons moet soos kinders word, maar nie soos hierdie kinders wat mekaar sit en verwyt dat niemand wil saamspeel nie.

Kom ons sing vir ons kinders ‘n liedjie wat sê ‘n mens moet stil sit en luister, dan hoor jy God met jou praat.

Bly sit, en sing saam VONKK 169.  Daar is drie strofes.    

Sang (Sit)

Skyfie: Begeleiding begin hier. Saamsingopname. Hele lied.  

VONKK 169 strofes 1, 2 en 3.

Prediking (Sit)

Skyfie: Gedans én gehuil.  Geëet én gedrink. Die God van vrate en wynsuipers, én van mense wat net sprinkane kan bekostig.  Of: Ordentlikheid is bedrog. 

Jeug is mooi.  Jeug is altyd mooi en begeerlik. Ons betaal duur daarvoor.  Nou nie dat geld veel help nie: Oud sal ons word.  Al waaraan ons naderhand meer geld uitgee, is gesondheidsorg, want ons klou verbete aan die lewe vas.

Ja, jonkheid ís heerlik.  Maar jongmense is nie vir ons oues maklik om mee te werk nie.  Hulle weet altyd van beter, mos.  Dié dat gesê word: Huur ‘n tiener; hulle weet al’s.  Jy hoef hulle niks te leer nie; jy kán ook nie, jy kan hulle net mooi niks leer nie.

Hoe bid ons nie dat hulle tog net hoor nie:  Dat niemand onvernietigbaar is nie; hulle moet versigtiger lewe.  Hulle moet stadiger lewe, want tyd is al vlugtig genoeg.  Spoed is dodelik.  Buitendien, hoe meer haas, hoe minder spoed.  Aan die een kant moedig ons hulle aan, want ons het ons eie gemis, ons eie spyt oor vervloë jeug en verlore tyd: Geniét jonkwees, sê ons, dis alte gou verby. Gryp vandag!  Aan die ander kant briek ons, waarsku ons alewig dat jy kan opraak, dat jeug jou te gou kan opgebruik.  Gelukkig, of ongelukkig, hoor hulle ons nie.

Dis die generasiegat wat maak dat ons mekaar net nie kan kleinkry nie.

Jesus sê kinders kom die maklikste in die koninkryk, en ons moet almal meer soos hulle wees.  Maar as Jesus die dag iets soek om destyds se volwasse geslag mee te vergelyk, kies Hy kinders as ‘n voorbeeld, maar nie die kinders of die ouer generasie kom goed daarvan af nie. Kinders het ook maar hulle nukke.  Kleuters is al vol dinge.  En moenie dink ons oueres is nie. Daar is goeie rede waarom óns tieners vir óns ook nie altyd respek het nie.   Maar hier gaan dit nou oor kinders wat net nie met mekaar gespeel kry nie.  Die kinders kom nie met mekaar klaar nie, want kinders is onvolwasse, eiesinnig, moedswillig en ‘n hele klomp ander goed wat spel breek.

16      

“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep.

Daar word op markpleine nogal geraas gemaak.  Mense jou na hulle stalletjies toe deur hulle laer pryse en beter produkte luidkeels te bemark, soos op ‘n dag in die Kaap ‘n man aan ons roomys wou verkoop wat by glo verre lekkerder is as sy buurman s’n, skree hy, want hierdie van hom is “vars uit die Vrystaat!”

Die geroep na klante was dalk nog die kinders se werk, soos nou nog in Asië.

17      

“ ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het ‘n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie!’

Bedoelende:  Julle weier om saam te speel.  Julle is onredelik moeilik.  Julle is met niks tevrede nie.  Speel ons vrolike musiek, het julle vir dans nie lus nie.  Toe Francois le Roux, die HA!Man verlede jaar hier aan die dans raak, wou ek eers ineenkrimp van verleentheid oor hom, voor ek besef het hoedat hy my gebrek aan spontaniteit daar voor almal ontbloot.  Nou’s ek spyt ek het nie saamgedans nie.  Ons lúister na vrolike liedjies, maar dáns is ‘n passie te ver; vir dans is ons te skaam.  Maar as dans dan nie jou ding is nie, doen ons vir jou die teenoorgestelde en sing hartseer liedjies.  Maar dan wil julle weer nie huil nie.  Wat hier met “huil” vertaal is, is meer as net trane wat loop.  Dis nader aan ‘n geweeklaag, ‘n oeloelerende gejammer van die soort wat jou jou bors met jou vuiste laat slaan, of jou kop teen ‘n muur laat kap.  Die woord maak in Grieks die geluid van ‘n mens wat kop verloor, ‘n kopafkappery selfs, en insinueer moord, soos dié op Johannes en Jesus.  Van ekstaties gelukkig tot ten diepste, tot die dood toe, bedroef, niks werk vir julle nie.  Die hele spektrum is vir julle oopgedek, maar niks kry julle sover om te kom deelneem nie.

Met dans en huil is daar op aarde niks fout nie.  Elkeen van hulle het ‘n regte tyd en gepaste plek.  Ons voel almal by tye na die een of die ander.  Jy mag ook maar op enige plek in die wye spektrum tussen dans en huil kom inval.  Nee, nie julle nie.  Julle sit op die wal, waar die beste stuurman staan, op die kantlyn waar die beterweteriges die spel vergeet en die skeidsregter jou – ‘n oom van my is by die skool die kantlyn verbied! – maar  speel, speel julle nie self nie.

18      

“Johannes (dis nou Johannes die Doper) het gekom en nie geëet of gedrink nie,

Johannes die Doper se leefstyl was asketies en Spartaans.  Hy’t geëet wat hy in die veld kon vind, sprinkane meestal.  En heuning.  Johannes eet nie ryk kos nie.  En die dag toe hy wél by ‘n rykman se tafel sy opwagting maak, het hy geen aptyt meer gehad nie:  Sy afgekapte kop het sonder maag daar opgedaag. En oor hy net sprinkane en heuning geëet het – dit het hom ten minste nie doodgemaak nie! – sê die kinders van Israel Johannes ‘is van die duiwel besete.’  Wat jy waar kry?

En dan kom “Die Seun van die mens”, ‘n titel wat die Ou Testament gee vir iemand wat gewoonlik erg swaarkry en ellende ly.

19      

Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.’

Jesus weet hoe mense oor Hom skinder. “’n Vraat”, “’n wynsuiper”, ‘n dronkaard en ‘n koekvreter, dis die vloekwoorde wat mense Hom toesnou.  Anders as Johannes, sit Jesus by rykmanstafels aan.  En gemeet aan sy “gesiene” vriende, is Hy nes hulle: “tollenaars” en “sondaars” is skuim!  Sies!

Johannes is nie goed genoeg nie.  Jesus, sy teenoorgestelde, ook nie.  Die kinders wil nie saamspeel nie, want hulle hou nie van hulle speelmaats nie.  Dit maak nou nie saak dat hulle speelmaats so uiteenlopend soos Jesus en Johannes is nie, met sulke mense wil hulle niks uit te waai hê nie.   Nee, daar is geen rasionele verklaring voor nie.  Spreuke sê jy stry nie met ‘n dwaas nie.  Hulle wil geen rede verstaan nie.   Hulle hét geen rede nie.

Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Nee, die koninkryk van God behoort nie aan kinders omdat hulle oulik en onskuldig is nie. Die koninkryk van God is vir mense wat soos kinders die leiding van meerderes aanvaar, kinders wat bereid is om te leer en hulle gedrag te verander as hulle reggehelp word.  Die koninkryk van God behoort aan mense wat wysheid herken as hulle dit sien, en die kloutjie by die oor kan bring:  Wysheid wys na God toe. Sien jy wyse werke, weet jy God is hier aan die werk, want net God tree met wysheid op.

Ons grootmense laat ons nie voorsê nie. Nie meer nie.  Niemand sê vir ons wat om te doen nie.  Ons sal speel, maar met ons eie reëls, op eie terme.  Ons wil nie net kies wie speel in ons span nie, ons wil kies met en teen wie ons speel.  Maar ons wil ook die reëls van die spel neerlê. En hiervandaan in Jesus se vergelyking van sy generasie met astrante kinders gefokus op die spelreëls waaroor ons nie met God wil ooreenkom nie.  Benewens dat ons nie met God wil saamspeel nie, moet God se speletjies eers ons reëls kry.  Anders speel ons nie.

Wat dan, is die reëls van die spel?  Dis baie eenvoudig, selfs kinders kan dit speel.  Sien jy wonderdade, weet jy mos nou God is hier. Is God só naby, leef jy tog soos voor God.   Die wonderdade gebeur oop en bloot, van dorp tot dorp op die markplein, waar al wat leef dit kan sien.  ‘n Mens sou verwag dat net daar, op die dorpsplein waar dit duidelik geword het God sy intrek geneem het, mense anders gaan begin leef, soos voor God.  Bekering, mos.

Toe nou nie. Bekering is die laaste ding wat mense doen.

20      

Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie:

21      

“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida!

Gorasin was ‘n klein Israelse gehuggie naby Kapernaum.  Jesus moes daar wonders gedoen het, maar dis die eerste keer hierdie dat ons hoor Hy ooit daar was.  Dalk was die wonderdade daar nie so indrukwekkend nie?  Dit het niemand daar juis na bekering laat voel nie. Van Betsaida weet ons ‘n bietjie meer.  Dis waar die dissipels Petrus, Andreas en Filippus vandaankom, aan die kus van die See van Galilea.  Jesus het daar ‘n blinde man laat sien, en dis ook daar waar Jesus vyfduisend mense met ‘n bietjie brood en ‘n paar vissies kosgegee het. Ordentlike dorpe, Israel se mense, eie!  Ellende wag vir hierdie dorpe, want hulle het God se wonderwerke daar gesien, maar dis nie asof jy dit aan hulle kan agterkom nie, want van bekering is daar geen sprake nie, nie in een van die twee nie. Hulle het dit nie nodig nie, mos?  Hulle is klaar ordentlik.

As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het.

Maar Tirus en Sidon is dan heidenstede.  Dis die bittere ironie: Dat as heidene God se werke sien, hulle God herken, tot bekering kom.

Israel lig so effentjies ‘n wenkbrou en loop dan skouerophalend weg.

22      

Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle.

23      

En jy, Kapernaum, dink jy “ ‘jy sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’ “As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het.

24      

Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.”

Kan dit erger?  Sodom wat vir sonde berug is, kom beter daarvan af as Kapernaum!

Dis soos om te sê: Johannesburg gaan in die oordeel dit beter hê as Kampersrus.  Johannesburg met sy kriminele en sy kerkloosheid, is meer vatbaar vir bekering as plekkies soos Kampersrus, want hier ken ons mos nou al vir God.  Kyk, ons is hier vreeslik ordentlik.  Bekering is nie hier ‘n krisis nie.

Dis hoe die speletjie werk:

Jy sien die wonders wat Jesus doen.  Tot hiertoe dans ons nog saam.

Jy sien God in Jesus, en bekeer vir jou.  Nee, hier skop ons vas. Want om te beweer ek moet my bekeer, is ‘n growwe belediging. Ek neem aanstoot.

Hier begin die treurlied, maar sing gaan ons ook nie.  Ons speel nie meer saam nie. Ons sit dikbek eenkant en stoom.

Luister bietjie weer hoe roep God ons:  Kom, kom speel. Kom dans en kom sing.  As jy dit saam met iemand wil doen, dans jy in pas, sing jy op tempo.  As jy met God wil saamspeel, lees jy die reëls.

Kyk, sien God.  Bekeer, dien God.

Amen.

Skyfie: Sit en sing Gesang 213 : 1, 2.  Juig oor Jesus.  

Gesang 213 neem ons op ‘n voëlvlug deur die evangelie van Jesus Christus en sê in die gevolgtrekking: “Sal ons Hom dan nie vertrou nie?” Maar natuurlik sal ons.  Sit en sing dit saam.

Sang (Sit)

Skyfie: Begeleiding begin hier.

Gesang 213 strofes 1 en 2.

Ouderling

Geloofsbelydenis (Sit)

Skyfie: Sit. Bely dat jy glo.  Bely wat jy glo. 

Dit vat soms lank, maar hoe meer dikwels ons sê dat ons glo, hoe makliker word dit om te glo, en hoe meer ons bely presies wat ons glo, hoe beter kom ons reg met geloof en gelowige lewe.  So klink wat ons glo:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

Amen.

Riglyne vir ‘n gelowige lewe. (Sit)

Skyfie: Riglyne vir ‘n gelowige lewe.  Glo in Jesus.  Doen wat Jesus doen.  

As jy met jou mond bely het dat jy glo, moet jou lewe saampraat, anders is dit ‘n leuen.  Glo jy in Jesus, doen jy wat Jesus doen.

Johannes 14

10      

Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, praat Ek nie uit my eie nie; maar dit kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen.

11      

Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.

12      

“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

13      

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.

14      

As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

15      

“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.

Skyfie: Staan op en sing Gesang 219 : 1, 2 en 3. Jy kán maar in Jesus glo:  Hy wýs hoe liefde lyk.

Die riglyne vir ‘n gelowige lewe sê gewoonlik wat ons alles moet doen.  Vandag is dit anders:  Jesus vertel wat Hý alles in ons lewe kom doen.  Daaroor moet ons sing:  Ons kan in Jesus glo, want kyk wat doen Hy alles.  Hy wys ons hoe liefde regtig lyk.

Sang (Staan)

Skyfie: Begeleiding begin hier.

Gesang 219 strofes 1, 2 en 3.      

WEGSENDING

Predikant

Seëngroet (Staan)

Skyfie: Seëngroet.  Matteus 11.  “U het dit aan eenvoudiges bekend gemaak.”

Matteus 11

25      

Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.

26      

Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27      

“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

Respons

Skyfie: Sing Gesang 228.  Halleluja! 

Sing (Staande)

Skyfie: Begeleiding begin hier. Geen aankondiging nie.

Gesang 228.

Afkondigings

 

Skyfie: Gedans én gehuil.  Geëet én gedrink. Die God van vrate en wynsuipers, én van mense wat net sprinkane kan bekostig. Of. . .  

 

Skyfie: Gedans én gehuil.  Geëet én gedrink. Die God van vrate en wynsuipers, én van mense wat net sprinkane kan bekostig. Of. . . https://hennielagrange.wordpress.com/

Dankoffers

 

Skyfie: Uitstapmusiek.

Skyfie: Gedans én gehuil.  Geëet én gedrink. Die God van vrate en wynsuipers, én van mense wat net sprinkane kan bekostig. https://hennielagrange.wordpress.com/

 

 

 

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.