Die verlore God.

Photo by Katakam Sai Swaroop on Pexels.com

Mis ons Hom?          

Lukas 15 : 4 tot 7. Matteus 7 : 7 en 8.  Psalms 105 : 1 tot 4. Romeine 3 : 10 tot 12.

5 Mei 2024, NHKA Kampersrus.

Opstanding.


Voorleser

  Lees net die gedeeltes in die blokkies.    

Liedere in hierdie erediens

Psalm 40 : 13 en 14.

Psalm 70 strofe 3.

Psalm 37 strofe 3. 

Gesang 555 strofes 1, 2 en 3.

Psalms 40 strofes 7 en 8.

VONKK 381 strofes 1, 2 en 3.

Gesang 308 strofes 1, 2 en 3.


Lied

VONKK 381

Vind jou skuiling in my hawe

1.

Vind jou skuiling in my hawe

as die storms om jou woed

en die winde van vertwyf’ling

onrus waai deur jou gemoed.

Ek beskerm jou in my skadu,

in die diepte van die nag.

Jy mag rus kry in die wete:

Ek, jou Heer, hou oor jou wag,

Ek, jou Heer, hou oor jou wag. 

2.

As jou lewensbootjie dobber

op die woeste oseaan

en die digte mis omvou jou

soos die laaste daglig taan.

Rig jou blik dan op die hemel,

na die sterkte van my hand

en Ek lei jou deur die deinings

veilig na die anderkant,

veilig na die anderkant.

3.

Roep tot My wanneer die vrees jou

in die lewe laat verdwaal

en die donkerte oorspoel jou

soos die golwe om jou maal.

Laat my almag jou omsingel,

dan bring Ek jou veilig tuis

deur die skadu van my hande,

na die kus, jou Vaderhuis,

na die kus, jou Vaderhuis.

Teks: Schuil maar veilig − Frits Deubel;

Afrikaanse teks:  Hannes van der Merwe 2017©

Melodie: SCHUIL MAAR VEILIG – Frits Deubel; Afrikaanse weergawe:  Hannes van der Merwe 2017 © 

Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2017

Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2017

© Teks, musiek en hierdie vertaling: Unisong Music Publishers, t/a Fave Music, Hilversum

RUBRIEK: Klassiek – Geloof en Vertroue / Lyding en Nood


Toetrede

Skyfie 1:  Die Verlore God. Mis ons Hom? Lukas 15 : 4 tot 7. Matteus 7 : 7 en 8.  Psalms 105 : 1 tot 4. Romeine 3 : 10 tot 12.  28 April 2024, NHKA Kampersrus. Opstanding.

Ons sê God is liefde.  Al wat ons van die liefde weet, is hoe óns self liefhet.  Dit help ons nog nie om God te verstaan nie.  God se liefde vir ons is meer as die liefde wat ons vir mekaar het, en anders as enige liefde wat ons al in die wêreld teëgekom het.  Daarvan waarsku die Bybel ons.  Maar ons maak nog steeds die fout om te dink met hierdie eenvoudige spreuk het ons God verklaar.

Om enigiets oor God te leer, moet ons leer om verder te gaan soek as net ons eie klein wêreldjies.  Jesus help ons met gelykenisse juis dit doen.  Omdat ons nie vanself buite ons eie raamwerke gedink kry nie, maak Jesus in sy stories gebruik van karakters en situasies wat ons voel ons ken.  Maar aan die einde van elke gelykenis sit jy stomgeslaan dat jy nog nooit so, soos Jesus, aan die lewe gedink het nie. 

Ek het verlede week gehad oor of ons bereid is om te leer.  Om van God te leer begin by om na God te soek.        

Kom ons sing dat wie na God op soek gaan, God sal vind.  Vind God, en dit maak jou bly.  Vra God Hy moet Homself laat vind, en gou ook.  

Sang

Begeleiding begin hier:  Speel 2 strofes van die begeleiding. 

Skyfie 2 en 3 : Psalm 40 : 13 en 14.

Psalm 40 : 13 en 14.

God roep ons op tot erediens.

Skyfie 4: Die Seun van die mens het na ons kom soek. Lukas 19 : 10. 

Staan op wanneer God ons roep om ‘n gemeente in erediens te wees.

Lukas 19

10

Die Seun van die Mens het gekom om diegene wat verlore is, te soek en te verlos.”

God seën ons in sy teenwoordigheid.

Skyfie 5: As jy God soek, sal God jou laat vind. Matteus 7. 

7

“Vra, en vir julle sal gegee word;

soek, en julle sal vind;

klop, en vir julle sal oopgemaak word.

8

Want elkeen wat vra, ontvang;

en wie soek, vind;

en vir wie klop, sal oopgemaak word.

Amen!


Lof en aanbidding

Skyfie 6 : Loof en aanbid God. 

  Die Here word gevind, deur almal wat Hom soek.  Die Here wil hê ons moet bly wees ons het Hom gevind.  Die Here is groot!  Sing Psalm 70 se derde strofe en daarna ook Psalm 37 se derde strofe wat sê wie na God soek, vind God en is vol vreugde.      

Sang

Begeleiding begin hier:  Speel twee strofes van die lied se begeleiding.  Die twee psalms gebruik dieselfde melodie.   

Skyfie 7 en 8. 

Psalm 70 strofe 3.

Psalm 37 strofe 3.  

Skuldbesef.   

Skyfie 9 : Die stryd teen sonde is die stryd teen ongeloof. Johannes 5. 

  Om teen sonde stelling in te neem, is om in geloof na God te soek:  Ons wil nie net uitvind wat God se wil is nie, ons soek God self, sodat wanneer ons God vind, ons God kan liefkry. In Johannes 5 sê Jesus: “Soek die eer wat van die enigste God kom.”    Johannes 5 Skyfie 10 tot 20, vers vir vers. 37  . . .Die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gestalte gesien nie. 38 En julle het sy woord nie blywend in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. 39 Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle [dié Skrifte] wat oor My getuig. 40 Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie. 41 “Ek aanvaar nie verering deur mense nie, 42 maar Ek ken julle – julle het nie die liefde van God in julle nie. 43 Ek het in die Naam van my Vader gekom, maar julle aanvaar My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. 44 Hoe kan julle glo terwyl julle van mekaar eer wil ontvang, maar nie die eer soek wat van die enigste God kom nie? 45 Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, die een op wie julle julle hoop gevestig het, wat julle aankla. [Dit doen Moses deur die Wet.] 46 As julle Moses geglo het, sou julle My geglo het; hy het tog oor My geskryf. 47 Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”  

Gebed vir geloof

  Dit is die vraag wat ons onsself moet afvra:  Glo ons die Skrif?  Glo ons wat God sê oor Christus?  Jesus Christus spoor ons hartstogtelik aan om dit te doen. Kom ons bid met ‘n lied vir geloof.   Sing saam Gesang 555 se drie strofes. Dit is hoe ons vandag geloof bely:  Ons sê ons soek na geloof.  Ons soek na ons God.      

Sang

Begeleiding begin hier:  Speel drie strofes, die hele begeleiding. 

Skyfie 21, 22 en 23. 

Gesang 555 strofes 1, 2 en 3.


Verkondiging

Skyfie 24 : Kom ons luister na die Woord van die Here. Lukas 15 : 3 tot 7, Matteus 7 : 7 en 8,  Psalm 105 : 1 tot 4 en eindig met Romeine 3 : 10 tot 12. 

Skriflesing

Ons lees vier kort snitte uit die Bybel. Lukas 15 : 3 tot 7, Matteus 7 : 7 en 8,  Psalm 105 : 1 tot 4 en eindig met Romeine 3 : 10 tot 12.

Ons begin in die Nuwe Testament en lees Lukas 15.      

Skyfie  25

Lukas 15

3

Toe het Hy vir hulle hierdie gelykenis vertel:

4

“Wie van julle wat honderd skape het en hy verloor een van hulle, laat nie die nege-en-negentig in die woestyn agter, en gaan agter die verlore een aan totdat hy hom kry nie?

Skyfie  26

5

En as hy hom gekry het, tel hy hom met blydskap op sy skouers,

6

en gaan huis toe en roep sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle, ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat verlore was, weer gekry.’

Skyfie  27

7

Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig •regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.”

Nou lees ons ‘n paar verse van Matteus, Matteus 7 verse 7 en 8.

Skyfie  28.

Matteus 7

7

“Vra, en vir julle sal gegee word;

soek, en julle sal vind;

klop, en vir julle sal oopgemaak word.

8

Want elkeen wat vra, ontvang;

en wie soek, vind;

en vir wie klop, sal oopgemaak word.

Nou blaai ons na die Ou Testament en luister na Psalm 105 verse 1 tot 4.     

Skyfie  29.

Psalms 105

1

Prys die Here, roep sy Naam uit;

maak onder die volke sy dade bekend.

2

Sing vir Hom, besing Hom!

Praat met oorgawe

oor al sy wonderwerke.

Skyfie  30.

3

Beroem julle in sy heilige Naam;

laat die harte van hulle

wat die Here opsoek, bly wees.

4

Soek die Here en sy krag,

soek voortdurend

sy teenwoordigheid op.

Terug Nuwe Testament toe, lees ons nou uit Romeine 3 verse 10 tot 12.

Skyfie  31.

Romeine 3

10

“Daar is niemand regverdig nie,

selfs nie een nie;

11

daar is niemand verstandig nie,

daar is niemand wat God soek nie.

12

Almal het afgedwaal;

saam het hulle ontaard.

Daar is niemand

wat goed doen nie,

daar is selfs nie een nie.”

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. http://www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.

Glo die Woord. Glo in God.


Kom ons sing vir God dat ons ons aan die Skrif sal steur.  Kom ons sê dit is op ons ingegrif, soos ‘n mens ‘n tatoe op jou laat teken.  Ons begeer net dié een ding:  Om God se wil te doen. Sing Psalm 40 strofes 7 en 8.

Sang

Begeleiding begin hier:  Speel twee strofes van die begeleiding.   

Skyfie 32 en 33.

Psalms 40 strofes 7 en 8.

Prediking

Skyfie 34:  Die Verlore God. Mis ons Hom? Lukas 15 : 4 tot 7. Matteus 7 : 7 en 8.  Psalms 105 : 1 tot 4. Romeine 3 : 10 tot 12.  28 April 2024, NHKA Kampersrus. Opstanding.

Ek het verlede week gesê ons kan God nie uit ons eie verwysingsraam probeer verstaan nie, want God bestaan nie in net die dinge wat ons goed ken nie.  Ek het gesê ons kan nie hoe ons liefde verstaan, net so op God toepas en dink ons het God volledig verklaar nie. God pas nie netjies in boksies nie. En Jesus weet dit. 

Omdat Jesus weet ons gaan met die beste verduidelikings ter wêreld God nie verstaan kry nie, gaan Hy omsigtig met ons te werk.  Dit keer Hom nie om ons tog van God te probeer leer nie.  Hy leer ons deur stories te vertel.  Jesus vertel stories wat ons maklik snap, want sy stories is van gewone mense en hulle dinge, mense en dinge wat ons maklik herken.  Maar sy stories se ontknopings verras; sy stories verloop onverwags anders as wat ons voorsien het. Sy doel is om die koninkryk van God te verduidelik, en die koninkryk van God lyk anders as wat ons dink; met dié gebeur daar in Jesus se stories goed wat ons nie verwag nie.  Jesus verras ons, skok ons selfs.  Die karakters in Jesus se stories, dieselfde mense wat ons gedink het ons ken, vang goed aan wat ons nie sou gedoen het nie, en die situasies verloop anders as wat ons gedink het.  So leer ons dat God van ander moontlikhede in die werklikheid weet as dié waarvan ons bewus is.  Dit ruk, want ons dink ons ken ons eie werklikheid, ons verstaan mos onsself en ons eie wêreld.

Die gelykenis waarop ons Skriflesing fokus, het twee maats.  Lukas het dit agtergekom, en skryf aldrie na mekaar in sy evangelie op, in Lukas 15.  Ons gelykenis is die verhaal van ‘n skaapwagter wat ‘n skaap verloor, gaan soek en vind en dan van blydskap oor sy vonds, feesvier. Die ander twee verwante stories handel oor ‘n tannie wat ‘n muntstuk verloor en terugkry en ‘n kuier met haar vriendinne reël om dit te vier, en die derde storie is van ‘n pa met twee seuns.  Die een seun, die jongste van die twee, dring voor sy pa se dood al aan hy wil sy erfgeld hê en gee dan pad.   Die oudste seun bly grimmig tuis.  Erfgeld is swerfgeld;  die jongman mors dit uit en kom druipstert terug huis toe.  Sy pa is bly en reël ‘n party.  As die oudste broer dit agterkom, bars die bom.  Maar oor die pa en sy twee seuns gaan ons ons nie vandag verknies nie.  Ons gaan probeer om agter die kap van die byl te kom van die eerste van die drie stories oor verlies en vreugde by die terugvind van iets kosbaars, die een oor die agtelosige herder. 

Wat dink ons gewoonlik as ons lees van “die verlore skaap?”  Waarna vermoed ons verwys die verloopte skaap? Na iemand wat die spoor byster geraak het, nè?  Dié word gesoek en gevind.   

En wie dink ons is die herder wat na die skaap op soek gaan?  God nè, of Jesus, of een van Jesus se agente in die wêreld, hulle wat skarrel om die kerkvolk bymekaar te probeer hou.   

Dit is Lukas wat ons so laat dink.  Lukas verduidelik die storie so.  Hy laat Jesus sê:  

7

Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.”

Lukas laat dit klink Jesus wil hê ons moet die storie verstaan as aansporing om bekeerlinge te gaan soek.  Ek het geen twyfel dat Jesus dit wel gesê het nie.  Ek is net nie so seker dit was Jesus se bedoeling met hierdie storie nie.  Wat laat my wonder?  Wel, Matteus vertel dieselfde gelykenis, en by hom het Jesus dit oor kinders wat geringgeskat word, maar vir God belangrik is.  Dat die twee verskil, laat my dink nie een van hierdie twee toepassings van óf Matteus óf Lukas is noodwendig wat Jesus met die gelykenis bedoel het nie, al is die verskillende woorde wat beide die skrywers onthou Jesus gesê het, ook waar. 

Nou, wat hét Jesus dan bedoel?  In ag genome dat die drie stories wat hier in Lukas op mekaar volg, so eenders verloop, vermoed ek hierdie drie gelykenisse het ook eenderse betekenisse.  Aldrie die stories gaan oor verlies van iets kosbaars, oor ‘n soektog daarna, oor die terugvind daarvan en die bly wees daaroor.   Die seun wat huis toe kom in die verhaal van die sogenaamde “verlore seun,” sou op die oog af moontlik kon handel oor God se blydskap as mense hulle bekeer, maar ek het skape nog nooit tot bekering gesien kom nie, en geld nóg minder.  In die stories oor die verlore skaap en die verlore geld, gaan iemand naarstiglik na die skaap en die geld op soek.  Niemand gaan soek na die seun wat met sy pa se geld weggeloop het nie; hy kom self tot ander insigte.  Maar as jy ‘n skaap wat dom is of geld wat stom is nie gaan soek nie, vanself gaan dit nie na jou toe terugkom nie.   

Miskien gaan die storie van die verlore skaap dan nie oor bekering nie.  O, dit gaan dalk wel oor blydskap in die hemel, maar miskien nie soseer oor ‘n bekeerde wat teruggekeer het trop toe nie, en ook nie oor ‘n dominee die afgedwaalde gaan soek het nie.  En is daar dan nie blydskap in die hemel oor die nege en negentig skape wat hulle getrou by die trop gehou het nie? 

Dit is, onder andere, waar die Evangelie van Thomas die fout maak en hom ‘n plek in ons Bybel kos.  Die Evangelie van Thomas is ‘n Deuterokanonieke boek.  Thomas sê die skaap wat weggeraak het was die grootste in die trop, die herder se gunsteling.  Daarom sou die herder hom dadelik gemis het en gou weer kon vind.  Daar sê die herder vir die gevonde skaap:  “Ek het jou baie meer lief as die nege en negentig ander skape.”  Waarom dan?  Was dit goed die skaap het pad gevat?  Kry God ons liewer as ons rebelleer?  Het God witbroodjies, of hanslammers?  Is dit hoe ons God ken?  Maar natuurlik nie!  Daarom staan Thomas se evangelie nie in die Nuwe Testament nie.  Maar Lukas kom tog ongemaklik na aan Thomas. Een skaap wat weggedwaal het, kom terug, en die Here in die hemel is verheug, meer verheug oor die een se terugkoms as oor die oorgrote meerderheid se blywende getrouheid. Hierdie nege en negentig ander, die oorgrote meerderheid van die gemeente, het geen skuld om te bely nie, het geen sonde om hulle van te bekeer nie, en omdat hulle oukei is, is hulle eintlik nie ‘n groot bron van vreugde nie.  Is dit hoe ons Jesus leer ken het, en is dit wat Jesus ons van die koninkryk van God leer?   Nee, nie een van dié moontlikhede slaag nie. 

‘n Storie wat baie eenvoudig moes wees, is dieper as wat ons gedink het, en met dié gaan die boodskap daarvan maklik verlore. 

Kom ons probeer weer. 

Die herder bedoel dit met die skaap wat weggeraak het, goed.  Maar hy bedoel tog seker met sy hele trop dit goed?  Op sy eie gaan die verloopte skaap onbeskermd wees teen al die gevare wat skape op hulle eie teen die natuur in die gesig staar.  Maar los die herder die nege en negentig ander skape op hulle eie om na die een wat weggeraak het te gaan soek, loop hy tog die risiko om ‘n hele trop te verloor, mos?  Daarom, met die eerste lees van Jesus se goedvoelstorie oor die skaap wat soek geraak het en weer gevind is, voel dit Jesus het sy gehoor verloor.  Kom ek probeer verduidelik.

“Wie onder julle wat ‘n honderd skape het, sal nie die nege en negentig los om een te gaan soek wat weggeraak het nie?”, vra Hy.  Ek wed julle my traktement ons sou almal gesê het:  Nee wat, daardie risiko loop ek nie.  Gemeet aan die risiko om nóg skape te verloor deur die trop in my soektog na die een wat weg is, alleen te laat, sou ek die skaap wat weggeraak het, as ‘n verlies afskryf.  Want herders weet:  Nege en negentig skape op hulle eie, is so uitgelewer aan die natuur soos een skaap op sý eie dit is.  Kom ek terug, met of sonder die verlore skaap, is die kanse goed ek is die ander nege en negentig ook kwyt.  Maar hierdie herder van Jesus vang ‘n malligheid aan.  En Jesus weet dit.  Jesus reken daarop sy gehoor weet dit ook, al gee Hy voor ons sou almal dieselfde gedoen het;  Hy weet maar al te goed ons sou nie. Hy is ironies.

Daarom verwag Jesus die teendeel van wat Hy vra, as Hy sê: “Wie van julle sal nié die verlore skaap gaan soek nie?”  Die waarskynlike antwoord uit sy gehoor sou wees:  Beslis nie ek nie!

En buitendien is die storie nie eers hipoteties geslaagd nie:  Niemand in Jesus se gewone gehore sou ‘n honderd skape in hulle troppe hê nie; nee, hierdie is duidelik die trop van ‘n vermoënde skaapboer. Ons sou dit ook kon byvoeg by die ooreenkomste tussen die drie gelykenisse oor verlore goedere:  Aldrie die mense wat in Jesus se stories goed verloor, is ryk.  Hulle kan die verliese bekostig.  Maar as jy vermoënd is – dis die vraag – as jy baie van iets het, gaan jy dit maklik mis as net een wegraak?  Vat nou maar die herder met die honderd skape:  Hoe maklik gaan dit vir hom wees om agter te kom net een uit die trop is weg?  Die pa met net twee seuns sal baie gouer agterkom een van die twee is verlore, maar, toegegee, die pa in dáárdie storie se probleem gaan wees om uit te vind watter een van die twee dit is!  Die feit bly staan, iemand met min, voel gouer verlies, selfs klein verliese is vir so iemand groot.  Maar wat ons van die skaapwagter weet, is dat hy die skape eers moes getel het om agter te kom een kom kort.  Met moeite kom hy dit te wete.

Hoe nou gemaak? 

Sou jy die nege en negentig skape op hulle eie en onbeskermd in die veld laat staan om na die een wat weg is, op soek te gaan?  Die breë konsensus gaan wees: Nee! Onbesonne, laat hierdie skaapwagter die res van die trop onbewaak agter en gaan soek hy die een wat verlore is. Gelukkig kry hy hom.  Oorstelp, lig hy die skaap oor sy skouers en dra die stomme ding terug trop toe waar hy ‘n oog op hom kan hou.  En gelukkig is die res van die trop nog daar, ongedeerd. 

‘n Skaapboer is ek nie, maar ek word vertel ‘n skaap hou gewoonlik nie juis van skaapgedra te word nie.  ‘n Skaap ken ook nie sy eie naam nie, al noem jy hom “Tjoppie”.  In Johannes 10 sê Jesus sý skape herken sy stem.  Dit is moontlik.  Maar of dié verlore skaap oorloop van vreugde oor hy gevind is, trouens of die skaap selfs besef hy was ooit weg, is onwaarskynlik.  En of dié een skaap se terugvind ‘n partytjie regverdig waarby heel waarskynlik skaapvleis betrokke is, is debatteerbaar.  Hierdie skaapwagter van Jesus is baldadig.   

Dit is, dink ek, die punt van Jesus se storie:  As die skaapwagter sy verlies agterkom, byna te laat besef ‘n skaap is weg, doen die man ‘n onbesonne ding, en hy is buitengewoon bly as sy waagstuk geluk.  Oordaad is sy uitstaande eienskap. 

Dalk is hierdie nie die gelykenis van die verlore skaap nie, maar die gelykenis van die agtelose skaapboer wat te laat agterkom hy het ‘n skaap laat afdwaal en wegraak?  Dié dat die skaapwagter so verbete na die verlore skaap op soek gaan, onverskillig die risiko loop om nog meer skape te verloor as hy hulle los om na net die een te gaan soek, en so oorstelp van vreugde terugkom na hy die skaap gekry het, en vir seker baie, baie bly is die res van die trop is by sy terugkoms nog daar.  Die verlore skaap was sy skuld, jy sien.  Hy, die herder, die skape se oppasser, het hulle nie goed genoeg opgepas nie.  Sy vreugde is sy verligting dat daar nie erger konsekwensies aan sy agtelosigheid was nie.  Hy kon die situasie nog red.

En nou laat Jesus my wonder:  Het ek dalk iets verloor maar dit nog nie agtergekom nie. 

Wanneer laas het ek bestek geneem? 

Ek dink Jesus suggereer ons het dalk iets verloor, ons weet dit nog net nie.  Of ons weet dit wel, maar besef nie die waarde van ons verlies nie.  

En miskien het ons dit nie sommer per ongeluk verloor nie, ons het nie daaraan genoeg aandag gegee nie.  Ons het dit afgeskeep, ons was nalatig, toe gaan dit weg.  Jesus se skaapwagter besef iets skort, en hy reageer kort duskant histerie.  Sy hele wêreld gaan mank aan sy verlies.  Sy lewe is skielik onvervuld, sy omgewing van invloed en besit is onvolledig.  So oorweldigend voel vir hom sy verlies, dat hy roekeloos te werk gaan om dit reg te stel.  

Is enigiets wat óns mis, vir ons so belangrik dat dit ons wêreld op sy kop het?  As ons nog skaars bewus is ons mis iets, hoe kan die verlies ons nog oorweldig?  Ons weet nog nie eers iets van ons is soek nie.  Ons mis nog niks.  Ons is nie fyn ingestel op wat ons het en nie meer het nie.  Skat ons wat ons maklik weggooi of toelaat om sommer weg te gaan, regtig na waarde?  Nee.

Wanneer was die laaste keer dat ons voorraad opgeneem het, sodat ons sou weet as daar iets weg is?  Dink dalk “iemand,” pleks van “iets.” Wanneer was die laaste keer dat jy nie net vanselfsprekend op iemand se teenwoordigheid gereken het nie, maar verreken het wie dit is wat vir jou daar is, wie dit is wat jou lewe onopgemerk vol maak, aan jou waarde toevoeg?  En as ons sou ontdek ons het so iemand verloor, is die deurslaggewende vraag:  Sal ons aanspreeklikheid aanvaar vir die verlies?  Gaan ons daar iets aan probeer doen?  Sal ons na wie ons verloor het, op soek gaan, of gaan ons mekaar maar afskryf as dooie verlies, slegte skuld, permanent verlore en dan doodluiters sonder wie agterbly, voortgaan?  Of sal ons naarstigtelik op soek gaan, moeite doen om dit wat ons prysgegee het, te gaan vind, en weer terug te bring? 

Ek het in my lewe baie dinge verloor, en baie mense.   Ek mis hulle.  Maar ek kom seker maar sonder hulle klaar?  Waarom my verder oor verlies verknies? 

Wat het jy regtig in jou lewe verloor?, vra Jesus.  Of dalk: Wie? En wat gaan jy daaraan doen?, wil Hy weet.  Is wat jy kwyt is, vir jou belangrik genoeg om alles anders te los om net dit wat jy verloor het, weer te gaan vind?  Is dit wat weg is, vir jou so belangrik dat, as jy dit weer vind, jy baie, baie bly sal wees?  Of besit jy dalk te veel om agter te kom net een van jou baie goed is soek? 

In die gelykenis gaan dit oor een van ‘n honderd skape wat weg is.  Die herder tree op asof hy sonder hierdie een skaap nie kan klaarkom nie.  Wie is dit sonder wie ons nie kan aangaan nie?  Gegewe Jesus se agenda, om ons aan God te herinner, is daar net een wat hierdie reaksie regverdig:  God!

Ek het die vermoede Jesus bedoel God, dit is God wat weg is.  Want selfs al staan hy reg langs ons, kom ons Hom nie eers meer agter nie, so sleg ken ons God, ons herken Hom nie meer nie.  Hy is maar een van baie.  

Ons het God verwaarloos.  God is ons verlore besitting, ons spreekwoordelike “verlore skaap”.  God is lankal soek en ons weet dit nie eers nie.  Dit pla ons skaars.  Het ek met God se teenwoordigheid rekening gehou sodat ek Hom dadelik gemis het toe Hy weg is?  Ek vermoed van nee.  Koester ek God se nabyheid, of verwaarloos ek God soos die skaapwagter daardie skaap?  En kan ‘n mens God nes ‘n verlore skaap afskryf en normaal voortgaan asof dit nie saakmaak nie?  Wel, nie as jy dit beskryf soos in die idioom oor die verlore varkie nie:  Iemand wat nie al sy varkies op hok het nie, is nie normaal nie.  Hoekom sou iemand sonder God normaal wees?         

Mense soek na God, en hier is Hy nou, maar ons kyk nog by Hom verby, kyk Hom mis, het geen benul daarvan dat God by ons is nie, en besef ook nie ons het Hom langs die pad verloor nie. 

In die volgende storie gaan die tannie haar munte soek al het sy baie ander, en ‘n partytjie hou om te vier sy het dit terug.  Dan gaan die pa sy seun wat teruggekom het vier, maar ontdek dat die seun wat altyd by hom was, toe eintlik die verlore een is.  Telkens brand die vreugdevure hoog.  Want die koninkryk van die hemele vat grond.

Daar is grappige sêding wat lui dat van alles wat ek verloor het, ek my verstand die meeste mis.  Soos in Kop verloor, mos.  Ek dink ons behoort God dalk meer te mis, as ons nog net die verstand het. 

Soek God.  Vind God.  Vier God. 

Amen.


Ons het God gesoek.  God het Godself laat vind.  Ons het God gekry. Kom ons sing dit uit VONKK 381, drie strofes.   

Sang

Begeleiding begin hier, speel die hele begeleiding.

Skyfie 35 tot 41.

VONKK 381 strofes 1, 2 en 3.


Uitsending

Skyfie 42.  Kom ons bid saam. Staan almal op.  

Bid

Kom ons staan almal op om te bid.

Amen.

Seën

Skyfie 43 : Seëngroet. By God vind ek rus.  God is my toevlugsoord. Psalms 62 : 2 en 3.

Psalm 62 

2

Net by God vind ek rus;

van Hom kom my verlossing.

3

Net Hy is my rots, my verlossing,

my toevlugsoord;

ek sal beslis nie wankel nie.

Amen.

Sing 

Begeleiding begin hier. Speel slegs drie strofes van die musiek.   

Skyfie 44 tot 46.

Gesang 308 strofes 1, 2 en 3.


Afkondigings

Skyfie 47 :  Die Verlore God. Mis ons Hom? Lukas 15 : 4 tot 7. Matteus 7 : 7 en 8.  Psalms 105 : 1 tot 4. Romeine 3 : 10 tot 12.  28 April 2024, NHKA Kampersrus. Opstanding.

Dankoffers

Skyfie 48 :  Die Verlore God. Mis ons Hom? Lukas 15 : 4 tot 7. Matteus 7 : 7 en 8.  Psalms 105 : 1 tot 4. Romeine 3 : 10 tot 12.  28 April 2024, NHKA Kampersrus. Opstanding. Uitstapmusiek: VONKK 381.


Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.