Mosterd of moerbeie?

Waar sal my geloof vandaankom?

Mosterd gee geur. Nie almal van ons hou vreeslik baie van mosterd nie, dis ʼn aangeleerde smaak.

Ek hoop ons kan so leer dink oor die musiek wat die Hervormde Kerk in eredienste gebruik: ʼn Smaak om aan gewoond te raak, maar ʼn unieke geur wat by die erediens pas, want jy kry dit nêrens anders nie as net waar gelowiges God aanbid.  Dis ons temamusiek, die klankbaan van ons geloof.

Vandag sing ons vir die eerste keer uit die nuwe versameling kerkmusiek bekend as VONKK:  Voortgesette Ontwikkeling van Kerkmusiek in die Klassieke tradisie.  Vandag gebruik ons opnames wat sang by het.  Later, wanneer ons dit eers beter ken, sal ons na net orrelbegeleidings oorslaan.

Hierdie is saad van die salvadora persica. Daar is ook ‘n bruin (of swart) variëteit. Dis na alle waarskynlikheid die mosterdsaadjie waarna Jesus in Lukas 17 verwys. Dis nie so klein soos ons mosterdkorrels ken nie, maar gegewe die grootte van die boom wat daaruit voortkom, werk die gelykenis goed.

So van mosterd gepraat, Jesus het ʼn keer geloof met mosterd vergelyk.  En met moerbeie.  Wel, eintlik met ʼn moerbeiboom.  Vandag vra ons: hoekom?

ʼn Mosterdsaadjie is wel klein, maar dis soos gif in klein botteltjies ook is, propvol potensiaal.  ʼn Mosterdsaadjie vermag uiteindelik iets oneindig groter as hyself.  Geloof ook: ʼn atoompie daarvan is al oorgenoeg. Maar wat skort dan met die “geloof” wat die dissipels dink hulle het?  Waaraan skiet hierdie “geloof” van hulle tekort?  Daar is skynbaar iets wat in geloof die deurslag gee, iets wesenliks, ʼn onmisbare bestanddeel wat die verskil maak tussen ʼn druppeltjie en ʼn hele see, ʼn klein saadjie en ʼn reuse boom, tussen niks en alles.

 

Lukas 17 : 1 tot 10.

6 Oktober 2019, NHKA Kampersrus

Koninkryk.


Kennisgewing aan die voorleserouderling

Lees net wat in die grys blokkies staan en ignoreer die res.

Liedere in hierdie erediens

Dis ons gemeente se eerste kennismaking met VONKK-liedere in die erediens.  Hiermee vier ons die uitbreiding van ons kerklike liedereskat.

VONKK 130.

VONKK 82.

VONKK 72.

VONKK 76.

VONKK 104.

VONKK 277.

VONKK 234.

VONKK 198.

VONKK 158.

VONKK 38.

 

 

 

Skyfie: Mosterd of moerbeie? Waar sal my geloof vandaankom?     

Toetrede

Predikant

Mosterd gee geur. Nie almal van ons hou vreeslik baie van mosterd nie, dis ʼn aangeleerde smaak.

Ek hoop ons kan so leer dink oor die musiek wat die Hervormde Kerk in eredienste gebruik: ʼn Smaak om aan gewoond te raak, maar ʼn unieke geur wat by die erediens pas, want jy kry dit nêrens anders nie as net waar gelowiges God aanbid.  Dis ons temamusiek, die klankbaan van ons geloof.

Vandag sing ons vir die eerste keer uit die nuwe versameling kerkmusiek bekend as VONKK:  Voortgesette Ontwikkeling van Kerkmusiek in die Klassieke tradisie.  Vandag gebruik ons opnames wat sang by het.  Later, wanneer ons dit eers beter ken, sal ons na net orrelbegeleidings oorslaan.

So van mosterd gepraat, Jesus het ʼn keer geloof met mosterd vergelyk.  En met moerbeie.  Wel, eintlik met ʼn moerbeiboom.  Vandag vra ons: hoekom?

Skyfie: Sit. Sing. VONKK 130.  Dankie!

Kom ons sing VONKK liedere.  Wees gewaarsku:  Nie almal van hulle gaan in die smaak val van kerkmusiekpuriste nie.  En vergewe maar dat nie al die liedstrofes notebalke het nie; ek het gevra dit moet bygewerk word, maar dis nog nie gedoen nie. Bly sit.  Kom ons sê dankie!

Sang (Sit.)

Begeleiding begin hier

VONKK 130. 

Skyfie: Sit. Sing. VONKK 82. Skyn!

Nou een vir die kinders van so 55 en ouer.

Sang (Sit.)

Begeleiding begin hier

VONKK 82. 

Skyfie: Staan op. Naderingslied. Sing. VONKK 72. Die Heilige is hier.  

Ons nader God nou in die erediens met ʼn lied wat sê God is hier. Staan op dan sing ons “Wees stil, want die Heilige is hier.”

Sang (Staan.)

Begeleiding begin hier.

VONKK 72.   

Votum en Seën. (Staan)

Skyfie: Bly staan. Die see vlug, die berge spring.  

Psalm 114

2        

[Toe God van] Juda sy gewyde besit [maak] en Israel sy magsgebied, [het]

3        

die see dit gesien en op die vlug geslaan, die Jordaan het teruggedraai,

4        

die berge het rondgespring soos ramme, die rante soos lammers.

5        

Wat is dit met jou, see, dat jy op die vlug slaan, wat is dit, Jordaan, dat jy terugdraai,

6        

berge, dat julle soos ramme rondspring, en julle, rante, soos lammers?

7        

Bewe, aarde, as die Here verskyn, as die God van Jakob verskyn.

Ons is God se gewyde besit.

Ons is God se magsgebied.

Amen.

Aanbidding en Lof

Ouderling

Skyfie: Bly staan. Sing VONKK 76.  Die skepping, o Vader, getuig van u krag.  

Die skepping getuig reeds van die mag van God.  Kom ons voeg ons stemme by die berge en die see, en loof God saam met hulle almal.

Sang (Staan)

Begeleiding begin hier. 

VONKK 76 strofes 1 tot 7.

Skyfie: Sit gerus. 

Die wil van God (Sit)

Wat sê God wat moet ons saambring as ons voor die Here wil verskyn, as ons God wil oortuig om ons te sien? Hoor wat sê Miga 6.

 

Skyfie: Miga 6. Offers?  Nee!  Reg, liefde, trou, ʼn bedagsame lewe.  

Miga 6

 

6        

Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Moet ek met offers na Hom toe gaan, met jaaroud kalwers?

 

7        

Sal die Here duisende ramme aanvaar saam met tien duisende offers van olie? Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde, hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding?

 

8        

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

 

9        

Om die Here te dien, dit is wysheid.

 

 

Skuldbelydenis en Genadeverkondiging

Skyfie: Sit. Sing VONKK 104 : 1 , 2 en 3.  Ek het God vergeet. Nogtans rus ek stewig in die Here se hande.   

Ons leef nie bedagsaam voor God nie.  Ons dink altyd eerste aan onsself.  Maar as versoeking en beproewing oor ons kom, laat ons nooit mismoedig word nie, maar ons kommer bring na Hom. Sing saam VONKK 104 strofes 1, 2 en 3.

 

Sang (Sit)

Begeleiding begin hier. 

VONKK 104 strofes 1, 2 en 3.

Geloofsbelydenis (Sit)

Skyfie: Sit. Geloofsbelydenis van Nicea.

Geloofsbelydenis van Nicea

 

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

 

en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye; God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

 

deur wie alle dinge ontstaan het;

 

wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

 

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

 

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

 

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het;

 

wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

 

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

 

Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.

 

Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;

 

ons verwag die opstanding van die ontslapenes,

 

en die lewe van die toekomstige eeu.

 

Amen.

 

 

Skyfie: Sit. Sing saam VONKK 277 : 1, 2 en 3. Jesus Christus, ons glo in U, ons buig voor U neer.    

Sing VONKK 277 strofes 1, 2 en 3.  Bely saam dat ons glo Jesus Christus is God, die Heer, en buig voor Hom neer.

Sang (Sit)

Begeleiding begin hier. 

VONKK 277 strofes 1, 2 en 3.

Aanbidding en Lof

Predikant

Skyfie: Kies jou eie gebedshouding.  Bid saam. 

Ons gaan nou bid.  Bid saam, en bly daarna staan vir ʼn nuwe toonsetting van die Onse Vader.

Gebed

Gebede vir gehoorsaamheid.  Ons kry gehoorsaamheid nie reg nie. Vergewe ons nou!

Amen

Skyfie: Staan. Sing VONKK 234 : 1, 2 en 3.  Abba, Vader, Hemelheer.

Sang (Staan)

Begeleiding begin hier.

VONKK 234 strofes 1, 2 en 3.

Verkondiging

Predikant

Skriflesing (Sit)

Skyfie: Uitsprake van Jesus?  

Die Afrikaanse Bybelvertalers van beide die 1983- en nou ook die 2020-vertalings, skryf bo-aan vandag se Skriflesing “Uitsprake van Jesus.”  Ander vertalings doen dit ook, nie net die Afrikaanses nie.  So kry ek die indruk dat Lukas 17 verse 1 tot 10 nie een deurlopende gedagte volg nie.  Dit lyk na los gedagtes van Jesus wat hier versamel is, sonder dat hulle met mekaar verband hou.  Die ding is, hier staan hulle nou, naas mekaar, en die versoeking is daar om te vra:  Sê nou net daar is tóg ʼn deurlopende lyn, wat sou dit kon wees?  Dink saam met my.

Skyfie: Sit. Skriflesing uit Lukas 17 : 1 tot 10. Bladsy 110 van die NT.

Dis op bladsy 110 van die 1983-vertaling.

Lukas 17 : 1 tot 10.

1        

Jesus het vir sy dissipels gesê: “Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is.

2        

So ‘n mens kan eerder met ‘n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies ‘n struikelblok word.

3        

Wees dus self op julle hoede. “As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom.

4        

Selfs as hy sewe maal op ‘n dag verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”

5        

Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.”

6        

Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.

7        

“Sê nou een van julle het ‘n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’?

8        

Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’

9        

‘n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe?

10      

So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”

Ons lees tot hier toe.

Skyfie: Sit. Sing VONKK 198 : 1 en 2.  Kom ons buig voor die Here, kom ons sing. Kom ons buig voor die Here, kom ons sing vir die Here, sê hierdie lied.  Ek ken hierdie melodie as Afro-Amerikaans, (ʼn “negro spiritual”, net ter wille van die duidelikheid, al gee die woord “negro” aanstoot).

Sang (Staan)

Begeleiding begin hier.

VONKK 198 strofes 1 en 2.

Preek (Sit)

Skyfie: Dissipels het groot verantwoordelikheid.       

Jesus praat in Lukas 17 met sy dissipels.  Soos ek dit verstaan, sê Hy vir hulle: Met die groot opdrag wat julle het, gaan groot verantwoordelikheid gepaard; nie net groot nie, dodelik.

Skyfie: Mense is meer werd as geld.       

Net voor Jesus dit sê, hier waar Lukas die uitspraak inpas, was Jesus in ʼn onderonsie met Fariseërs.  Dit het oor geld gegaan, en oor waarvoor geld goed is.  Die Fariseërs het Jesus gespot oor Hy geen benul het van wat geld werd is nie.  Jesus het goed gesê soos “Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak, sodat wanneer die geld nie meer kan help nie. . .,” (16:9), julle vriende sal hand bysit; vriende bring jou verder as geld.  Nou toe nou, sê hulle. . . Maar Jesus het volgehou: “As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou? (16:10). Ander mense se geld is altyd ʼn versoeking. Wees eerlik, het Jesus gesê, moenie julleself met ander se geld verryk nie. Selfs al is dit nie ten bate van jouself dat jy iemand besteel nie, maar tot iemand anders se voordeel, moet jy jou nie verbeel jy doen goed nie.  “Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” (16:13).

Skyfie: Geld, geloof en gehoorsaamheid.       

Jesus hét dit oor geld ook gehad, maar nie net oor geld nie.  Geld, geloof en gehoorsaamheid is hier deurmekaar geroer soos melk, suiker en plaasbotter by jou mieliepap.  Nie die wet en profete nie – dis nou die Bybel soos die Bybel toe nog gelyk het – en ook nie die nuwe verkondiging van God se koninkryk nie – dit wat ons Nuwe Testament sou word – niks  het nog verander aan selfs een lettertjie van die wet nie.  Eerlike en egte menswees geld nog altyd, onverswak en op hartsvlak. “Julle gee voor dat julle goeie mense is, maar God ken julle harte,” sê Jesus vir die Fariseërs.  Dis hoe God weet dat “wat deur die mense as belangrik beskou word, voor God ‘n gruwel is. . .” Ek hoor Jesus sê: “Julle Fariseërs steur julle nie aan wat die wet sê nie. Moenie dink dis goed nie.  “Dis makliker vir die hemel en die aarde om te vergaan as dat een lettertjie van die wet verval.” (16:14-16). Toe vertel Jesus die gelykenis van die ryk man en Lasarus, die bedelaar, om die ryk man te herinner om sy Bybel lees en wat daarin staan, te doen.

Skyfie: Wat vir mense goed is, is vir God ʼn gruwel. 

Nou, moontlik na aanleiding van hierdie bekgeveg met die Fariseërs, knoop Jesus met sy dissipels ʼn privaat gesprek aan. As “wat deur die mense as belangrik beskou word, ‘n gruwel is voor God,” is “dit onvermydelik dat daar dinge sal kom wat mense laat struikel.”  Mense en God stem nie saam oor wat  goed en wat ʼn gruwel is nie.

Dis hier waar julle dissipels se uitdaging lê, sê Hy, julle grootste en vreesaanjaende verantwoordelikheid.  Dis hier waar dissipels ʼn bres moet slaan tussen wat vir mense voel in hulle belang is, maar vir God gruwelik is.  Hierdie taak moet julle nie ligtelik opneem nie.  Nie net moet dissipels mense van struikeling bewaar en ophelp nie, die hemele behoed jou as jy van iemand se val die oorsaak is.  “Ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. So ‘n mens kan eerder met ‘n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies ‘n struikelblok word.”

Skyfie: Hoe hanteer jy die onvermydelike?

Nou, hoe op aarde keer jy dat dit gebeur?  Want gebeur, gaan dit.  Dis tog onvermydelik dat dit sal; Jesus sê self so. Hoe keer jy iets wat selfs God sê eintlik maar ʼn gegewe is.  “Wees self op julle hoede,” sê Jesus. “As jou broer verkeerd optree, berispe hom; en as hy berou kry, vergewe hom. Selfs as hy sewe maal op ‘n dag (sewe maal op dieselfde dag!) verkeerd optree teen jou en sewe maal na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.” Kortom, as die onvermydelike gebeur, as ander mense voorspelbaar verkeerd optree, moenie jy ook in die strik trap en dieselfde doen nie.   Dis maklik om te doen, want dis vir mense die verstekopsie. Die ding is, wat jy vanself geneig is om te wil doen, oor dit goed voel, oor dit voel soos die regte ding om te doen, is een en dieselfde as die ding waarvoor jy vergifnis moet gee: beide is gruwels voor God.  Nee, jy moet teen jou beterwete in, die ónlogiese doen, die téénnatuurlike ding, die geheelenal buitengewone:  Jý moet vergewe!  En hierdie (vir mense) ongewone respons van jou, vergewing, moenie net ʼn frats, ʼn eenmalige prestasie, wees nie.  Dit moet jou verstek wees; van jóú moet dié buitengewone, jou normale manier van doen wees. Jy moet dit weer doen, en weer,  sewe keer as dit moet, op dieselfde dag sewe keer as dit daarop aankom.  Elke keer as dit gebeur dus, weer en weer.  Jy moet in dié bonatuurlike manier van doen, kan volhard, al beduiwel die mens wat jou skade berokken sewe keer ʼn dag jou lewe. Hou daarmee aan, dis die bedagsame lewe voor God en mense waarvan Miga praat.

Dis nie vergifnis wat vandag die fokus is nie; dit gaan oor wat jy oor die algemeen met geloof moet doen, en vergifnis is daarvan ʼn baie goeie voorbeeld.  Doen dit!

Weeg dit op teen niksdoen of kwaaddoen, en om met ʼn meulsteen om jou nek in die see af te sak, en jy kry ʼn goeie idee van hoeveel opsies jy het om van te kies.

Die dissipels is verslae, oorweldig deur hulle eie tekortkominge.  Of is hulle regtig so gretig om aan hierdie onbesonne eis van die koninkryk van God te voldoen, dat hulle dadelik aandring op die geloof wat hulle gaan nodig hê om dit reg te kry?  Wat Jesus verwag, is verregaande.  Met dié vra hulle nie, hulle eis: “Gee ons meer geloof.”  Want, Here, vir hierdie wonderwerk wat U van ons vra, het U ons nog nie naastenby genoeg geloof gegee nie.

Skyfie: Meer geloof, of net geloof?

Mosterdsaad

“As julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het,” antwoord Jesus. Jesus sê dit met verwyt:  Julle hét nie eers geloof so groot soos ʼn mosterdsaadjie nie. Julle het so goed as geen geloof nie. Julle vra “meer geloof”, maar as julle enigsins geloof gehad het, net al geloof so groot soos ʼn ou mosterdsaadjie, sou julle die onmoontlike kon vermag.  “As julle maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam.” Dalk moet julle nie vra vir meer van die ongeloof wat julle “geloof” noem nie.  Vra gelóóf, nie méér geloof nie. Julle het dit nie.  Eina!   

ʼn Mosterdsaadjie is wel klein, maar dis soos gif in klein botteltjies ook is, propvol potensiaal.  ʼn Mosterdsaadjie vermag uiteindelik iets oneindig groter as hyself.  Geloof ook: ʼn atoompie daarvan is al oorgenoeg. Maar wat skort dan met die “geloof” wat die dissipels dink hulle het?  Waaraan skiet hierdie “geloof” van hulle tekort?  Daar is skynbaar iets wat in geloof die deurslag gee, iets wesenliks, ʼn onmisbare bestanddeel wat die verskil maak tussen ʼn druppeltjie en ʼn hele see, ʼn klein saadjie en ʼn reuse boom, tussen niks en alles.

Daarvoor is hier nóg ʼn gelykenis. Weet julle wat ʼn slaaf is?  ʼn Slaaf is nie ʼn mens met regte en voorregte nie, ʼn slaaf is ʼn besitting.  ʼn Slaaf is ʼn werktuig, ʼn stuk gereedskap, ʼn toestel of ʼn toepassing, iets soos jou trekker of jou voedselverwerker. “Sê nou een van julle het ‘n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink. ‘n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe?” Dis mos nie asof die slaaf jou nou ʼn gunsie gedoen het nie, nè?  “So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”

Skyfie: Voer jou opdragte uit!  Doen iets met jou geloof!

En wat het die dissipels, ons, nou al ooit gedoen wat dalk ʼn “dankie” van God sou kon verdien, of doen ons dinge met die oog op applous?  Hoe het ons verdien om bedien te word?  Diens is tog óns werk, meer nog, diens is waarvoor slawe daar is, diens is wesenlik aan wie ons is.

Wat het ons al met die bietjie geloof wat ons het, gaan doen om die koninkryk van God te wys?  Jy móét dit tog kan sien, al was jou geloof soos ʼn mosterdsaadjie, so klein, want ʼn mosterdboom wat in jou tuin staan, gaan jy nie onder ʼn emmer kan inpas om hom weg te steek nie, so groot word hy.  Wys my die moerbeiboom wat jy hier uitgeruk en see toe gevat het om daar te gaan groei, want was jou geloof soos ʼn mosterdsaadjie, so groot, kon jy bome laat loop.

Hoekom sien ons dit nie?  Ons doen nog nie geloof nie.  Dis wat fout is met jou “geloof”, dis die bestanddeel wat jy kort: Dat jy iets doen. Dat jy die hele mosterdsaadjie se geloof inspan en gebruik om op hartsvlak en onverswak die wet en alles wat goed is, te gaan doen, dat jy

  • vriende maak,
  • met die oneerlike mammon betroubaar is,
  • die verskil tussen wat vir mense goed lyk en vir God ʼn gruwel is, kan eien,
  • dat jy nooit aandadig raak aan iemand, enigiemand, se struikeling nie,
  • dat jy struikeling help keer, en as dit te laat is, iemand wat geval het, ophelp,
  • met vergifnis ophelp, weer en weer vergewe, selfs op dieselfde dag sewe keer vergewe, selfs argelose en blatante volharding in sonde dus, moet jy vergewe,
  • besef die geloof wat jy klaar het, is genoeg om die koninkryk mee in te kom, en om wonders mee te doen.

Nee, jy het nie méér geloof nodig nie.  Jy het oorgenoeg, gebruik dit net.  Gaan dink daaroor na wat dit beteken om ʼn slaaf te wees, God sʼn.  Sien jy God se slawe in die strate ronddans om te eis Hy moet jou kwota geloof opstoot?  God se slawe doen wat hulle moet doen.  God se slawe is besig om te doen.

Weet julle wat is die tragiese van hierdie klein gelykenisse?  Moerbeibome is gehoorsaam.  Kom met net ʼn mosterdsaad se geloof by ʼn moerbeiboom aan en sê vir hom: Haal jou wortels hier uit die grond uit, loop self see toe en gaan plant jou daar in soutwater, die moerbeiboom gaan dit doen.  Die skepping reageer op geloof met diens.  Net mense nie.  Moerbeibome is aan jou geloof gehoorsaam.  Net jy is nie.  Jy wil, soos met geld, eers méér geloof hê, want met net ʼn bietjie geloof, kry jy nie ʼn skouspel gedaan nie, en is die waardering maar ylerig privaat.  Jy het meer gehoop op dawerende applous.  Ons wil gróót gaan op geloof.  Jy dink meer is altyd beter, want wat jy het, kom nie by nie.  Jou moerbeibome mors pers vlekke op jou kar.  Die kar gáán jy nie skuif nie, en die moerbeiboom kán jy nie. Nou neem jy maar verlief.

Wat skort met ons mosterdsaadgrootte geloof?  Te klein, te min?  Nee. Geminag, ja, en onderskat, en helaas ook in onbruik.  Doen iets.  Doen die koninkryksgoed van God.  Daar is goed wat jy self kan gaan beplan om te doen, soos ʼn slaaf gaan ploeg en dan sy baas kom bedien. En dan is daar die goed wat God jou laat doen, soos teen wil en dank te vergewe wanneer iemand moedswillig sewe keer op een dag kom verwoesting saai in jou lewe. Doen dít: Gebrúik jou geloof!

Skyfie: Gehoorsaamheid is vir God goed, vir ons ʼn gruwel. 

Gehoorsaamheid is vir my en jou goor, maar vir God goed.  Ons sal glo, as ons net nie iets hoef te doen nie.

God sê net geloof is al goed genoeg om bome te laat padvat. Gehoorsaamheid is goed.

Hier is nie veel moerbeibome hier rond waarop jy kan oefen nie.  Maar jy kan dalk ʼn kremetart gaan plant.  In saadformaat is hulle nog klein genoeg om te hiet en gebiet.  Jy kan hulle selfs by die see gaan plant: Daar staan alreeds, heeltemal buite weste, twee kremetartbome voor die konvensiesentrum in Durban.

Amen.

Wegsending

Predikant

Skyfie: Staan op. Sing VONKK 158.  Ons wy ons aan Christus met gehoorsaamheid.    

Ons wy ons aan Christus toe.   Ons doen dit deur gehoorsaam te word aan sy opdragte.   Dis wat ons ons nou gaan voorneem.

Sang (Staan)

Begeleiding begin hier.

VONKK 158.  

Skyfie: Seën. Bly staan.  Laat berge en rante bly wees oor vrede en oor reg.

Seën (Staan)

Ontvang nou die Here se seën uit Psalm 72.

3        

Laat berge en rante hulle verbly oor die vrede en reg vir die volk.

18      

Geloof sy God die Here, die God van Israel. Dit is net Hy wat magtige dade doen!

19      

Mag sy verhewe Naam vir altyd geloof word, mag die hele wêreld vol wees van sy majesteit. Amen, ja, amen.

Skyfie: Bly staan. Sing VONKK 38 : 1, 2 en 3.

Respons (Staan)

Begeleiding begin hier.

VONKK 38 strofes 1, 2 en 3Sonder aankondiging.

Skyfie: Mosterd en moerbeie.    

Skyfie: Mosterd of moerbeie.  Transkripsie: https://hennielagrange.wordpress.com/

Afkondigings

Diakens

Dankoffers

 

Advertisements

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.