God se eregas

pexels-photo-357138
Foto: https://www.pexels.com

Die Here is my herder; ek sy eregas.

Daar moet goeie rede wees vir waarom ons by dood hierdie Psalm opsoek.  Iemand noem die Psalms:

“die asemhaling van die gelowige: die intrek van die lewegewende asem van God se Woord en die uitblaas van uitgediende menslike vrae, vrese en nood”.

Maar presies wát dit aan dié Psalm is wat ons vandag weer aantrek, is nie sommerso ooglopend nie. Ek verwonder my eintlik daaraan dat ons telkens hierdie psalm kies, want wat daar staan, weerspreek wat ons vandag alweer beleef.

Psalm 23

17 November 2017, NHKA Kampersrus

Begrafnis, Troosdiens: Martin Bekker

Vooraf

Martin Bekker is een van die oorspronklike Hoedspruiters.  Baie ken hom.  Baie ken hom al lank.  Die Martin wat ons ken, laat met sy dood ʼn gevoelige leemte.  Die skare wat ons vandag is, getuig van hoe diep hy ons geraak het.  Ons het vandag ʼn seerplek wat boekdele spreek van ons hoogagting en deernis vir Martin.

Ons is hier vir die Here se salf op die wond wat die dood los.  Wilma en die kinders het gevra dat ons vandag die Here aanroep en dien soos wat Martin dit sou wou doen:  Met sy gunsteling liedere, en met Psalm 23.  Martin wou hê dat ons hom in sy dood aan die Here opdra, nes hy hom in sy lewe aan die Here gewy het.

Vandag praat ons met die Here oor Martin, en praat God met ons oor hoe kosbaar mense vir Hom is.

Toetrede

Ons kom met ons toetredelied vol ontsag voor God te staan.  Ons staan in verwondering:  Hoe groot is U!

Skyfie: Toetredelied Gesang 464 strofes 1,2 en 4 (Staan)

Toetredelied (Staan op)

Gesang 464 strofes 1, 2 en 3

Skyfie: Votum en Seën (Staan)

Votum en Seëngroet (Bly staan)

Jesaja 40

6        

Iemand sê: “Roep!” En ek vra: “Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom:

7        

gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai.” Dit ís so, die volk is soos gras.

8        

Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.

9        

Klim op ‘n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Julle God is hier!”

10      

Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom.

11      

Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.

Skyfie: Loflied Gesang 164:1,2 (Staan)

Lofsang (Bly staan)

As ons God nou in ʼn lied loof, is dit nie omdat ons ons smart wil wegpraat nie.  Ons loof Hom juis omdat dit Hy is op wie ons nou kan reken vir troos.  Kom ons staan en sing

Gesang 164 strofes 1 en 2

Skyfie: Skriflesing Psalm 23 (Sit)

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing

Psalm 23

1        

‘n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

2        

Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.

3        

Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

4        

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

5        

U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.

6        

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Toe Job ontsteld was oor hoe sleg dit met hom gaan, sê hy in hoofstuk 6 dat al

9        

mag God dit goeddink om my te vernietig, om my lewe met sy hand af te kap. . .

10      

Dan sou ek nog dié troos hê, die vreugde in die pyn wat Hy my nie gespaar het nie: dat ek die woorde van die Heilige nie geminag het nie.  

So steur ons ons ook vandag, te midde van ons eie smart, aan die woorde van God.  Ons neem dit nie ligtelik op nie.  Ons laat God ons troos.   

Gebed

Skyfie: Gebed.

Preek

 

Daar moet goeie rede wees vir waarom ons by dood hierdie Psalm opsoek.  Iemand noem die Psalms:

“die asemhaling van die gelowige: die intrek van die lewegewende asem van God se Woord en die uitblaas van uitgediende menslike vrae, vrese en nood”.

Asem is lewe.  As Psalms ons asemhaling is, is Psalm 23 ons hartklop.  Iets in hierdie Psalm is lewegewend, lewensondersteunend.  Iets in Psalm 23 laat jou voel jy leef nog, al sterf jou wêreld, en al staar jy self die dood in die gesig.

 

Maar presies wát dit aan dié Psalm is wat ons vandag weer aantrek, is nie sommerso ooglopend nie.

 

Ek verwonder my eintlik daaraan dat ons telkens hierdie psalm kies, want wat daar staan, weerspreek wat ons vandag alweer beleef.

  • Ons voel ʼn erge gat in ons lewe aan. Ek kom beslis vir Martin kort.  Dis gewoon nie waar dat ons nooit iets kortkom nie.  Miskien besef ons net met dood dat wat ons eers gedink het ons in die lewe kortkom, toe nie so vreeslik belangrik was nie? Jy kan dit immers nie met jou saamvat nie. Maak dit dat ons maar met tekorte vrede maak, of raak ons net gelate? Wel, al was dit dalk waar van ander goed, ek voel nie oor Martin so nie.  Ek mis hom.
  • Ek voel my nie rustig nie. Waar is die rus as jy dit die dag nodig kry?
  • Hierdie doodskaduwee het my beet. Dis donker, dis diep. Kom mens hierdeur? Hoe en wanneer?
  • My lewe is nie vandag ʼn piekniek of ʼn partytjie nie.

 

Dog, hier’s ek weer, met my swart rousmart voor die deur van juis Psalm 23.  Wat maak ons hier?

 

Ek het geleer die lewe maak vanself geen sin nie.  Alles val nie mooi in kanne en kruike uiteen nie.  As daar enige sin uit lewe te haal is, moet ménse dit doen.

 

Mense gee aan lewe sin, en ons maak sin uit lewe.

 

Van ons almal s’n, maak Jesus se lewe die grootste impak; sy  dood, nóg groter; sy opstanding uit die dood, só groot dat dit ver bo en buite ons begrip vir betekenis val, ons vermoë en strewe na sin by verre oorskry.  Ons sit later met meer vrae as antwoorde.  En natuurlik kan ʼn mens nóú, ná Jesus, nie meer hierdie Psalm lees sonder om aan Jesus te dink nie.

 

Maar nie net Jesus is in die Bybel “die Goeie Herder” nie.  Ons vergeet, omdat Jesus so helder soos die son in ons sterrehemel skyn, om op plekke soos Esegiël in die Ou Testament te gaan kyk wat mense vóór Jesus al sou gehoor het as hulle Psalm 23 gelees het:

 

Esegiël 34 : 11 – 16a

 

11      

So sê die Here my God: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien.

 

12      

Soos ‘n herder omsien na die kleinvee wat uit sy trop verstrooi raak, so sal Ek omsien na my kleinvee en hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker oordeelsdag.

 

13      

Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring, hulle bymekaarmaak uit die ander lande en hulle bring na hulle land toe. Ek sal hulle versorg op die berge van Israel, in die klowe, in al die woonplekke in die land.

 

14      

Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding. Hulle sal wei op die hoë berge van Israel en rustig daar in die goeie weiveld lê en herkou. Hulle sal op geil veld wei daar in die berge van Israel.

 

15      

Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou,” sê die Here my God.

 

16      

“Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help.

Ek hoor Esegiël sê dat God die Vader al my herder is, nes God die Seun.

Om uit te vind wat dit beteken, kan ek lank gaan nadink oor wat herders met en vir hulle skape doen.  Ek dink dis genoeg om net te hoor dat God, Vader, Seun én Heilige Gees, dit met my goed bedoel.  Herders staan met hulle lewe vir hulle skape in.  Nie net Jesus staan met sy lewe vir ons in nie, die Drie-Enige God doen dit met sy volle wese.

Nee, die lewe is steeds g’n piekniek nie, die dood nie ʼn partytjie nie.

 

Ek hink daarop, weens omstandighede, om in ongeloof te dink Psalm 23 is dalk net ʼn verbeeldingsvlug waarheen ons ontsnap om uit die harde werklikheid weg te kom.   Waar is hierdie groen gras en kalm water van oases?  Langs grafte van geliefdes?

 

Word van my verwag om hier op moedverloor se vlakte en in die greep van vreemde magte te sing en dans in viering en fees te hou asof niks skort nie? Want Psalm 23 skets ook ʼn tweede prentjie van ons en God.  God is nie net my herder nie, maar ook my gasheer.  Daai reisdeken op groen gras word ʼn kreunende feestafel wat God vir my dek. God staan my en inwag om my aankoms met gul gasvryheid te vier.

 

Maar ek wil nie nou partytjie hou nie.  Ek wil nie by ʼn feesmaal aansit nie.  Daar’s ʼn demper op my aptyt vir viering en feestelikheid.  Ek is verslae.

Twee prentjies wat vir God beskryf:  In die een is Hy my herder, in die ander is Hy my gasheer.  Albei die beelde vertel hoe God en ek met mekaar in verband staan.

Waar staan ek in Psalm 23?

Is God my herder, is ek sy skaap, dom en verdwaald; ʼn skaap wat nie vanself weet waarheen om voer en water te kry nie; ʼn skaap wat homself nie kan verdedig nie.  Ek is iémand wat krag vir lewe nodig het en nie weet hoe om daarby uit te kom nie. Ek hoor dat ek my, nes ʼn skaap, maar op my herder kan verlaat.  Hy het my op sy hart.  Ek kan my met gerustheid deur dié Herder laat lei.  Die Herder was self ʼn Lam.  Hy weet presies waar ek vandaankom, Hy ken my baie goed, Hy weet wat ek nodig het.  Ek soek rus.  Ek smag na vrede.  Ek het nuwe krag nodig om aan te gaan, want die lewe werk nou nie meer soos  tot nou die dag toe nie.  Ja, ek voel my soos ʼn skaap.  Verward, koersloos malend. Ek is my sin vir rigting kwyt, ek weet nie waar die water en die groen weivelde is wat my aan die lewe gaan hou nie.  Net om te bly lewe, is nou my krisis. Net om te kan aangaan is vir my stryd. God, jou herder, weet dit.  Hy lei jou na groen weivelde en rustige waters toe.  Kom jy in die proses donkerte teë, so diep soos dood, bly glo in sy leiding. Volg Hom. Hy sal jou veilig hou. Hy vat jou daardeur.  Verlang jy na rus en vrede?  Honger en dors jy na kos en water? Die Here is my herder.  Hy vat my soontoe.

In die tweede prentjie van God, is Hy my gasheer.  Hy dwing my nie om lofpsalms te sing in ʼn vreemde land nie. Hy verdoof ook nie my pyn nie. Maar Hy trakteer my soos ʼn gasheer sy eregas: ʼn hele fees ter ere van my!  God, my gasheer, fokus op my, oorlaai my met hartlikheid.   Die taal beskryf oordaad.  My beker loop oor. Alles en almal waarvoor ek eens bang was, sit magteloos en toekyk hoe een wat sterker is, my ophemel.

In die middel, tussen hierdie twee prentjies van God my herder en God my gasheer, lê die ding wat my hierheen gedryf het.  Die donker kol. Die dood se duisternis.  As die dood se skaduwee die dag oor my lewe val, voel dit nie soos koelte nie.  Dis nag.  Ligloos.  ʼn Diep donkerte wat nie vriendelik voel nie, maar dreigend en gevaarlik, wat my nie kalm en rustig laat nie, maar bang en paniekbevange. Die donker van die dood voel nie hiervandaan soos ʼn nag vir rus nie, maar ʼn vreesaanjaende stikdonkerte waarin ek moet waak en wagstaan.

Dog as ek my in God se sorg kan indink, kan besef God is hier, Hy self is by my, sy hande staan reg om my te beskerm, teen dood en duister magte wat my dood soek,  dan voel ek veilig.   God is my herder.

As ek my kan indink onder God se dak, genooi om sy gas te wees, dat Hy my oorweldig met sy goedheid, op my fokus soos op ʼn eregas, dat Hy my die beste in oordaad gun en gee, ten aanskoue van vyande wat met my net kwade bedoelings het, voel ek my veilig.

Dis daai middelste deel van die Psalm, die “doodskaduwee” wat my eers afgeskrik het, wat die twee prentjies van my en God op mekaar laat pas en plak.

Die dood.  My dood.  Dis die toets vir hoe goed my herder is.  My dood is die toets vir presies hoe goed God dit met my bedoel as Hy my sy eregas noem.

God het vir my die feestafel met die Offerlam gedek.  Hoor hoe God jou nooi en sê: Kom, hierdie fees is joune.  Dis alles vir jou. Ek is bly oor jou.  Ek het jou gesoek, jou gaan haal, en Ek sal na jou omsien.  So belangrik is jy vir My. Eet dat jy vir lewe kan sterk word.  Want as jy gedink het die lewe hou by dood op, maak jy ʼn fout.

Jou doodskaduwee gaan lig.  Daai donker dieptes gaan die lig sien.  Ek sal jou daardeur vat.  Jy sal springlewendig anderkant uitkom.

Jy sal opstaan uit hierdie tydelike dood. Nie die dood hou vir ewig nie, God se goedheid en liefde hou veel, veel langer. Dit geld tot in lengte van dae.  Vir solank daar dae is.  Ek vermoed dit strek verder en hou langer as wat my lewe lank is.  Trouens, ons hoef nie duim te suig oor of Psalm 23 opstanding kon vermoed het nie, of lewe na die dood voorsien het nie.  Ons ken Jesus Christus, die uit die dood opgestane en ewiglewende Here.

As Psalm 23 sê hierdie goedheid en liefde wat ek van God my gasheer kry, duur nie net mý lewe lank nie, maar tot in lengte van dae, hoor ek ons is vir meer bestem as net hierdie voordoodse lewe.  God se goedheid en liefde duur vir altyd. En ek sal lewe om dit te beleef.

My herder het die dood se angel uitgetrek.

Ek is nie meer bang nie. Nie vir die dood nie.

Ek het toe tog iets om te vier.

Ek weet nou hoekom Psalm 23 my rustig maak. Ek weet nou hoekom ons dit vandag weer moes hoor.

Amen.

Skyfie: Sing Gesang 602 strofes 1,3 en 5 (Staan)

Wegsending

Slotsang

Gesang 602 strofes 1,3 en 5.

Skyfie: Troosdiens: Seën (Staan)

Seën

Ontvang die seën van die Here uit Johannes 10

11      

“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

14      

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My,

15      

net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.

17      

“Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem.

18      

Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

Hebreërs 13:20

God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.

Openbaring 7 : 17

17      

Die Lam wat in die middel van die troon is, sal [julle] herder wees en [julle] na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van [julle] oë afdroog.

Amen.

Skyfie: Troosdiens: Foto (Sit)

Begrafnisbrief

Elkeen wat in Jesus Christus glo, leef vir altyd in God se teenwoordigheid. Met die sterwe van ons geliefde Martin Bekker, lewensmaat, pa, oupa, broer en vriend, bely ons saam met Paulus dat God dié wat in Hom glo, na Hom toe neem (1 Tessalonisense 4 vers 13).  In hierdie geloof neem ons vandag van Martin afskeid.  Ons leef nou reeds in die vaste en sekere hoop van die opstanding tot die ewige lewe deur ons Here Jesus Christus (Johannes 5 vers 24; 11 vers 25). Hy maak ons vernederde liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk.  So bly ons tot in ewigheid by God.  Amen.

Dankbetuigings

Dr. (ds.) Pieter Dorey

2 thoughts on “God se eregas

    1. Tannie Frannie

      Ek is bly dit beteken vir jou iets. Dis so lekker om terugvoer te kry. Ek beny jou jou talle vriende! Daarom is jou kommentaar en waardering kosbaar.

      Groete

      Hennie

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.