Erediens van Ontmoeting met God

Photo by Daian Gan on Pexels.com

Ontmoeting met God.

Die liturgie van die Hervormde erediens.      

Lukas 19 : 29 tot 44, Markus 13 : 1 en 2, Johannes 2 : 16 tot 22

24 Maart 2024, NHKA Kampersrus

Lydenstyd.

Hierdie erediens neem die vorm aan van ‘n gesprek tussen die liturg en die gemeente waarin die erediensorde en die verskillende elemente van die erediens soos die NHKA dit verstaan, verduidelik word.


Voorleser

Lees net die gedeeltes in die blokkies. LW: Die dominee sal jou telkens aankondig.  

Liedere in hierdie erediens

Gesang 154 strofes 1 en 2.

Psalm 100 strofes 1, 2 en 3.

VONKK 124 strofes 1 en 2.

Psalm 38 strofes 1 en 7. 

VONKK 234 strofes 1, 2 en 3

Psalm 84 strofes 1 en 2.

VONKK 282 strofes 1, 2, 3 en 4.


Lied

VONKK 282

Spreek, Heer, in die stilte

1.

Spreek, Heer, in die stilte;

spreek nou deur u Gees.

Laat ons in ons harte

stil-ontvanklik wees.

2.

Wees Uself teenwoordig,

bid ons van U, Heer.

En ontmoet ons, Vader,

in wat hier gebeur.

3.

Vul ons met die kennis

van u heil’ge wil,

sodat ons gehoorsaam

só ons lewe vul.

4.

Heer, u kinders luister –

raak ons harte aan.

Ons wil met u opdrag

deur ons lewe gaan.

Teks: Speak, Lord, in the stillness – Emily M Crawford 1868-1927; Hannes van der Merwe 2013 ©

Musiek: QUIETUDE – Harold Green 1925 (1871-1930)

Kantoryverwerking 1: Harold Green 1925 (1871-1930)

Kantoryverwerking 2: Gerrit Jordaan  © 2014

© Teks: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)

© Musiek: Openbare besit Kantoryverwerking 1: Harold Green 1925 (1871-1930)

Kantoryverwerking 2: Gerrit Jordaan  © 2014

RUBRIEK:  Klassiek – Toetrede en Aanroeping / Voorbereiding om God se Woord te hoor


Skyfie: Ontmoeting met God. Die liturgie van die Hervormde erediens. Lukas 19 : 29 tot 44, Markus 13 : 1 en 2, Johannes 2 : 16 tot 22. 24 Maart 2024, NHKA Kampersrus Hoedspruit. Lydenstyd.

Ontmoetingsgebeure

Die kerk van God hou al lankal erediens, d.w.s. betoon eer aan God deur Hom met ‘n byeenkoms te dien.  Dit is die wil van God dat ons dit doen.

Skyfie: Ontmoetingsgebeure. Eksodus 29 : 42 – 43.

Eksodus 29

42 [Daar] moet ‘n gereelde brandoffer wees vir julle nageslagte by die ingang van die Tent van Ontmoeting, daar voor die Here, waar Ek julle sal ontmoet om met jou te praat.

43 Ek sal die Israeliete daar ontmoet, en die plek sal geheilig word deur my heerlike teenwoordigheid.

Skyfie: Ontmoetingsgebeure. Eksodus 29 : 44 – 46.

44Ek sal die Tent van Ontmoeting en die altaar heilig. Aäron en sy seuns sal Ek heilig om vir My as priesters op te tree.

45 Ek sal onder die Israeliete vertoef en vir hulle ‘n God wees.

46 Hulle sal weet dat Ek die Here hulle God is, wat hulle uit Egipteland gelei het om onder hulle te vertoef. Ek is die Here hulle God.”

“Ontmoeting” is die NHKA se teologiese vertrekpunt vir alle erediens. 42 [Daar] moet ‘n gereelde brandoffer wees vir julle nageslagte by die ingang van die Tent van Ontmoeting, daar voor die Here, waar Ek julle sal ontmoet om met jou te praat.

Plek van ontmoeting

Skyfie: Plek van ontmoeting. Eksodus 29.

Is die plek waar die erediens plaasvind, belangrik? 

Is die kerkgebou heilig, of staan dit op heilige grond? 

Dit is ‘n Roomse res dat ons die waarde van die plek so oorskat.  

Dit is die teenwoordigheid van die Here wat die plek heilig maak.

Eksodus 29

42 [Daar] moet ‘n gereelde brandoffer wees vir julle nageslagte by die ingang van die Tent van Ontmoeting, daar voor die Here, waar Ek julle sal ontmoet om met jou te praat.

43 Ek sal die Israeliete daar ontmoet, en die plek sal geheilig word deur my heerlike teenwoordigheid.

Die Here kan ons op enige plek ontmoet.  Die Here is alomteenwoordig.  Die aarde self is die voetbank van sy voete, mos.  Dit hang volledig van die Here af waar Hy ons wil ontmoet.

Skyfie: Plek van ontmoeting. Genesis 28.

Genesis 28

16 Jakob het uit sy slaap wakker geword en gesê: “Waarlik, die Here is op hierdie plek en ek, ek het dit nie besef nie!”

17 Hy het bang geword en gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek nie! Dit is niks anders as die huis van God nie. Dit is die poort na die hemel!”

18 Jakob het die oggend vroeg opgestaan en die klip wat hy as ‘n kopstut neergesit het, geneem en dit as ‘n gedenksteen opgerig. Hy het olie oor die bopunt daarvan uitgegiet. 19 Hy het die plek Bet-El genoem; maar die naam van die dorp was vroeër Lus.

20 Jakob het toe ‘n gelofte afgelê: “As God met my sal wees en my sal beskerm op hierdie pad waarop ek nou gaan, en vir my kos gee om te eet en klere om aan te trek, 21 en ek ongedeerd terugkeer na my familie, dan sal die Here my God wees, 22 en sal hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, ‘n huis van God wees; en ek sal van alles wat U vir my gee, getrou tiendes aan U afstaan.”

Nie die plek nie, maar God se teenwoordigheid op daardie plek, lei tot mense se erediens. 

Hierdie reaksie van Jakob spreek al boekdele van wat in die erediens ook gebeur.  Hoe ons die erediens inrig, het alles te make met wat in die Bybel gebeur wanneer God mense kom ontmoet.  Niks in die Hervormde Kerk se erediens is lukraak of sommer vir die lekker of vir die irritasie daar nie.  Alles is teologies begrond, d.w.s. die resultaat van nadenke oor wat in die Bybel gebeur wanneer God en mense mekaar ontmoet.

Samekoms

Skyfie: Samekoms van gelowiges. Hebreërs 10.

Onthou dat Jesus gesê het dat waar twee of drie  mense in sy Naam bymekaar is, Hy ook teenwoordig is.  Die byeenkomste van gelowige mense in ‘n gemeente is ‘n belangrike deel van ‘n gelowige mens se godsdiensroetine.  

Hebreërs 10

23 Laat ons styf vashou aan die belydenis van wat ons hoop, sonder om af te wyk, want Hy wat die belofte gemaak het, is getrou.

24 Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade,

25 sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is; laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom!

LW:  Die samekomste van gelowiges is NIE jou eie privaat binnekamerbesoek aan God nie. Moet jou nie hier vervies vir mense wat die gemeenskap van die heilige geniet en met mekaar kuier nie.  In die Hervormde Kerk kan ons ruimte maak vir stiltes en eie gebed.  Maar moenie ander mense sommer stilmaak nie.  Ons verwelkom mense hier, en verwelkoming en gasvryheid gee gesprekke af.  Gesels gerus saam en laat mense hier by ons tuis voel. 

Toetrede  

Skyfie: Toetrede.

Ons Kerk het in ‘n stadium ‘n toetredemoment voor die erediens begin voeg.  Verskeie goed kan in hierdie toetredetyd gebeur:

  • ‘n Probleemstelling met die oog op die komende erediens of ‘n oorsig oor die tema van die komende erediens word daargestel
  • ‘n Lied – toetredelied – waarmee die gemeente sê hulle kom soekend nader na God toe.
  • Afkondigings wat vir die gemeente belangrik is (ons flitsbord)

Die toetrede moet egter nie verkeerd verstaan word nie.  Die gemeente se byeenkom skep nie ‘n erediens nie.  Mense kom ook nie op eie inisiatief erediens toe nie, juis daarom bly so baie mense tuis.  Ons is hier omdat God ons roep en bring, en ons gehoorsaam op God se geroep reageer.

Sing

Gesang 154 strofes 1 en 2.

Skyfie: Gesang 154 : 1, 2.

Votum / Oproep / God skep erediens

Skyfie: Votum: God skep erediens met die Votum/ oproep dat ons ‘n erediens word. 

God skep die erediens.  Hoe skep God gewoonlik?  Deur sy Woord, mos. Ons outydse dominees gebruik daarom Skrifaanhalings vir die Votum, die oproep van God om die byeenkoms van mense tot ‘n erediens te konstitueer.  Pasop dat ons nie die hele Bybel summier tot Woord van God verklaar nie.  So werk die Hervormde Kerk darem nou ook nie.  Ons sê wel dat ‘n mens in die hele Heilige Skrif vir God kan hoor praat, dat die hele Bybel, hoewel mense die Bybel geskryf het en ‘n mens dit duidelik kan agterkom, deur God geïnspireer is en God die hele Bybel gebruik om met ons te praat, ten spyte en te midde daarvan dat mense dit krom en skeef laat uitkom het. Daarom is sommige dominees lief vir hulle eie vota / votums.  Ek gebruik Skrifaanhalings.

Deur die votum kom dan die erediens tot stand:  Want dan sluit God Persoonlik by ons aan in die sin dat God – wat mos maar altyd teenwoordig is – aan die erediens begin deelneem.  God ontmoet ons, luister na ons en praat self ook saam. 

Sê my, sal Matteus 8 goed werk vir ‘n Votum:

Skyfie: Votum: Matteus 8 : 34? 

Matteus 8

34 En kyk, die hele dorp het uitgegaan om Jesus te ontmoet; en toe hulle Hom sien, het hulle Hom gesmeek om uit hulle gebied weg te gaan.

Skyfie: Votum: Openbaring 21 : 22. 

Votum

Openbaring 21

22 ‘n Tempel het ek egter nie in haar gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is haar tempel.    

Wat is die implikasie van wat ons in die votum gehoor het? 

Kom na Jesus Christus toe.  Hy is die plek waar ons God werklik ontmoet, geen kerkgebou of tempel nie, maar Jesus Christus se lewende liggaam. 

Daarmee is ons opgeroep om ‘n erediens te word.

Seëngroet

Skyfie: Seëngroet: 1 Korintiërs 9 : 13. 

Nou groet God ons.  LW: God praat eerste met ons, en nie ons met God nie.   En die eerste woorde wat ons van God hoor, is seënend.

Seëngroet

1 Korinthiërs 9

13 As iemand die tempel van God skade aandoen, sal God hom skade aandoen; want die tempel van God is heilig, en dié tempel is julle.

Wat dan eintlik gebeur is dat God sê Hy ontmoet en groet ons in wat hy sy tempel gemaak het.  Ons is daardie tempel. 

Hier eindig die “Toetrede” tot die erediens en tot God.

Ons sê: Amen!  Wat bedoel ons daarmee?  Laat dit inderdaad so wees soos God gesê het.

Vier onderdele van die Hervormde Erediens

Skyfie: Vier onderdele van die Hervormde erediens. 

Die erediens in die Hervormde Kerk bestaan uit vier gedeeltes

  1. Toetrede
  2. Lof en Aanbidding
  3. Verkondiging
  4. Uitsending

Hierdie vier elemente van die erediens het ons by die Bybel geleer.  Dit is presies wat gebeur wanneer God mense kom ontmoet: 

  • Mense word nadergeroep,
  • mense aanbid God,
  • God vertel mense wat sy wil is en
  • stuur mense dan met ‘n roeping uit om sy opdragte te gaan uitvoer.

Lof en aanbidding

Skyfie: Lof en Aanbidding. 

Loof die Here

Vandag loof ons God vir die wete ons is sy tempel, en God lê Persoonlik by ons besoek af.  Kom ons doen dit eers met Psalm 100, wat sê:  “Juig tot God se lof en eer.”  En: “Gaan by sy tempel in en sing.”

Sang

Psalm 100 strofes 1, 2 en 3.

Skyfie: Psalm 100 : 1, 2 en 3. 

Hoekom sang in die erediens?

Skyfie: Sang in die erediens: Hoekom? 

Maar waarom sing ons in die erediens? 

Ons wil met God praat.  Ons het almal iets vir die Here te sê, dog soms stamel ons en sukkel ons om die regte woorde te kry.  Hierdie is gesamentlike godsdiens, en nie net my eie privaat binnekamergesprek met God nie, en daarom is liedere waaraan almal kan deelneem, ‘n baie belangrike deel van die erediens.  Liedere is waarmee ons deelneem aan die gesprek met God.  Ons kan nie almal gelyk praat sonder dat dit chaos afgee nie.  Liedere is ons antwoorde op wat God sê. 

Daarom is die woorde van die liedere belangriker as die melodieë.  (Daar was al in die Hervormde Kerk skeuring oor die woorde wat ons in Gesange sing.) In goeie kerkmusiek – en dit is vir die Hervormde Kerk belangrik dat ons goeie gehalte kerkmusiek in ons eredienste maak – is die wysies voertuie vir die woorde.  Die musiek dra die woorde van die liedere.  Die twee, musiek en lirieke, moet pas.

(Dat ons deur liedere met God praat, is die rede vir waarom ek daarvan hou om in die erediens te laat sing:  As jy weet wat jy met jou sang doen – jy praat met God! – doen jy dit graag en met oorgawe. As liturg, is vir my julle betrokkenheid by die erediens, julle deelname aan wat hier gebeur, belangrik.  Die erediens is julle ontmoeting met God, en hierdie is nie net ‘n vertoning nie.)

Vrees vir God

Skyfie: Bang om God te ontmoet?  Ja!  

Die gewaarwording dat ons nou, ook hier in die erediens, van aangesig tot aangesig met God te doen kry, maak mense bang, of ten minste darem versigtig, anders skort daar met jou siening oor wie God is.  God is nie jou pel nie. In die Ou Testament kry ons die idee dat, sou ‘n mens vir God van aangesig tot aangesig te siene kry, jy sal doodgaan daarvan.  Waarom?  Wat maak ons so bang vir God?  Die besef dat ons nie heilig is soos God is nie, maar sondig, en dat ons met hoe ons is, nie voldoen aan hoe God verlang ons moet wees nie. 

Skyfie: Rigters 6. Gideon was bang. 

Rigters 6

21 Die Engel van die Here het voor sy oë verdwyn, 22 en Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was. Toe sê Gideon: “Ag, Here, my Heer! Want nou het ek die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien!” 23 Maar die Here sê vir hom: “Vrede vir jou! Moenie bang wees nie; jy sal nie sterf nie!” 24 Gideon het toe daar ‘n altaar vir die Here gebou en dit genoem “Die Here is vrede”.

Selfs Maria, Jesus se ma, is bang as die Here se engel by haar opdaag.

Skyfie: Lukas 1. Maria was ook bang. 

Lukas 1

30 Die engel het vir haar gesê:

“Moenie bang wees nie, Maria,

want jy het genade by God gevind.”    

Telkens is genade wat van God af kom, die salf vir vrees.  As daar genade is, kanselleer dit die vrees uit,  Genade beteken in wese dat God nie met ons handel na wat ons verdien nie.  Hy kyk in liefde na ons.

Maar dit is belangrik dat ons nie die sonde sommer ligtelik opneem of onder die mat invee nie.  Ons moet daarmee rekening hou.  Daarom is daar in elke erediens ‘n voorlesing van wat God van ons verwag, en ‘n belydenis van skuld dat ons nie daaraan voldoen nie.

Skuld en berou

Skyfie: Die erediens spreek die rede vir ons vrees aan.

In die erediens word daar gedeeltes gelees wat duidelik aanstip wat God van mense wil hê. Ons beskou God se wil as ons opdrag.  Gewoonlik lees ons hier die Wet van God of ‘n gedeelte wat riglyne vir die gelowige lewe bevat.   Dit herinner ons ons is sondaars en ons het God se genade wat red nodig, anders is daar vir ons geen hoop om voor God te oorleef nie.

Skyfie: Markus 12. Wet. 

Riglyn vir gelowige lewe (Wet van God)  Markus 12 28 Een van die skrifkenners wat hulle hoor redeneer het, het nader gekom. Toe hy sien dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy Hom: “Watter gebod is die belangrikste van almal?” 29  Jesus het geantwoord: “Die eerste is, ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag’. 31 Die tweede is dit, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is belangriker as dié nie.”  

Dit is hier waar ons onsself afvra:  Het ons regtig só lief?  Die antwoord is altyd “nee!” Daar is altyd iets waarop ons moet verbeter.

Hierna kom dan ‘n skuldbelydenis, en gewoonlik verwoord ons dit in ‘n lied wat ons saam sing.   Daar is geen manier waarop hierdie respons ‘n vrolike lied kan wees en dan nog sin maak nie.  Hierdie lied reflekteer ons berou oor die sonde wat ons en God van mekaar geskei het.

Sang 

Psalm 38 strofes 1 en 7. 

Skyfie: Psalm 38 : 1 en 7.

Genade en verlossing

Skyfie: Daar is by God vir sondaars genade en vryspraak.

Dan kom in elke erediens die versekering dat ons nie vir straf van God af bang hoef te wees nie want God het ons uit die sonde bevry en van alle straf kwytgeskeld.  God het dit gedoen omdat God genadig is, en nie omdat ons goed is nie.  Soms sing ons dit.   Soms sê die voorleser dit net.  Belangrik is egter dat ons aan die vreugde dat ons verlos is sal uiting gee.  Sou hier iets gesing word, sal dit ‘n loflied of ‘n danklied wees, of ‘n lied waarin ons die geloof wat ons in God het, besing.

Openbare belydenis van geloof

Op hierdie punt in die erediens word die gemeente opgeroep om te bely dat ons glo in hoe God ons van die sonde verlos het.  Meestal doen ons dit met die Apostoliese Geloofsbelydenis.  Dit is ‘n belydenis wat van ongeveer 100 jaar na Christus al in die kerk gebruik word.   Maar daar is ook ander, die Belydenis van Nicaea en dié van Athanasius.  Vandag gebruik ons die 12 Artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Skyfie: So glo ons. Apostolicum.

Apostoliese Geloofsbelydenis Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.Ek glo in die Heilige Gees.Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes;die opstanding van die vlees en ʼn ewige lewe. AMEN  

Die belydenisse is samevattings van alles wat ons glo.  Dit bevat die belangrikste artikels van ons geloof.   Elkeen daarvan kan natuurlik weer op hulle beurt verder ontleed word.

Voorlesers

Skyfie: Vanwaar die Hervormde Kerk se gebruik van voorlesers? Ouderlinge se Opsigtaak: Leer en lewe.  

Die NHKA maak van ouderlinge gebruik om die Wet en die Belydenis in die erediens voor te lees.   Hoekom?

Ouderlinge se werk in die Kerk staan op twee bene:

  1. Om opsig te hou oor die gemeente se lewe.  Om dus seker te maak die gemeente leef soos wat God wil hê dit moet, en dat niks die liggaam van Christus ontheilig nie.  Daarom is dit gepas dat die ouderlinge die Wet, of riglyne vir gelowige lewe, voorlees.
  2. Om opsig te hou oor wat die gemeente glo, dus of die regte evangelie hier verkondig en geglo word.  Vandaar lees ouderlinge ook die belydenis. 

Die ouderlinge se werk stop nie by voorlesing nie, dit gaan juis daarom dat die gemeente vermaan word om te lewe en te glo soos wat die ouderlinge voorlees, en dat die gemeente moet besef dit is die ouderlinge se werk om seker te maak dit gebeur in die gemeente so.

Daar is baie kritiek dat ouderlinge nie vlot voorlees nie.  Wees verseker dat die ouderlinge hulle bes probeer om voor te berei vir hulle taak in die erediens.  Hulle kry lank genoeg vooraf kennisgewing van wat hulle moet lees juis sodat hulle dit kan inoefen.  Maar ons is nie almal goeie lesers nie. 

Orde

Skyfie: Volgorde.

Die erediens hoef nie presies in hierdie volgorde te verloop nie.  Veral die voorlesing van die Wet en Belydenis kan na die einde van die erediens toe verskuiwe word.  Maar daar sal altyd ‘n goeie rede wees vir waarom die volgorde verander.  Aan die einde van die erediens kom die Wet en Belydenis  gewoonlik in omgekeerde volgorde, eers die Belydenis en dan die Wet.  Dan was daar gewoonlik in die erediens ‘n aansporing om te glo, of ‘n oproep tot bekering. Daarom kom die nuwe verbintenis tot geloof en gehoorsaamheid (in daardie volgorde) aan die einde van die erediens.  Dan beskuldig die Wet ons nie van sonde nie, maar word dit Wet ‘n riglyn vir hoe dankbare lewe in reksie op die evangelie kan lyk.   

Gebed

Skyfie: Gebede. 

Dan bid ons saam.  Gewoonlik lei die dominee die gebed.  Maar enigeen in die gemeente kan dit doen. 

Ons nooi mense om van die gebedshouding waarmee hulle in die erediens die gemaklikste voel, gebruik te maak.  Tradisioneel het net die man opgestaan en die vrou bly sit (want die vroue was dikwels swanger).  Maar mans en vroue kan staan, of kniel, of sit vir die gebed.  Gebedshouding maak nie ‘n verskil aan wat ons bid nie.  Ons praat met God.  Daarvoor hoef ‘n mens ook nie die oë toe te maak nie. 

Onthou hierdie is ‘n openbare gebed.  Hierdie is erediens, en nie binnekamergodsdiens nie. Ons kan nie vir al ons persoonlike sake in hierdie gebed plek maak nie.  Dit moet ons doen as ons alleen met God praat. 

Skyfie: Gebede. Epiklesegebed en voorbidding vir mekaar.

Epiklesegebed

Gewoonlik word hierdie gebed in die middel van die erediens eintlik ‘n epiklesegebed genoem, ‘n gebed dat die Heilige Gees ons sal kom help om die Bybel wat ons gaan lees en die verkondiging daarvan te bestuur en vir ons oop en verstaanbaar te maak. 

Voorbidding vir mekaar

Die laaste gebed in die erediens, aan die einde van die preek, word dan die gebed waarin onder andere voorbidding gedoen word. 

Maar daar word nie streng hierby gehou nie.

Hier eindig die tweede onderdeel van die erediens: Lof en Aanbidding.

Die oorgange tussen die dele van die erediens word gewoonlik gemerk deur liedere.

Kom ons staan en sing die Ons Vader soos dit pragtig nuut berym en getoonset staan in VONKK 234.

Sang

VONKK 234 strofes 1, 2 en 3

Skyfie: VONKK 234 : 1, 2, 3. 

Verkondiging

Skyfie: Verkondiging. Skriflesing en Prediking. 

Onder “verkondiging” is daar twee eredienselemente:

  1. Skriflesing
  2. Prediking

Daar kan geen erediens plaasvind sonder verkondiging van die evangelie nie: Dat God mense so genadig is, dat God sy eie en unieke Seun, Jesus Christus, gegee het as ‘n losprys vir ons verlossing uit die sonde, en om ons vir eens en vir altyd met God te versoen.

Skriflesing

Skyfie: Skriflesing.

Maar die Skriflesing het ‘n paar reëls.  ‘n Dominee kies nie sommer lukraak enige onderwerp om oor te preek nie.

  1. Die Hele Skrif moet aan die orde kom.  Ons kan niks weglaat nie.  Dit geld vir beide die Ou en die Nuwe Testament.
  2. Die sentrum van alle verkondiging is Jesus, God se Gevolmagtigde Gesalfde, wat die wet van God tot op die laaste letter uitvoer.
  3. Die Skrif moet verduidelik word.  Dit doen ons aan die hand van die Kerk se Belydenis.
  4. Die Skrif moet profeties uitgelê word, d.w.s. dit moet grondvat in die konteks waarin ons lewe.  So nie is dit ‘n blote lesing in die teologie.
  5. Die erediens, en moontlik ook die Skriflesing op ‘n gegewe Sondag, moet minstens rekening hou pas by die kerklike jaar.

Skyfie: Kerklike jaar. 

Waar is ons vandag in die kerklike jaar?  Lydenstyd.

Vandag is die Sondag waarmee die Groot Lydensweek, die week waarin Goeie Vrydag gevier word – die kruisiging van ons Here, Jesus Christus, afskop.  Groot Lydensweek begin met die aankoms van Jesus in Jerusalem aan die begin van die laaste week van sy aardse lewe.  Ons noem dit Palmsondag omdat mense op daardie dag met wuiwende palmtakke langs die pad gestaan het om Jesus soos ‘n koning in die stad te verwelkom.  Kom ons lees daarvan in

Skyfie: Lukas 19 : 29 tot 44. 

Lukas 19 : 29 tot 44

(Matt 21:1-9; Mark 11:1-10; Joh 12:12-19)

29Toe Jesus naby Betfage en Betanië teen die Olyfberg kom, stuur Hy twee van sy dissipels 30 met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar oorkant. By die ingang sal julle ‘n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hierheen. 31 As iemand julle vra, ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só antwoord, ‘Die Here het hom nodig.’ ” 32 Die twee wat gestuur is, het daarheen gegaan en dit aangetref net soos Hy vir hulle gesê het. 33 Toe hulle die donkievul losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkievul los?” 34 Hulle het geantwoord: “Die Here het hom nodig.” 35 Hulle het toe die donkievul na Jesus geneem. Hulle het hulle boklere oor die donkievul gegooi en Jesus laat opklim. 36 Soos wat Hy ry, het hulle hulle boklere op die pad voor Hom oopgesprei.

37 Toe Hy al naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. 38Hulle het uitgeroep:

“Geseënd is die Koning,

Hy wat kom in die Naam

van die Here!

Vrede in die hemel

en heerlikheid in die hoogste!”

39 Sommige van die Fariseërs in die skare het egter vir Jesus gesê: “Meester, berispe u dissipels!” 40 Maar Hy het geantwoord: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”

41 Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy oor haar gehuil 42 en gesê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. 43 Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. 44 Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.”

Prediking

Skyfie: Prediking. 

Hier preek die dominee.  Hier begin die meeste mense weer luister na hulle toegelaat het dat hulle gedagtes dwaal.  Want alles wat tot nou toe gebeur het, is mos maar blote herhaling van laas, nè? As jy die erediens so verstaan, verarm jy aan wat hier te beleef is. 

Die dominee preek altyd oor die gedeelte wat gelees is. Die preek volg hierdie riglyne:

  1. Lê die Skrif uit. Verduidelik wat daar staan.  Wys uit wat die belangrikste dele van die teks is om op te fokus.
  2. Plaas die teks in die konteks van toe dit geskrywe is.
  3. Dra die betekenis van die teks ook na die huidige omstandighede van die gemeente wat dit nou hoor.
  4. Roep die gemeente op om aan die teks se implikasies uitvoering te gee.

Preek

Skyfie: Ontmoeting met God.

Vir vandag fokus ek op verse 41 tot 44.  Ek gaan dit weer lees.

41 Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy oor haar gehuil 42 en gesê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. 43 Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. 44 Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.”

Jesus huil.  Jesus huil oor Jerusalem. 

Wat lei tot Jesus se emosionele opwelling as Hy die stad weer vir die eerste keer sien?

  • Dit is duidelik dat Jesus, soos enige ander goeie Jood, vir die stad Jerusalem en sy mense baie lief was.
  • Jesus weet ook hier kom moeilikheid: hier gaan niks van oorbly nie.  Jerusalem gaan met die grond gelykgemaak word.
  • Selfs die Jerusalemtempel waarvandaan die God van Israel aanbid word, die Jodendom se hoofkwartier as’t ware, en dié huis van God waar God mense tot nou toe nog kom ontmoet, gaan in die slag bly.  

Hierdie is nie die eerste keer dat Jesus so iets oor Jerusalem kwytraak nie.  Dit was by ‘n ander geleentheid toe Jesus en sy volgelinge in Jerusalem was om die Pasga te kom vier, dat die dissipels die groot geboue van Jerusalem bewonder het, veral die tempel wat toe nog in aanbou was. 

Skyfie: Markus 13 : 1 en 2.

Markus 13

sê wat daar gebeur het:

1 Toe Hy die tempelterrein verlaat, sê een van sy dissipels vir Hom: “Meester, kyk net watter indrukwekkende klippe en geboue!” 2 Jesus sê toe vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal beslis nie een klip op ‘n ander gelaat word nie – alles sal afgebreek word.”

Dit is tragies om daaraan te dink dat die hele Joodse geloof en godsdiens, en veral dié een plek waar God sy volk gereeld besoek, heeltemal vernietig gaan word.  Israel se toegang tot God is daarmee in die gedrang.  Die poort na God toe, hulle tempel, word toegemaak.  God sluit die deur.  Daar is kommentare wat glo dit is die eindtyd waarvan Jesus praat:  Nie soseer die einde van die wêreld nie, maar die einde van Jode se wêreld wat hulle tot nog toe met God gedeel het. 

Nie die vernietiging van die tempel en van Jerusalem het Jesus in trane nie, maar die rede vir waarom God bande met Jerusalem verbreek en uit die tempel uit padgee.  Dit staan in ons Skriflesing, in vers 44 van Lukas 19:

Skyfie: Lukas 19.

“. . . omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.”

Israel sien nie raak dat Jesus God is wat hulle kom besoek het nie.  Hulle besef nie ‘n mens ontmoet God regstreeks in Jesus Christus nie, beter nog as in die tempel, al gaan die voorhangsel wat die Israeliete van die Allerheiligste geskei het nog skeur en die ark ontbloot.  Dit is ook die oomblik dat God die tempel los en loop.  Die tempel word nutteloos.   Dit kan gerus maar mee weggedoen word want dit beteken nou niks meer nie.  Dit dien beslis nie meer as ‘n plek waar die volk God kan kom ontmoet nie.  Al kom staan jy soos ‘n goeie Jood teen die laaste oorblywende muur van die tempel hartstogtelik jou gebede en uitstort, God is van die tempel en sy ruïnes af weg.  Jode besef dit nie, want hulle het die beslissende moment misgekyk, die oomblik toe God self in lewende lywe daar by hulle opgedaag het.

In Johannes 2 verduidelik Jesus die implikasies van wat Hy hier oor die tempel sê:  Eers lees ons hoe hartstogtelik lief Jesus die tempel het, en alles en almal wat met die tempel gepaardgaan, God, sy vader, en die Jode, sy broers en susters.

Skyfie: Johannes 2 : 16 tot 22.

Johannes 2 : 16 tot 22

16 Vir dié wat duiwe verkoop, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Hou op om die huis van my Vader ‘n huis te maak waar handel gedryf word!” 17 Sy dissipels het onthou dat daar geskryf staan: “Die hartstog vir u huis sal My verteer.”

Maar Jesus gaan die rol van die tempel oorneem.  Ons gaan God voortaan in Jesus Christus Persoonlik ontmoet.   Hier is hoe:

18 Die Jode vra Hom toe: “Met watter teken kan jy vir ons bewys dat jy hierdie dinge doen?” 19Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af, en binne drie dae sal Ek dit opbou.” 20Daarop het die Jode gesê: “Ses-en-veertig jaar gelede is daar aan hierdie tempel begin bou, en jy sal dit binne drie dae opbou?” 21Maar Hy het van die tempel van sy liggaam gepraat. 22Toe Hy later uit die dood opgewek is, het sy dissipels onthou dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woord wat Jesus gespreek het, geglo. 

Jesus is self dié plek waar ons God ontmoet.  Al wat ‘n kerkgebou of ‘n heiligdom of ‘n tempel is daarmee uitgediend.  Jesus is die self die “tempel”.  En met die uitstorting van die Here, die Heilige Gees, op ons, word ons eie liggame tempels, plekke waar God kom woon. 

Maar dan moet jy oppas dat jy vir God nie miskyk nie, dat “jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.”

Amen.

Met die lied wat nou gesing word, bevestig die gemeente dat ons gehoor het wat God vir ons gesê het.  Ek het gehoor dat ek die tempel is waarin God kom woon en Hy ontmoet my hier in my eie lyf.  Kom ons sing ons is bly ons het God in ons eie lewe ontmoet, uit Psalm 84 strofes 1 en 2.

Sang

Psalm 84 strofes 1 en 2.

Skyfie: Psalm 84 : 1, 2.

Uitsending

Skyfie: Uitsending.

In die vierde en laaste gedeelte van die erediens stuur God ons uit om te gaan gestalte gee aan wat ons by God gehoor het. 

Eers bid ons.

Dan seën God ons vertrek.

Dan verbind ons ons met ‘n laaste lied tot God se opdragte en roeping.

Bid

Seën

Hierdie laaste seënspreuk verseker die gemeente wat gelowig vasberade is om te gaan doen wat die Here ons geroep het om te gaan doen, dat ons in die uitvoer van ons opdragte sal kan reken op die bystand van God. 

Skyfie: 1 Tessalonisense 4.

1 Tessalonisense 4 

16 . . . die Here self sal met ‘n luide bevel, met die stem van ‘n aartsengel, en met ‘n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat lewe en oorgebly het, saam met hulle in die wolke opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet. En so sal ons altyd by die Here wees. 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

Sing 

VONKK 282 strofes 1, 2, 3 en 4.

Skyfie: VONKK 282 : 1, 2, 3 en 4.

Skyfie: Ontmoeting met God. Die liturgie van die Hervormde erediens. Lukas 19 : 29 tot 44, Markus 13 : 1 en 2, Johannes 2 : 16 tot 22. 24 Maart 2024, NHKA Kampersrus Hoedspruit. Lydenstyd.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.