Openbaar.

Verlos en verantwoordelik.  

Ons reageer op wat ons in die Nagmaal ontvang het.  Ons is deur genade oorweldig, van sonde vrygemaak.  En ons is gevoed met kos wat ons sterk genoeg maak vir alles en enigiets wat oor ons pad mag kom.  Ons is geesfiks.  Nou kan ons doen wat God in gedagte gehad het toe God in Genesis gesê het “Heers!”, én wat Jesus ons laat glo van die koninkryk van God wat mos nou al hier is: Verlos, kan ons verantwoordelikheid aanvaar vir alles hier.   

Openbaringe van Johannes 1 : 4 tot 8.

21 November 2021, NHKA Kampersrus

Dankdiens na Nagmaal.    


Liedere in hierdie erediens

VONKK 183 strofes 1, 2, 3 en 4 (en 5, as die saamsingopname nie gebruik word nie.)   

Gesang 219 strofes 1, 2 en 3.  

Gesang 237 strofes 1, 2 en 3.

Gesang 595 strofes 1 en 2. 

VONKK 208 strofes 1, 2 en 3.

VONKK 219 strofes 1, 2 en 3.

Lied

VONKK 183

Net soos die hemelkoor

1

Net soos die hemelkoor

sy lof op aarde sing

 – die Seun van God wat mens

kom word en vrede bring –

so klink ons lied

vir Jesus Christus, God se Seun:

U is ons Heer!

2

Die koninkryk van God,

sy liefde en sy trou

het Hy aan elke mens

wat luister voorgehou.

So klink ons lied:

Die deernisvolle Wonderdoener

is die Heer!

3

Die sondes van die mens –

’n mens moet dit betaal.

En Jesus gee Homself

aan daardie skandepaal.

So klink ons lied:

Die Seun van God sterf aan die kruis –

Hy is die Heer!

4

Die graf is oopgebreek;

Hy het die dood oorwin.

Ons lewe tot in ewigheid

het nou begin.

So klink ons lied

vir Jesus Christus, die Oorwinnaar:

U is Heer!

5

Ons glo dat Hy sal kom,

dat  ons by Hom  sal wees.

Ons glo dat ons sal aansit

by sy bruilofsfees.

Dan klink ons lied:

Die Bruidegom het ons kom haal –

Hy is die Heer!

NB: Die Saamsingweergawe gebruik slegs die eerste 4 strofes.


Skyfie: Openbaar. Verlos en verantwoordelik. Openbaringe van Johannes 1 : 4 tot 8. 21 November 2021, NHKA Kampersrus. Dankdiens na Nagmaal.   

TOETREDE

Predikant

Ons reageer op wat ons in die Nagmaal ontvang het.  Ons is deur genade oorweldig, van sonde vrygemaak.  En ons is gevoed met kos wat ons sterk genoeg maak vir alles en enigiets wat oor ons pad mag kom.  Ons is geesfiks.  Nou kan ons doen wat God in gedagte gehad het toe God in Genesis gesê het “Heers!”, én wat Jesus ons laat glo van die koninkryk van God wat mos nou al hier is: Verlos, kan ons verantwoordelikheid aanvaar vir alles hier.   

Skyfie: Toetredelied. VONKK 183.  Ons lewe tot in ewigheid het nou begin.

Ons lewe tot in ewigheid het nou begin.  Dit kan en moet uit hoe ons hier en nou lewe, al duidelik word. Kom ons sing VONKK 183 sittend saam, en staan daarna op wanneer die Here ons oproep tot erediens.

Sing

Begeleiding begin hier.    

VONKK 183 strofes 1, 2, 3 en 4 en 5.    


TOETREDE

Predikant

Votum (Staan op)

Skyfie: Staan op terwyl die Here met sy Woord die erediens skep.  “Die krag wat julle innerlik sterk maak.” Efesiërs 4 : 16.

Efesiërs 4

16

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word.

Seëngroet (Bly staan)

Skyfie: Bly staan terwyl die Here ons verwelkom en ons seën. “Hy sal julle innerlik sterk maak.” 1 Tessalonisense 3 : 13.

1 Tessalonisense 3

13

So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele.

Amen.


AANBIDDING EN LOF

Ouderling


Skyfie: Lof. Bly staan. Laat ons sing van ons Verlosser. Gesang 219 : 1, 2 en 3.

Laat ons sing van ons Verlosser, van Hom wat terugkeer aan die einde van die tyd.  Kom ons sing dit tot lof van God uit Gesang 219 strofes 1, 2 en 3.   

Sang

Begeleiding begin hier.

Gesang 219 strofes 1, 2 en 3.  

Skyfie: Die wil van God. Efesiërs 4 : 25 tot 32. 

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Luister na die wil van God uit  Efesiërs 4 : 25 tot 32.

25

Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam.

26

Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie.

27

Moenie vir die Duiwel plek gee nie.

28

Die een wat nog steel, moet nie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee.

29

Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor.

30

En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie.

31

Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad.

32

Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.

Skyfie: Sing Gesang 237 : 1, 2 en 3. Skuldbelydenis.   

Daar is bitter min hiervan wat ons doen.  En nie omdat ons nie kán nie; Christus het ons mos juis daarvoor die krag gegee!  Nee, as ons dit nou nog nie doen nie, is dit omdat ons in sonde volhard.  Kom ons pleit om vergifnis met Gesang 237 strofes 1, 2 en 3.

Sang (Sit)

Begeleiding begin hier.

Gesang 237 strofes 1, 2 en 3.

Skyfie: Ons glo dat ons Here Jesus Christus uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het, as Regter oor die lewendes en die dooies. . . Belydenis van geloof. Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 37    

Geloofsbelydenis (Sit.)

Kom ons bely uit Artikel 37 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dat Jesus weer kom.

Ons glo, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het. . . ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid . . . uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het, om Homself as Regter oor die lewendes en die dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur . . . sal prysgee om dit te suiwer.  Dan sal. . . alle mense, mans, vroue en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn. Want al die dooies sal uit die aarde opstaan. . .  Dan sal [almal] geoordeel word volgens wat hulle in hierdie wêreld gedoen het, of dit goed was of kwaad. Ja, die mense sal rekenskap moet gee. . . en dan sal die geheime bedrog en huigelary van die mense in die openbaar voor almal oopgevlek word.

Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend, maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van die moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God oor die goddeloses sal voltrek, wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het

. . .

Die gelowiges . . . sal met heerlikheid en eer gekroon word. Die Seun van God sal hulle naam voor God, sy Vader,. . . bely; alle trane sal van hulle oë afgevee word; dan sal dit bekend word dat hulle saak, . . . die saak van die Seun van God is.  En as ‘n beloning uit genade sal die Here self so ‘n heerlikheid aan hulle gee as wat die hart van ‘n mens nooit sou kon bedink nie.  Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet.

Amen.

Skyfie: Sing. Gesang 595 : 1 en 2. Ons wag op u verskyning.    

Ons wag op die koms van die Seun van God. Sing dit uit Gesang 595 strofes 1 en 2.

Sang

Begeleiding begin hier.

Gesang 595 strofes 1 en 2.  


AANBIDDING EN LOF

Predikant

Skyfie: Kom ons praat met God.  Praat saam.  

Kom ons bid saam. 

Gebed

Amen.


VERKONDIGING

Predikant

Skyfie: Skriflesing. Openbaring 1 : 4 tot 8. Afrikaans 2020.  

Skriflesing

Ons lees uit die Nuwe Testament, uit Openbaring 1 : 4 tot 8. 

Openbaring 1

4

Johannes, aan die sewe gemeentes in Asië:

Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is;

5

en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde.

Aan Hom wat ons liefhet, en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het,

6

wat ons ‘n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader – aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. Amen.

7

Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen!

8

“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,”  sê die Here God, die Almagtige.

Hier eindig die Skriflesing.

Openbaring 1 : 3 sê:

“Geseënd is . . . die mense wat dit hoor en ter harte neem. . ., want die eindtyd is naby.”

Preek

Skyfie: Openbaar. Verlos en verantwoordelik. Openbaringe van Johannes 1 : 4 tot 8. 21 November 2021, NHKA Kampersrus. Dankdiens na Nagmaal.   

Ek is geen groot teoloog nie, net ʼn doodgewone dominee van ʼn  gemeentetjie op die platteland.  Johannes van Patmos is nie vir sy goeie Grieks bekend nie, maar in hierdie “Fanagalô” van hom raak hy nogal groot waarhede oor God kwyt. Ons agting vir Johannes sit nie in sy taalvaardigheid nie, maar in wat hy in geradbraakte taal gesê kry.  Met my verroeste Grieks en landelike teologie kan ek nie naastenby by Johannes kers vashou nie. Maar dat Johannes sê hier kom moeilikheid, dit kan selfs ek uit ons omstandighede beaam. 

In Openbaring betreur Johannes dit dat die ganse skepping uitmekaarval, ʼn tragiese mislukking wat ʼn ineenstorting van kosmiese omvang in die gesig staar.  Die aarde gee onder ons voete pad, die berge skuif, die see klim teen kus op, die son brand uit en die sterre val op ons.  En ons maak oorlog.  Die kerk en haar gelowiges raak gewond in die kruisvuur, en of ons gaan oorleef, gaan afhang van ʼn wonderwerk gelykstaande aan die skepping self.   Ek is geneig om te rou oor wat ons tref.  Hier troef Johannes van Patmos my weer: Anders as ek, en teen alle verwagtinge in, het Johannes nog hoop.

Hier aan die begin van die boek, som hy die hele Openbaringeboek se boodskap in ʼn neutedop op.   Ons het hier met God te doen, sê hy, en raak dan kort en bondig sommer groot waarhede oor God Drie-Enig (Vader, Seun en Heilige Gees) kwyt, en dan vat hy ook sommer die hele evangelie van Jesus Christus tjop-tjop in net twee kort spreuke saam.  Hy leer my die evangelie is nie breinchirurgie of teoretiese fisika nie.  Om die waarheid te sê, dis so maklik om te snap, ons vind dit belaglik naïef. 

Ons fokus vandag op Johannes se twee spreuke oor Jesus.   

Maar soos met alle Bybeltekste, gee konteks altyd die deurslag as jy regtig wil verstaan wat in enige teks aangaan.  Konteks verwys na twee goed:  Alles anders wat daar in die teks rondstaan en betekenis bydra, en die skrywer se eie omstandighede, en ons s’n.  

Skyfie: “Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom. . . en “Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,”  sê die Here God, die Almagtige.

Twee keer, bo- en onderaan die twee spreuke oor Jesus, soos die arms van ʼn pa sy kind omhels, staan daar: Ons praat oor God hier. En nie sommer enige God nie;  Hy is een en dieselfde God wat ons uit die Ou Testament al ken en onthou as die God van Israel, die God van Abraham, Isak en Jakob.  Dit is die God wat met Moses uit die brandende bos gepraat en Homself voorgestel het as “Ek is wat Ek is”, die God wat nog altyd God was en tot hede en vandag toe nog God is, en vir altyd en ewiglik God sal wees. 

4

Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom. . .

8

“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,”  sê die Here God, die Almagtige.

Hierdie God wat is en wat was en wat kom, is die enigste God, die Drie-Enige God.  As jy ʼn Bybelteks soek wat kruis en dwars verwys na die Drie-Eenheid, sal hierdie een werk.  Kruis en dwars?  Sonder rang- of volgorde, een en aldrie saam, aldrie tegelyk Een.  Jy onderskei dalk, maar skei kan jy die Drie nie. 

Skyfie: Drie-Eenheid

Die Drie-Eenheid, Een Drieheid, is driedimensioneel. Nie Een is Eerste, Tweede of Derde nie.  Ek is, was, en sal wees tegelyk.   

Genade en vrede kom van Hom wat is en wat was en wat kom – ons sou na Hom verwys as “God, die Vader” – en van die sewe Geeste voor sy troon – daar is net een Heilige Gees, maar dié Gees werk op talle maniere, en al sewe maniere is die een Heilige Gees se werk – en dan eers kom God die Seun, Jesus Christus, hier aan die beurt. . .   

5

en van Jesus Christus,  . . .

Ons sou kon bekommer dat dit nie aan wie Jesus is, gestand doen nie, nè?  Nee, dit is nie dat Jesus afgewater word, van dié Drie as die minste belangrik afgemaak word nie, in die Drie-Eenheid is daar net geen eerste of laaste nie.  Die volle Drie-Eenheid is die Enigste God, die Begin en die Einde van alles, die Alfa en die Omega (die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet, wat ook vir syfers gebruik is), en alles tussenin. 

Vir Judaïste, of gelowiges wat eens Judaïste was, die mense met wie Johannes praat, sou dat Jesus hier hoegenaamd genoem word, en só oor Jesus gepraat word dat Hy een met God is, huidjie en muidjie ingebed is in die Drie-Enige God, dié verrassende wees.  Vir gelowiges wat uit die Jode kom, sou dit gerusstel dat Jesus, God se nuwe inisiatief, geen vreemde, nuwe godheid is nie, maar een en dieselfde God is wat nog altyd God is, van Abraham, Isak en Jakob se tyd af al.  Die Drie-Enige God is die Here God wat nog altyd was, wat steeds is én wat kom, die Een God van netnou, God wat van die skepping af al met mense bemoeienis maak en van Moses af met Israel in ʼn verbond staan.   

Jesus is een met God, en Jesus Christus se werk is ingebed in God se werk en skepping.  Daarom. . .

Skyfie:  Jesus is van God dié geloofwaardige getuie:  God geopenbaar!

5

. . . Jesus Christus [is van God Drie-Enig], dié geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Van Jesus kan jy dus maar glo wat Hy sê, ook as Hy oor God, ons en die skepping praat.  Jesus lieg nie.  Na Jesus kan jy maar luister as Hy met jou oor lewe en verlossing praat, Hy was dood en Hy lewe!  En ewe veel mag oor die dood as oor die lewe, maak Hom sterker as die konings van die aarde;  Jesus Christus is magtiger as hulle almal.  Want Jesus is een met God, die Skepper van alle lewe, die Vader van alles wat bestaan, Een met en in die Drie-Eenheid. Die Drie-Eenheid staan voor Jesus, en agter Hom, omsluit Hom, en sluit Jesus in. 

Te midde van hierdie ewige wees van God, iewers tussenin God se was en wees en sal wees, verskyn Jesus as die Middelpunt, die Swaartepunt, dié Punt van alles. In Jesus Christus kry ons ʼn ware blik op die Een ware God.   Jesus Christus is dié raakpunt tussen God en die skepping, daar waar God en mense kontak maak, God en mense mekaar regtig raakloop, ontmoet en leer ken en met mekaar leer klaarkom. 

Na sovele jare se geloof sou ʼn mens verwag ons ken Hom, hierdie Jesus, en verstaan Hom en sy werk en sy uitwerking op ons.  Ondervinding getuig van die teendeel.  Daarom moet ons telkens weer by die Begin begin:  Wie Jesus is, Drie-Enige God geopenbaar. 

Dit wat dan hier oor Jesus Christus gesê word, moet onder die loep kom, want ek vermoed ons verstaan dit nog nie goed genoeg nie, dié dat praatjies oor die eindtyd ons met reg ongemaklik laat en bedreigd laat voel. 

Die twee spreuke oor Jesus sluit albei met die bevestiging: “Amen!” en “Ja, dit is seker!”, wat presies dieselfde beteken.  Die eerste spreuk praat daaroor dat ons van sondes verlos is, en ons sy koninkryk en priesters van die Vader gemaak is, die tweede dat Jesus sigbaar weer sal kom.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos

6

en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader.

Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

7

Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom rou.

Ja, dit is seker!

Kom ons begin met die eerste spreuk:

Skyfie:  Ons is verlos!

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Jesus het ons van ons sondes verlos.  Die liefde wat die genadige God vir sondaars het, was en is die dryfveer daaragter.  Dis gedoen, uit en gedaan, klaar, afgehandelde sake en geldende werklikheid.  Dit weet ons, Protestante, baie goed, beter, vermoed ons Hervormdes, as talle ander.  Dit is die regverdigingsleer waaraan die Protestantse geloofstradisie sy hele ontstaan en bestaan te danke het.  Dit is die belydenis waarmee die Hervormde Kerk identifiseer, ons ons heil vind.  Ons is sy koninkryk, dis ʼn uitgemaakte saak. Hier gaan ek nie nou vertoef nie. Dis wat hierna kom wat ek dink ons miskyk.

Dis ewe Hervormd.  Hoe en hoekom ons dit miskyk, is vir my ʼn verleentheid.

Ons slaan ons hande saam oor mense wat nou nog nie vertroud is met ons demokrasie nie, nie die verband agterkom tussen vir wie hulle stem en wie vir munisipale dienste verantwoordelik is nie.  Pas gestem vir die selfde ou spul, is daar alweer opstande oor swak dienslewering. Ons lag hulle daaroor uit! Dit terwyl God ons gekies het om die wêreld vir Hom te regeer en te bestuur, en ons ons daaroor wip oor niemand anders daarmee aan die gang kom nie, en self geen vinger verroer nie want ons is tog veels te besig om onsself te verryk om nou nog te wil aandag gee aan die saak waarvoor ons uitverkies is.  Ironie nè? Ons sien geen verband tussen wat ons glo en hoe ons leef nie, en ook nie ʼn verband tussen wat in die wêreld aangaan en of ons dalk daaroor opdrag van God gekry het nie.  Kyk hoe lyk die plek waar ons heers!  Gebeur hier wat God bedoel het moet gebeur toe Hy wat Jesus is, gestuur is om van ons nie net sy koninkryk te maak nie, maar die Vader se priesters. Kyk weer:

Skyfie:  Ons is priesters!

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos

6

en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader.

Priesters is nie net toeskouers wat dophou wat ander mense aanvang nie.  Priesters neem deel aan hoe Jesus mense red, en met die Hervorming is bevind nie net die geordendes is priesters nie.  Ons is, almal van ons, priester.  Priesters bring en word soms self, die offers wat nodig is om die koninkryk van God hier in hierdie wêreld al, te laat gedy.  Waar offer jy?  Waar kry jy jou hande vuil?    

Amen. So eindig dié eerste spreuk oor Jesus.  Dis hoe dit is. Dit is beslis wat God gedink het ons sou doen.  Kry God uit ons waarvoor Hy ons gekies het? Dit is nie eers nodig om na ons eie omstandighede te verwys om te besef ons is uitgevang nie.  Johannes gaan vir ons die prentjie skets van hoe die wêreld in ons hande uitbrand en ʼn gewelddadige dood sterf.  Tweeduisend jaar gelede al sien hy dit raak.  Nog niks is beter nie.  God stem nog steeds tevergeefs vir die verkeerde mense.  

En dan die tweede spreuk oor Jesus:

Skyfie:  Jesus kom sigbaar.

7

Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen!

Die 1983-vertaling het gesê Jesus kom “sigbaar” op die wolke weer.  Elke oog sal Hom sien.  Dit is die een ding wat ons nie is nie:  Ons is nie sigbaar nie. Jesus word nie in ons nog sigbaar nie.  Die sigbaarheid van God se koninkryk hang intussen van ons af, maar niemand sien God se koninkryk in ons werk raak nie.  Waarheen sou selfs wat gelowiges is kon gaan om dit te sien?   

Die 1983-vertaling het daarop gesinspeel dat mense wat Jesus sien kom, sou rou met selfverwyt oor al wat ʼn ongedane saak is. 

Die nuwe 2020-vertaling sê wat Sagaria in die Ou Testament ook sê, en die uitkoms is ons genadiger.  In Sagaria 12 staan daar dat God die sondaars op dié dag wat Hy kom, sal straf. 

10

Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ‘n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos ‘n mens treur oor ‘n enigste kind, hulle sal oor hom huil soos ‘n mens oor ‘n oudste seun huil.   

As ons op daardie dag dat Jesus Christus kom, of nou, in afwagting op sy koms, rede het om te huil, is dit omdat ‘n gees van welwillendheid en van berou ons sal beetpak.  Ons sal wil ingryp, ons sal oor die wat in ons geweld doodgesteek is, rou en wil help, ons sal wil troos en ons sal wil heelmaak. Ons sal oor elke slagoffer van ons sonde voel soos oor ʼn eie kind, ʼn enigste kind, ʼn oudste seun.  Ons sal rou.   

Ons sien Jesus nog nie kom nie, nie op die wolke nie, en nog weinig elders.  Dis tragies.  Gelukkig, genadiglik, is ons verlossing seker.  Ons verlossing hang nie af van hoe mooi ons die koninkryk inrig en hoe goed ons priesters is nie.  Maar dat ons aan hoe die koninkryk lyk, en aan hoe ons priesters is, God nie sigbaar maak nie, beteken dalk ons het aan verlossing geen erg nie?

God het die laaste woord.

8

“Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

God is op pad.  God kom. Jesus het gesien en Jesus is die geloofwaardige getuie. Hy kom beslis.

Amen.

Skyfie: Sing.  Ons hoop en ons verwagting is Jesus, onse Heer. VONKK 208.    

Kom ons sing dat ons hoop en ons verwagting gefokus is Jesus Christus, ons Here wat weer sal kom.

Sang

Begeleiding begin hier.

VONKK 208 strofes 1, 2 en 3.


WEGSENDING

Skyfie: Seën. Ek sal julle nie aan julle lot oorlaat nie.    

Seën (Staan)

Johannes 14

18

Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.

20

Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle.

21

Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.”

Amen.

Skyfie: Respons. Sing. VONKK 219. Wat die toekoms ook mag inhou, wat daar alles wag op my, kan ek aan U, Here, vashou.

Respons

Begeleiding begin hier.

VONKK 219 strofes 1, 2 en 3.


Afkondigings.

Skyfie: Openbaar. Verlos en verantwoordelik. Openbaringe van Johannes 1 : 4 tot 8. 21 November 2021, NHKA Kampersrus. Dankdiens na Nagmaal.   

        


Insameling van die dankoffers/orrelspel

Skyfie: Musiek. Transkripsie.  https://hennielagrange.wordpress.com/


Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.