Lieg jy of leer jy?

Photo by NEOSiAM 2024+ on Pexels.com

Lieg of leer.

Wat weet jy regtig van God?         

1 Johannes 4 en Psalm 119

28 April 2024, NHKA Kampersrus

Opstanding.


Voorleser

  Lees net die gedeeltes in die blokkies.    

Liedere in hierdie erediens

Gesang 260 : 11.

Psalm 94 strofes 4, 5 en 8. 

Psalm 25 strofe 2.

VONKK 55 strofes 1 en 2.

Gesang 453 strofes 1, 2 en 3.

Gesang 517 strofes 1, 2 en 3.


Lied

VONKK 55

Jesus, toe U mens geword het

1. Jesus, toe U mens geword het,

en vir die mens u bloed gestort het,

het U gekom soos God dit wil.

Here, mag my lewenstrewe

– my denke, dade, hele lewe –

ook so gerig wees op u wil.

Ek wil my hart en hand,

my Heer, aan U verpand.

Hoor my bede:

Kom heilig my, en leer U my

om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde

aan ons gebrokenheid en sonde,

het U gely, getroos, gedien.

Ja, o Heer, te alle tye

was U vervul met medelye,

en alle nood het U gesien.

Leer my ook elke dag

wat U van my verwag.

Laat my liefde

opmerksaam bly, wil U my lei

om aan u diens my toe te wy.


Toetrede

Skyfie 1:  Lieg of leer. Wat weet jy regtig van God? 1 Johannes 4 en Psalm 119 : 65 tot 74. 28 April 2024, NHKA Kampersrus. Opstanding.

Ek weet die lewe is moeilik, en ek besef ons word almal aan ons prestasies geoordeel.  Dit is van lewe onder die vergrootglas en van die gestoei om te probeer bykom by verwagtinge dat my dogters die uitdrukking gebruik:  “Fake it `til you make it!”  Maak of jy regkom totdat jy bykom.  Dit werk miskien vir baie uitdagings, maar dit is ‘n gevaarlike houding as dit by God kom:  Om te maak of jy God ken, terwyl jy eintlik minder as niks van God af weet.

Ek verstaan ook die Bybel is ingewikkeld, veral omdat God nie wil stilsit sodat ons Hom onder ‘n vergrootglas kan bekyk nie.  Daar was ‘n tyd dat ons dit goedgepraat het om van God nie te veel te wete te wil kom nie, want mense wat dit geprobeer het, het Bybelstryd gekry en malkop geraak.  En tog is die Bybel vol aansporing dat ons God en God se wil en bevele kan en moet gaan bestudeer en aanleer.  Sovele kere staan dit daar, dat ons nie anders kan as om dit tog aan te pak, nie.

Hoe goed ken jy al God?  En hoe maklik praat jy met sogenaamde gesag oor God, en weet jy waarvan jy praat?  Of is jou duim al plat gesuig?   

Kom ons sing oor wat dit beteken om God te ken en om oor en van God te leer.  Dink daaroor of jy dit bedoel as ons sing die Here moet jou help om God beter te leer ken?  Of bly God maar altyd onbegryplik?  

Sang

Begeleiding begin hier:  Speel slegs 1 strofe van die begeleiding. 

Skyfie 2 en 3 : Gesang 260 : 11.

Gesang 260 : 11.

God roep ons tot erediens.

Skyfie 4: God roep ons tot erediens. God laat ons hunker na Hom. Psalms 25. 

Staan op wanneer God ons roep om ‘n gemeente in erediens te wees.

Psalms 25

1

Na U, Here, hunker ek.

4

Here, maak u paaie aan my bekend;

leer my u weë.

God seën ons in sy teenwoordigheid.

Skyfie 5: Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar. Psalms 25. 

8

Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie,

want God is liefde.

9

Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar:

dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het,

sodat ons deur Hom kan leef.

10

Hierin bestaan die liefde:

nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het,

en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes.

Amen!


Lof en aanbidding

Skyfie 6 : Loof en aanbid God. 

  Die Here wil ons onderrig:  Die Here wil hê ons moet Hom kan verstaan.  Ons is immers Syne.  Kom ons sing van God met Psalm 94 wat sê ‘n mens moet nederig wees om van God te kan leer.     

Sang

Begeleiding begin hier:  Speel drie strofes van die lied se begeleiding.   

Skyfie 7, 8, 9. 

Psalm 94 strofes 4, 5 en 8.  

Besef verset teen sonde is ‘n stryd.  Wees lugtig vir verleiding.

Skyfie 10: Besef verset teen sonde is ‘n stryd.  Wees lugtig vir verleiding. Psalms 119. 

  Ons moet besef dat om ons teen sonde te verset, ‘n stryd afgee.  Dit kom nooit maklik nie.  Wees daarom lugtig dat niemand jou verlei om te dink sonde maak nie saak nie. Dit is die een ding oor God waaroor die meeste mense lieg.  Mense is gevoelloos en gewetenloos.  Maar ons heg waarde aan wat God ons leer.  Luister na Psalms 119 Skyfie 11 tot 17, vers vir vers. 68 U is goed en doen goed; leer my u voorskrifte. 69 Vermeteles het my met leuens beswadder; maar ek, met my hele hart hou ek by u opdragte. 70 Hulle harte is so gevoelloos soos vet, maar ek vind vreugde in u wet. 71 Dit is goed vir my dat ek verneder was, sodat ek u voorskrifte kon leer. 72 Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. 73 U hande het my gemaak, my gevestig; maak my verstandig, ek wil u bevele leer. 74 Hulle wat vir U ontsag het, sien my en is bly, want op u woord wag ek.  

Openbare belydenis van geloof: Apostolicum

Skyfie 18 : Glo die waarheid oor God. Apostoliese Geloofsbelydenis.  

Die belangrikste wat ons van God weet, is dat God die Vader ons uit genade red deur wat Jesus Christus doen, en met die Heilige Gees ons lewe nuut maak.  Dit is so saamgevat in die Apostoliese Geloofsbelydenis.     Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.Ek glo in die Heilige Gees.Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes;die opstanding van die vlees en ʼn ewige lewe.   AMEN  

Wyding aan God.

  Kom ons vra die Here om ons verder te onderrig in sy waarheid. Bly sit en sing Psalm 25 strofes 2.    

Sang

Begeleiding begin hier:  Speel net die een strofe van die begeleiding. 

Skyfie 19. 

Psalm 25 strofe 2.

Gebed 

Skyfie 20 : Kom ons praat met die Here.


Verkondiging

Skyfie 21 : Kom ons luister na die Here. 1 Johannes 4. Psalm 119 : 65 tot 74. 

Skriflesing

Ons lees uit die Bybel, eers uit 1 Johannes 4 in die Nuwe Testament.      

Skyfies  22 tot 29.  Vertoon vers vir vers.

1 Johannes 4

5

Hulle is uit die wêreld, en daarom praat hulle soos die wêreld, en luister die wêreld na hulle.

6

Ons is uit God, en wie God ken, luister na ons. Wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit herken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling.

7

Geliefdes, laat ons mekaar liefhê,

want die liefde is uit God,

en elkeen wat liefhet,

is uit God gebore

en ken God.

8

Wie nie liefhet nie,

het God nie leer ken nie,

want God is liefde.

9

Hierin is die liefde van God

aan ons geopenbaar:

dat God sy unieke Seun

na die wêreld gestuur het,

sodat ons deur Hom kan leef.

10

Hierin bestaan die liefde:

nie dat ons God liefgehad het nie,

maar dat Hy ons liefgehad het,

en sy Seun gestuur het

as versoening vir ons sondes.

11

Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê.

Nou blaai ons na die Ou Testament en luister na Psalm 119 verse 65 tot 74.     

Skyfies  29 tot 38.  Vertoon vers vir vers.

Psalms 119

65

U het goed gedoen aan u dienskneg,

Here, volgens u woord.

66

Leer my goeie oordeel en kennis,

want ek vertrou op u bevele.

67

Voordat ek swaar beproef is,

was ek aan die dwaal,

maar nou kom ek u woord na.

68

U is goed en doen goed;

leer my u voorskrifte.

69

Vermeteles het my

met leuens beswadder;

maar ek, met my hele hart

hou ek by u opdragte.

70

Hulle harte is so gevoelloos soos vet,

maar ek vind vreugde in u wet.

71

Dit is goed vir my dat ek verneder was,

sodat ek u voorskrifte kon leer.

72

Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende

stukke goud en silwer.

73

U hande het my gemaak, my gevestig;

maak my verstandig, ek wil u bevele leer.

74

Hulle wat vir U ontsag het,

sien my en is bly,

want op u woord wag ek.

Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. http://www.biblesa.co.za. Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.


Die grootste les wat jy van God kan leer is dat God liewer het as enigeen wat jy nog ooit teëgekom het. Jesus Christus is sy liefdesverklaring. Sing VONKK 55.

Sang

Begeleiding begin hier:  Speel twee strofes van die begeleiding.   

Skyfie 39 tot 42.

VONKK 55 strofes 1 en 2.

Prediking

Skyfie 43 : Lieg of leer. Wat weet jy regtig van God? 1 Johannes 4 en Psalm 119 : 65 tot 74. 28 April 2024, NHKA Kampersrus. Opstanding.

In my Teologiestudie in die vroeë 80’s het ‘n kêrel met die naam James Barr boeke geskryf oor hoe om die Bybel te verstaan sonder om alles wat daar staan, letterlik op te neem. Dit het oor Bybelvertalings gegaan. Onthou, ons het juis in 1983 die destydse Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Bybel gekry.  Van Barr het ons geleer dat daar vertaal moes word, nie noodwendig sodat mense met net ‘n bietjie aandag, maklik sou kon agterkom wat regtig bedoel word nie, maar sodat mense selfs met baie min moeite – soos mos maar die geval is met die meeste doodgewone gelowige lesers van die Bybel – baie moeilik verkéérd sal verstaan.  Benewens die lekkerlees in kontemporêre Afrikaans, moet ons seker maak die vertaling mislei nie.  En Barr het van die punt uitgegaan dat jy Bybellesers eintlik maar met ‘n lepeltjie moet voer.  Want, het Barr ook gesê, en so sterk daaroor gevoel dat hy ‘n hele boek daaroor geskryf het dat Christengelowiges weerstand bied as hulle iets nuuts moet leer.   Dit, het ek ook geleer, is waaragtig waar:  Ons skop nie net teen nuwe goed nie, ons skop teen hoegenaamd enigiets te leer. 

‘n Paar jaar gelede – ek was skriba van die Ring van Laeveld – het ek ‘n terapeut van Polokwane genooi om die Ringsvergadering oor trouma te kom toespreek.  Trouma in Afrikaans spel jy “t r o u m a” of “t r a u m a”, albei is reg.  Maar die spreker het geweier dat ek die “o-u” spelling op die pamflet behou, ek moes dit dadelik verander of sy kom nie, so erg het sy aanstoot geneem.  Die spelling van “trouma” met ‘n “o-u” sou afbreuk maak aan die waarde van haar aanbieding, korrekte Afrikaans of te not.

Ek besef ek het ‘n taalfobie oor suiwerheid, of ek nou Afrikaans of Engels praat, maar ek kom dieselfde skepsis teë wanneer ek met mense oor geloofsgoed probeer praat.  Mense, gelowige mense nogal,  weet altyd van beter.  Nee, ons leer regtig nie graag nie.  Erger nog, selfs gegewe die regte inligting, verkies ons om ons by die meerderheid wat ooglopend verkeerd is, te skaar ten einde nie ‘n lawaai op te skop nie. Want liefs dood as om nie in te pas nie.  Die persepsie van die meerderheid weeg vir ons net te swaar om te durf waag om dit teen te gaan.

Die waarheid is in die moeilikheid.  Ons steur ons nie meer aan die waarheid nie.  Woorde se spelling is net ‘n voorbeeld.  Maar het julle al ooit daaraan gedink dat woorde al is wat ons van God het?  As God Homself in woorde verduidelik, is die woorde wat God gebruik, tog seker belangrik?  Dat woorde al is hoe ons van God iets weet, klink dit God hang aan ‘n dun draadjie.  Maar ons het nie net die hol geluide van God se woorde nie, God se woorde gebeur.  As God sê “Lig” kom die lig aan.  God se woorde is God se werke.  En daarbenewens het ons dié Woord (met ‘n hoofletter “W”) van God, die Een wat alles wat God nog altyd bedoel het om te sê, kom doen en demonstreer het.  God se Woord is die Waarheid oor die werklikheid.  Maar ons, ons heg min waarde aan die waarheid van woorde, ons is min gespin om agter die waarheid te kom van die woorde wat ons van God het, en oor God het.  Ons het geen ywer om God beter te leer ken nie, veral nie as God begin anders klink as hoe ons klaar besluit het God is nie.     

Ek sê dit vir julle nie ligtelik nie:  Júlle glo so.  Julle doen dit.  Ek pleit:  Luister asseblief tog beter na die mense wat dit met julle geloof goed bedoel.  Steur julle aan die mense wat julle van God geleer het, en steeds meer van God wil wys.  Maak erns daarmee om van God te leer.

Ek wil toegee dat mense dink hulle weet van beter, hulle weet alles.   Mense praat met groot sekerheid oor God en sy gebooie, asof hulle die volle waarheid oor God in pag het, beweer in uiterste gevalle selfs die Heilige Gees praat persoonlik met hulle en sê vir hulle anders as wat jy weet ons dink. Mense praat baie oortuigend.  Wat hulle sê, is altyd aanloklik.  Dit is hoe versoeking van Adam en Eva-hulle af al werk:  Jy praat iemand met mooi woorde om.  Dit is daarom, omdat die leuen aantreklik lyk, goed voel, dat al leer ons van nature moeilik enige nuwe idees aan, ons tog makliker van sulke vreemdes hulle heuning om die mond sluk, as wat ons geesdriftig oortuigd bly oor wat oud en vertroud behoort te wees.  Ons leer nie graag nie, maar jy kan altyd iets nuuts aan ons verkoop as jy dit in stroop doop.

Doen jouself die guns en gaan soek in die Bybel op die Bybeltoep, of op die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se webwerf, die woord “leer” of “onderrig” en jy sal sien die Bybel loop oor daarvan.  Om van God en van gelowige lewe te leer, is basies aan hoe kinders grootgemaak word, is fundamenteel aan hoe mense van God te wete kom, is die grondslag van alle geloof en aanbidding van God.  As jy wil weet wat geloof is, sê die Bybel dit bestaan uit aangeleerde kennis van en vertroue op wat jy weet. As jy wysheid soek, kry dit by wat jy van God te wete kan kom, gaan leer by God. Leer, leer, leer.  Laat jou onderrig!

Om te leer is nie dieselfde as om jou ore uit te leen aan elke jan rap en sy maat se persoonlike mening nie.  Ek het die afgelope twee weke in beide ons Bybelklets en Bybellees kuiers vrae gekry oor die wegraping, waarvan daar geen woord in die ganse Bybel gerep word nie, en telkens toe ek dit uitwys is ons verras.  Hoekom?  Ons weet nie meer wat ons glo nie.   

Ons moet oor God leergierig word. 

Ons gaan moet besluit van wie en by wie ons bereid is om van God te leer.           

Waar om te begin?  Waar lê die knoop dat ons die fout maak oor wat ons bereid is om te leer en van wie?  Een probleem is dat ons, net soos die “hulle” waarvan Johannes in die Skriflesing praat,

“uit die wêreld [is], en daarom praat hulle [en ons soos hulle] soos die wêreld, en luister [ons, net soos] die wêreld na hulle.

Ons herken die wêreld in hoe mense met ons praat.  Ons hou van die wêreld wat ons in mense se gepraat hoor.  En ons loop die wêreld wat ons ken agterna. Ons vergeet God is anders as die wêreld. 

Hoekom sê ek so?  Sê my asseblief as ek dit verkeerd het!

Ek dink ‘n eenvoudige toets vir of jy “uit die wêreld” of “uit God” is, is wat ons onder “liefde” verstaan.  Ons ken liefde in en uit die wêreld baie goed.  Nie een van ons ervaar nie liefde nie, en nie een van ons neem nie aan die liefde wat die wêreld bied, deel nie.  Maar ons sê sonder skroom “God is liefde” en dink nie vir ‘n oomblik daaroor na dat ons God, Iemand wat heeltemal buite die wêreld staan, nou sommer met iets wat binne-in die wêreld is, gelykstel.  Daar is nie ‘n manier wat dit waar kan wees nie!  Maar ons leef so.   

Ons probleem is dat ons nie buite die wêreld van ons eie verwysingsraam kan gaan dink nie.  Daarom moet Jesus uit die wêreld gelykenisse haal om iets van die hemelse te laat snap.  Maar as Jesus liefde met sy dood demonstreer, is dit gans te erg, gaan dit net te ver; nee, daar is geen manier dat ons ook so gaan liefkry nie.  Nee, in ons verwysingsraam is God vaagweg vergelykbaar met wat ons ken as “liefde” en dan liefde op sy uiterste beste.  Maar selfs daardie voorstelling wat ons van God het, al laat ons ruimte dat God kan meer wees as wat ons ons verbeel, kry nog nie vir God vasgevat nie.  Daar is meer nodig as net: Ja, ons ken liefde, ons weet wat dit is en ons het ervaring van hoe dit moet werk, en hoe seldsaam dit is, dus snap ons hoe God is, hoe God voel en dink.  Dit is om vrede te maak met ‘n mensgemaakte idee van God, op sy beste maar ‘n beeldjie, ‘n gelukbringer, ‘n oulike ou afgodjie. Hoor die Bybel met jou praat:     

Skyfie 44

6

Ons is uit God, en wie God ken, luister na ons. Wie nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit herken ons die gees van die waarheid en die gees van die dwaling.

Hoor jy nog die Bybel, die mense wat uit die Bybel met jou praat, God wat jou uit die Bybel onderrig?  Herken jy “die gees van die waarheid?”  Eien jy “die gees van dwaling,” want ja, daar is ‘n wesenlike verskil, al lewe ons in ‘n wêreld waar alles maar reg is, geen dwaling meer pla nie, want jy mag mos maar glo nes jy wil en niemand mag jou reghelp of voorsê nie, en in ruil daarvoor sal jy niemand laat weet hulle is verkeerd nie.

Nee, liefde, die liefde wat God is, en die liefde wat God het, is ‘n kwalitatief anderse waarheid as die werklikheid waarin jy jou verbeel jy liefde sien.  Jy moet van die Heilige Gees die waarheid leer, jou aan die Bybel wat jou die Waarheid leer, steur.  En wat volgende hier in die Bybel staan, kom om die dood nie sommer vanself nie, want as dit het, was daar geen twis of konflik nie, geen verskeurde families of gebroke gesinne nie, geen wrywing oor genders, tussen taal, volk- en rasgroepe nie, geen oorloë nie.  Lyk die wêreld so?  In jou drome miskien!  Wat regtig hier gebeur is ‘n lewende nagmerrie.  Maar so behoort dit te lyk, en sal dit, as mense God ernstig opneem.

Skyfie 45 tot 46

7

Geliefdes, laat ons mekaar liefhê,

want die liefde is uit God,

en elkeen wat liefhet,

is uit God gebore

en ken God.

8

Wie nie liefhet nie,

het God nie leer ken nie,

want God is liefde.

Nee, ons ken liefde nog nie.  Ons het geen benul daarvan nie.  Ons het ‘n idee, maar daardie idee is sinsbedrog afgelei uit wat ons van liefde maak.  Maar. . .

Skyfie 47 tot 49

9

Hierin is die liefde van God

aan ons geopenbaar:

dat God sy unieke Seun

na die wêreld gestuur het,

sodat ons deur Hom kan leef.

10

Hierin bestaan die liefde:

nie dat ons God liefgehad het nie,

maar dat Hy ons liefgehad het,

en sy Seun gestuur het

as versoening vir ons sondes.

11

Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê.

Dáár begin die versugting dat God ons moet leer:  Wanneer ons besef dat ons geen liefde ken wat naasteby bykom by die liefde waarvan God in die Bybel praat, nie.  Begeer jy dit genoeg, gaan jy dit wil aanleer.  Jy sal dit van God moet kom leer.  Hoekom van God?  Want God is die Een wat ons eerste liefgehad het.  En God is die Enigste wat nog ooit so liefgehad het.     

Skyfie 50 tot 51

65

U het goed gedoen aan u dienskneg,

Here, volgens u woord.

66

Leer my goeie oordeel en kennis,

want ek vertrou op u bevele.

Leer my, Here, U wat ek nou, na Jesus Christus, uiteindelik snap dit regtig met my goed bedoel en werklik aan my goed gedoen het, leer my goeie oordeel, leer my U ken.  Leer my want ek het agtergekom ek kan U vertrou, en ek kan op u bevele reken om vir my die beste van die lewe te laat beleef.  Die volgende vers sê ek het op my eie geprobeer regkom, ek het op my eie spoor gaan loop, my eie kop gevolg oor wat lewe en liefde is, ver gaan dwaal en lelik seergekry.  Ek weet nou dit werk nie. Leer my, Here!  

Skyfie 52

67

Voordat ek swaar beproef is,

was ek aan die dwaal,

maar nou kom ek u woord na.

Om te antwoord op James Barr se vraag oor hoekom ons sukkel om te leer, is dit nie so moeilik nie:  Ons volg ons eie koppe, loop ons eie pad.  Ons stamp ons koppe oor en oor totdat ons so seer het dat ons besgee:  Goed ons het iemand nodig om van te leer!  Dan eers stel ons God op die proef.  Dan eers bely ons:

Skyfie 53

68

U is goed en doen goed;

leer my u voorskrifte.

Laat jou onderrig.  Laat God jou leer liefhê.  Leer van God hoe ‘n mens “mens” moet wees.  Leer my hoe God mense bedoel het om te wees.  En laat wat ek leer nie net by hoor bly nie; laat my so word, so wees, so bly.  Leer my dit doen.

Maar dit is net ‘n mens met dure ondervinding van hoe eie kennis tekortskiet, van hoeveel ons nog te leer het, wat besef hoe ons op ons eie misluk, wat so sal praat.  Ons het, helaas, eers eerstehandse ondervinding nodig van mense se vermetelheid om vir ons te lieg, en te sê hulle het ons lief, al is hulle net op hulleself verlief.  Sulke mense is “so gevoelloos soos vet”.

Skyfie 54, 55, 56,

69

Vermeteles het my

met leuens beswadder;

maar ek, met my hele hart

hou ek by u opdragte.

70

Hulle harte is so gevoelloos soos vet,

maar ek vind vreugde in u wet.

71

Dit is goed vir my dat ek verneder was,

sodat ek u voorskrifte kon leer.

72

Die onderrig uit u mond is vir my beter as duisende

stukke goud en silwer.

Eers as jy baie diep gemyn het, ontdek jy die goud en silwer van God.  Jy wou nie die moeite doen om te gaan grawe nie, maar het verkies om te sien of die oppervlakkige wêreld jou iets ewe goeds kon bied.

Hou op om te maak of jy alles weet.  Hou op om te glo jy weet van alles beter.  Dit slaag dalk op jou vakgebied of in jou professie.  Maar daar is goed waaroor God die beste weet.  Hy het jou gemaak.  Hy weet wat vir jou goed is.

Skyfie 58 en 59.

73

U hande het my gemaak, my gevestig;

maak my verstandig, ek wil u bevele leer.

74

Hulle wat vir U ontsag het,

sien my en is bly,

want op u woord wag ek.

Ek dink dat jy iemand wat op God se woord wag, sal kry op die plekke waar God se woord gehoor word:  In die Bybel, in die kerk, in die onderrig deur ander gelowiges.  Wat God se woord vir jou werd is, sal reflekteer in hoeveel tyd jy daaraan bestee, met hoeveel erns jy daarmee omgaan, mos?  ‘n Mens sal jou kennis van God agterkom in jou nederigheid oor wat jy dalk al weet en die besef dat jy nog nie veel weet nie.  ‘n Mens sal kan agterkom of jy jou steur aan wat God sê uit of jy liefhet.

Iemand wat regtig glo, sal graag wil liefkry.  Iemand wat dink liefde is dit werd, sal vra:  Here leer my hoe!  Here onderrig my.  Here wys my hoe om U te dien, U lief te hê.       

Amen.


Jesus kom leer ons wie God is, wat God is, hoe God is.  Die Here Jesus Christus leer ons wat is liefde. Kom ons sing dit uit Gesang 453, drie strofes.   

Sang

Begeleiding begin hier, speel die hele begeleiding.

Skyfie 60 tot 65.

Gesang 453 strofes 1, 2 en 3.


Uitsending

Bid

Seën

Skyfie 66: Seëngroet. Maar julle het Christus leer ken. Efesiërs 4 : 20 tot 23.

Efesiërs 4 

20

Maar julle het Christus . . . leer ken. . .

21

Julle het tog van Hom gehoor, en julle is oor Hom onderrig, volgens die waarheid wat in Jesus is,

22

naamlik dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê, wat as gevolg van sy misleidende drange vergaan.

23

Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word.

Amen.

Sing 

Begeleiding begin hier. Speel die musiek tot dit klaarmaak.  Ons sing die lied se vier strofes dwarsdeur. 

Skyfie 67 tot 69.

Gesang 517 strofes 1, 2 en 3.


Afkondigings

Skyfie 70 : Lieg of leer. Wat weet jy regtig van God? 1 Johannes 4 en Psalm 119 : 65 tot 74. 28 April 2024, NHKA Kampersrus. Opstanding.

Dankoffers

Skyfie 71 : Lieg of leer. Wat weet jy regtig van God? 1 Johannes 4 en Psalm 119 : 65 tot 74. 28 April 2024, NHKA Kampersrus. Opstanding. Uitstapmusiek: Gesang 517.


Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.