Vertroue is verniet, nie verdiend nie.

Jy word vertrou net omdat iemand in jou lewe glo in God, en ook probeer glo in jou, in weerwil van die skade wat jy al aangerig het.  Dis omdat vertroue iets is wat ons mekaar gun, en vir mekaar weggee.  Want vertroue het minder te make met kredietwaardigheid wat jy met ʼn skuldrekord verdien en met ʼn wantroue-maatstaf kan meet, as met genade wat jy verniet weggee, en genade wat jy gratis, sonder enige betaling of verdienste, ontvang.    

Miga 7 verse 1 tot 7

2 Korintiërs 3 vers 1 tot 6

Romeine 3 vers 4

20 November 2016, NHKA Kampersrus

Koninkrykstyd

PREDIKANT

VOOR DIE EREDIENS

Dis onmoontlik om te leef sonder om iemand te vertrou. Dog, elke mens wat ek in my lewe leer ken het, het my al teleurgestel en my vertroue geskend.  Die vraag wat ons vanmore van die Here vra is: hoe kry mens reg om iemand wat jou in die rug gesteek het, weer te vertrou?  Kan dit? Hoef ek? En op wie rus die onus om vertroue te skep, op hom of op my?  En ek vermoed ons gaan van God leer dat om iemand te vertrou, is om iemand genadig te wees.

Daarom gaan vandag se erediens oor vertroue en wantroue, en oor wat dit jou gaan kos om my vertroue te herwin.

Sang (Sit)

Vandag gaan ons nie vooraf liedere sing nie.  Toe ek die liturgie geskryf het, het ons nog nie die gebruik van ʼn klankstelsel gehad nie.   Dankie aan Jan en Bertus en Christiaan wat die week almal saamgewerk het om dit te laat regmaak.

Stilte (Sit)

Pleks van te sing, nader ons die erediens met stilte en gebed.

Amen.

TOETREDE

OUDERLING

Toetredelied (Staan)

Ons is lief vir God.  Daarom is ons lief vir die plekke in ons wêreld waar God ons kom groet.  Kom ons sing oor hoe bly en dankbaar ons is vir hierdie plek en geleentheid waar God ons kom ontmoet. Ons sing

Psalm 84 strofes 1, 4

TOETREDE

PREDIKANT

Votum en Seën (Staan)

Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie.  (Psalm 9 : 11)

Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. (2 Kronieke 16 : 9)

AANBIDDING EN LOF

OUDERLING

Lofsang (Staan)

Kom ons prys die Here met hart en vlees hier in sy woning wat ook vir ons ʼn tuiste is.  Kom ons sê dit in ons lied dat ons ons maar op God se trou kan verlaat, Hy sal ons nie in die steek laat nie.  Kom ons sing

Psalm 84 strofes 2 en 5

DIE WIL VAN GOD

Die Wet (Sit)

Ons luister en leer vandag wat die Here se wil is uit net een enkele Bybelvers.

Numeri 14 vers 11

Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?”

Sang (Staan)

God kla ons daarvan aan dat ons Hom nie vertrou nie.  Nie omdat ons die een of ander tekortkoming het wat ons vertroue in God verongeluk nie.  Nee, ons weier om op God te vertrou.  Ons weier om God te vertrou en ignoreer al die bewyse uit die verlede dat ons op Hom kan reken, al verg dit ʼn wonderwerk.

Die Here het reg.  Ons is skuldig.  Kom ons bely saam ons skuld. Kom ons sing

Gesang 232  strofe 1   

Genadeverkondiging (Staan)

18      

Tog [ten spyte van ons sonde, so sê Jesaja 30] is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is ‘n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.

19      

Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.

20      

Die Here het jou honger en dors laat ly, maar Hy wou jou leer, en Hy sal Hom nou nie meer afsydig hou van jou nie; jy sal self sien dat Hy die Een is wat jou leer.

21      

Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”

Geloofsbelydenis (Staan)

Hier is die pad waarlangs die kerk van alle eeue loop.  Kom ons bely ons geloof saam met en soos die kerk, soos volg:

  • Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ek glo in die Heilige Gees.
  • Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

Sang (Staan)

Om te sê dat ons in God glo, is om te sê dat ons op God vertrou. Kom ons sing van ons voorneme om God met volharding te bly vertrou, uit

Gesang 213 strofe 2      

VERKONDIGING

PREDIKANT

Skriflesing  (Sit)

Miga 7 verse 1 tot 7

1        

Ellende wag vir my, ek het geword soos ‘n land wat afgeoes is, soos die natrossies in die wingerd. Daar is niks om te eet nie, en ek wou graag voorvye gehad het.

2        

Daar is nie meer ‘n gelowige in die land nie, onder die mense kry jy nie ‘n opregte nie, almal stel strikke om moord te pleeg, hulle maak met vangnette jag op hulle broers.

3        

Al wat die regeerder vra, is dat hulle goed moet sondig; die regter vra omkoopgeld, die vername praat net oor wat hy begeer. Hulle verdraai alles.

4        

Die beste onder hulle is soos ‘n gifplant, die opregte erger as ‘n doringheining. Die dag van jou straf kom, wees op die uitkyk daarvoor! Hulle sal binnekort in verwarring raak.

5        

Moenie ‘n maat vertrou nie, moenie op ‘n vriend staatmaak nie, pasop wat jy sê vir die vrou langs wie jy lê.

6        

Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword.

7        

Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.

2 Korintiërs 3 verse 1 tot 6

1        

Begin ons weer onsself aanprys? Of het ons miskien, soos party ander mense, aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig?

2        

Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan.

3        

Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie maar op die harte van mense.

4        

Ons sê dit omdat ons deur Christus ten volle op God vertrou.

5        

Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God,

6        

wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend

Hier eindig die Skriflesing. Romeine 3 vers 4 sê:

4        

Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar. 

Gebed (Mans staan)

Sang (Staan)

Ons bid vandag dat God ons moet help om vir Hom en vir mekaar weer te kan vertrou.  God maak vertroue weer moontlik, selfs na ontrou, verraad en bedrog.  Ons gaan sing dat Christus ons laat veilig voel teen die twyfel en onsekerheid wat sulke sonde by ons veroorsaak.  Op Hom kan ons bou en aan Hom kan ons ons lewens toevertrou. So sê

Gesang 448 strofes 1, 3 en 4

Prediking (Sit)

Daar waar ek grootgeword het, in die Griek se kafee waar ek altyd ons daaglikse brood moes loop koop – die melk het elke more sommer vanself by die voordeur kom aanklop – daar in die Griek se kafee was daar ʼn kennisgewing in sierskrif:  “In God we trust, all others must pay cash.”

Snaaks nè, al die vreemde plekke waar God vir jou preek.  Suiwer evangelie daai, het ek later geleer, cafe op die hoek of te not.  In net 9 woorde sê dit wat ek in nege preke nie kan nie: dat sondaars se lewens net met genade aan die gang gaan kom, want vertrou kan jy hulle nie.

Niemand kan jou vertrou nie, want jy verdien nie om vertrou te word nie. Jy gaan nooit kan verdien dat iemand jou eers begin vertrou nie, en die kanse dat jy weer vertrou sal word na jy verbrou het, is nie baie goed nie. Soms, net soms, gun hulle jou dit, al weet hulle jy verdien dit nie.  Maar hulle weet hulle vat ʼn kans.

Jy is onbetroubaar, want jy’s mens.  Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar. As iemand jou vertrou, is dit oor daai iemand jou genadig is. En kom dit by wéér vertrou te word, na jou onbetroubaarheid oopgevlek is,  gaan jy op net nog baie meer genade moet hoop.

Om iemand te vertrou, is om hom genadig te wees.

Genade is God terrein.  Dis evangelie. As jy wil hê mense moet jou vertrou, gaan jy vir God vir daai genade moet vra.  

Genade verg geloof. Om te vertrou is om te glo.

Vertroue is die kosbaarste geskenk wat iemand jou ooit sal gee. 

Om vertrou te word, is om geglo te word.

Vertroue is die duurste ding wat jy ooit aan iemand anders sal weggee.    

trustNiks wat jy doen, vat ooit heeltemal die agterdog weg oor waartoe jou sondige natuur in staat is nie.  Jy kan niemand vertrou nie.  Vra die Griek.  Hy het dit uit dure ondervinding moes geleer het.  Daai skoot donshael in sy kafee is sommer aan al wat ʼn klant van hom is, gerig.  Op almal behalwe God natuurlik, as God daar sou wou kom koop. Die res van ons is almal onder verdenking, skelms, mense op wie se beloftes jy nie kan reken nie.  Hy het reg. Want dis in ons aard.

Later, toe ek my eerste rekening wou open, wou hulle nie, want ek het geen skuld nie. Ek is nie God nie, sien. En niemand het nog die kans gewaag om my met krediet te vertrou nie.  Niemand wou eerste wees nie, want die risiko is te groot. Jy moet ʼn kredietrekord hê.  Jy moet ʼn geskiedenis van skuld hê om te mag skuld maak. Jou kredietrekord sê vir die geldskieter hoe geregverdigd sy wantroue in jou is, en tot watter mate sy wantroue in jou julle transaksie moet reël.  Die uitlener het ʼn maatstaf vir hoe groot die risiko kan wees wat hy bereid is om met jou te loop.  Sy maatstaf meet hoe groot sy wantroue in jou mag wees, voor hy alle hoop sou moes laat vaar om sy geld van jou terug te kry.

Jou kredietrekord boesem nie vertroue in nie.  Want dan sou gebrek aan enige skuld jou die beste belegging maak.  Hoe jy in die verlede jou skuld betaal het, beperk net tot aanvaarbare vlakke die wantroue wat die skuldeiser in jou het.

Die spreekwoord dat “jy iemand se vertroue moet wen”, of “verdien”, lieg skaamteloos.  Al was iemand tot nou toe foutloos eerlik, is dit geen waarborg dat sy eerlikheid gaan hou nie.

Waar het ons dit geleer?  By onsself natuurlik!  Ons het dit al almal nodig gevind om om ons eie bas te red en ons eie belange te beskerm.  Dis die eufemismes waarmee ons ons oneerlikheid goedpraat.  Om te sê ons het gelieg om onsself uit die moeilikheid uit te kry, is gans te grof.  Maar dis wat ons gedoen het. Dat jy jouself weer kan vertrou, is ʼn alledaagse wonder.

Dit klop ook met wat ons van ander mense weet.  Nie eers bande van vriendskap of verwantskap verdien vir jou vertroue nie. My opvoeders het my van kleins af al gewaarsku mens doen nie besigheid met vriende of familie nie.

Hoe begin dan vertrouensverhoudings? Waar kom vertroue vandaan? Want ons tree tog in die huwelik, hoewel baie verkies om liefs die agterdeur oop te hou.  Ons waag dit om vriende te maak, en gemeenskappe te vorm.  Elkeen van hierdie eksperimente in menslike saamwees staan en val by hierdie een ding: of ons mekaar kan vertrou.  Hoe weet ons ons kan?

Hoe oorleef sulke vertrouensverhoudings die teleurstelling as vertroue verongeluk en net skepsis agterbly?   Ons is by mekaar al so diep in die skuld oor ons ontrou en onbetroubaarheid dat ons vir geen verdere skuld meer kwalifiseer nie.

En tog, ten spyte daarvan, word ons telkens weer nog ʼn kans gegun.  Ons waag dit om die ontroues weer te vertrou.  En ons pleit om self weer vertrou te word, al skreeu dit soms ten hemele teen elke norm waaraan mens gewoonlik betroubaarheid meet.

Dis omdat vertroue iets is wat ons mekaar gun, en vir mekaar weggee.  Want vertroue het minder te make met kredietwaardigheid wat jy met ʼn skuldrekord verdien en met ʼn wantroue-maatstaf kan meet, as met genade wat jy verniet weggee, en genade wat jy gratis, sonder enige betaling of verdienste, ontvang.    

Jy verdien nie eers vertroue, voor iemand jou dit gee nie. Jy kry dit net.  Jy kry dit omdat iemand besluit het jy is die risiko werd; hy kan dit met jou waag.  Om dit met jou te waag, moet hy wat jou vertrou, kan glo in iets wat hy nie kan sien nie.  Soos dat jy dié keer jou beloftes sal hou al het jy dit tot nog toe nie gedoen nie.

In Miga se wêreld is daar geen geloof meer oor nie. En met dié kan jy niemand meer vertrou nie. Almal stel strikke vir mekaar. Jou vyand skuil in jou intiemste kring; ʼn man se eie huismense is sy vyande. Broers maak met vangnette jag op hulle eie broers.  Die regeerders vra net dat mense mooi moet sondig – wat dit ookal beteken.  Die regters vra omkoopgeld; en moenie dink dis veilig om op ʼn vriend te vertrou nie; jy moet dan op jou hoede wees selfs vir die vrou wat by jou lê.  Jou seun sal jou sonder skroom beledig. vertrou God, vertrou mekaar, hoe vertrou ek iemand weer?, kredietrekord, Genade, vertroue kos duur, Hennie la Grange, Eredienste, vertrouensverhoudings, Jou dogter sal in opstand kom teen haar ma, jou skoondogter teen haar skoonma.

Kan sulke mense mekaar weer leer vertrou?

Hoe het die vertroue onder ons verdwyn?  Miga sê ons het opgehou glo; daar’s nie meer geloof in die land nie.  Nie in God nie, ook nie in mense nie.

Ons vermoed ons verstaan ook nie meer altyd ewe goed wat geloof is nie, of hoe om te glo nie. Ons probleem is nie ongeloof nie.  Ongeloof sou beteken ons weet hoe om te glo maar ons verkies om dit nie te doen nie.  Ons is geloofloos.  Ons weet nie meer hoe geloof werk nie. Ons kan geloof nie gebruik nie.  Ons ken dit nie in praktiese toepassings nie.

Daar was in Israel geen geloof meer oor nie, want so ontnugter was almal, daar was niemand meer oor wat bereid was om dit met iemand te waag nie.  Niemand vertrou enigeen meer verder as wat hulle mekaar kan sien nie. Niemand vertrou iemand anders meer as hulle nie duidelik kan bewys hulle verdien om vertrou te word nie. Dit verg nog nie geloof nie, maar getuienis.

As vertroue verdien en betroubaarheid met getuienis bewys moet word, gaan jy niemand kan vertrou nie. Nie jou pa of jou president nie, nie jou vriend of jou familie nie, nie eers jou eie kinders of hulle ma nie.  Die hele lot van hulle, van regter tot regterhand, gaan jy met wantroue moet bejeën.  Jy kan nie waag om van enige van hulle iets goeds te verwag, enigiets te hoop of te glo nie, nie voordat jy eers hulle kredietrekord op jou wantroue-barometer geweeg het nie.  Genade is daar dan nie, net verdienste en beloning.

Dis nie hoe vertroue werk nie.  Vertroue begin by te glo.  Glo eers in God.  Met God leer jy vir die eerste keer iemand ken, nes daai Griek uit my kinderdae gesê het, wat jy kan vertrou. By God leer jy vir die eerste keer om jou vertroue te stel in iets wat jy nie kan sien nie, maar uit ondervinding en eeue se belydenis kan  agterkom jou nooit in die steek laat nie. Maar dié vertroue is nog nie geloof nie.

Geloof skop in die oomblik as jy besef jy kan op God vertrou al kan Hy vir niks op jou reken nie.  Jy verdien nie ʼn steek by God nie, niks, nul, minder as niks. Nogtans het Hy jou lief.  Jy kan daarop reken Hy gaan jou bly liefhê, jou lydsaam en volhardend gaan aanhou liefhê.  Teen wil en dank, teen alle ervaring en voorhande getuienis in, gaan God jou vertrou. God vertrou jou met sy skepping, met sy kinders, met sy koninkryk.  Wat Hom besiel, weet ek nie.  Wat Hom laat dink dis by ons veilig, kop ek nie.  Al is jou geskiedenis ʼn klaaglike mislukking, en jy nie die soort waarvoor enige mens nog so ʼn risiko sou loop nie, maak Hy die toekoms van jou afhanklik.  Hy laat Hom nie deur sonde afskrik nie.  Jou geskiedenis diskwalifiseer jou nie vir die vertroue wat God in jou stel nie.  God vertrou jou, al moet Hy nie, al moet Hy eintlik regtig nie.  Dis wanneer geloof begin gebeur: as jy dit begin verstaan.  Jy’s nie betroubaar nie, maar God vertrou jou.

Hoe kry God dit reg om my te vertrou?  God glo in genade. Dat genade van sondaars weer mense maak. Genade maak dit vir my moontlik om weer saam met God en tussen mense te lewe.

Hierdie geloof in genade, wat aan mense gun wat hulle nie self kan regkry nie, leer jou om selfs mense te vertrou wat jy by voorbaat al weet tot niks goeds in staat is nie, ook nie betroubaarheid nie.  Net omdat jy in God glo, die God wat genade in ons menslike saambestaan ingevoer het, kry jy vir die onbetroubares hoop. En jy waag dit, teen alle risiko’s in, om in hulle te begin glo.  Glo beteken jy’s hulle genadig, en dat genade mense betroubaar maak.  Hulle verdien dit nie, maar jy gun hulle dit nogtans.  Want dis wat God met jou gedoen het.

God het ons met sy Seun vertrou in die geloof dat as ons agterkom ons het die Christus gehaat en vermoor, ons Hom vurig lief sal kry.  Hy het sy Seun aan ons toevertrou toe daar nog geen beduidenis was dat ons tot iets beters as haat in staat sou word nie.  God was dit te wagte dat ons normale agterdog en ons suinigheid met vertroue, ons onbehendigheid met geloof, die Christus sy lewe sou kos. Nogtans verklaar Hy ons sy kinders en gee Hy ons genade gratis.  Ook maar goed dis gratis, want daar’s geen ander manier waarop ons dit sou kon kry nie.

Dog, kan ons dieselfde doen?  Wantroue het in ons wêreld die reël geword.  Dis te verwagte, want wantroue is sonde en sonde is die wêreld se normaal.  Hier durf jy niemand meer op sy woord neem nie, niemand sommer glo nie. En mense maak met jou ook so.  Dis natuurlik.  Vertroue is die uitsonderlike, die wonder wat met genade in die wêreld opdaag.

Maar om self van genade te leef, is om nes God te begin glo dat mense tot meer in staat is as wat jy uit hulle geskiedenis kan aflei. Jy weet dit kan, want jy het teen jou eie rekord in, weer kredietwaardig geword.

Jy word vertrou net omdat iemand in jou lewe glo in God, en ook probeer glo in jou, in weerwil van die skade wat jy al aangerig het.

Die dag as jy agterkom daai iemand wat weer in jou begin glo het, is God, breek daar ʼn stukkie hemel vir jou oop.

Die dag as jy agterkom daai iemand wat jou weer begin vertrou, is jou vrou, jou kind, jou pa, jou broer, jou skoonfamilie, jou vriende en jou volk en die vreemdelinge daar by jou, leer jy wat genade is, en wat genade werd is.  Dis wanneer genade grondvat.  Jou lewe word weer draaglik.  Daar gaan vir jou nuwe wêrelde oop.

Die dag as jy dit oor jou hart kan kry om daai genade aan iemand anders gratis weg te gee, en hom weer te vertrou, is die dag waarop jy begin glo.   Jy lewer jou uit aan ongekende gevaar om iemand te begin vertrou, en weer te vertrou.  Vertroue is duur, die duurste geskenk wat jy ooit aan enigiemand gaan gee.  Maar dis al hoe daai iemand dit ooit gaan kry: as jy dit gratis gee, oor jy hom dit gun.  Die dag as jy dit regkry, om teen alle sin en wil in ʼn sondaar met ʼn geskiedenis vol bedrog, genadig te wees en te vertrou, word jy ʼn engel van God wat die hemel op ʼn skrefie oopstoot en ʼn kind van God wat die lewe hier in die wêreld weer moontlik maak vir ʼn sondaar wat aan sy skuldlas sou beswyk.

Vertrou op God. Leer weer glo.

Vertrou my, dis wat almal van ons van mekaar vra. Vertrou my weer en weer. En nog ʼn keer. Wees my genadig.

Wees mekaar genadig. Vertrou mekaar.  Vertrou weer elke ander mens wat by jou in die skuld is.

In die wêreld kan ons nie oorleef sonder dat ons vertrou en vertrou word nie.  Die kerk ook nie.  Die kerk is dié waar genade werk, en geloof geleer word.  Geloof staan vir vertroue borg.  As ons in die kerk nie meer genade kan gebruik en kan reken op vertroue nie, omdat geloof skort, is ons in die moeilikheid.

Dan was daai Griek se kafee meer kerk as ons.  Om daai Griek se idee van die evangelie net so ʼn klein bietjie te hervorm sodat dit nog beter sê wat die evangelie bedoel: “In God we trust, all others get it on credit.” Of te wel: Ons vertrou op God.  Julle kan almal op sy rekening kom koop.

Amen.          

GEBEDE

Dankgebed (Mans staan)

Slotsang (Staan)

Met ons laaste lied sê ons dat ons vas vertrou op die Here.

Gesang  280 strofes 1 en 2

WEGSENDING

Seëngroet (Staan)

10      

Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.

11      

Leer my u wil, Here, en lei my op ‘n gelyk pad sodat my vyande nie hulle sin kry nie.

12      

Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie, want daar staan vals getuies teenoor my en hulle blaas geweld teen my aan.

13      

As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …!

14      

Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!

(Psalm 27 verse 10 tot 14)

Sang (Staan)

Gesang 313

OUDERLING

 

Afkondigings

DIAKENS

 

Dankoffers

Advertisements

Moenie bang wees nie, klein kuddetjie

God nooi ons uit om op Hom staat te maak.  Ons kan gerus maar verwag dat God iets goeds in ons lewes gaan doen.  Ons weet dit uit sy beloftes.

Ons moet moed skep en nie so wanhopig wees nie.  Ons moet ophou om vir die lewe en die wêreld so kwaad en so bang te wees.  Bitterheid maak niks beter nie; liefde wel.

As ons kan leer reken daarop dat God ons altyd liefhet, gaan ons anders oor onsself begin dink, anders oor mekaar voel en anders na die wêreld begin kyk. En ons gaan ʼn verskil aan die wêreld maak.

Skep moed, klein kuddetjie!

Matteus 8 verse 5 tot 13

Lukas 12 verse 32 tot 40.

 

14 Augustus 2016, NHKA Kampersrus

Werk van die Heilige Gees

Predikant

In vandag se erediens nooi God ons uit om op Hom staat te maak.  Ons kan gerus maar verwag dat God iets goeds in ons lewes gaan doen.  Ons weet dit uit sy beloftes.  Ons moet moed skep en nie so wanhopig wees nie.  Ons moet ophou om vir die lewe en die wêreld so kwaad en so bang te wees.  Bitterheid maak niks beter nie; liefde wel. As ons kan leer reken daarop dat God ons altyd liefhet, gaan ons anders oor onsself begin dink, anders oor mekaar voel en anders na die wêreld begin kyk. En ons gaan ʼn verskil aan die wêreld maak.

Liedere (Sit)

Vandag se liedere het almal die sleutelgedagte dat God doen wat Hy belowe het.  Daarom kan ons op Hom vertrou om die daad by die woord te voeg. Ons eerste lied vat die alles in een gesang saam.

(En nog goeie nuus is: ons het van vandag af die notebalke op ons skerm!  Ons gaan heerlik sing!)

Gesang 588 strofes 1 en 3.

Ek weet ons sing dikwels Psalm 33, maar dis daai laaste vers wat my altyd na hom toe laat terugkom:

“God se Naam is heilig, by Hom is ons veilig: Hy sal altyd red.  In ons vreugde lag ons, op sy goedheid wag ons, hoopvol in gebed.”

Maar moenie vers 4 miskyk nie:

“Hulle wat getrou bly, hulle onderhou Hy, Hy sal hulle seën.  God se volk leef sorgvry, want vir hulle sorg Hy deur geslagte heen.”

Psalm 33 strofes 4 en 7.

Met dié dat ons nou kan sien hoe die musiek lyk, gaan ons dit waag met een van die mooiste liedere in ons Liedboek.  Die woorde en die melodie is die werk van Gisela de Villiers.  Die lied vra of dit soms voel die Here is te ver.  Wel, jy moet glo dat die Here met jou saamloop, dat sy Gees orals met jou saamgaan.

Gesang 518

Ouderling

Toetrede:

Toetredelied (Staan)

Kom ons begin ons gesprek met God in die erediens deur te sing.  Ons roep God aan met

Gesang 161

Halleluja! Heer, U is ons lewe. . .

Predikant

Toetrede

Votum (Staan)

Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.  Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.

(Efesiërs 1 : 11, 12)

Seëngroet (Staan)

Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.    

Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

(Efesiërs 1 : 12, 13 en 14)

Ouderling

Aanbidding en lof

Sang (Staan)

Ons bring aan die volke die boodskap van hoop en bevryding.  As ons stil word, sal die wêreld dit nooit hoor nie.  So sê

Gesang 486 : 1, 3 en 4

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Dis die Here se wil dat ons nie moet moed verloor nie.  Inteendeel, ons moet  moed skep.  Ons moet altyd vol moed wees, en ons moet dit wys al gaan dit ook hóé sleg.  Dit staan so in 2 Korintiërs 4 en 5:

16      

[Omdat God ons saam met Jesus sal opwek] word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.

17      

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

18      

Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

1        

Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

2        

Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek.

3        

Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie.

4        

Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe.

5        

Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

6        

Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie,

7        

want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.

8        

Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon.

9        

Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil.

10

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Skuldbelydenis (Staande)

Ons beste voornemens ten spyt, ons sukkel om moed te hou.  Ons moed is wankelmoedig.  Al wil ons moed skep, ons kon dit nog nie regkry om vol moed te lewe soos die Here dit wil hê nie.  Galasiërs 3 vers 22 waarsku:

Volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

Ons moed sak in ons skoene.

Genadeverkondiging (Bly staan)

Vir ons wat so in sonde vasgevang is dat ons al moed verloor het, vir ons belowe God genade.  Hoor wat sê Romeine 10 verse 8 tot 13:

8        

En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig:

9        

As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

10      

Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.

11      

Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”

12      

“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ‘n mens ‘n Jood of ‘n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik,

13      

want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Geloofsbelydenis van Nicea (Bly staan)

Ons roep nou die Naam van hierdie Here aan.  Ons bely dat Hy ons wil red. Ons skep moed: daar is weer hoop.

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

deur wie alle dinge ontstaan het;

wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.

Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;

ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

Amen

Sang

Laat ons uit Gesang 219 sing van ons Verlosser, Hy wat wys hoe liefde lyk.

Gesang 219 verse 1,2

Predikant

Gebed (Mans staan)

Sang (Vroue staan ook wanneer ons sing.  Mans bly deurgaans staan)

Gesang 465 verse 1, 2 en 3 beurtelings / een op ʼn slag, met gebede tussenin.

Predikant

Verkondiging

Skriflesing (Sit)

Matteus 8 verse 5 tot 13

Bladsy 14 van die Nuwe Testament.

5        

Nadat Jesus in Kapernaum aangekom het, het ‘n offisier by Hom hulp kom vra

6        

en gesê: “Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn.”

7        

En Jesus antwoord hom: “Ek sal hom kom gesond maak.”

8        

Maar die offisier sê: “Here, ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Sê maar net ‘n woord, en my slaaf sal gesond word.

9        

Ek is ook ‘n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir ‘n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.”

10      

Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor, en Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ‘n groot geloof teëgekom nie.

13      

Jesus sê toe vir die offisier: “Gaan terug, en wat jy geglo het, sal gebeur.” En sy slaaf het op daardie oomblik gesond geword.      

Lukas 12 verse 32 tot 40. 

Bladsy 104 van die Nuwe Testament.

32      

“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.

33      

“Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ‘n beurs aan wat nie leeg raak nie, ‘n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie.

34      

Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”

 

Hier eindig die Skriflesing.

Maak wat ek vir jou sê jou eie, my seun, hou by wat ek jou voorskryf, maak wat ek jou voorskryf jou eie, dat jy kan lewe, maak wat ek jou leer jou eie, so eie soos die appel van jou oog. Sorg dat jy dit altyd onthou, maak dit ‘n deel van jou lewe. (Spreuke 7: 1-3)

Sang (Staan)

Glo jy, sal jy verwag dat God jou sal seën, en dat God jou gelukkig sal maak.  Dis waaroor ons sing in

Gesang 590 strofes 1 en 2

Preek (Sit)

Gestel jy is in ʼn gat. Nou nie ʼn regte gat nie, maar een van daai donker plekke waar niks meer sin maak nie en die lewe nie die moeite werd voel nie.

Dis ʼn moeilike plek om te wees en nog moeiliker oor daaruit te kom. Ons ken die gat goed.  Ons kry mekaar mos gereeld daar.  Ek gaan dikwels daar sit en wonde lek.

Nou wonder ek: hoe help God mens daaruit?

Stel jou voor God sê: Ek staan by jou.  Ek is bankvas hier agter jou.  Kom, kom ons vat ʼn kans, Ek en jy.  Jy kan nie ʼn fout maak nie, jy sal nie misluk nie, Ek gaan jou help.  Jy het al die krag waarmee Ek Jesus uit die dood uit opgewek het tot jou beskikking.  Toets My hierin.  Kom, droom ʼn slag groot. Verwag iets anders, iets nuuts.  Van My, en van jouself.  Pak iets heeltemal nuuts aan; iets wat jy, as jy op jou eie was, nooit sou waag nie.   Iets wat jy nie glo jy kan regkry nie.  En dan doen jy dit.  Belê al jou krag en aandag daarin.  Want dit gáán werk. Al misluk jy dié keer, dit gaan werk om jou te laat agterkom jy kan meer doen as wat jy bid of dink.  Buitendien is om te misluk tog nie naastenby die einde van die wêreld nie.  Verbeel jou God sê vir jou dié goed, wat sal jy doen? Wat sal jy daarmee maak?

Ek weet jy’s skepties.  Dis te verstane.  Ons het geleer – uit dure ondervinding het ons dit geleer – om vir gevaar op ons hoede wees; ons is daarop ingestel om nooit risiko te onderskat nie.   Ons omstandighede ís ingewikkeld, ons probleme lê soos ʼn berg in ons pad, die uitdagings voel oorweldigend.  Ons voel klein en bedreigd.  En met reg ook.  Daar’s ʼn dodelike wildernis daarbuite.

Human sitting silhouette in back lighting in tunnel exit (shallow DOF)
Donker gat? Daar is lig.  Daar is hoop.  Skep moed.

Ek is baiekeer bang, dalk oorgevoelig vir risiko.  Steek jy jou nek uit, kap iemand hom gou-gou vir jou morsaf, het ek geleer.  Ek is lugtig om nuwe planne te maak.  Daarom lyk my lewe soos die Donkergat-tronk in die Kaapstad Kasteel: donker en koud van die lang skaduwees wat ou koeie nou nog oor my gooi, en vol krapplek waar ek met my kaal hande al tevergeefs vir eie uitkomste gate in die mure probeer grou het.  Buitendien sit my vingerafdrukke aan die gat self: ek het hom met my eie hande gegrawe. Sonde was my graaf.

Die wêreld is ʼn gevaarlike plek; die lewe is vol risiko’s.  Daarvan het almal van ons die letsels.  En met dié kyk ons baie geleenthede mis oor ons op die risiko’s fokus en die moontlikhede miskyk.   Sit jy die dag in daai gat oor al jou moeilikheid jou van jou moed en middele gestroop het, gaan jy gaan geen geleenthede kan raaksien nie, en as jy hulle tog eien, gaan jy nie meer glo jy het wat dit verg om die geleentheid te gebruik nie.

In daai gat, kry jy nie sommer vir jou ʼn nuwe toekoms verbeel nie. Jy moet eers weer veilig voel.  Jy moet net eers weer moed skep.  En oor jy weet jy het jou eie graf gegrawe, kan jy jouself nie juis vertrou om hier uit te kom nie.  En jou eie kaal hande is al wat jy het.  Wat jy nóú nodig het, is ʼn ondersteuner, iemand wat jou daai hupstoot gee, iemand wat jou aanmoedig en aanpraat, raad gee en jou die slaggate help vermy; oë agter in jou kop wat jou rugkant beskerm. Dit help as jy ʼn borg het, wat jou die middele help kry vir die uitklimmery, iemand wat jou op sy skouers tel dat jy hoër kan bykom en verder boontoe en vorentoe kan sien, een wat jou arms langer en jou bene sterker en jou sintuie skerper maak.  Jy moet net eers weer die moed kry vir aangaan, en moed wil eers veilig voel. En ʼn weldoener wat jou beskerm is wat jy soek.

“Here, my slaaf lê by my huis verlam en verduur baie pyn,” sê ʼn offisier wat vir Jesus kom opsoek het. Waar om die kêrel daaraan om vir Jesus te kom opsoek?

Hy sit met ʼn slaaf wat dodelik siek is.  Niks help daarvoor nie.  Toe hoor hy Jesus maak mense gesond.  Hy vat ʼn kans. En Jesus antwoord hom: “Ek sal hom kom gesond maak.”  By implikasie: kom, wys my waar jy bly dat ek die slaaf kan kry.

Wat dan gebeur, laat Jesus verwonderd.  Hy sê vir die mense wat agter Hom aan gekom het: “Dit verseker Ek julle: Ek het nog by niemand in Israel so ‘n groot geloof teëgekom nie.” Waaraan sien Jesus “groot geloof”?

Die offisier sê: “Here. . . Sê maar net ‘n woord, en my slaaf sal gesond word. Ek is ook ‘n mens wat onder gesag staan en ek het soldate onder my. Vir een sê ek: ‘Gaan daarheen!’ en hy gaan; en vir ‘n ander: ‘Kom!’ en hy kom; en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” Met ander woorde: dis hoe gesag werk.  As jy  gesag het, sê jy bloot: “Doen dit!” en dit word gedoen.  Soos in: “Laat daar lig wees!” en dit is so.  Die offisier is seker Jesus het sulke gesag oor siekte en gesondheid.  Jesus hoef net ʼn woord te sê, en die slaaf sal gesond word.

Die vertroue dat wat Jesus sê, net so gebeur, dís geloof – gróót geloof. Jy kan met wat Jesus sê, waag.  Want Hy kan, en Hy belowe ook Hy sal doen wat Hy sê.

Het jy dié soort steun, skep jy daaruit die moed om groter te droom as wat jy op jou eie sou.

Dit bring ons by waar ek vandag wil uitkom:  “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie,” sê Jesus, want weet julle wat, “. . . dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.”  Luister mooi, jy daar in die donker gat: God die Vader wil, en gaan, om geen ander rede nie as dat dit vir Hom lekker is, die koninkryk vir jou gee. En jy gaan die koninkryk kry ook, want wat God wíl doen, dit doen Hy. Al wat nou oorbly is, jy moet huis toe gaan en jou slaaf wat lam was uit die bed uit help opstaan. Dis klaar waar, sien: hy is nie meer lam nie.  Dieselfde met die koninkryk: jy het hom alreeds.

Hier waar ek in die gat sit, voel dit nog nie so nie.  Ek moet uitklim.  Maar ek is met die lamheid geslaan.

Nou nooi God jou uit – Hy dwing jou nie, Hy beveel jou nie – vryheid toe. Hy sê jy het dit al. My sintuie het my dit nog nie laat weet nie.  Hoe verskil ʼn bevel of ʼn gebod van ʼn belofte?  Wel, ʼn belofte hou vir jou voordeel in en lei tot jou vryheid, ʼn wet werk met dreigement van straf. Herken dan ten minste net: God dreig nie, God belowe. En nes jy by God veilig voel en Hom op sy woord neem, en sy beloftes glo – dis trouens wat moed skep mos is: jy verwag vir ʼn slag iets goeds – nes jy in God se beloftes glo, waag jy dit om saam met God jou neus oor die rant van jou donker gat te steek.

Dit verg moed.  Moed is wat God gee.  Glo dat Hy dit met jou goed bedoel.  Gryp die geleentheid wat Hy vir jou skep.  Al wat nog keer is jou vrees.  Moenie bang wees om uit te kom nie, brose mensies, klein kuddetjie, sê Hy.

Hier’s hoe: deel jou lewe met ander. Jou eerste treetjie is maar ʼn kleintjie, maar toegegee, dis nog een van daai reuse stappe vir die mensdom.

Dis waar dat God die Vader jou die hele koninkryk wil gee, en jy kan sonder om bang te wees jy gaan iets kortkom, alles wat jy klaar het, weggee en met ander deel. Want waar daai bietjies wat jy al het, alles vandaankom, is daar nog baie.

“Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ‘n beurs aan wat nie leeg raak nie, ‘n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie.”

Met dié dat God ons die goeie belowe, kan ons wat ons klaar het, vryelik met ander deel, opgaan in diens aan ander.

Skep moed en vind jou geborgenheid nie in goeters en geld en roemryke suksesse nie, maar in jou verbintenis aan God wat dit met jou goed bedoel.  Ons waarde lê in wat God dink ons werd is, en ons toekoms in wat God weet ons kan regkry.

Dis sulke goeie nuus, mens sou dink geeneen van ons sit iewers meer in ʼn swart gat nie. Moenie glo nie!  Dis so ʼn vreemde gedagte dat die meeste mense nie met ʼn tang daaraan wil vat nie.  Ons wat in die kerk sit, is daarmee “versigtig”, om dit nou ligtelik te stel.  Wanneer laas het jy iets wat jy nodig het weggegee oor jy glo iemand anders is armer as jy? Die wêreld werk immers anders.

Die wêreld is daarop uit om ons bang te praat, tot selfs vir die opkoms van die armes. Alles wat veiligheid verkoop, is geskoei op hoe bang jy is. Hier is sekuriteit, raas hulle in jou ore.  Aan die wêreld uitgelewer, gaan jy bang bly.  Jy gaan jou nie  ʼn beter toekoms kan indink nie, en jy gaan ook nie glo jy kan jou soontoe opwerk nie.

Vertrou jy vir God?  Jy sê tog jy glo. Glo jy só dat wat God sê, gebeur?  Sal jy, as jy nou huis toe gaan, jou lam slaaf op en wakker daar aantref?

Watter verskil maak so ʼn geloof aan hoe jy die lewe aanpak en die wêreld aanvat?

Kom nou, dominee, hoor ek jou dink, ons lewe loop oor van die terugslae.  Om eerlik te wees, God en geloof is soms onder ons grootste teleurstellings.  Daar is geen waarborg dat ons nie sal verloor of faal nie.

Toegegee. Ek onthou van die letsels. Maar ons het oorlééf.  Ons is nog hier!  Wat as mislukking nie saakmaak nie?  Nie oor jou mislukking geen gevolge gaan hê nie, maar dat al faal jy skouspelagtig, dit nie die einde van die wêreld is nie. Abraham, die vader van alle gelowiges, meer geëerd oor sý geloof in God as hierdie naamlose offisier,  skiet ver tekort as dit by “groot geloof” kom: die man val en vou herhaaldelik.  Maar Abraham staan op en gaan aan. Hy laat hom nie deur sy eie sukses so beïndruk dat hy dink hy self sy toekoms kan aanmekaarsit nie, en hy laat ook nie sy foute sy toekoms stuit nie.  Hy staan op, stof af en gaan aan.

Ons toekoms, en wat ons vir die wêreld werd is, hang nie af van ons sukses of ons gevallenheid nie, nie eers van groot geloof nie, maar van hoe God oor ons dink en wat God ons gun en wil gee: sy hele koninkryk.

Moenie bang wees nie, klein kuddetjie.

Onthou wie julle is:  julle is God s’n.  Onthou wat God julle gee: sy koninkryk.

Weet julle dit, sal julle ophou bang wees.  Hoe groot God is gaan bepaal hoe julle leef, nie hoe klein die ou kuddetjie is nie.

Glo God. Glo dat wat Hy wil doen, Hy ook laat gebeur, en dat dit Hy dit vir jou ook in gedagte het.  En vir al die ander om jou ook.  Maar God begin by jou.  Dan, die dag as jy agterkom dat jy by God veilig is, dat wat jy werd is en jou waardigheid nooit by God betwyfel word nie, dis ook die dag dat jy besef God voel net so oor almal om jou ook.   Wortel jy jou in God se belofte dat Hy dit met jou net goed bedoel, begin jy dit ook sonder verwyt aan ander gun.   Jy kry goeie bedoelings met almal van ons.

Gee jouself aan ander in verhoudings en diens, en jy sal al beter besef hoekom God dink jy kan sy koninkryk reël.  Dis wat Hy doen, sien: Hy deel Homself met mense. Dis wat jy moet doen: deel alles wat jy het met ander.  Glo Hom as Hy sê jy het genoeg om te gee. Die voordeel wat dit vir jou inhou is dat jy uit jou graf uit opkom, terug na die lig toe.

Klim nou uit hierdie gat uit en gaan jou wêreld met nuwe moed tegemoet. God, en ons – ja ons, sy kerk, jou geloofsgemeenskap – staan bankvas agter jou.  Ons is jou borge en jou rugsteun.  Ons sal jou vang as jy val. Maar wat jy vandag moet gaan doen, is droom.  Gaan verbeel jou ʼn wêreld wat jou wel uitdaag, maar jou nie meer afskrik nie.  Omdat jy nou weet jy kan daar met liefde slaag.

God, en ons wat in Hom glo, ons reken saam op jou om die mense daar by jou raak te sien, om hulle nood agter te kom, en hulle te behandel soos God se eie.  God en ons moedig jou aan om in die mense daar om jou se lewes iets van die beloftes van God te laat waar word. Gaan nou na hulle toe, self gepantser met God se beloftes aan jou, en gaan gee vir hulle wat ookal hulle nood sal verlig.   Gaan doen julle koninkrykswerk.   Julle besef dalk nie hoe ʼn reuse verskil julle aan die wêreld maak nie.  Die Here weet die wêreld het God se gawes en die toewyding van God se mense nodig.

En julle sal self ook tuiskom.  Julle is vir die wêreld bang.  Julle sit self in ʼn gat en kan julleself maklik oortuig dis dalk veiliger daar. Ons dink wondelek en selfbejammering gaan ons gesond maak en dat mens weer regkom deur na jouself om te sien, vir jouself om te gee en goed te wees.  Dit werk andersom, sê God.  Ons word beter as ons ander mense moed gee.

Ons moet almal leer dat die wêreld se toekoms en ons s’n, een en dieselfde ding is.  En beide hang af van of ons uit daai gat gaan uitklim.

Leef jy al asof jy dit weet?

Nie? Begin dan droom.  Verbeel jou dat jy vir ander iets beteken.  Waag dit dan om te maak of dit waar is.  Glo dat jy kan.  Vergeet van jou eie wonde, trotseer die gevaar, loop die risiko.  Gaan woeker met die liefde.  God en ons reken op jou.

En hier’s vir droom ʼn mantra (dis n ding wat jy sing om jou aan jou droom te herinner):  Efesiërs 3  verse 16 tot 21:

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word,

dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.

Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.

Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink,

aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid.

Amen.

Dankgebed, Voorbedes (Staan)

Wegsending:

Slotsang (Staan)

Gesang 563 strofes 2, 3 en 4

Seën (Staan)

Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie. (Psalm 138: 8)

 

Respons (Staan)

Gesang 155 strofe 3

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel