Die Grondvatslag

Jesaja 11 verse 1 tot 5

I Korintiërs 12 verse 1 tot 11

9 Julie 2017, NHKA Kampersrus

Die Heilige Gees: Die Gawes

Die gawes wat die Heilige Gees gee, is nie wonders nie.  Hulle lyk meer na doodgewone menslike vermoëns.  Maar moenie dat dit jou flous nie: dis net soveel God se werk as enige wonder, en die kerk kan nie daarsonder nie.   

Daar is iets aan die gawes wat my in angssweet laat uitslaan.  Die Heilige Gees se gawes is hoe God grondvat.  Ek is lief vir vlieg, maar bang vir wanneer die wiele die teerblad tref.  Dis met die grondvatslag van God dat die gawes te make het.  En soms voel dit of die kerk soos ʼn Boeing wat land, hop en dwarstrek. Ek ys vir die einde van die reis.  Maar dis tog in aankoms dat jou reis sin kry. Dis juis vir die grondvatslag dat jy vlieg.


 

Continue reading “Die Grondvatslag”

Advertisements

Die hartsverlange, vervul

Vandag is Pinkster.  Dis die dag waarop die kerk onthou dat die Heilige Gees op mense uitgestort is.  Dis die dag waarop God die kerk begin. Dis oor die Heilige Gees dat ons hier is. Vra die Heidelbergse Kategismus (Vraag 53) “Wat glo jy van ‘die Heilige Gees’?” kom die antwoord: ons het hier met God te doen, einste Hy wat voor die skepping al leef. “Hy [is] saam met die Vader en die Seun ware en ewige God.  En hierdie ewige God trek weer die wêreld in, dié keer om vir  ewig by my [te kom] bly.  “Ek is by julle,” sê Jesus, “tot aan die voleinding van die wêreld.”

Genesis 1 verse 1 tot 5, 26 en 27

Genesis 2 verse 18 tot 23

Handelinge 2 vers 1 tot 4

15 Mei 2016, NHKA Kampersrus

Gemeenskap van gelowiges

Predikant

Sang (Sit)

Vandag is Pinkster.  Dis die dag waarop die kerk onthou dat die Heilige Gees op mense uitgestort is.  Dis die dag waarop God die kerk begin. Dis oor die Heilige Gees dat ons hier is. Ons eerste woorde in vandag se erediens is: “O Heilige Gees, aan U die eer.”

Gesang 432 vers 1  

Uit die Heidelbergse Kategismus

Vraag 53: Wat glo jy van “die Heilige Gees”?

Antwoord:   Eerstens is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God

Tweedens is Hy ook aan my gegee sodat Hy my deur ‘n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, my troos en ewig by my bly.

Afkondigings (Sit)

Voorbidding vir die gemeente van 09:00 af tot kwart voor 10, hier by die kerk. Enigiemand wat voorbidding vra, kan versoeke rig. Enigiemand wat wil kom saam bid, is baie welkom: jy hoef nie 9-uur al hier te wees nie, loer in net wanneer jy kan.

Woensdae om 10:00 kom n Bybellees-groepie hier bymekaar.  Ons lees van verlede week af die boek Jakobus.  Kom lees gerus saam.

Ook op Woensdae, so van 10:15 af, word hier by die kerk gekuier.  Ons noem dit Kamperskoffie.  Dis gratis maar jy kan bak en bring.  Ons het verlede week lekker gekuier.  As jy op Woensdag hier rond is, is Kamperskoffie die plek waar jy gaan inloer.

Iemand het die week kom vra of daar nie dalk een van ons is wat ʼn daaglikse saamrygeleentheid kan bied tot in Hoedspruit en terug nie.  Leahanli het werk gekry by Postnet in Hoedspruit.  Sy werk van 08:00 tot 05:00 op weeksdae.  Hulle het ʼn seuntjie ook wat langs die pad by die NG Kerk se kleuterskool afgelaai moet word.

Sang (Sit)

Gesang 438 is ʼn gebed gerig aan die Heilige Gees.  Daarin bid ons dat die Here die bediening in die gemeente – al die goed wat ons nou net afgekondig het – self sal bestuur.  En ons vra dat God ons gehoorsaam moet maak, sodat al die goed gedoen kan kom.

Gesang 438 verse 1 en 2

Voorbidding: Rou

  • Delia
  • Tannie Anna

Voorbidding: Siekte

  • Wim en Marga
  • Louis
  • Martin Bekker

Voorbidding: Sang (Sit)

Gesang 434 verse 1 en 3.  Dis byna ʼn té vrolike lied om te sing as ʼn gebed vir mense in rou en mense wat siek is.  Maar ons sing dit met hierdie beproefdes in gedagte, en ons hoop dit beur hulle op.  Kyk na die woorde: ons bely met die lied dis die Heilige Gees wat ons troos in ons diepste nood.

Voorbidding: Dank

  • Tannie Kleintjie
  • Johan en Elsabe
  • Jan en Corrie

Sang (Sit)

Ons is dankbaar vir die krag van die Heilige Gees wat in ons lidmate, en deur hulle dienswerk, in ons gemeente aan die werk is.  Gesang 439 verse 1 en 2.

Stilte (Sit)

Ek is bevrees dat in baie kerke Pinkster lawaaierig kan wees.  Ons Hervormdes doen dinge anders.  In die ou dae, toe ek ʼn kind was, onthou ek, het ons met die inkom in die kerk in, stil geword voor God.  Dis wat ons nou weer gaan doen.  Gebruik die stilte om te bid en jou voor te berei om die Here in die erediens te ontmoet.

Toetredelied (Staan)

Gesang 478 verse 1 en 4. Die kerk kom van God af.

Votum en Seëngroet (Staan)

God sê: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding. (2 Korintiërs 6 vers 2)

Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle almal wees! Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle almal wees! (2 Tessalonisense 3: 16 en 18)

Aanbidding en Lof

Predikant

Sang (Staan)

Ons loof die Here met Gesang 475 verse 1 en 2.  Werk in ons en deur ons, Here, dis wat die lied ons help bid. Werk in ons huise en in ons gemeente.

Skuldbelydenis en genadeverkondiging

Verkondiging

Predikant

Skriflesing

Genesis 1 verse 1 tot 5

1

In die begin het God die hemel en die aarde geskep.

2

Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

3

Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.

4

God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei.

5

God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag.

Genesis 1 vers 26 en 27

26

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

 

27

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

 

Genesis 2 vers 18 tot 23

18

Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

19

Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees.

20

Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ‘n helper, ‘n gelyke, gekry nie.

21

Toe het die Here God ‘n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ‘n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op,

22

en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ‘n vrou en bring haar na die mens toe.

23

Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.”

Handelinge 2 verse 1 tot 4

1

Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar.

2

Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het.

3

Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.

4

Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

Sang (Staan)

Gesang 433 verse 1,2,3,4.  Die boom dra vrugte by ʼn stroom en mense pluk ʼn nuwe droom. En: dring ons om ons aan God te wy.

Preek

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

God, die Gees, leef.  In onbewoonbare plekke, daar is God.  In plekke waar daar geen mense is nie, trouens waar niks kan oorleef nie, daar leef God. En God besluit Hy gaan ʼn plek skep waar mense kan bestaan.

Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. So begin God se bemoeienis met ons, en hier begin ons geskiedenis met God: by daardie eerste dagbreek.  Stap vir stap maak God menslike lewe moontlik deur eers ons omgewing vir ons voor te berei, nes mens jou babakamer verf en uitrus. En dis toe ʼn seun, Adam. En dit was goed, sommer baie goed, dink God.

God het Hom gate uit geniet met die skeppery. As jy ʼn voëlkyker is sal jy dit sien:  al daai kleure laat jou bek oophang.  Duikers vertel koraalriwwe en vis is nog mooier.  God maak vir Hom sommer ʼn hele klomp heeltemal nuttelose goed, soos die Leviatan, die seemonster, net oor Hy lus het, oor dit vir Hom lekker is, en vir sy mens om mee te speel.  Nes jy vir kinders dinosourusse koop om mee te speel, maak God vir sy mens krokodilletjies en kameelperde, ratels en reptiele, leeus en luiperds, daai leviatan, en glad miskruiers en muskiete (of “raakskiete”, soos my oupa hulle genoem het). Dis regtig lank voor mense nog die Krugerwildtuin uitgedink het om diere te sien, maar om te ry en diere kyk is  mos maar speel.

En toe, die mens.  Toe Hy alles klaar het, toe al die mens se speelgoed in ʼn ry regstaan, die boorde vol vrugte is, die tuin op sy mooiste, maak God ʼn mens.  ʼn Man-mens.  Een mens, volgens die tweede skeppingsverhaal, die skeppingstorie in Genesis 2. (Want in die eerste skeppingsverhaal in Genesis 1, skep God dadelik en tegelyk die man en die vrou, beide van hulle as sy verteenwoordiger, albei van hulle God se beeld, wat nes God kan heers.) Net een mens, sê Genesis 2, een mens alleen.

En gou sien God wat so op hierdie mens se behoeftes en hartsverlange ingestel is, daar’s moeilikheid.  Die man is eensaam. “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

En die kêrel was nie ʼn bietjie beïndruk met die nuwe skepsel nie. Wow!, sê hy toe hy haar sien.  “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Vrou.”  Hy het wel later effe vergeet van die “gelyke” ding, maar daar aan die begin was die twee sommer dolverlief.

Dog, snaaks genoeg, selfs saam, begin die twee mense iets mis.  Hulle wil beter word, beter selfs as wat hulle geskep is.  Hulle wil groei. Hulle wil hulle potensiaal ontwikkel. Hulle wil daarom meer weet, beter verstaan, beter doen.  Dis ook ʼn hartsverlange, ʼn smagting, ʼn verterende begeerte, ʼn rasende honger wat jy nie met al die appels in die paradys gaan kan stil nie.  Daar is ʼn knaende onvergenoegdheid, ʼn blywende ontevredenheid, met ons lot, met ons rol, met ons plek in die skepping en die samelewing.  Ons wil meer weet, beter doen, beter wees, meer hê. . .  As ons net kan wees soos God is, as ons net kan leef soos wat God leef, of ten minste dan soos wat God wil hê ons moes leef en wees.

Nou kyk, daar is op aarde niks fout met jouself te wil verbeter nie, en daar’s ook niks verkeerd met te wil wees soos God jou wil hê nie. Hierdie twee nuwe mense het ook nie ander  voorbeelde om na op te sien nie, maar hulle het dit ook nie nodig nie;  hulle het die beste voorbeeld in die wêreld om te wil navolg:  God self.  En God het self uit die staanspoor al gesê mense is “soos God”, of te wel “beeld van God”, niks minder nie as God se verteenwoordiger in die wêreld.  Dan is om te streef om meer soos God te word, tog prysenswaardig. Wat kan dan tog daarmee verkeerd wees om “soos God” te wil wees?

En daarom, toe die slang die dag kom sê, “Maar ouens, julle kan nes God wees.  Die ding is, julle moet net eers, soos God, alles kan ken. En dis presies wat hierdie droomdieet van gifappeltjies vir julle gaan doen.” Buiten dat ons hieruit aflei ons mense is van toeka af al geneig om te dink daar’s iewers ʼn doepa wat jou gaan laat beter voel oor jouself en jou gaan laat beter lyk vir ander, sien hulle twee in dat om van die boom se vrugte te eet na al God se gewaarsku tog eintlik goed is.  Met hierdie boom se vrugte gaan jy sonder moeite kom waar God jou wou hê – ek meen, nou moet ons so hard daaraan werk om by God se standaarde by te kom. . .  Nou kan ons met baie min inspanning, met die ideale quick fix, sommer oornag kom presies waar God ons tog mos eintlik wil hê:   vlak langs Hom, sommer hier by Hom en op sy vlak. ʼn Ware vennoot, ʼn maat – sommer ʼn boesempel, man! – en ʼn verteenwoordiger van formaat!

En daarbenewens, natuurlik, lyk die ou vruggies ook vreeslik lekker, man, weet jy, mooi en begeerlik, nie dat dit is waaroor dit nou gaan nie, nè, verstaan jy? Nooit gesien nie! Nee, dit gaan vir ons net om beter te word, so goed soos God te word.  Hel, hoe trots gaan God nie op ons wees nie. God gaan so baie van ons hou.

Die wêreld was daarna nog nooit weer dieselfde nie.  God is woedend hier weg, so voel dit.  Ons sien Hom nie, ons hoor Hom nie, ons voel Hom nie, ons ken Hom nie… Wel, dit voel of God weg is, of Hy ons alleen gelos het. Maar dis ons wat uit die Tuin moes uit.  Ons moes stert tussen die bene uit God se teenwoordigheid in die Tuin uit weg, om ons eie potjies te gaan krap, na ons wêreld toe, die wêreld soos ons dit uitgedink het, die ideale wêreld waar mense koning kraai, vol barensnood en bloeddors. Van toe af spartel ons om bo te bly in diep en donker water, ordelose oerwater byna soos voor die skepping, probeer ons ʼn bestaan maak in ʼn woes-en-leë wêreld. Ons is vir die eerste keer op ons eie in ʼn onherbergsame plek. Want ons vriendskap met God is daarmee heen.

Tot met Pinkster.

Wag nou eers ʼn bietjie, hoor ek jou dink, jy bedoel seker tot met Kersfees?  Toe God die Seun hier opgedaag het?

Nee, jy het reg gehoor: ek bedoel Pinkster, die dag toe dieselfde Gees van God wat van voor die skepping af al oor die diep en donker waters gesweef het, en nog altyd ʼn wakende oog oor die vervloekte, ordelose, aarde gehou het, sondige plek wat dit was, neergedaal het.  Om nes destyds met die oorspronklike skepping, weer in die wêreld te kom intrek.  Die Gees van God vat grond, letterlik, nes daai eerste keer toe God sy Gees in grond ingeblaas het sodat stof begin lewe kry het.  Vandag is die dag toe God Hom weer by ons kom tuismaak het. Die verskil is, ons is nie terug in God se skeppingstuin nie, God kom maak in ons wêreld tuin.  En hierdie is die dag toe God weer om ons kom sooie spit het.  Ek het mos gesê God woon op onleefbare plekke.  Hier waar sonde heers, kom steek God weer sy kleim af.  Vandag is die dag toe God met die skepping oorbegin het, die sonde klaar en vir eens en vir altyd op Jesus gestraf en uit die wêreld uit weggevat, begin die Gees van God ʼn nuwe wêreld aanmekaarsit.

Hoe God te werk gaan, is geen geheim nie. Dis eintlik heel eenvoudig: God maak reg wat stukkend is.  God se Gees wat nes voor die skepping ʼn wakende oog oor die wêreld bly hou het, kom in die wêreld in en maak die wêreld reg. En Hy begin by die plek waar die skepping skeefgeloop het: by die mens.

Dit werk presies simmetries.  Die skepping begin by die begin, en eindig met Jesus, veroordeel en vervloek aan ʼn kruis.  Die nuwe skepping begin met die God se Gees wat terugkom, inkom in ons in, en alles van voor af oor- en nuut maak, vir ons ook, ʼn tweede geboorte, so nuut word ons, so nuut is hierdie nuwe lewe nou.  Hierdie nuwe skepping sal ook eindig.  Dit sal gebeur nes die eerste skepping geëindig het: wanneer Jesus kom.  Wanneer Jesus Christus, God die Seun weer, vir die tweede keer, kom, kom Hy om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het. En die keer sal Hy ons anders hier aantref: klaar skoongewas van ons sonde, want dis waarvoor Hy laas hier was, en toe nuutgemaak, want dis waarvoor die Heilige Gees nou hier is.

Hierdie skepping lyk eenders maar is anders:  Hierdie keer het God uit sy tuin uit getrek en hier by ons ingetrek.  Hy’t hier in onbewoonbare aarde kom grond koop en tent opslaan. Hy het in mense ingekom en gekom om te bly.

Hy kom onder ons vel in.  Hy praat ons taal.  Hy adem dieselfde gees as waarvan ons leef. Hy sit in ons siel, Hy kuier in ons kop, Hy tel ons hare en elke hartklop. Hy is hier.  God is hier. Hy is redelik goed gekamoefleer: Hy lyk en klink soos ek en jy.  So ingegrawe is Hy in jou lewe dat jy vergewe sal word dat jy Hom miskyk.   Daai eerste Pinkster was merkwaardig:  vonke vuur wat soos weerlig spat,  stormwind en donderslag.  Maar deesdae is Hy stil, aandwind stil, nes daar in die eerste oerbegin.  Maar Hy’s hier.  Hy is daar.  Hy is orals.  God het teruggekom, permanent teruggekom.  Hy kom in die aandwindjie by ons aanklop, nes die leeus smiddae hier by Moholoholo brul, dalk nog om Hom te groet. Ons is in sy onmiddellike teenwoordigheid.

In die 1953-vertaling het in Johannes 14, 15 en 16 nog gestaan God sal vir ons ʼn “Trooster” stuur; van 1983 af staan daar “Voorspraak”, want “Trooster” is misleidend.  Die Heilige Gees is nie ʼn trosie om ons te help uithou tot God weer kom nie.  Ander vertalings gebruik die woord “Helper”.  Maar Hy is ook nie vlerkies waarmee ons moet watertrap tot God besluit dis tyd dat Jesus weer kom nie.

FopspeenDie Heilige Gees is nie ʼn fopspeen wat jy vir ʼn baba voer om hom te flous terwyl die ware jakob weg is nie.

Die Heilige Gees is nie ʼn verskoning vir God nie.  Die Heilige Gees is nie ʼn derderangse plaasvervanger vir God die Vader en God die Seun nie.  Die Heilige Gees is nie ʼn afgewaterde weergawe van God nie.  Hy is nie tweedeprys as Jesus dalk eersteprys was nie.  Die Gees van God wat oor die donker diep waters van die ongemaakte aarde gesweef het, is een en dieselfde God wat in die verborge plekke van jou hart en kop leef.

Moenie die Heilige Gees onderskat of ligtelik opvat nie.  Ons het hier met God self te doen. Einste Hy!

As Jesus in Lukas 24 vers 49 sê: “Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur,” lei ek daarvan drie goed af:

  1. Die Heilige Gees kom van die Vader af. Die Vader het nog altyd beplan dat die Heilige Gees Hom weer by ons gaan kom tuismaak.  God het so
  2. Al het die Vader die Heilige Gees aan ons belowe is dit Jesus wat se: Ek sal Hom vir julle stuur. Jesus stuur die Gees van God.  Jesus is self ook God.
  3. Die Heilige Gees is ʼn geskenk van God af. Hy is vir ons bedoel. As Hy soos voorheen die aarde kom skep, kom die Heilige Gees om ons oor te maak. Ons is waar als verkeerdgeloop het.  Ons is wat moet regkom. Van vandag af begin die Heilige Gees ons regmaak.  Dat God weer van ons kan se:  “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” En God het: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.”

Nou kyk, en hier sit die knoop, die Heilige Gees se terugkoms gaan gevolge hê vir jou en my.  Daar’s nie ʼn manier wat ons dieselfde gaan bly nie, behalwe as jy die Heilige Gees bedroef deur jou so tee te sit dat God jou los om te wees wat jy wil. Daaroor moet ons weer praat.

Maar vir vandag is dit belangrik:

God se Gees is nie ʼn spook nie, ʼn ontevrede hawelose gees wat nie tot ruste kom nie, eintlik maar die oorblyfsel van ʼn dooie, nie.

Jy kan dit van ons se: dat ons half-dooies is, dat ons smag na lewe, dat ons ʼn hartsverlange koester na beter te wees as hierdie sonde waaraan ons geken word. Dat ons verlang na God.

Nou ja, hoor dan vir Jesus in Matteus 28 vers 20 sê: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Hierdie Gees van God is Hy.  Hierdie Gees van God is die Gees van die Vader.  Hierdie Gees is God.  Hierdie Gees is nou hier.  Hy is hier by ons.  Hy is hier vir ons. Hier begin God ons vandag nuut skep.

Amen.

Ouderling

Geloofsbelydenis

Gemeente ons bely saam ons geloof in die God wat ons weer nuut laat droom, die Een wat ons drome laat waar word, die God wat ons hartsverlange kom vervul, en maak dat ons nooit hier op ons eie is nie.

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

Die wederopstanding van die vlees, en ‘n ewige lewe.

Die Wet / Wil van God

Glo jy in God, is gehoorsaamheid hoe jy dit wys. So lyk die gelowige lewe, sê Paulus in Romeine 12 van vers 9 af:

Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is.

Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld.

Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here.

Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.

Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.

Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.

Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.

Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie.

Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense.

As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.

“As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.”

Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Slotsang (Staan)

Ons sing Gesang 431 vers 1. God die Heilige Gees het gekom om ons diepste hartsverlange te vul.

Wegsending

Predikant

Seën

Die Here sal by jou wees.  Die genade sal by julle wees (2 Timoteus 4:21b en 22)

“En onthou,” sê Jesus, “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28 vers 20)

Respons

Amen.

Insameling van die dankoffers/orrelspel

Dis wat julle nou sien

Die Gees pak die gelowiges en die eerste gemeente kry lewe (Handelinge 2:1vv). Petrus preek die eerste geloofsbelydenis. Wat hier gebeur, sê hy, is presies wat die profete al gesê het: die Woord geld steeds.  Hierdie is daai laaste dae.  Die Gees is hiér.  Hy is vir álmal.  Hy laat ons besef Jesus van Nasaret het van God af gekom.  Julle het vir Jesus doodgemaak, maar God het Hom opgewek. Hy lééf, anders as Dawid.  Jesus is nou by God.  Hy is die Christus.  Hy regeer nou.  Weet dit: “God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Hoe nou gemaak?, wil die mense weet.  Glo dit!  En hulle het,  sommer drie duisend van hulle op die kerk se eerste dag.  Hulle is gedoop, hulle het hulle ingegrawe in wat die apostels van Jesus te vertel het, en ʼn hegte samehorigheid het hulle saam laat eet en bid.  Wonders gebeur en hulle is vervul met diep ontsag. Heelhartig, eensgesind: so was hulle ingesteldheid.  Die eerste gemeente kom tot stand – ʼn idille waarin mense uit hulle pad uit gaan om in mekaar se behoeftes te voorsien.

Dit vat nie lank voor die Joodse Raad verduidelikings eis nie, en tot die besef kom dat die beste wat hulle kan doen, is om ernstig te dreig en te hoop dit hou nie.  Die gemeente kry vrymoedigheid by.

Weer kom hulle verbondenheid aan mekaar ter sprake:  hulle was een van hart en siel, met kragdadige getuienis dat Jesus opgestaan het tot gevolg.  “Die genade van God was groot oor hulle almal.” Dit loop uit op onderlinge sorg sodat niemand gebrek ly nie.  Tot selfs eiendom is verkoop en die opbrengs gedeel.

ʼn Paradys, byna, die tweede skepping.

Dit het toe nie gehou nie.  Nes Adam en Eva destyds honger raak, of lus, of ambisieus (hulle wil soos God wees!) word Ananias en Saffira gulsig, eersugtig (hulle wil uitstaan onder die eensgesindes).  Hulle verkoop hulle eiendom en gee voor die offergawe is die hele som wat hulle in die transaksie gekry het.

Dit was nie nodig nie.   Petrus sê tereg die grond was hulle s’n om mee te maak nes hulle wou.  Hoekom daaroor lieg? “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” Nie een van die twee sien die son sak nie.  Adam en Eva moes net ander blyplek soek, maar vir dié twee moet die kerk inderhaas begrafnisformuliere skryf.

So verskriklik gou na die koms van die kerk, kraak die mooi fassade.  Ananias en Saffira word  die kerk se eerste skynheiliges.  Jy weet sommer dadelik: ons is nog nie daar waar ons gehoop het die kerk ons bring nie. Destyds is God se sensuur ten minste onmiddellik, en die gemeente raak “gesuiwer”.  Maar die gelieg vir die Gees sou gou epidemiese afmetings aanneem, en dát die kerk – en ons in die kerk – dit oorleef, is ʼn wonder.

skynheiligheidTe veel van ons loop en wonde lek wat die kerk ons toegedien het om nog te bly glo die kerk het altyd reg en almal in die kerk is goed.  Jy kan stry dit was nooit die bedoeling nie, maar dit was eens die verwagting.  Dit raak moeiliker om die instituut te vereenselwig met die “een, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges”, as bekering en vergewing vergeet word.  Dis goed om te onthou dat die kerk nie bestaan danksy die bydraes wat ons maak of die gehalte van ons offers nie.  Beslis ook nie weens ons egtheid en mededeelsaamheid nie. Nie eers lekker saamwees help meer nie.  Die lewende Christus is al wat die kerk het.

“Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort.  Dit is wat julle nou sien en hoor.” (Handelinge 2:33)  Of nie…