Die Grondvatslag

Jesaja 11 verse 1 tot 5

I Korintiërs 12 verse 1 tot 11

9 Julie 2017, NHKA Kampersrus

Die Heilige Gees: Die Gawes

Die gawes wat die Heilige Gees gee, is nie wonders nie.  Hulle lyk meer na doodgewone menslike vermoëns.  Maar moenie dat dit jou flous nie: dis net soveel God se werk as enige wonder, en die kerk kan nie daarsonder nie.   

Daar is iets aan die gawes wat my in angssweet laat uitslaan.  Die Heilige Gees se gawes is hoe God grondvat.  Ek is lief vir vlieg, maar bang vir wanneer die wiele die teerblad tref.  Dis met die grondvatslag van God dat die gawes te make het.  En soms voel dit of die kerk soos ʼn Boeing wat land, hop en dwarstrek. Ek ys vir die einde van die reis.  Maar dis tog in aankoms dat jou reis sin kry. Dis juis vir die grondvatslag dat jy vlieg.


 

Continue reading “Die Grondvatslag”

Advertisements

Sondag

Die dag breek koud.  Dis Sondag, dog bewolk.  Winter.

Die vuur brand van vroeg af al ʼn guitige geel in die kaggel, koffiebekers kry die hande warm, wolkouse die voete. Hier sit ons twee, kniekombersies om die bene, vir mekaar en kyk.  Ons is vroeër as gewoonlik uit die vere, want van slaap het daar nie veel gekom nie, en teen ligdag is die bed dan nie meer snoesig nie.

Twee maal al sedert opstaan, het ons die huis deurgesoek: eers vir ʼn boek wat nóú nog soek is, toe vir ʼn flentertjie papier wat eindelik sy opwagting in die asblik gemaak het.  Vrou gaan nou kla ek moet kom help soek na die verlore bril: die laaie begin klap…

Die koppies raas.  Die duiwel is los.

Hoe maak mens sin van goed wat nie met bekende paadjies langs loop nie?

Tuimeltrein 2Ons ry skoppelmaai tot naarwordens toe, toer kortstondig op kielierige hoogtes en stort skielik oor die afgronde van ʼn tuimeltreinspoor.  Wat eers opwindend was, wek later weersin.

Die lewe werk nie soos jy hom uitdink nie, leer ek van nuuts af.  Self sou ek graag sy verloop wou beplan en bestuur.  Ek sou weet wat om te wagte te wees, oor ek self vir uitkomste sou beplan.  Ek sou kon verduidelik hoekom ek juis só maak en nie anders nie. Dog, oor dit dan net ek sou wees wat saakmaak, waarom sou ek?

Maar te oordeel aan vanoggend, is om dinge vir myself weg te steek, al wat ek regtig goed doen.  Nie eers ek verstaan dit nie.  Op my eie is ek onbeholpe.

Wat ek ook weer van die lewe leer, is dat, selfs in myne, ek nie alleen is nie. Ander het seggenskap:   God, geliefdes, gemeenskap.  Reg is voorreg.  Lewe is samelewing.  Ek is verantwoordelik, rekenskap verskuldig, afhanklik van instemming en goedkeuring.

Dis nie wat die selfhelp-ghoeroes preek nie, maar van wanneer af bely ons dissipelskap in dié kwakke? (‘Skuus, die vragie is effens naïef.)  Húlle het dit oor selfontplooiing, verwesenliking van die eie, oor hoe om gestalte te gee aan ʼn lewe wat met nadruk jóúne is, sonder die belemmering van plig en bedagsaamheid.

Dis bedrog.  So ʼn lewe bestaan nie.

Dog, die gewaarwording kom nie as ʼn teleurstelling nie, maar as uitdaging.

Die oomblik as jy jou neus by jou serp uitsteek en koers kies kerk toe, betree jy ander mense se lewens. Daar tas jy met toestemming rond in die heilige ruimtes van ander se binnestes, hulle belange en behoeftes.  En om dáár te kan voorsien, is die suiwerste vreugde.

Ironies genoeg, is wat vreugde gee, nie altyd ewe lekker nie.

Die aanmekaarsit van ʼn eie sinvolle lewe het te make met medemenslikheid.  My lewe is die resultaat van  ʼn onderhandelde ooreenkoms.  Ek is kwesbaar.

Hier sit ons op ʼn Sondagmôre en wonder oor wat die week alles inhou.  Ons huiwer ietwat vir die uittog erediens toe, want daar wag ʼn gemeente wat wil weet wat van ons gaan word, en ons weet nie wat om te sê nie.  Dan onthou ons: hulle gee regtig om. Dit salf.  Selfs al sou die prediking vandag mis, net om daar by hulle te wees, seën.

Dis warmer hier as wat jy van winter sou verwag.  Sondag.  Rusdag.