Die lewe in klip, water uit rots

Jan verafsku die goed: tempels vir geld, bakens van mag, monumente vir vervloekte kapitalisme.  (Europeers was nog nooit oortuigde napraters van die ideologie nie, nou – na 2008 – minder as ooit.)  Torings van Babel, dus: wolkekrabbers.  Jan verlang na ou Europa se dorpies met kerktorings en –koepels.  Jan wou he dat 2008 se ineenstorting van die markte moes lei tot die sloping van hierdie simbole van uitbuiting, oordaad en aanbidding van rykdom.  Die gode van geld wil hoog genoeg die hemel in dat hulle kan neersien op hulle koninkryke en knegte. Ons, arme drommels hier benede, moet opkyk en hulle aanbid vir daaglikse brood. Ja-baas, nee-baas, onse heer en meesters wat op die 89ste vloer sit.

Jan bly in Hamburg. Londen is nie anders nie.  Links by my voordeur uit staan, aan die einde van die straat (so voel dit!), `n gebou wat tot verlede jaar toe nog die hoogste in die Europese Unie was.  “Canary Wharf” (sy noemnaam; “Canada Square” is sy “doopnaam”) se piramidepunt heers oor die skiereiland soos Tafelberg oor Kaapstad.  Hy’s nou die dag eers verbygesteek deur die “(glas-) Skerf” (“The Shard”), `n regte piramide, op die Thames se suidoewer vlak langs London Bridge.  `n Gebou van glas met onreelmatige punte, lyk die “Shard” na die bose Toring van Mordor in “Lord of the Rings.”

Tog het Londen nie baie wolkekrabbers nie.  Tot onlangs toe nog het nie eers die City `n indrukwekkende skyline gehad nie.  `n Enkele vierkante myl met `n ekonomie groter as die ganse Afrika s’n, sy geboue was nog altyd sobere konstruksies.  Toe die bankiers in 2008 `n plek soek om van af te spring, was die City te na aan die grond.

Maar dis aan’t verander.  Daar is tans `n hele handvol nuwe geboue wat openlik kompeteer om die stad se kruin (die “Shard” tel nie; hy’s nie in die City nie). Die “Piekel” (Ampie het hom so gedoop – hier noem hulle hom die “Gherkin”, want dis hoe hy lyk) is onlangs die loef afgesteek deur die “Heron Tower”. Die Rasper (“Cheese Grater”, want ja, dis ook hoe hy lyk!) en die “Walkie Talkie” (die ding lyk soos `n koordlose foon)  het hom ook nou verbygesteek.  Die “Pinnacle”, `n spiraal wat hulle almal sou troef, het in sy fondamente gesterf, die gat in die grond tekenend van bankrotskap se skande. Jan sou daai gat tot heilige grond wou verklaar.

Ek moet bely: ek hou van argitektuur. Ek kan my verkyk aan Londen se verbeeldingryke bouwerk. Baie daarvan moet jy loop en soek, straat vir straat, en in klein verborge stegies.  Dan ontdek jy nie net geboue nie, maar beeldhouwerk en egte kuns.  Geboue se ontwerp is hier openbare debat.  Dit kan ook nie anders nie, want geboue (trouens die hele stad) word beplan met mense in gedagte.

Vrou vra water vir haar kind
Vrou vra water vir haar kind

Ek loop nou die dag `n gebou raak wat ongesiens in `n klein agterstraatjie verrys het – `n donker voetpad vir pendelaars (St Swithin’s Lane). Agter glas, met niks en niemand anders in die oog nie as verbygangers op pad werk toe en terug, hang `n reuse (amper `n verdieping hoog) antieke (ek vermoed Belgiese) tapisserie, sag belig, met `n podium waar jy kan stilstaan om dit te bewonder.  Dis `n asemrowende werk: Moses wat die rots met sy staf slaan en die volk wat kom water haal vir mens en dier.  Ek is `n halfuur lank daar vasgenael.  Hier is oor ontwerp, oor mense – en dalk ook oor God? – gedink. En daar’s baie geld aan gespandeer!

Hier is in Londen `n wet wat hoë geboue binne `n radius rondom die Paulus-katedraal verbied.  En nog een wat nuwe geboue daarvan weerhou om jou uitsig op “St Paul’s” te belemmer.  Die Paulus-koepel, lankal in hoogte oorskadu, behou sy  plek. Die gerug dat die Here leef, het ek iemand eendag sien skryf, dis ons roeping. Londen fluister dit nog.