Koalisies

Vanmôre wakker geword met pyne in die kneukels.  Die vingers kromgetrek.  Die een been is nou al geruime tyd gevoelig nes ek gaan lê (lees: die aansienlike liggaamsgewig van hom afhaal). ‘n Senuwee knyp iewers, sodat ek voorsien ek nog gaan leer staande slaap. Ek kan nog staan, sien.

Ek ís wakker.

Pa sê dis hoe jy weet jy leef: as jy wakker word en seerhet.

Ek leef.

Hulle sien ek agteruitgaan.

Grys.

Die sierlike skrif s ‘n gekrabbel.

Gesprekke is tipies Afrika: die gehoor is doer in die buurstat.

Al vroeër slaap, al vroeër op, net om weer te gaan lê; hulle hou nie meer heeldag nie.

Die stap ‘n skuifeling.  Stadig.  Stadiger. Onvas en versigtig vir val. Eers die kierie, nou die loopraam!

En selfs dit gebruik die asem op.

Die oë sien nie meer die stof op die vloer, die kolle op die kombuiskas en die vlekke aan die klere nie.

Al hoe maerder soos eetlus kwyn (of is dit die begroting wat knel?)

Klagtes oor skete en kwakke, en die prys van pille en kos.

Dankbaarheid oor die bure se onwettige kat (hulle bly in een van daai kostelike aftreeoorde waar troeteldiere oumense glo irriteer!) wat elke dag kom kuier vir haar pierinkie melk. (Sy het drie kleintjies gehad, onlangs!)

Net die kommer kom niks oor nie:  Hulle bly bekommerd oor my. Dít bly vars.  Onnodiglik, dog onverbiddelik.

Die koppe nog net so hard, dog die vurigheid vreemd omgeruil: dis skynbaar nou ma se beurt.

Die aarde suig hulle af, al krommer, al hoe meer respekvol jeens die naderende stof.  Uitgesuig, met net kreukels en plooie en leë sakke waar eens volronde spiere en spoggerige vlees was.

Hart, water, bloeddruk en -omloop. Longe wat gou bronchitis kry, tone wat nie bloed kry nie.

As dit reën, kom die trui.

So loop die tyd sy pad.  Ook met my.  Maar as ons, ek en my skete, demokraties moes stem, is ek nog in die kussings.

Hulle begin koalisies sluit.   Met die grond, en met die tyd.

Ek kyk.  Ek volg die onderhandeling.

 

 

Advertisements