Lewende brood (en wyn) raak nie op nie: kraaie by Krit, ‘n weduwee in Sarfat.

Nagmaal sonder brood of wyn.

Kraaikos en ‘n leë koskas. ‘n Laaste ete vir ‘n weduwee en haar verhongerde kind.  Hier sit ons, op Nagmaalsondag, sonder brood en wyn ons en verknies oor die droogte wat opdoem.  Dis nou dat jy moet weet daar is brood in jou koskas, en as joune opraak is daar brood in myne.  God gaan jou nie laat honger ly nie.  Van die liggaam en bloed van Jesus Christus is daar oorgenoeg om ons almal te voed.  Ons is deur die dood van die Seun gered.  Soveel te meer sal ons deur die lewe van die Seun gered word.

Dis nou die tyd om te bly glo God is genoeg, al kry jy kos by kraaie. En al bevind jy jou in Baälsland, God is ook dáár Baas.  Wees of weduwee, God vergeet jou nie.  Al word Israel daaroor smoorkwaad,  vir ons hier in Sarfat is daar ook genade, en dit raak ook nie op nie.  Daar is elke môre weer genoeg vir nog ‘n brood. Om die waarheid te sê, ons hoofde druip olie, en ons bekers loop oor van goeie wyn.

Ons gaan moet wag om weer van sy tafel af te eet, maar daar waar jy vandag is, sal jy ook nie honger ly of van dors beswyk nie.

 

Lukas 4 : 25, 26 en 28

I Konings 17 : 1 tot 24

17 Mei 2020, NHKA Kampersrus

Opstanding.


EREDIENSREËLINGS IN DIE NOODTOESTAND

Na die president se aankondiging dat kerke steeds nie, na die einde van die huidige afgrendeling, in eredienste sal mag bymekaarkom nie, gaan die huidige reëling voort:  Ons eredienste op Sondae word met Whatsapp versend.

  • Die teks van die preek word vooraf al op die webwerf “Hervormend” geplaas.
  • Ons gee per Whatsapp eers kennis van die Skriflesing.
  • Die woorde van Psalm 146, die ou weergawe daarvan, word dan gestuur.
  • ‘n Klankopname van Psalm 146 se begeleiding word daarna aangestuur.
  • Laastens stuur ons ‘n klankopname van die preek.

Lied

Psalm 146 (Die ou Totius-weergawe daarvan)

Dis die HEER wat help.

3

Salig hy wat in die lewe,

sonder hulp en sonder raad,

as hom alles wil begewe,

vlug tot God, sy toeverlaat;

en ook in die swartste nag

op die HEER alleen bly wag.

 

5

Dis die HEER wat aan die arme

in sy druk laat reg geskied,

wat uit liefde en erbarming

hongeriges voedsel bied;

wat gevang’nes vryheid skenk

en hul in hul smart gedenk.

 

7

Dis die HEER wat vreemdelinge

sy beskerming bied, en trou

weduwees in twisgedinge,

met hul wese, staande hou.

Maar sy arm, hul steun en hoop,

stuit die bose in sy loop.

Skriflesing

Lukas 4 : 25, 26 en 28

Lukas vertel hier van Jesus se heel eerste preek, sy intreerede as’t ware, waarmee sy bediening begin.  Aanvanklik is die gemeente / sinagoge baie in hulle noppies met sy “mooi” preek.  Maar dan haal Hy ‘n erge verleentheid op, ‘n skandvlek op die geskiedenis van God se volk.  Hy hoef net sydelings te verwys na die weduwee in Sarfat, ‘n heidenvrou in Baälwêreld, want almal ken die storie.  So byna-byna kos dit Jesus sy lewe, nog voor Hy behoorlik met sy bediening begin het.    

Lukas 4

25      

Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar ‘n groot hongersnood in die hele land gekom het.

26      

Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na ‘n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon.

28      

Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor.

I Konings 17

Hier is die storie van die gevaarlike vrou.

1        

Elia die Tisbiet was ‘n bywoner uit Gilead. Hy het vir Agab gesê: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.”

2        

Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê:

3        

“Gaan hiervandaan af ooswaarts en gaan versteek jou in Kritspruit, anderkant die Jordaan.

4        

Jy kan water uit die spruit drink, en Ek het die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.”

5        

Hy het gedoen soos die Here aan hom opgedra het. Hy het daar in Kritspruit gaan bly, anderkant die Jordaan.

6        

Die kraaie het vir hom soggens brood en vleis gebring en hulle het vir hom saans brood en vleis gebring, en hy het water uit die spruit gedrink.

7        

Uiteindelik het die spruit opgedroog omdat die land nie reën gekry het nie.

8        

Toe het die woord van die Here weer tot Elia gekom en gesê:

9        

“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.”

10      

Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ‘n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ‘n bekertjie water om te drink.”

11      

Terwyl sy dit gaan haal, roep hy agter haar aan: “Bring vir my asseblief ‘n stukkie brood saam.”

12      

Toe sê sy: “So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ‘n handvol meel in die kruik en ‘n bietjie olie in die erdekan. Ek maak nou maar ‘n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan.”

13      

Elia sê toe vir haar: “Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ‘n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg.

14      

So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.”

15      

Sy gaan maak toe soos Elia gevra het. Van toe af het hulle genoeg gehad om te eet, hy en sy en haar gesin.

16      

Die meel in die kruik het nie opgeraak nie, en die olie in die kan het nie minder geword nie, soos die Here deur Elia beloof het.

17      

In dié tyd het die vrou, die eienares van die huis, se seuntjie siek geword. Hy het al hoe sieker geword totdat hy die laaste asem uitgeblaas het.

18      

Toe sê sy vir Elia: “Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?”

19      

Hy sê vir haar: “Gee jou kind hier,” en hy tel hom van haar skoot af op. Toe dra hy hom na die bokamer toe waar hy tuis gegaan het en lê hom op die bed neer

20      

en bid tot die Here: “Here my God, wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, ‘n ramp bring deur haar kind te laat sterf?”

21      

Toe gaan lê hy drie maal bo-oor die kind en smeek die Here: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”

22      

Die Here het Elia se gebed verhoor: die lewe het teruggekom, die kind het gelewe.

23      

Toe bring Elia die kind van die bokamer af ondertoe en gee hom vir sy ma en sê: “Kyk! Jou seuntjie leef!”

24      

Die vrou sê toe vir Elia: “Nou weet ek dat u ‘n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”


 

Preek

Lukas vertel van Jesus se heel eerste preek, sy intreerede as’t ware, waarmee Hy sy bediening begin.  Aanvanklik is die gemeente baie in hulle noppies met sy “mooi” preek.  Maar dan grawe Hy ou koeie uit die sloot:   Hy verwys na die weduwee van Sarfat. So byna-byna kos dit daardie dag al Jesus sy lewe, nog voor Hy behoorlik met sy bediening begin het.

Agab was destyds koning, en ‘n lieplapper wat met Baäl heul.  Dié afgodjie was in die droë Midde-Ooste nogal ‘n yster: Hy het glo beheer gehad oor die reën, en vrugbaarheid oor die algemeen.  So trou Agab toe mos nou met Isebel, ‘n dogter van Etbaäl van die Sidoniërs, en sý wy haar daaraan om die JHWH-geloof uit te roei.

Al wat ‘n profeet is, moet vlug vir sy lewe, onder andere ook Elia. Sy naam beteken “JHWH is my God”.  Elia het gepreek dat God vir jare lank gaan keer dat dit in Israel dou of reën; God gaan die vrugbaarheid uit die Baälse vrugbaarheidsgodsdiens wegvat.  Wat dán van Baäl gaan oorbly, is die yster waarvan hy aanmekaargesit is: skroot.

Agab en Isebel versprei die fopnuus dat die droogte Elia se skuld is, want hý het mos die vloek oor hulle uitgespreek. Dat dit eintlik  JHWH is wat die reën weghou, kom nie eens by hulle op nie; Baäl is mos baas.  Met die droogte is die ganse ekonomie ook daarmee heen, en ‘n watertekort is erger as wanneer jou dop opraak; jy gaan dóód van dors. Desperate mense is gevaarlik.  Daarom sonder God Elia van alle mense af, op ‘n verafgeleë onherbergsame plek.

Dáár moet die profeet op God reken, om te oorleef.  Die Krit is ‘n diep sloot wat in die Jordaan inloop, gewoonlik ‘n droë loop.  Fiemies is ‘n luukse. Kraaie kom by die Krit drink, met vleis en brood in hulle bekke.  Elia vat hulle kos af. Vra liefs nie waar dié brood en vleis vandaankom nie:  Waar aas kraaie orals? En kraaie self is ook nie kosjer nie.  Gód stuur vir Elia dié kos.  Elia gril nie. Dis van voor af weer kwartels en manna.

Maar dié reëling hou ook nie:  As die Krit se water ook opdroog, bly die kraaie ook weg, en Elia moet noodgedwonge ook uit sy skuilplek uit.

Dis hier dat JHWH eienaardig raak:  Elia moet Sarfat toe gaan, sê God.  Sarfat is doer noord, in Libanon, dié plek van Baälaanbidding.  Isebel kom daarvandaan, en haar pa is nou nog koning daar.  God stuur Elia die leeu se bek in.  God verklaar oorlog teen Baäl.

Dáár, in Baälwêreld, sê God, sal ‘n weduwee vir Elia sorg.  God het met haar gereël.  Nou kyk, ‘n weduwee is skaars beter as kraaie in staat om ‘n honger man te voer.  In Sarfat aangekom, kom Elia wel daar ‘n weduwee teë, maar dié vrou weet daar net mooi niks van dat sy dié man moes kosgee nie.  Inteendeel, sy eet vanaand haar heel laaste maaltyd, sy en haar seuntjie.  Met die bietjie meel en olie wat sy oorhet, gaan sy brood bak, hulle twee se laaste aandete voor hulle van die honger omkom.

Elia vra net ‘n bekertjie water, maar in hierdie droogte is net ‘n bietjie water al kosbare goed, meer werd as De Toren se Swart Leeu Shiraz uit Stellenbosch wat jou vandag R4,392 ‘n bottel uit die sak sal jaag.  Elia roep agterna sy moet sommer vir hom brood ook bring.  En as jy gedink het die water is duur, die brood gaan lewens kos, hare en haar seun s’n.

Elia maak ‘n verregaande stelling:  die meel en olie sal in haar erdekan meer word, nie minder nie, mits sy dit vir hóm gee.

Sê nou vir een van ons wat geen inkomste meer gaan hê nie, die kos in die kas gaan nie opraak nie, en ons gaan vir jou vloek.  Ons vermoed nou al allerhande versteekte agendas en bose planne om ons uit te roei; ons woede gaan ons nie meer lank binne hou nie.

Ag, die vrou is tussen die duiwel en die diep blou see:  Ordentlik of dood? Gasvry of graf toe?  Sy moet kies.  En nie net haar eie lewe hang daarvan af nie, haar seuntjie s’n ook.  Kies die lewe!, het Deuteronomium ons nou die dag nog geleer.  Doen goed, doen God.  Nee, sê die weduwee, sy het net genoeg vir haar en haar seun.  Elia dring egter op voorkeur aan.  Gasvryheid bepaal dit ook.  Dis nie billik nie.  Maar sy kom tot die gevolgtrekking dat om te dink sy kan kies tussen lewe en dood, is selfbedrog.  Die dood is ‘n gegewe, dis net ‘n kwessie van tyd.  Sy kies om dan maar dood te gaan van ordentlikheid.  En sy dobbel ook met die belofte van ‘n uitlander wat sy lyf profeet van ‘n vreemde god kom hou en haar kwansuis die son en die maan en die sterre belowe.  Sy gaan bak die brood en voer die man by die stadspoort haar laaste krummels.

Etlike dae lank eet sy, haar seuntjie en die profeet die laaste bietjie meel en olie op.  Môre is daar wéér genoeg vir nóg één brood, nie twee nie, nes met die kwartels en die manna.  Hierdie man se God doen skeppingswonders in haar koskas.

Maar wanvoeding is ook dodelik. Haar seuntjie sterf tog.  Die arme, arme vrou.  Die uitkoms kom te laat. Die gebroke vrou is bitter:

18      

“Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?”

Sy redeneer God het saam met Elia hier by haar huis aangekom.  Ja, daar gebeur elke dag iets wonderliks in haar koskas, maar elke dag as sy die bodem skraap, wonder sy of daar regtig môre nóg kán wees?  Dis tog laf om daarop te reken? Ja, God sit in haar koskas, maar dit beteken ook God is nou so naby dat God haar behoorlik kan deurkyk, haar sonde kan sien en straf uit te meet.  En kyk nou: Haar kind het in die slag gebly, toe nou nie van honger nie, maar van háár sonde.

Elia is ook ontsteld:  Hy voel hý het dit oor haar gebring, nes hy al aanspreeklik voel vir die droogte.

Daar was baie weduwees in Israel.  Maar dis vir hierdie heidenvrou in Sarfat dat God deur die droogte help. Dis al wat Jesus hoef te sê, en die hele sinagoge gryp Hom met moord voor oë.  In hulle waansinnige woede, verloor hulle Hom en kom Hy weg.  Hierdie keer kom Jesus weg.

Sy ma, Maria, was geen weduwee nie, maar tog ‘n ma sonder ‘n man. Op ‘n dag, by ‘n troue, raak die wyn op, nes ons s’n nou.  Ons kan nie eens nagmaal vier nie.  Sy kom roep Hom:  Jesus moet iets doen.  Voor die aand uit is, is die waterkanne vol uitvoergehalte KWV.  Die beste wyn, en dit raak nie op nie, dit loop oor.

Met die Pasga die aand, breek Jesus brood en deel dit aan sy dissipels uit, sy laaste maaltyd, ons eerste nagmaal.  Die brood is Ek, sê Hy, Ek is die brood wat lewe gee, lewe wat nooit opraak nie.  Die wyn is my bloed. Dis lewegewende  water hierdie.  Kry vir julle almal.  Julle gaan nooit weer honger of dors kry nie, want julle het nou oorgenoeg en in oorvloed.  Vir elke dag, vir altyd, tot in ewigheid.  Elke keer as julle eet en drink, onthou: Ek is hier.  Hulle almal eet en drink.

Die volgende dag staan sy ma verwese en toekyk hoe Hy vermoor word.  Sy is nóú ‘n weduwee.  Haar seun is ook op sy laaste.  Iemand skryf: Dis die tragiek van Maria, van álle vroue.  Toe God die dag aan Maria se deur kom klop en vra of sy die Verlosser sal dra, dáárdie dag al het sy besef die wêreld sou Hom verslind.  Hoe dan anders?  Dis hoe mense is.  Nogtans het sy ingestem.  Reggeaarde vroue het hulle kinders liewer as hulle eie lewe.  Al weet sy vooruit al wat haar kind gaan tref, skenk sy aan hom lewe.  Sy hoop.  Sy glo sy wat aan hom die lewe skenk, ook sy lewe sal kan bewaar.

Dís geloof: Om te bly glo God weet wat God doen en God bedoel goed.  God daag op en God beskerm ons en ons kinders teen die wêreld se sonde.  Geloof verg leeuemoed.

Nes Maria by Hanna leer sing, kan sy by Sarfat se weduwee leer verwyt:

“Kyk wat het u my aangedoen, man van God! Het u na my toe gekom om my sonde aan die lig te bring en my seuntjie daarom te laat doodgaan?”

Jóú sonde, Maria?  Nee, nie net joune nie, ons álmal s’n.  Dis oor óns dat Hy daar hang.  Ons gooi God van kranse af, al moet ons jare lank ons kans afwag en ons metodes liggies aanpas.  Nie eens God die Seun skrik ons af nie.  Nee, kom, Baäl en jou vrugbaarheid, ons is nou rasend honger en ‘n mondjievol brood en wyn gaan ons nie aan die lewe hou nie.  Kom Baäl, kom maak ons en alles hier nou vrugbaarder as ooit, want ons moes ook al dankdag vir die oes gehou het, maar ons oeste het vanjaar op nuwe maniere misluk.

Vir sy ma gee Jesus voor sy eie dood ‘n seun: Johannes, die dissipel wat Hy liefhet.  Sorg vir haar, sê Hy.  Dis nie dieselfde nie, maar Hy gee om, en dis wat tel.  En dan tref die droogte vir Jesus ook.

Johannes 19 

28      

Jesus [het], met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

Die Lewende Water is dors.

Hy sterf.

Elia het haar dooie seuntjie by die weduwee gevat, hom kamer toe gedra en die lyk op sy bed uitgelê. Drie keer buig Elia oor die liggaam.  “Here my God,” bid hy toe, “wil U nou oor hierdie weduwee by wie ek bly, ‘n ramp bring deur haar kind te laat sterf?”  En hy smeek: “Here my God, laat die lewe tog terugkom in die kind.”  En die lewe het teruggekom.  Elia het hom vir sy ma gaan teruggee.  Dit maak nie saak dat sy ‘n heiden is nie.  Dit maak toe ook geen verskil dat haar sonde aan die lig gekom het nie.

Die vrou sê toe vir Elia: “Nou weet ek dat u ‘n man van God is, en dat wat die Here deur u sê, die waarheid is.”

Drie dae later leef Jesus ook weer.  “My Here en my God!” sou Thomas Hom noem.  Die Weg en die Waarheid, sê Johannes van Hom, die opgestane en lewende Christus, die Here.  Wie Hom sien, sien die Vader, JHWH die God van Israel, die enigste Here.

Ek hoop Maria, sy ma, kon Hom weer lewend sien.

Hier sit ons, op Nagmaalsondag, sonder brood en wyn ons en verknies oor die droogte wat opdoem.  Dis nou dat jy moet weet daar is brood in jou koskas, en as joune opraak is daar brood in myne.  God gaan jou nie laat honger ly nie.  Van die liggaam en bloed van Jesus Christus is daar oorgenoeg om ons almal te voed.  Ons is deur die dood van die Seun gered.  Soveel te meer sal ons deur die lewe van die Seun gered word.

Dis nou die tyd om te bly glo God is genoeg, al kry jy kos by kraaie. En al bevind jy jou in Baälsland, God is ook dáár Baas.  Wees of weduwee, God vergeet jou nie.  Al word Israel daaroor smoorkwaad,  vir ons hier in Sarfat is daar ook genade, en dit raak ook nie op nie.  Daar is elke môre weer genoeg vir nog ‘n brood. Om die waarheid te sê, ons hoofde druip olie, en ons bekers loop oor van goeie wyn.

Ons gaan moet wag om weer van sy tafel af te eet, maar daar waar jy vandag is, sal jy ook nie honger ly of van dors beswyk nie.

Amen.

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.