Wie (be-)rus (nog) by die kerk(?)

Die virus onthul toe ook ander, dog nie net núwe “siektes” nie.

Praktiese Teologie professor Koos de Wet het eendag tydens n rookpouse buite Lettere II die wysheid kwytgeraak toe ons ewe vroom neusoptrek vir die evolusie van “Die Huisgenoot”, die geskinder van “Rapport” se agterblad en Marita van der Vyver se stoute Grietsprokie. “Lees wat jou lidmate lees,” sê hy dié dag. Ek vermoed dat hy bedoel het dis ‘n ompad, maar tog een van destyds se bestes, om uit te kom by wat jou lidmate dink.

Prof Koos was reg.

Daar is deesdae ‘n veel makliker manier om uit te vind hoe die wind deur die gemeente waai: Jy lees wat jou lidmate skryf. Op facebook, op Whatsapp en op watter ander sosialemediaplatform hulle ookal mond uitspoel.

Dat Corona ons ontstel en bekommer, is dadelik duidelik, ook aan die skalkse grappies waarmee ons die onrus besweer; dat ons nie die gelowige onderbou het om daaruit sin te maak nie, ongelukkig ook. Ek sien hoedat goeie, getroue lidmate wat niks anders as hervormdgelowig wil wees nie, niksvermoedend in die strikke trap wat die slange die internet vol vir hulle stel.

Nee, nie almal van ons sluk fopnuus soos soetkoek nie, maar die verleiding kom met jakkalsdraaie. Wat begin soos ‘n deernisvolle vereenselwiging met soekende ontworteldes, is na verloop van die noodwendige 59-minute se intieme gesprekvoering (en ék mag nie langer as net 10 minute preek nie!) ‘n aflewering van die een “verbysterende ontdekking” en “verstommende openbaring” na die ander van wat kerke alles van jou wegsteek of waaroor dominees vir jou lieg. Dis sameswerings wat kerke teen jou smee, Roomses én Protestante, van hoofstroom- tot sel-, en sameswerings deur regerings, kapitaliste én sosialiste, dié deur geldmagte, rykes, geleerdes, slimmes en slinkses en Sjinese, Wittes en Swartes en grootoog goggas uit die buitenste ruim – die ganse universum is daarop ingestel om jou te verneuk! Die oplossing is, uiteindelik, ‘n mooi aanbod van alternatiewe Skrifverstaan wat van jou ‘n gawe sabbatariër, ‘n getuie van jehovah of ‘n profeet van die een of ander voorspoedskultus gaan maak, en agterdogtig oor alles en almal wat dit met jou goed bedoel.

Ons het nie meer die onderskeidingsvermoë nie, miskien weens gebrek aan kennis en diepgang, of dalk vanweë liggewig- of te hoogdrawende teologie? Of dalk raak ons meegevoer net danksy ons goedgelowigheid en ordentlike verdraagsaamheid?

Hoe dit ookal sy, ek sien sosialemediaplasings deur gelowiges wat my nekhare laat rys.

Wie het hulle só wysgemaak?, wil ek weet.

Wat glo ons regtig?

Ek het ‘n vermoede dis die nut van lyding en lydenstyd, en in besonder van hierdie jaar s’n: Ons dominees moet weer die vrae hoor wat ons lidmate het, vrae waarby dominees dalk al lankal verby is. Ons moet die antwoorde wat in die media daarvoor aangebied word, deeglik met mekaar deurtrap, die bedrog blootlê vir die kettery wat dit in wese is. Ons deernis met mekaar moet eg wees, ons liefde deurslaggewend, ons geduld eindeloos. Dis tog mos áltyd nodig, al voel party dis “nóú nodiger as ooit”?

En, lidmate, as dit nóú, in hierdie duisternis, dominees en die Kerk se eerlike bedoeling is om lydendes opreg by te staan, was dit dan nie altyd so nie? Staan ons in die Kerk dan nie altyd voor God vir rekenskap as ons iemand sou verwaarloos, versoek of mislei nie?

Waarom dan, sou lidmate elders as by ons loop troos en antwoorde soek (as dit nie was dat ons dominees juis nou nie te vinde is nie)? Staan nóú op jou pos, Dominee.

En, by herhaling wil ek weet, lidmate, as lidmaatskap van die Kerk nog ware geloof insluit, hoekom op dees aarde dan die heil elders gaan soek as by die Kerk wat tot nou toe nog met doop, geloof, nagmaal, diens en dankoffer vertrou is? Wie en wat het julle oortuig om elders as by die Kerk en in die Skrif, by God en die gemeente van Christus, by enigiemand anders as julle leermeesters te gaan kersopsteek?

Kortom: Wanneer het gelowiges oor geloof so lukraak geword, dat ons met dit wat wesenlik van ons is, doodluiters elke jan rap vertrou?

En hoe het dominees daarby uitgekom dat as byeenkomste vir eredienste nie meer kan nie, daar geen nodigheid bestaan om ons in te grawe in hoe anders ons die evangelie kan laat hoor nie? Die stilte van ons kansels af, is alreeds dawerend. Nou is die nag dat pastorieë singend moet geraas maak.

Ek huil in my hande oor die skade wat COVID-19 aanrig.

Dit skreeu ten hemele wat die virus onthul oor wat ons regtig nog glo en ook nie meer hoor nie. Wie kan daarby berus?

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.