Vonke spat. Ons vier!

Hier op die platteland, is vernuwing nie altyd goeie nuus nie.  Waarom torring aan wat werk?, so voel ons.  En kom dit by liturgiese verandering, skop ons vas.  “Stoer”, so noem ons onsself, en “behoudend” is wat dit beteken.

Foto: Pexels

As daar nou een ding is wat krap, is dit kerkkonsert.  Hieroor is ons erg Protestants, Calvyn verby: Erediens is nugtere nadenke oor God, en daarom is die preek die ding waarvoor ons kerk toe kom, nie juis skuldbelydenis of vergifnis of seën nie. En met soetsappigheid moet jy ons nie wil sagmaak nie, nie eers met mooi musiek nie!

Net een ding pas ons tradisievastheid nie: Ons wil sing.  Dog, wil jy glo, ons sing nie!  Ons prewel.  Terwyl ons dus met sang die tradisie troef, bly ontevredenheid oor die liedere wat die dominee opgee, ʼn heilige koei, want léér, gaan jy ʼn nuwe lied nie.

Dit help ook nie as ʼn gemeente geen begeleier of kerkorrel het nie.  Op die platteland is dit ons lot.  Voorsangers is hier ook maar yl gesaai.

Nou kyk, nootvas is Afrikaanses oor die algemeen nie, en beskeidenheid maak ons verder sangsku. Hier en daar lewer ons ʼn Coertse of ʼn Korsten op, maar ons beny die Wallissers.  Dog, snaaks, die Britte sing gesange by rugby, maar selde in die kerk.

Ons síng by Algemene Kerkvergaderings!

Die tegnologie het toe eindelik ook hier by ons uitgekom, en daaroor sing ons halleluja ’s: mp3-opnames van psalms en gesange met kerkorrelbegeleiding!

Kerkmusiek, soos ons dit sing, is ʼn aangeleerde smaak, soos Kaapse rooi en Skotse mout. Ek hoop ons kan so leer dink oor die musiek wat die Hervormde Kerk in eredienste gebruik: ʼn Smaak om aan gewoond te raak, maar ʼn unieke geur wat by die erediens pas, want jy kry dit nêrens anders nie as net waar gelowiges God aanbid.  Dis ons temamusiek, die klankbaan van ons geloof.

Afgelope Sondag kon ons, danksy nóg splinternuwe opnames van sang en musiek, vir die heel eerste keer in die erediens saamsing uit die nuwe versameling kerkliedere orals elders al bekend as VONKK:  Voortgesette Ontwikkeling van Kerkmusiek in die Klassieke tradisie.

Nou moet ek sê: Ek het versigtig gekies aan hierdie eerste kennismaking se liedere.

Vir eens was nuut ook goed.  Hier is lofsange oor VONKK, en geen beduidenis van verset nie!  Die taal en klank waarmee ons die Here dien, is verfyn, ons liturgiese gereedskapskas aangevul, uitgebrei en pasgemaak.

Ons hét gesing.

 

Advertisements

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.