Die skrale slaagsyfer van genade. (Gemeet aan dank.)

Jesus mors met genade.  Jesus deel genade uit aan mense sonder om vrae te vra, en maak mense gesond sonder om uit te vis wie jy is en of jy lid is van dié “mediese fonds.”

Ook maar goed so, want met betaling is ons so suinig, God weet daar is weinig kans op wins uit dié kwistige belegging in ons. As jy vooraf al weet die beste waarop jy kan hoop, is om net 10% van die kapitaal wat jy oorspronklik belê het, terug te kry, is die gat in die matras ʼn beter bank.

Dit skrik God nie af nie.  As net 1 uit elke 10 van ons glo, is God bly. Teen ʼn gewaarborgde verlies van 90% van inset, sou nie een van ons ʼn belegging in die koninkryk van God gewaag het nie.

Aan die ander kant, ons belê in Afrika.  En dit klink vir my God kén Afrika!  God mors hier met genade soos ander mense hier mors met ons geld. Vreemd nè, hoedat dit hier by ons lyk, op ʼn druppel water lyk, nes die koninkryk van God!

Afrika is nogal ʼn goeie metafoor vir die koninkryk van God: die gapende keelgat van ʼn honger voël in ʼn nes.  Nee, dit keer God nie.  God wys dit uit, dat ons dit kan agterkom.  Maar dit bring God nie van stryk nie.  En God neem ook nie net verlief nie, aanvaar nie maar gelate dat ons gulsig vreet nie.  God hou met ons aan, voer ons soos ʼn pa en ma, oorlaai ons met hartlikheid.

Lukas 17 verse 11 tot 19

25 Augustus 2019, NHKA Kampersrus

Heilige Gees. Dank na Nagmaal.

En nou, sommer so tussen ons: Ek wou ʼn dankdiens vir Nagmaal maak, en het die klassieke “dankteks” daarvoor gekies, daaroor gaan lees, gerus gevoel en toe ʼn liturgie gebou.  Nou, na ʼn week se nadenke (ek skryf hierdie nota om vyfuur op Sondagoggend) oor onder andere die konteks (naas Lukas 16), vermoed ek die teks gaan oor meer as “dankbare godsdiens” en voel dié preek én sy liturgie nie oral nommerpas vir die teks nie!


Vir die Hartklop

Melaatsheid

Melaatsheid veroorsaak erge sere, of bleek knoppe en bulte op die vel. Dit gaan nie vanself weggaan nie.  Dit affekteer die senuwees wat die verste van die brein en rugmurg af geleë is, en nie die brein en rugmurg self nie.  Die verste punte van die ledemate (arms en bene) word eerste geaffekteer, maar dit kan ook op ander dele van die liggaam uitslaan, soos op die gesig.  Dit mag ook die oë en die binnekant van die neus affekteer.

Die sere en knoppe berokken onomkeerbare skade aan die senuwees in hierdie liggaamsdele.  Dit lei tot verlies van gevoel in die arms en bene, sodat vingers en tone verloor word, en spiere verswak drasties.

Dis ʼn aansteeklike siekte. Maar jy kry nie melaatsheid deur aan ʼn melaatse persoon te raak nie. Dit steek net aan as jy herhaaldelik kontak het met ʼn onbehandelde lyer se sputum en neusvog.  Dit vat gewoonlik omtrent 3 tot 4 jaar nadat iemand aangesteek het voor die eerste simptome hulleself wys, maar dit kan ook tot 20 jaar vat.  Daarom is dit moeilik om agter te kom waar en van wie die siekte aangesteek is.

Kinders is meer vatbaar vir melaatsheid as grootmense. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) beraam dat sowat 180,000 mense wêreldwyd die siekte het.  Die meeste gevalle kom in Afrika en Asië voor.

Die gevreesde siekte het in Bybeltye gepaardgegaan met wrede stigma.  Lyers is geostraseer.  Uitgeworpenes, het hulle in groepies bymekaar geskaar en in die veld saamgewoon. Met dié dat die Torah enigiemand met die geringste gebrek toegang ook tot die tempel verbied het, was melaatses van alle geloofsgemeenskap, maar ook van God, afgesny.

https://www.webmd.com/skin-problems-and-treatments/guide/leprosy-symptoms-treatments-history#1

Opmerking

Ek het ʼn baie sterk vermoede dat hierdie perikoop in verband staan met Lukas 16 : 19 tot 31, die gelykenis van die ryk man en die bedelaar, Lasarus.   Daar is narratiewe parallelle tussen die twee.

 

Lukas 16 Lukas 17
Swere

 

Melaatsheid
In die verte. . . skeiding deur ʼn groot kloof, onoorbrugbare afstand Op ʼn afstand. . .
Roep Roep hard
Vader Abraham, ontferm u oor my Jesus, Here, ontferm U oor ons
Abraham Priesters
Verligting: ʼn druppel water Verligting: ʼn reinheidsverklaring
Ommekeer: goeie / slegte Ommekeer: melaats / gesond
Hulle het die woorde van Moses en die profete, hulle is Jode Maar hierdie man is dan nie ʼn Jood nie, maar ʼn Samaritaan, na bewering iemand wat hom juis nie steur aan die wet van Moses nie, nè?
Gesprek met Abraham Gesprek met Jesus
Maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan en hulle vertel. . . iemand soos Lasarus Die naam “Lasarus” herinner aan die ander Lasarus wat wel uit die dood uit opgestaan het, Jesus het hom opgewek. Die leser weet dit reeds. Jesus gaan ook opstaan, Hy is dié uit die dood uit opgestane Here, dog nie nou al, hier in hierdie vertelling, nie, maar dis ook reeds aan die leser bekend, wat die leser dus die ironie van die opmerking sal laat snap. Jesus  vertel hulle mos.
Eiebelang staan voorop Aan God die eer gegee.
Hulle sal nie oortuig word nie Jou geloof het jou gered.
Gaan huis toe Priester / Jesus. Jesus verklaar die Samaritaan rein, en daar is geen verdere nodigheid om by die priester aan te doen nie.  Jesus is die Priester.  Jesus is die Tempel van God in wie God met sy volle wese woon. Jesus praat namens God, meer nog as wat die priesters by die tempel kan.  Buitendien: oor hy Samaritaans is, sou die priester hom tog nie die tempel toegelaat het nie, al was hy blakend gesond.

 

Wat vir my uitstaan, is

  1. Dat die Samaritaan, soos destyds algemeen en stereotipies oor Samaritane gevoel is, sonder die voordeel van of gehoorsaamheid aan die Wet van Moses – trouens, juis berug oor lukrake ongeërgdheid met die Wet, nes die ryk man in die gelykenis – is dié (enigste) een onder die tien (vermoedelik was die ander nege Judeërs) wat weet wat om te doen: Om eer te bring aan God, en dan na Jesus toe terugkeer om dit te kom doen.
  2. Dat selfs gesond, gelowig én gered, die tempel in Jerusalem vir ʼn Samaritaan geen toevlug is nie. Inteendeel, die tempel staan soos ʼn struikelblok tussen die Samaritaan en die hervatting van sy lewe, want oor sy afkoms gaan die tempelpriesters hóm nie skoon verklaar nie. Net  dat hy Samaritaan is, tel al teen hom, in geen mindere mate nie as sy melaatsheid.
  3. Dat Jesus die Samaritaan rein en gered verklaar, en hom huis toe stuur, nie weer tempel toe nie. Jesus is die Tempel / God.  Met verbygaan van die voorgeskrewe wette hieroor, en van die Jerusalemtempel, stuur Jesus die Samaritaan, nou gelowig en gered, terug Samaria toe.

 

Ek dink daarom dit gaan in die teks

  • minder oor formele godsdienstige eise oor uitinge van dank as oor gelowige eer aan God (maar tog ook uit reaksie op redding, dus steeds dankbetoning);
  • meer oor ʼn gelowige besef van wie Jesus is – God! – as oor ʼn mooi, gedweë gehoorsaamheid aan godsdiensinstellings en -reëls: Eer jy God, is die beste plek daarvoor aan Jesus se voete, met verbygaan van hindernisse soos wat godsdiensinstellings kan wees / is, meer nog, met omseiling van sulke instellings se doelbewuste verhindering van mense wat nie aan al die vereistes vir op- en deelname voldoen nie.
  • dat godsdiensinstellings nutteloos, onnodig, irrelevant en in onbruik (redundant) kan raak, selfs ʼn blok aan die been kan wees, as hulle / ons mense wat tot geloof gekom het, sou wou uitsluit.
  • dat jy met geloof huis toe gaan, en ʼn vol lewe terugkry en leef.

En nou, sommer so tussen ons: Ek wou ʼn dankdiens vir Nagmaal maak, en het die klassieke dankteks daarvoor gekies, daaroor gaan lees, gerus gevoel en toe ʼn liturgie gebou.  Nou, na ʼn week se nadenke (ek skryf hierdie nota om vyfuur op Sondagoggend) oor onder andere die konteks (naas Lukas 16), vermoed ek die teks gaan oor meer as “dankbare godsdiens” en voel dié preek én sy liturgie nie oral nommerpas vir die teks nie!  

Liedere in hierdie erediens

 

Psalm 132 strofes 3, 6, 7, 8.

Gesang 154 strofes 1, 2 en 3.

Psalm 31 strofe 5.

Psalm 31 strofes 8 en 9.

Gesang 253 strofes 1 en 2.

Gesang 158 strofes 2 en 3.

Gesang 201 strofes 1,2 en 3.

Gesang 207 strofe 2.

 

 

 

VOORAF

Predikant

Skyfie: Die 10% suksessyfer van genade (gemeet aan dank).  

Jesus mors met genade.  Jesus deel genade uit aan mense sonder om vrae te vra, en maak mense gesond sonder om uit te vis wie jy is en of jy lid is van dié “mediese fonds.”

Ook maar goed so, want met betaling is ons so suinig, God weet daar is weinig kans op wins uit dié kwistige belegging in ons. As jy vooraf al weet die beste waarop jy kan hoop, is om net 10% van die kapitaal wat jy oorspronklik belê het, terug te kry, is die gat in die matras ʼn beter bank.

Dit skrik God nie af nie.  As net 1 uit elke 10 van ons glo, is God bly. Teen ʼn gewaarborgde verlies van 90% van inset, sou nie een van ons ʼn belegging in die koninkryk van God gewaag het nie.

Aan die ander kant, ons belê in Afrika.  En dit klink vir my God kén Afrika!  God mors hier met genade soos ander mense hier mors met ons geld. Vreemd nè, hoedat dit hier by ons lyk, op ʼn druppel water lyk, nes die koninkryk van God!

TOETREDE EN AANROEPING

Predikant

Skyfie: Staan. Toetredelied. Sing Psalm 132 strofes 3, 6, 7 en 8.  Kom, laat ons waar die Here woon, aanbiddend neerbuig voor sy troon.   

Dawid het aan God ʼn eed gesweer dat hy ʼn tempel sou bou.  Ons sing oor hoe Dawid die ark – die houer waarin die oorspronklike 10 gebooie was – tempel toe laat haal het.  Dan belowe God vir Dawid dat Dawid se eie kinders Dawid as konings sou opvolg.  Dis waaroor ons sing in ons toetredelied: Welkom in die tempel, welkom by God. Staan op vir

Sing (Sit)

Projeksie: Begeleiding begin hier

Psalm 132 strofes 3, 6, 7, 8.

Roeping en Seëngroet (Bly staan)

Skyfie: Bly staan. Roeping en Seëngroet.  II Kronieke 5.  Toe die lof en dank aan die Here weerklink, vul  ʼn wolk die huis van die Here.  

II Kronieke 5

13      

Presies gelyk, soos een man, het die trompetblasers en die sangers die lof en dank aan die Here laat weerklink. Die klank van trompette, simbale, allerhande instrumente en die loflied ter ere van die Here het opgeklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Op daardie oomblik het ‘n wolk die huis van die Here gevul.

Amen.

AANBIDDING EN LOF

Ouderling

Skyfie: Bly staan. Sing saam. Gesang 154 : 1, 2 en 3.  Laat ons die Here dank.   

Kom, sing vir die Heer jul lofgesange.  Kom  sing met vuur.  Laat ons die Here dank.  Sing saam

Loof die Here met sang (Staan)

Projeksie: Begeleiding.

Gesang 154 strofes 1, 2 en 3.

Die wil van God

Skyfie: Sit gerus. Die wil van God. Lukas 6 : 31 tot 36.

Sit nou, dan luister ons saam na God se riglyne vir die lewe.

Riglyne vir die geloofslewe

In Lukas 6 : 31 tot 36 sê Jesus:

31      

Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

32      

“As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet.

33      

En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so.

34      

En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry.

35      

Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes.

36      

Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.”

Erken skuld aan sonde

Skyfie: Bly sit. Sing Psalm 31 : 5.  Sien, Here, my in my ellendes.    

Erken saam dat ons sondig is.  Sonde bring die ellende aan. Kom, sing vir die Here ʼn skulderkenning uit

Sing (Sit)

Projeksie: Begeleiding.

Psalm 31 strofe 5.

Genadeverkondiging (Sit)

Skyfie: Bly sit. Genadeverkondiging. Johannes 11. Dankie dat U My verhoor het!

In die Nagmaal het die Here nie net aan ons genade verkondig nie, God het genade gewaarborg sodat ons daarvan nou doodseker is. Sien in jou geestesoog vir Jesus voor die dooie Lasarus se graf staan as hulle die grotgraf se ingang oopmaak.  Marta sê: “Here hy ruik al!”  Hoor vir Jesus:

Johannes 11. 

40      

Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41      

Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het.

Jesus is so seker van sy saak met God, dat Hy vir God al dank vir verhoring nog vóór Hy Lasarus sien opstaan. So seker is jou verlossing, jy wat gelowig aan die Here se tafel was.

Geloofsbelydenis (Sit)

Skyfie: Bly sit. Wees gerus maar seker van wat jy glo.   

Sê weer ʼn keer, net sodat jou sekerheid nóg sterker kan word, dat en wat jy glo.

  1. Ek glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  2. en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  3. wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  4. wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  5. wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  6. wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  7. dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  8. Ek glo in die Heilige Gees.
  9. Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  10. die vergewing van sondes;
  11. die opstanding van die vlees en
  12. ʼn ewige lewe.

AMEN

Skyfie: Bly sit. Sing. Psalm 31 strofes 8 en 9.  Vir gunste menigvuldig, is ons U dank verskuldig.  

Moenie die ellende waaruit ons verlos is, onderskat nie. En moenie dat enigiets jou gemoedsrus dat God jou verlos het, afwater nie. Jy doen dit deur te onthou dat, vir menigvuldige gunste, ons aan God dank verskuldig is. Sê dit saam, met

Sang (Sit)

Projeksie: Begeleiding.

Psalm 31 strofes 8 en 9.   

Aanbidding en lof

Predikant

Gebed

Skyfie: Gebedshouding. Kom ons praat met God.

Amen

Verkondiging

Predikant

Skyfie: Sit. Lukas 17 verse 11 tot 19.  Bladsy 111 van die Nuwe Testament, 1983.

Ons lees uit die Nuwe Testament, uit Lukas 17, verse 11 tot 19.  Dis op bladsy 111 van die Nuwe Testament in die 1983-Afrikaanse vertaling van die Bybel.

Skyfie: Bly sit. Sing. Gesang 253 strofes 1 en 2.  U is my lewensbrood.  

Maar, voor ons lees, kom ons vra die Here om ons vandag weer te voed, maar vandag met meer as net brood, met sy Woord. Vra dit met

Sang (Sit)

Projeksie: Begeleiding.

Gesang 253 strofes 1 en 2.

Skyfie: Sit. Lukas 17 verse 11 tot 19.  Bladsy 111 van die Nuwe Testament, 1983.

Lukas 17 : 11 – 19. 

11      

Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan.

12      

Net toe Hy ‘n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op ‘n afstand staan

13      

en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”

14      

Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.” Op pad daarheen het hulle gesond geword.

15      

En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys.

16      

Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ‘n Samaritaan.

17      

Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?

18      

Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ‘n Jood is nie?”

19      

En vir hom sê Hy: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”

Hier eindig vandag se Skriflesing.

Skyfie: Bly sit. Sing saam. Gesang 158 : 2 en 3. Lam van God, u offer maak my vry!

Kom ons herinner ons aan verlede week se Nagmaalviering, toe God ons weer ʼn keer sy geofferde Lam aangebied het as die afgehandelde verlossing van al ons sonde. Sing

Sang (Sit)

Projeksie: Begeleiding.

Gesang 158 strofes 2 en 3.

Skyfie: Die 10% suksessyfer van genade (gemeet aan dank).  

Preek (Sit)

Jesus, die reisende rabbi, is iewers op die grens tussen Judea en Samaria.  Daar doen Hy wat Hy gewoonlik maar doen; Hy preek oor die koninkryk van God.

Ná aan die een of ander gehuggie, buite in die veld, roep ʼn groepie mense na Hom om sy aandag te trek. Hulle is ʼn gemeenskappie melaatses.

Skyfie: Melaatsheid.  Meer as net ʼn siekte.

Dis ʼn afgryslike siekte om te hê: melaats.  Nie net gaan jou liggaam stukkie vir stukkie dood nie, jou toestand maak van jou ʼn grillige en gevreesde onmens wat soos ʼn hondsdol hond weggejaag word, alle kontak met gesonde mense verbied, geban van alle liefde en gemeenskap; jou geliefdes waag dit nie na aan jou nie, en jou voete durf jy nie op heilige grond sit nie, want God verafsku jou ook; so sê die Wet!  Sela!

Al genade, as jy dit “genade” kan noem – kom ons sê liewer, akkurater, al wat vir jou oorbly – is om die wildernis in te vaar, siek soos jy is, en die onherbergsame te gaan leefbaar maak, daar ʼn skuiling te prakseer teen beskawing en teen woesteny, én teen God. Met afsondering jou voorland, is jy gelukkig as jy ander melaatses teëkom, en by hulle gaan soek jy dan die skrale troos van gedeelde ellende.  Jy raak hulle grusaamheid gewoond, en hulle joune.  Ons is almal gedrogte hier, ondier nes jy.  In die melaatse kolonie is daar ten minste hierdie tikkie deernis en solidariteit wat gemeenskaplike afgryse bring, en daar koek dan die onwaarskynlikste mense saam.  Want om melaatsheid gemeen te hê, is al wat jy oorhet om te deel.  Wat ander van jou afstoot, is wat jou nou aan die  uitgeworpenes bind; wat ander walg, verdra húlle: dié melaatsheid wat jou stinkend laat opvrot.  Niks anders maak buitendien meer saak nie.  Melaatsheid bepaal nou wie en wat jy is en mag wees, en daarmee maak jy nou maar vrede, want om teen die prikkels te skop, is tevergeefs. Ander opsies is daar tog nie.

Skyfie: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!” Oor meer as net melaatsheid.

Maar die riemtelegram kom selfs by bannelinge en uitvaagsels uit.  Daar is tien van hulle, melaatse mans, wat na Jesus roep, van ver af, want hulle weet wat om te verwag as hulle te naby sou kom.   Hulle roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”  Dis nie nodig om Hom te vertel hulle is melaats nie, dis tog alte duidelik.  Dog, wat hulle nie sê nie, spreek boekdele.  Trouens, wat jy nie sê nie, skreeu soms die hardste.  Soos die vingers wat jy weens melaatsheid nie meer het nie.  Om van melaatsheid gesond te word, spreek nog maar net ʼn gedeelte van hulle moeilikheid aan.

Skyfie: Ons mis dit om mens te wees. Want ons is nie.

Ons mis mense.

Ons mis gemeenskap.

Ons verlang na agting en respek, na menswaardigheid.

Ons smag na liefde, na aanraking.

Ons mis dit net om mense te wees, want ons is nie.

En, Here, ons smag na God. Ons smag na ʼn Vader, ʼn Vriend, na vrede met God en die viering van erediens.

Skyfie: Verligting of verlossing? Die ryk man en Lasarus, die bedelaar.

Kom drup tog net met ʼn vinger ʼn druppel koel water op ʼn gloeiende tong, skenk ons die verligting van net die kleinste druppeltjie deernis, nes die ryk man vra Abraham moet toelaat dat Lasarus die bedelaar van die hemel af kom en hom afkoel.

O, ons is wel deeglik bewus van ons nood.  Ons het dit verlede week by die Nagmaal ook gesê.  Van ons sonde is ons meer as net bewus, die skuldgevoelens ry ons bloots.  Veral as ons sonde so opsigtelik is soos melaatsheid, só grusaam dat mense draaie om ons begin loop, ons uitsluit uit ordentlike geselskap.

Ons is desperaat vir verligting, maar wil ons verlossing hê?  Die ryk man in die gelykenis van Jesus oor die ryk man en Lasarus, wil verligting kry. Vir verlossing vra hy nie.

Skyfie: Verligting of verlossing? Die 10 melaatse mans.

Hierdie 10 melaatse mans ken die swaarkry wat melaatsheid bring.  “Jesus, Here, ontferm U oor ons!” Red ons, nie net van die siekte nie, maar van ál die lyding daarrondom.   Red ons van ʼn dierlike bestaan.

Wat Jesus hulle aanbied, is meer as verligting.  Jesus gee verlossing.

“Gaan wys julle vir die priesters!” roep Jesus terug.  Dat hulle self beter voel, maak hulle nog nie “gesond” nie.  Hulle sal eers weer regtig gesonde mense wees as die gemeente hulle terugvat.  Dit gaan nie gebeur voor die priesters hulle rein verklaar het nie.  Die priesters praat op hulle beurt namens God. Eers as hulle weer vir God aanvaarbaar is, en net die priesters kan hulle dít sê, eers as hulle weer in God se tempel kan kom, en die priesters sal moet besluit of hulle nou aan die Wet se toelatingsvereistes voldoen, dán eers is hulle ook onder die gemeente welkom.  Dan eers is hulle nie meer gevaarlik nie, en kleef die vrees om die pes by hulle aan te steek nie meer aan hulle vas nie.

Skyfie: Die Here maak ʼn “oordeelsfout”! En een sluip by die agterdeur in. . .

Jesus mors sy genade kwistig oor hierdie tien melaatses uit.  Hy vra nie of hulle glo, voor Hy hulle gesondmaak nie.  Hy vra hulle nie eers uit oor wie hulle is en waar hulle dan vandaankom nie.   Jesus is met genade onverskillig oordadig.  Jesus diskrimineer nie, nie op enige gronde nie.  Om die waarheid te sê dit wil lyk of Jesus nie goeie oordeel het nie, of daar iets met sy onderskeidingsvermoë skort, want Hy oordeel nie eers nie!  Die Here van die Nagmaal maak “ʼn gruwelike fout!”  Jesus stort God se kosbare genade uit ook oor ʼn vervloekte Samaritaan, ʼn halfnaatjie, ʼn joiner, ʼn terroris, ʼn wolf in die skaapsklere van melaatsheid.  Die vent se siekte het hom deel gemaak van hierdie kolonie, en hy is tussen rasegte Jode soos een van hulle gekamoefleer, en siedaar, nou is hy óók genees!

Skyfie: Genade. Glo.

Wil jy nou meer!  Sulke normlose genade!  Jesus, van almal van ons, moes tog mos van beter geweet het?

Ons het gesê ʼn mens moet darem glo voor jy nagmaaltafel toe kom.  Ons het gesê geloof is om te weet van jou sonde en berou te hê.  Maar nou’s jy met geloof nog net halfpad.  Ons het gesê jy moet die Gees jou laat oortuig God wíl en Jesus sál jou sonde wegvat, trouens, Hy hét alreeds. Ons het ook gesê pleks van met sonde aanhou, gaan ons nou vurig liefhê. Verlossing laat jou liefhê, vurig liefhê, vir God en mense.

Het ons geloof by die Nagmaal netjies in plek gehad?  Goeie voornemens is ook nog nie geloof nie.  Die Here weet baie goed hoe min ons glo, hoe broos en feilbaar ons geloof is, hoe min Hy op ons kan peiltrek.  God weet hoe begeerte ons mislei, en skuld ons pootjie.  Ons almal weet dit. Het jy nie ook maar met die ander sondaars om die tafel probeer saamsmelt dat niemand moet agterkom hoe verknog en verslaaf jy nog aan sonde is nie?  Het jy nie hierdie week ook maar doodluiters met sonde aangegaan asof niks verander het nie?  Kan jy eerlik sê jy kon jou vir die Here en die wêreld gaan wys en jou liefde vir God en sy gemeente skyn, brand soos ʼn vuur, vir vriend en vyand?  Of was dit alles maar net ʼn bluf? Of mislukte goeie bedoelings? Sit die melaats van ons sonde nie nog maar wit in die blom nie?  Hoe baie genade verg dit nie om ons te bekeer en te hervorm nie, nè?

Skyfie:  Geloof. Dank.

Jesus stuur hulle kerk toe, vir die priester om hulle rein te verklaar. Die tien is nog siek daar weg.  Langs die pad word hulle gesond.  Een kom al godprysend teruggehol.  Hy is oorstelp.  Hy val voor Jesus se voete neer, steur hom nou min aan die reël dat melaatses hulle op ʼn afstand moet hou. Maar dis te verstane, sy soort is nie juis bekend daarvoor dat hulle hulle vreeslik aan reëls en wette steur nie.  Inteendeel, mense soos hy is berug oor hulle verdraaide geloof, hulle afgewaterde trou aan die Wet van Moses, verbasterde gene en sommer hulle algemene goddeloosheid: Die man is ʼn Samaritaan.  Wat kan jy verwag?  ʼn Samaritaan, dié ís hy steeds, net nie meer ʼn melaatse Samaritaan nie.

Wat hy doen, is die soort reaksie, mos, wat ʼn mens van goeie godvresende Judeërs sou verwag, dan nie?  Hierdie gedrag druis in teen alles wat ʼn mens van ʼn Samaritaan sou verwag.  Dit sê net een ding:  Die medisyne vir die melaatsheid wat Jesus hulle toegedien het, was genoeg om veel meer as net hulle siekte gesond te maak.  Die genade waarmee God die tien toegegooi het, het soos die Nagmaal, van selfs sondige Samaritane kinders van God kon maak, geloof of te not!

Maar waar is die ánder, dan, die Jode, wat van beter behoort te weet as hierdie Samaritaan?  Hulle skitter in hulle afwesigheid.  Hulle vir wie die genade eintlik eerste bedoel was, hulle is nie daar nie. Hulle is daar weg asof hulle hulle lewe as gesondes soos ʼn reg wat hulle toekom weer gaan opeis. Hulle is tempel toe om hulle lewe terug te vat. Hulle is nou dalk gesond, maar gelowig?  Verlig, maar verlos?  Nee, gesond, dog nog maar sondig.

Skyfie: 1 uit 10. Toets gedop?

Daar is genoeg genade vir tien, net een laat blyk dat die genade hom raak, en net een reageer soos die Bybel beskryf geloof ons sal laat maak: God prys, en aan Jesus se voete neerval.

Skyfie: priester, en Priester. Met ʼn hoofletter “P”.

So terloops, daar is nog ʼn angel in die storie se stert.  Die nege Judeërs is tempel toe, na die priester op soek. Die Samaritaan nie.  Wat sou dit hom in elk geval baat? Samaritane is in die tempel in Jerusalem nie welkom nie, en Samaritane het aan die tempel in Jerusalem ook geen erg nie.  Hy draai om, soek weer vir Jesus op.  Hy moes hom aan die priester loop wys, nou kom wys hy hom aan dié Priester (hoofletter “P”).  Hy kom prys God, en hy kom doen dit aan die voete van Jesus, die Christus, dié tempel van God, God die Seun waar God met sy volle wese woon.  Het die Samaritaan dit besef?  Miskien nie.  Maar ek en jy weet dit, en dis waarheen ons nou op pad is: na die voete van Jesus toe, om God daar te gaan prys.

Skyfie: 1 uit 10. Toets gedop?

Maar terug na die skrale 1 uit 10 suksessyfer van genade.

Asof genade nie duur genoeg is nie – dit kos Jesus sy lewe – Jesus werk kwistig, amper morsig daarmee.  Genade kom in oormaat, genoeg vir tien.  Helaas die slaagsyfer van God se genade is maar so een uit tien.  Was dit ek en jy wat teen so ʼn verlies belê het, sou ons uitgelag word, ons koppe moes laat lees. God kry geen opbrengs nie.  God werk teen ʼn verlies.  Net ʼn skrale 10% van die kapitaal wat oorspronklik belê is, kom terug.  God ly ʼn swaar verlies van 90% op belegging.

Sien jy dat dit God keer?  Hou God op met genade gee? Dis asof God verlief neem met genade in ʼn bodemlose put af te gooi, asof ʼn swart gat in die ruimte genade gulsig opsuig en insluk sonder om ooit versadig te raak.  Nes Afrika met geld ook maak.  Afrika is nogal ʼn goeie metafoor vir die koninkryk van God: die gapende keelgat van ʼn honger voël in ʼn nes.  Nee, dit keer God nie.  God wys dit uit, dat ons dit kan agterkom.  Maar dit bring God nie van stryk nie.  En God neem ook nie net verlief nie, aanvaar nie maar gelate dat ons gulsig vreet nie.  God hou met ons aan, voer ons soos ʼn pa en ma, oorlaai ons met hartlikheid.  En nou moet jy mooi kyk, dis die van ons van wie jy dit die heel minste verwag, wat terugkom en wys dit het hulle geroer, en dit maak aan hulle verskil. Dis gewoonlik hulle wat genade die nodigste gehad het, wat besef het, sonder genade is hulle Samaritane, tweederangse en eintlik maar misvormde en gebreklike verskonings vir “die kinders van God”.  Die melaatses.  Wel, ook net een van hulle, maar darem.

Amen.

Wegsending:

Skyfie: Sing (Staan op) Gesang 201 : 1, 2 en 3. Elke mond, elke lewe, alle lewe dank en prys God.  

Dis tyd dat ons ons stemme en ons lewens voeg by die wêreldwye koor van alles wat lewe:  Dank God.  God is Here.  God is ons Koning. Staan en sing saam

Slotsang (Staan)

Projeksie: Begeleiding.

Gesang 201 strofes 1,2 en 3.

Skyfie: Bly staan. Seën. II Korintiërs 9. Ons dank God vir onuitspreeklike genade.    

Seën (Staan)

II Korintiërs 9

14      

Hulle sal ook vir julle bid en met verlange aan julle dink, omdat die genade van God oor julle so oorvloedig was.

15      

Ons dank God vir sy onuitspreeklike gawe.

Amen.

Respons (Staan)

Skyfie: Begeleiding.

Gesang 207 strofe 2.

Skyfie: Die 10% suksessyfer van genade (gemeet aan dank).  

Skyfie: Die 10% suksessyfer van genade (gemeet aan dank).  Transkripsie https://hennielagrange.wordpress.com/

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.