Hoender of eier: Begrip of geloof?

Anders gesê: Ek verstaan (nog) nie!

Vir Woensdagaande se Bybelkletsgroep.  Ons wil so graag alles verstaan nè?  Veral ons Hervormers.

Prediker 8 : 17

Toe het ek al die werk van God begryp; [ek het tot die gevolgtrekking gekom dat] die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

Sien julle die paradoks?  Ek verstaan nou: Ek verstaan eintlik niks!

Wat daartoe lei dat die apostels oornag onverskrokke predikers word, is grillerig eienaardig:  ʼn oopgekrapte graf, ʼn vermiste lyk, iemand wat deur toe deure inkom, ʼn kaalhand nadoodse ondersoek, ʼn “spook” wat kos soek en wil weet wat toe nou Vrydag van sy vriende geword het. . .

Ek beny hulle, want Woensdagaand het ons weer besef hoe moeilik dit is om enigiets wat God doen of sê, te verstaan.  Hoe glo jy as jy nie eers kan insien wat aan die gang is nie?

Ons dring daarop aan: Ons wil verstaan.  Hervormers wil verstaan.

Johannes 20 : 1 tot 10.

28 April 2019, NHKA Kampersrus

Opstanding


LIEDERE IN HIERDIE EREDIENS

Gesang 450 strofes 1 en 2.

Psalm 139 strofes 1, 2 en 11 (TT Cloete)

Gesang 469 strofes 1 en 2.

Gesang 388 strofe 3.

Gesang 397 strofe 1.

Gesang 486 strofes 2, 3 en 4.

Gesang 507 strofes 1, 2, 3 en 4.

Gesang 190 :  1, 2 en 3.

Gesang 313 twee keer.

Hartklop

Vir Woensdagaande se Bybelkletsgroep.  Ons wil so graag alles verstaan nè?  Veral ons Hervormers.

Prediker 8 : 17

Toe het ek al die werk van God begryp; [ek het tot die gevolgtrekking gekom dat] die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

Sien julle die paradoks?  Ek verstaan nou: Ek verstaan eintlik niks!

Skyfie: Hoender of eier?  Begrip of geloof? Anders gesê: Ek verstaan (nog) nie!      

SOEK GOD OP

Predikant

Kom ons staan net weer ʼn oomblik om die leë graf.

Ons weet nou al: Hierdie onmoontlike ding, dat Jesus dood was en weer leef, ruk die mat onder ʼn mens uit en maak dit geloof moeilik. Dis bo ons begrip en verstand.  Ons hou so daarvan om te verstaan.

Skyfie: Soek God op. Sit. Sing. Gesang 450 : 1 en 2. Hoe sê ʼn mens iets wat jy self nie kan verstaan nie? 

Hoe kry ʼn mens iets gesê waarvoor jy nie woorde het nie?  Hoe kry ons, mense wat ons is, regtig oor God gepraat? Sing

Sing (Sit)

Gesang 450 strofes 1 en 2.

Die eerste gelowiges het nie die luukse gehad van logies te redeneer oor of opstanding die geloof werd is nie.  Ek beny hulle.  Die opstanding tref vir hulle soos ʼn sikloon:  Jy keer dit nie, jy beheer dit nie.  Jy kies dit nie, en jy besluit ook nie daaroor nie.  Die dissipels moet doodgewoon doen wat dit ookal verg om die ding gehanteer te kry.

In ʼn oogwink gaan hulle van skepties en sinies tot onverskrokke oortuigd, van bang agter geslote deure wegkruip, tot onbeskroomde openbare geloofsbelydenis.  Van op eiers loop tot uitgesproke openbare aanklaers wat beskuldigende vingers na die vervolgingsgesag toe wys oor die moord op God se Seun.

Wat daartoe lei, is grillerig eienaardig:  ʼn oopgekrapte graf, ʼn vermiste lyk, iemand wat deur toe deure inkom, ʼn kaalhand nadoodse ondersoek, ʼn “spook” wat kos soek en wil weet wat toe nou Vrydag van sy vriende geword het. . .

Ek beny hulle, want Woensdagaand het ons weer besef hoe moeilik dit is om enigiets wat God doen of sê, te verstaan.  Hoe glo jy as jy nie eers kan insien wat aan die gang is nie?

Ons dring daarop aan: Ons wil verstaan.  Hervormers wil verstaan.

Skyfie: Staan op. Sing. Soek God op. Psalm 139 : 1, 2 en 11. (TT Cloete)  Here, U sien dwarsdeur my.  (As daar geen musiek op band is vir hierdie lied nie, gebruik dan die Lina Spies weergawe van die psalm, strofes 1 en 5)     

Kyk nou hoe keer God ons in die eerste lied al voor en sê:  Dis nie so vreeslik belangrik dat julle My probeer verstaan nie.  Dis of Ék júlle verstaan wat tel.  Sing saam. . .

Sing (Staan op)

Psalm 139 strofes 1, 2 en 11 (TT Cloete) / Psalm 139 strofes 1 en 5 (Lina Spies)

HOOR HOE GOD JOU ROEP

Predikant

Skyfie: God roep na jou. Bly staan. Kan jy God regtig verstaan?  

Oproep (Staan)

Job 11

7

“Kan jy begryp wie God werklik is? Kan jy die Almagtige ten volle verstaan?

Skyfie: God seën jou. Bly staan. Nee.  Maar God verstaan jou!   

Seëngroet (Staan)

Psalm 139

1        

Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

2        

Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

6        

Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.

Amen.

EER GOD

Ouderling

Skyfie: Eer God. Staan. Sing. Gesang 469 : 1 en 2.  Here, ons verstaan U nie.   

Wie ken die Here se gedagtegang?  Nie een van ons nie.  Maar wat ons wel weet, is dat ons God kan loof.  Sing

Sang (Bly staan)

Gesang 469 strofes 1 en 2.  

Skyfie: Eer God.  Sit gerus. Hoor sy wil. Spreuke 2. Span jou in om te probeer verstaan.

Die wil van God (Sit)

Hoor vandag die Here se wil uit Spreuke 2

1        

My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie,

2        

hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.

3        

Roep insig by, vra na gesonde begrip.

4        

Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ‘n verborge skat.

5        

Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken.

Skyfie: Bely dat ons skaars weet hoe om die Here te dien. Bly sit. Sing. Gesang 388 : 3. 

Skuldbelydenis (Sit)

Bely dat jy nie weet hoe om die Here te dien nie. Ons verstaan Hom nie naastenby nie. Sing saam

Sing (Sit)

Gesang 388 strofe 3.

Skyfie: Sê wat jy glo, al verstaan jy dit nie alles nie. Bly sit. Nicea.

Geloofsbelydenis (Sit)

Kom ons bely wat ons glo, al gaan dit nog ons verstand te bowe. Ons bely soos die kerk in Nicea:

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

deur wie alle dinge ontstaan het;

wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.

Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;

ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

AMEN

 

Skyfie: Eer die Here. Sit. Sing. Gesang 397 : 1. Ons verstaan God se liefde nie.  Ons glo dit net.

Kom ons eer die Here oor liefde wat ons nooit sal kleinkry nie. Ons sing saam

Sang (Sit)

Gesang 397 strofe 1.

AANBID GOD

Predikant

Skyfie: Aanbid God. Kom ons praat met die Here. Bid saam.

Kom ons bid almal saam.

Gebed

Skyfie: Aanbid God. Sit. Sing. Gesang 486 : 2, 3 en 4. God verstaan jou.

Al verstaan ons vir God nog nie, dat Hy ons verstaan is wat saakmaak. Ons is geknakte riete.  Hy breek ons nie. Kom sing saam

Sang (Sit)

Gesang 486 strofes 2, 3 en 4.

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing (Sit)

Skyfie: Johannes 20 : 1 tot 10. Bladsy 157 van die Nuwe Testament (1983).

Johannes 20 : 1 tot 10 (Bladsy 157 van die Nuwe Testament, 1983)

1        

Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is.

2        

Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrus en na die ander dissipel toe vir wie Jesus baie lief was, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

3        

Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan.

4        

Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom.

5        

Toe hy vooroor buk, sien hy die doeke lê, maar hy het nie ingegaan nie.

6        

Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê,

7        

ook die doek wat om Jesus se kop was. Dié doek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol.

8        

Daarna het die ander dissipel, wat eerste by die graf gekom het, ook ingegaan, en hy het dit ook gesien en geglo.

9        

Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

10      

Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

As ons die Bybel hier in die kerk lees, soos nou net, doen ons dit met die verwagting dat ons dit sal kan verstaan.  Maar hoor nou wat sê die

Skyfie: Prediker 8 : 17. . .

Prediker 8

17

Toe het ek al die werk van God begryp; [ek het tot die gevolgtrekking gekom dat] die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

Skyfie: Sit. Sing. Gesang 507 : 1, 2, 3 en 4. Ons sal God nooit verstaan nie.  Verbyster net staan en staar, dis al geloof genoeg. 

Ons sal God nooit verstaan nie.  Die beste wat ons kan doen, is om net verbysterd vir God te staan en aangaap.  Maar verbystering en verwondering is al geloof genoeg.  Kom ons sing dat ons twyfel, bang is, sukkel om te begryp wat gebeur, niks maak sin nie.  Maar God is altyd vir ons daar.

Sang (Sit)

Gesang 507 strofes 1, 2, 3 en 4.  

Preek (Sit)

Skyfie: Hoender of eier?  Begrip of geloof? Anders gesê: Ek verstaan nie! 

Hoe lank praat ons nou nie al daaroor nie, nè, dat God ons anders moet leer dink.  En dan, wanneer ons by so ʼn anderse manier van dink uitkom, verras dit ons, ontsenu dit ons.

Kom ons sê dit weer ʼn keer vir mekaar:  God is die gans andere, daar is niks en niemand anders soos God nie.

Om iets of iemand beter te wil leer verstaan, bekyk jy hom met die gereedskap wat jy reeds het, die kennis wat jy al klaar ingewin het oor alle soortgelyke goed wat jy al teëgekom het.  Met God het ons die probleem:  Niks is soos God nie, niemand is soos God nie.  Van alles hier, behoort mense die ewebeeld van God te wees, maar die sonde het daardie lens aan’t skerwe gebreek.  Van die sogenaamde “beelddraers” van God, het net drogbeelde en vervalste namaaksels oorgebly. Met die koninkryk van God, sê Jesus, gaan dit ook so:  Die koninkryk van God werk so anders as alles hier, dat Hy met ons net in gelykenisse daaroor kan praat, en gelykenisse klink al hoe meer na grappies en raaisels.

Vra dit net weer:  Hoeveel weet ons regtig van God?  En van dit wat ons wel weet, hoeveel daarvan maak sin?  Hoe goed verstaan ons vir God?  Hoe seker is ons ons wéét wat om te doen en hóé om  dit te doen?

Woensdagaand by die Bybelklets het almal om die tafel hierdie vraag gevra.  Nou goed, ons het oor moeilike tekste probeer klarigheid kry, en die antwoorde wat ons gekry het, was nie wat ons verwag het nie.  En hoe ons daarby uitgekom het, het ons ook laat besef dat vanself, net van stiltetyd se Bybellees, ons dit nooit sou raakgesien het nie.  Dis die moeilikste gewaarwording, dié besef dat jy nie sommer self die antwoorde sou gekry het nie.  Op jou eie, dink jy net nie só nie.

Ja, het ons getroos, dis hoekom daar kerke en gemeentes is, sodat mense saam kan leer dink, kan leer dink oor en dink soos God.  En buitendien moes ons die ontnugtering seker te wagte gewees het.  Die Bybel sê dit tog oor en oor ons kan nie soos God dink nie.  Ons denke is verfonkfaai. Die Bybel noem ons “dwaas,” sê ons is van nature sondig.  Die koppies raas.  Dog, op ʼn dag as dit jou tref dat jy oorbluf is as God onthul hoe ver ons denke tekortskiet en hoe ver verkeerd ons gedagtegang gaan draai, vervies dit jou.  Hoe kan ons die Bybel hê, en tog so verkeerd wees?  Ons kén die Bybel mos.  Ons wil die Bybel kan verstaan ook.

Regtig?  Verstaan: die Bybel, en vir God, verstaan?

Dit het nou Woensdagaand met ons gebeur oor ʼn randeiersaak, ʼn heel middelmatige saak, ʼn etiese kwessie wat aan ons verlossing absoluut geen verskil maak nie.  Dis ʼn beuselagtigheid, soos al dié kleinigheidjies waarteen die Bybel waarsku ons ons tog nie moet vasloop nie.  Dit maak tog geen verskil nie. Maar selfs daardie insig – dat ʼn kleinigheid regtig nie so belangrik is as wat ons dit wil maak nie – is al onderskeidingsvermoë, en om dié dinge waarop dit regtig vir God aankom, te kan onderskei, dis al ʼn gawe van die Heilige Gees.  Onderskeiding is ʼn manier van glo.

Sien jy wat doen ons?  Ons gebruik geloof en geloofsgoed sonder dat ons meer agterkom ons werk met wonders. Onderskeidingsvermoë, dat jy kan agterkom wat wesenlik is en wat min saakmaak, is God wat jou leer dink.  Dis God wat jou fokus, dis God wat in jou denke die deurslag gee.

Verstaan jy die opstanding?

Selfs al antwoord jy ja, jy verstaan, dat ʼn biologiese wese wat ná doodgaan en  natuurlikerwys moes verrot en vergaan, maar toe teen alle ervaring en ondervinding in, teen aanvaarde wetenskap in wat werk met waarneming en herhaalbare toetsing, teen alle feitbegronde waarheid en moontlike werklikheid in, opstaan en leef, is ʼn uitklophou.  Niks anders as geloof gaan jou laat sê “ja, ek verstaan opstanding” nie.  Ervaring bekragtig dit tog nie.  Normale denke bevestig dit ook nie. Net geloof oortuig jou daarvan.

Maar verstaan jy opstanding soos wat jy ander goed verstaan?  Kan jy dit verduidelik?  Kan jy dit verklaar?  Miskien, soos die dissipels by die graf, kan jy net getuig van wat jy sien, en selfs dan is jy op dun ys, want eintlik sê jy wat jy nie sien nie.  Soos nou die dag se “foto” van die groot swart gat in die ruimte:  Jy sien hom want jy sien eintlik niks.

Verstaan jy?  Hoef ons te verstaan voor ons glo?  Hoef dit ons te ontstel as ons ons vasloop teen goed oor God wat ons nie kan begryp nie?

Thomas het getwyfel.  Thomas was daaroor eerlik.  Toe hy hoor Jesus leef en het besoek kom aflê, sê hy oor sy dooie liggaam glo hy dié storie.  Hy sal aan Jesus moet kan vat voor hy dit sluk. Hy het toe ook.  “My Here en my God!” sê Thomas toe, sy oë hier grondlangs. En Jesus antwoord hom toe mos:  Glo jy oor jy gesien het?  Ouens wat nie gesien het nie, het nog meer genade nodig om dit te kan glo.  Nog ʼn wonderwerk van God is daarvoor nodig.

Maria Magdalena kom by die dissipels aan en vertel:

“Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom nou begrawe het nie.”

Die harde realiteit daarvan is dit:  Jesus se lyk lê nie meer waar ons hom Vrydagmiddag gaan begrawe het nie.  Spekulatief is dat iemand die graf geskend en die oorskot weggedra het.  Maar hoe anders verklaar jy dit?  Lyke loop nie rond nie.  Waarheen hulle dus met die liggaam is, dit weet niemand.

Petrus en Johannes gaan kyk. Hier is wat hulle sien:

  • Johannes kan vinniger hardloop as Petrus. Hoekom dit relevant is, weet net Johannes.
  • Johannes kom eerste by die graf. Hy buk.  Hy kyk in; hy gaan nie in nie want goeie Jode gaan nie in grafte in nie, dit maak jou onrein.
  • Petrus skeel hom min aan reinigingsreëls. Dit buitengewone omstandighede, en buitengewone omstandighede verg buitengewone maatreëls. Dis seker die eerste insig wat Petrus van die opstanding kry:  Daar is dinge wat van wesenlike belang is, en dan is daar die bysake.  Petrus bars in.
  • Petrus sien doeke lê, ook die doek wat hy herken om Jesus se kop Dié doek lê eenkant, afsonderlik opgerol.  Dalk was die ander doeke ook netjies opgevou?  Hy lei af: Jesus is sonder sy doeke hier weg.  Sy begrafnisdoeke is met sorg afgehaal, daar lê hulle. Geen geweld nie, dus.

Beteken dit Petrus verstaan al wat aan die gang is?  Nee, ek dink nie so nie. Daar is geen beduidenis van nie.

Dan kom Johannes ook die grafgrot in.  Hy sien ook wat Petrus gesien het.  Verstaan Johannes?  Ook nie.  Wat is daar tog meer om te verstaan as wat die blote oog kan sien?

Dan skryf Johannes in sy evangelie: Johannes het geglo.

Wat presies dit is wat Johannes geglo het, skryf hy nie neer nie.  Hy “glo” net.

Wat ek leer is:  Jy kan glo sonder om te verstaan.  Om die waarheid te sê, jy verstaan nooit regtig alles wat jy glo nie.  “Verstaan” veronderstel jy weet presies wat gebeur het, én hoe én hoekom.  Geloof gebruik ander gereedskap as “weet” en verstaan.  Jy staan verward voor die werklikheid wat jy op geen manier met die wetenskap kan verklaar nie, en jy glo iets waarby jy nooit self sou uitgekom het nie.

Verstaan ons al die opstanding uit die dood?  Daar is geen manier dat jy dit verklaar kry nie, en geen manier waarop jy dit gaan kan bewys nie.  Wetenskap is hierdie nie.  Verhewe menslike denkprestasie, “diep” soos ons dit noem, is hierdie ook nie.  “Malligheid” is dalk ʼn beter beskrywing.

Ons gló dit.  Ons glo dit onwrikbaar.  Ons glo in Jesus Christus wat op die derde dag na Hy aan die kruis dood is, uit die dood uit opgestaan het.

Maar “verstaan” is ʼn te optimistiese woord, “verstaan” is gans te selfversekerd.

Dis ons probleem:  Ons verstaan nog nie eers hierdie een basiese waarheid waarvan alle geloof afhang nie.  Ons lewe hang af van wat hier gebeur het, maar ons kan nie voorgee ons weet wat hier aangaan nie.  Ons staan in ʼn grafgrot, ons kyk deur die oë van Petrus en Johannes.  Dis leeg hier, hier’s geen lyk nie, net die doeke.  Verstaan ons of Johannes dit?  Johannes sien dit darem, of liewer, vir Jesus sien hy juis nie.  Maar verstaan Johannes?  Nee.  Johannes glo.

Hoekom raak ons ontsteld as ons ʼn paar tekste oor randeiersake nie gekop kry nie, daar is tog veel belangriker goed wat ons nog nie van God verstaan nie!

Wat kom eerste: begrip of geloof?  As “verstaan” beteken jy moet iets kan ontleed en verklaar, is “verstaan” nie eens naastenby wat ons vandag hier met die opstanding uit die dood probeer regkry nie.  Ons glo. As ons die hoender-en-eier-argument vir begrip en geloof moet gebruik, kom begrip tweede.  Vir God glo jy, jy verstaan Hom nie.  En dis daar, op sulke rare oomblikke wanneer jy erken dat jou denke doodloop, wanneer jy moedeloos vra:  “Maar hoe moes ek dit geweet het?”, of “Maar ek sou nooit daarby uitgekom het nie!” dat jy moet opkyk en oorweeg om te sê: “Hallo, Here!”  Want dan is Hy hier, en is hierdie sy openbaring aan jou.

As ons hierdie hoeksteen van geloof, die opstanding van Jesus Christus, nog nie eens kan verstaan nie, moenie verwag dat jy kleinighede soos watter mense onder ons hel toe gaan en wie nie, en watter gedrag goed is en wat sleg, gaan kan regkry nie.  Moet ook nie skrik as jy iets nuuts oor God uitvind nie, al gooi dit jou appelkar om.   Moenie van jouself te veel dink nie:  Wat jy weet, is maar ʼn gebreekte spieël vol raaisels wat jy self weer probeer aanmekaarsit soos die roosruit van Notre Dame.  Die kanse dat ʼn sondaar oor God reg is, is skraal.  Die idee dat jy van God alles weet wat daar te wete is, is sonde.

Kyk wat staan in net die volgende vers, nadat Johannes gesien het en begin glo het.  Nou eers staan dit daar.  Nou eers kom “verstaan” ter sprake.  En wat daar staan, klink vir my is die teenoorgestelde van egte verstaan:

Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.

Hulle, wel Johannes darem, glo al.  Maar van wat hy glo, verstaan hy nog maar weinig.

Skyfie: Hoender of eier?  Begrip of geloof? Anders gesê: Ek verstaan nie! 

Daar flik-flik-flikker ʼn liggie in jou kop, soos die irriterende traagheid van ʼn neonlig om aan te kom. Ja, dit frustreer, maar dis hoe God vir jou die Lig aansteek wat eindelik alle donker gaan uitdruk.

Leef intussen maar met jou flikkerlig saam.  Jou kop is die gevegsfront tussen sonde en God.  En elke keer as jy sê “ek glo, al verstaan ek nog nie, ek glo en ek wil leer verstaan,” gee God jou liggie gas.  Moet jou nie ontstel oor wat jy nie verstaan nie.  Wat jy moet weet, wat saakmaak vir saligheid, dit weet selfs kindertjies al.  Jesus sê so.  Eenvoudige mense kry dit onder die knie, jy het nie geleerdheid daarvoor nodig nie.  En die res van die goed wat in die Bybel staan, dan – dis nou die goed wat geen verskil gaan maak aan of ons kinders van God is of nie – wat daarvan?  Wel, die res van die vrae wat ons het, het die geneigdheid om met verdrag by ons op te kom, en die antwoorde staan daar iewers in die Bybel, ten minste darem in breë trekke, of darem min of meer.  Ons is later verras ons het dit nie vantevore daar agtergekom nie.

Dat Jesus leef, leer ons die oomblik as Johannes sien wat Petrus sien, en Johannes, anders as Petrus, glo.  Vir party van ons gaan dit dalk moet oorstaan tot volgende week, as Thomas ook hier is.

Glo. Verstaan kom dalk later. Maar nou: Glo!

(Anders gesê, met die tong in die kies: Wees effens slimmer as hoenders en dwase wat nie eers weet waar hulle en hulle eiers vandaankom nie.)

Amen.

Skyfie: Staan op. Sing. Gesang 190 : 1, 2 en 3. Bokant ons begrip, verstand: God.   

Kom ons bring eer aan die God.  God is ver bokant ons begrip en verstand. Loof God net, al verstaan jy God nie.

Sang (Staan)

Gesang 190 :  1, 2 en 3.

WEGSENDING

Predikant

Skyfie: Seën. Staan. II Timoteus 2. Dink na.  Die Here sal jou insig gee.  

Seën (Staan)

Ontvang die seën van die Here uit II Timoteus 2.

7        

Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan.

8        

Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig.

Amen.

Skyfie: Ons antwoord. Staan. Gesang 313 twee keer. Laat dit gebeur! Amen!  

Respons (Staan)

Gesang 313 twee keer.

Skyfie: Hoender of eier?  Begrip of geloof? Anders gesê:  Ek verstaan nie!

Afkondigings

Skyfie: Hoender of eier?  Begrip of geloof?  Anders gesê: Ek verstaan nie!  Transkripsie: https://hennielagrange.wordpress.com/

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

One thought on “Hoender of eier: Begrip of geloof?

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.