La’t waai! Lawaai! 

Sê nou net die Heilige Gees is hier uitgestort, oor ons.

Hoe sou dit wees?

Wat sou met ons gebeur?

Wat sou ons doen?

En sou daar ʼn kerk van gekom het?

Dis julle wat die wind . . . laat waai!

Handelinge 2 : 1 tot 14, o.a.

20 Mei 2018, NHKA Kampersrus

Pinkster. Doop.


 

Liedere in hierdie erediens

 

Psalm 100 : 1, 2, 3

Gesang 165 : 1, 2

Psalm 40 strofes 1, 4, 8 en 13

Gesang 215 strofes 1, 2 en 3

Gesang 285 : 1 en 2

Gesang 256 : 1 en 2

Gesang 290 : 1 en 4

Gesang 433 strofes 1, 2, 3 en 4

Gesang 524 : 2


 

Foto: Mariepskop

PREDIKANT

Toetrede

Kom ons span vandag ons verbeelding in.

Sê nou net die Heilige Gees. . .

Sê nou net die Heilige Gees is hier uitgestort, oor ons.

Hoe sou dit wees?  Wat sou met ons gebeur?  Wat sou ons doen?  En sou daar ʼn kerk van gekom het?

Sing. Staan. Psalm 100 : 1, 2, 3

Ek vermoed dit sou ons blý maak.  Kom ons wees bly en sê dit ook met ons toetredelied.  Kom ons sing staande saam      

Sang (Sit)

Psalm 100 strofes 1, 2 en 3

PREDIKANT

Toetrede

Votum en Seën. Staan. Daarom is my hart bly en my tong jubel. . .

Votum en Seën (Staan)

25      

“Ek het die Here altyd voor oë. Hy is aan my regterhand; ek sal nie wankel nie.

26      

Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe,

27      

want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

28      

U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul.

Handelinge 2

OUDERLING

Lof en Aanbidding

Sing. Staan. Gesang 165 : 1, 2

Kom ons sing oor die vreugde om kerk toe te mag kom.

Lofsang (Staan)

Gesang 165 strofes 1 en 2

Die wil van God. Sit. Handelinge 1 : 4 tot 8.

Die Wil van God (Sit)

Luister na wat Jesus sy dissipels beveel het om te doen, uit Handelinge 1 : 4-8:

4        

Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.

5        

Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6        

Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7        

Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie.

8        

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Nabetragting oor die wil van God

Sing. Sit. Psalm 40 strofes 1, 4, 8 en 13

Eers met ons doop, en toe met die Heilige Gees het God Homself op ons ingeënt, sy woord diep op ons ingegrif.  Ons hoef nie alles te weet nie, maar ons weet dit: Ons sal die gawe van die Heilige Gees ontvang, en die krag om getuies te wees.  Sit en sing dit saam uit

Sang (Sit)

Psalm 40 strofes 1, 4, 8 en 13

Geloofsbelydenis. Sit. Handelinge 3 : 13 tot 26.

Geloofsbelydenis (Sit)

As belydenis van ons geloof gebruik ons vandag Petrus se preek in die Pilaargang van Salomo.  Die Pilaargang was ʼn deel van die tempelkompleks in Jerusalem. Petrus preek dit net na hy ʼn lam man laat opstaan en loop het. So sê

Handelinge 3

13      

Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee – aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe [Pilatus] beslis het dat Hy [Jesus] vrygelaat moes word.

14      

[Jesus] was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle ‘n moordenaar begenadig moet word.

15      

So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies.

16      

Deur die geloof in sy Naam het [Jesus] die bene van hierdie [verlamde] man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van [Jesus] kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.

17      

“Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het.

18      

Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur.

19      

Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.

20      

En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is.

21      

Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê.

AMEN

Sing. Sit. Gesang 215 strofes 1, 2 en 3

Kom ons besing die lof van Jesus saam uit

Sang (Sit)

Gesang 215 strofes 1, 2 en 3.  Laat heeltemal deurspeel na die einde van strofe 3!

PREDIKANT

Lof en Aanbidding

Bid.

Gebed

Oor

  • plaasmoorde,
  • die verkrummelende kerk,
  • oeste
  • liefde

Sing. Sit. Gesang 285 : 1 en 2.

Kom ons sing en vra God, terwyl ons bly sit, om ons kleingeloof te vergewe, ons standvastig te maak, en ons sy krag te gee.  En daarmee, sê ons, sal ons leef om die Here te loof, en elke dag ywerig gehoorsaam wees.

Sing (Sit)

Gesang 285 strofes 1 en 2   

PREDIKANT

Verkondiging

Skriflesing. Sit. Handelinge 2 : 1 tot 14 (bl.161)

Skriflesing

Ons lees Handelinge 2 verse 1 tot 14, bladsy 161 van die Nuwe Testament.

Handelinge 2 : 1 tot 14

1        

Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar.

2        

Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het.

3        

Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.

4        

Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

5        

Daar het godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon.

6        

Toe die mense die geluid hoor, het ‘n groot skare saamgedrom. En omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word, het hulle nie geweet hoe hulle dit het nie.

7        

Verras en verbaas sê hulle toe: “Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs.

8        

Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal?

9        

Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië,

10      

Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome,

11      

Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

12      

Hulle was almal verbaas en uit die veld geslaan. Party het vir mekaar gevra: “Wat kan dit tog beteken?”

13      

Maar party het gespot en gesê: “Hulle is dronk.”

14      

Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê:. . .”

Handelinge 4 : 20. Wat ons betref. . .

Petrus preek toe oor Jesus.  Kort daarna is Petrus in hegtenis geneem om sy mond te snoer.

Handelinge 4

18      

Die Raad [het] die apostels . . . beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie.

19      

Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God.

20      

Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Sing. Sit. Gesang 256 : 1 en 2

Kom ons getuig dit ook weer ʼn keer:  Dat Jesus ons Verlosser is.

Sang (Sit)

Gesang 256 strofes 1 en 2

Sê nou net dit gebeur met ons. . .  

Prediking (Sit)

Sê nou net die Heilige Gees is hier uitgestort, oor ons.

Gestel dit was die eerste keer, soos destyds regtig gebeur het daar in Jerusalem.

En kom ons verbeel ons dit gebeur op min of meer dieselfde manier as toe.

Die kruisiging.

Ons het vyftig dae gelede vir Jesus met ons eie oë gesien doodgaan, aan ʼn kruis, hier op Mariepskop.  Waar’s dit?, vra die nuusleser van Laeveld FM.  In die Klein Drakensberg naby Hoedspruit, mos.  Maar vir Hoedspruit kry jy nie eers op plaaslike padpredikante nie, en nog minder op ʼn wêreldkaart van beroemdste stede.  Kampersrus kry jy beswaarlik op Google Maps.  Maar hierdie ding sit die soektog op loop.

Geweld is vermaak, sien, en ʼn klomp mense het kom selfies neem met die kruis in die agtergrond, en ʼn paar uur later, na die onweer, toe die selfoonsein beter is, het die grillerige video’s op facebook die ronde begin doen.  Die middag was onplesierig, sommer donker van ʼn storm, en net ʼn paar bittereinders het oorgebly vir die laaste asem.

Om die dood so in die oë te kyk, maak jou lus, en dors en honger vir lewe.  Maar hier by ons was nie toebroodjies nie.  Dit was goed vir die plaaslike ekonomie, want ʼn klompie het hier onder in die kroeg, op die koffiestoep en by die restourante gaan skuiling en versterking soek. Nou nie heeltemal so goed vir besigheid as wat troues vir Windsor is nie,  maar dis darem ook nou nie asof ons hier met die een of ander koning of prins te make gehad het nie, nè?

Die begrafnis.

Net die NHSV-bestuur het agtergebly, en agternageloop toe ʼn stoet die lyk begraafplaas toe vat.  Iemand hier het sy eie bespreekte graf geskenk.  Niemand het gebodder met AVBOB nie.  Ons wou dit maar agter die rug kry.

Die opstanding.

ʼn Handjievol gemeentelede was die Sondag hier by die kerk – die meerderheid het aanvaar dis klaar met kerk, en het nie die moeite gedoen nie – toe Jesus hier opdaag en sê Hy het regtig lus vir iets te ete, het ons nie van die Lapa se wildpasteie hier nie?

Ons het ons aan sy seerplekke vergaap.

Dat ons net eers tot verhaal kan kom.

Vir veertig dae nou al kom en gaan Hy, vertel en verduidelik Hy, bring Hy kloutjies by oortjies en laat Hy die Ou en Nuwe Testamente vir ons nuwe wêrelde oopdek.  Dit kliek toe.  Elke dag was daar iets anders wat skielik sin maak: gebeure, gelykenisse, geselsies en grappies, preke en partytjies.  Dit was of alles sommer bymekaarkom.

Ons het eenmaal saam iets vir die pot gaan skiet, en Hy het in die kamp gewag, sommer self ʼn vuurtjie gestook en die vleis gebraai.  Vir party van ons het Hy eenkant toe gevat om ʼn krapperigheid om te klink.

Dit was lekker.  God by ons soos nog nooit.

Maar Hy het nou letterlik gekom en gegaan, verskyn en verdwyn, sodat ons Hom nie meer soos altyd kon agternasit nie.  Ook nie sommer kon vat en vashou nie.  Ons het gerugte gehoor Hy was selfs Bosbokrand toe.  Die mense het kom vertel Hy het vir hulle nagmaal daar bedien.

Veertig dae later, toe ons begin gemaklik raak met Hom hier by ons, en dink dit gaan vir ewig so aanhou, begin Hy praat van weggaan, maar Hy sal ons nie alleen los nie.

Ons kry werk. 

Hy begin toe werk uitdeel.

  • Vir Simon Petrus sê Hy hy moet ons lei.
  • Vir die res van ons sê Hy ons moet oor Hom begin praat met almal om ons. Mense sal kom luister, belowe Hy.
  • Ons moet sulke mense se sonde hulle vergewe, sonder om te bekommer of God saamstem, want God wil alle mense vergewe.
  • Ons moet mense doop. . .

Gaan doop mense! 

Wisselformulier vir die bediening van die doop (Sit)

God het ons lief en ons is sy kinders lank voordat ons van God bewus raak. Dit word deur die doop bevestig. Die doop is een van die kerk se twee sakramente. Dit gee sigbaar uitdrukking aan God se verbond met ons. Die doop getuig dat ons deel het aan die liggaam van Jesus Christus op grond van sy versoeningsdood en die werk van die Heilige Gees. Die genade van God, die liefde van Jesus Christus en die gemeenskap met die Heilige Gees het betekenis vir ons hele lewe. Daarom doop die kerk kinders van God. Die doop van hierdie kind van God herinner ons vandag opnuut aan ons eie doop.

Ons glo dat die Kerk die opdrag uit die evangelie het om mense in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees te doop. Die doop in die Naam van die Vader getuig van ons nuwe verhouding met God. Die doop in die Naam van die Seun bevestig aan ons die verlossing deur Christus. Die doop in die Naam van die Heilige Gees is die waarborg dat die Gees van God in ons wil bly en voortdurend ons lewe nuut maak.

Die doop roep ons op om God lief te hê. Dit is belangrik dat gelowiges die betekenis van hulle doop sal uitlewe. Ouers en die gemeente moet daarom hulle kinders leer wat die doop beteken. Ons kinders behoort in die lewe van die gemeenskap van gelowiges te ervaar wat dit beteken om aan God te behoort.

Henro Charles Möller. Gaan doop mense!

Die moeder, Lianie Möller, word nou versoek om na vore te kom en hier in teenwoordigheid van God en die gemeente, eerlik op die volgende vrae te antwoord:

Cornelia Möller (Lianie),

  1. Glo u dat ons en ons kinders ondanks ons sonde deur God in genade aangeneem is?
  2. Glo u dat die evangelie alles bekend maak wat nodig is vir ons verlossing, soos belig in ons belydenis?
  3. Belowe u om u kind te leer wat die doop beteken en te laat grootword in die geloofsgemeenskap van Christus?*

Wat is hierop u antwoord? Ja.

Henro Charles Möller, ek doop jou in die Naam van

  • die Vader,
  • die Seun en
  • die Heilige Gees.

Amen.

Sing. Staan. Gesang 290 : 1 en 4

Kom ons bid deur op te staan, as u kan en wil, en saam te sing uit

Sing (Staan) Dankgebed na die doop

Gesang 290 : 1 en 4

Gaan hê mense lief.  Gaan maak vriende en familie.  Daar sal ʼn kerk van kom.

Prediking (Sit)

Maar daar was ander opdragte ook.  Jesus het gesê:

  • Ons moet mense liefhê. Vir sterk, wrede, sondige en vreemde mans moet ons liefhê soos vir kindertjies.
  • Vir slegte, sedelose en volksvreemde vroue, moet ons liefhê soos vir eie familie. Want hulle is klaar God se familie, nes ons.
  • Ons moet almal van ons saam nou en dan saam eet.
  • Daar sal ʼn kerk van kom, sê Hy toe. Uit al hierdie liefde, gepreek- en gedopery sal daar ʼn gemeente kom, soos ʼn kuddetjie skape, met ʼn Goeie Herder.  Hulle sal maar broos wees en uitgelewer.  Ons moet mooi vir hulle sorg, hulle oppas.
  • Maklik sal dit nie wees nie. Kyk na my hande en my sy, het Hy gesê, om ons te herinner. As hulle met My so te werk gegaan het, gaan hulle julle ook gas gee.
  • As ons hier wag, sal Hy vir ons krag stuur. Ons sal kan agterkom ons is nie aan ons eie lot oorgelaat nie.

Ons het nog so gestaan en gesels, toe verdwyn Hy weer, nes mis voor die son.

Tien dae wag ons nou al.

Geluide en gesigte van wind en vonke.

Daar gebeur ʼn vreemde ding.  Ons hoor ʼn wind soos wat die wind net hier om Mariepskop klink.  Maar baie erger.  En tog roer daar nie ʼn blaar nie.

Tot in Hoedspruit hoor mense die wind, kyk op en dink ʼn ramp tref Kampersrus, en die Plaaswag en sorgsames en ʼn skare nuuskieriges vat almal pad hiernatoe.

Dan spat die vonke.  Iets soos ʼn kosmiese kortsluiting, skouspelagtig soos die grafiese kunstenaars van die Star Wars-flieke dit nie kan namaak nie,  bars hier in die kerk om ons los.  Iets soos vuur, hoe anders kan ʼn mens dit beskryf?, verdeel in  afsonderlike vlamme, en kry koers na elkeen van ons wat hier sit afsonderlik toe, raak aan almal van ons, gaan – by die mond? – in ons in.

Ons praat Grieks!

Net toe, kom die eerste toeskouers hier aan.  Hulle wil weet wat aan die gang is.  En ons begin praat, in Afrikaans, en Engels.  As daar Shangaansprekendes hier aankom, slaan ons Shangaan toe oor.  Maar daar is van orals uit Suid-Afrika mense hier, en ons praat al elf tale vlot.  Portugees met die Mosambiekers ook.  Daar is Europeërs mos, wat hier bly, en ʼn klomp wat net vakansie hou, en ons praat met hulle Duits en Nederlands, Sweeds en Frans, Spaans en Italiaans  asof dit ons moedertaal is.  Die Japannese se langlenskameras kry ons almal in skoot: facebook hier kom ons alweer.    Die Sjinese kom naderhand toerbusvragte vol hier aan.  Ons is byna so besienswaardig soos renosters in die Krugerwildtuin.

Rapport:  “Hervormers vroeg in die môre al dronk by die kerk: Dis glo alles God se skuld!”

Die klomp besoekers weet nie hoe hulle dit met ons het nie.  Maar dis ons eie mense wat uit die veld geslaan is.  Ons is tog Hervormdes, of hoe?  En súlke uitspattige vertoon is tog nie hoe ons dinge doen nie. . .  “Wat op aarde het oor hierdie Hervormers se lewe geloop?” gaan die Beeld môreoggend in vet letters vra. Die fone lui in Pretoria.  Die Ringskommissie gaan self moet ry en kom kyk.

ʼn Gerug doen die ronde, en teen volgende Sondag staan met volkleurfoto’s op die agterblad van Rapport:  Òf ons was nog nie nugter van die vorige nag se gefuif nie, of ons moet tog maar vir volgende keer onthou: Nes ʼn mens met die besprinkelingsdoop net ʼn ou klein bietjie water gebruik, so hou mens Nagmaal ook met net een ou sopie soetwyn elk, nie vir elkeen ʼn hele beker vol nie, nè?  Zapiro teken ons stormdronk met ʼn wynvat op die tafel.  En die volk kug beleef om weg te steek hoe hulle ons kopskuddend uitlag.

En so oor twee weke is alles weer vergete.

Behalwe dat ons so uitermate vriendelik is.  Ons is so goed vir mekaar en vir ander, selfs vir ons vyande voer ons.  Ons kry weer daai verlore reputasie van goeie Afrikanergasvryheid, mensliewendheid, sagmoedigheid wat ons kwistig en sonder onderskeid aan almal uitdeel wat ons teëkom.  En niks kry vir ons stil nie:  Ons práát, ons préék.

“Wat kan dit tog beteken?” Wel, ons dink God het in ons ingeklim.

Dié dat daar hier en daar iemand wat weet hoe ons eens was, verbaas vra:  “Wat kan dit tog beteken?” Julle tree teenoorgesteld op as hoe ons julle ken. En dis vir húlle dat ons dan, self maar ʼn bietjie oorbluf, moet sê:

Hierdie is nie meer ons nie.  Dit moet God wees.  Ons begin dink God het in ons ingeklim. Wat anders? 

Dit laat die giggelendes aan hulle kuggies stik.  Nou lag hulle sommer uit die maag uit, openlik.  Ons is in die bol gepik, spot hulle.

Die gety gaan teen ons draai.

En ons, gaan ons aanhou praat en preek terwyl ons uitgelag word?  Dít verg al moed.  Wag maar tot die mense snap wat jy eintlik sê is dat hulle vir God se Seun hier op Mariepskop kom vermoor het, en God het Hom opgewek, dán gaan jy ʼn ding sien:  Dis dan dat die gelag betaal gaan word, want hulle gaan vir ons hof toe sleep oor laster, en al meer mense gaan ons skeef begin aankyk, nie bietjie vies nie.  Hulle gaan ons in hegtenis laat neem, ons met die dood dreig. Selfs in hierdie land met sy heilige godsdiens- en mediavryheidkoeie gaan hulle vir ons weens iets soos haatspraak opsluit.  Ons gaan te ver. Ons gaan vir vryheid boet.

Hulle gaan ons nog in die strate met klippe kom doodgooi, sê ek jou. Van ons gaan nog moet vlug, landuit selfs.

Dit moet julle weet: Ons gaan geld verloor.  Werkgewers gaan ons afdank soos die DA vir De Lille.  Ondersteuners gaan wil afstand skep asof ons met die krieketbal gelol het.  Gesaghebbers gaan ons goed en ons grond gryp, want ons gaan maklike teikens word.  Kriminele liefde, onmoontlike liefde, liefde wat te ver gaan, daarmee gaan hulle ons uitvang en ons uitroei.

Dit gaan ons nog ruïneer, want liefde en diens aan vriend en vyand, barmhartigheid, deernis, vergifnis en begrip is nie en was ook nog nooit goeie politiek nie, goeie werksetiek of goeie besigheid nie, en ook nie eers beginselvaste en wetsonderhoudende godsdiens nie.  Ons gaan alle geloofwaardigheid prysgee.  As ons nietemin met geloof gaan deurdruk, kan julle nou maar weet, sal ons mekaar moet begin help, baie meer as nou.  Om ons deur te haal sal ons moet kan begin reken op ʼn veel hegter onderlinge gemeenskap as wat ons is.

Maar die gepreek en gepraat self, juis dit was ons hier is om te doen, net dit lei al tot skade.  Om willens en wetens met kerk en owerheid te gaan swaarde kruis deur te volhard in hierdie Jesusdiens, gaan hulle ons vervolging laat opskerp.  Om dan nog aan te hou tot net meer nadeel vir die gemeente, is tog mos malligheid?  Gaan ons mekaar keer of aanmoedig om oor Jesus te praat?  Is taktvolle stomheid nie ʼn beter taktiek nie, is om laag te lê ter wille van oorlewing in ʼn toenemend vyandige omgewing, nie beter nie?  Of gaan ons mekaar begin verwyt as die gepraat die lewe vir ons almal net moeiliker maak? Watter nut het dit dat ons álmal nou so ʼn sukkelbestaan sal voer?

Tot nádeel van die gemeente?  Baat dit ons dan niks nie? Ons sal weer moet koppe bymekaarsit.  Is hoe ons nou is, die offers wat dit verg werd?  Waarmee is ons nou regtig besig:  Geloof of goeie burgerskap?  God of politiek?  Kerk of kultuur? Daarvan gaan afhang of ons gaan aanhou nek uitsteek.  Vir wie gehoorsaam ons nou: God of gepeupel?

Die angel sit in die ding se stert.

Nou eers slaan dit ons voete onder ons uit:  Die nasleep van hierdie ding.  Die angel sit in die stert.  Ons moet aanhou, volhou, vasbyt, tot lank na die verwondering oor wat met ons gebeur het, verander in ʼn gewonder of ons ons al’s verbeel het.

Hier kom al hoe meer mense aan.  Vreemdes én vreemdsoortiges.  Snaaks, maar dis nie die aangenames en ordentlikes wat agterbly as dit rof raak nie.  Dis die mense oor wie ons ons in die verlede sou skaam om te moet sê: Ja, hulle kerk hier by ons.  Armes, in baie opsigte.  Hulle wil aansluit.  Hulle sien, kans, en voel hulle het nie veel te verloor nie.  Wat hulle nog het, dié gaan verkoop hulle en deel die opbrengs onder ons uit.  Ons eet elke aand aan iemand anders se tafel, slaap elke aand veilig onder iemand anders se dak.  Hulle kuier, hulle hang aan ons lippe, hulle wil alles van Jesus weet.  Ons het self gewonder of dit ook maar weer sal verbygaan, net so onverwags soos dit alles begin het.  Maar nee, dit hou aan.  Die wind-en-vuur-ding gebeur nog ʼn paar keer, so hoor ons, nes dit met ons ook gebeur het.  Die gemeente groei, die duisende in.

Die owerheid oorweeg al hoe meer skerppuntammunisie om ons in toom te kry.

Hoe is dit tot ons voordeel?  Nee, ek weet nie.  Of liewer, ek is nie altyd so seker nie.  Maar ons lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

Gaan ons kan uithou en aanhou?  Is kerk volhoubaar?

Die ding dat Jesus dood was en leef, kry ons net nie uit ons koppe uit nie.  Dit dryf ons, dit dwing ons.

Die vraag wat ek vandag vra is:  Gaan dit hou?  Gaan ons kan volhou met geloof en uithou met die gevolge?  Is geloof self al volhoubaar in ʼn tyd van wetenskap en tegnologie?  Is gemeentewees, gemeenskaplik leef in ʼn tyd van selfsug en indiwidualisme, eiebelang en mensereg, nog moontlik?  As dit moontlik is, is dit regtig nog gewens of hopeloos verouderd en uitgedien?  Is gemeentes beste praktyk?

Is hoe ons hier gelowiges is, nog so driftig soos vroeër?  Is ons liefde nog so genadegedrewe? Is ons gemeente ʼn stad op ʼn berg, of ʼn gekamoefleerde wegkruipplek, ʼn laaste loopgraaf teen die oormag?

Sê nou maar dit was ons, hier. . . 

Sê nou maar dit was ons, hier met wie dit alles gebeur het. . .

Weet jy wat?

Dit het met ons gebeur.  Dit het hier gebeur.   

Dit is ons, hier.  Dit het alles met ons gebeur.

Jesus Christus is vir ons sondes gestraf.

Ons lewe word begeesterd deur die Heilige Gees.

God is ons Pa.

As Petrus en Johannes gesê het hulle kan net aan God gehoorsaam wees, kom wat wil, hulle móét praat, as dit is hoe mense maak op wie die Heilige Gees uitgestort is, dan is praat vir ons nie meer ʼn opsie nie, maar ʼn verpligting.

Genadiglik staan niemand ons hier buite met skerpgemaakte messe, bomme of AK47’s en inwag nie.  Nog nie.  Maar daar is ook niemand wat ek kan sien wat gretig wag om te hoor wat vandag hier binne met ons gebeur het nie.

Ek sien geen vuur nie.  Ek hoor geen wind nie.  Nie vandag nie.  Nog nie.

Daar is ʼn Afrikaanse liedjie wat ons nie gewoonlik in die kerk sing nie, wat hier nogal gepas sou kon wees:

Dis julle wat die wind. . . Laat waai!   

Dis julle wat die wind,

Dis julle wat die wind     

Dis julle wat die wind laat waai. . .    

Laat waai.  La’t waai!  Kom ons gaan maak ʼn lawaai.

Amen.

Sing. Staan. Gesang 433 strofes 1, 2, 3 en 4

Sing staande saam ons slotlied, ʼn lied wat vra dat God die Heilige Gees na ons toe sal kom en in ons die nuwe droom van God se kerk sal laat gebeur.

Sang (Staan)

Gesang 433 strofes 1, 2, 3 en 4

Seën. Staan. Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.

Seën (Bly staan)

Die Here seën ons uit Handelinge 4.

27      

“Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is,

28      

en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het.

 

29      

“En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig.

30      

Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.”

31      

Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.

Amen.

Respons. Sing. Staan. Gesang 524 : 2

Respons. Sing. (Staan)

Gesang 524 strofe 2

Dis julle wat die wind… Laat waai!   

DIAKENS

Dankoffers

Laaste skyfie terwyl mense opstaan en uitloop

Doopbediening

 

Moeder:  Cornelia Möller (Lianie); geboortedatum – 23 Aug. 1985

Vader (Afwesig):  Charles Gordon Emsli Möller; geboortedatum – 29 April 1987

Dopeling:  Henro Charles Möller; geboortedatum – 30 Januarie 2017

 

 

Advertisements

2 thoughts on “La’t waai! Lawaai! 

  1. Ek kan nie help om te glimlag terwyl ek jou preek lees nie, maar ek weet dat dit nie die doel is nie en ek stem in beginsel met alles saam. In beginsel maar ek hoor nie die eggo van die lawaai wat ek maak nie dalk a.g.v. die ego?

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.