Musiek maak

Oor musiek is al baie gesê.

Dat dit taal is wat almal verstaan, hartstaal.

Dit roer, en beweeg jou.  Dis rewolusionêr, opruiend, woedend en skoorsoekend.  En dis sagkens strelend, ritmies beweeglik, lyflik-lekker en heimlik verlangend, heilig aanbiddend.  Musiek is onthougoed, heimwee en huilweer. Dis tegelyk oud en jonk. Die temaliedere van jou lewe se tydgleuwe roep herinneringe op, en skielik is jy weer daar, weer soos toe, gegrief, gelukkig, geliefd, gelos, gesout en gedaan.  Musiek doen met jou die goed sonder dat jy vra.  Radio se speellyste trek onverwags jou lewe deur, en sleep vir jou saam.

Dis waar dat musiek kuns is, een wat ek so spyt is ek nie self geleer skep het nie.  Dog dalk ook goed, want nou het ek daarvoor nog groter agting en hoër waardering.  Daai lang druppels wat soos voeltjies aan telefoondrade hang, bly my ontwyk, en my patetiese onvermoë kweek ontsag vir enigeen wat daai voëltjiekoortjies kan laat sing.

Dis kuns, die fynste van die kunste.  Daarom ook gepas moeilik, en nie vir almal van ons ewe toeganklik nie.

Dis wiskunde, vol stellings en formules en nog gesoekte x’e en y ’e, sodat elkeen wat dit klank gee, nuwe antwoorde vind en telkens met ou melodieë verras.  Dis die een van die wonders van musiek.

Vir Saul kon Dawid met ʼn harp omtoor tot ʼn genadige kalmte.  Sirenes sing skepe graf toe.  Die skeepsorkes op die Titanic het “For those in peril on the sea” die water in gebid. Volksliedere gee koue rillings, soms oor hulle vreesaanjaend is, soms oor erge aanstoot en walging.  Musiek kan manipuleer.  Bang, boos, bly, belaglik, al die goed kan musiek aan jou doen.

Musiekblyspele is my kos, dalk omdat woorde vir my tel.  Andrew Lloyd Webber en Kie. vertel stories met musiek wat woorde kry en woorde wat op musiek se rug ry.  Musiek en woorde moet saampraat. Woorde self is al klank, kuns, taal en melodie.

Liriek is nie net hol klanke en klinkende simbale nie, musiek nie blote begeleiding nie.

Trou liriek en musiek, kry musiek betekenis, woorde word gevoelens.

Die kerklied hoort in erediens, nie om sy vertoon nie, maar om die waarheid van die eer-is-diens te toonset soos die eerbetoon gebeur.  Daarom klink skuldbelydenis en lofprysing verskillend.

Maar ek is ʼn toondoof pleb.  Ek is musieklik, nie musikaal nie.  Ek hoor musiek net in deuntjies, dalk nog in meerstemmigheid, danksy Hantie wat my bekoor het.  Maar opera, jazz en heavy metal verstaan ek nie, en daarin sit soveel genres waarvan ek bely net die name my al afskrik.  Tot my verleentheid het ek mense wat lief is vir hierdie geluide, al te veel vlak gevat, en my geroem op my voorkeur vir Abba en Kie.

By ʼn straatkafee in Bourbon Street, New Orleans, het ek by vreemdes aan ʼn tafeltjie gaan sit, ʼn jenewer bestel (want dis verpligtend om vir elke “session” ʼn dop te koop) en ʼn gróót swart man en ʼn jazzorkes aangegaap, nóg ʼn bier moes koop en toe nóg een, want ek kon nie wegkom nie – ek het skuins voor sonop dronkgeslaan tuisgekom, en dié nag geleer dat om van sekere musiek nie te hou nie, te wyte is daaraan dat jy jou nog nie kon verkyk aan hoe iemand juis daai musiek maak nie.  Om iemand wat musiek liefhet, dié musiek te sien uitleef, nie net uitbasuin nie, maak nederig, baie nederig. “Hou van” is net nie meer ter saaklike kritiek nie.

My gunsteling lewende komponiste is Karl Jenkins en Andrew Lloyd Webber.

Francois le Roux, die HA!man improviseer.  Hy gebruik sy tjello (ek sê met opset nie speel nie, want hierdie man speel nie, hy werk!), sy mond, sy lyf en elektronika om musiek wat hy in sy kop hoor, by jou ore te laat aankom.  Hy komponeer daar waar hy sit, staan of dans, en oorspronklike musiek gebeur daar voor jou oë en in jou ore.  Dis die naaste wat ek nog aan self musiek maak, gekom het.

Daarna, oorweldig en oorbluf, en daarom oorgretig om te help, net om waadering te wys, gaan prop ek toe die HA!man se elektronika uit.  Dié aand se musiek was toe net dié aand se musiek.  Onherhaalbaar verby, vir altyd verlore.

Ek onthou nie meer die musiek nie, net wat dit aan my gedoen het.  Dat ek dit toe alles gaan uitvee het, is blywende skade en groot verleentheid.  Maar ʼn waardevoller belewenis van deel te wees van die skeppingsproses, en toe ook, hoewel onbedoeld, van die brose verganklikheid van al ons beste skeppings, en sowat van n besef van die waarde van die enkele oomblik, was daar nog nooit weer in ʼn teater nie.

Die HA!man kom weer, het ons besluit.  Dié September.

 

 

 

3 thoughts on “Musiek maak

  1. Vir ‘n Dopper klink jy gevaarlik onhervormend 🙂
    Make a gloryful noise unto the Lord vir diegene wat se waardering sterker as die musikale vermoens.
    Jou skrywe het my laat dink aan ‘n lied wat ek as student baie geniet het “God van yster en beton” wat tot my spyt ek nie meer hoor nie (in elk geval nie waar ek is nie). Ek het dit nou gaan google want ek onthou hak en tak.

    Hy is God van al die onderstaande en boonop die God van daai “lang druppels wat soos voeltjies aan telefoondrade hang”

    Het geniet om hier te lees en om onderstaande teen 120 decibel in my gedagtes te sing!

    1. God van yster en beton
    Skepper van die vuurrooi son
    God van suier, God van stoom
    God van vuurpyl en atoom:

    2. Hemelvors, U’s God van mag
    Heer van elke bron van krag
    U laat bliksemflitse slaan
    U beveel die storm-orkaan

    3. Soos ‘n arend in sy vlug
    Skeur die straler deur die lug
    Motor, trein en satelliet
    U’s die God wat spoed gebied

    4. God van kuns en wetenskap
    God van studie en vakmanskap
    God van chemie en musiek
    God van orde en metodiek

    5. Heer van Woord en kerk en doop:
    U sluit alle kennis oop
    Heer van heerlikheid en eer
    Wat die groot heelal regeer

    6. U verbreek die dood se mag:
    Christus leef, dis ewig dag
    U het sondaars losgekoop
    U is liefde, U is hoop

    1. Ek is al n paar keer “onhervormend” genoem, ook in die dokumentasie van n klag waarteen ek my moes verdedig. Ek is nou nog gevoelig vir die etiket. Gevaarlik is ek nog nie baie genoem nie.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.