Die Hervorming. ‘n Beknopte geskiedenis

Sondag 29 Oktober 2017, om 09:00.

martin lutherDie drie Afrikaanse Susterskerke (die Gereformeerde Kerk Hoedspruit, die Nederduitse Gereformeerde Kerk Kruisgemeente en die Nederduitsch Hervormde Kerk Kampersrus Gemeente)  vier hier op Hoedspruit saam die vyfhonderdjarige herdenking van die Lutherse Hervorming en die opkoms van ons gedeelde Protestantse geloofstradisie.

Almal en enigeen is uitgenooi om by ons fees aan te sluit.

Ons hou een erediens, in die NG Kerk Kruisgemeente se gebou, die Van Rensburgsaal.  Ons gaan een kansel deel, Luther se liedere saam sing en nadink oor die geskiedenis en die toekoms van ons Reformatoriese geloof.  Die erediens sal fokus op die drie goed wat die Hervorming vir ons onder die vergrootglas plaas:

  • Net geloof red ons.
  • Net genade is al oorgenoeg.
  • Net die Bybel sê so.

Alles met dank aan en tot eer van die een God, Vader, Seun en Heilige Gees waarin ons vas glo, Hy wat ons verstommend genadig is, en wat deur die Bybel met ons aanhou praat.

Dan gaan ons, soos goeie Afrikaanse gereformeerdes, lekker saamkuier met eetgoed en koffie.

Die onderstaande is ‘n bondige geskiedenis van die skeuring in die Westerse geloofstradisie en die opkoms van ons Gereformeerde geloof, wat ek daar sal voorlees.

Dis met hierdie Hervormde geloof en met die kerke wat die Here in hierdie Gereformeerde geloofstradisie dien, dat God na ons toe aangekom het, van ons sy kinders kom maak het, en waarin ons die lewende God steeds ontmoet. Hier gee ons gestalte aan die liggaam van die opgestane Jesus Christus, ons Hoof.

Dankie Here!

As die Here ons nog vyfhonderd jaar sou gun, mag ons dan weer, meer en beter selfs as nou, uit één stem, die Here loof oor die triomf van sy Waarheid en oor die eenheid van Jesus Christus se liggaam, sy kerk.


Die Hervorming.  Genade én geweld.

In 2017 help dit om te onthou dat daar eers net een geloofsgemeenskap was,   van Jerusalem tot Rome.  Onafhanklike gemeentes, of kerke as jy wil, maar met die ingesteldheid op mekaar van een groot familie van gelowiges, verskillend van mekaar in kleinighede, maar een liggaam van Christus as dit saakmaak.

 

Die eerste skeuring kom tussen die Oos-Ortodokse en die Westerse Rooms Katolieke geloofstradisies.  Hulle skeur oor die Roomse pous wou baas wees.

 

Geloofstradisies en kerkverbande is in kompetisie.

 

Óns was almal eers Rooms. Dis belangrik om te onthou Roomsheid was nie altyd sinoniem met dwaling nie. Ons Bybel en ons belydenisse van Nicea, Atanasius en die Apostolicum, kom uit ʼn tyd toe ons almal nog dáár was.  Origenes, Atanasius, Augustinus, hulle tel onder ons grootste teoloë van alle tye.

 

Maar die Roomses was nie een verenigde en gelukkige gesinnetjie nie.

 

In die tiende eeu al (600 jaar voor die Hervorming) het kloosterordes ontstaan in rebellie oor die Kerk se wêreldsheid. Die Fransiskane en Dominikane was bedelordes wat nie eiendom besit het nie.  Maar hulle het nie die kerkverband verlaat nie.

 

In die veertiende eeu het die Engelsman, John Wycliffe, gesê die Kerk kry grootkop, en dat die Kerk nie alleenreg op die Bybel behoort te hê nie. Hy is nie stilgemaak nie, sy teologie was te goed. Maar die Konsilie van Konstanz, ʼn kerkvergadering wat in Duitsland gehou is, het vir John Wycliffe ná sy dood veroordeel, sy liggaam laat opgrawe en verbrand. Dit was 200 jaar voor die Lutherse Hervorming.

 

By dieselfde Konsilie van Konstanz, in 1415, word die Tsjeg Johannes Hus, die eerste martelaar van die Reformasie. Dit word vertel:

“Buite die stad het sy boeke reeds gebrand. Hy is daarby verby gelei na die brandstapel wat vir hom gewag het. Terwyl die vlamme hom verswelg het, het hy uitgeroep: ‘Christus, U die Seun van die lewende God, wees my genadig!’ Nadat hy die gebed ‘n derde keer gebid het, het die wind gedraai en is sy stem nie weer gehoor nie.”

Hus se sonde was om te sê die Bybel is meer gesaghebbend as die kerk se tradisie, dat verkondiging, en nie die offer wat die Roomses “die mis” genoem het nie, die belangrikste deel van die erediens is en dat Christus self, en nie die pous nie, die enigste hoof van die kerk is. Aflaatsbriewe, het Hus gesê, is nie die papier werd waarop hulle geskrywe staan nie.

 

Maarten Luther het ook nie beplan om uit die Kerk uit te klim nie.  Ironies genoeg, as ʼn weerligstraal in 1505 vir Maarten Luther raakslaan, roep hy uit:  “Red my heilige Anna en ek sal ‘n monnik word!”  Anna was na bewering Jesus se ouma, Maria se ma, en teen Luther se tyd, Roomse heilige en baas oor donderweer. Sy sou glo as ʼn maagd aan Maria geboorte geskenk het.  Dié storie kry jy nie in die Bybel nie.  Dit staan iewers in die apokriewe, die ekstra boeke wat die Roomses bygelas het.  Luther was murg en been Rooms.

 

Maar Luther raak onrustig oor hoe ver juis die apokriewe en die voortgaande openbarings waarmee die Roomse Kerk vorendag kom, die evangelie skeeftrek. Die storie loop dat hy op 31 Oktober 1517, 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg gaan vasspyker het.  Die stellings kry die pous voor stok oor die aflate, ʼn soort “bly-uit-die-hel-uit-versekering” wat dié kêrel laat verkoop het wat die bouwerk aan die Petruskerk in die Vatikaan moes betaal.

 

Luther voorsien geen nuwe kerkverband nie, net ʼn terugkeer na die ou kerk toe.

 

Wat begin het as ʼn uitdaging om openlik te begin praat, word ʼn pynlike stuk geskiedenis van bloedvergieting wat grens aan volksmoord en kulturele verwoesting, waaraan beide kante skuld het, dog alles in die Naam van ons God.

 

Maar daar was veel meer as net geloof en kerk ter tafel:  die  builepes wat ʼn derde van Europa se bevolking uitgewis het, die vrees vir Islam ná Gallipoli, uiterste armoede, uitbuiting en korrupsie, ekonomiese en etiese bankrotskap,  woedende reaksie op ongelykheid en sosiale onreg, alles het ʼn rol gespeel.  Machiavelli, ‘n politieke kommentator uit die 15e eeu, sou glo geskryf het dat korrupsie al meer toeneem hoe nader jy aan Rome kom. Oor dit alles was die Kerk grafstil.  Tegelykertyd kom daar ʼn  oordrewe nuwe vertroue op alles wat ʼn mens met jou denke kan regkry, ʼn oproep tot terugkeer na ʼn vervloë tyd se waardes en beskawing, nuwe nasionalisme, vryheidsdrang en bittere politieke magstryd.  Geskiedenis is altyd meer kompleks as die hoofmomente.

 

Verskeie formele gesprekke het gevolg, onverkwiklike twis, totdat die pous Luther uit die Roomse Kerk geban en hom voëlvry verklaar het.

 

Die Protestantse Hervorming of Reformasie sou voortduur tot die einde van die Dertigjarige Oorlog in 1648, 130 jaar later, met ʼn vredesluiting in Münster, vier jaar voor Jan van Riebeeck Kaap toe kom.  Franse kommentators sê nou nog die vervolging van Franse Hugenote het die room van die Franse volk afgeskep, hulle Afrikaners en Amerikaners laat word.

 

Zwingli, Melanchton, Bucer, Calvyn, Knox en ander groot geeste van die Hervorming, sou Luther se voorbeeld volg, tot wisselende uiterstes. Die Hervormers sou teen mekáár opstaan.  “Die Hervorming” was nooit net een enkele skeuring en een nuwe kerk nie.  Hiervandaan versplinter die liggaam van Christus in ʼn reënboog van kleure of ʼn Babelse verwarring, afhangend van hoe jy daaroor voel. Drie hoofstroom geloofstradisies verdeel sedertdien die Christelike Kerk in die Weste:

  • Die Rooms-Katolieke,
  • Die Lutherane en
  • Ons, die Gereformeerdes.

Hierdie skeuring duur voort. Die versplintering word by die dag erger.

 

Kom ons hou in gedagte dat, ten diepste, die Hervorming gegaan het oor hoe God mense vryspreek van sonde:

  • Dat God ons laat glo Hy wil ons vryspreek.
  • Dat God ons genadig is.
  • Dat jy dié goeie nuus net in die Bybel kry.

 

In Juniemaand vanjaar, het ʼn spesiale ontmoeting plaasgevind tussen die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (waarvan ek vermoed aldrie ons Afrikaanse Susters nou weer deel uitmaak) en die Rooms Katolieke Kerk.  By die geleentheid het die Rooms Katolieke Kerk formeel gelyk gegee dat hulle destyds oor die regverdigingsleer verkeerd was, en die Hervormers reg.  Daarmee is nie ál ons geskille uit die weg geruim nie. Maar ons dank God vir die vernouing van die diep klowe wat gelowiges orals uitmekaarhou.

 

Ons vier 500 jaar se verskeurdheid, dog ook 500 jaar se getuienis oor God se waarheid.  Die poorte van die hel kon dit nie oorweldig nie. En ons sien in juis hierdie 500ste jaar na die Lutherse Hervorming, die eerste tekens van die uiteindelike triomf van God se waarheid.  Skep moed, klein kuddetjie.  Wie weet wat ons oor 500 jaar van nou af sal kan vier, as die Here ons nog so lank ons geskille toelaat.


 

 

Advertisements

3 thoughts on “Die Hervorming. ‘n Beknopte geskiedenis

    1. Hendrik, Jy is altyd welkom om enigiets hier te gebruik as dit vir jou werk. Ek is bly as dit nuttig is. Baie geluk met die kleinkind! Heerlik, glo ek, om oupa en ouma te wees! Geniet dit! Dis my nog nie beskore nie, maar dit gaan met my meisies baie goed.

Leave a Reply

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.