Klipkop en Kurkprop.

Die gawe om in God te kan glo.

Dobber of sink, Simon Petrus sukkel.

Dit laat ons vra, nie net wát glo ons nie, maar ook wat is geloof?  Geloof is nie ʼn gegewene nie.  Met ander woorde: Geloof is nie n voor die hand liggende voldonge en algemeen geldende feit nie, en geloof is ook nie eers n reaksie op sulke feite nie.  Geloof is ʼn gawe. Die Heilige Gees géé geloof.  Die Bybel, wat ook n gawe van die Heilige Gees af is, gee aan geloof inhoud.

Jy kan net so ver kom met die wetenskap.  Wetenskap is nie gelyk aan geloof nie.

Jy kan met die Bybel self ook net so ver kom as jy dit wetenskaplik benader.  Iewers skop geloof in.

As jy met die Bybel by iets anders as geloof uitkom, is dit dwaling, nie net ongeloof nie.

Matteus 14: 24 tot 33; 16 : 13 tot 23

23 Julie 2017, NHKA Kampersrus

Die werk van die Heilige Gees

Skyfie: Heilige Gees.  Die gawe om in God te kan glo.

TOETREDE

Predikant

Vooraf

Net as jy glo, kan jy God met oorgawe loof. Kom ons stry teen ongeloof en kleingeloof. Hoe kleingelowig ookal, ons gló.  Kom ons loof God.  Sing saam.

Sang (Sit)

Psalm 29 strofes 1, 2, 3, 4 en 5

Skyfie: Foto.

Sondagaande op RSG, in ʼn program genaamd “Uit ʼn ander hoek”, word alternatiewe aangebied vir wat ons geloof noem.  Verlede week is gevra: Bestaan daar werklik iets soos ʼn ewige lewe of ʼn lewe na die dood? En waar is die hemel en die hel dan? Jean Oosthuizen het gesels met filosoof, Anton van Niekerk, en psigoanalis, Kobus Anthonissen, beide van hulle ook geskoolde teoloë. Hulle was dit eens: Nee wat, dis ʼn vergissing.  Die idee van ewig te leef is nie aantreklik nie, en die hemel sal jy sommer hier kry as jy tevrede is met die lewe wat jy hier en nou al het, en dit net verantwoordelik leef.

 

Hulle het baie stawende argumente aangebied, onder andere dat die na-aan-dood-ervarings wat mense vertel, nie ooreenstem nie.  Maar ek het ook nie gedink ʼn mens kan op die beneweling van amper doodgaan, staatmaak om hierdie lewensvrae te probeer antwoord nie.   Meer van ʼn probleem was dat hulle toe die Bybel nadertrek en met vers en kapittel aflei dis óns wat die Bybel verkeerd verstaan.

Skyfie: Klipkop en Kurkprop.  Dobber of sink, Simon Petrus sukkel.

Dit laat ons vra, nie net wát glo ons nie, maar ook wat is geloof?  Geloof is nie ʼn gegewene nie.  Met ander woorde: Geloof is nie n voor die hand liggende voldonge en algemeen geldende feit nie, en geloof is ook nie eers n reaksie op sulke feite nie.  Geloof is ʼn gawe. Die Heilige Gees géé geloof.  Die Bybel, wat ook n gawe van die Heilige Gees af is, gee aan geloof inhoud.

Jy kan net so ver kom met die wetenskap.  Wetenskap is nie gelyk aan geloof nie.

Jy kan met die Bybel self ook net so ver kom as jy dit wetenskaplik benader.  Iewers skop geloof in. As jy met die Bybel by iets anders as geloof uitkom, is dit dwaling, nie net ongeloof nie.

Skyfie: Klipkop en Kurkprop.  Gesang 501:1,2. (Staan)

Daaroor dink ons vandag. Ons het God nou al ʼn slag geloof.  Kom ons sing nou oor ons geloof.

Ons toetredelied is

Toetredelied (Staan)

Gesang 501 strofes 1,2.

Skyfie: Votum. Die Satan gaan ons sif! Help mekaar!

Votum (Staan)

31      

“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif.

32      

Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

Lukas 22

Skyfie: Seëngroet. Strome lewende water!

Seëngroet (Staan)

38      

Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ”

Johannes 7

Skyfie: Klipkop en Kurkprop.  Gesang 152. (Staan)

AANBIDDING EN LOF

Kom ons vra God om ons aan mekaar en aan God te bind.  Kom ons bely by voorbaat al ons glo die Woord. Kom ons sing saam

Sang

Gesang 152.

Skyfie: Gebed. Gee ons geloof, Here, Heilige Gees.

Gebed (Skuldbelydenis en genadeverkondiging)

Bid vir die gawe van geloof, en begrip vir die Bybel.

Amen.

Skyfie: Klipkop en Kurkprop.  Gesang 494:1,2,3.(Sit)

Iemand wat glo, is gelukkig: God hou jou vas.  Huisgesinne wat glo, is gelukkig: Hulle kry krag na kruis. Gemeentes wat glo, is gelukkig: God genees ons van dwaling.  Kom ons sing saam

Sang

Gesang 494 strofes 1, 2 en 3.

VERKONDIGING

Predikant

Skriflesing

Ons Skriflesing kom uit die Nuwe Testament.

Skyfie: Skriflesing. Matteus 14:24 tot 33.

Matteus 14 : 24 tot 33.

Bladsy 25 NAV 1983

24      

Die skuit was reeds ‘n paar kilometer van die kus af en is deur die golwe geteister, want die wind was van voor.

25      

Met dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom.

26      

Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis ‘n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu.

27      

Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”

28      

Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

29      

“Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom.

30      

Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!”

31      

Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

32      

Hulle het toe in die skuit geklim, en die wind het gaan lê.

33      

Die manne in die skuit het voor Jesus gekniel en gesê: “U is waarlik die Seun van God.”

Skyfie: Skriflesing. Matteus 16:13 tot 23.

Matteus 16 : 13 tot 23.

Bladsy 28 NAV 1983

13      

Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”

14      

Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”

15      

“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

16      

Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

17      

“Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.

18      

En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

19      

Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

20      

Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

21      

Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

22      

Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”

23      

Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Skyfie: Klipkop en Kurkprop.  Gesang 258:1,3. (Sit.)

Vir gelowiges is die Woord n vreugdevolle tyding wat die hart bly maak.  Dis goeie nuus.  Dit openbaar God, en dit vertel dat God dit met ons goed bedoel.

Sang (Sit)

Gesang 258 strofes 1 en 3.

Preek (Sit)

Skyfie: Perspektief: gegewene en gawe

Ons glo só vas in ons eie siening, dat ons daarop aandring om orals oor alles gehoor te word. Maar self luister ons nie graag nie,  en ons wil nie geleer word nie. As ons luister, wil ons self besluit waarna.  Geen oorgelewerde wysheid of tradisionele kennis dwing of dring ons nie. Nie eers feite is die maatstaf vir ons waarheid of werklikheid nie.   Ons menings oor die feite, is wat die deurslag gee, en ons menings hang af van hoe ons dinge uit ons eie hoek sien.

ʼn Feit is ʼn gegewene; dis altyd daar, en altyd dieselfde, is in die ou dae gesê.

Niemand glo dit meer nie. Ons eie siening van ʼn feit is al wat ons van die feit kan weet.  Die wetenskap het geleerde name vir dié manier van dink, maar waarop dit neerkom, is dat wat vir ons na feite lyk, eintlik maar net ons sienings is. En ons sienings, is vir ons so waar soos harde feite.

Ons siening van ʼn feit, is iets wat ons by die feit en die werklikheid byvoeg.  Wat ek by die feit voeg, gee die feit vir my betekenis. Ek gee perspektief.  Daai ding lyk van hier waar ek staan, vir my so. Uit jou hoek gaan hy anders lyk, maar dit skeel my min.

Geloof is ook so ʼn siening van alles.  Geloof bekyk ook die wêreld.  Maar geloof laat jou die wêreld van God se hoek af sien.   Dit kry jy nie vanself reg nie.  God die Heilige Gees maak dit moontlik.  Geloof is ʼn gawe wat die Heilige Gees gee.

Toemaar, dis die ingewikkeldste idee in vandag se preek.  Hiervandaan gaan ons in Simon Petrus se lyf inklim, en deur sy oë uitkyk.  Ons gaan Jesus sien en saam met Simon Petrus oor Jesus dink.   En ons sal leer dat die vraag oor wie Jesus regtig is, altyd net met geloof geantwoord kan word.

Skyfie: Eerstehandse kennis

Ek, en baie ander dominees wat ek ken, is bekommerd. Ons is bekommerd oor die bronne wat gelowiges gebruik om geloof mee in te kleur.

Simon Petrus sou vir Jesus oor drie jaar eerstehands leer ken.

Hulle ontmoet na SP die nag vrugteloos geprobeer visvang het, en Jesus die oggend van sy leë skuit n preekstoel gemaak het om ʼn stranddienserediens te  hou.  Amen gesê, draai die reisende rabbi na die beroepsvisserman toe en sê: Kom ons gaan vang vis!

Daar’s min van ons wat dit sal vat as iemand jou voorsê hoe om jou beroep te beoefen, veral as jy weet die skoenmaker het ʼn ander lees.  SP ruk hom liggies op, maar gee bes.  Daai dag wil sy oorlaaide skip sink.  Wat Simon Petrus uit dure ondervinding geleer het van hoe en wanneer n mens visvang, en die bietjie wat hy nou ook van Jesus weet, laat vir SP twee vreemde goed doen.

  1. Hy val voor Jesus neer en sê: Ek is sondig! Waar kom dít nou vandaan? Wel, SP kyk nou met God se oë na vis, visvang en vissermanne.  En as Simon Petrus homself skielik deur God se oë sien, is dit sy sonde wat hy agterkom.  Ons het ook daai probleem.

Gaan weg van my af, Here!, sê hy.

Maar Jesus doen die teenoorgestelde.  Hý sê: Bly by My, Simon.

  1. Dis ook die dag toe Simon Petrus sy skip en sy grootste vangs ooit, net daar op die strand los en van sy lewe af wegloop. Want SP sien uit God se oë ʼn nuwe lewe vir homself raak, en die nuwe lewe, is hy oortuig, het met hierdie rabbi te make.

Daar is seker nie ʼn beter manier om iemand te leer ken as van aangesig tot aangesig nie.  Eerstehandse kennis troef alles anders.  En om die effek te sien wat iemand het op jou bekende werklikheid, kan jou uit die veld slaan. Om Jesus se beheer oor die skepping so van naderby te sien, laat jou weer dink oor waar jy in die skepping inpas. Om Jesus te voel beslag lê op jou klein wêreldjie, gaan jou skud.

As Jesus sê “Volg My!” is daar in sy woorde die gesag van die Skepper wat visse nette toe bring, en mense Hom laat agternagaan.  Simon Petrus hoor Hom en kom.

Ons het nie meer die geleentheid om Jesus so agterna te loop nie. Maar God sê dis nie ʼn probleem nie.  Net om te luister, na die Bybel te luister, is al genoeg.

Buitendien is om met Jesus saam te leef soos Petrus kon, geen waarborg dat jy Jesus reg sal verstaan nie.  Jy moet jou lewe aan die Bybel meet. Doen ons dit nog?

Drie jaar later, by Jesus se verhoor, is Simon Petrus drie maal gevra: “Ken jy dié Jesus?”, en aldrie keer antwoord hy “Nee!”  Hy lieg mos nou deur sy tande, of hoe?

Ek besef hy sê dit om sy bas te red.

Maar wat as SP dalk tog die waarheid praat?  Wat hy sê, is dalk nader aan die waarheid as wat Petrus self besef.  Wat weet die man na alles van Jesus?  En wat het intussen alles oor Simon Petrus se lewe geloop waaruit hy Jesus kon leer ken?

Skyfie: Kyk en leer     

Na die visvangs is Petrus ʼn ruk lank stil.  Hy kyk en hy luister.  Jesus maak hom een van die twaalf, deel van sy binnekring, en toe een van net drie wat goed soos die dogtertjie van Jaïrus se opstanding en Jesus se verheerliking op die berg met eie oë sien.

Simon Petrus raak mettergaande meer gemaklik en waag om te praat.  Hy vra vrae.  Hy lewer kommentaar.  Hy lug sy mening.  Maar omtrent die enigste wyse ding wat die man kwytraak, sê hy hier in ons Skrifgedeelte as Jesus vra wie die dissipels dink is Hy wat Jesus is.  “Die Gesalfde van God!”, sê Petrus. Die Ou Testament- en die Jode se verwagte Messias. Dis seker ook genoeg gesê: Wat wil, of kan, jy meer sê?

Maar die man se woorde is nie koud nie, of hy praat van skuilings bou vir Moses, vir Elia en vir Jesus.  Hy het nog nie sy gedagtes lekker agtermekaar nie. Sien is nie altyd glo nie.  Wat jy van sien weet, is nog nie geloof nie.  Geloof moet kan verstaan ook.

Skyfie: Flikkers en flitse    

As wat SP alles sê, klop met wat hy sien, sien hy flitse.  Soos ʼn lig flikker van nie goed kontak maak nie, flikker Simon Petrus se uitsig uit God se oë.  Soos ʼn veraf landskap flikkerend tussen bome langs die pad wat jy ry, kom en gaan, so wissel Simon Petrus tussen sig en blindheid.  Hy het rare oomblikke van hoendervelinsigte, afgewissel deur stokblindheid.

Klipkop, dié Petrus, die rots waarop die kerk sou staan. Petrus beteken, ironies genoeg, rots.  Sodat jy besef dat selfs die kerk wat hy lei, vir God sien soos in ʼn ou flikkerende swart-en-wit-en-sonder-klank-fliek.

Maar dit lyk my dis genoeg, want klipkop sink nie.  Hy dobber soos ʼn kurkprop. Wel, amper. . .

Jesus kom op die water na die skuit toe aangeloop.  Daai dissipels raak mal.  Hulle skreeu.  Dis ʼn spook.

Jesus sê doodluiters: “Wees gerus!  Dit is Ek.  Moenie bang wees nie.”

God, van naderby gesien, is vreesaanjaend.  Jy is nooit gerus in God se teenwoordigheid nie. Onrus oor God so naby is, is deel van geloof. Jy is net gerus as jy dink God is ver. Geloof sus nie.  Geloof maak jou nie aan God gewoond nie.  Dis nooit waffers lekker hier naby God nie.  Wat God doen, is meestal, maar nie altyd doodgewoon nie.

Vir hierdie een en enigste keer, waag Simon Petrus dit met Jesus, en met geloof.  Net hierdie een keer sien SP gewone seewater as ʼn plek waar God loop. Hy klim uit die skuit uit.  Hy loop self ook op die water.  Hy sink nie. Nie dadelik nie.  Soos ʼn baba wat leer loop, gee die man sy eerste treë van geloof.  Die klip dryf.

Dis wat geloof met jou maak.  Die een of ander tyd laat geloof jou loop waar geen mens dit sonder geloof sou waag nie.  Op hoë plekke, en op stormsee.  Jy val nie, en jy sink nie. Dat jy glo, maak dat jy kan doen ook.

Dit leer SP mettergaande.  Die hoogtepunt waarby Petrus uitkom, staan in vandag se teks: “U is die Christus, die Seun van die Lewende God!”

Maar, helaas, die klip bly nie lank bo nie, hy sink tog. Geloof misluk ook, en jy dreig om te verdrink.

God en Simon Petrus speel “rock-paper-scissors”. Hulle vervang net die papier met water wat die klip laat sink en die skêr laat roes. Daarbenewens kan jy nie water met ʼn skêr knip nie.  Die water wen elke keer.

Drie maal op ʼn Donderdagaand kry die rots ʼn kans om iets veel eenvoudiger te doen as om op water te loop.  Al wat hy moet doen, is om te sê: Ja, ek ken die ou.  Ja, ek glo in Hom. Om die vuur by die geregshof sê Petrus drie keer “Ek ken die man nie, en ek wil ook niks met Hom te doen hê nie!”  SP lieg.  Drie maal sink hy soos ʼn klip.

Teen Sondagmôre glo hy weer.  Hy glo soos ʼn vuurtoring skyn: nou en dan, maar met minder reëlmaat.

Geloof leer op die harde manier bo bly.  Dit verg spartel en leer swem. Ons is nie van kurk wat vanself dryf nie.  Geloof ís inspanning.  Geloof laat jou veg teen die gravitasie wat jou grond toe afsuig.

Maar soms is om terug aarde toe te kom, baie goed. Kop in die wolke wees is nie geloof nie.

En nie alle twyfel is ongeloof nie.  Daar by die vuurtjie weet ons lieg SP.  As die haan kraai, gaan hy lang trane huil.  Maar hy praat dalk ook deels die waarheid.

Wat weet hy regtig van God die Seun? Net mooi niks nie.  Hy ken vir Jesus van Nasaret nou al goed.  Maar waar die stories dat Jesus God is, vandaankom, wel, daarvan weet SP net mooi niks nie en hy wil daarmee ook niks uit te waai hê nie. As dit is wat Petrus bedoel, praat die man die reine waarheid.

Hy kon ook bedoel het hy weet eintlik niks van Jesus af nie, want die man slaan hom dronk.

Die idee is nie om SP nou skielik die waarheid te laat praat nie en so effens beter te laat lyk nie.  Nee, dis net om te wys wat geloof met jou maak.  Geloof maak jou eerlik. Luister na jou leuens en jou verskonings: hulle spreek boekdele van jou.

Wat ek van Jesus, God die Seun af weet, is so goed soos niks. Vra jy my of ek Hom ken, gaan ek ook moet bely, ek ken Hom maar skraps. Eintlik net van hoorsê.  Maar om te hoor is al genoeg. Geloof kom van wat jy hoor, sê Romeine.  As ek bely dat ek glo, is dit nie hovaardige beterweterigheid nie.  Want geloof is nie die prestasie van menslike ondersoek nie.  Geloof is nie die gevolgtrekking waarby jy uitkom as jy met die logika van filosofie die werklikheid wetenskaplik verklaar nie.  Geloof is nie iets wat jy na inspanning regkry nie.  ʼn Klip gaan nooit soos ʼn skip  op water se oppervlak bly sit nie.

Inspanning het sy perke as dit by geloof kom.

Niks berei jou voor op die ontmoeting met God nie. Niks kan God voorspel of voorsê nie. Daarom is geloofsbelydenis ons manier om saam te stem dat God onbegryplik is.  Ons lieg nie, ons is bloot eerlik oor ons eie kennis wat tekortskiet.  Eintlik ken ons vir God nog nie.  Ons glo in Hom.

Wat ons wel weet, kom van wat God ons laat sien.  Ons sien Hom soos Moses net van agter af en net ten dele, deur die gleufie van ʼn rotsskeur.  Petrus, die rots, het ʼn bars waardeur ons God tóg sien, soos deur die skeur in die gordyn voor die Allerheiligste in die tempel.  En soos Paulus in ʼn spieël wat alles raaiselagtig omdraai.   En soos die dissipels wat gedink het hulle sien ʼn spook.

Geloof is die gleuf in die skuiling waardeur jy God sien en God se wêreld bekyk.  Geloof is ʼn sleutelgat.

Meestal laat dit jou sidder.

Met Jesus is dit anders. Deur Jesus laat God ons op ʼn nuwe manier glo.  Petrus verklap daai Donderdag om die vuur iets van hoe God se teenwoordigheid nou in Jesus werk.  Waar ander verskynings van God dreigend voel, gewoon oor God groots is, sodat God telkens moet groet met: “Moenie bang wees nie!”, is Jesus vriendelik, nooit dreigend nie.  ʼn Vriend, ʼn broer, sag op die oog, rustig in die gemoed.  Hy nooi jou uit om nader te kom, stel jou gerus: “Ek sal julle rus gee!” Net hierdie een keer, as Jesus op die see aangeloop kom, hoef Hy te sê: “Bly kalm.  Dis net Ek!”

Die nadeel van sulke “doodgewone” verskynings van God, is dat jy Hom heeltemal kan miskyk. As daar by SP ʼn groeiende besef was dat hy by Jesus in God se “doodgewone” teenwoordigheid was, kom jy dit agter as hy Jesus daaroor begin uitvra.  “Verduidelik hierdie prentjiepratery!” vra hy.  Wat beteken hierdie gelykenis? En daardie teken?  En dié wonder?

Geloof laat jou vrae vra. God dring by ons aan om te vra.  Vra uit, oor al’s!  Gelowiges is gans te bang vir sulke vrae.  Ons hou te gou op met vra. Ons is skaam vir vasgevra te word.  Ons is bang ons verloor die bietjie geloof wat ons nog oorhet. Ons vermy om te vra want ons is bang ons geloof se oppervlakkigheid skyn deur. Dit sink en verdrink met die eerste mondvol water.

Maar daar is ʼn rykdom om oor God te wete te kom as jy vra.  In hemelsnaam, vra tog net iemand wat weet.  Gebruik n betroubare bron.

Jesus vra sy dissipels: “Wie sê die mense is Ek?”  Dis om te vra: “Wat sê hulle alles op facebook, en op die internet, in die Huisgenoot, op RSG, om die vleisbraaivuur en in ander gewaardeerde universiteite van groot geleerdheid? Wat sê hulle almal van My?”  Johannes die Doper, sê party, Elia, sê ʼn ander.

SP, hy wat eerstehands weet, hy wat fyn kyk en leer, hy wat die tekens lees en hom nie laat flous deur die doodgewone baadjie wat God dra nie, hý sê: “U is die Christus, die Seun van die Lewende God.”

Maar moenie dat ons op grond hiervan van SP ʼn geloofsheld maak nie.  Hy’s net gelukkig.  “Jy’s gelukkig, SP, sê Jesus vir hom.  Jy weet dit nie vanself nie.  My Vader het jou dit vertel.  Nie jou fyn waarneming of slim mense het jou dit geleer nie.”

Jy glo oor God jou laat glo.

Jy is Petrus.  Jou geloof is die rots waarop my huisie staan. Die hel sal dit nie oorweldig nie. Inteendeel: Die hemel sal jy met geloof oop- en toesluit.

Sjoe!  Het God al vir enige ander mens sulke grootse take en verantwoordelikhede gegee?  Klipkop kry dadelik grootkop.  Hy klim weer as’t ware uit die skuit uit.  Dié keer dreig hy om dié rots te word waar die skippie op die rotse loop. Wat die hel nie kan oorweldig nie, doen die klipkop sommer self.  Hy vat vir Jesus (heel beleef van hom, moet ek sê) eenkant toe, en berispe Hom oor Hy gesê het Hy gaan binnekort doodgemaak word en opstaan. “Dit sal beslis nie gebeur nie,” sê hy.  Hou jou in, Jesus.  Moenie snert praat nie.

Kennis maak jou oormoedig. Einstein sou glo gesê het “God speel nie met dobbelsteentjies nie!” oor hy wat Einstein is, nie met alle kwantumfisika kon saamstem nie.  Nobelpryswenner Niels Bohr het hom geantwoord: “Albert, hou op om vir God te sê wat Hy moet doen!”

Jesus sê vir Simon Petrus: “Moenie in my pad staan nie, Satan!” Die rots waarop die kerk moet staan, wankel.  Satan sit sommer van die begin af al in die kerkbanke!  Jip, selfs die kerk het vir God nie altyd reg nie.  Jy dink die kerk is ʼn betroubare bron van kennis oor God, maar al die kerke wat hier rondstaan moet vir jou iets sê oor die sout wat jy moet opgooi.

Jy dink jy ken vir Jesus, maar dis Jesus wat jou ken, beter as wat jy jouself verstaan.  Ondersoek jou geloof!

Dis ironies dat Jesus hier klink soos Simon Petrus by sy roeping:  Simon het gesê “Gaan weg van my af, Here, want ek is ʼn sondige mens.”

Jesus sê: “Gaan weg van My af, Satan! Ja, jy is ʼn sondige mens.  Besef dit bietjie!  Wees beskeie! Jy is vir My ‘n struikelblok, klipkop, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Selfs met geloof kan jy te ver gaan.

Laat God toe om God te wees.  God is wat Hy is.

Dink aan wat God wil hê.  Dis wat geloof is.

Doen wat jy glo.  Dis gehoorsame geloof in praktyk.

Sien God, jouself, die kerk en die wêreld, alles, uit God se oë.  Dit kan. Dis wat die Heilige Gees ons laat doen.  Dís die gawe om te kan glo.  Jy kry ʼn kykie deur God se oë. Romeine 11 : 33 en 34 vra:

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

“Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

1 Korintiërs 2 : 16 antwoord die vraag:  

“Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus.”

Klippies in die skoen, struikelblokke in jou pad; klippe wat sink, rotse wat skipbreuk veroorsaak; dis ons.

Gaan maar weg, Here.  U hoort nie hier nie.  Ons is sondige mense.

Nee, sê Hy, Ek gaan nêrens heen nie. Hier bou Ek my huisie by die see, of, in ons geval seker, my huisie teen die berg, my kerk.  Ek sal keer as dit wil omval.  Die magte van die doderyk sal dit nie tot niet maak nie.

Glo.

Stuur Here, Heilige Gees, aan u gemeente geloof.

Amen.

Skyfie: Klipkop en Kurkprop.  Gesang 590:1,2. (Staan op)

Teen feite en filosofie in, glo ons.  Ons glo God as Hy sê ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde kom, en ons sal opstaan uit die dood en die nuwe lewe erf.  Kom ons sing dit staande saam.  Bly daarna staan vir die Apostoliese Geloofsbelydenis.  As julle wil, kan julle die belydenis hardop saamsê.

Sang (Staan op)

Gesang 590 strofes 1 en 2.

Ouderling

Skyfie: Apostoliese Geloofsbelydenis. (Staan)

Geloofsbelydenis (Bly staan)

  • Ons glo in GOD die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
  • en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
  • wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
  • wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
  • wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
  • wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van GOD, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel,
  • dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
  • Ons glo in die Heilige Gees.
  • Ons glo aan ʼn heilige, algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges;
  • die vergewing van sondes;
  • die opstanding van die vlees en
  • ʼn ewige lewe.

AMEN

 

Skyfie: Klipkop en Kurkprop.  Gesang 201:1,2,3. (Staan.)

Kom ons sing ʼn loflied waarin ons ons voor God neerbuig en aan Hom eer betoon, aan Hom hulde bring en Hom as Koning dien.  Dis wat geloof ons laat doen.

Slotsang (Bly staan)

Gesang 201 strofes 1, 2 en 3.

WEGSENDING

Predikant

Skyfie: Seën. Sodat die wêreld kan glo. (Staan)

Seën

Hoor hoe bid Jesus vir ons.

Johannes 17

17      

Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.

18      

Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur;

19      

en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.

20      

“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom.

21      

Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

Skyfie: Klipkop en Kurkprop.  Respons. Gesang 265:1,2. (Staan)

Respons (Bly staan)

Gesang 265 strofes 1 en 2

Skyfie: Klipkop en Kurkprop.  Dobber of sink, Simon Petrus sukkel.

Skyfie: Kry ʼn transskripsie. . .

Afkondigings

Diakens

Insameling van die dankoffers/orrelspel

Advertisements

One thought on “Klipkop en Kurkprop.

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s