Pa of Paljas?

Ronnie het gevra ons moet eendag praat oor wonders en tekens, oor die ding wat Jesus sê in Johannes 14 vers 12:

“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

Hiervandaan kom die vraag: Waarom sien ons nie meer soveel wonders nie?  Is dit omdat daar met ons geloof skort?  Of is God weg?

En dieper gedink: Is God ons Pa, of ʼn towenaar wat elke Sondag ʼn haas uit ʼn hoed moet haal?

Handelinge 4 verse 23 tot 31

2 Julie 2017, NHKA Kampersrus

Die Heilige Gees: tekens en wonders


 

Vooraf

Predikant

Ronnie het gevra ons moet eendag praat oor wonders en tekens, oor die ding wat Jesus sê in Johannes 14 vers 12:

“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 

Skyfie: Foto

Hiervandaan kom die vraag: Waarom sien ons nie meer soveel wonders nie?  Is dit omdat daar met ons geloof skort?  Of is God weg?

Skyfie: Pa of Paljas?

En dieper gedink: Is God ons Pa, of ʼn towenaar wat elke Sondag ʼn haas uit ʼn hoed moet haal?

Kom ons geloof kort?  Is dit hoekom God nie hier by ons wonders doen nie?

Skyfie: Sang: Gesang 572:1,3 (Sit)

Gesang 572 gee al ʼn antwoord op die vraag: Ons word wel met God ongeduldig.  Maar besin ons oor sy werk, kom ons tog die grootste wonder van almal agter.  Dis die raaisel dat God by ons is, en by ons betrokke is, so intiem betrokke is dat ons van ʼn gemeenskap met God kan praat.

Nee, ek dink nie daar is iets met ons geloof verkeerd nie. Maar ons kyk soms die wonder dat God hier by ons is, mis.  Kom ons sing

Sang (Sit)

Gesang 572 strofes 1 en 2

Skyfie: Sang: Psalm 40:1,2,3,4,5 (Sit)

Kom ons sing dat ons getuies is van hierdie grootste wonder ooit:  Dit het met ons gebeur! Die Here het Hom na ons toe afgebuig en met ons bemoeienis gemaak!  Kom ons sing

Sang (Sit)

Psalm 40 strofes 1,2,3 en 5

Toetrede:

Skyfie: Toetrede. Sang: Psalm 98:1,2,3 (Staan)

Ouderling

Kom ons sing van die dade van die Here.  Sing van sy wonders uit

Toetredelied (Staan)

Psalm 98 strofes 1,2 en 3

Toetrede

Predikant

Skyfie: Toetrede. Votum (Staan) “. . . Om julle te laat besef dat Ek die Here is.”

Votum (Bly staan)

Eksodus 10:2

Gaan na die farao toe, sê God vir Moses. . .

2        

Dan kan jy aan jou kinders en kleinkinders vertel wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het en watter wonders Ek onder hulle verrig het om julle te laat besef dat Ek die Here is.”

Skyfie: Toetrede. Seëngroet (Staan) Dink aan sy wonders, aan sy reddingsdade

Seëngroet (Bly staan)

1 Kronieke 16

9        

Sing liedere, sing tot sy eer, vertel van al sy magtige dade.

10      

Roem sy heilige Naam, laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees.

11      

Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid.

12      

Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het, aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel,

13      

julle, nageslag van Israel, sy dienaar, nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het.

14      

Hy, die Here, is ons God, sy reddingsdade strek oor die hele aarde.

Skyfie: Aanbidding en lof. Lofsang Psalm 105:1,2 (Staan)

Aanbidding en lof

Ouderling

Kom ons loof God en besing sy wonders.  Sing saam uit

Sang (Staan)

Psalm 105 strofes 1,2

Skyfie: Aanbidding en lof. Die wil van God. (Sit.) Wees beskeie!

Die wil van God: Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Hoor die Here se riglyne vir ons lewes uit Romeine 12:

1        

En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

2        

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

3        

Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.

Skyfie: Aanbidding en lof. Skuldbelydenis (Sit.) Ons soek ons eie voordeel

Skuldbelydenis (Sit)

Johannes 4 laat ons besef hoe ons oor wonders dink.  Ons wil hê wonders moet ons eiebelang dien.

46      

Jesus het toe weer na Kana in Galilea toe gegaan, waar Hy die water wyn gemaak het. In Kapernaum was daar ‘n sekere regeringsamptenaar wie se seun siek was.

47      

Toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het, het hy na Hom toe gegaan en Hom gevra om te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê.

48      

Jesus sê toe vir hom: “As julle nie tekens en wonders sien nie, glo julle eenvoudig nie.”

49      

En toe sê die amptenaar vir Hom: “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.”

50      

Maar Jesus sê vir hom: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” Die man het geglo wat Jesus vir hom gesê het, en gegaan.

51      

Toe hy nog op pad was, het sy werksmense hom al tegemoet gegaan en vertel dat sy kind lewe.

52      

Hy vra hulle toe presies wanneer hy begin beter word het, en hulle antwoord hom: “Gistermiddag eenuur het die koors hom verlaat.”

53      

Die pa het toe besef dat dit op dieselfde oomblik was waarop Jesus vir hom gesê het: “Jou seun lewe.” En hy en sy hele huisgesin het tot geloof in Jesus gekom.

Ons wil hê as ons ons vingers klap, moet God wonders soos ʼn haas uit ʼn hoed haal om ons te help.  Anders glo ons Hom nie. Dis die sonde van te dink jy is veel meer werd as wat jy is, en God is jou lampgees / toorspook wat uit jou lampie uitspring as jy hom vryf om jou handeviervoet te bedien en al wat ʼn wens is, waar te maak.

Skyfie: Aanbidding en lof. Skuldbelydenis. Gesang 230:1,2 (Sit.)

Kom ons bely ons sonde en skuld aan God.  Ons sing

Sang (Sit)

Gesang 230 strofes 1 en 2

Skyfie: Aanbidding en lof. Genadeverkondiging (Sit.) Dat julle kan besef die Here is God. 

Genadeverkondiging (Sit)

God is ʼn genadige God, sê Deuteronomium 4.

31      

Die Here julle God is ‘n genadige God. Hy sal julle nie in die steek laat of om die lewe bring nie. Hy sal nie die verbond vergeet wat Hy met ‘n eed aan julle voorvaders bevestig het nie.

32      

“Gaan stel ondersoek in na die verre verlede, na die dae lank voor julle tyd, van die tyd af toe God die mens op die aarde geskep het, van die een uiteinde van die hemel af tot by die ander uiteinde, en kyk of iets so magtigs al gebeur het en of so iets al gehoor is.

33      

Het ‘n volk die stem van sy god uit die vuur uit hoor praat, soos julle die stem van julle God gehoor het, en het hy bly lewe?

34      

Het ‘n god dit ooit gewaag om vir hom ‘n nasie te kom vat by ‘n ander nasie, en dít met rampe, tekens, wonders, oorlog, magtige dade, wonderlike, groot dade waarvoor mense vreesbevange word? Dit alles het die Here julle God voor julle eie oë in Egipte vir julle gedoen.

35      

Dit is vir julle gewys dat julle kan besef die Here is God, en dat daar naas Hom nie ‘n ander is nie.

36      

Hy het julle sy stem uit die hemel laat hoor om julle te onderrig en Hy het julle sy groot vuur op die aarde laat sien en julle het sy woorde uit die vuur uit gehoor.

37      

Omdat die Here julle voorvaders liefgehad het en hulle nageslag uitgekies het, het Hy julle deur sy groot krag in sy teenwoordigheid laat trek uit Egipte uit

38      

om nasies, groter en sterker as julle, voor julle uit te verdryf en om julle in hulle land in te bring en dit aan julle te gee as julle besitting. En so is dit nou nog.

39      

“Weet dan nou en neem dit ter harte: die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog ‘n god nie.

Skyfie: Aanbidding en lof. Geloofsbelydenis. Gesang 261:1,2,3 (Staan)

Geloofsbelydenis

Kom ons bely ons geloof in God met ʼn kerklied wat uit ons eie Kerk kom.  Kom ons staan en sing

Sang (Staan)

Gesang 261 strofes 1,2 en 3

Aanbidding en lof

Predikant

Gebed (Mans staan)

 

Skyfie: Aanbidding en lof. Sang. Gesang 188:1,2,3 (Staan)

Kom ons loof die God wat wonders doen. Kom ons sing

Sang (Staan)

Gesang 188 strofes 1,2 en 3

Skyfies: Verkondiging. Skriflesing (Sit.) Handelinge 4 verse 23 tot 31

Verkondiging

Predikant

Skriflesing (Sit)

Ons lees uit die Bybel Handelinge 4 verse 23 tot 31.  Dis op bladsy 165 van die Nuwe Testament in die 1983-Afrikaanse Vertaling van die Bybel.

Die gedeelte volg op Petrus en Johannes se inhegtenisneming.  Hulle het gepreek dat Jesus uit die dood opgestaan het en dat Hy lewe. Hieroor was die Joodse Raad, die plaaslike owerheid vir eie sake onder die Romeinse regering, onthuts. Petrus is oornag aangehou, en die volgende dag verhoor en gedreig om nie weer met enigiemand in die Naam van Jesus te praat nie.

23      

Nadat Petrus en Johannes losgelaat is, het hulle na hulle medegelowiges toe gegaan en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles vir hulle gesê het.

24      

Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.

25      

En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê: “Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam?

26      

Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde.

27      

“Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is,

28      

en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het.

29      

“En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig.

30      

Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.”

31      

Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.

Skyfie: Verkondiging. Sang (Sit.) Gesang 214:1,2,3

Moenie dat ons vergeet nie om te sing oor die een eenmalige, en daarom onherhaalbare wonder, die grootste wonder ooit, wat God vir ons gedoen het toe Hy in Jesus mens geword en sy lewe vir ons gegee het.  Sy wonder is ʼn weldaad wat vir altyd geld.

Sang (Sit)

Gesang 214 strofes 1,2 en 3

Skyfie: Pa of Paljas?

Preek

Die eerste gemeente raak in die sop oor wat hulle sê.  Hulle preek dat Jesus leef, en dat die Joodse owerheid aanspreeklik is vir sy moord. Daaroor word die apostels in hegtenis geneem en voor die hof gedaag.  Hulle word gedreig om end te kry.

Die Joodse Raad kan sonder twyfel al hulle dreigemente uitvoer: hulle het die gesag van regering.  Daarom bid die gemeente dringend: Hulle pleit God moet hulle vrymoedig hou, want stilbly is nie ʼn opsie nie. Maar hulle is bang.

God skud die gebou waarin hulle is.  Die gemeente kry dadelik wat hulle gevra het.

Ek beny hulle dit, die onmiddellike gebedsverhoring, en die wonder.  Ek verlang na daai wêreld waarin God smiddae in die tuin kom tee drink en praatjies maak het oor die vrugteoes en ʼn suiping vir die vee.  Ek droom ook oor die tyd toe God kom kuier het, dat Abraham vir Hom brood kon bak.  Daai dae was glo vol van God, vol tekens en wonders, hoendervel en koue rillings. Jy sou kon voetslaan Australië toe, gesondword sonder duur dokters, wyn drink wat uit jou boorgat kom. Ek kan nie anders nie as om te voel ons mis iets.

Ronnie s’n is ʼn baie goeie vraag: Waarom beleef ons nie die wonders waarvan ons in die Bybel lees nie?  Waarom kan ons nie self sulke wonders doen nie?  Jesus het tog gesê ons sal kan?

Van wonders moet ons twee goed weet:

  • Wanneer hulle gebeur, en
  • Waarom hulle gebeur.

Ook goed om te weet is:

  • wie hulle doen, en
  • aan wie hulle gedoen word.

Skyfie: Wat is ʼn wonder?

Wat is ʼn wonder?

Maar eers: Wat is ʼn wonder?  Dis ʼn verrassende ding wat onverklaarbaar op ʼn oomblik gebeur toe jy nie daarop ingestel was nie.

Die grootste wonders is, as jy terugdink, eintlik onmerkwaardig.   Daar is niks snaaks aan wolke of mis nie.  Maar die dag as daai wolk kerk toe gaan, is dit vreemd:  God ry gereeld op ʼn wolkie die Tent van Ontmoeting in.  ʼn Vuur is ʼn ding wat warm word, maar die dag as die vuur die hout nie brand nie, is dit snaaks genoeg om te loop kyk.  En as die vuur dan nog met jou ʼn geselsie aanknoop wat uitloop op ʼn argument, moet jy weet hierdie is nie sommer net enige ou braaivleisvuurtjie nie.

Skyfie: Wanneer? Tydsberekening is alles!

Wanneer? Tydsberekening!

Wanneer gebeur wonders?  Wát gebeur is nie altyd wat jou asem wegslaan nie; dis die tydsberekening wat jou tref.

Onthou daar is vir lang tye in die Bybel geen teken van wonders nie. Dan, by tye, is wonders weer volop.  As jy mooi kyk sien jy die  tye vol wonders het almal iets in gemeen.

Met Israel se uittog uit Egipte doen God die een wonder na die ander. God vat weer beheer oor van ʼn ongelowige volk. Hy leer hulle glo.

Gedurende die veroweringstogte van die rigters Josua, Gideon, Simson en Koning Dawid, is wonders amper God se “normale” manier van doen.  God vat grondgebied van afgode af en vestig sy volk vir die eerste keer in ʼn eie land. .  Die wonders wys God is sterker as die afgode.  Trouens, sy volk leer glo daar is net Een God soos Hy.

Deur profete soos Elia en Elisa waarsku God weer met wonders dat hulle die land gaan verloor as hulle so aanhou.  Die volk leer glo sonde is nie net ʼn wolhaarstorie nie.

Wonders gebeur net onder sekere omstandighede.  Wonders gebeur wanneer ʼn mens moet leer glo, gewoonlik wanneer die grond onder jou voete onvas is, alles om jou rondskuif en verander.  God skud jou geboutjie.

Skyfie: Waarom wonders?

Waarom wonders?

Waarom dan wonders? Wonders oortuig mense in tye van verandering om op God te reken.  Verander òf self, òf maak met die verandering vrede.  Want wonders sê die verandering kom van God af. Glo!

Omdat wonders koppe swaai, kry jy volop wonders by die groot oorgange in Israel se geskiedenis.  En dalk ook in ons s’n!

In tye dat God van Israel verwag om bloot te handhaaf en te hou, is daar weer  minder van hierdie skouspelagtige goed wat gebeur.

Met wonders maak God ons van Hom bewus.  Hy bestaan en Hy is hier.

Met wonders skei God ons, sy nuwe volk en sy jong kerkie, van ander mense af. God neem eienaarskap, steek sy kleim af.  Israel kom agter hulle het met God ʼn uitsonderlike band.  Nuwe gelowiges voel geborge. Dis asof God ʼn sigbare grens trek tussen sy koninkryk en die res van die wêreld.

Uit wonders leer Israel God is hier by hulle. Hy wýs Hy is teenwoordig. God vereenselwig Hom met hulle.  In drome, visioene en geestesvervoering, met ʼn hoorbare stem, en deur engele wat mense met boodskappe van God af besoek,  maak God kontak. Sy teenwoordigheid blyk soms in ʼn helder lig, ʼn wolkkolom of ʼn vuurkolom. Heilige plekke is in die tabernakel of tempel ingerig waar Hy geraadpleeg kon word. Die kerk leer God ook so ken.  Mense word gesond, praat in tale en kom uit die dood uit terug. Alles dui daarop: God is nie ver nie.  In die beproewing van die trek Kanaän toe, help dit. Dit help ook om jou van die sonde te bekeer, en kerk toe te kom.  Ons raak gehoorsaam.

Met Jesus begin God ʼn hele nuwe verbond. God laat Jesus wonders doen wat jou laat regopsit.  Dis hoe ons weet daar is so ʼn noue verbintenis tussen Jesus en God.  Jesus doen wat God wil hê.  Ons sien God aan die werk. God se koninkryk kom. Jesus vat beheer en bestuur van die werklikheid by mense oor. Wonders bevestig wat begin vermoed het: Jesus is God.  Hy kan skep en aan die skepping bevele gee, mense gesondmaak en uit die dood laat opstaan. Sy eie opstanding uit die dood en sy hemelvaart spreek van ʼn lewe wat krag put uit God se vermoëns.  Almal kan sien dat Jesus die beloofde Messias is.

Dan daag die Heilige Gees by ons op.  Ons weet Hy is God want Hy doen ook God se wil, nes Jesus, en Hy doen ook wonders, nes Jesus.  En met dié dat die Heilige Gees sy intrek in mense neem, doen daai mense ook wonders: hulle maak mense gesond, praat in tale. Selfs met heidene, nie-Jode, gebeur dit!  Dit trek aandag.  So ontstaan en groei die kerk onder alle mense, want mense herken vir God aan sy wonders.  Die kerk kry ʼn hupstoot want God sit hand by.

 

Maar dit gaan verby. Gaan God dan weg?  Nee. Maar as en geen nuwe koers nodig is nie, is wonders nie nodig nie. Om die waarheid te sê, dan kan wonders die aandag aflei van wat eintlik ons aandag moet kry.  Want waar God ophou om deur wonders te werk, werk Hy deur mense.

Lekker kerk en wild en wakker wonders soek, is ʼn versoeking om jou verantwoordelikheid te vermy. Jy mis iets groters: hoe God deur jou wil werk.

Die Bybel sê die grootste wonder is hoe mense verander. Van sondaars na heiliges. Fundamentele, wesenlike, langtermyn, durende verandering.  Hierdie nuwe mense word dienaars van God, en doen God se wil.

Wonders is nie hoe God normaalweg werk nie.  Alles in hierdie werklikheid is God se werk: die gewone en die normale is soos Hy dit uitgedink het.  Jy is deel daarvan.  Verwonder jou daaraan, reageer daarop, gebruik dit, bewerk en verwerk dit, bou en onderhou dit, bestuur en bewaar dit, heers daaroor, dien dit. . .  Dit sê die Bybel baie meer as om buitengewone en bonatuurlike verskynings van God te beskryf.

Dit beteken God is nie ʼn towenaar wat elke dan en wan ʼn haas uit ʼn hoed hoef te ruk om ons te beïndruk nie.  God is nie ʼn kulkunstenaar wat met oëverblindery ʼn bietjie afleiding aanbied met ligte Sondagvermaak nie.  Die kerk se erediens is geen kompetisie vir saamtrekke en skouspel nie. Ons kom nie naby die sirkus nie.

Maar jy gaan ook nie Sondae kerk toe soos wat jy Vrydae fliek en Saterdae braai nie.  Sondae se erediens hou dwarsdeur die week aan. Jy hou aan om God te bewonder en jou aan wat Hy doen te verwonder, en op Hom te reageer.

Kan ons dan nie meer wonders van God verwag nie?  Smelt alle wonders nou deesdae so in die alledaagse in dat dit vervaag en verdwyn?  Wanneer kan ons wonders verwag?

God gebruik wonders soos padtekens voor groot draaie, soos padpredikante as die pad vurk, soos stoptekens voor kruisings, en satelliettoevoer as jy jou bestemming soek. God gebruik wonders om jou moed te gee om ʼn sprong te maak. Wonders help jou vir God volg as omstandighede knyp.  Wonders help jou uithou, word jy vervolg.  Wonders is aanmoediging.

Maar wonders is nie plaasvervangers vir selfdoen nie.  Wonders maak nie eie verantwoordelikheid oorbodig nie.  Daarom, in tye van handhaaf en hou, is wonders skaars en plig groot.

Gaan kyk maar na al wat ʼn wonder is: Kom ons vat die talepratery, hoekom doen ons dit nie?  Want ons staan nie op die randjie tussen geloof en ongeloof nie.  Ons glo reeds.  Taalpratery gebeur by die stigting van die kerk, om mense te laat weet hulle is dalk nog in, maar lank nie meer van die wêreld nie. Talepraat trek ʼn streep tussen geloof en ongeloof, tussen kerk en wêreld.  Dit help hulle die sprong maak.  Maar ons is klaar hier.  Party van ons sonder die talepratery-fase.  Ons het goeie ouers gehad wat ons van God geleer het.  En ons is lank nie meer babas wat net sagte kossies kan afkry nie. Aan ons het God ʼn nuwe, gesonde verstand gegee:  Hy het verander deur ons denke te vernuwe.   Kyk wat skryf Paulus aan die Korintiërgemeente:

So is die gebruik van ongewone tale of klanke dan ‘n teken vir ongelowiges en nie vir gelowiges nie. Daarteenoor is die profesie vir gelowiges en nie vir ongelowiges nie.

(1 Korintiërs 14:22).

Die wonder se plek is aan die rand van die kerk.

Profesie, dis Bybeluitleg, se plek is in die kern van die kerk.

Geloof is nou ʼn vas en seker wete dat Jesus leef, en ons ook sal. Dis nie ʼn emosionele opwelling wat kom en gaan soos die golwe van applous nie en nou en dan se reaksie op ʼn goeie stukkie uitvoerende kuns nie.

Ons sonde oortuig ons die kerk moet ʼn ander rigting inslaan.  Nou is ʼn goeie tyd vir wonders, dus, so redeneer ons.  Ons wil wonders hê!  Maar dis net ek wat moet verander, nie die kerk nie.  Kom ons wees eerlik: nie een van ons is so belangrik soos die Here se kerk nie.  Nee, jy gaan nie wonders op aanvraag kry nie.  Bekering is mos ons eie verantwoordelikheid, dan nie?  Dis tog juis waarvoor God ons sy Gees gegee en gesê het: Gebruik Hom!

 

Skyfie: Wie die wonder doen?

Wie die wonder doen? 

Gaan kyk ons wie dit is wat wonders doen, is dit altyd gesante van God, mense wat van God af nuwe wendings wil uitwys.  Maar soms is dit sommer God self.  Trouens, God sit altyd daaragter.

Daarom gaan ek dit nie waag om kaartjies te verkoop vir Vrydagaand se genesingsdiens nie.  Want ek durf nie vir God soos ʼn nar aantrek en laat toertjies doen nie, of soos ʼn leeu deur hoepels laat spring nie.

Skyfie: Aan wie word wonders gedoen?

Aan wie word wonders gedoen?

Vra jy aan wie wonders gedoen word, lyk dit my ons wil dit op aanvraag hê.  Jy wil wonders kan “Pick ʼn Pay” as’t ware. Jy wil soos in ʼn supermark vir jou die wonder van jou keuse van die rak kan gaan afhaal.  En daarvoor betaal.  Daar is mense wat in wonders handeldryf.  Wonders, moet jy weet, kom teen ʼn prys.  Jy moet gló, so sê hulle.  Glo jy nie, of glo jy nie goed genoeg nie, gaan die wonder nie werk nie.  Jy kan nie eers jou kaartjiekoste terugeis, of die wonderwerker aanspreeklik hou nie.  Dit het niks te make met die handelaar nie, dus wonders kom nie met ʼn foonlyn vir klagtes of ʼn omruilopsie nie.  As die wonder nie werk nie, is dit alles jou skuld.  Wonders kom met groot risiko. Jy kan jouself en jou eie ongeloof ontmasker.

Dis louter onsin. Waar ons daaraan kom en wat ons dit laat glo, slaan my dronk.  Want dis nie wat die Bybel sê nie.  God doen juis wonders om ons te laat glo.  Dis wat die spreek-in-tale-gawe doen.  God doen juis wonders om sy teenwoordigheid tasbaar te maak.  God doen juis wonders om ons koppe te skuif.  Hoor weer: God doen die wonder. Hy doen dit aan wie Hy wil.  En telkens as ek van wonders lees, sien ek hoe mense in daardie vertellings begin glo danksy die wonder.  Of anders begin optree, deur die wonder oortuig dat dit so moet.

En ek lees van mense wat wonders miskyk.  Nie omdat hulle nie kán glo nie, hulle wíl nie. Geen wonder gaan hulle aangryp nie.

Skyfie: Groter wonders as Jesus?

Groter wonders as Jesus?

Daar bly nou nog hierdie een vraag: Waarom sê Jesus ons sal nog groter wonders doen as Hy?

“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

(Johannes 14 : 12)

Hoe doen mens groter goed as Christus, groter as om Lasarus uit sy graf te gaan uithaal, storms stil te maak, kos te skep en op water te loop?  Dis nie wat Jesus bedoel nie.

Hy bedoel dat teen die tyd dat ons oor Hom begin preek, gaan almal al weet van sy dood en opstanding, sy hemelvaart en dat Hy heers.  Niks wat Hy in sy lewe voor sy dood en opstanding doen, gaan dieselfde effek hê nie.  Teen die tyd as óns dit doen, gaan elke teken en wonder Hom dadelik openbaar as die lewende God.  En mense gaan begin glo.  En mense wat glo gaan gered word.  Dis die doel van alle tekens en wonders: om te leer glo.  Nie om die lewe vir ons gemaklik te maak nie.

Skyfie: Hedendaagse wonders?

Hedendaagse wonders?

Is daar eietydse wonders?  Is daar goed wat ons al as vanselfsprekend aanvaar wat eintlik verstommende tekens is?

Die kerk is een.  Dat geloof hou, nog een.  Dat Afrikaners op die Jode se God kan reken, ook.  Dat jou sonde vergewe is, en dat jy self ook vergewe, dis een van die grootste wonders onder sondaars. Wonders en tekens is indrukwekkend, maar is nie een so aangrypend soos wat God in Christus doen nie.

Skyfie: Pa of Paljas?

Pa of Paljas?

Tekens en wonders gebeur op die grense van die geloof, en nie soseer in die kerk nie.   Mense gaan juis na sulke vertonings toe om daar getuienis te soek dat God leef en optree. Ons weet dit reeds.  Om daarop te wil aandring voor ons glo, grens aan verval in ongeloof.

Skyfie: Pa!

Glo in God.  Hy is Pa, nie paljas nie.

Amen.

Skyfie: Dankgebed. (Mans staan.)

Dankgebed, Voorbedes (Mans staan)

Skyfie: Wegsending. Slotsang (Staan.) Gesang 209

Wegsending:

Slotsang (Staan)

Gesang 209

Skyfie: Wegsending. Seën. (Staan.) Die Here weet wat julle nodig het vir sterk geloof.

Seën (Staan)

Weet dat die Here julle hoor bid.  Weet dat die Here op verskillende en gepaste maniere julle geloof sal versterk.   Hoor weer hoe Hy sy gemeente se gebed geantwoord het toe hulle gevra het vir vrymoedigheid om aan te hou praat oor Jesus.  Hy het hulle geseën met ʼn teken. Handelinge 4 : 31

31      

Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.

Skyfie: Wegsending. Respons (Staan.) Gesang 222 x 2

Respons (Staan)

Gesang 222 x 2

Skyfie: Pa of Paljas?

Afkondigings

Insameling van die dankoffers/orrelspel

 

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s