Selfmoordbomdraer

Lukas 22:1-6

Die Satan nooi homself toe mos nagmaal toe.  Hy is nie só daar dat jy hom met die blote oog kan agterkom nie.  Hy vaar in ʼn man in, hy trek vir hom ʼn lyf aan.   Wolf in skaapsklere, terroris in ʼn toga: Judas Iskariot, een van die twaalf.

Maar hy flous vir Jesus nie.

Satan het Jesus al tevore versoek.  Jesus was honger. Daar is niemand in die wêreld belangriker as jy nie, Jesus: Bak vir jou brood!

Nee, sê Jesus toe, God is belangriker as kos.  En God is belangriker as Ek.

Niks wat Satan gesê het, kon Jesus destyds oortuig nie.  Nou hoef Satan niks te sê nie, net sy teenwoordigheid is al genoeg. Hy verlekker hom in Jesus se laaste sonsak.  Waar is God vannag, Jesus?

Satan kry Jesus nie kwaad vir God nie, maar Júdas is woedend. Jesus wil, of kán nie, die wêreld aanvat nie. Al daai koninkrykspraatjies was politieke dagdromery, mooibroodjies bak, ʼn groot bohaai oor net mooi niks. So besluit Judas iémand moet iets doen, want só kan dit nie aangaan nie.

Judas is kerk toe om te gaan konkel oor hoe hulle Jesus kan kortvat.  Die komplot sal verseker dat die godsdiensowerheid, wat goeie geld uit die Romeine maak, teen ʼn winskopie veilig in plek bly.  Judas sou laat weet as Jesus alleen is.

Sy kans kom met die Pasga.

Judas het geen skuldgevoelens nie.  Hy is vas oortuig dat hy dit reghet.  Jesus is vals, nie hý nie.  Ek en my agenda, my verydelde ideaal van ʼn vry en soewereine Israel, my droom van ʼn wêreld waar God groot is en nog die deurslag gee, is tog belangrik genoeg dat ek my maar mag vererg as iemand daarmee mors?  Jesus is ʼn fopper. Hy gaan kry net wat Hy verdien.

Judas is op die oorlogspad, ʼn selfmoordbomdraer.  Want God se koninkryk lyk nie soos Judas s’n nie.

Moeilikheid is, God se koninkryk is ook nie een van ons se droom nie.

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s