ʼn Referendum oor God se wil.

Ons raak aan God te gewoond.  Soos aan die berg.  En die bos.  En die see, as jy daar bly.  Wanneer die wonderlike alledaags word, stomp jy af.

En God is nou al te lank elke dag by ons dat ons elke dag koue rillings kry of in verslae verwondering staan. Ons is so oortuig dat wat met ons gebeur te danke is aan ons eie harde werk, dat ons God nie meer nodig kry nie. Israel hou toe mos ʼn referendum om uit te vind of God nog regtig nodig is.

En dan, skielik eendag, voel jy God is regtig weg, en mis jy Hom.

Wanneer gaan ons leer om met ons kerkwees te reken op God se Gees?

Dis in die kerklike jaar die tyd dat die kerk sit en wag op die Heilige Gees.

Numeri 13 : 1 tot 2; 17 tot 20; 23; 26 tot 31. Numeri 14 : 1 tot 12

21 Mei 2017, NHKA Kampersrus

Opstanding en Nagmaalvoorbereiding

TOETREDE

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil

Predikant

Ons raak aan God te gewoond.  Soos aan die berg.  En die bos.  En die see, as jy daar bly.  Wanneer die wonderlike alledaags word, stomp jy af.

En God is nou al te lank elke dag by ons dat ons elke dag koue rillings kry of in verslae verwondering staan. Ons is so oortuig dat wat met ons gebeur te danke is aan ons eie harde werk, dat ons God nie meer nodig kry nie. Israel hou toe mos ʼn referendum om uit te vind of God nog regtig nodig is.

En dan, skielik eendag, voel jy God is regtig weg, en mis jy Hom.

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil: transkripsie en webwerf

Wanneer gaan ons leer om met ons kerkwees te reken op God se Gees?

Dis in die kerklike jaar die tyd dat die kerk sit en wag op die Heilige Gees.

Liedere (Sit)

 

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil: Sang. Gesang 588.

Gesang 588 se melodie kom uit die liedereskat van die Kerkhervorming.  Die Hervormde Kerk sing hierdie lied al van 1545 af.  Seker dié dat dit nie so maklik sing nie.  Die lied vra die Here moet help dat ons op Hom sal staatmaak om sy beloftes te hou.

Sang (Sit)

Gesang 588 strofes 1, 3.

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil: Sang. Gesang 595.

Kom ons sing ook Gesang 595.  Dit sê ons wag op God om te verskyn.  Ons sien dit in iets alledaags: die vyeboom wat bot. Ons moet bedag wees op God in wat alledaags is.

Sang (Sit)

Gesang 595 strofes 1 en 2.

TOETREDE

Ouderling

Skyfie: Voel jy ook soms of die Here te ver is?  Sang. Gesang 518.

Ons voel almal soms of die Here te ver is. Ons twyfel almal.  Ons moet leer glo dat die Here met ons saamloop en dat sy Gees altyd by ons is. Kom ons sing

Toetredelied (Staan)

Gesang 518

TOETREDE

Predikant

Skyfie: Votum en Seën: Wag op die Here. . . (Staan)

Votum (Staan)

 

Psalm 130

5        

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.

6        

Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.

Seëngroet (Staan)

Psalm 130

7        

Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.

Amen.

AANBIDDING EN LOF

Ouderling

Skyfie: Wag op God?  Ek smag na God! Sang. Psalm 84. (Staan)

Ons wag op God om ons te ontmoet.  “Ek smag na U met sterk verlange” staan daar in Psalm 84.  Ons hoef nie langer te wag nie.  God is hier.  En met daardie mense gaan dit goed wat in sy kerk vir God ontmoet. Kom ons sing dit.

Sang (Staan)

Psalm 84 strofes 1 en 2

 

Skyfie: Die wil van God. Daar is geen betroubare mens meer oor nie. (Sit)

Die wil van God

Riglyne vir die geloofslewe (Sit)

Luister na die wil van die Here wat die riglyn behoort te wees vir hoe ons lewe.  In Psalm 12 staan daar

2        

Help tog, Here, want daar is geen vrome meer nie, daar is geen betroubare mens meer oor nie.

3        

Die mense bedrieg mekaar; hulle mislei mekaar met vleitaal.

4        

Die Here sal al die vleitaal uitroei en die grootpratery van die mense

5        

wat sê: “In ons tong lê ons krag. Ons lippe help ons. Ons buig vir niemand nie.”

6        

Maar die Here sê: “Die swakkes word mishandel en die armes kla. Daarom gryp Ek nou in en gee uitkoms aan dié wat daarna smag.”

7        

Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is.

Skyfie: Daar is genade! Ek dink nie meer aan jou sondes nie! (Sit)

Genadeverkondiging (Bly staan)

God duld nie sonde nie.  En niemand van ons is sonder sonde nie.  Maar luister nou hoe God sê Hy is genadig en Hy vergewe sonde.  God sê so in Jesaja 43:

24b

jý het Mý belas met jou sondes, jy het My moeite aangedoen met jou oortredinge.

25      

En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.

Skyfie: Skuldbelydenis. Sang. Psalm 130. (Staan)

Dis net omdat ons weet God is genadig dat ons oor ons sondes eerlik durf wees.  Moet nou nie uit valse vroomheid terughou en vir God probeer bedrieg nie.  Bely almal saam dat ons skuldig is.  Kom ons werp ons lot op Hom.  Kom ons sing:

Sang (Staan)

Psalm 130 strofes 1 en 3, Tweede melodie, Lina Spies-teks.

Skyfie: Geloofsbelydenis. (Staan)

Geloofsbelydenis (Bly staan)

 

Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, en van alle sienlike en onsienlike dinge;

en in een Heer, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, gebore uit die Vader voor alle tye;

God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek, nie gemaak nie, een in wese met die Vader;

deur wie alle dinge ontstaan het;

wat ter wille van ons, die mense, en ter wille van ons saligheid, neergedaal het uit die hemel, vlees geword het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria, en mens geword het, wat selfs vir ons gekruisig is onder Pontius Pilatus, gely het en begrawe is;

en op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte;

wat opgevaar het na die hemel, en wat sit aan die regterhand van die Vader;

wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het; wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie;

en in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik moet word, wat gespreek het deur die heilige profete.

Ons glo een heilige, algemene kerk, gegrond op die leer van die apostels.

Ons bely een doop tot vergifnis van sondes;

ons verwag die opstanding van die ontslapenes, en die lewe van die toekomstige eeu.

Amen.

Skyfie: Loflied aan ons Koning. Sang. Gesang 416 (Staan)

Ons smag na wat ons verwag.  Ons wag gelowig op die bekroning van ons Koning.

Sang (Staan)

Gesang 416 strofe 3

AANBIDDING EN LOF

Predikant

Skyfie: Gebed.

Gebed (Mans staan)

 

Skyfie: Sang. Gesang 593. (Sit)

Ons en die skepping sug saam in die pyne van verwagting.  Ons verwag God.

Sang (Sit)

Gesang 593 strofes 1, 2

VERKONDIGING

Predikant

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil. Numeri. 1983 Afrikaanse vertaling. (Sit)

Skriflesing (Sit)

Numeri 13 : 1 tot 2; 17 tot 20; 23; 26 tot 31.

Numeri 14 : 1 tot 12

Bladsy 158 van die Ou Testament in die 1983 Afrikaanse vertaling.

Skyfie: Numeri.

1

Die Here het vir Moses gesê:

2

“Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken. Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat ‘n leier onder hulle is.”

17

Moses het hulle gestuur om Kanaän te verken, en vir hulle gesê: “Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe.

18

Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is,

19

of die land waarin hulle woon, goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is,

20

of die grond vrugbaar of skraal is, of dit bome het of nie. Doen julle bes om van die land se vrugte saam te bring.” Dit was juis die tyd van die eerste ryp druiwe.

23      

Toe hulle by Eskolspruit kom, het hulle daar ‘n rank met een druiwetros afgesny. Twee van hulle het dit aan ‘n stok gedra, saam met ‘n paar granate en vye.

25      

Nadat hulle die land veertig dae lank verken het, het hulle teruggegaan.

26      

Die verkenners het toe by Moses en Aäron en die hele vergadering van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn aangekom. Daar het hulle aan Moses-hulle en aan die hele vergadering verslag gedoen en vir hulle die vrugte van die land gewys.

27

Hulle het aan Moses gerapporteer en gesê: “Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte.

28

Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien.

29

Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.”

30

Kaleb het egter die manne wat met Moses praat, stilgemaak en gesê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”

31

Maar die manne wat saam met hom gegaan het, het gesê: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.”

1

Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla.

2

Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het!

3

Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie?”

4

Hulle het toe vir mekaar gesê: “Kom ons kies ‘n leier en gaan terug Egipte toe!”

5

Moses en Aäron het toe voor die hele vergadering van Israeliete wat daar saam was, op hulle knieë geval.

6

Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur,

7

en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is ‘n buitengewoon goeie land.

8

As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.

9

Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan. Hulle gode sal hulle nie kan beskerm nie. Die Here is by ons. Moenie vir hulle bang wees nie!”

10

Maar die hele vergadering het gedreig om vir Josua en Kaleb met klippe dood te gooi. Toe het die magtige teenwoordigheid van die Here by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword.

11

Die Here het vir Moses gesê: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?

12

Ek gaan hulle tref met die pes en hulle uitroei, en dan sal Ek jou ‘n volk maak, groter en sterker as hulle!”

Skyfie: In U stel ek elke dag my verwagting.

Ons lees tot sover uit die Bybel.  Psalm 25 sê wat ons houding oor die Bybel moet wees:

4

Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie.

5

Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting.

Skyfie: Sang. Psalm 42. (Sit).

Sang (Sit)

Psalm 42 strofe 1, 2.  TT Cloete-teks

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil.

Preek (Sit)

Ons raak aan God te gewoond.  Soos aan die berg.  En die bos.  En die see, as jy daar bly.  Wanneer die wonderlike alledaags word, stomp jy af.

En dis nie net aan mooi goed wat mens oorgewoond raak nie.  Die Grensoorlog het gepraat van “bossies word”.  As jy lank in die Bosoorlog was, het jy onverskillig begin raak.  Ek is die dag voor ek daar weg is ongewapen en op my eie, sonder rugsteun, met ʼn sagtevelvoertuig van Ondangwa af Ruacana toe om te gaan groet.  Toe ek twee dae later op die lughawe sit om terug te kom huis toe, kry ek berig dat ʼn konvooi op dieselfde pad aangeval en etlike troepe gedood is.  Dit was  malligheid, ek weet.  Maar ʼn mens word dapper, of dalk dom.

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil. Ons raak aan God te gewoond.

ʼn Mens raak aan God ook net so gewoond.  God is nou al te lank elke dag by ons. Daarom dat ons nie meer elke dag van Hom koue rillings kry of in verslae verwondering staan nie.  Wat God doen, is nou al so deel van ons vervelige roetine, dat Hy ons nie meer beïndruk nie. Ons vertrou ook nie meer op Hom nie.  Ons is so oortuig dat wat met ons gebeur, te danke is aan ons eie harde werk, dat ons God nie meer nodig kry nie.

Soos in tekenprente hol jy ver oor die afgrond voor jy agterkom die grond is onder jou voete weg.  Dan eers val jy.   So, skielik eendag, voel jy God is weg, en mis jy Hom.  Jou moed begewe jou. Maar van God wat jou aan die gang gehou het lank na jy die afgrond oor is, het jy lankal vergeet.

Jesus het uit die dood opgestaan.  Vir veertig dae daarna leer Hy die klein kerkie wat Hy hier gaan agterlaat, die betekenis van al’s wat Hy gedoen en gesê het.  Hulle gaan dit nie in veertig dae onder die knie kry nie.  Jy kan nie ʼn hele nuwe werklikheid sommerso kafdraf nie, en hierdie is ʼn hele nuwe werklikheid.  Jesus gee hulle opdragte oor wat hulle nou met hierdie nuwe werklikheid moet gaan maak:  Hulle moet die wêreld daarmee aanvat.

Ons moet die wêreld met ons  kerkwees gaan hervorm.

Kerkwees kan ons op ons eie al regkry, mos.  Ons weet wat dit is om Hervormd te wees.

Dis seker waar.  Maar weet ons wat dit beteken om met ons kerkwees te reken op God se Gees?

***

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil. Regtig?

Dis twee jaar nadat Israel uit Egipte weg is.  Voor hulle uitgestrek lê die Beloofde Land, Kanaän.  Dis tyd om in te trek.  In Deuteronomium 1 word vertel dat die volk daarop aangedring het dat verkenners die land moet gaan uitkyk.  Hier in Numeri gee die Here toe:  Moses moet ʼn leier uit elkeen van die stamme saamstuur.  Veertig dae en ongeveer 500 myl later is hulle terug.  Hulle opdrag is aan hulle uitgespel:

Hulle moes kom sê

  • Is die land se mense sterk of swak?
  • Min of baie?
  • Is hulle stede oop of versterk?
  • En is die grond vrugbaar of skraal? (Dalk kon hulle van die land se varsprodukte saambring om te wys en te proe?)

Daar is seker niks mee fout om die land te wil bespied nie.  As daar ʼn oorlog dreig, moet mens jou opponent opmeet. Maar Israel vertrou vir God nie genoeg om te glo hulle kan in die land wat Hy belowe het intrek sonder dat hulle dit eers self uitgekyk het nie.

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil. God se land is goed. God se kos is soet.

Die recces kom met gemengde gevoelens terug.  Maar hulle stem almal oor een ding saam:  Die land loop oor van melk en heuning.  Die idioom beteken daar is volop veë, en die grond is vrugbaar.  Die landbou-ekonomie laat ʼn soet smaak in die mond. Hulle het een tros druiwe saamgebring wat twee van ons saam moes dra.

Kyk en proe.

God se land is goed. God se kos is soet.

Maar hulle praat nie van die land wat God aan Israel belowe het nie. Dis “die land waarheen jy, Moses, ons gestuur het.”  Niemand noem God nie.  Hier is nie geloof nie.

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil. Ons is sprinkane teen reuse.

As hulle oor die land se mense begin praat, hoor jy dadelik hulle is bang.  Die mense is sterk, uitsonderlik groot – reuse!  Ons is sprinkaantjies in vergelyking.

Kaleb kom eerste die moedverloor agter.  Hy val die ander in die rede: Ons moet die land in besit gaan neem, want ons kán.

Aikona, daai ouens is vir ons te sterk!   Ons was soos sprinkane in vergelyking.  En dis die weergawe van die storie wat die volk kies om te glo.

Want dit is waar.

En God is te goed om waar te wees.

Daai nag kom  ʼn volbloed rebellie.  Israel verset hulle teen Moses en Aäron, maar eintlik teen God.  God het hulle glo hiernatoe laat kom net om doodgemaak te word.  Hulle besluit, seker nou al vir die tiende keer op hierdie reis, hulle gaan terug Egipte toe.  Hulle gaan nuwe leiers kies.

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil. Hulle gode is nie sterker as God nie!

Moses, Aäron, Josua en Kaleb val op hulle knieë neer.  Hulle pleit: Ons stem almal saam dis ʼn uitsonderlik goeie land. Dis die land wat die Here belowe het. Dit voldoen aan elke verwagting van wat ons beloof is. Die Here is ons dus goedgesind.  Die gevolgtrekking is nie “Ons weermag gaan dit maak” nie, maar “God gaan ons help, en hierdie mense se gode kan hulle nie teen ons God beskerm nie.”

“Julle moet net nie teen die Here in opstand kom nie. . .”  Die Here ís by ons.  Proe die land se duiwe is soet.  Eet die mannabrood anders kán die pad vir jou te lank word. Bly koel hier onder die wolk.  Die Here ís by ons. Moenie bang wees nie!”

Skyfie: Die Referendumvraag: God of nie?

Hier kom ʼn referendum.

Hier is ʼn keuse, maar nie tussen twee opsies van gelyke waarde nie.

Hierdie is ʼn keuse vir of teen God.

Kies God! Of nie.

Dis die referendumvraag.

Ek kry skaam dat Numeri al weet van politiek se truuks.  Hoe weet jy daar is ʼn verkiesing op pad?  Jy sien Theresa May met kiesers se kinders op haar heup!  Dis ook die nee-stemmers in Numeri, by verre in die meerderheid, se benadering tot die veldtog: “Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word.”

Israel stem met klippe.  Hulle gaan die skrale vier gelowiges onder hulle met klippe doodgooi. (Jammer, maar met God was daar nog nooit die opsie van ʼn geheime stemming nie.)

Net toe daag God op.

Die magtige teenwoordigheid van die Here het by die tent van ontmoeting vir al die Israeliete sigbaar geword.  Skrikwekkend kom God ook stembus toe. God hoef nie veel te sê nie, Hy het klaar genoeg gedoen.  Hy vra net hierdie een vraag: “Hoe lank sal hierdie volk my almal bly onderskat?  Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?”

Jy daag nie met net ʼn klip by ʼn grofgeskutgeveg op nie.

Hoe kom ʼn mens dan daar?  Hoe kom mens op ʼn plek in jou lewe dat jy God nie meer raaksien of met Hom rekening hou nie?

Ag dis maklik nè?  Ons was al almal daar.  Jy raak aan God net oorgewoond. Aan die manna wat elke dag onverklaarbaar uit die hemel val.  Aan die kwartels wat elke aand in die kamp kom sit.  Aan die lugversorging van die koeltewolk wat God soos ʼn dak oor jou kop hou.  Aan die lig wat snags uit die wolk jou pad verlig.  Aan klippe wat sweet as jy net die Here aan hulle noem.  Aan God se verskyning by Sinai, en in die tent van ontmoeting.  Aan die see waardeur jy droogvoets kon loop, en jou vyande nie.  Aan al die plae in Egipte. . .  Dis ou nuus.  Ons ken die storie, ons is gewoond God is so.

Israel is dié mense wat eerstehandse ondervinding het van hoe God Egipte, die magtigste nasie van hulle tyd, op sy knieë gehad het.  En hulle wil vir God los en Egipte toe terug?  Hulle wil weer Egipte se slawe wees!

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil. God is goed.  Sonde is soeter.

Sonde is verslawend, so verslawend soos suiker, drank en dwelms. Jy hunker daarna, jy smag soos na heroïen, “crack” kokaïen en Metamfetamien.

Sonde is ʼn dodelike siekte.

Wat jy hier voor die poorte na die Beloofde Land sien, is net hoe sterk ons verslawing aan sonde is.  Die versugting na self in beheer te wees, is oorweldigend.  Die weersin in wat God wil hê, dit maak nie saak hoeveel keer ons nou al gesien het God bedoel dit met ons goed nie, die weerstand teen God leef in elke besluit.  Dis waarmee ons elke dag te make het.

God is vervelig doodgewoon, en irriterend bemoeisiek. Sonde is opwindend magtig, moeilik, morsig, makaber.  Dis meer na ons smaak as brood en soet wyn.  God is of so doodgewoon dat ons Hom nie meer agterkom nie, of Hy maak ons so smoorkwaad ons wil Hom met ʼn klipgooiery stilmaak.  Doodkry.  O, ons sal nog.

Sonde, daarenteen, saai so verwoesting dat jy heeltyd op jou hoede moet wees vir die volgende gevolge van jou sonde wat jy nog nie voorsien het nie.  Sonde laat jou nie durf sluimer nie.  Maak dit ons bang?  Moenie glo nie! Dis opwindend. Ons hou daarvan.  Ons is adrenalienverslaafdes. Ons leef graag op die rant.

As God net groter was, meer ontsagwekkend ingegryp het, redeneer ons.  As Hy Homself net duideliker gewys het, Homself beter laat geld het, dat ons kon weet Hy’s God en Hy’s hier, so wil ons dit hê.  Moenie glo nie.  Daar was ʼn tyd dat God skouspelagtiger as nou aan ons kom torring het.  Dit het toe geen verskil gemaak nie.  Dit sal nou ook nie. Sonde is nog net dieselfde.

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil. God en skouspel:  God is te bedagsaam.

Maar sou ʼn skouspel in ons eie tyd nie net ʼn bietjie kon help nie?  ʼn Honderdduisend, dalk ʼn miljoen, wie weet, mense wat bid laat ons nog regop sit.  Hoekom boul God ons nie ʼn slag hier en nou uit met sy magtige verskyning nie?

Want, ek dink, God is kultuurbedag.  Dog heeltemal te bedagsaam na ons fynproewersmaak.  Destyds met die uittog was die familie Israel ʼn primitiewe voor-wetenskaplike gemeenskappie wat grootoog natuurverskynsels sou aangegaap het as openbaringe van die almagtige God.  Nie ons nie.  Ons verklaar al’s met atome en hadrone juis om seker te maak niemand kan hom verbeel God is daarin nie.  Wie van ons leef nog van droë brood en goedkoop sjerrie?

God vang ons almal uit.

Ons kom ons moses met mense teë. Nie met natuurrampe en bonatuurlike verskynsels nie; dis met mense dat ons swik.  Ons kan mense nie verstaan nie.  Ons kry mense nie beheer nie.  Mense dans net nie na ons pype nie.  Mense is nie soos ons hulle wil hê nie, en maak nie soos ons sê nie.  Ons is vir mense so bang soos die duiwel vir ʼn slypsteen.  Mense is die gevaarlikste goed op hierdie planeet. Nie God nie. O, ons weet dit maar alte goed; want ons is mense, van die slegstes wat jy kry, om vir Paulus aan te haal.

Dit maak my bekommerd dat ek God dalk nie meer agterkom nie.  Dit maak my bang dat God ʼn streep trek en sê: ek ignoreer Hom tot hiertoe en nie verder nie.

God besluit op die Beloofde Land se drumpel Hy gaan die volk wat Hy hierheen gebring het, nou uitroei, en met Moses ʼn nuwe volk begin. Hierdie volk onderskat Hom en minag Hom.   Hierdie volk vermoed Hy maak beloftes wat Hy nie nakom nie.

Hier staan God nou in die kerk se voorportaal; sê dit vir Hom!

Moses smeek God moet ons nie los nie.  Snaaks, sy argument is: wat sal die mense sê?  Die mense sal sê hulle het gehoor van hierdie volk se God, maar Hy was toe nie in staat om hulle die land te gee wat Hy hulle met ʼn eed belowe het nie, daarom het Hy hulle in die woestyn omgebring.

Moses beroep Hom op dit waarvoor God bekend is:  God moet asseblief bly wees soos ons Hom leer ken het.

“Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding. . . Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het.” (14:19)

Toe antwoord die Here nogal: “Ek vergewe hulle, soos jy gevra het.”

***

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil. Sonde bly ʼn werklikheid.

Vergifnis beteken nie die sonde het nie gebeur nie.  Genade beteken nie God skryf die sonde sommer af asof dit nie so vreeslik erg is nie.  Berou, regstellende aksie en selfs vergifnis, maak die sonde nie ongedaan nie.  Sonde leef voort.  Sonde is skeppend.  Sonde gee aanleiding tot ʼn werklikheid, ʼn heeltemal ander werklikheid as die een waarin God se wil geskied.  Sonde het ʼn eie leeftyd.  Daarmee sal jy moet rekening hou.  Daarom is daar regsprosesse en strafreg.

Maar genade beteken wel dat God sy verbond nie ophef nie.  Netnou nog het God gedreig dat Hy dit tot niet sal verklaar en oorbegin. Hy het die volste reg om dit te doen.  Hy besluit op regverdige straf, maar in genade vergewe Hy sy volk se sondes sodat hulle sy volk bly.

Die tien spioene wat die twyfel gesaai het, sterf almal van ʼn aansteeklike siekte.  Geen volwassene ouer as twintig sal ooit die Beloofde Land sien nie.  Dit sou nou nog 38 jaar vat voor hulle almal dood is en hulle kinders die land sal sien.  Kinders onder twintig sou vir daardie 38 jaar ʼn swerwersbestaan voer tot almal ouer dood is. In ʼn stuk wrang ironie is die kinders waaroor hulle so vreeslik bekommerd was dat hulle krygsgevangenes van die Kanaäniete sou word, die mense wat die land van die inboorlinge sou afvat en oorvat.  Dis die ouer mense wat in die slag gaan bly.  In daardie 38 jaar, in totaal 40, sou jong Israeliete van nuuts af vir God moes leer ken en verstaan.  Want hulle ouers het nie.

Nou eers besef die volk hulle het te ver gegaan.  Nou kry hulle berou.  In ʼn laaste desperate poging om hulle sonde self ongedaan te maak, of om God se oordeel ter syde te stel, ruk ʼn klomp van hulle op om tog teen die Kanaäniete te gaan oorlog maak.  Moses waarsku hulle hulle gaan verloor; God is nie by hulle nie.  En hulle het.

***

Skyfie: ʼn Referendum oor God se wil. Dis tyd dat ons self iets gelowig doen.

Daar is ʼn ongemaklike waarheid in hierdie verloop van Israel se geskiedenis, en ek dink dis van toepassing op die kerk ook.  In al die wonders wat hulle tot nou toe beleef het, het nie een van hulle ʼn vinger hoef te verroer het nie.  God het al die werk gedoen.  Toe dit nodig was, het God se vriend, Moses, namens die volk opgetree.  Vir die eerste keer, nou met die intog, so voel dit, verwag God hulle moet self iets doen.  As hulle nou self uit die blokke moet kom, vertrou hulle vir God nie, en glo hulle ook nie genoeg in hoe sterk God se verbintenis aan hulle is nie.

Ons moet daarvan kennis neem dat die Heilige Gees nie net ʼn geskenk aan die kerk is nie.  Sy koms is bemagtiging.  Sy koms moes ons aan die gang kry.  Dis tyd ons doen iets.  Kan ons?  Gaan ons?  Glo ons genoeg?  Is ons oortuig God is by ons? Of gaan ons na hierdie veertig dae nog veertig jaar in die woestyn rondploeter voor iets van God se beloofde koninkryk vir ons hier oopgaan, net oor ons te slaprug is om die uitdaging saam met God aan te pak?  As jy steeds twyfel aan hoe God hiertoe verbind is, is dit tyd jy kry brood en wyn.

Dis in die kerklike jaar die tyd dat die kerk sit en wag op die Heilige Gees.  Voor ons lê die beloofde land van God se koninkryk.  Dis tyd dat ons die koninkryk gaan “doen”.  Ons wag, nes Israel, maar op die Gees.  Ons is sprinkane teen reuse. Ons gaan die beloofde koninkryk van God laat gebeur.  Wie gaan saam? Kom eet dat jy kan sterk word.

Of gaan ons weer verkiesing hou, en God laat verloor?

WEGSENDING

Skyfie:  Sang. Gesang 190 en 191. (Staan)

Slotsang (Staan)

Gesang 190 strofes 1 en 3 en Gesang 191 strofe 3 (dieselfde melodie)

Skyfie: Seën. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd! (Staan).

Seën (Staan)

Psalm 131

1

Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.

2        

Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

3        

Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Amen.

Skyfie: Respons. Sang. Gesang 519.

Respons (Staan)

Gesang 519 strofes 1, 2, 3 en 4

Insameling van die dankoffers/orrelspel

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s