Die skool is nie soos die kerk vir aanbidding bedoel nie.

Die Hervormde Kerk is klein.  Ons was nog altyd klein.

Ons was nooit, nie eers in die vorige bedeling, in die posisie om daarop te kon aandring dat ons stem in magsetels gehoor word nie, nog minder dat enigeen hulle aan ons steur.

Dit het ons nie gekeer om magtig te wil voel nie, en in die binnekring het ons graag kragte gemeet asof ons in interne magsposisies die wêreld sou kon voorsê.

Maar ons kon die wêreld nooit na ons smaak hervorm nie.

Ons was altyd daarvan bewus dat ons anders is.  Ons het andersheid gekoester, maar nie as diversiteit nie.  Ons het veel eerder die punt wou maak dat ons van beter weet en geloof reg het.  ʼn “Anti” van alles en ʼn oom van niks, het iemand eendag goedig gespot.

Nêrens was ek so ongemaklik soos in die skole nie.  Nou maak dit sin: dis nét dáár dat ek met ander geloofstradisies moes rekening hou.  Die ACSV dwaal tog, was ek oortuig.  Vertoë dat hulle gestuit word, het op dowe ore geval; hulle bedoel dit dan so goed.

Om self betrokke te raak, was om baie redes nie maklik nie.  Een daarvan was dat Hervormde lidmate nie met vrymoedigheid leiding wou neem nie, terwyl die ACSV met lekebediening uitgemunt het.  En ek kon nie by vyf skole tegelyk betrokke wees nie – een dapper man het nie genoeg vingers om al die gate in die dyk te stop nie. (Heldhaftig van my, nè?)

Die geloofskonteks het verander.  Die Hervormde Kerk is kleiner as ooit, die charismatiese fundamentalisme blom.  Laasgenoemde bedoel dit nou nog net so goed.  En die Kerk het haar geloofwaardigheid verloor.  Hervormdes is nou nog nie in staat tot invloed of magsgrepe nie, nie eers by God nie.  Ons het steeds min geesdrif vir selfdoen.  En ons is nou nog nie dierbaar nie

Maths is religionNou veg ons in die howe vir geloof op skole.

Natuurlik het ons die reg om te besluit waaraan ons kinders blootgestel word, tuis en op skool.

Ek vertrou nou nog nie sommer enigeen met geloofsvorming nie.  Ek glo nie dat sogenaamde welmenende godsdiensfilosowe vir kleingoed leerplanne kan skryf waarin gelykberegtiging van godsdienste gewaarborg word sonder dat geloof skade kry nie. (Hier slaan nou weer die Hervormde bitterbekkigheid deur:  ek was destyds ontevrede met ʼn anderse Christelikheid, en nou wip ek my weer oor ʼn gelykskakeling met ander gelowe. Maar nou stem meer mense darem met my saam.  Ek moet dié keer dus reg wees!)

Mag ons die Christelike etos van ʼn staatskool bepaal in ʼn samelewing waar ʼn veelvolkigheid moet gedy?

Ek wens daar was ʼn maklike antwoord.  Of dan ten minste ʼn antwoord wat nie lyk asof ek een geloofstradisie of godsdiens bevoordeel nie.  Waar my hart sit, is op my mou.

Daar is tog ʼn denkfout waarteen ek wil maan:  ʼn Humanisme wat godsdienste vergelykbaar langs mekaar stel as blote menslike maaksels en alternatiewe waaruit minderjariges ʼn eie, vrye keuse kan maak, oorskat ouderdom en indiwiduele vorming in opvoeding.

Mense is buitendien nie van nature geneig om verskil te verduur nie.

En so ʼn benadering maak ook nie verdraagsaamheid vanuit geloofsoortuiging moontlik nie.  Wat spoor jou dan aan om ander te verduur en guns te gun?  Aan wie of waaraan anders moet jy dan verantwoording doen?  Net ʼn goedige menslikheid, en ʼn menseregtehandves – ʼn hatige pluralisme en ʼn regbank. En hoeveel van ons geskiedenis getuig nie van hoe goed dít al gewerk het nie, nè!

Gegewe die opsie, sal ons almal verkies om in geen God te glo nie.

Dis geloof in Jesus Christus wat verdraagsaamheid van andere verg.  Selfs van vyande.  Al ooit gehoor van: Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie?  Dit sal seker vir ongelowiges neerhalend klink van diegene wat “nie weet wat hulle doen nie”.

Dis net die geloof in Christus wat ons almal oor dieselfde kam skeer:

Nie een van ons weet wat ons doen nie, gelowiges ingesluit.

Almal van ons is skuldig.

En vir iedereen is daar genade.

Behandel mekaar so, sê Christus.

Vertel vir kinders op skool dat daar ander godsdienste is.  Leer hulle sommer ook wat die ouens alles glo.  Stel hulle gerus ook aan mekaar voor.

Maar verkondig aan ons kinders die Christus van God.

En slaag ons nou nie met hierdie hofsaak nie, kom ons probeer iets rewolusionêrs, iets heeltemal ongekends, iets nuuts: Verkondig self, sommer daar by die huis, aan kinders die evangelie van Jesus Christus wat geopenbaar het dat God sondaars, en die wêreld, trouens almal van ons hier, ook al daai goddeloses, met sy lewe liefhet.

En bring hulle erediens toe.  Die skool is immers nie soos die kerk vir aanbidding bedoel nie.

(Dis seker hoekom die Hervormde Kerk so klein bly: dis altyd “my skuld” nè?  ‘Skuus man!)

Advertisements

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s